Читать книгу Van Pollsmoor tot prediker - Jaun Truter - Страница 5
ОглавлениеHoofstuk 2
OP MY EIE VOETE
Twee weke ná my ma se begrafnis, het ek en my pa weer in ’n stryery betrokke geraak. Toe hy weer sy vinger onder my neus begin rondswaai, het ek hom weggestamp. Hy het gegly en op die vloer geval. Ek het geweet as hy daar opstaan, is daar moeilikheid. Toe maak ek my maar uit die voete en gaan klop aan by ’n tannie wat in ons buurt gewoon het. Sy het probeer om my pa oor die telefoon te kalmeer, maar het later moed opgegee. Ek het ’n paar aande daar by haar oorgeslaap. Sy het later my pa oortuig om die Volla wat hy vir my gekoop het met ’n gedeelte van my ma se erfgeld, vir my terug te gee.
My broer het die motor voor die tannie se huis kom trek en die sleutel vir haar deur die hek gegee. Binne-in was die meeste van my besittings; dit was duidelik dat die inhoud van my klerekas net so gegryp en in die motor gegooi is.
Uitgeskop. Nou moes ek ’n plan maak om blyplek te kry. My oom wat in Hermanus gewoon het, het gesê ek kan vir ’n rukkie daar kom bly. Ek het dus soontoe getrek en toe begin werk soek in die Kaap. Ek het elke week ’n paar onderhoude gereël en dan vir die dag deurgery Kaapstad toe.
Sowat ’n maand later het een van my vriende ’n bestuurskool naby die Bellville-treinstasie oopgemaak en ek is as die kantoorbestuurder aangestel. Ek het die Sondagaand vir die laaste keer by my oom-hulle geslaap en is toe die Maandagoggend terug Kaapstad toe om in te val by die werk.
Ek het toe nog nie blyplek gehad nie. Daardie eerste aand het ek in die Volla geslaap. Ek kan nog onthou hoe koud ek gekry het. Ek het die Volla by Bellville-stasie, wat agter die kantoor was, geparkeer. Daardie gedeelte is vandag verbou en is nou ’n nagskuiling. Ek vind dit nogal ironies dat daar nou ’n nagskuiling is waar ek soveel jare gelede vir ’n nag of twee geslaap het toe ek geen heenkome gehad het nie.
Die volgende paar nagte het ek in die kantoor deurgebring. Daar was gelukkig ’n bank waarop ek kon slaap. My vriende het egter gou agtergekom ek het nie blyplek nie. Een van hulle het vir my losies gereël teen R800 per maand. Met ’n salaris van R1 500 het ek nog genoeg geld oorgehad om ’n lekker jongmenslewe te kon lei.
Ek het in dié tyd my meisie ontmoet. Ek was een aand saam met my vriend, Len, by ’n gewilde kuierplek, JB’s. Dit was nie ver van waar ek toe gebly het nie. Len het sy oog op haar vriendin gehad en hy het my die aand saamgevra sodat ek haar geselskap kon hou terwyl hy en die vriendin kuier.
Ons het dadelik lekker begin gesels en sommer gou vriende geword. Die eerste aand het haar pa-hulle haar en haar vriendin by die kuierplek kom haal en die tweede keer wat ons ontmoet het, het ek hulle gaan aflaai. Daarvandaan het ons vriendskap net gegroei. Ek was nie aanvanklik op soek na ’n meisie nie, maar ons het vinnig aan mekaar gewoond geraak en verlief geraak.
Kort daarna het ek ’n werk as ’n drywer by die lughawe gekry. Ek het baie van die bemanningslede rondgery. Later is ek oorgeplaas na die vragbeheerafdeling waar ek die regulering van die vragte van en na die vliegtuie beheer het. Ek het dit baie geniet, maar het bedank nadat ’n nuwe afdelingshoof aangestel is en ons vasgesit het.
Dit was 1999 en ’n nuwe tyd in Suid-Afrika. Hoewel ek reeds ’n ruk die pligte van ’n afdelingshoof behartig het en daar vir my gesê is dat ek bevorder gaan word, het dit nie gebeur nie. Weens die nuwe politieke landskap moes dinge vinnig verander en gevolglik is ’n swart man in die pos aangestel. Hy is oor dertig drywers aangestel, maar het self nie ’n bestuurderslisensie gehad nie. Hy het ook nie die opleiding of ervaring vir die pos gehad nie.
