Читать книгу Tydbom - Johan Marais - Страница 7
Оглавление3
’N LEWE OP DIE PLOTTE
Ek het my verstand gekry op ’n plot in die woongebied Rand Collieries in Brakpan. Op die plot het my pa ’n gemengde boerdery gehad – onder meer ’n spul ganse. Ek was altyd maar effens versigtig vir dié lot en het gehardloop as hulle naby my was, want daar was so ’n aggressiewe mannetjiesgans wat my altyd bestorm het. Ek was seker so drie jaar oud toe die gans my eendag aan die totterman beetgekry het. Om die een of ander rede was ek sonder ’n broek en die gans het gegryp.
Ek skreeu en hol, met die gans agterna, en ek hardloop reguit in ’n oop rioolput in. My ma het die hele affêre staan en dophou, my met lang vingers daar uitgetrek en met ’n tuinslang afgespuit.
Waarom vertel ek dié storie? Ek dink dit is omdat episodes uit my kinderdae altyd ook by my opkom wanneer ek probeer vasstel waar my lewe verkeerd geloop het. Ek kan byvoorbeeld glad nie onthou dat my pa my ooit vasgehou, op sy skoot getel, gesoen of sommer net sy hand deur my hare getrek het nie. Hy het geen belangstelling in my skoolwerk getoon nie en nooit van my sportbyeenkomste bygewoon nie. Selfs toe ek later in landloop en marathons begin presteer het, het hy my nooit kom aanmoedig nie. Ek was vir hom maar net ’n ekstra mond wat hy moes voed en ’n ekstra stel hande wat op die plaas kon werk. Dis by my ma dat ek troos en liefde gekry het.
Kort nadat die gansmannetjie my beetgekry het, moet my pa die plot verkoop en ons gaan woon by my oupa, wat ’n melkboer in Witpoortjie naby Brakpan was. My oupa was ’n stoere ou Ossewa Brandwag-lid, baie streng maar regverdig.
Naby my oupa se plaas was daar ’n ry winkels wat almal deur Indiërs bedryf is. By die skool hoor ons as jy ’n Indiër kwaad wil maak, moet jy vir hom sê: “Mohammed eet varkvleis.” Ons het in daardie stadium nog nie eens geweet daar bestaan ander gelowe nie – wat nog te sê geweet wie Mohammed is. Een van my ouer broers gaan toe by die winkel in, net om die volgende oomblik met ’n helse vaart daar uit te kom, ’n Indiërman met ’n lang kapmes kort op sy hakke. Ons het ons gatte af geskrik en gehardloop.
Die Indiër het my oupa geken en kom kla. Ons het ’n pak slae en ’n les oor die Indiërs se geloof gekry. En ons moes hulle almal om verskoning gaan vra.
Saans ná ete is die tafel afgedek en het my ma die Familiebybel nader getrek. My pa het ’n stuk voorgelees en ons het ’n bekende psalm gesing. Daarna moes ons kinders vrae beantwoord oor die gelese stuk. As jy nie kon sê wie byvoorbeeld saam met Daniël in die leeukuil was nie, is jy aan die oor beetgekry. En voor jy in jou bed klim, moes jy op jou knieë gaan en jou gebedjie opsê. Moet ook nie dat Ma of Pa jou hoor vloek of die Here se naam ydellik gebruik nie.
My ouma het ’n traporrel gehad waarop sy enige tyd van die dag psalms en gesange gespeel en saamgesing het, maar nog op Hooghollands. Dit het geklink soos ’n klomp wildehonde wat bronstig is.
Sondagoggende moes ons kerk toe, daarna katkisasie en die aand weer in die kerk. Dit was maar moeilik vir ’n woelige kind.
En woelig, dié was ek en my drie broers. Soms lekker stout. Op my oupa se plaas was ’n uitgewerkte steengroef waarin ons in die somermaande gaan swem het. Langs die gat was ’n groot populierbos met die ideale takke vir kleilatgooi. Moeg geswem, het ons mekaar dan met die kleilatte getakel. Ná ’n ruk was ook dit vervelig en het ons sulke tweemeter-latte gepluk en gekyk wie kon tot by die pad, ongeveer honderd meter verder, gooi.
Van die ouer seuns het dit maklik reggekry. Ongelukkig kom daar op ’n slag ’n groot vragmotor verby en ons gooi sy voorruit stukkend. Onnosel soos kinders maar is, skrik ons en hardloop huis toe. Die bestuurder van die vragmotor sien egter na watter huis ons gaan en verkla ons toe. My oupa het net sy kop geskud. My pa nie.
