Читать книгу 'n Pawpaw vir my darling - Jeanne Goosen - Страница 7

Оглавление

2

Hier teen die helfte van die maand wanneer die laaste Cape Hope-bottel leeg is en die geld op, raak ou Vleis mos alwys. Soort van ernstig. Heavy. Ja, dan weet hy alles van landsake, die ekonomie en politiek af. Heng, soos dié man darem vir jou kan perform met daardie brandewynstem van hom! En as hy eers begin, kry hy nie end voordat die voël wat in die horlosie woon, twee maal in die nag by die deurtjie uitgespring het nie. En teen daardie tyd is jy ook al dronk in die kop en halfmal van al die gedruis. Dis dieselfde storie oor en oor. Vleis werk hom so op dat hy later op Mabel se trousseaukis klim, en dan kan jy jou klaarmaak vir een yslike performance.

En moenie vir daardie Soufie weggooi nie! Vleis werk haar in so ’n state in op dat sy later skoon klink soos Makkie wanneer sy vir die maan begin tjank. En kan die klomp Beeslaers vir jou stook! Dis wolke en wolke rook wat by die voorhuisvenster uitborrel en met die straat afdwarrel. Hulle is kompetisie vir die smeuloonde. Makkie sê juis Huibie Hoëhol meen die Beeslaers ondersteun Suid-Afrika se nasionale lugbesoedelingsveldtog.

Hoor net, hoor net daardie Vleis Beeslaer! “Ja,” reken hy, “en daar het jy dit nou! Met die rand wat sy gat gesien het. Ek het altyd gemeen as ek my stem by die nuwe regering s’n sit en as meer mense soos ek redeneer, sal daar ’n lig voor in Damnville se pad ook kan brand, sodat ons almal kan hoop op ’n beter toekoms. Dis hoe ek sake sien. Ek is ’n Beeslaer, ’n opregte een. Ons is mense wat glo aan vooruitgang en vernuwing. Maar doen hulle iets aan die misdaad? Nee! Hulle kan nie eers die taxi-mafia sover kry om hulle gears en brieke op te fix nie. As Madiba net nog ’n paar jaar kon uithou! Net ’n jaar dan, sê ek!

“Maar kyk net hoe baklei almal met mekaar, kom mekaar glad met die mes en die gun by. Dan is daar nog die werkloosheid. En wat van die strikes? Nou vra ek julle vanaand: wie van oorsee wil geld in so ’n land instoot? Kyk hoe gaan dit op die highways! Hier ook! Dis ’n hijacker en ’n gangster op elke hoek! Nee, ek weet nie meer nie. Selebi sal iets moet doen, anders weet ek nie! ’n Mens moet jou stem dik maak. Dis mos ’n demokrasie, wat nie beteken dat as Vleis Beeslaer vir die nuwe goewerment gestem het, hy nie mag kritiseer nie. En dis wat nodig is. Kritiek!”

“Kyk net na die prys van petrol,” tjip Soufie in. “Jy kan skaars om die hoek kom met R10 se petrol. En dit gaan aanmekaar op! Daarmee saam word alles duurder! Noem maar op: melk, suiker, Weet-Bix, polony, Coke, alles. Nou die dag was Cape Hope R18 ’n bottel. Kyk nou! Dis amper al R35 by Solly Kramer’s. En ’n mens kan nou nie eintlik sê dis ’n drienk uit die boonste rakke nie. Nee,” roep sy uit, “ek weet wragtig nie waar alles gaan eindig nie!”

Dikboud Mabel chime nou ook in, skoon hier van ’n ander kant af. “Wat van ons arme lost generation? Ons jonges wat wil vooruitkom in die lewe? Hier sit ek, een en twintig en klaar geretrench, werkloos. Moet bakhand staan by die Arbeidsburo vir my compensation. Dit doen iets aan my, ’n jong vrou. ’n Mens het tog nog iets soos trots en skaamte. As ek Charlize Theron se geld gehad het, het ek ook padgegee. Charlize het die regte ding gedoen. Sy’t die dice bekyk toe hy geval het, en ge-let-go. Sy het die kontakte gehad en die regte mense geken wat haar bo kon uitbring. En daar sit sy nou. In Hollywood. Having the time of her life on the swing. Reg bo met die wêreld aan haar voete. And by the byes, bekyk ’n mens haar goed, is sy ook nie só mooi nie!”

