Читать книгу Best Books Studiewerkgids: Fiela se kind - die drama Gr 12 EAT - Junaid Anthony - Страница 6
Voorwoord deur Frans Swart/Lefra Produksies oor die teaterproduksie
Оглавление(REGISSEUR EN VERVAARDIGER: LEFRA PRODUKSIES)
Dalene Matthee, Suzanne van Wijk, Fiela Komoetie. Drie merkwaardige en besondere vroue!
Suzanne van Wijk het ’n ongelooflike goeie verwerking vir die verhoog van Dalene Matthee se roman, Fiela se kind, gedoen en ’n volwaardige drama geskep. As dramastudent van die Akademie van Dramakuns (die bekende ADK) het ek in Johannesburg onder juffrou Aletta Gericke studeer. Juffrou Aletta se kollega in die Kaap was Suzanne van Wijk – ook een van ons land se beste radiodrama regisseurs. Ek was bevoorreg om onder beide hierdie legendes te werk en te studeer. Juffrou Suzanne was kwaai, maar geliefd onder alle spelers. Of jy nou wou of nie … haar kuns − toneelspel en die teater − het jy as speler altyd respekteer. Sy kon daarin slaag om tweehonderdpersent uit enige akteur of aktrise te haal en was veral bekend daarvoor dat spelers onder haar regie ongelooflike vertolkings gelewer het. Juis omdat sy die verhoog, skrywers, stories, die teater en spelers so goed verstaan het, is haar verwerking van Fiela se kind só goed. Terwyl sy besig was met die verwerking, het sy my menige kere geskakel en gesê dit is so moeilik om te besluit wat laat sy uit – veral met die verhoog in gedagte.
Die eerste opvoering van Fiela se kind in 1986 in die destydse Nico Malan Teater Sentrum (nou Kunstekaap – Artscape naby die strandgebied van Kaapstad) was ’n ongelooflike sukses en verkoop vir maande uit. Teatergangers kamp op die Nico se trappe en bring gebakte patats as deel van hulle aandete. Ongelukkig is daar ook groot kontroversie oor die produksie met juffrou Suzanne en Kruik se stryery oor sekere akteurs in die produksie. Nietemin is die eerste opvoerings van Fiela se kind ’n weghol sukses.
In 1992 besluit ek om Fiela se kind op te voer. As jong regisseurtjie is ek so voortvarend om vir Dalene Matthee te bel om te vra of ek haar kan kom sien om die regte te bekom. “Nee magtig man, ná al die bakleiery wil ek nie weer vir Fiela verhoog toe stuur nie,” kom die kwaai antwoord van Matthee. Ek skrik my dood. Maar besluit ek moet deurdruk! Bangerig sê ek: “Nee Mevrou, daar gaan geen bakleiery wees nie. Ek sal persoonlik sorg daarvoor. Ek kom sien u sommer op Hartenbos.” Na ’n lang sug, sê sy toe: “Ja jong kom tog maar, maar ek kan niks belowe nie. Ek het net ’n halfuur vir jou, want ek is besig met my nuwe boek. Kan nie baie praatjies maak nie!”
So vlieg ek toe van Johannesburg af Hartenbos toe met bewende broek. Toe hierdie formidabele vrou, wat die Afrikaanse-letterkunde totaal verander het, die deur oopmaak, is my stem weg! “Kom in! Kom in!” Ek vertel van my planne hoe ek Fiela op die verhoog sien en Dalene Matthee hou daarvan. Gelukkig hou sy van my planne. Ons halfuur afspraak, word ’n agtuur-afspraak. Só is my ongelooflike lekker verhouding met Dalene Matthee, Fiela se kind, al die karakters en die Knysnabos gebôre.
Dalene Matthee was nie een vir openingsaande nie. “Ek het niks fancy om aan te trek nie,” het sy altyd gesê. “En ek hou ook nie van so baie mense nie.” Sy stem egter in om af te vlieg vir een van ons laaste kleedrepetisies. Sy sit langs my in die teater. Ek en die spelers is totaal op ons senuwees, maar ongelooflik geëerd om Dalene Matthee saam met ons te hê. Die gordyn gaan oop. Dalene raak tjoepstil hier langs my. Ek bid dat sy net iets moet sê. Al is dit kritiek. Niks! Nie ’n woord nie. Doodse stilte tot na die buiging. “Ek is tevrede!” sê sy. Is dit al? dink ek. Sy gee vir my ’n splinternuwe uitgawe van Fiela se kind. Later die aand, nadat ons haar by die lughawe gaan aflaai het, maak ek die boek oop. Voor in staan geskrywe:
“Dankie vir al jou moeite met ‘FIELA’ – ek weet een ding, sy is in knap en goeie hande.”
− Dalene Matthee
In 2007, besluit ek om weer Fiela se kind, op te voer. Dalene Matthee is nie meer met ons nie, maar haar dogter, Hilary, hanteer die regte vir die opvoering. Amanda, Toni en Hilary, Dalene se drie dogters, skryf in die program: “Fiela het ons ma na aan die hart gelê en ons glo sy sou bly gewees het dat Fiela nou aan ’n nuwe geslag teatergangers voorgestel word.”
Hierdie keer besluit ek om net as vervaardiger van Fiela se kind op te tree en span die wonderlike Sandra Prinsloo in as regisseur. Weer eens is die verhoogproduksie ’n wegholsukses en toer regoor die land. Sandra Prinsloo sê die volgende oor Fiela se kind: “Dalene Matthee het nie net ’n aangrypende verhaal geskryf nie, maar haar karakters is só volrond en herkenbaar dat dit maklik is om met hulle te identifiseer. Haar gebruik van die spreektaal is ook uniek en val heerlik op die tong. Dis ’n groot vreugde vir my as regisseur en ook vir die spelers om met die materiaal te werk, want daar is breedte en diepte in die werk en ook onteenseglike aardse wysheid.”
Fiela se kind – die drama, het haarself reeds deur en deur bewys dat dit ’n totale sukses op die verhoog is. Dit hang van regisseur tot regisseur af hoe hy of sy Suzanne van Wijk se verwerking op die verhoog gaan aanpak. Die moontlikhede is legio. Die storie is ongelooflik sterk en mooi en as enige regisseur ’n goeie storie het, kan hy sy eie interpretasie daaraan gee en ’n sukses van die verhoogproduksie maak. Die soeke na die identiteit van Benjamin of Lukas staan sentraal in Fiela se kind – en ons almal is maar gedurig op soek na ons eie identiteit. Beslis ’n ideale tema vir die verhoog!
“Die een met die blou hempie aan!”
“Wie was Benjamin Komoetie?”
− Dalene Matthee
FRANS SWART