Читать книгу Tydbom - Johan Marais - Страница 5

Оглавление

1

’N KROEGGEVEG

’N geweldige vuishou tref my van iewers aan my linkerkant op my kakebeen. Die hou is so hard dat ek grond toe gaan.

Terwyl ek half bewusteloos lê, skop iemand my reg in my gesig. Ek hoor hoe kraak my neus toe die skoen my tref en is amper weer bewusteloos. Van waar ek lê, kan ek dofweg sien die hele ding ontaard in ’n regte kroeggeveg en almal slaan almal.

Dis al weer sulke tyd, dink ek. Dis wéér die ou donnerse storie.

Dit was ’n heerlike warm Saterdagaand en ek het ’n koue bier – of was dit al my sesde? – in een van Nigel se watergate sit en drink. Almal was joviaal en het ’n Curriebekerwedstryd op televisie gekyk. In hierdie klein kroegies ken almal vir almal en die hele gemeenskap weet van ’n ou se skandes of prestasies. Ek ken die plek goed, Nigel is my tuisdorp.

My oog vang dié van ’n vrou met wie ek al op ’n paar vorige geleenthede vasgesit het en wat ek juis om daardie rede vermy. Sy kyk kort-kort in my rigting en ek besef sy skinder openlik by haar vriendin oor my. Dit pla my. ’n Paar biere later staan ek op en gaan groet haar vriendelik. Sy sê vir my in geen onduidelike taal nie ek moet fokkof en ver weg van hulle gaan sit, wat ek toe maar ewe gedwee doen. Ek gaan kla by die eienaar oor die vrou se gedrag, maar hy maak dit af as ’n kleinigheid. Hy sê ek moet ontspan – “sy is maar so,” soek altyd moeilikheid met almal.

Heelwat later besluit ek om te verkas. Op pad uit staan sy egter vir my en wag en begin my sleg te sê. Ek het genoeg gehad. “As jy jou soos ’n man wil gedra, sal ek jou soos een behandel,” waarsku ek haar. Maar sy hou aan om my te vloek en ek verloor dit heeltemal. Ek gee haar ’n klap met die oop hand dat sy in ’n hoek op haar gat beland.

Dit is tóé dat die vuishou my tref. Ek kom half dronkerig orent en slaan ’n fris jong man wat aan my linkerkant staan. Hy gaan ook grond toe, maar toe slaan sy pa my en ek val weer.

Daar kom ’n effense bedaring en ek kry kans om te vra wie my in die gesig geskop het. Die ou word uitgewys en hy begin op my te vloek. Ek slaan ’n hou na hom, maar in my besopenheid en met my voos geslaande verstand mis ek. Hy kry weer ’n hou in.

Die bloed stroom uit my neus en mond, oor my nuwe Pringle-hemp. Ek buig my skewe neus reguit, kom agter dat ek benewens ’n stukkende tand van die eerste hou en ’n seer lip en neus nie veel oorgekom het nie. Dis ’n genade dat van die mense my kom vashou en die geveg beëindig word.

Ek ry huis toe, sluk ’n paar pyn- en slaappille en sak in ’n genadige slaap weg. Die volgende oggend klim ek baie lyfseer in die stort. Soos die water op my spuit, is dit asof my hele wêreld tot stilstand ruk. Hoekom het ek toegelaat dat gisteraand gebeur? Ek is vyftig. Wat op aarde wil ek bereik deur op my ouderdom nog só aan te gaan?

Ek staan ’n lang ruk in die stort en probeer die skandes van die vorige aand weg was. Waar het dinge verkeerd gegaan?

Skielik kom al die vorige kere by my op waar ek in presies dieselfde soort situasie was. As daar moeilikheid was, was ek daar. Ek het dit nie altyd bewustelik opgesoek nie, maar dit het mý altyd gevind. Ek verstaan nie wat met my lewe gebeur het nie, maar ek wil nie meer hier wees nie.

Tydbom

Подняться наверх