Читать книгу Tydbom - Johan Marais - Страница 6

Оглавление

2

’N KIND IN ’N GROOTMENSWÊRELD

Waar het dit begin? Hierdie algehele verval van my menswees en my waardes tot op die vlak waar ek fisiek en geestelik nie meer die lewe in die oë kan kyk nie? As ek mooi dink, seker kleintyd al.

Ek was dan nog ’n kind toe ek polisie toe is. Skaars sestien. My broer Len[1] het dieselfde jaar die skool verlaat en besluit om die polisie ’n go te gee. Ek het maar net by hom ingeval en in Standerd nege is ek uit die skool.

Laat in 1975 sluit ek by die polisie aan en werk as studente-konstabel by die Springs-polisiestasie. Die volgende jaar is ek deel van die Januarie-inname by die Polisiekollege in Pretoria. Daar maak ek my matriek klaar, hoofsaaklik met regsvakke soos Strafreg, Wettereg, Kriminologie en Volkereg en voltooi my jaarlange polisie-opleiding. In die eerste drie maande van dié opleiding mag jy nêrens heen beweeg teen ’n stapspoed nie: Jy moet heeltyd draf, behalwe as jy van die eetsaal af kom. In dié tyd kry niemand ook verlof nie; eers daarna kry jy jou eerste naweekpas. Dan raak die tempo effens stadiger en die opleiding draagliker. Die dissipline bly egter baie streng en jy spring amper op aandag vir alles wat beweeg.

Jy neem ook deeglik kennis van die Swart Gevaar. Jy is jonk en maklik beïnvloedbaar en dit word by jou ingeprent dat swart mense staan vir onheil, terrorisme en die Antichris. Jy word baie subtiel gebreinspoel oor die politieke kwessie in die land. Jy beskou die deursnee- swart persoon as ’n vyand en ’n potensiële terroris.

My eerste kennismaking met geweld in die swart woonbuurte was gedurende die 1976-onluste in Soweto. Ons word as studente tydelik uitgeplaas na Tembisa aan die Oos-Rand om die onluste te help beheer en sleutelpunte op te pas.

Daagliks, maar veral naweke, word dosyne lyke ingery. Hulle word eenvoudig in die polisiegarage neergelê, omdat dit net te veel vir die staatslykhuise is. Hulle is geskiet, gesteek, hulle koppe ingeslaan en party erg vermink. Of die sterftes onlusverwant of blote misdaad was, kan ek nie sê nie. ’n Swart mens se lewe was klaarblyklik niks werd nie en in koerante is geen beriggewing oor sterftesyfers en die name en besonderhede van gestorwenes nie.

Ek is 17 jaar oud toe ek my opleiding voltooi en vroeg in 1977 na die Springs-polisiestasie uitgeplaas word as ’n konstabel. Omdat ek nog nie 18 is nie mag ek nie ’n vuurwapen dra nie, en doen diens as hofordonnans. Dit is baie interessant en ek leer al die prosedures van ’n strafhof ken. Ná ’n paar maande neem ek bevel van die hofselle oor, en kom dáár daagliks in aanraking met geharde misdadigers wat deur die hofprosedure moet gaan.

Daardie jare het howe nog lyfstraf opgelê vir mindere misdade deur jeugdiges. Die ou in bevel van die hofselle is veronderstel om ’n adjudant-offisier te wees, en dit was sy taak om die lyfstraf toe te pas. Maar omdat hierdie ou om die een of ander rede nie daar was nie neem ek dié taak oor – nie heeltemal wettig nie, maar ja, ek pas toe die hof se vonnisse vir minderjariges toe. Jy strap die minderjarige op ’n bank vas en kry vir jou ’n rottang uit ’n klomp wat langs die bank in ’n melkkan water staan. Jy gooi net ’n doek oor sy agterwêreld en dan slaan jy vir hom. Jy slaan hom dat hy in sy broek pis. Jy moet hom ses houe gee. Ses houe of tien houe. Maar jy kom nooit by jou ses of tien houe uit nie, want met die derde hou beskyt hy homself. Daar waar die hou val, op daai lap, slaan jy vir hom skoon oop tot op die vleis. Dan skreeu daai man, maar hy is vasgemaak.

Jy voel magtig en groot, want die hof se vonnis is in jou hande geplaas en jy mag hom wettig met ’n rottang aanrand.

Ek begin ook in daardie tyd sterk drank gebruik. Polisiekoffie. Dit was die algemene naam onder die senior lede vir brandewyn en Coke. Jy is nie in die uitverkore groep as jy nie saam drink en naweke in die plaaslike hotelle baklei nie.