Nou wonder ek wat Tsjaka is, dink daardie Mabel met haar knit-one-slip-one-tande en tros moesies sy sal dit in Hollywood kan maak? Maar foei tog, ek weet toe ek nog ’n jong brak was, het ek ook maar my drome gehad van by iemand uitkom wat nie suinig is met vleis en sous nie; iemand wat vir my ’n warm slaapplek kan gee op ’n toegeboude stoep.

Daar begin Vleis al weer. Ag tog! Hoor hoe gaan die man aan: “Ek vra julle weer: wie wil geld in so ’n land instoot?

“Hulle jaag ons Afrikaners wat nog iets saam met hulle wou uitprobeer, in ’n hoek in. Ons is vasgekeer. Dis geen wonder dat al hoe meer mense nou na Radio Pretoria luister nie.”

“Nou praat jy, Vleis!” roep Sally Caravan uit wat vinnig ’n koppie suiker kom leen het. “Nou wil hulle nog Radio Pretoria ook van die lug af kry. Al plek waar ’n Christenmens nog die waarheid hoor.” Sy slaat ’n vlieg vrek met haar plak waarsonder sy nooit is nie. “Ek hoor juis Mbeki is al wéér in die States. Ek wens die donner wil sy mind opmaak en daar bly en vir ons sê: that’s how the cookie crumbles. Dis hy wat die hele land so kom opneuk het met sy stories oor armoede, en dan praat ek nie eens van die ding met die Aids nie. Hy’s nie Madiba se gatvelle werd nie. Wat makeer hom? Ek hoor hy wil al weer ’n nuwe aeroplane ook hê. Wat’s fout met die oue? Dit was goed genoeg vir die ander. Vir FW ook. Apartheid is mos verby, finish en klaar. Almal is nou gelyk en dié wat nie is nie, vat ’n dop by Vegkop Hotel en hulle baklei dit daar uit. Na Vegkop kan jy maar sê leeu en lam lê binneboud, soos die Here in Openbaringe sê. Hierdie fools wat so wette maak, moet afkom grond toe en tussen ons, die mense, rondstap. Dis nie ons, die wittes wat nou van hoenderkoppe sop moet kook, wat die probleem is nie. Dis húlle wat moeilikheid soek waar daar nie moeilikheid is nie.”

“Quite true,” sê Vleis gewigtig en frons. “Ek stem nou wel nie saam met Ouma oor Radio Pretoria nie, want hulle soek ook maar ’n kommunis agter elke bos. Fact remains, almal kry ewe swaar. En in Damnville, pienk, pers, bont of gestreep, help almal mekaar waar hulle kan. Maar met die taxi’s en die hijackers het ek ook my hande in die lug. Die poelieste kan nie meer wet en orde handhaaf nie. En wat van die plase? Dis daardie Mbeki. Vandat hy oorgeneem het, is dit dat algar mekaar so aanhits. Die man weet nie waarvan hy praat nie. Vat nou vir ons hier in Damnville. Hier’s nie meer apartheid nie. Daar is byvoorbeeld Cyril, so te sê my beste vrind. Daai boy van my is wel swart, maar hy het ’n wit hart. Vat nou die aand toe die Opel nie wou start nie. Het die Van Schoors kom help? Die Bonthuise? Die Bitterbekke? Het hulle ’n broederlike hand kom uitsteek? Toe, antwoord my! Het hulle? Toe, antwoord my, ek wag!”

Dis lank stil.

“Not a damn!” bulder Vleis. “Wie hét toe op die ou end vir Vleis Beeslaer kom help? Wie? Ek vra wié? Cyril! Ja, ons Cyril. Die einste Cyril Phosa van Frik du Preezstraat nommer 24.”

Ek, Tsjaka, wat ook hier woon, kan dit nie meer vat nie. Hoor my aan! Ek kan daai kermstem wat so hoog in die lug in opskiet net nie meer vat nie! As Vleis Beeslaer eers op politiek is, móét hy tot op Kerkplein gehoor word. Nee, ek weet wragtig nie. Soos hulle vanaand hier aangaan, en hulle is nugter, nè, is dit vir my amper beter dat die klomp liewer op Cape Hope bly. Met ’n dop in die hand pass hulle darem taamlik vroegaand uit.

