Читать книгу Die A tot Z van Klassieke Musiek - Koos Human - Страница 7

B

Оглавление

Bacchanale Losbandige, orgiastiese dansmusiek, bv. in Samson et Dalila (*Saint-Saëns).

BACH Een van die omvangrykste families in die musiekgeskiedenis, indien nie in alle kunste nie. Komende uit Turinge, was die musikale stamvader Hans Bach (geb. ong. 1520) en die familie het oor ’n tydperk van nagenoeg twee eeue in vyf geslagte 50 musici opgelewer, met as hoogtepunt Johann Sebastian. Na J.S. Bach se kinders het die musikale drif verdwyn en in die negentiende eeu vind mens nog net twee Bach-name van wie die laaste in 1845 oorlede is.

BACH, CARL PHILIPP EMANUEL (8 Mrt 1714–14 Des 1788) Duitse komponis. Die tweede seun van J.S. Bach. Hy het sy opleiding aan die Thomasschule in Leipzig geniet en is daarna na die Universiteit van Frankfurt a.d. Oder. In 1738 is hy aangestel as klavesimbelis aan die hof van Frederik die Grote in Potsdam. Hy het egter nie goed met die vors oor die weg gekom nie; Frederik was ’n fluitspeler, maar temperamenteel, en hy en Bach kon nie oor die begeleidings saamstem nie. In 1767 het hy Telemann (sy peetvader) opgevolg as kerkmusiekdirekteur in Hamburg, ’n pos wat hy tot sy dood beklee het.

C.P.E. Bach was ’n skitterende klavesimbelis en het ’n standaardwerk oor klawerspel geskryf wat o.a. deur Haydn en Mozart hoog aangeslaan is. As komponis van sowat 700 werke is hy ’n oorgangsfiguur tussen sy vader en Haydn; lg. was veel aan C.P.E. Bach verskuldig en het dit ook gesê. Vandag hoor mens hoofsaaklik sy instrumentale werk: simfonieë, concerto’s en solowerke; sy aansienlike hoeveelheid kerkmusiek is vrywel onbekend.

BACH, JOHANN CHRISTIAN (5 Sept 1735–1 Jan 1782) Duitse komponis. Die jongste seun van J.S. Bach. Na sy vader se dood het hy musiekopleiding van C.P.E. Bach ontvang. In 1756 is hy na Milaan en neem hy op koste van ’n goedgesinde edelman verdere musiekles in Bologna. Hy word Rooms-Katoliek en word in 1760 orrelis van die Katedraal in Milaan. Twee jaar later gaan hy na Londen waar hy koningin Charlotte se Music Master of the Queen’s Household word, vandaar sy bynaam “die Londense Bach”. In Londen was hy besonder aktief op die terrein van die opera. Hy self het dertien gekomponeer, maar het ook operas van ander komponiste opgevoer. Daarbenewens is hy die komponis van heelwat simfonieë, concerto’s, sonates, kerkmusiek, kantates, e.d.m.

BACH, JOHANN SEBASTIAN (21 Mrt 1685–28 Jul 1750) Duitse komponis. J.S. Bach was nie net die kulminasie van die luisterryke musiekfamilie Bach nie, maar een van die grootste komponiste van alle tye. Sy bydrae tot die musiekskat van die Weste is enorm, hoewel talle werke verlore geraak het, en sy invloed werk tot vandag toe na.

Bach se ma is dood toe hy nege was, en sy pa ’n jaar later. Hy het by ’n ouer broer ingewoon. Daar het hy teen sy broer se opdrag saans by slegte lig musiek gekopieer, wat sy oë waarskynlik toe al beskadig het.

In 1700 verlaat hy sy broer se huis en word ’n sopraan in die koor van die Michaelis-kerk in Lüneburg. In hierdie tyd ontstaan sy eerste bekende komposisies, variasies en koraalvoorspele vir orrel. In 1703 word hy violis in die kapel van die Hertog van Weimar, maar vier maande later kry hy ’n aanstelling as orrelis in Arnstadt, waar hy die orrel bemeester.

In Oktober 1705 kry hy ’n maand verlof om te gaan luister na *Buxtehude in Lübeck, maar hy bly drie maande weg. By sy terugkeer is daar probleme met die kerkraad van Arnstadt wat beweer dat hy te ingewikkeld speel en dat sy vreemde tone en harmonieë die gemeente verwar. Sy posisie is pynlik, maar in 1707 kan hy wegkom wanneer hy in Mühlhausen tot orrelis benoem word. Dieselfde jaar trou hy met sy niggie Maria Barbara Bach, ’n sangeres. Ernstige kerklike geskille ontstaan egter ook hier, en in 1708 gaan hy na Weimar as hoforrelis en kamermusikus van die hertog.

In 1716 sterf die kapelmeester van die hertog, maar tot sy teleurstelling kry Bach nie die pos nie. Sy roem as uitvoerende kunstenaar was reeds groot: in 1717 sou hy in Dresden ’n orrelspelkompetisie met die gevierde Franse virtuoos Marchand onderneem; nadat die Fransman Bach gehoor het, het hy stilletjies verdwyn en nie meegeding nie. In dieselfde jaar word hy egter oneervol in Weimar ontslaan en tree hy in diens van prins Leopold van Anhalt-Köthen. In Weimar het Bach ’n groot aantal belangrike komposisies gelewer, o.m. die *Passacaglia en fuga in C min, belangrike preludes en fugas en toccatas, die Orgelbüchlein en die eerste koraalvoorspele, wat Albert Schweitzer beskryf het as die “woordeboek van Bach se musiektaal”.

Die hof van prins Leopold was streng gereformeerd en geen kerkmusiek is geduld nie. Hier ontstaan dus van Bach se belangrikste instrumentale werke, soos die 24 Inventione, die *Franse en *Engelse Suites, die *Brandenburg-concerto’s, boek I van *Das wohltemperierte Klavier, die *Chromatiese fantasie en fuga en die *Concerto vir twee viole.

In 1720 sterf sy vrou en in 1721 trou hy met Anna Magdalena Wülken, ook ’n sangeres, aan wie hy sy Clavierbüchlein sou opdra.

In 1722 raak die pos van kantor aan die Thomasschule in Leipzig vakant. Telemann word eenparig tot die pos benoem, maar wys dit van die hand. Die tweede keuse, C. Graupner, kan nie toestemming van sy landheer kry om die aanstelling te aanvaar nie en, soos ’n raadslid dit gestel het, “aangesien die twee beste kandidate nie beskikbaar was nie, moes ’n middelmatige persoon geneem word”. Dit was J.S. Bach.

Die Thomasschule is in 1212 opgerig en was onder beheer van die stadsraad van Leipzig. Bach, ’n streng aanhanger van die Lutherse leer, moes aan vier klasse van 55 leerlinge sangonderrig gee. Hulle het die kore vir die kerke van Leipzig verskaf. Hier het Bach verreweg die meeste van sy kerkmusiek gekomponeer, o.m. die meerderheid kantates, die *Johannes- en *Matteuspassies, die *Weihnachtsoratorium en die *Mis in B min. Hy skryf ook hier groot instrumentale werke soos die *Goldberg-variasies en boek II van *Das wohltemperierte Klavier.

Vanaf 1723 tot sy dood was Bach in Leipzig. Hy was ’n moeilike man en het dikwels met die owerhede gebots. Na talle petisies is hy aangestel as koninklike hofkomponis vir Augustus III, Keurvors van Sakse-Pole, wat sy situasie effens verstewig het. In 1730 word die onsimpatieke rektor van die Thomasschule opgevolg deur ’n musiekliefhebber, maar hy vertrek weer na vier jaar van goeie samewerking met Bach en word opgevolg deur die 27-jarige J.A. Ernesti, wat geen belangstelling in musiek het nie. Daar volg talle botsings, maar in 1738 kom die Keurvors met besoek en beslis in Bach se guns, wat verligting bring.

Intussen het Bach se roem gegroei en dit bereik ’n hoogtepunt toe hy in 1747 sy seun C.P.E. Bach in Potsdam besoek en met groot eerbetoon deur Frederik die Grote ontvang word. Hy improviseer ’n sesstemmige fuga op ’n tema van Frederik en na sy terugkeer in Leipzig gebruik hy die tema as basis vir een van sy kontrapuntale meesterwerke, *Das musikalische Opfer, wat hy aan Frederik opdra.

Aan die einde van sy lewe het Bach se oë ernstig verswak. Hy het twee operasies ondergaan, maar hulle het misluk en hy het heeltemal blind geword. Tien dae voor sy dood het hy sy gesig herwin, maar hy het ’n beroerte gekry en is op 28 Julie 1750 oorlede. Sy graf is nie deur ’n teken aangedui nie; daar is alleen later ’n plaket in die nabyheid aangebring. In 1894 is drie geraamtes gevind en ’n destyds gevierde anatomis het bevind dat een dié van Bach was.

Bach het ’n moeilike lewe gehad. Afgesien van sy talle teleurstellings en botsings met verskillende owerhede was sy huislike lewe ook droewig. Sy eerste vrou, wat jonk gesterf het, het hom sewe kinders geskenk van wie drie vroeg dood is; uit sy tweede huwelik is dertien kinders gebore van wie sewe gesterf het, terwyl die oudste swaksinnig was. Hy het wel die vreugde van drie uiters begaafde seuns gehad en albei sy vroue was beminlike eggenotes.

By sy dood was Bach eerder as virtuoos bekend dan as komponis. Hoewel musici soos Mozart en Beethoven sy werk geken en bewonder het, was dit eers ’n driekwarteeu na sy dood dat die jeugdige Felix Mendelssohn die Matteuspassie aan die vergetelheid ontruk en in die openbaar uitgevoer het, en Bach sodoende aan die breë publiek bekend gestel het.

Bach het ’n ontsaglike hoeveelheid werke gelewer en was op feitlik elke terrein werksaam behalwe die teater. Hy het vorme soos die fuga vervolmaak, haas ongeëwenaarde hoogtepunte bereik in kerkmusiek en allerlei vorme in instrumentale musiek, van solo- tot orkeswerk, tot hoogtepunte gevoer wat in sy tyd ongekend was.

ORKES

Brandenburg-concerto’s BWV 1046-51 ’n Reeks van ses concerto’s in die styl van die *concerto grosso wat Bach in 1721 opgedra het aan die markgraaf Christian Ludwig van Brandenburg. Elke concerto is in die majeur-toonaard en in elkeen word aan enkele instrumente solorolle toegeken. Hierdie werke verteenwoordig die hoogtepunt van die concerto grosso-styl en het, na ’n lang tyd in die vergetelheid, die afgelope dekades gewild geword.

No 1 in F (21 min) is die omvangrykste van die ses, met die grootste aantal soliste: viool, drie hobo’s, twee horings, en fagot plus die continuo wat in al ses ’n belangrike rol speel. Die werk bestaan ook uit vier bewegings, teenoor die ander vyf se drie. Die vierde is ’n uitgebreide menuet met twee trio’s en ’n polacca.