Ek word 18 en begin by die Navraetak dossiere ondersoek. Ek woon in die enkelkwartiere in Springs. Dit is nie verniet nie, jy moet vir jou huisvesting en menasie-etes betaal uit ’n karige polisie-salaris.

Op ’n dag sit ek in die menasie en raak aan die gesels met ’n ou wat besig is met die menasie se boekhouding. Hy verduidelik aan my hoe die stelsel werk met betrekking tot die prisoniers se kos. Vir elke bord kos wat aan ’n prisonier verskaf word en dus van die Staat geëis word, kry die menasielede, dit wil sê polisielede, ’n geringe afslag op hul maandelikse menasiegeld.

Dit beteken hoe meer prisoniers daar in die plaaslike selle opgesluit is, hoe groter afslag kry ons. Dit was in die tyd toe swart mense nog die gehate pasboekies moes dra, en dit was so maklik om ’n trok te vat, die naaste plaas te gaan raid en al die boer se werkers sonder pasboekies toe te sluit. Ek het ook gesien hoe polisielede wettige pasboekies doodeenvoudig afneem en weggooi sodat die kwota prisoniers vir die aand gearresteer kan word en meer eise vir etes ingedien kan word.

Dit was uiters moeilik vir ’n jong polisieman pas uit die kollege om sy voete te vind. Senior personeel verskreeu jou, jy is niks. Met teetye moet jy wag tot laaste en as daar dalk ’n bietjie tee oor is, moet jy toestemming vra voor jy jou mag help.

Maar ek kry tog die geleentheid om die ou manne terug te betaal. Die stasiebevelvoerder van Springs stuur my op ’n dag om ’n nuwe niesmasjien by die Meganiese Bestuurskool in Benoni te gaan afhaal. Die masjien is agter op ’n Landrover gemonteer, en ek sou by die Bestuurskool gou ’n kort kursus in die bedryf en hantering daarvan ondergaan.

Die masjien is ’n nuwe ontwerp en sou aangewend word om skares te beheer in geval van onluste. Dit is ’n redelik eenvoudige toestel wat met kontroles binne-in die voertuigkajuit beheer word. Agter op die bak is ’n soort vierkantige metaalboks gemonteer, en bo-op die boks ’n toestel wat lyk soos ’n groot spreekbuis wat driehonderd-en-sestig grade kan roteer. Skakel jy die affêre aan, kom daar ’n baie fyn, wit, poeieragtige stof uit die bek van die “spreekbuis” en dit word deur ’n waaier versprei. Dié stof is die niespoeier en dit tas omstanders se oë, neus en armholtes aan, enige plek waar jy vog op jou lyf het. Dit veroorsaak ’n irriterende branderigheid wat jou laat nies. Snaaks genoeg het dié poeier, asook traanrook, geen uitwerking op honde en perde nie, en dit is hoekom die polisie dié diere in onluste kan gebruik.

Op pad terug met die masjien kom sit die duiwel op my skouer. Ek stop langs die pad en haal versigtig ’n plastieksak vol van hierdie poeier uit die masjien se houer. Twee weke later vat ek ’n koppie vol van die poeier en strooi dit uit die boonste verdieping van die polisiestasie af in die binneplein waar almal staan en tee drink. Dit veroorsaak chaos. Al die administratiewe kantore se deure loop uit op die binneplein waar ek die poeier gegooi het. Vir drie dae kan niemand hul werk doen of in hul kantore kom nie. Jy kan ook nie die poeier afstof waar dit op die rakke gaan lê het nie, want dan begin die niesery van voor af.

Die stasiebevelvoerder belowe om die persoon wat hiervoor verantwoordelik is persoonlik toe te sluit. Ek was lank ’n verdagte, maar niemand het my die poeier sien strooi nie. Dit was my wraak op die senior personeel wat ons juniors altyd van die teekan af weggehou het.

Ander lede het later ook van die poeier in die hande gekry en wanneer daar ’n bakleiery in ’n hotel uitbreek, het hulle ’n bietjie daarvan in die lugreëlingstelsel gegooi. Die fight was binne sekondes oor en die hotel gesluit. Plekke waar leeglêers gewoonlik geslaap en rondgehang het, is ook met die poeier bestrooi, en dit was die einde van die leeglêery.

Die dissipline in die Polisie was streng, maar dis werklik deur sommige oordoen. En tog, as ek moet kies tussen toe en nou, kies ek maar weer daardie jare se dissipline, want wat deesdae in die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Nasionale Weermag aangaan, is skrikwekkend.

Die kaserne self was ’n plek van uiterstes. Die senior lede het niks daarvan gedink om snags, wanneer hulle besope van iewers af kom, met staatswapens in die gange op mekaar te skiet nie.