Nog ’n tydverdryf was om in die voetpaadjies wat die swart seuns gebruik het strikke te stel deur die oulandsgras met ’n stewige knoop bo-oor die paadjie vas te bind. Hoe lekker het ons nie gekry nie wanneer hulle die pad afgehardloop kom en val dat jy net arms en bene sien.
Hulle was nie stupid nie en het geweet dit is ons. Toe ons eendag met die fiets teen ’n stuk bloudraad vasry wat tussen twee bome gespan is, het ons geweet waarvandaan dit kom. Ook toe een van ons in ’n gat in die fietspaadjie val wat met ’n sinkplaat en ’n bietjie grond bedek was.
Ons was rêrig rof en het dikwels oorlog gemaak met selfgemaakte ketties. Ons het kante gekies en in die grondpad ’n ent van mekaar gestaan en op mekaar geskiet. Dit het eers end gekry toe een van my broers ’n klip teen die kop gekry en bewusteloos neergeslaan het.
Die kettiegevegte is vervang deur cowboys en crooks met stokgewere. Maar ook dit het handuit geruk. My tweede oudste broer, Jacques[1], het op sy eie stokgeweer geval en dit het dwarsdeur sy maag gesteek. My pa en oupa moes met hom hospitaal toe jaag.
Ek was omtrent ses jaar oud toe ek my eerste dooie mens gesien het. Ons gesin was op pad om in die Bronkhorstspruit te gaan visvang. Naby Bapsfontein, by ’n T-aansluiting op die ou Delmaspad, stop my pa nie heeltemal nie en hy sien ook nie die motor wat van Pretoria se kant aangery kom nie. Dit is ’n verskriklike botsing. Ons kar tol ’n volle driehonderd-en-sestig grade in die rondte, die ander kar ry vir sowat twintig meter op sy twee linkerwiele en begin toe rol.
Niemand in ons motor is beseer nie, net erg geskok, en toe ons by ons sinne kom, hardloop ons almal na die ander kar om te kyk wat daar aangaan. Met die rolslag het een van die deure die bestuurder, ’n ou oom, in sy nek gesteek en sy hoofslagaar afgeruk.
Ek staan vir hom en kyk, sien hoe sy laaste lewensbloed uit hom pomp totdat hy sterf. Toe ek besef wat ek gesien het, raak ek histeries en hardloop blindelings die mielielande in waar my suster my later kry.
My pa het my al op agtjarige ouderdom met die .22-geweer vertrou, en dit was vir my heerlik om elke middag die geweer te vat en ’n tarentaal of ’n duif te skiet. Die voëls het ek dikwels op die kole gebraai – tot my ma se misnoeë, want dan eet ek nie haar kos nie. My pa was egter streng en as jy vyf patrone gevat het, moes jy vyf duiwe terugbring of verduidelik hoekom jy mis geskiet het, of wat van die ander patrone geword het.
Op die plaas het elke kind, ons was vier broers en ’n suster, ’n taak gehad. My oudste broer, Ben[2], was in beheer van die beeste en melkery, en Jacques moes na die varkboerdery omsien. Len se pligte was so tussen die beeste, perde en hoenderboerdery opgedeel en ek was die amptelike skaapwagter. Soos die ouer seuns die skool verlaat en begin werk het, is die verantwoordelikhede afgeskuif na die jonger seuns. Ek was die heel jongste.
Ons seuns het in een lang kamer geslaap, amper soos ’n koshuiskamer. Elkeen het sy eie hangkas gehad en ook ’n swetterjoel troeteldiere, van slange tot trapsuutjies, nagapies, paddas … enige denkbare ding met pote en vlerke. My ma en die bediendes wou dit partykeer nie in die kamer waag nie uit vrees vir die ongediertes wat uit die kaste kan spring.
Naweke was ’n fees, want dan het elke seun ’n skoolvriend of twee oorgenooi. Daar is dan perd gery, voëls geskiet, geswem en alles gedoen wat seuns op ’n plaas kán doen.
Ongeveer ’n halwe kilometer van ons huis het die Blesbokspruit ontspring en in ’n groot dam op die plaas gevloei. Wanneer die spruit afgekom het, het elkeen aan ’n drywende rietpol geklou en kilometers aaneen stroomaf resies gejaag.
Die Sappi-papierfabriek se ashoop was net langs ons plaas, en ons bende seuns het gereeld Saterdae die jong swart seuns met verkykers dopgehou waar hulle koper, brons en aluminium kom bymekaarmaak het om as skroot te verkoop. Ons het hulle dan ingewag, die skroot by hulle afgeneem en Maandae ná skool met ons fietse na die plaaslike skroothandelaar gery en dit daar verkoop. Só was ons dikwels die skoolkinders met die meeste sakgeld en die meeste maats.