No 2 in F (12 min) se soliste is trompet (wat ’n besondere prag aan die eerste en tweede bewegings verleen), fluit, hobo en viool. Die derde beweging is uiters moeilik vir die trompetspeler.

No 3 in G (11 min) is vir drie viole, drie altviole, drie tjello’s en basviool. Dit is die kortste van die ses, maar een van die bekendstes.

No 4 in G (17 min) is vir viool en twee fluite, met die viool as hoofsolis. Bach het dit verwerk as concerto vir klavesimbel en orkes in F.

No 5 in D (23 min) is vir viool, fluit en klavesimbel, hier duidelik as solis en nie net as continuo nie. Dit is trouens ’n hoogtepunt in Bach se klawerbord-komposisies.

No 6 in B-mol (19 min) is vir twee altviole, twee *viole de gamba, tjello en basviool. Die lae toon van die strykers gee ’n donker klank aan die werk.

Das musikalische Opfer BWV 1079 (50 min) Hoewel Bach nie by al die dele van hierdie werk instrumente aangedui het nie, kan dit gevoeglik deur ’n strykorkes gespeel word. Die titel beteken “Die musiekgeskenk” en is gegrond op ’n tema wat Frederik die Grote in 1747 aan Bach gegee het toe hy die koning besoek het. Die werk bestaan uit nege kanons, een kanon-fuga, ’n uitgebreide trio-sonate in vier dele en ’n vorstelike ricercare. Hierdie ingewikkelde meesterwerk is een van die toppunte van kontrapuntale komposisie.

Suites BWV 1066-9 Bach het vier suites (ook genoem ouvertures) vir orkes geskryf. Soos die Brandenburg-concerto’s het elkeen ook enkele soliste, maar hulle word suites genoem omdat elkeen bestaan uit ’n ouverture en ’n aantal danse. Oor die algemeen is die werke opgewek en dartel. Elkeen het die klavesimbel as continuo.

No 1 in C (23 min) is vir twee hobo’s en fagot, en die danse is courante, gavotte (2), forlane, menuet (2), bourrée (2) en passe-pied (2).

No 2 in B min (21 min) is vir fluit met as danse rondeau, sarabande, bourrée (2), polonaise, menuet en badinerie.

No 3 in D (19 min) het ’n air, gavotte (2), bourrée en gigue. Die air het algemeen gewild geword en word soms die Wysie op die G-snaar genoem.

No 4 in D (21 min) is vir drie trompette, drie hobo’s, fagot en pouke en die danse is bourrée (2), gavotte, menuet (2) en réjouissance.

SOLO EN ORKES

Klawerbordconcerto’s Bach het altesaam dertien concerto’s vir klawerbord en orkes gekomponeer: sewe vir solo, drie vir twee soliste, twee vir drie soliste en een vir vier. ’n Hele aantal hiervan is verwerkings van sy eie vroeëre komposisies of van dié van hoofsaaklik Vivaldi.

Concerto no 1 in D min BWV 1052 (24 min) Dit is waarskynlik die bekendste van die reeks, hoewel dit gegrond is op ’n vioolconcerto (wat verlore is). Bach het baie moeite gedoen en die klavierbewerking drie keer hersien. Soos die ander concerto’s is die begeleiding net strykers. Die werk bestaan uit drie bewegings, ’n pragtige Allegro wat Bach ook later vir twee kerkkantates gebruik het, gevolg deur ’n Andante en weer ’n Allegro.

Concerto no 5 in F min BWV 1056 (11 min) Ook ’n verwerking van ’n vioolconcerto met ’n aangrypende stadige middeldeel, Largo, ’n verwerking van die ouverture tot die kantate Ich steh’ mit einem Fuss im Grabe (Ek staan met een voet in die graf).

Concerto vir twee klavesimbels in C BWV 1061 (19 min) Dit is ’n oorspronklike werk, maar die stryker-ensemble is so yl dat dit na ’n nagedagte klink. Die slotdeel is ’n fuga.

Vioolconcerto’s Vir die viool het Bach drie meesterwerke geskryf: twee vir solo en een vir twee viole. Die viool was een van sy “eie” instrumente: sy eerste aanstelling was as violis. Hy was ’n groot bewonderaar van Vivaldi en in sy Weimar-periode (1708-17) het hy ’n grondige studie van dié Italiaanse meester gemaak en tien van sy vioolconcerto’s vir die klawerbord verwerk. In sy eie drie concerto’s vir viool (al drie uit 1720) het hy die Italiaanse tegniese vorm vervolmaak, maar met ’n diepsinnigheid wat sy werk by dié van die Italiaanse meesters laat verbystreef.

Dit is opvallend van Bach se erns dat in albei concerto’s vir soloviool die stadige beweging besonder lank is. In die Concerto no 1 in A min BWV 1041 (17 min) is die Andante bykans so lank soos die ander twee saam; en in die Concerto no 2 in E BWV 1042 (17 min) is die Adagio iets korter as die eerste Allegro en bykans drie maal die lengte van die slotbeweging.

Concerto vir twee viole in D min BWV 1043 (17 min) Soos die twee hierbo genoemde concerto’s is ook die dubbel-concerto net met strykorkes. Dit is ’n meesterstuk van asembenemende skoonheid. Hoewel geen outentieke tempo-aanwysing vir die eerste beweging bestaan nie, word dit altyd lewendig uitgevoer. Die stadige beweging, ’n elegiese Andante, is pragtig en meevoerend en is bykans so lank soos die eerste en laaste (Allegro) bewegings saam.

KLAWERBORDSOLO

Met sy werke vir solo-instrumente, meer nog as met sy orkeswerke, het Bach gesorg vir ontsagwekkende innovasies, venuwings en vervolmakings.

Chromatiese fantasie en fuga in D min BWV 903 (12 min) ’n Werk van unieke oorspronklikheid wat sy tyd ver vooruit is in die gewaagdheid van sy vrye vorm en die absolute beheersing van die fugavorm. Die fantasie veral, in sy vrye vlug van chromatiek en fantasering, is al in die sfeer van latere meesters, van Mozart tot Liszt en Wagner. Dit is ’n mylpaal in die ontwikkeling van klawerbordmusiek.

Engelse suites BWV 806-811 Hierdie ses suites is nie deur Bach self “Engels” genoem nie. Hulle volg al ses ’n betreklik streng bou met slegs geringe onderlinge afwykings van die verskillende danse en is oor die algemeen ernstig, selfs somber van aard.

Franse suites BWV 812-7 Die ses Franse suites is ook nie deur Bach so genoem nie. Hulle is korter en eenvoudiger as die Engelse suites en het ’n sekere Franse lighartigheid; sommige kritici bespeur die invloed van Couperin. Ook hulle volg ’n taamlik presiese patroon met die opeenvolging van die danse.

Italiaanse concerto in F BWV 971 (12 min) In hierdie driedelige werk voer Bach die Vivaldi-styl tot sy hoogtepunt. Dit is ’n solowerk waarin die manipulasie van die instrument sowel orkes as solis suggereer. Hy bring ’n nuwe rykdom tot ’n konvensionele vorm.

Partitas BWV 825-30 Bach het die terme partita en suite sonder onderskeiding gebruik. Hierdie ses partitas vir klawerbord is eintlik ook suites. Elk bestaan uit ’n reeks danse, telkens voorafgegaan deur ’n inleidende deel. Die ses partitas oorskadu Bach se ander klawerbord-suites totaal. Dit is sy “laaste woord” oor die onderwerp vir klawerbord. Die inleidende deel tot elk van die ses partitas is telkens ’n meesterwerk in ’n ander vrye vorm. Dit is een van die slegs sewe werke wat in Bach se eie leeftyd gepubliseer is: in 1731, op die komponis se eie koste. Ironies genoeg is hulle as oefeninge vir sy leerlinge bedoel en vorm die eerste deel van die Clavierübung. Dat Bach dit laat uitgee het, toon wel watter waarde hy self daaraan geheg het.

Die Kunst der Fuge BWV 1080 (92 min) Dit is Bach se laaste groot werk en is nie heeltemal voltooi nie. Dit verteenwoordig sy slotwoord oor die fuga. Hy het dit nie vir enige spesifieke instrument gekomponeer nie, dus kan dit op ’n klawerinstrument, orrel of deur ’n strykkwartet uitgevoer word. Die werk is lank bloot as ’n pedagogiese handleiding beskou, maar latere geslagte het ontdek watter vormverfynings Bach hier aan musikale skoonheid gekoppel het. Bach was van plan om vyftien fugas en wie weet hoeveel kanons in te sluit; hy het slegs dertien voltooi (insluitend dubbel-, tripel- en omgekeerde fugas) en is dood terwyl hy besig was met die veertiende, ’n omgekeerde vierstemmige fuga gebaseer op sy eie naam (in Duits beteken H die noot B).

Goldberg-variasies BWV 988 (48 min) ’n Stel van dertig variasies op ’n sarabande uit die Clavierbüchlein vir Anna Magdalena. Die werk is volgens oorlewering geskryf in opdrag van een van Bach se leerlinge, Goldberg, maar dit is waarskynlik apokrief.

Das wohltemperierte Klavier, boeke I en II, BWV 846-93 (225 min) Hans von Bülow het hierdie werk die Ou Testament (en Beethoven se 32 klaviersonates die Nuwe Testament) van die klavier genoem. Bach het dit geskryf om te toon dat ’n nuwe metode wat so pas in swang gekom het om die klawerbord te stem, prakties is en daarom het hy vir elkeen van die toonsoorte, in majeur en mineur, ’n prelude en fuga geskryf. Saam vorm dit een van die hoogtepunte nie net in sy eie oeuvre nie, maar in alle klawerbordmusiek, veral in kontrapuntale skryfwyse. Soos gewoonlik het pedagogiese oorwegings ’n rol gespeel; die titelblad van die eerste uitgawe sê dat dit “tot nut en gebruik van die leergierige musikale jeug en tot genot van diegene wat reeds die kuns bemeester het, opgestel en vervaardig is”. Mozart het ’n aantal van hulle vir strykkwartet geïnstrumenteer en Beethoven het hulle gereeld gespeel. Schumann het dit die “daaglikse brood” van die klavierstudent genoem. Hul invloed op die musiekontwikkeling is onmeetbaar.

TJELLOSOLO

Tjello-suites BWV 1007-12 Die ses suites vir onbegeleide tjello toon Bach se meesterskap oor die instrument. Hy gee daaraan ’n resonans wat soms aan sy orrelmusiek laat dink. Hierdie suites bied die grootste denkbare uitdaging aan die tjellis. Tog het hulle, soos soveel ander werke van Bach, lê en stof vergaar. Hulle is eintlik eers in die huidige eeu “ontdek” en onder die openbare aandag gebring deur die onvermoeide ywer van Pablo Casals.

