Читать книгу 'n Pawpaw vir my darling - Jeanne Goosen - Страница 6

Оглавление

1

As die Beeslaers die slag niks het om oor te praat nie, stry hulle oor my ouderdom. Dis nou weer sulke tyd. Ek gaap, lig my kop en kyk na die sterre. Ek probeer om hulle nie te hoor nie. Ek ken al hulle stories en van dié is daar net ’n paar, die een verveliger as die ander. Niemand kom ooit tot ’n punt nie.

Nee, reken Vleis Beeslaer, ek, Tsjaka, moet nou omtrent vyf jaar oud wees, want hy het my net nadat Thabo Mbeki oorgevat het, en toe hulle so aanmekaar in Damnville begin inbreek het, by die Emsie Schoeman-sopkombuis opgetel. “Ja,” sê Vleis, “Tsjaka moet nou vyf wees, want met die optelslag was hy toe al so een, een en ’n half jaar oud. Wil jy wed?” vra hy vir Soufie, sy vrou. “ ’n Bottel Cape Hope.”

“Nee,” sê Soufie. “Daar maak jy ’n fout. Die hond moes in daardie tyd al drie jaar oud gewees het. Ten minste!” sê sy. Sy kon dit aan my tande sien. En nog iets, oor ’n hond se ouderdom moet niemand met haar kom staan en stry nie. Sy het met die goed grootgeword in die Waterberge.

En so hou die stryery vir ure aan.

Nou vir wat sal ek my oor so iets moeg maak? Asof ek gepla kan wees – vyf, ses, agt of tien – wat maak dit saak? Die klomp hier kan in elk geval nie een ordentlik tel nie. Dié dat die drie Beeslaerkinders jaar na jaar gedop het omdat hulle nie somme kon maak nie. Almal hier in Frik du Preezstraat werk mos alles uit volgens 1994. Dis altyd suffel jaar voor 1994 of suffel jaar daarná. Soos ek vanoggend voel, na die hel wat weer laas nag hier losgebars het, kan ek net sowel honderd en drie wees. Tel die nag se koue hier buite daarby, gisteraand se Epol waarop ek nou nog wag, en die ossewawielhek wat van bo tot onder toegespan is met kuikendraad om my uit die strate te hou, dan kan hulle net sowel nou al vir my ’n gat begin grawe langs Blackie die kat s’n. Dié het mos nou die dag omgekap nadat Mabel, die Beeslaers se jongste, die arme ding te veel Aspro’s ingejaag het. Glo vir katjig. Of dis wat Knoffel, die brak met die windhondbloed, gehoor het Hannie van Oorkant sê. Sy, daardie Hannie, het mos altyd iets oor alles te sê, weet van alles en almal, veral as dit by diere kom.

’n Hond wat meer depressed is as ek, moet nog gebore word. Ek is nie die soort wat agter slot en grendel gehou kan word nie. En hier sit ek nou, opgesluit in die Beeslaers se jaart, met nie ’n kat se kans om ooit weer hier uit te kom nie. Daarvoor het Vleis gesorg nadat die skut my hier kom aflaai het. Die ou tor met die kakiejas wat die skutlorrie dryf, het die Beeslaers gewaarsku hulle gaan reguit koort toe as hulle my nog een keer in die strate kry. En dan kom daar nog ’n helse boete ook by. Al die wette wat hulle deesdae uitdink! Hulle neuk nou al glad met ons arme honde. Elke tweede ou skree vryheid, maar dit tel nie vir ’n hond met wat hulle ’n free spirit noem nie. Van so iets het hulle nog nooit gehoor nie.

Ek is so ’n soort hond, een wat inmekaartrek van ellende en deur sy hele lyf pyne kry as hy ingehok word.

Ek moet hier uit, maar hoe?

Ek het al die hoenderhok aan die een kant van die jaart uitgecheck om te kyk of ek nie ’n gat onderdeur kan grou sodat ek van daar af tot in die Bonthuise se joint kan kom nie. As ek eers daar is, kan ek darem die pad buitentoe vat deur die gat in die honeysuckle-heining. Maar zat dice. Die verdomde hoenderhok se draad is tot onder in die grond, ónder in die klippe ingesement.