Een dag besluit ons uit pure verveeldheid om die buurman se donkies met ons windbukse te skiet. Sy veewagter sien dit en gaan rapporteer ons. Die windbukse het nie juis veel uitwerking op die donkies gehad nie, maar die eienaar stuur die polisie uit. My suster is in daardie stadium negentien jaar oud en heel aantreklik, en hulle stel meer in haar belang. Die polisiemanne dreig ons nietemin met die dood of opsluiting indien dit weer gebeur. En Pa wag vir ons in die badkamer met ’n groot pak slae.
Maar net voordat my pa sy belt die praatwerk laat doen, kry hy die nuus dat Ben, wat nie deel van die petalje was nie, van sy perd afgeval en lelik seergekry het. Die ongeluk is so erg dat my pa ons net daar los en met my broer na die hospitaal jaag. Hy bly sowat twee maande in die hospitaal en moet verskeie veloorplantings kry op sy bene waar die perd op hom geval het.
Een naweek gaan ons gesin saam met vriende by die Vaaldam kampeer. Ek is tien jaar oud. My pa se vriend het ’n seilboot en ek wil baie graag saam met hom gaan seil. Hy is ook gretig om my saam met hom op die boot te neem, maar wil om die een of ander rede nie my broers of ander mense saam met ons op die boot hê nie.
Nie ver van die wal af nie begin hy op ’n baie subtiele manier nader aan my te skuif en sit sy hand op my bobeen. Ek vermoed dadelik iets is nie reg nie. Hy sê vir my alles is oukei en ek moet net vir niemand hiervan vertel nie, veral nie my ouers nie.
Toe hy sy hand op my private dele sit, skrik ek my buite weste, duik van die seilboot af en swem terug na ons kampplek. Ek vertel my pa wat gebeur het. Toe sy vriend terugkom, het hulle ’n hewige woordewisseling, maar dit is al wat hiervan kom. Ek besef vandag dit is presies hier dat ek ’n groot emosionele knou gekry het. Deesdae kan ek geen vorm van toenadering of aanraking deur mans verdra nie.
Teen die tyd dat ek dertien jaar oud is, klim ek Saterdae op my fiets en ry die twaalf kilometer van die plaas na Springs se middedorp. In die middag glip ek skelm by die St. James-snoekerklub in die plaaslike hotel in. Op die tafel die verste weg van die ooms wat met dik sigare en hoë glase drank sit en dobbel, speel ek en ’n vriend dan ’n paar potte snoeker. Later die dag gaan ons fliek, elkeen met sy meisie, want ons het al vroeg begin vry.
In die donker is ek dan per fiets terug plaas toe, op die spookagtige plantasiepaadjies en die kronkelende eenspoorvoetpaadjies tussen die damme en riviere deur. Dit was grillerig, maar ek het dit later gewoond geraak.
Ek skiet my eerste jakkals en verkoop hom in die township vir twintig rand aan ’n toordokter, William Skosana. Hy laat my toe in sy kamer waar hy al sy moetie en ’n versameling dooie diere hou. Orals is bottels en bene vol onherkenbare goed. Hy is nogal bekend onder die plaaslike swart mense en hulle kom van heinde en verre vir sy raad en medisyne. Hy het later die politiek betree en een van Cosatu se leiers geword. Hy was ’n aangename mens en het my baie dinge van swart mense se kultuur geleer.
Ek leer op dié ouderdom motor bestuur, en terselfdertyd ook ’n stootskraper. Daar was vir my niks lekkerder as om self met die groot stootskraper keerwalle te stoot en lande om te ploeg nie. Die gekletter van die rusperbande en die gevoel van krag was vir my iets uit ’n sprokiesboek. My oudste broer kry sy eerste kar, ’n blou Mini, en ons gaan jag in die aande gereeld springhase daarmee.
Deur die dag was my enigste vervoer egter my fiets. As jong seun het ek elke dag met ’n ou fiets die sowat agt kilometer na Laerskool Jan van Riebeeck in Springs gery. In die winter raak dit tot ses grade benede vriespunt en party oggende vries my vingers en pak ysvlokkies op my oë. Hoërskool Hugenote was nóg ’n kilometer verder as die laerskool en ek ry as tiener dus elke dag twee kilometer verder. Ek raak partykeer in die middae so moeg dat ek plek-plek van my fiets afklim en op ’n sypaadjie of klip gaan sit en rus. Ek het eenvoudig nie meer die krag gehad om ’n tree verder te trap nie.