Vroue is na willekeur in die kaserne ingesmokkel en groepseks – die sogenaamde “treintrek” – was aan die orde van die dag. ’n Ou spyker ’n girl en dan staan die ander ouens drie, vier agter mekaar en wag hul beurt af.

Baiekeer was dit jong meisies wat as vermis aangegee is. Dit was nie moeilik om hulle op te spoor nie. Hulle was gewoonlik by die hotelle en seedy joints. Wanneer ’n polisieman dan vir haar sê hy gaan haar toesluit, skrik die arme meisie haar uit haar klere uit. Dan vat hy haar kaserne toe en hou haar ’n paar dae daar, steel vir haar kos uit die menasie en gebruik haar. Vrywillig – die girls worry nie. Hulle wil nie teruggaan huis toe nie. Eerder dít as terug huis toe. Sy moes haar net uit die voete maak ’n dag voordat ’n offisier die kasernes inspekteer. As jong polisieman moes jy maar jou mond hou oor hierdie dinge en jou kamerdeur sluit.

In dié tyd het ek bevriend geraak met ’n gay man wat ’n paar huise van my ma-hulle af gebly het. Hy was ’n baie aangename mens en het glad nie sy seksualiteit aan my opgedwing nie. Ek het hom uit die staanspoor laat verstaan dat ek nie gay is nie en hy het dit aanvaar.

Ons het goeie vriende geraak en ek het van my polisievriende aan hom voorgestel, maar dadelik het ’n soort stigma aan my gekleef. Almal was baie konserwatief en dit was ’n geval van reg of weg. Ek het my egter nie aan die spul gesteur nie en ons was vir ’n baie lang tyd vriende, totdat hy verhuis het.

Dieselfde tyd was daar twee groot, fris studente saam met my in die peloton wat altyd hope geld gehad het wanneer die res van ons lankal platsak was. Later hoor ek toe by een van hulle hoe hulle aan hulle geld kom. Hulle het Saterdagaande rondgehang by die kunsmuseum in Schoemanstraat, Pretoria – ’n bekende bymekaarkomplek vir gay mans. Die twee polisiemanne doen hulle dan as gay voor, ontmoet ’n belangstellende en gaan saam na sy woonplek. Daar aangekom, rand hulle hom aan en beroof hom. So much for police protection.

Toe ek agttien word, mag ek ook vir die eerste keer my amptelike sywapen dra en uitgaan in ’n patrollievoertuig. Dit is enige jong polisieman se droom, eers dán voel jy dat jy regte polisiewerk doen.

Daar was in dié tyd kleinerige opstande wat voortgespruit het uit die 1976-onluste. Die metode wat aangewend is om die onluste te beheer, was om met sowat dertig polisiemanne ’n blokformasie te vorm en die onlusmakers met militêre presisie te intimideer. Ons het dit by die Polisiekollege baie goed ingeoefen, maar in die praktyk het dit nie so goed gewerk nie. In die eerste plek was daar nooit dertig polisiemanne beskikbaar wat saam die formasie kon vorm nie. Tweedens was die plekke waar dit toegepas moes word nooit van so ’n aard dat dit kón werk nie, aangesien onlusmakers jou van agter huise en skuilings met klippe bestook.

Toe is lang plastieksambokke aan ons uitgereik en pleks van die blokformasie toepas, het ons tussen die opstandiges ingestorm en hulle uitmekaargeslaan. Dit was effektief, hoewel barbaars. Waar die sambok se punt getref het, het die vel tot op die vleis oopgeskeur. Die sambokke is ’n ruk later weens humanitêre redes teruggetrek.

Ná ’n paar maande op patrolliediens rapporteer ek weer vir een van die vele nagskofte. Dit is in die winter. Van der Merwe, ’n ou van min of meer my ouderdom, is die aand my bestuurder. Omdat dit maar stil kan raak in die oggendure, het ons ’n draagbare FM-radio by ons om musiek te luister. Die patrollievoertuig is ’n ou groot, lomp Dodge-bakkie.

Dié aand sit ek en probeer die FM-radio op ’n stasie kry. Van, wat maar altyd ’n bietjie windgat was, is soos gewoonlik haastig op pad na nêrens en vat elke draai met spoed. By die volgende draai vlieg die deur aan my kant oop en ek word uitgeslinger. Eers rol ek en toe begin ek te skuif. Nog voor ek behoorlik tot stilstand kan kom, staan Van reeds by my en vra: “Is jy oukei, is jy oukei?”