Ek kan ook nie deur die ossewawiel veel sien wat in die straat aangaan nie, want die gholfbolposbus langs die hek bederf my uitsig. Die nuus wat die klomp straatbrakke aandra wanneer hulle kom been lig teen die posbus, maak my net meer de dinges in. Kamtig my tjoms! Ek sien mos hoe lekker kry hulle omdat ek ingehok is. Die honde hier weet presies om die pad te vat as die skut se lorrie sy draai in hierdie geweste kom maak. Jy kan die ou tjor al hoor aankom as hy deur die Taspoorttonnel begin sleep. Ek is gewoonlik die een wat dit eerste hoor en die ander waarsku, maar hierdie keer was bad luck aan my kant.

Dis alles Makkie se skuld, daardie dikgevrete teef van weduwee Huibie Holzapfel – hulle noem haar sommer Huibie Hoëhol. Sy, Makkie, het my besig gehou met haar geflirtery, haar ge-oërondrollery en daardie soort van ding. ’n Reun is ook maar net ’n reun.

Knoffel, die een met die windhondbloed, het netnou hier by die hek kom sê dat daar ’n nuwe teef in Frik du Preezstraat aangekom het. Nogal ’n Franse poedel. Een wat verdwaal het. Kef glo met ’n Wôterkloof-aksent. Knoffel sê die chick het ’n rooi strik bo-op haar kop. Haar regte naam is Mignon, maar Hannie van Oorkant, wat haar ingeneem het, noem haar Fifi.

Mignon. Watse blerrie naam is dit vir ’n hond? Dié Mignon het baie stories, vertel haar mense het haar elke week laat was, blow-wave en opdoen by ’n doggy parlour. Sy’t ook ’n tweede prys op die Durbanse Dog Show gevat. Nogal Durban, nè, ek sê! Daardie Engelse plek by die see waar ek hoor ou Vleis vir Soufie heen gevat het vir ’n langnaweek-honeymoon. Die poedeltjie is glo baie down. Dis wat Knoffel sê. Hy is nog een wat alles weet en dan lieg hy nog dik stukke by.

In elk geval, oes soos ek voel na die nag se dinge hier, sal ek graag die besigheid met die strik op die kop wil sien. Hoe de hel het sy hiér uitgeslaan?

Ja, ek is meer as net dik de dinges in vir Vleis en Soufie. Hulle het weer laas nag daardie bottel Cape Hope seergemaak! Soort van elbow-to-arsehole-styl, soos Knoffel sê Hannie van Oorkant-hulle skinder. As die klomp Beeslaers eers op ’n stasie is, kan jy vergeet om ’n oog toegeknip te kry.

Die bottel se prop is gisteraand ook skaars geruk of ek sien daardie Cyril Phosa uitkom uit sy kamer langs die garage en oor die gras aansuiker om sy jis in die Beeslaers se sunken sitting room voor die TV te gaan neerplak. Was ek nie toe al so opgefoes van die depressie nie, het ek dit wragtig vir hom gemaak. Vir al die kere dat hy sy bol spoeg na my kant toe mik as hy die slag die tuin doen. Dis nou as jy die drie rye ywe wat al begin saad skiet, ’n tuin kan noem. En nog ’n ding: ek wens hy wil vir ’n verandering iets anders leer sing. Ek is nou al tot hier toe dik vir “Shosholoza”.

Amper terselfdertyd klok Hillies Grobbelaar en Wouter Bungalow ook in vir wat hulle noem ’n sundowner. Hillies Grobbelaar! Daar is vir jou ’n storie! Sy kan ’n dop vat, en dan moet jy haar nie verkeerd opvryf nie. As sy die slag haar temper in reverse gooi, kan jy haar tong tot by die smeuloonde hoor idle. Haar size is genoeg om jou opsy te laat staan. Ek hoor juis hulle vertel sy model rokke en broeke vir die Groter Vrou by die Afrotiet-fabriek in Inflammasieheuwel.

Dié Hillies vat nie nonsens nie, is gou om met haar vuiste in te klim as dit moet. Hulle sê sy het al die line manager by die Afrotiet factory opgedinges. Daar was niks wat hulle aan haar kon doen nie, want sy het al die naaisters, die stryksters, die quality checkers en die packers agter haar. As sy ’n strike uitroep, dan is daar ’n strike. En ou Hillies wikkel, skud en skop reg voor met die toyi-toyi. Sy was glo al ’n paar keer in die koerante, in die local knock ’n drops en tot op Rapport se agterblad ook.