VIOOLSOLO

Vioolsonates en -partitas BWV 1001-6 Die ongelyke nommers is sonates met die gebruiklike tempo-aanduidings en die gelyke nommers is partitas, of suites, bestaande uit versamelings danse. Al ses is vir onbegeleide viool. Ook hier, soos in die tjello-suites, openbaar Bach sy volslae meesterskap van en beheer oor die instrument. Beroemd is veral die magistrale chaconne uit no 4, ’n werk wat al verskeie kere herinstrumenteer is, o.m. deur Brahms (linkerhand-klavier), Busoni (klavier) en Stokowski (orkes).

ORRELSOLO

Dit was as orrelis dat Bach se eietydse roem gevestig was en hy het ’n enorme hoeveelheid werke vir dié instrument gekomponeer: dit is byna onoorsigtelik, maar as voorbeeld kan genoem word dat band 3 van die Clavierübung 17 sg. “kategismus”-voorspele bevat; daarnaas bevat diverse ander versamelings 67 koraalvoorspele en die Orgelbüchlein 46 koraalvoorspele.

Hierbenewens is daar ook formele werke. Die bekendste orrelwerke by die breër publiek is die Passacaglia en fuga in C min BWV 582 (14 min) waarin Bach aan dié statige dansvorm ’n onthutsend dramatiese inhoud gee, beginnende in die laagste register en opbouend tot ’n oorweldigende klimaks, gevolg deur een van sy beste fugas.

’n Ander indrukwekkende kontrapuntale werk is die Fantasie en fuga in G min BWV 542 (12 min), waarvan die fantasie Beethoven se dramatiese kuns in die vooruitsig stel, en die bykans speelse fuga die spanning van die fantasie verlig; die dartele “klein” Fuga in G min BWV 578 (4 min), so genoem in teenstelling tot die pas genoemde “groot” fuga in G min; die dromerige Prelude en fuga in A min BWV 543 (11 min) en die buitengewoon gewilde en opwindende Toccata en fuga in D min BWV 542 (10 min).

VOKAAL

Bach het min kort liedere geskryf en Bist du bei mir (As jy by my is), lank aan hom toegeskryf, is eintlik deur ’n tydgenoot, Stölzel. Hy het egter ’n aantal groots opgesette werke, meestal van kerklike aard, gekomponeer, waarmee hy weer eens in byna elke geval ’n bepaalde vorm vervolmaak het. Bach het 295 kerkkantates gekomponeer, waarvan 93 verlore geraak het, en 26 wêreldlike kantates. Dit is onmoontlik om hulle te behandel, maar die Afrikaanse luisteraar sal dikwels bekende psalm- of gesangmelodieë herken. Hiernaas het Bach ’n aantal omvangryke religieuse vokale werke nagelaat.

Passies Bach het volgens ’n vroeë lys komposisies vyf *passies geskryf, maar net die Johannes- en Matteuspassie het bewaar gebly. Die fragmente uit ’n sg. Lukaspassie word nie as eg aanvaar nie.

Johannespassie BWV 245 (125 min) Hierdie werk is ses jaar voor die Matteuspassie geskryf. Dit is dramaties, in teenstelling tot die meer liriese aard van die ander passie. Hoogtepunte is die openings- en slotkoor (Herr, unser Herrscher – Heer, ons Heerser en Ruht wohl, ihr heilige Gebeine – Rus soet, o heilige gebeente). Hiernaas is daar verskeie solistiese dele soos Ich folge dir gleichfalls (Ek volg u ook – sop), Ach mein Sinn (Ag my gees – ten), Betrachte meine Seel’ (Bedink, my siel – bas) en Es ist vollbracht (Dit is volbring – alt).

Matteuspassie BWV 244 (204 min) Hierdie passie vir dubbelkoor, vier soliste en evangelis is meer liries en melodieus as die dramatiese Johannespassie en gryp die luisteraar van die begin af aan met sy dubbelkoor Kommet ihr Töchter (Kom, o dogters) tot by die ewe meevoerende slotkoor Wir setzen uns mit Tränen nieder (Ons gaan sit in trane). Bekende arias uit die passie is Buss und Reu (Boete en rou – alt), Blute nur, du liebes Herz (Bloei nou, geliefde hart – sop), Ich will bei meinem Jesu wachen (Ek wil by my Jesus waak – ten), Erbarme dich, mein Gott (Ontferm u, my God – alt met viool-obligaat) en Aus Liebe will mein Heiland sterben (Uit liefde sal my Heiland sterf – sop).

*Magnificat BWV 242 (31 min) Hierdie werk, bedoel vir uitvoering op Kersfees, is ’n toonsetting van die Latynse teks van die Lofsang van Maria soos dit staan in Luk 1:46-55. Die besetting is vir vyf soliste (twee soprane, alt, tenoor en bas) met koor en orkes. Soos mens kan verwag, is dit jubelende musiek wat die vermoëns van die orkes (veral ’n instrument soos die trompet) en die menslike stem in solo en koor tot die uiterste benut. Die Magnificat bestaan uit twaalf dele waarvan vyf vir solosangers is, twee duo’s en een ’n trio. Daar is vyf indrukwekkende koordele, en die koor steun ook soms die solostem.

Mis in B min BWV 232 (110 min) Vir baie musiekliefhebbers is dit Bach se grootste werk. Die Mis het tussen 1733 en 1738 ontstaan en Bach het ’n deel daarvan saam met ’n aansoek om ’n pos aan Augustus III van Sakse gestuur “as ’n onbenullige voorbeeld van my vernuf”. Die werk (ook bekend as die Hohe Messe) volg die liturgiese patroon van die Roomse *Mis, maar elk van die tradisionele vyf dele van die Mis is hier saamgestel uit ’n verskeidenheid onderdele soos arias, duo’s en kore. I. Kyrie Die twee kyrie’s is fugas vir die koor en die Christe eleison is ’n duo vir sopraan en alt, begelei deur die viole wat eenstemmig speel. II. Gloria Dit is in agt seksies verdeel. Sowel die begin- (Gloria) as die slotkoor (Cum sancto spiritu) eindig met ’n fuga, die twee middelkore (Gratias agimus en Qui tollis) is in skerp kontras met mekaar. Tussendeur is die solistiese dele ook presies uitgewerk: Laudamus te is vir alt met ’n soloviool, Dominus Deus is ’n duo vir sopraan en tenoor met ’n solofluit, Qui sedes is vir alt met solohobo en Quoniam vir bas met solohoring en fagotte. Dit is ’n meesterlike voorbeeld van Bach se argitektoniese konstruksie en indien moontlik word dit nog beter gedemonstreer in III. Credo waarvan die eerste en laaste koordele, Credo en Confiteor, gebaseer is op ou Gregoriaanse melodieë, terwyl drie kore die middeldeel vorm (Et incarnatus, Crucifixus en Et resurrexit). Die Crucifixus is ’n manjifieke *passacaglia. Et in unum Deum is vir sopraan en alt, Et in Spiritum sanctum ’n basaria begelei deur twee hobo’s. Heel aan die einde (Et expecto) word die Gregoriaanse melodieë weer gebruik. IV. Sanctus ’n Sesstemmige koor tree hier op met een solistiese bydrae deur die tenoor (Benedictus). V. Agnus Dei Dit is vir die altsolo, begelei deur strykers. Die koor sluit af met die versugting Dona nobis pacem.

Weihnachtsoratorium BWV 248 (Kersoratorium) (140 min) Dit is geen oratorium in die ware sin van die woord nie, maar bestaan uit ses kantates wat Bach in 1734 vir die ses feesdae van Kerstyd geskryf het, nl. vir Kersdag en die twee dae daarna, Nuwejaar, die Sondag ná Nuwejaar en Epifanias, die fees van Christus se verskyning (6 Januarie). Dit is dus nie ’n eenheidswerk soos die ander kerklike werke nie en effens ongelyk van gehalte. Die bekendste uittreksel is die sg. Pastorale, die pragtige orkesinleiding tot die tweede kantate.

BACH, WILHELM FRIEDEMANN (22 Nov 1710–1 Jul 1784) Die tweede kind en oudste seun van J.S. en Maria Barbara Bach. Hy is die derde van die drie seuns wat onthou word, maar verreweg die mins belangrike. Wispelturig en ongedurig van geaardheid, het hy kort-kort van werk verander en in sy laaste twintig lewensjare eintlik geen vaste betrekking gehad nie. Hy het heelwat kerkmusiek asook ’n aansienlike hoeveelheid instrumentale musiek gekomponeer.

BADINGS, HENDRIK (17 Jan 1907–26 Jun 1987) Nederlandse komponis. Henk Badings is as myningenieur opgelei maar het komposisielesse ontvang van Willem *Pijper. Hy het kamermusiek, verskeie simfonieë en concerto’s geskryf en is in Suid-Afrika veral bekend as komponis van die radiofoniese opera Asterion op ’n teks van N.P. van Wyk Louw wat in 1957-58 in opdrag van die SAUK geskryf is.

Bagatelle Kort instrumentale werk in vrye vorm.

BALAKIREF, MILY (2 Jan 1837–29 Mei 1910) Russiese komponis wat veral deur sy invloed op andere ’n toonaangewende rol in die geskiedenis van Russiese musiek gespeel het. Hy was die leier van ’n groep komponiste wat Borodin, Moessorgski en Rimski-Korsakof ingesluit het, en hy het selfs op Tsjaikofski ’n sekere invloed gehad. Hy het orkeswerke, klavierwerke en ’n groot aantal liedere gekomponeer. Sy bekendste werk is die klavierstuk Islamey, wat ook soms in orkesverwerking gehoor word.

Balalaika Russiese tokkelinstrument met driehoekige romp.

Ballade In die Middeleeue en later was die ballade ’n dansliedjie. In die negentiende eeu is dit ’n sangstuk (lied of operaaria) met as teks ’n verhalende gedig. Schubert en Loewe het talle ballades gekomponeer. Terselfdertyd het instrumentale komponiste die woord gebruik vir ’n korterige werk met ’n sekere dramatiese en emosionele karakter (Chopin en Brahms).

Ballet ’n Verhoogwerk waarin, met musiekbegeleiding, ’n verhaal of bloot ’n bepaalde sfeer deur dansers voorgestel word. Slegs in uitsonderlike gevalle word daar gesing; die handeling bestaan uitsluitlik uit dans en mimiek. Die ballet dateer uit die sewentiende eeu. Russiese komponiste is sterk op die voorgrond soos Tsjaikofski en in die twintigste eeu Prokofiëf, Sjostakowitsj en bowenal Stravinsky wat saam met *Diaghilef en sy Ballets Russes die ballet ingrypend hervorm het. In New York het George Balanchine die abstrakte ballet vervolmaak en ballette geskryf op alle denkbare musiekwerke. Soms vorm ’n ballet ’n onderdeel van ’n opera, soos in Faust (*Gounod).