Wel, ek was nie oukei nie. My ego het baie seergekry, my uniform was aan flarde. Ek was orals stukkend, en om sout in die wonde te vryf, lê die radio langs my kop en speel “Another One Bites the Dust”.

In die kaserne het ek aksie van ’n ander aard beleef. Die menasie se hoofkok het ’n baie mooi dogter gehad. Wanneer sy van die skool af gekom het, het al daai poliesmanne se oë op steeltjies gestaan. Ek begin toe so te kuier, kuier, kuier – by die huis – want sý vertel vir my sy is agttien en in matriek. Sy lyk ook na die genuine artikel, maar al die tyd is die girl in Standerd 7 en minderjarig.

Toe ek weer sien, jaag haar ma my met die vleisbyl oor die heining. Om te verhoed dat ek vervolg word, word ek daardie selfde nag nog vir drie maande na Ovamboland gestuur vir grensdiens.

Ek kom sonder enige grensdiensopleiding op Oshakati aan en word in beheer geplaas van die insleep van stukkende en landmynbeskadigde voertuie. Die motorhawe is reg langs die lykshuis, en die lyke van soldate wat in polisie- en weermagoperasies sterf, kom daagliks in. Ons begin telling hou. Gou raak ek gewoond daaraan dat ’n menselewe niks werd is nie.


My “wiele” in Oshakati: ’n mynbestande insleepvoertuig.

Ná die drie maande is ek terug in Springs. Die ding met die hoofkok se dogter het afgekoel en ek hervat my werk.

Ek word uitgeplaas om buitedienste te verrig en begin voetpatrollies stap. In twee voorvalle gedurende dié voetpatrollies is ek die slagoffer van ernstige aanrandings. Die eerste was tydens ’n poging om ’n swart man te arresteer wat in die openbaar gedrink het. Toe ek nog besig was met die arrestasie, trek ’n groep swart mans my in ’n kafee in en begin my te skop en te slaan. My neus word gebreek en terwyl ek op die grond lê, word my vuurwapen afgevat. Vier onbekende bruin mans snel my te hulp en ons kry naderhand die oorhand. Ek arresteer steeds die verdagte, maar het baie groot geskrik.

Die tweede geval was naby die Springs-spoorwegstasie, toe ek ’n man wou arresteer wat onwettig sit en dobbel het. Weer word ek deur ’n groep omstanders toegetakel en moet in ’n meubelwinkel skuiling soek. Dit ontaard in ’n oproer in die kleine toe die mense begin om die winkel se ruite stukkend te gooi. Ek ontbied per telefoon hulp (ons het daardie jare nog nie tweerigtingradio’s gebruik nie) en is regtig baie benoud. My kollegas kom net betyds daar aan.

In my buitedienste-periode sien ek ’n motorongeluk in Vlakfonteinweg tussen Springs en Dunnotar wat tot vandag toe by my spook. Ek was in daardie stadium nog nooit as ’n polisieman op ’n ongelukstoneel nie, al was dit nie die eerste keer dat ek ’n ongeluk gesien het nie. My destydse wyksersant het my by die toneel afgelaai en beveel om dit op te meet en die dossier te open.

’n Twintigsitplekbus en ’n passasiersmotor was in ’n kop-aan-kop-botsing. Orals lê lyke en beseerdes. Altwee die insittendes van die motor is dood en sit in hul motor vasgekeer. Die passasiers van die bus was lede van ’n kerkorkes wat op pad terug was van ’n optrede iewers. Die busbestuurder se bene is vergruis en hy is vasgekeer. Die arme man word aanmekaar flou van die intense pyn. Vir bykans ’n uur lank gee hy kort-kort sulke verskriklike gille. Die brandweer het hom heelwat later bevry nadat ’n plaaslike dokter hom verdoof het.

Ek het hom in die hospitaal gaan besoek om sy verklaring af te neem. Sy bene kon darem gered word, maar dit was erg vermink. Dít was my motorongeluk-vuurdoop. Onlangs het ’n vriend van my, wat saam met my by die Onluste-eenheid diens gedoen het, op presies dieselfde draai in ’n kop-aan-kop-botsing gesterf. Ek gebruik hierdie pad ook baie en wanneer ek daar ry, hoor ek altyd weer die busbestuurder se gille.

Skaars ’n week ná hierdie ongeluk word ons uitgeroep na Springs se spoorwegstasie. ’n Man is tussen twee treintrokke vasgedruk. Met ons aankoms sien ons dat die skakels wat die trokke aan mekaar verbind dwarsdeur sy rug en maag steek. Hy leef nog, maar wanneer die brandweer hom bevry deur die treintrokke van mekaar af te haak, sterf hy oombliklik.

[1] Skuilnaam

Tydbom

Подняться наверх