Ek het aanvaar dis hoe dinge van nou af gaan wees en ek het selfs ingestem om hom in die pos op te lei. Hy was egter onwillig om te leer en het verwag dat ek sy werk vir hom moes doen. Hy het my kort-kort oor die radio geroep en dan moes ek dit los waarmee ek besig is om hom te gaan help. Eendag het hy my weer na sy kantoor geroep. Daar was fout, want iets raas glo verskriklik. Toe ek in die kantoor kom, was dit die faksmasjien wat besig was om ’n faks uit te druk. My bloed het begin kook. Ek het die faks afgeskeur en verduidelik dis ’n faks met die vragnommers en ander inligting; hy moet dit nou gebruik om die vragte self te reguleer. Nee, sê hy, ek moet dit doen. Ek sê toe ek sal vir hom wys hoe om dit te doen sodat hy kan leer. Nee, kap hy terug, hy is die baas en ek sal maak soos hy sê.
Dis toe dat ek hom bo-oor sy lessenaar slaan. Hy kruip toe sommer ook onder die lessenaar weg. Terwyl ek die vragte begin uitsorteer, dreig ek om hom weer te slaan as hy sy neus onder die lessenaar uitsteek. Van die drywers het al begin krapperig raak omdat hulle nog nie hul vragte ontvang het nie. Ek het alles gou onder beheer gekry en is toe na die direkteur, Len Joubert, se kantoor toe. Ek wil bedank, het ek vir hom gesê. Ek gaan nie langer met die man sukkel nie. Hy het my probeer paai (nuus van wat gebeur het, het reeds by hom uitgekom) en my gevra om te probeer geduldig wees met die situasie.
Ek het twee weke later bedank.
Hierna het ek in die selfoonbedryf begin werk. Ek het alles omtrent die bedryf geleer: van die tegniese sy tot die bemarking en hoe om ’n tak te bestuur. Ek het aanvanklik by MTN begin en daarna na Autopage geskuif. Ek het gehelp om nuwe takke oop te maak en dit op dreef te kry.
Ek het ook Sondagaande by ’n kuierplek, Anfield Arms in N1-Stad in Goodwood, as ’n bouncer begin werk. Die sokkerwedstryde wat hulle toe uitgesaai het, het baie mense gelok. Aangesien dit ons gereelde kuierplek was en ek die bestuurder en personeel baie goed geken het, het ek maklik ingestem om uit te help. Ek het dit geniet en ook in die proses ekstra geld verdien. Daar het nooit iets ernstigs gebeur nie en dit was eintlik ’n baie rustige werk.
Ná drie jaar en nege maande van vas uitgaan, het ek en my meisie opgebreek. (Wat interessant is, is dat ek ook drie jaar en nege maande van my vonnis in die tronk uitgedien het voordat ek parool gekry het – presies dieselfde tydperk wat ons bymekaar was.) Dit was nie ’n maklike besluit nie, maar hier het God ’n baie duidelike rol gespeel. My meisie se ma het heelwat druk op haar geplaas om ons verhouding te verbreek. Ek was by twee geleenthede in ’n bakleiery betrokke met albei haar bure en sy het my as rubbish gesien.
Ek wou egter trou en was reg om verloof te raak. Maar ek wou eers seker maak dat dié plan God se goedkeuring wegdra. Ek het hard en ernstig gebid en God gevra of dit sy plan vir my is. Ek het baie duidelik die antwoord gekry: Ons moes opbreek. Nie iets wat ek wou hoor nie.
Ons het vir ’n proeftydperk opgebreek, maar het ná ’n paar dae weer bymekaar gekom. Ek het toe ’n ooreenkoms met God aangegaan: As ’n reeks heel onwaarskynlike gebeure, wat ek bepaal het, sou plaasvind, dan sou ek verseker weet dat ons verhouding nie God se wil is nie.
Die eerste van die gebeure was dat sy iemand anders by haar werk sou ontmoet. Toe sy my dus ’n tydjie ná my gesprek met God vertel van die ou by haar werk wat haar eenvoudig nie wou uitlos nie, het ek haar aangemoedig om met hom uit te gaan. Binne ’n kwessie van twee weke het sy op hom verlief geraak en het elkeen van die gebeure wat ek as teken van God gevra het, net so plaasgevind.
Ons het opgebreek, maar steeds gereeld oor die foon gepraat.
Haar nuwe kêrel het egter nie daarvan gehou dat ons so gereeld met mekaar gesels nie. Eendag het ek en hy oor die foon woorde gehad. Dit het weer my verkeerde kant uitgebring en dit het ’n obsessie by my geraak om hom te laat boet. Ek wou die grond met hom vee, hom vermorsel.