Banjo ’n Kitaaragtige snaarinstrument met ’n lang nek en ’n tamboerynagtige romp wat met vel oorgetrek is. Dit het veral deur gebruik deur swart Amerikaanse musikante bekend geraak.

BARBER, SAMUEL (9 Mrt 1910–23 Jan 1981) Amerikaanse komponis. Hy het sy opleiding in Philadelphia ontvang. Sy werke word deur ’n liriese toon gekenmerk en hy kan as ’n moderne romantiese komponis beskou word. Barber was een van die belangrikste Amerikaanse komponiste en het musiek in ’n groot aantal vorme en vir ’n hele spektrum van vertolkers geskryf. Hy is veral beroemd om sy Adagio vir strykorkes, die opera Vanessa en Knoxville: Summer of 1915, ’n lang, stemmingsvolle werk vir sopraan en orkes.

Barcarolle Bootlied; kort musiekwerk, instrumentaal of vokaal, wat die glyende gang van ’n roeiboot suggereer.

Bariton Lae manstem, tussen *tenoor en *bas.

Barok Musiek gekomponeer ruweg tussen 1600 en 1750. Die term is ontleen aan die argitektuur, waar dit ingewikkelde, versierde bouwerke, dikwels in bedenklike smaak, beskryf. In musiek verteenwoordig die barok die tyd toe kontrapuntale skryfwyse tot sy hoogtepunt gevoer is en die orkes meer gekompliseerd geword het. Hoogtepunte van die barok is Vivaldi, J.S. Bach en Handel.

BARTÓK, BÉLA (25 Mrt 1881–26 Sept 1945) Hongaarse komponis. Bartók het aan die Koninklike Musiekakademie van Boedapest gestudeer en vroeg besef dat daar ’n skat aan Hongaarse volksmusiek bestaan. Saam met *Kodály het hy hierdie musiek begin versamel en ’n groot deel van sy lewe aan die taak gewy. In 1907 het hy professor geword. In 1927 is sy opera Hertog Bloubaard se kasteel opgevoer en is sy naam as komponis in sy geboorteland gevestig. Hy het ook gaandeweg internasionale bekendheid verkry en verskillende konsertreise deur Europa en Amerika onderneem.

Die opkoms van Nazi-Duitsland het Bartók met onrus vervul, en reeds in 1938 het hy begin om sy manuskripte uit Hongarye te verwyder. In 1940 het sy weersin in die nazifikasie van Hongarye hom genoop om sy vaderland te verlaat en in die VSA te gaan woon. Hy is goed ontvang en is, naas ’n eregraad, ook ’n tydelike pos in volksmusieknavorsing aan die Columbia-universiteit gegee. Dit het egter net tot 1942 geduur. Daarna het Bartók se posisie agteruitgegaan. Hy het geen ander aanstelling gekry nie, sy gesondheid het verswak sodat hy nie klavieruitvoerings kon gee nie en sy inkomste uit outeursregte was karig. Sy laaste jare is in armoede en vereensaming geslyt.

Bartók is een van die belangrikste twintigste-eeuse komponiste, maar sy musiek is, soos Schoenberg en Hindemith, minder toeganklik vir ’n breë publiek as bv. Stravinsky of Prokofiëf. Dit word daarom ook minder gehoor en daar bestaan minder opnames van.

ORKES

Concerto vir orkes (36 min) Hierdie werk, sonder opusnommer, is in 1944 die eerste keer uitgevoer. Bartók het dit ’n concerto vir orkes genoem omdat hy probeer het om groepe instrumente solisties te gebruik. Die werk bestaan uit vyf dele, ’n Inleiding, ’n Allegro scherzando, ’n Elegie (Andante non troppo), ’n Intermezzo (Allegretto) en ten slotte ’n Presto. Die laaste deel is sterk Hongaars gekleur.

Danssuite (16 min) ’n Vyfdelige orkessuite waarvan die dele nie dansname het nie, maar tempo-aanwysings: Allegro vivace, Poco adagio, Presto moderato en Molto vivace. Die suite, ook sonder opusnommer, is in 1923 gekomponeer vir die vyftigste herdenking van die vereniging van die stede Boeda en Pest. Dit is een van Bartók se gewildste werke.

SOLO EN ORKES

Klavierconcerto’s Bartók het drie klavierconcerto’s geskryf, onderskeidelik in 1926, 1931 en 1945. Die Concerto no 3 (24 min) is waarskynlik die bekendste en is trouens Bartók se laaste werk. Sy leerling Serly moes die laaste sewentien mate aan die hand van sketse voltooi. Dit sou oorspronklik vir twee klaviere gekomponeer wees, maar Bartók het van plan verander. Die werk bestaan uit drie dele: ’n opgewekte eerste deel in sonatevorm, ’n Adagio religioso, gebou op ’n koraalmelodie, en ’n rondo, Allegro vivace, met ’n besonderse metrum.

KAMERMUSIEK

Strykkwartette Bartók het ses strykkwartette gekomponeer, die eerste in 1908 en die laaste in 1939. Net die eerste twee het opusnommers (7 en 17). Hierdie ses kwartette weerspieël Bartók se ontwikkelingsgang as komponis en is van die belangrikste kamermusiek wat in die twintigste eeu gekomponeer is.

KLAVIER

Mikrokosmos Bartók se omvangrykste klavierwerk. Soos Bach met soveel klawerbordmusiek, bied Bartók ook hier basiese oefenstukke vir die klavierleerling. Hulle word geleidelik ingewikkelder. Die Mikrokosmos bestaan uit 153 afsonderlike stukke, verdeel in ses bande.

OPERA

Hertog Bloubaard se kasteel (A kékszakállú herceg vára) (60 min) Opera in een bedryf. Daar is slegs twee karakters: Bloubaard, die legendariese vroue-moordenaar (bas of bar), en Judith, sy jongste bruid (mezzo). Bloubaard lei Judith deur verskillende deure wat haar uiteindelike lot suggereer en ten spyte van sy sinspelings stap sy tog deur die sewende en laaste deur, wat agter haar toegaan.

Bas Die laagste manstem. Daar is verskillende soorte basse, bv. basso profundo (besonder diep en waardig) en basso buffo (ligter en meer geskik vir komiese rolle). In Frans word ’n basse chantante onderskei wat bietjie hoër lê as die profundo, maar nie heeltemal ’n bariton is nie.

Basso continuo Sien Continuo.

Basso ostinato ’n Kort tema wat gereeld in die basparty herhaal word, soos bv. in ’n passacaglia.

Basviool Ook kontrabas genoem. Dit is die grootste en donkerste instrument in die vioolfamilie, het vier snare en word met ’n strykstok bespeel. Die register strek ongeveer drie oktawe van G net onder die bas-notebalk. Vir tekening, sien Strykers.

BAX, ARNOLD (8 Nov 1883–3 Okt 1953) Engelse komponis. Hy het aan die Royal Academy of Music gestudeer en het in 1942 Master of the King’s Musick geword, d.w.s. die Britse hofkomponis wat musiek vir amptelike geleenthede moet komponeer. Bax het ’n groot hoeveelheid orkes-, kamermusiek- en klavierwerke geskryf.

BEETHOVEN, LUDWIG VAN (16 Des 1770–26 Mrt 1827) Duitse komponis. Beethoven se pa en oupa (’n emigrant uit Vlaandere, vandaar die van) was albei in diens van die Keurvors-aartsbiskop van Bonn, die oupa as kapelmeester en die pa as tenoor. Die pa, Johann, was die enigste oorlewende kind van die oupa Louis van Beethoven. Johann van Beethoven was getroud met Maria Magdalena Keverich en hulle het sewe kinders gehad van wie vier gesterf het. Die oudste oorlewende kind was Ludwig. Johann was ’n drinker, onbetroubaar en humeurig, en hy het die jong Ludwig se jeug verswaar, maar sy vrou was sagsinnig en ingetoë. Na haar dood het Ludwig aan ’n vriend geskryf dat sy moeder sy “beste vriendin” was.

Beethoven het reeds op vroeë leeftyd ’n buitengewone musiektalent geopenbaar en sy pa het probeer om ’n tweede Mozart van hom te maak deur hom as wonderkind te paradeer. Op sewejarige leeftyd het die seun sy eerste konsert gehou. Gelukkig is die dwingelandy, wat dikwels gevolg het op laat aande in die kroeg, nie volgehou nie. Ten spyte van sy pa se ambisieuse planne het die jong Beethoven by onbevoegde onderwysers musiekles gekry en is sy algemene opvoeding totaal verwaarloos.

Eers toe hy elf word, kry hy sy eerste behoorlike onderrig by Neefe, die hoforrelis in Bonn. Neefe het hom Bach, Haydn en Mozart laat bestudeer. Later in sy lewe sou Beethoven sy adellike Weense gehore verstom met sy vermoë om al 48 preludes en fugas uit Bach se *Das wohltemperierte Klavier van buite te kan speel. Op veertienjarige leeftyd het Neefe hom die aanstelling besorg as assistent-hoforrelis van die orkes in die hofteater.

In 1787 gaan Beethoven na Wenen met die hoop om by Mozart les te kry. Die getuienis is gering, maar waarskynlik het Mozart hom ’n paar lesse gegee. Wat egter wel gedokumenteer is, is dat Mozart, nadat hy Beethoven die eerste keer ontmoet en na hom geluister het, aan omstanders gesê het: “Let op na hom – hy sal nog die wêreld aan die praat sit.” Beethoven se eerste verblyf in Wenen was egter van korte duur – sy ma het ernstig siek geword en gesterf. Sy pa se hele situasie het a.g.v. drankmisbruik versleg en hy is eindelik ontslaan. Beethoven was op agtienjarige leeftyd prakties hoof van die huishouding. Ten spyte van sy haglike huislike omstandighede en sy eie gebrek aan ’n behoorlike opvoeding en agtergrond, was hy reeds in dié stadium bekend en het bevriend geraak met belangrike mense in hoë kringe wat hom hul lewe lank geldelik en andersins sou steun, soos graaf Waldstein, die gesin Von Breuning en die violis Franz Ries.

In 1788 word Beethoven aangestel as altviolis in die teaterorkes (naas sy posisie as assistent-orrelis) en maak hy kennis met die belangrikste operas van daardie jare: werke van Gluck, Mozart, Cimarosa, Pergolesi e.a. Hy besluit egter in November 1791 om weer na Wenen te gaan. Die volgende maand sterf sy pa. Graaf Waldstein het hom bekendstellingsbriewe aan vername families in Wenen gegee en so het hy vroeg reeds in aanraking gekom met huise soos Lobkowitz, Van Swieten en Kinsky. In dié mense se salons het hy gereeld klavier gespeel en prins Karl Lichnowsky het hom twee jaar lank onderdak gegee.

