Читать книгу Meditasies - Joan Hambidge - Страница 21
Оглавление15 New York as gedig
Akatalektiese stad,
jy is ’n aksie-gedig,
veelstemmig met Greenwich Village
wat resoneer met Harlem,
’n Hudson wat terugpraat met die East.
Stad van allusies en illusies,
jy laat jou nie maklik skandeer
óf verstaan nie. Op Lexington Avenue
begryp ek iets van jou leksikale veelheid:
in Central Park staan ek vol onsekerhede
oor hoé om jou in ’n vers op te som.
Skuilplek vir haweloses en magnate: Donald Trump
hou die blinkkant bo nes die Rockefeller
met wapperende vlae.
Die World Trade tans herbou; ’n aanval so getroef.
Maar jy val my telkens in die rede,
nes ek dink ek het jou onder die buigende knie.
Grimmig weet ek jy begryp Aposiopesis of ’n weer-begin
as digterlike handgreep. Hierdie is my apostroof,
my groet aan jou: stad wat Auden tydelik huisves,
die grote Ginsberg se fantasieë versier
en Billy Collins laat kekkel en skater by kroegvoorlesings.
Vanaf die Brooklyn-brug kyk ek terug na jou:
ek neem afskeid vir ’n vyfde, maar nie laaste keer.
Hartstad, dwingende stad, ingewikkelde stad,
my eerste elegieë het hier ontspruit;
ek sing vanaand die Westside-Blues.