Читать книгу Best Books Studiewerkgids: Fiela se kind - die drama Gr 12 EAT - Junaid Anthony - Страница 5
Biografie: Dalene Matthee
ОглавлениеDie skrywer vandie roman, Fiela se kind, Dalene Matthee (gebore Scott), is op 13 Oktober 1938 op Riversdal in die Suid-Kaap gebore. Sy matrikuleer in 1957 en ontvang later op Oudtshoorn en Graaff-Reinet verdere musiekopleiding. Sy behaal ook haar lisensiaat (sertifikaat) in klavier.
© Annari van der Merwe
In 1956, op die ouderdom van agtien jaar, trou sy met Larius Matthee. Uit hierdie huwelik word drie dogters gebore. Ná hulle geboorte begin Dalene skryf – aanvanklik kinderverhale vir die radio, maar later ook tydskrif- en vervolgverhale. Die twaalfuurstokkie, haar eerste boek, word in 1970 gepubliseer. Daarna sien verskeie ander boeke – ’n Huis vir Nadia (1982), Die Judasbok (1982), Petronella van Aarde, burgemeester (1983) en ’n bundel kortverhale – die lig voordat sy met haar Bosromans beroemdheid verwerf.
Teen die einde van 1978 gaan Dalene op ’n driedae-staptog deur die Knysnabos. Ná die staptog snuffel sy in die museum op Knysna rond vir inligting oor die inheemse bome en daar win sy die kennis in wat uiteindelik die onderbou van haar Bosboeke vorm. In die museum kom sy ook af op die geskiedenis van een van die boswerkerkinders wat van sy familie weggebreek het om sy geluk op sy eie te gaan soek: dit word die verhaal van Saul Barnard in Kringe in ’n bos (1984).
Nog twee Bosboeke volg: Fiela se kind (1985) en Moerbeibos (1987). In 1993 verskyn Brug van esels en in 1995 Susters van Eva. Pieternella van die Kaap volg in 2000 en die vierde en laaste Bosroman, naamlik Toorbos, in 2004.
Dalene Matthee is op 20 Februarie 2005 in Mosselbaai oorlede. In September 2005 word haar laaste boek, Die uitgespoeldes, gepubliseer. Haar boeke het ’n groot impak op die samelewing gehad.
Sy ontvang verskeie toekennings vir haar skryfwerk. In 1986 word sy die eerste vrou en persoon buite die boswese wat die gesogte Suider-Afrikaanse Instituut van Boswese-toekenning ontvang. Dit word in 2004 weer aan haar toegeken. Ander toekennings is onder andere die ATKV-Prosaprys (vier keer) en in 1993 was sy die eerste Suid-Afrikaner wat die Switserse Stab-toekenning ontvang het.
Tydens ’n meningsopname in 1999 by 350 biblioteke landwyd is Fiela se kind as die Suid-Afrikaanse Boek van die Eeu aangewys. In die algemene kategorie was Fiela se kind tweede naas J.R. Tolkien se Lord of the Rings.
In 2007 word die Nasionale Departement van Kuns en Kultuur se Suid-Afrikaanse Literêre Toekenning nadoods aan Dalene toegeken. Op 23 Februarie 2008 word ’n gedenksteen vir haar by die groot geelhoutboom by Krisjan-se-nek in die Knysnabos onthul. Die boom van 880 jaar is herdoop na die Dalene Matthee Big Tree en die staproete wat hier begin, het die Kringe in ’n bos-staproete geword. Haar as is by Krisjan-se-nek gestrooi.
In 2015 word die Sanlam Knysna Awards gehou en Dalene Matthee ontvang erkenning van haar bydrae tot Knysna se gemeenskap en letterkundige-erfenis.
Dalene Matthee is die enigste Afrikaanse skrywer van wie meer as een miljoen boeke in Afrikaans in Suid-Afrika verkoop is. In 2007 het twee van haar boeke Exclusive Books (’n boekhandelaar in Suid-Afrika) se lys van “101 books to read before you die” gehaal.
Met haar boeke het Dalene Matthee daarin geslaag om tot in die hart en siel van mense te dring.