Beethoven het na Wenen teruggekeer met die doel om verder te studeer. Aanvanklik het hy les by Haydn geneem, maar dit het nie gedeug nie. Vir sy ongeduldige temperament was Haydn te stadig en agtelosig. Hy is dus na Albrechtsberger, ’n kenner van kontrapunt, en die teoretikus Schenk. By Salieri het Beethoven jare lank les geneem.

Beethoven was die eerste komponis wat feitlik van die begin af onafhanklik probeer wees het. Mozart het die laaste deel van sy lewe geen direkte patronaat gehad nie, maar Beethoven was van die begin af sonder enige posisie, hoewel hy gul steun uit hoë kringe ontvang het. Hy was verbitterd oor sy vermoënde vriende wat deur afkoms en stand ’n kommervrye bestaan kon voer terwyl hy, met sy genialiteit, moes sukkel om aan die lewe te bly, en van gunste en gawes afhanklik moes wees.

Hy het egter verdienste gehad uit sy klavieruitvoerings, weliswaar hoofsaaklik in die salons van die hoëlui. Hy het sy debuut as pianis in Wenen reeds in 1795 gemaak en is volgens eietydse getuienis beskou as een van die grootste uitvoerende kunstenaars van sy tyd. Verder het hy ’n inkomste gehad as leermeester, veral van kinders van vooraanstaande mense, en ook uit sy komposisies, waarvoor hy altyd hoë pryse beding het. Later in sy lewe het hy ’n jaargeld ontvang wat geborg is deur o.a. aartshertog Rudolf, Lichnowsky, Lobkowitz en Kinsky.

In 1796, toe hy 26 was, ontdek Beethoven die eerste tekens van doofheid, seker die ergste ramp wat ’n musikus kan tref. Hy het die tekens probeer wegsteek, geselskap vermy en nog meer swaarmoedig en misantropies geword. Intussen is allerlei rate beproef. In 1802, toe dit duidelik word dat niks gaan help nie, vertrek hy vir ’n kort besoek aan Heiligenstadt, ’n dorpie buite Wenen. Daar skryf hy ’n brief aan sy twee broers, Caspar en Johann. Dit is ’n aangrypende dokument van persoonlike smart en verwildering en wanhoop; dit klink na die somber woorde van iemand wat afskeid neem van die lewe, vandaar dat die brief bekend staan as die Heiligenstadt-testament.

Hierdie tragiese situasie, wat seker sonder weerga in die geskiedenis is, het gelei tot ’n ewe weergalose “sublimiteit van reaksie”, soos William McNaught dit gestel het. Van nou af kom (sonder om die vroeër komposisies gering te skat) die groot werke wat die verbeelding van die mensdom sou aangryp, waarvan een van die eerstes die *Simfonie no 3 (Eroica) was.

Beethoven het die res van sy lewe in Wenen deurgebring, maar baie dikwels na die platteland uitgewyk, soos na Heiligenstadt, waar hy o.m. sy *Simfonie no 5 en 6 (die “Pastorale”) gekomponeer het.

Beethoven se gehoor het nie dadelik heeltemal verdwyn nie, maar was hopeloos ontoereikend. Dit het hom aanvanklik menssku gemaak, maar later moes hy hom by die onvermydelike neerlê en het hy gespreksboekies gebruik waarin hy sy antwoorde op vrae van gespreksgenote geskryf het. Hierdie boekies is uiters belangrike dokumente al is dit nie altyd duidelik wat die vraag was waarop hy antwoord, of wie dit gestel het nie. Hy was ook gedurig in struwelinge met uitgewers betrokke. Hy het by almal voorskotte gekry en aan almal beloftes gemaak. Ook sy liefdeslewe is in geheimsinnigheid gehul. Hy was verlief op talle vroue – altyd uit ’n hoë of bemiddelde stand – maar nooit het iets daarvan tereggekom nie.

In 1815 het hy die voog geword van sy bedorwe neef Karl wat talle pynlike, selfs banale situasies laat ontstaan het en op ’n keer selfs probeer het om selfmoord te pleeg. Tog het Beethoven hom sy pligte as voog besonder sterk aangetrek. Sy private probleme het erger geword en sy gesondheid al swakker. Met baie van sy ou vriende kon hy nie meer oor die weg kom nie, hoewel talle hom tot die einde getrou gebly het.

Op 26 Maart 1827 is Beethoven na ’n siekbed oorlede. Schubert was ’n lid van die begrafnisstoet en Mozart se Requiem is uitgevoer terwyl ’n huldigingsrede van die dramaturg Grillparzer by sy graf voorgelees is.

Beethoven het ’n groot aantal meesterwerke in verskillende vorms en vir verskillende instrumente (ook die menslike stem) gelewer. Vorms soos die simfonie, strykkwartet, trio, sonate, e.d.m., wat deur Haydn en Mozart tot formele volmaaktheid ontwikkel is, is deur Beethoven omgeskep tot feitlik nuwe vorms. Nie alleen het hy hier die laaste woord van die klassieke tyd gespreek nie, maar ook die eerste woord van die romantiese en moderne tyd. Beethoven oorspan die verdeling tussen klassieke en romantiese musiek. Soos ’n kolos staan hy met sy voete in albei tydperke en domineer hy die toneel.

Beethoven se musiek het die publiek altyd diep ontroer en die verbeelding aangegryp, nie net omdat dit op sigself aangrypend en emosioneel is nie, maar ook omdat dit ’n wonderwerk bly dat ’n dowe man die meeste daarvan gekomponeer het. Sy komposisies kan in drie periodes ingedeel word. Die eerste periode duur tot die leeftyd van sowat dertig en bevat relatiewe jeugwerk. Die tweede periode begin omtrent in die tyd toe hy besef het dat sy doofheid nie genees sal word nie; die *Simfonie no 3 is ’n vroeë voorbeeld. Die derde periode, waarin hy sy subliemste musiek geskryf het, strek van omtrent 1820 en sluit in die *Simfonie no 9, die laaste vyf strykkwartette en vyf klaviersonates, en die *Missa solemnis.

ORKES

Ouvertures Beethoven het nie konsertouvertures geskryf soos sommige romantici nie; afgesien van vier ouvertures vir sy opera *Fidelio is die ander almal bykomstige musiek van groter of kleiner omvang vir toneelwerke. (Die Fidelio-ouverture word by die opera behandel.)

Coriolanus op 62 (8 min) is geskryf vir ’n drama van die Duitse skrywer Collin. Die onderwerp (’n eerlike man wat die stryd teen ’n korrupte wêreld verloor) pas Beethoven presies. Na drie harde akkoorde volg die eerste sterk, onrustige tema wat Coriolanus se vasberadenheid uitbeeld om Rome aan te val. ’n Liriese, sangerige tweede tema stel sy sagsinnige vrou voor en die twee temas word pragtig verwerk. Die ouverture gee ’n voorstelling van Coriolanus se stryd en eindelike toegewing aan die smeekbede van sy vrou.

Egmont op 84 (8 min) Beethoven het ’n volledige stel bykomstige musiek tot Goethe se tragedie Egmont geskryf, waarvan die ouverture die bekendste deel is. Die drama handel oor die Nederlandse graaf Egmont wat in 1568 deur die Spaanse goewerneur Alba tereggestel is weens sy verset teen die Spaanse bewind. Dit is die tipiese tema wat Beethoven se verbeelding sou aangryp. Die ouverture beeld die gang van die toneelstuk uit in dramatiese musiek wat met sterk akkoorde begin. Die jubelende slot skilder die triomf van die vryheidsgedagte.

Leonore no 3 op 72b (14 min) Beethoven het vier pogings aangewend om ’n ouverture vir sy opera Fidelio te skryf, maar was telkens ontevrede en het eindelik met ’n ouverture veel korter as die drie Leonore’s volstaan. Leonore no 3 was ’n verwerking van no 2, wat by die eerste opvoering gebruik is, maar dit is beskou as te lank en simfonies van aard om by ’n opera te pas. Dit het egter die gewildste van die drie geword. Die inleidende gedeelte van die werk is gebaseer op die aria In des Lebens Frühlingstagen. Daarop volg ’n opstandige allegro deel en hierdie temas word in sonatevorm ontwikkel. Aan die einde van die ontwikkeling klink ’n trompetgeskal twee maal op (maar van agter die verhoog): in die opera kondig dit die aankoms van die minister aan. Ná ’n fluitmelodie volg die rekapitulasie.

Simfonieë Die nege simfonieë weerspieël Beethoven se ontwikkelingsgang as komponis. Hulle beklemtoon egter ook sy streng vormtug, want hoewel hy hom telkens al hoe meer vryhede veroorloof, tot by die gebruikmaking van die menslike stem in No 9, bly hy sterk vormgebonde: daar is bv. geen noemenswaardige afwyking van die orkespatroon wat deur Mozart gebruik is nie. No 1 buite rekening gelaat, is dit ook interessant dat die gelyke nommers (2, 4, 6, 8) oor die algemeen van ’n opgewekte, rustige, en bykans kommerlose aard is vergeleke met die ongelykes (3, 5, 7, 9) wat intens-dramaties is en in groot mate die vernuwende elemente bevat.

Simfonie no 1 in C op 21 (26 min) Hoewel sekere tipiese kenmerke reeds teenwoordig is, gee hierdie werk (gekomponeer op 29) weinig aanduiding van wat sou kom. I. Adagio molto – Allegro con brio Die beweging begin met wat vir sy tyd ’n dissonant was. Daarna volg dit in breë trekke die klassieke vorm, met ’n verwantskap aan Mozart. Reeds hier kry ons dramatiese effekte in die tweede tema. II. Andante cantabile con moto ’n Lieflike liriese tema word in fugatiese styl aangebied. In ’n vernuwende stap gee Beethoven aan die tromseksie van die orkes ’n belangrike rol in die aksentuering van die ritme. III. Menuetto – Allegro molto e vivace Ook ’n vernuwing: mens kry reeds die gevoel van ’n scherzo, Beethoven se eie vinding wat hy eers in sy volgende simfonie amptelik sou bekend stel. Ook werp hy ’n ander tradisie oorboord deur die trio in dieselfde toonsoort (C maj) as die menuet te plaas. IV. Adagio – Allegro molto e vivace Na ’n skalkse inleiding gebou op ’n stygende toonleer, ontplof die musiek in ’n vrolike rondo in tipiese Haydn-styl.