Ek was eendag in die selfoonwinkel toe een van my kliënte sien hoe omgekrap ek oor dié situasie is. Nadat ek vinnig dinge aan hom verduidelik het, het hy gesê dat hy mense ken wat die ou teen ’n prys sal regsien. Ek het ingestem en ons het gereël dat die mense my kom sien.
Daardie naweek is ek saam met vriende na ’n kuierplek in die stad waar ek in ’n bakleiery met ’n paar van die bouncers betrokke geraak het. Toe die ouens my weer kom besoek oor die beplande aanranding, was daar ’n nuwe gesig by. Dié man het my herken van die naweek se bakleiery en ons het begin gesels. Toe hulle hoor dat ek ook ’n bouncer is, het hulle my gevra om by hul organisasie betrokke te raak.
Intussen het hulle twee keer probeer om die aanval op my eksmeisie se nuwe kêrel uit te voer. Die twee was egter onafskeidbaar en toe die ouens my laat weet dat hulle die aanval op hom voor haar gaan uitvoer en dat daar ’n moontlikheid is dat sy ook kan seerkry, het ek die opdrag gekanselleer. Ek en die ou het ’n ruk daarna weer gesels en ek kon toe vrede maak met die situasie. Hulle is vandag nog getroud.
Ek het hierna besluit om alles op te pak en oorsee te gaan omdat ek vriende daar gehad het. Ek was in daardie stadium sowat twee en ’n half jaar in die selfoonbedryf en was lus vir ’n verandering. Ek het die aandele wat ek in die selfoonwinkel besit het, verkoop en stelselmatig van al my besittings ontslae geraak.
Terwyl ek vir my visum gewag het, is daar ’n aanrandingsaak teen my aanhangig gemaak. Volgens die polisie sou die saak sowat drie maande neem om af te handel en ek het dus my planne om oorsee te gaan vir eers uitgestel.
Ek het nie die sin daarin gesien om ’n nuwe werk te soek vir net drie maande nie en het dus besluit om meer werk as ’n bouncer te kry om my besig te hou. In dié stadium het ek in die somertyd twee aande per week as ’n bouncer gewerk by die gewilde La Med in Kampsbaai en in die winter by ’n klub in Table View. Waar ek eers net een of twee skofte per week gehad het, het ek nou drie tot vier aande per week uitgehelp, soms selfs meer.
Voordat die eerste aanrandingsaak afgehandel is, is ’n tweede saak teen my gemaak. Die ondersoek in die eerste saak het langer geduur as wat daar aanvanklik aan my gesê is en gevolglik was my oorsese planne toe heeltemal van die baan.
In daardie stadium het ek tot in die vroeë oggendure gekuier. Aangesien ek nie bedags ’n werk gehad het nie, het ek baie tyd en ook heelwat geld gehad omdat ek ook al my besittings verkoop het. Ek het met mense begin uithang wat ook heelnag kon kuier sonder die kommer van werk toe gaan die volgende dag. So het ek verkeerde vriende begin maak waarvan baie dwelms gebruik het. Ek het nie toe dwelms gebruik nie, alhoewel ek een of twee keer daarmee geëksperimenteer het toe ek dronk was.
Ek het ook ál meer respek by die bouncer-organisasie afgedwing. Ek het nie teruggestaan vir ’n bakleiery nie en ek het ook geen genade gehad nie. Ek het enige geleentheid om te baklei aangegryp. Dit was vir my ’n stokperdjie. Ek het dit geniet.
Omdat ek nie bedags gewerk het nie, het my geld vinnig begin opraak. Ek het vir meer skofte gevra en wou ook by hulle weet of daar ’n ander manier was waarop ek nóg geld kon maak. Hulle het my toe by die organisasie se geldinvorderingsoperasie betrek. Wanneer ons geld moes invorder van ’n moeilike klubeienaar, het ek saamgegaan om hom op ’n hardhandige manier te oortuig om te betaal. Dit het elke keer ’n paar ekstra rand beteken. Toe die hooflede van die organisasie sien ek is nie bang nie, dat ek eenvoudig instap, die mense aanrand en doen wat gedoen moet word, het hulle my ál meer begin vertrou en gebruik.
Ek het ál bekender geword in die nagklubkringe. Ek het meer begin baklei, ’n groter reputasie op straat gekry en gevolglik ook ’n groter houding gehad.
Die organisasie het my ál meer gebruik en by hul ander bedrywighede betrek. Ek was ook daarvoor verantwoordelik om die bouncers se skofte te reël.