Ek het regdeur my skoolloopbaan ’n gemiddeld van in die sestig persent behaal. Vandag besef ek dit kon waarskynlik beter gewees het as ek nie elke dag daardie afstand moes fietsry, dan nog rugby oefen en aan allerhande ander fisieke aktiwiteite ook deelneem nie.
’n Vriend van Len, wat besig was met sy nasionale diensplig, kom een naweek op die plaas kuier. Hy bring vyf F1-handgranate wat hy iewers gesteel het saam. Ons besluit om die handgranate te gaan toets – hy weet so ’n ietsie van handgranate. Ons stap af na die dam op die plaas waar seemeeue op drywende eilande nes gemaak het. Omdat hulle ons altyd pla wanneer ons tarentale en fisante skiet en al wat ’n voël is verjaag, besluit ons om ’n granaat tussen hul neste in te gooi.
Die oorverdowende slag het ons glad nie verwag nie. Ons maak ons baie vinnig uit die voete, reguit terug huis toe. Die aand noem my pa so terloops dat mense in die fabriek ’n ontploffing iewers by die dam gehoor het en dat daar ondersoek ingestel word deur die fabriek se veiligheidsafdeling. Ons bly tjoepstil.
’n Week hierna vat ons die oorblywende vier handgranate na ’n mynhoop verder van ons huis. Sowat vierhonderd meter van die mynhoop af loop ’n treinspoor. Ons wag totdat ’n goederetrein verbykom en gooi die handgranaat bo van die mynhoop af na die trein. Daar is weer ’n geweldige slag, maar die handgranaat het iewers aan die mynhoop se voet geval, baie ver van die trein af.
Ons kruip ’n tydjie lank bo-op die mynhoop weg voordat ons besluit om die oorblywende drie handgranate oor ’n keerwal naby ons te gooi om die uitwerking van die ontploffing beter te beleef. Ons gooi al drie gelyk en wag, maar niks gebeur nie. Ná ’n minuut of wat loer ons versigtig oor die wal.
Die afwerphefbome lê weg van die handgranate, maar die goed wil nie ontplof nie. Ons besluit om die .22-geweer wat ons by ons het, te vat en die handgranate te skiet. Miskien sal die slag die goed laat ontplof.
Die handgranate is naderhand blink geskiet, maar niks gebeur nie. Wat nou gemaak? My broer se vriend gaan tel die handgranate op en sien dat dié drie nie slagdoppies het nie. Ons neem die granate saam met ons terug huis toe en gaan steek dit in my pa se garage binne-in ’n dreinput weg. Twee weke hierna is die drein verstop. Die loodgieter wat uitgeroep word, kry die granate in die rioolstelsel. Binne ’n uur is die Veiligheidspolisie, springstofdeskundiges, speurders, vingerafdrukdeskundiges en omtrent drie karre van die Uniformtak by ons huis. Almal word lank ondervra. Al ons seuns hou by ons storie: Ons weet van niks nie.
Ek was die enigste van ons vyf kinders wat in die tuin gewerk het. Ek het my eie groentetuin uitgelê, self die beddings gemaak, die plantjies geplant, natgelei, opgerank waar nodig en onkruid beheer. My groentetuin was so suksesvol dat my pa van my tamaties, groenboontjies en pampoene by sy werk verkoop het.
Ons het ook sowat twintig skape gehad wat ek as mý skaaptrop beskou het, en my hartseerste oomblik as plaaskind was toe my hele skaaptrop weggeraak het. In die laatmiddag het die trop gewoonlik self al nader aan die kraal gewei en ek het hulle elke dag gaan haal. Soos ’n wafferse herder van ouds het ek hulle by die naam gegroet – nou nie almal nie, maar daar was heelwat hanslammers onder hulle wat ek self met ’n bottel en tiet grootgemaak het. Dié hanslammers het gewoonlik nader gestaan vir ’n speelse kopstamp of ’n vryf oor die kop. Ek het altyd voor hulle uitgeloop en hulle het my tot in die kraal gevolg.
En toe is die trop op ’n dag net weg.
Van die plaaswerkers het kom help en ons het die skape se spore gevolg tot waar die hele trop deur ’n grensdraad gejaag is. ’n Ent verder in ’n bos het ons velle en koppe gekry – ’n paar van die skape is daar geslag. Dit het begin donker raak en ons is terug huis toe. Die volgende oggend het ons saam met speurders ’n plek gekry waar van die skape op bakkies gelaai is. ’n Ent verder het nog skape op die spoorlyn gelê. Hulle moes voor ’n trein ingehardloop het. Dit was net voor lamtyd en die spoorlyn het vol ongebore lammetjies gelê, baie was tweelinge.