Simfonie no 2 in D op 36 (35 min) Hierdie blymoedige simfonie is in 1802 in Heiligenstadt gekomponeer, juis toe Beethoven die Heiligenstadt-testament oor sy doofheid geskryf en terselfdertyd een van sy vele liefdesteleurstellings beleef het. Dit was dalk ’n opsetlike poging om sy gedagtegang in ’n ander rigting te dwing. I. Adagio molto – Allegro con brio Die stadige inleiding toon reeds hoe ver Beethoven van sy voorgangers staan: die spel van lig en donker, so kenmerkend van Beethoven, is hier sterk teenwoordig. Sonder oorgang verloop dit in die meer tradisionele Allegro, waarvan die eerste tema besonder lank is. II. Larghetto Een van Beethoven se melodierykste komposisies en ’n gunsteling van Schubert. Met die rustige, breë ontwikkeling van die talle melodieë en die “gewaagde” orkestrasie kry ons ook al weer ’n beeld van iemand wat met groot selfversekerdheid weet wat hy wil en dat hy kan. III. Scherzo: Allegro Hier is Beethoven se gedurfde vernuwing: hy vervang die elegante menuet deur die meer robuuste scherzo. Hierdie kort deel is soos ’n klein ontploffing, met ’n eenvoudige trio. IV. Allegro molto Ewe uitgelate as die scherzo. Albei temas is buitelend (hoewel die tweede iets meer elegant vertoon) en die slot is vreugdevol.

Simfonie no 3 in E-mol op 55 (“Eroica”) (52 min) Hierdie simfonie is in 1804 gekomponeer en is aanvanklik aan Napoleon opgedra. Toe Beethoven egter hoor dat sy held homself as keiser laat kroon het, het hy volgens sy leerling Ries, wat die tyding gebring het, verwoed uitgeroep: “Dan is hy ook maar ’n gewone mens! Nou sal ook hy alle menseregte vertrap en net sy eersug botvier; hy sal hom nou bo andere stel en ’n tiran word.” Daarop het Beethoven die opdrag aan Napoleon geskrap en dit vervang deur die woorde “Heldesimfonie om die gedagtenis van ’n groot man te vereer”. Met hierdie simfonie het Beethoven die nuwe wêreld betree en afskeid geneem van die klassieke simfonie van sy voorgangers, hoewel sy vormbeheer nog altyd onberispelik is. I. Allegro con brio Twee harde akkoorde ruk die luisteraar reg om die nerveuse eerste tema te hoor, donker aangebied deur die tjello’s. Die tweede tema is milder en word deur die houtblasers gespeel. Die ontwikkeling is meesterlik, vol onverwagte wendinge, maar nog altyd in breë trekke in die klassieke vorm. Dit is ’n uitgebreide werk, een van die langste bewegings in die 19de-eeuse simfonieskat. II. Marcia funèbre: Adagio assai ’n Aangrypende treurmars (of dodemars) waarvan die hooftema saggies deur die viole aangekondig word. Ander instrumente neem dit oor en dan volg die tweede tema. Twee geweldig klimaktiese tussendele (een in fugatiese vorm) onderbreek die elegiese treursang, waarvan die tema egter op die ou einde terugkeer. III. Scherzo: Allegro vivace Die somberheid van die treurmars word verdryf deur hierdie opgewekte volksliedagtige scherzo waarvan die trio ’n jagmotief is, gespeel deur drie horings. IV. Allegro molto Na ’n vurige inleiding deur die strykers hoor ons die tema waarop elf variasies gebaseer word. Hierdie tema is ook al tevore gebruik in Die Geschöpfe des Prometheus (Die skepsels van Prometheus) en in die *Eroica-variasies op 35. Daar is ’n verwantskap tussen hierdie tema en die eerste tema van die eerste beweging.

Simfonie no 4 in B-mol op 60 (35 min) Hierdie romantiese, lewensblye werk is in 1806 gekomponeer in opdrag van graaf Franz von Oppersdorf wat ’n stewige fooi betaal het. Beethoven was verlief op Thérèse von Brunswick, en in blymoedige stemming. Schumann het die werk beskryf as “’n slanke Griekse maagd tussen twee Nordiese reuse”. I. Adagio – Allegro vivace ’n Lang, stadige inleiding laat niks vermoed van die vrolikheid wat gaan losbars as die Allegro eers begin nie. II. Adagio Liriese, hoogs melodieuse musiek. Gegrond in ’n stewige ritmiese patroon vind mens hier verbasend subtiele variasies van tema en harmonie met tussendeur kragtige klimakse. III. Allegro vivace Die menuet herleef in hierdie beweging: dit, sowel as die trio, word twee keer gespeel. In die menuet is die ritmiese aanslag ’n eggo van die Adagio, maar swaarder; die trio gebruik houtblasers as soliste teen ’n ligte samespel van strykers. IV. Allegro ma non troppo ’n Robuuste Finale wat laat dink aan dié van Mozart. Die tweede tema, vir hobo en fluit, is van ’n teerheid in skerp teenstelling tot die begin van die beweging, maar kan nie die algemeen dartele sfeer verander nie.

Simfonie no 5 in C min op 67 (34 min) Dié simfonie is sekerlik Beethoven se bekendste werk, en ook die eerste waarmee hy in sy lewe bekendheid en roem buite Wenen verwerf het. Beethoven het in 1805 daaraan begin werk, maar dit onderbreek om Simfonie no 4 te komponeer; No 5 is eers in 1807 of vroeg in 1808 voltooi. I. Allegro con brio Van die vier fortissimo note (seker die bekendste vier note in die musiek) waarmee die simfonie begin, het Beethoven glo gesê: “So klop die noodlot aan die deur.” Dit is dramatiese, stormagtige musiek wat feitlik net op die ritmiese patroon gebaseer is en werk met ritme, klank en harmonie terwyl die melodiese lyn op die agtergrond is. II. Andante con moto Hierdie beweging vergoed vir die afwesigheid van melodie in die eerste. ’n Pragtige melodie in die tjello’s lui die beweging in; sy effens marsagtige aard word bevestig deur ’n forse tweede tema in die blasers. Die “noodlotsmotief” van die eerste beweging maak telkens sy verskyning. III. Scherzo: Allegro Dit is geen grappige musiek nie. Berlioz het hierdie beweging as ’n heksesabbat beskryf. Weer eens is die “noodlotsmotief” aanwesig en sterk gepunktueerde frases van vier note weerklink in verskillende instrumente en in wisselende, soms skerp kontrasterende luidheid. Die beweging eindig nie formeel nie, maar ’n onheilspellende poukegeroffel lei tot ’n geweldige crescendo wat direk oorgaan tot IV. Finale: Allegro Die noodlot word deur hierdie triomfantelike musiek verdryf. Ook hier is die ritmiese patroon baie belangrik, maar die temas van hierdie Allegro is ewe onstuitbaar as die gang van die musiek. In die middel van die beweging is daar ’n kort herhaling van die Scherzo-tema, maar die oorwinningsklanke neem weer oor en die simfonie eindig op ’n triomfantelike noot.

Simfonie no 6 in F op 68 (“Pastorale”) (43 min) Beethoven was baie lief vir die natuur en dit is nie vreemd dat dit in ’n musiekwerk soos dié tot uiting sou kom nie. Beskrywende musiek van dié aard was hoog in die mode en opnuut lewer Beethoven die onbetwiste meesterstuk in die genre. I. Erwachen heiterer Gefühle bei der Ankunft auf dem Lande (Ontwaking van opgewekte gevoelens by die aankoms op die platteland): Allegro ma non troppo ’n Sangerige tema deur die strykers skep dadelik die sfeer, nie net van hierdie beweging nie, maar van die hele werk. Die tweede tema is soos ’n dansliedjie. Daar is nie veel uitdruklike natuurnabootsings in hierdie beweging nie. II. Szene am Bach (Toneel by die stroompie): Andante molto mosso Niemand wat die moeitelose gang van die musiek in hierdie beweging aanhoor, sou kon raai dat Beethoven geworstel het met die musiekprobleme nie, soos blyk uit sy sketsboek. ’n Opgewekte ritme suggereer die vloei van die water en verskillende voëlgeluide klink op. III. Lustiges Zusammensein der Landleute (Vrolike samekoms van boermense): Allegro ’n Scherzo vol dansdeuntjies wat lei tot IV. Gewitter, Sturm (Donderweer, storm): Allegro Die boeredans word ru onderbreek deur ’n storm en met suiwer musikale effekte beeld Beethoven ’n enigsins beangstigende stormtoneel uit. V. Hirtengesang – Frohe, dankbare Gefühle nach dem Sturm (Herderslied – vrolike, dankbare gevoelens na die storm): Allegretto Die stemming van die eerste beweging word herskep met ’n pragtige melodie in die viole. In die rondovorm word hierdie tema drie maal herhaal.

Simfonie no 7 in A op 92 (40 min) Hierdie werk sluit aan by die “helde”karakter van No 3 en No 5. I. Poco sostenuto is veel meer as ’n blote inleiding. Hierdie uitgebreide deel staan op sy eie met sy eie tema, en weer verstom Beethoven die luisteraar met wat hy alles met oënskynlik eenvoudige materiaal kan vermag. Sy gebruik van toonlere in hierdie deel is geniaal. Die Vivace is gegrond op die ritmiese motief van die inleiding, maar is in ’n baie snel tempo en herinner aan ’n uitbundige dans. II. Allegretto Ten spyte van sy benaming is hierdie deel ’n pragtige elegie wat struktureel en andersins saamhang met die treurmars in die Eroica. III. Presto – Assai meno presto ’n Beweging wat gekenmerk word deur skerp teenstellings in volume en ’n afwyking bring van die gebruiklike scherzo-styl. Die hooftema word drie maal gehoor. IV. Allegro con brio ’n Sterk ritmiese deel met gedurfde spronge en ’n oorweldigende klimaks.

Simfonie no 8 in F op 93 (27 min) ’n Kort, speelse simfonie. I. Allegro vivace con brio Sonder enige inleidende akkoorde of frases val die simfonie met die deur in die huis: ’n opgewekte tema met bravade deur die hele orkes gespeel. Vier temas domineer hierdie beweging. II. Allegretto scherzando ’n Goedige geskerts met die pas uitgevinde *metronoom, waarvan die tik-tak-klank die ritmiese basis van die beweging vorm. III. Tempo di menuetto Dat hierdie simfonie sowel ’n scherzo as ’n menuet bevat, onderstreep sy vrolike aard. Die menuet herinner aan ’n boeredans, en al klink dit nie so nie, is die orkestrasie baie ingewikkeld. IV. Allegro vivace ’n Skertsende, guitige slot, met bokspringery in verskillende toonsoorte.

