Читать книгу Stiletto - Karin Eloff - Страница 10
4. Gee jou hart vir Hillbrow
ОглавлениеJohannes Kerkorrel se song het nog al die jare die vrees, die verlatenheid en die boheemse funkiness van dié plek daai tyd vir my vasgevang; ek kon rêrig verstaan wat hy bedoel.
Ek het dit beleef, aan my lyf gevoel, dit geruik en ingeasem soos wat ’n mens sigaretrook intrek.
Hillbrow.
Hoe het ’n koek van Linden daar beland?
Ek het altyd gewonder hoe anders die Eloffs was as daar ’n vergelyking getref sou word tussen ons en die talle tipiese godvresende Afrikaanse huisgesinne wat hulle kinders na Hoërskool Linden gestuur het. Almal van ons het tog op ’n daaglikse basis met mekaar te doen gehad.
Ons was seker nie veel anders nie. My pa was ’n rekenaarprogrammeerder, ’n regte computer geek, en my ma ’n huisvrou. (Die tuisteskepper.) Skuins oorkant ons het ’n snaakse bierboep-omie en sy vrou gebly. Sy het so ’n byekorfgedoente vir ’n kapsel gehad. Hulle twee kinders was vieslike brats, sulke snotneus-vuilbekke. Maar ons moes Sondae in die kerk gedienstig oor en weer vir mekaar glimlag. Ons kon almal net sowel karakters in The Simpsons gewees het.
Kyk, daar was goeie tye en daar was slegte tye by die Eloffs. Sadly, soos ek ouer geword het, het die slegte tye langer geword en die tussenposes korter. Of ek het dit net al meer en meer begin besef soos my begrip mettertyd ontwikkel het. Daar was ’n tyd toe my ma haar huistake met ’n geneurie verrig het; sy’t baie gelag en ons het altyd lekker saamgelag. Maar later was daar nie meer musiek wat as klankbaan vir die goeie tye gedien het nie. Niemand het meer gelag nie. Daar was nie eers meer tussenposes nie; die slegte tye het aaneengeloop.
Ons huis was ’n woestynslagveld vol kak, hare en lyke waar eens liefde en geluk was. Ek het nooit skoolmaats huis toe genooi nie; ek was te bang hulle gaan skinder by hulle huise daaroor. Ma, Karin se huis is genuine hel …
Ek het eerder by my vriende gaan kuier. Wanneer my ma my toegelaat het. En oor die toestande tuis gelieg: Nee, tannie, ons huis is ’n lekker plek!
Tydens my matriekeksamen het my pa een aand by my kom sit terwyl ek geswot het en aangekondig hy het besluit om van my ma te skei. Sy tydsberekening was nie van die beste nie, maar ek was verlig. Amper bly. Miskien sou dit ’n einde bring aan die emosionele grofgeskut en die gekonsentreerde daaglikse bombardement.
Dit het nie. Dit het net erger geword en my ma se skreeuery onuithoudbaar.
Ek was dus desperaat om so vinnig moontlik ná skool uit die huis te kom. Sommer ver weg. En al was Hillbrow slegs tien minute se ry van ons huis, was dit ver genoeg.
Al die weirdo’s, artists, misfits, pinks-addicts en runaways het soontoe uitgewyk.
Glo my, ek het tuis gevoel daar.
Ek het eenvoudig vir my ouers gesê God roep my soontoe en dat ek ’n sendeling by ’n uitreik-aksie in Hillbrow gaan word. My ouers het belangriker dinge gehad om hulle oor te bekommer as dit waarmee ek my besig hou. Tuis het dit redelik beroerd gegaan: my ma het ’n ineenstorting gehad en in ’n inrigting beland. Sy kon nie glo haar man skei haar nie.
Die Christen-aksie waarby ek aangesluit het, was geweldig militant. Nadat die sogenaamde dominee my en ’n ander meisie betas het en daar vir my gesê is ek loop soos ’n koei op hitte rond, het ek van hulle af weggehardloop na ’n ander uitreik-aksie wat meer spiritueel as Christelik was. Daar was nie dieselfde veroordelende element wat ek by die Christene beleef het nie. Ek het heelwat veiliger gevoel. En onmiddellik tuis.
Shelter for teenage runaways and drug-addicted prostitutes, het die bordjie by die voordeur gesê.
Die plek is deur ’n Afrikaanse egpaar bedryf wat my meer oor die lewe geleer het as wat ek in twaalf jaar op skool geleer is. Die eerste ding wat ek geleer het, is: Don’t fix it if it ain’t broken. Dit het ongelooflik sin gemaak. As iemand nie jou hulp wil hê nie, moenie gaan staan en arrogant wees en hulle psige met jou hogere, alleswetende reddingspoging verkrag nie. Los hulle uit!