Verder was ek deel van ’n groep wat as die Hit Squad bekend gestaan het. As die bouncers klaar by die onderskeie klubs gewerk het, het ons gery om die geld te gaan invorder. Ons is ook ingeroep as daar ’n probleem by ’n klub was wat die bouncers aan diens nie alleen kon hanteer nie.
Die Hit Squad se werkswyse was eenvoudig: Ons kom by die klub, die individu wat moeilikheid maak word aan ons uitgewys, ons trek hom uit die klub, slaan hom goed of doen wat ook al nodig is, en ry dan weg. Dit gebeur alles baie vinnig en doeltreffend.
Ek het dit drie of vier aande per week begin doen. As deel van die groep het ek natuurlik bykomende betaling ontvang.
Tussen my laatnag-vriende het ek ook ’n besigheidsgeleentheid gesien. Wanneer daar gekuier is, het die dwelms deur die loop van die aand opgeraak. Die meeste van hulle was dan óf te paranoïes óf nie in staat om te ry om nóg dwelms te gaan koop nie. Aangesien ek toe slegs gedrink het en nie dwelms gebruik het nie, het ek aangebied om te ry. Hulle het my dan ’n paar rand petrolgeld gegee wat meer geld in my sak beteken het. Ek het later besef dat ek die meeste van die plaaslike dwelmsmouse ken en dat ek my vriende selfs tydens partytjies van dwelms kon voorsien.
Ek het dus ’n reëling met hulle gemaak dat hulle my vooraf sal laat weet wanneer hulle gaan kuier. Dan gaan haal ek die dwelms voor die tyd, bring dit vir hulle en hulle betaal my. Ek het eers net naweke vir hulle voorsien, maar sommer gou het ek tot twee keer per week besendings gaan haal.
Namate ek egter meer by die werksaamhede van die Hit Squad betrokke geraak het, het ek al minder op my dwelmbesigheid gekonsentreer. Ek het dit later heeltemal gelos, aangesien dit nie eintlik my scene was nie en omdat ek my werk as bouncer baie meer geniet het. Ek het ook in daardie stadium ’n ruk lank sonder ’n motor gesit en kon dus nie dwelms vervoer nie.
Ek het ook begin om mense teen vergoeding te intimideer en aan te rand. So is ons, byvoorbeeld, betaal om mense te dreig en intimideer wanneer daar tenders ter sprake was. Ek sou iemand reël om die intimidasie of aanranding uit te voer of ek sou dit self doen afhangend van waar die teiken was. Daar was ’n tyd wat ons tot twee jobs per week moes doen. Dit was goeie geld; in 2004 het ek R2 000 vir so ’n job verdien. Dit was dan bo en behalwe die geld wat ek met die gewone skofte as ’n bouncer verdien het.
Ons het lekker geleef, ons het nie gesukkel nie en ons het nie nonsens gevat van enigiemand nie.
Ek het in dié tyd nie juis ’n persoonlike lewe gehad nie. Ek het al my tyd en energie aan my werk en die organisasie gegee. Vriendskappe met meisies het nooit langer as twee maande gehou nie. Ek het so twee of drie meisies gehad en toe besluit ek wil nie regtig so gebind wees nie. In daardie stadium het ek ’n meisie as ’n swakheid gesien, as iets wat my sou terughou. ’n Verhouding sou beteken ek moes tyd daaraan afstaan en ek wou dit nie doen nie.
Gevolglik was ek 24 uur per dag tot die organisasie se beskikking. Ek het my alles vir die werk gegee. Dis natuurlik dan ook die rede hoekom hulle so baie van my gehou het en hoekom ek so vinnig opgang gemaak het in die organisasie. Ek was altyd daar, altyd gereed en bereidwillig, sonder enige verskonings.
Ek het in dié tyd my verhouding met God afgeskeep. Daar was soms aande wat ek gebid het, as ek nugter genoeg by die huis gekom het, maar andersins was my fokus op my werk as bouncer. Dit was vir my lekkerder, want ek het daar deel van ’n familie gevoel.
Ek het my pa byna nooit gesien nie, en ons het steeds nie juis ’n verhouding gehad nie.
As ’n Christen het ek voortdurend my optrede voor God probeer regverdig. Die mense wat ek seermaak, was slegte mense. Hulle was sondige mense. Ek het nie onskuldige mense aangerand nie. Dit was mense wat moeilikheid gemaak het of by die verkeerde dinge betrokke was. Ek het op dié manier myself probeer oortuig dat dit wat ek doen nie verkeerd is nie. Ek het my skuldgevoelens so probeer wegredeneer.