Dit was die einde van die skaapboerdery. ’n Geweldige finansiële verlies vir my pa en vir my ’n enorme skok. Ek het my weke lank saans aan die slaap gehuil oor “my” skape. Ek moes toe al behandeling gekry het, dêmmit.
Ek en my pa het daarna met ’n byeboerdery begin. Snags het ons ons sestig korwe vervoer na daar waar die meeste kos vir die bye sou wees. In die winter het ons suikerwater vir hulle uitgesit as ’n aanvulling. Ek is so baie gesteek dat ek later immuun geraak het teen bysteek. Ons boerdery het net begin floreer toe ons eendag op versoek van ’n boer ons korwe bo-op ’n mynhoop gelos het sodat ons bye sy boontjies kon bestuif. Die volgende dag was al ons korwe weg, dit is ook oornag gesteel. Dit was die einde van die byeboerdery.
My pa besluit kort daarna om sy boerdery tot niet te maak. Die plaas en alles daarop moet verkoop word – die perde, beeste, hoenders, varke en selfs ons troeteldiere, die honde, katte. Alles moet weg. Alles word op ’n vendusie verkoop, en dit voel vir my asof ’n deel van my lewe verkoop word.
Ons trek na ’n groot huis op die dorp, maar dit is ’n hengse aanpassing. Ek vind ’n mate van ontvlugting in die biblioteek, wat net ’n paar blokke van ons huis is. Die nuwe passie in my lewe is lees. As tiener verslind ek tot drie storieboeke per week. Nogtans mis ek die plaaslewe baie.Vandag besef ek daar is niks wat ’n kind vinniger selfstandig en onafhanklik maak nie as die plaaslewe waar jy vinnig moet leer om vir jouself te dink, en as iets verkeerd loop, self ’n plan moet beraam nie.
Plaaskinders is net anders. In my polisieloopbaan, veral as instrukteur, kon ek dadelik die plaasseun in ’n groep jong polisiemanne onderskei van dié wat op ’n dorp of in ’n stad grootgeword het.
Al was die plaaslewe in sekere opsigte idillies, het ek dit soms maar moeilik gehad. My ma en pa het albei drank misbruik en mekaar gereeld aangerand. Hulle was kort-kort uitmekaar en het met tye apart gewoon. Ek het vroeg al besef ek is anders as my broers en susters, maar het as kind nie geweet hoekom nie.
Toe ek in Standerd 4 is, sit ek een aand in die bad en hoor my ma vreeslik gil op die stoep. Al hoe erger gil sy. Ek weet nie wat om te doen nie, my ma en pa het heeldag al gedrink en gebaklei. Ek spring uit die bad en maak die badkamerdeur na die stoep op ’n skrefie oop. My pa sit wydsbeen op my ma en albei sy hande is om haar keel.
Vir ’n oomblik sidder ek van angs. Wat kan ’n kind tog in sulke omstandighede doen? Toe sien ek ’n besem naby hulle, en instinktief hardloop ek, gryp die besem en slaan my pa so hard soos wat ek kan oor sy blaaie. Ek besef nie eens ek is kaal nie.
My pa los my ma en draai halfpad om; ek gooi die besem neer en hardloop terug die badkamer in, sluit die deur, trek vinnig aan en gaan by die ander deur uit na my suster se kamer. Sy steek my in haar hangkas weg. Ek weet nie wat my pa met my gaan doen as hy my kry nie.
Ná ’n ruk haal my suster my uit die kas; ek huil onbedaarlik. Sy troos my en laat my saam met haar in die bed klim waar ek die nag slaap.
Die volgende oggend kom haal my ma my. Sy sê ek moenie bekommerd wees nie, my pa is nou nugter en sal niks aan my doen nie. Die volgende paar weke loop hy ook wye draaie om my.
Ons gesin gaan weer aan asof niks gebeur het nie, maar dit is voorvalle soos dié wat dit vir my al moeiliker maak by die huis. Nadat my twee oudste broers en suster uit die skool is, bly net ek en Len oor. Toe hy in matriek besluit om die skool te verlaat en by die Polisie aan te sluit, is ek is nie lus om alleen agter te bly nie.
Twee jaar later is ek terug op Springs, maar dié keer as ’n polisieman in die Springs-polisiekantoor, en nie meer as ’n seun in my pa se huis nie.
[1] Skuilnaam
[2] Skuilnaam