Ons het dus net hulp verleen aan dié druggies wat hulp wóú hê. Niemand is gedwing om uit te droog as hulle nie wou nie. Die hulp was eenvoudig die voorsiening van skoon spuitnaalde en ’n plek om te bad en te eet vir druggies, asook kondome vir prostitute. Dit was nie ’n rehabilitasiesentrum nie. Die benadering was if you have to do it, do it responsibly.
Ek was ’n kuis agttienjarige. Ek het nog nooit met dwelms te doen gehad of dit gebruik nie. Ek was eintlik self net besig om van die harde realiteit van my ouers se bittere egskeiding te ontsnap.
Maar kort voor lank was ek moerse nuuskierig oor hierdie donkerrooi, bloederige newel van sleaze en kreatiwiteit wat Hillbrow was. Ek het ’n beheptheid met die onderwêreld ontwikkel, want dit het die donker, emosionele draaikolk binne my weerspieël. Ek het daarmee geresoneer.
My herinneringe aan Hillbrow is half surrealisties: ’n pink-addict wat in ons badkamer bloed teen die mure laat spuit; die TV-program Carte Blanche se kameraspanne; ek en die ander meisie wat daar gebly het wat voor die kamervensters saans op die musiek van Frank Duval dans terwyl eensame enkellopende mans in hul karre stadig in die straat verby ry op soek na een van die prostitute wat voor op die sypaadjie uithang; of ek en sy wat net stil langs mekaar sit in die aandwind wat na die stank van besoedeling, daggarook en vryheid geruik het; ons wat glasbottels teen mure stukkend gooi om aan ons innerlike verwarring uiting te gee; ’n gangster wat daar instorm en ons vertel van die Thrupps-bende waarvan hy lid is; ’n addict wat my probeer verkrag en al wat ek kan uitkry is ’n geskokte gegiggel (gelukkig kon ek wegkom met net ’n effense skeur in my broek).
Ons het van Fontana-hoender en Creamy Hot Chocolate by Café Three Sisters geleef. En ek het op Jacques verlief geraak.
Jacques (ek kan nie sy van onthou nie) was ’n voormalige polisieman wat ’n dwelmverslaafde geword het. Hy’t saam met ’n paar prostitute in ’n vervalle woonstel naby ons gebly. Ek was nogal jags vir hom en het gereeld gefantaseer oor hoe ons oproerige seks het en hy my maagdelikheid verpletterend verower.
Hy moes Durban toe gaan om Mandrax te gaan optel, het hy my een aand vertel, en hy sou daarna ’n bietjie meer tyd met my deurbring. Hy’t nooit teruggekom nie. Ons het net gehoor hy is dood. Cheeky en Shane, twee crack-verslaafdes, is ook dood.
En Elize. Aan ’n oordosis heroïen. Shame. Ons sou vriendinne geword het, ek en sy. Sy sou miskien ’n skrywer geword het. Of ’n digter. Of iets anders. Enigiets behalwe dood.
Kort nadat hulle haar lyk uit die kamer langsaan verwyder het, het ek ’n dagboek ontdek waarin sy elke dag geskryf het. Sy’t vir ’n ou geskryf met die naam Manny. Ek het nie geweet wie Manny is of waar hy is nie; ek het hom nooit ontmoet nie. Ek neem aan hy was iemand wat sy op skool geken het, of iemand wat in haar verbeelding geleef het. Sy was by tye nie net op ’n ander planeet nie, maar in ’n ander heelal.
Ek het die dagboek gehou en onlangs weer daardeur geblaai. En ek het gelees:
Ek het weggeloop, Manny.
Ek kon nie meer nie.
Fok hulle en hulle selfishness.
Ek is nou hier in Hillbrow.
Ek het in die monster se bek geklim en hy sluk my stadig in …
Waar is jy?
Waar is jy?
Waar is jy?
Onthou jy vir Kariena?
Ek het haar gister by Pop’s raakgeloop. Sy’t na ’n CD gesoek, iets van Madonna. Sy’t my vertel hoe sy nooit weer by my wou kuier nie omdat my ma so op my geskree het, my vir “’n dom fok” uitgejou het omdat ek nie ons koppies in die kombuis se wasbak gesit het toe ons klaar gekuier en koffie gedrink het nie.
Ek het al daarvan vergeet.
Kariena het van voor af al die rowe afgekrap.
Ek onthou die geskree, nou, soos gister – hoe my ma van haar kop af geraak het; hoe sy saans met ’n rooi gesig en uitpeuloë op my pa geskree het toe hy voor die TV gesit het: “Jou slapgat jellievis, kak verskoning vir ’n man!”
Ek het geleer om myself doof te hou.
Ek hoor nie meer ’n geskree nie.
Maar ek onthou.
Ek onthou hoe sy my “besete” genoem het, ’n “seksbehepte klein hoer”, hoe sy jou met ’n mes verjaag het. Sy’t eenkeer daai mes na my gegooi; ek sweer ek sou dood gewees het as ek nie betyds gekoes het nie.