Met daardie twee se koms het die paartie begin rof raak. Jy kon Leon Schuster se “Briekdans” tot by die smeuloonde hoor, en hoe later hoe kwater. Toe Soufie, wat altyd met iemand moet skoor wanneer sy ’n paar inhet, vir Cyril sê: “Seker nie die piekol op die mat gesien nie, nè? Maar nee, Meneer is mos na 1994 te upstairs om ’n job ordentlik te doen,” toe weet ek: tjorts, hier kom sports! En net daarna begin Morkels se furniture op HP, wat die balju nou die dag kom opskryf het, rondval. Toe Mabel se bal-en-klou-trousseaukis by die voordeur uitgebollemakiesie kom, begin die bure bakstene op die dak gooi. Een baksteen val toe ook dwarsdeur die geroeste sinkplaat langs die skoorsteen.

Sergeant Kennedy Banda, die ou wat die night beat in Damnville doen, kom toe hier aan met sy rave-bril en notebook. Hy klop aan, sê nog ewe ordentlik hy wil nou nie snaaks wees nie, maar die Beeslaers beter sjarrap, want die straat kla. Rusverstoring. Sy sê kry hy ook nie gesê nie, want ou Vleis en Soufie sjarrap hom links en regs terug. Ja, sê ou Vleis die arme Kennedy in, hy moenie hier kom staan en neuk met ordentlike mense wat reg stem, vooruit wil kom en af en toe ’n okkasie wil vier nie. Sergeant Banda moet liewer highway toe. Dis nou as hy nie te lui is nie. Die pad daar is vol hijackers en krimineles. As Banda en sy tjommies hulle job ordentlik doen, sal die poelieste nie die slegte naam hê wat hulle vandag het nie. “Kyk hoe lyk die wêreld nou! G’n Christen kan meer snags gerus slaap en ’n ordentlike lewe lei nie. Julle beteken fokkol,” maak Vleis sy singsong klaar.

“Mind your language, Mister Byslahr. Crimen injuria,” sê die sersant en haal sy boekie uit. Maar toe kom Hillies tussenin en stamp die sersant by die stoeptrappe af. “Bugger off!” skree sy. “It’s freedom for all, for us whites too, in case you didn’t know.”

Almal in Damnville ken Sergeant Banda, want dis ’n omgeëlliede klomp mense wat hier woon. Die sergeant is nie ’n onaardige ou nie, al kla die mense dat hy ’n spoilsport is. Hy krap altyd my kop as hy hier aankom, vat my poot en sê: “Thank you!”

Nadat Hillies-hulle die deur in sy gesig toegesmyt het, het die sergeant toe maar oudergewoonte ’n drienk gaan vat by Soufie se ouma, ou Sally Caravan. Sy bly in ’n woonwa in die jaart langs die hoenderhok. Die Beeslaers het laas week haar tagtigste verjaardag by Chicken Licken gaan vier. Tagtig of nie, Sally Caravan het muscle. Sy is, soos pastoor Pentz van die AGS sê nadat sy nou die dag die Apostoliese Geloofsending se sakresies vir senior burgers oor sestig ver gewen het, ’n vroulike Simson – “one tough old mama – van lyf en inbors . . .”

Maar dit moes Sergeant Banda se af aand gewees het, want skaars was hy by ou Sally in, of die caravan-deur gaan oop, met die ou lady wat hom met ’n toaster probeer bykom: “Blerrie swart moffie!” jou sy hom uit, en hy wat terugskree: “Bloody white racist bitch!” Die arme man is hier weg sonder sy kep en sy rave-bril.

Teen daardie tyd het die koue al dwarsdeur my lyf getrek en aan my murg begin vreet. Al wat kom, is my Epol. Ek het toe maar aan die caravan gaan krap en ou Sally het my laat inkom. Al is sy die helskater wat ou Hannie van Oorkant-hulle sê sy is, het sy ’n warm hart vir ’n hond. Maar ook hier het ek verniet gehoop op ietsie met ’n sousie bo-oor. En soos ek darem vandag met ’n kopseer sit van Sally Caravan se toe vensters en die reuk van bedompige step-in en smeergoed!