Simfonie no 9 in D min op 125 (“Koraal”) (75 min) As Simfonie no 5 die gewildste van die reeks is, is No 9 die mees bewonderde. Weer eens is dit titaniese magte wat ontketen word en tot ’n triomfantelike slot lei. I. Allegro ma non troppo, un poco maestoso Teen die agtergrond van geheimsinnige, byna prehistoriese klanke, kom die eerste tema geleidelik tot stand en word eindelik na sestien mate in al sy forsheid deur die orkes aangekondig. Die tweede, kontrasterende tema word deur die klarinet gespeel. Die bou en ontwikkeling van die tema in hierdie beweging is ontsaglik. II. Scherzo: Molto vivace Hierdie uitgebreide scherzo (die langste wat Beethoven gekomponeer het) is ook van so ’n spookagtige sfeer soos dié van No 5. Dit begin as ’n fuga maar is in sonatevorm, hoewel die fugatiese styl telkens na vore tree. Dit is ’n meesterstuk van kontrapuntale skryfwyse. III. Adagio molto e cantabile Een van Beethoven se lieflikste stadige bewegings. Na ’n eerste tema waarin die viole telkens deur houtblasers onderbreek word, kom ’n tweede tema van pragtige liriese aard, ook in die viole. Hierdie beweging is op die grondslag van ’n dubbelvariasie. IV. Finale: Allegro assai Die beweging begin abrup, met dramatiese vertonings deur die orkes, telkens onderbreek deur resitatiefagtige passasies deur die basviole. Die temas van die vorige bewegings word herhaal; dan eindelik kom die edele koraalmelodie wat Beethoven gevind het vir Schiller se Ode an die Freude. Die toonsetting van hierdie gedig, wat Beethoven al jare lank beplan het, is vir volle koor en vier soliste en stel besondere eise aan die menslike stem.

SOLO EN ORKES

Klavierconcerto’s Beethoven het vyf klavierconcerto’s geskryf waarvan die eerste twee nog sterk onder die invloed van Mozart staan. Die Concerto no 1 in C op 15 is eintlik ná die Concerto no 2 in B-mol op 19 geskryf en toon ’n sekere ontwikkeling. Dit is egter eers met die derde concerto dat Beethoven begin om die verlede agter hom te laat, en die laaste twee concerto’s bring sy groot vernuwings op dié terrein.

Klavierconcerto no 3 in C min op 37 (35 min) Hoewel No 3 net ’n jaar na wat as No 1 bekend staan, gekomponeer is, toon dit ’n verbasingwekkende ontwikkeling. I. Allegro con brio Die strykers val dadelik weg met die openingstema in elf fors akkoorde wat die klavier daarna ewe onversierd speel. Die tweede tema is meer gevoelvol en liries en kontrasteer sterk met die eerste tema. Die samewerking van solis en orkes groei tot ’n treffende klimaks. II. Largo ’n Pragtige liriese tema in gedempte toon met mooi samespel in die ontwikkeling tussen die solis se arpeggio’s en ’n donker orkes-agtergrond. Beethoven het self ’n kort cadenza vir die middeldeel geskryf met die aanwysing con gran espressione. III. Rondo: Allegro Die klavier begin met ’n energieke tema wat in rondovorm verwerk word. Daar is selfs ’n klein fuga. Die coda, gemerk presto, is in ’n heeltemal ander toonaard en tempo.

Klavierconcerto no 4 in G op 58 (33 min) ’n Rustige en bedaarde werk in teenstelling met No 3 en No 5. I. Allegro moderato Sonder enige orkesinleiding speel die klavier ’n sangerige tema en onmiddellik sorg Beethoven vir nog ’n verrassing deurdat die strykers die tema na slegs vyf mate oorneem maar in die toonaard B. Die effek hiervan is buitengewoon. Die tweede tema is marsagtig. Die verwerking van die tema geskied hoofsaaklik deur die orkes met dartele klavierpassasies tussendeur. II. Andante con moto ’n Strydende dialoog tussen die orkes se dramatiese akkoorde en ’n totaal teenstellende melodie in die klavier. III. Rondo: Vivace Die rondo volg onmiddellik op die voorafgaande beweging en is vinnig met ’n marsagtige tema in die strykers gevolg deur ’n swewende tweede tema in die klavier se hoogste oktawe. Die ontwikkeling lei tot ’n dawerende slot.

Klavierconcerto no 5 in E-mol op 73 (“Keiser”) (37 min) Dit is onduidelik waar die bynaam Keiser vandaan kom; die werk word ook nie oral so genoem nie. I. Allegro Weer ’n vernuwing: op drie dawerende akkoorde van die orkes speel die klavier rapsodiese passasies (wat nietemin ’n integrale deel van die werk is) en lei die viole tot die eerste tema; die tweede tema word ook deur die orkes gespeel, wat tot nou die oorhand het, en eers dan tree die klavier weer toe in ’n briljante uitwerking van die gegewe. Beethoven reken hier finaal af met die cadenza deur ’n meesterlike kragtoer vir die solis te skryf wat absoluut deel van die beweging is. II. Adagio un poco mosso ’n Serene beweging waarin die strykers (sommiges pizzicato) die tema speel en die klavier patrone daaroor weef. Geleidelik neem die klavier oor teen ’n agtergrond van gedempte orkesspel. Die Adagio gaan met ’n verrassende oorgangspassasie dadelik oor tot III. Rondo: Allegro ’n Uitgelate beweging waarin die bravura-moontlikhede van die solis wesenlik gebruik word. Daar is ’n sangerige tweede tema, maar die vitale eerste rondotema oorheers saam met die klavier.

Tripelconcerto in C op 56 (35 min) Hierdie concerto vir klavier, viool, tjello en orkes is lank verwaarloos en minderwaardig geag, maar het intussen meer tot sy reg gekom. Die klavierparty is redelik eenvoudig en die viool is gemiddeld, maar die tjelloparty is besonder moeilik. Die werk bestaan uit drie bewegings. I. Allegro is ’n liriese deel sonder die opstandige elemente van die Eroica en Fidelio wat uit ongeveer dieselfde tyd stam. II. Largo Die sangerige tweede beweging word deur ’n pragtige tema op die tjellosolo ingelui en gaan oor tot III. Rondo alla Polacca wat, soos die benaming aandui, in die polonaise-vorm is en pragtige oomblikke vir al drie soliste bied.

Vioolconcerto in D op 61 (45 min) Beethoven het net een vioolconcerto gekomponeer, maar dit is sekerlik die indrukwekkendste in die repertoire; in opset en rykdom van verbeeldingskrag kom alleen *Brahms s’n naby. Twee beroemde violiste wat cadenzas hiervoor geskryf het, is Joachim (wat die werk later in die negentiende eeu aan die vergetelheid ontruk het) en Kreisler. I. Allegro ma non troppo Vier tromslae op die noot D lei tot ’n pragtige eerste tema deur die houtblasers, wat ook die tweede tema aankondig. Die samespel van en wisselwerking tussen solis en orkes word meesterlik gehanteer. II. Largo Die strykers speel die hooftema gedemp, en dit lei tot ’n reeks variasies wat onderbreek word deur die tweede tema. Die beweging word gekenmerk deur pragtige orkeskleur waarbo die solis fantaseer. III. Rondo: Allegro Die beweging volg onmiddellik op ’n baie kort oorgangspassasie deur die solis. Dit is ’n speelse rondo, Beethoven op sy vrolikste. Na ’n wegsterwende coda is daar plotseling ’n opwindende slotpassasie.

Naas hierdie sewe werke het Beethoven ook twee Romanses vir viool en orkes en ’n Fantasie vir klavier, koor, soliste en orkes gekomponeer – lg. in sekere sin ’n voorstudie van die slotbeweging van die Simfonie no 9.

KAMERMUSIEK

Hoewel Beethoven vir groter ensembles gekomponeer het, word volstaan met die werke vir vier, drie en twee instrumente.

Strykkwartette Beethoven het sewentien strykkwartette gekomponeer wat, soos sy simfonieë, sy totale ontwikkeling as komponis weerspieël. Aanvanklik werk hy nog in die styl van Haydn en Mozart, maar met sy laaste kwartette bereik hy ’n vlak van persoonlike uitdrukking en vormgewing wat, saam met die laaste klaviersonates, die Simfonie no 9 en die Missa solemnis, die hoogtepunt van sy skeppingsvermoë verteenwoordig.

Die eerste ses kwartette op 18 is tussen Simfonie no 1 en no 2 gekomponeer toe die komponis om en by dertig was. No 1 in F (24 min) is in 1799 geskryf maar daarna drasties hersien. Hoewel in die Haydn-styl, toon dit alreeds gewaagde harmonieë. Die werk bestaan uit vier bewegings waarvan die tweede, Adagio, besonder mooi is. No 2 in C (21 min) staan bekend as die “Komplimente-kwartet”, waarskynlik omdat dit speels en sonder probleme is. No 3 in D (19 min) is van hierdie groep die eerste gekomponeer en die mins gekompliseerde. Dit is opvallend hoe oorheersend die rol van die eerste viool is. No 4 in C min (19 min) stel die luisteraar op die hoede: dit is ’n toonaard wat Beethoven tot diepsinnighede gelei het. Hierdie kwartet is ook in ’n ernstiger stemming as die vyf ander, hoewel dit geen stadige beweging het nie, alleen ’n Andante scherzoso. ’n Stormagtige Finale sluit die werk af. No 5 in A (24 min) bevat as stadige beweging ’n stel variasies wat reeds op dié leeftyd toon watter wonderwerke Beethoven met ’n baie eenvoudige tematiese gegewe kan verrig. Die oorheersende stemming van No 6 in B-mol (23 min) is spontane opgewektheid, al het die komponis self die stadige beweging as melancholies beskryf. Hierdie somberheid word egter gou verdryf deur die geestige slot-Allegretto.

Die kwartette op 59 staan bekend as die Rasoemofski-kwartette, want die drietal is geskryf op versoek van graaf Rasoemofski, Russiese ambassadeur in Wenen. Die afstand tussen die kwartette op 18 en hierdie reeks is vergelykbaar met dié tussen die *Simfonie no 2 en 3. Dit is van die rypste werke uit Beethoven se tweede periode. Die kwartette was vir eietydse gehore vreemd en beangstigend; hulle het dit nie verstaan nie. Die spelers het gedink die komponis skeer die gek. Dit is die werk van ’n mal man genoem. Beethoven het met op 59 die strykkwartet uit die hande van amateurspelers en die elegante salons van die adel geneem en dit konsertstukke gemaak vir eersterangse spelers en ryp toehoorders.

Die eerste beweging van No 1 in F (37 min) toon ’n enorme afwyking van die gangbare in terme van harmonie en tema. Die stadige beweging, Adagio, is smartlik en aangrypend en eindig op ’n triller van die eerste viool waarna die tjello die laaste beweging met ’n Russiese volkswysie inlei. No 2 in F (32 min) staan vas op die aarde met minder gewaagde tonaliteite as No 1; ook hier is daar ’n pragtige stadige beweging, Molto adagio, waarvan die komponis gesê het dat dit by hom ingegee is terwyl hy na die sterrehemel getuur het. In die Scherzo gebruik Beethoven ’n tema ontleen aan ’n Russiese volksliedjie wat ook in die kroningstoneel in *Moessorgski se Boris Godoenof voorkom. No 3 in C (28 min) word soms die “Helde”-kwartet genoem en is die enigste waarin geen Russiese tema voorkom nie. Die sterk ritmiese eerste beweging word gevolg deur ’n Andante gebou bo ’n pizzicato tjello. In plaas van ’n scherzo het ons hier ’n menuet gevolg deur ’n Allegro molto slot wat ’n fuga en ’n dubbelfuga bevat.