Sy’t gesê ek het jou nie lief nie, ek wil jou net naai soos ’n haas, soos ’n vuil slet.
Wat het met haar verkeerd gegaan, Manny? Niemand kan my sê nie, en ek verstaan nie. Liefde is mos nie vuil nie?
Ek onthou hoe sy haar vingers in my opgedruk het toe ek ’n blaasinfeksie gehad het. Ek sweer sy’t gedink ek het een of ander venereal disease. Haar vingers was koud en hard en het my seergemaak. “Hoermeid!” het sy geskel.
Ek mis my pa.
Soos môre heeldag.
Ek het hom gebel. Hy’t gehuil, maar ek het hom nie gesê waar ek is nie. Hy was altyd so sag en mooi met my; hy’t my nooit seergemaak nie en nou doen ek dit aan hom. Ek’s seker ’n doos. Ek was veilig by hom.
Veilig.
Veilig-veilig-veilig.
Ek smag na veiligheid.
Ek het gebid dat hulle moet skei, omdat ek by hom wou bly. Weg van haar, in stilte en vrede. Maar ek moes by haar bly en ek kon nie meer daar bly nie.
Jy weet ek kon nie meer daar bly nie, maar ek het jou nooit presies vertel hoekom nie.
Nou is ek hier. Ek weet nie wat van my gaan word nie.
Waar is jy?
Waar is jy?
Waar is jy?
Jy moet my kom haal. As jy my nie hier kom haal nie, sal ek doodgaan.
Hillbrow het baie lewens geëis. Dis hartverskeurend. Ek was gelukkig; ek het in die monster se bek gedans en betyds daaruit gekom. Ek is nie ingesluk nie. Elize se ouers is nooit opgespoor nie – nie sover ek weet nie.
Dis ironies dat een van die grootste redes hoekom ek sielkunde gaan swot het ’n poging was om mý ma te probeer verstaan. Na die egskeiding het dit regtig nie goed met haar gegaan nie. My sussie het haar toestand as ’n chemiese wanbalans gesien, ’n toestand wat amptelik en akkuraat gediagnoseer kon word, wat waarskynlik reg is,maar ek bly glo jy moet dieper kyk as wat die wetenskap jou noodwendig toelaat.
Ek glo omdat sy later die keuse gemaak het om in liefdeloosheid te leef, sy haar hart teen alles om haar verhard het en dat dit haar onafwendbaar tot opname in ’n sielkundige inrigting gedryf het.
Liefdeloosheid, glo ek, maak jou mal.
Elize het my vertel hoe sy gedink het sy kon haar eie lewe opfix deur haar ma s’n te fix; ek het tot ’n mate dieselfde probeer doen. Selfs later met ander mense. Ek dink nou dis verwaand: jy kan nie iemand regmaak of verander nie. In elk geval, wie’s jý om te besluit dat hulle stukkend is? Indien hulle is, moet hulle dit self erken en hulself bereid verklaar om genees te word. Wat gaan jy sonder samewerking bereik?
God helps those who help themselves, het ’n plakkaat teen een van die mure in die shelter uitgeroep. Dié raad is nie te versmaai nie. (Dit gaan nou beter met my ma; sy’s op die regte pad, dink ek. Een wat vir háár werk – en dis al wat belangrik is.)
Hillbrow het my straatwys én geestelik bewus gemaak; dit het my toenemend laat besef hoe dom en onwys ek regtig is. Ek het bitter min van die lewe verstaan. Ek sou eers later uitvind hoekom mense hul liggame vir seks verkoop toe ek dit self probeer doen het, en toe sou ek ook eers verstaan hoekom iemand dwelms met soveel oorgawe gebruik.
Miskien gaan dit oor ’n diepliggende hunkering na die kennis van goed en kwaad, die kennis om behoorlik tussen die donker en die lig in jouself te kan onderskei. Behoort ons te probeer? Is dit nie dalk lewensgevaarlik om tot op die been te sny in ons soeke daarna nie?
In Hillbrow was ek ’n toeskouer; ek het ál die goed gesien wat ek later self sou aanvang. Hoekom het die tyd wat ek daar deurgebring het en die voorvalle wat ek soos tonele uit ’n rillerfliek voor my sien afspeel het nie as ’n waarskuwing gedien nie?
Elkeen van ons stap ’n eie, persoonlike pad om by onsself uit te kom. Hillbrow was die voorbereiding vir die pad wat ék moes loop om by mysélf uit te kom.
En moenie vir een oomblik dink ek beveel dit aan nie.
Dit is lewensgevaarlik.
Ek weet dis maklik vir my om grootbek te wees. Ek het oorleef. Let’s face it: ek moes eintlik al dood gewees het.
Maar ek is nie.
En daar’s ’n rede hoekom ek nie is nie.