Ek is so honger dat ek nie weet of ek moet blaf of tjank nie, sit al van vroegdag af met my bek deur die gat by die kombuis se sifdeur. Al wat ek sover oor my lippe had, is stukke uitgedroogde oorskietbrood en cocktail onions wat Soufie deur die kombuisvenster uitgeskiet het. Dit is nou wat jy noem dankbaarheid. En dan sê hulle die hond is die mens se beste vriend!

Vleis Beeslaer is nie eers werk toe vanoggend nie. Hulle gaan hom nog by hierdie nuwe job ook fire. Verder stink die hele ou Frik du Preezstraat. Al wat vullissak is, lê oopgeskeur. Dis Damnville se honde en katte se gesoek na iets om te aas. Enigiets, want in hierdie joint gee hulle ’n dier nooit genoeg om te vreet nie. Die honger is ewigdurend. Dit is net Huibie Hoëhol wat omgee en haar Makkie en Jafta behandel asof hulle lewende goed is wat na waarde geskat moet word. Die hele straat se mense kla oor die stink vullis. Makkie sê Huibie sê die munisipaliteit is al weer op ’n strike. Die munisipaliteit se werkers het Cosatu se optog Uniegebou toe gejoin. Hulle het glo ’n brief vir Jacob Zuma om te sê tot hiertoe en nie verder nie. Makkie sê Huibie sê sy stem not ’n wiel weer vir Kortbroek van Schalkwyk. “Wat het geword van al sy beloftes as die NNP ons stem kry? Net mooi boggherol,” sê sy, “en verskoon my Frans.” Sy begin dink aan die Vryheidsfront. Jy kyk net een maal in die twee Mulders se oop gesigte en jy weet dis jou mense. Jy kan hulle woord vat.

Vleis sal seker nou sy gesig hier wys om te kom fout vind met Cyril se drie rye ywe en die opskietbossies onder die perskeboom. As hy die slag met ’n hangover sit, is niks meer goed genoeg nie. G’n wonder hy en ou Soufie is partykeer so kop-en-harslag aan mekaar nie. Maar dit beteken nie dat ek haar vergewe oor my Epol nie. Sy kan vir ’n verandering darem ook maar dink aan my, Tsjaka, die Beeslaers se getroue waghond. After all, ek is darem ook nie meer vandag se kind nie.

En van die ou spulletjie gepraat, daardie Mabel kan gerus maar haar stêre agter die breimasjien inskuif en vir my ’n jersey brei vir die swartryp snags. Wragtig, soos dinge nou gaan, gaan ek nie ou bene maak nie.

Noudat die poskantoor Mabel geretrench het, hoort sy aan iets te dink wat die moeite werd is, soos aan die lot van ons diere hier. Maar nee, die ou lui drel sit mos heeldag en aldag op die stoep met ’n Loslyf tussen die asparagus ferns. So nie, is dit voor die TV met die stories waaroor Soufie heeldag raas – Egoli en The Young & the Restless. Dis ook omtrent al waaroor Mabel kan praat. En oor Charlize Theron, wie dit ook al mag wees. Ek is al moeg van haar Charlize Theron-praatjies. Dis van die oggend tot die aand: Charlize doen dit en Charlize sê dat.

Aan die ander kant kry ek haar ook jammer. Watter man sal byvoorbeeld van haar notisie neem? Net een kyk na daardie gros moesies langs haar linkeroog wat soos ’n tros uitgedorde korente lyk, en hulle hardloop weg sonder om een maal om te kyk. En daarby is sy ook maar ’n ekstra-ekstra outsize nommer, daardie Mabeline Beeslaer. Makkie, die laaste een wat kan praat wanneer dit by ’n ander se welbedeeldheid kom, lag en sê Huibie Hoëhol sê Mabel laat haar dink aan ’n reconditioned fridge.

Maar ek het my eie probleme. Ek moet hier uitkom. Dalk kan daardie symste ou Makkie aan iets dink om my te help. Sy is vinnig wanneer dit kom by planne maak. En sy help graag ’n hond in verknorsing waar sy kan. Die ander brakke hier sien nogal op na ou Makkie. Ek sal haar opchat as sy weer hier verbykom. Ek weet sy smaak my kwaai, daai teef.

'n Pawpaw vir my darling

Подняться наверх