“Vat nou my suster Johanna,” sê Soufie. “Nou mos Jo-anne vandat sy met daai ryk Engelsman getroud is. Verbeel haar ook haar jis ruik na You’re the Fire. Toringhuis in Waterkloof. Hoër as Mount Everest. Tot met ’n lift in om haar groceries op te trek kombuis toe. Maak die regte goewermentsgeluide, ja, maar ek ken haar en haar soort: vee as niemand kyk nie die toiletsitplek af nadat die ousie daarop gesit het. Jammer, maar dis die waarheid al is dit my eie suster. Soutpiele. Die soort wat ’n swarte ’n order kan gee dat dit na ’n kompliment klink. Soos die gesegde sê, bo bont en onder vol stront,” maak Soufie haar storie uitasem klaar.

“Die rand is nou op sy heel laagste,” gaan Vleis aan. “Dit raak almal van ons. Wit, swart, pienk, pers, bont en gestreep. En van die swartes gepraat. Waar’s al daardie huise wat hulle belowe is? Toe!” roep Vleis uit. “Antwoord my! Ek wag!”

Sally, wat seker voel dis nou weer haar beurt, antwoord: “Daai geld vir die huise is op, sê ek julle vanaand. Julle sal nog sien ek’s reg. Die miljoene is vir gatswaai oorsee gebruik. En wie betaal daarvoor? Ek en jy. Die taxpayer. Dis hoekom dinge is soos dit vandag is.”

Ek, Tsjaka, probeer om nie te luister nie, maar die klomp gaan so te kere dat dit my hele kop oorneem. Ek verstaan mense nie. Hulle wêreld is ’n omgekrapte plek. En dis hulle eie skuld. Wat gaan hulle so aan oor wit en swart en al daai goed? Vir wat sal ons nou met mekaar neuk oor so ’n lot nonsens? As ’n teef op hitte is, vra jy nie uit wie haar ma en pa of watter kleur hulle was nie. Ons groet almal mekaar met ’n nat neus en so sal dit bly. ’n Hond is ’n hond is ’n hond. Dis mense wat alles kom omkrap. Veral met skutte en wette. Waar’s die vryheid waarvoor almal so baklei het?

Maar hierdie ding met die rand laat my dink. As die rand in sy glory is, dan het Damnville se honde ook sieners geword; het almal van ons ons dingesse gesien. Dit beteken dis van Epol na No Name Brand en dan moet ’n hond seker maar bly wees dis nie van beeslong tot foggherol nie. Aan No Name vreet en vreet en vreet jy, maar jy kom nooit dik nie. Daar is altyd ’n hol kol wat skree vir nog. Daar’s iets wat ’n hond moet hê wat missing is in daardie soort kos. Dis daardie ding wat op die ou end van ’n hond ’n hond maak. En net Epol het dit. Kom jy die slag wel aan No Name volgevreet, moet jy weet jy het dit oordoen. As jy nie oortyd skyt nie, blaas jy op. Dis wind op wind, pure gas. As die wind die slag draai, stink die hele straat na No Name Brand-poepe. Met ordentlike kos voel dit darem nie of jou maag vol rotte is nie.

Knoffel, die een met die windhondbloed, het vanoggend kom vertel van die soort kos wat Mignon daar in Wôterkloof geëet het. Dis ’n soort blokkie wat jou ná ’n bek vol wil laat huppel. Die pienk goed wat hulle daar vreet, smaak na vleis. Jy’t glo min daarvan nodig, want die blokkies swel uit in jou pens. Dit maak ’n hond rats en laat hom in die lug in opspring. Na net ’n paar skeppe van daai fensie brand trippel jy die hele dag rond. Nog iets, dit laat ook nie jou hare uitval nie.

Mignon treur glo ook omdat die hare op haar een oor uitval van ou Hannie van Oorkant se hondetjol met die blou label. Of dis wat die ander brakke hier by die gholfbolposbus kom vertel. Die poedeltjie bly ook aanmekaar krap. Ek het vergeet om te sê: Mignon het kom kennis maak by die ossewawiel. Ons het aan mekaar geruik en had rapport. Die eerste keer toe ek die Franse poedel met die straat sien afstap, het ek haar goed bekyk. Sy is nie ons soort hond van hier nie. Glad nie sleg nie, het ek gedink, al was die rooi strik toe al af. Sy is iets om na te kyk. Soort van upstairs. Dalk is dit haar manier van smile met die twee hoektandjies wat net so eina-eina oor die onderlip glip. Arme Mignon. Ou Knoffel, die een met die windhondbloed, het glo vir haar gesê dis die lewe van ’n hond in Damnville. Ons jeuk maar almal hier. Ons is gewoond daaraan en sy sal ook daaraan gewoond raak. Dis nou as sy wil oorleef.

Mignon het baie stories. Sy vertel dat die honde, daar waar sy vandaan kom, se tande geborsel word. Die tandepasta het ’n beef, ’n lamb, ’n chicken of ’n turkey flavour. Van so iets het ek nog nooit gehoor nie. En dit is sommer ’n klomp nonsens as iemand my moet vra. ’n Tandeborsel sal jy nie in my bek inkry nie. Aai-blerrie-kôna!

Mignon vind ons geselskap hier wel interessant en so aan, maar sy sê geen groter hel as Damnville kon haar getref het nie. Dis die noodlot wat haar hier uitgespoeg het. Dit het alles begin dié dag toe sy weggeraak het. Haar mense het in hierdie geweste na ’n panel beater kom soek. Langs die pad het sy ’n kat gesien, deur die venster gespring en agter die ding aan begin jaag. Toe sy weer kyk, was sy alleen op aarde met die Mercedes-Benz doggonners. Missing.

Vleis Beeslaer se stem dreun nog steeds. “Die rand is plat op sy gat!” skree hy. Gaan hy dan nooit ophou nie? Hoeveel keer moet ek nog na hierdie selfde ou stories luister: die rand, die hijackers, die petrol, die taxi’s en al daardie vis- en paraffien-stories? As hierdie klomp nie nou ophou tjommel nie, sal iemand maar vir my ook by ’n diereterapeut moet uitkry soos die een waarvan Mignon vertel het. Dié het haar mense glo laat kom om haar oor haar vrees vir donderweer te help. Sy sê sy mis haar terapeut, veral noudat haar een oor so te sê kaal is en haar krulle koek. Ook met dié dat sy moet klaarkom sonder die doggy parlour een maal ’n week. Sy kan net nie op haar eie aangaan nie. Sy hoor glads allerhande stemme, en as sy nie antwoord nie, raas hulle met haar. Die arme, arme meisie.

Dis genoeg om ’n tefie soos Mignon in ’n diep depro in te dompel. Haar soort is nie vir Damnville gemaak nie. Om mee te begin, bly niemand hier langer as drie dae skoon nie. Dan is jy all sides same side, soort van alkant gatkant. En moet jy kasterolie ingejaag word om te sien aan watter kant jou gesig sit.

Dit is waar wat Sally Caravan gesê het: hier in Damnville kry almal ewe swaar, en so van swaarkry gepraat, waar is my kos, dis al donker nag?

Makkie het netnou hier verbygewaggel. Sy was baie jammer vir my oor die opsluitery en die skut. “Sweetness, not to worry, ek werk aan ’n plan om jou agter daai wiel uit te kry. Dis amper tyd vir Mabel om weer haar Loslyf by die café op die hoek te gaan haal. Wanneer sy daai wielhek ooptik, sal ek haar aan die een bunion beetkry, die een langs die tossel van haar carpet slipper. Wanneer sy buk, kan jy uitglip en teen die tyd dat sy dit agterkom, kan jy al op die hoek van Frik du Preez en Jaap Marais wees. Ek sal vir jou wag by die Emsie Schoeman-sopkombuis. Ons kan dit vier. Mekaar jaag en so aan. Jy weet mos. Miskien is daar genoeg oorskiet chicken peri-peri, slaptjips en vetkoekstukke wat die straatkinders weggesmyt het. Straatkinders is ook nie meer straatkinders nie. Hulle smaak al lankal nie meer hoender en vetkoek nie. As hulle sê hulle is honger, beteken dit hulle wil by McDonald’s getreat word.”

Hoop hou meer brakke aan die lewe as al die veeartse saam. Ou Makkie kan wel wees wat sy is, maar sy verstaan ’n hond met ’n free spirit soos ek, en dat jy so ’n hond nie opgesluit kan hou nie. Soos die gesegde sê, she is a friend indeed. Meer nog, sy smaak my: Tsjaka, die virielste stud in die buurt.

'n Pawpaw vir my darling

Подняться наверх