Die Kwartet in E-mol op 74 (31 min) het later die bynaam “Harp”-kwartet gekry a.g.v. die pizzicato deel in die eerste beweging. Hierdie kwartet is belangrik in die ontwikkeling van Beethoven se strykkwartetstyl en openbaar die groter intimiteit van sy later werke. Dit is een van die mooiste kwartette waaruit mens niks kan uitsonder nie, behalwe dan die laaste beweging, Allegretto, wat in die vorm tema en variasies is.

In dieselfde toon, voorloper van die laaste groot vyf kwartette, is die Kwartet in F min op 95 (20 min) I. Allegro con brio Dit begin unisono gevolg deur ’n oktaafsprong. Soos die res van die werk word die beweging gekarakteriseer deur gekonsentreerde episodiese komposisie. II. Allegretto Dit word ingelei deur ’n dalende tjellotema, maar die hooftema is een van die mooistes wat die komponis geskep het. Sonder oorgang volg die sterk ritmiese III. Allegro, en ten slotte IV. ’n Ligte, danserige Allegro agitato.

Die laaste vyf kwartette (en die Grosse Fuge) neem ’n besondere plek in die musiekrepertoire in. Hulle word beskou as van die mees verhewe musiek wat Beethoven geskryf het en die toppunt van alle kamermusiek.

Kwartet in E-mol op 127 (36 min) Dit is die eerste van drie kwartette wat in 1822 deur prins Nikolaus Galitzin aangevra is. Die publiek het nie geweet wat om van hierdie vreemde musiek te maak nie, en het dit toegeskryf aan Beethoven se doofheid. I. Maestoso – Allegro Dit is nie in die tradisionele sonatevorm nie; die karakteristieke eienskappe van die laaste kwartette met spronge in toonaarde kom hier reeds duidelik na vore. II. Adagio ma non troppo e molto cantabile. Dit is ’n pragtige, sangerige tema met ses variasies en ’n coda. III. Scherzando vivace Hierdie uitgelate beweging is byna soos ’n grap en klink ook na ’n direkte voortsetting van die variasies in die voorafgaande Adagio. IV. Finale ’n Marsagtige tema word afgewissel met ’n meer sangerige melodie. Dit is die laaste kwartet wat uit vier bewegings bestaan.

Kwartet in B-mol op 130 (29 min) Hierdie werk (wat na op 132 gekomponeer is) is die eerste wat groot afwykings van die tradisionele vorm toon. Die oorspronklike sesde beweging is apart as die *Grosse Fuge uitgegee, en die Finale wat later toegevoeg is, was waarskynlik Beethoven se laaste komposisie. I. Adagio – Allegro Drie temas domineer die beweging, ’n inleidende Adagio en twee allegro temas wat voortdurend teen mekaar afgespeel word. II. Presto Speels, in die vorm van ’n scherzo en trio. III. Andante con moto ’n Bevallige deel, tematies verwant aan II. IV. Alla danza tedesca ’n Duitse dans met ’n walsagtige hooftema. V. Cavatina Beethoven self het baie gehou van hierdie “liedjie”, die ontroerende stadige beweging van die kwartet, gemerk Adagio molto espressivo. Inderdaad is dit ’n aangrypende melodie wat verbluffend verwerk word. VI. Finale Die “nuwe” finale het ’n opgewekte, landelike hooftema in rondovorm.

Kwartet in C-kruis min op 131 (40 min) Beethoven het self geglo dit is sy beste kwartet en vandag se luisteraar kan nie juis verskil nie. Hierdie verwikkelde meesterstuk bestaan uit sewe bewegings wat feitlik sonder onderbreking gespeel moet word. I. Adagio ma non troppo Die kwartet begin revolusionêr met ’n fuga en die aanwysings bevat ook ’n molto espressivo. Hierdie byna mistieke langsame deel van ongewone skoonheid en sereniteit gaan oor tot II. Allegro molto vivace, ’n opgewekte, volksliedagtige deel wat lei tot III. Allegro moderato, ’n resitatief van slegs elf mate wat met ’n abrupte cadenza deur vioolsolo oorgaan tot IV. Andante ma non troppo e molto cantabile Hierdie pragtige stel variasies is gebou op ’n tema wat Wagner “die geseënde inkarnasie van onskuld” genoem het. Na ’n uitgebreide coda word die tema herhaal omgewe deur lieflike figurasies deur die eerste viool. V. Presto Die enigste moontlike pouse in hierdie werk is tussen IV. en V. ’n Verbysterend energieke en buitelende scherzo. ’n Nuwigheid vir sy tyd was dat Beethoven teen die einde vereis dat al vier spelers sul *ponticello speel, wat ’n heel besonderse klankeffek gee. VI. Adagio quasi un poco andante Weer eens ’n kort beweging, eintlik ’n verademing en inleiding tot VII. Allegro Beethoven begin sy kwartet met ’n fuga en sluit dit af in sonatevorm! Boonop is dit gegrond op die fugatema, aanvanklik unisono deur al vier instrumente en later met allerhande transfigurasies aangebied. Met drie geweldige akkoorde in C-kruis min eindig hierdie werk wat in die grootsheid van sy konsepsie en uitvoering uitstyg bo elke poging tot kritiek.

Kwartet in A min op 132 (47 min) Dit is die derde Galitzin-kwartet, maar is voltooi voor op 130 en 131. I. Assai sostenuto – Allegro Daar word baie gespekuleer oor die tematiese ooreenkomste tussen hierdie beweging en talle ander laat werke van Beethoven, maar dit lei tot nie veel meer as gekompliseerde tegniese bespiegelinge en filosofiese teoretiserings nie. ’n Dig saamgepakte komposisie. II. Allegro ma non tanto Die hegtheid van die tema van hierdie scherzo-beweging word gekontrasteer met die landelike dansaard van die trio. III. Molto adagio Hierdie deel het die onderskrif (in Duits): “Heilige danklied aan die Godheid vir ’n genesing, in die Lidiese modus”. Beethoven was in 1825 ernstig siek en hierdie innige en intense werk in ’n toonaard (tydelik altans) wat afwyk van die klassieke beeld sy gevoelens uit. IV. Alla marcia ’n Kort deel, in skerp, byna onthutsende teenstelling tot III, wat lei tot V. Allegro appasionato In rondovorm (maar met Beethoveniaanse afwykings) kom die kwartet tot ’n slot met ’n wals as hooftema.

Grosse Fuge in B-mol op 133 (16 min) Hierdie indrukwekkende werk, oorspronklik gekonsipieer as die slot van die Kwartet op 130, maar op aandrang van sy uitgewer en vriende vervang en apart uitgegee, is ’n meesterstuk in die genre en die instrumentasie. ’n Kort “ouverture” lei tot wat in wese ’n dubbelfuga is, ’n werk waarin Beethoven die grootste vryheid en die mees vasomskrewe vorm met mekaar verbind.

Kwartet in F op 135 (24 min) Dit is Beethoven se heel laaste werk behalwe die later geskrewe slotbeweging vir die *Kwartet op 130. Dit is ook ’n terugkeer tot ouer gebruike, in sowel getal bewegings as lengte. I. Allegretto Die milde sfeer van hierdie kwartet blyk dadelik uit die begin. Dit is asof die komponis vrede gemaak het, met wie ook al. Dit is genotvolle musiek, in tradisionele sonatevorm. II. Lento assai, cantante e tranquillo Die beskrywing “sangerig en verstil” is presies raak. Die vioolspel teen die einde van die beweging is aangrypend. III. Vivace ’n Byna demoniese beweging, veral in die middeldeel. IV. Grave ma non troppo tanto – Allegro Soos in die Kwartet op 132, waarin ’n Duitse titel ’n hoogs persoonlike opset moet verduidelik, dra ook hierdie kwartet ’n Duitse aanwysing vir sy laaste beweging: Der schwer gefasste Entschluss (“Die moeilik bereikte besluit”) en die twee hooftemas word ook beskryf (en in musiek so weergegee): Muss es sein? (Moet dit wees?) en Es muss sein (Dit moet wees). ’n Opgewekte slot verduidelik dat wat ook al moes gebeur het, wel gebeur het, en dankie.

Trio’s Beethoven het agt trio’s gekomponeer waarvan twee (een met net een beweging) sonder opusnommers is. Sy eerste gepubliseerde werk was die drie klaviertrio’s op 1. Beethoven het hulle self as belangrike werke beskou. Die trio’s is privaat uitgevoer en Haydn het die eerste openbare uitvoerings bygewoon. Hy het Beethoven aangeraai om nie die een wat as Op 1 no 3 in C min bekend sou word, te publiseer nie want die publiek was nog nie ryp daarvoor nie. Reeds in hierdie eerste gepubliseerde werk, toe Beethoven nog 25 was, kan mens kenmerkende elemente waarneem. Die stadige beweging van op 1 no 2, en byna die hele op 1 no 3 openbaar reeds iets van die man wat gaan kom.

Eers dertien jaar later komponeer Beethoven weer trio’s, die twee op 70, waarvan no 2 om onduidelike redes bekend staan as die Geister-trio (Spook). Sy belangrikste trio, en een van die heel grootste werke in die genre, is egter die Trio op 97, die Aartshertog-trio (45 min). Gekomponeer in dieselfde periode as die Strykkwartet op 95 is dit ’n positiewe werk met ’n byna triomfantelike toon. Dit is al ’n simfonie vir die klaviertrio genoem. I. Allegro moderato ’n Majestueuse liriese tema wat die titel van die Trio waardig is, lei die werk in en word op ’n byna ontspanne wyse uitgewerk. II. Scherzo Soos in soveel ander werke is die eenvoudige toonleer weer die basis van hierdie beweging, afgewissel met ’n lewendige trio, gedeeltelik soos ’n wals. III. Andante cantabile Beethoven sê die sangerige Andante moet ook “lewendig” gespeel word en hierdie reeks variasies dui vooruit na sy groot variasie-werke vir die klavier aan die einde van sy lewe. Die beweging gaan oor tot IV. Allegro moderato, ’n rondo waarin die klavier die botoon voer en tot ’n briljante slot lei.

Tjellosonates Beethoven het vyf tjellosonates geskryf, in elk van sy drie periodes. Die eerste twee is op 5 en is jeugwerke, ook in vergelyking met die trio’s op 1. Uit sy middelperiode kom die Sonate in A op 69 (28 min), ’n liriese, sangerige werk wat sterk ooreenstem met die Klavierconcerto no 4. Sy twee meesterwerke dateer egter uit sy laaste periode toe hy nie meer vir duo’s geskryf het nie. Hierdie twee “vrye sonates” is opgedra aan gravin Erdödy.

Sonate in C op 102 no 1 (17 min) bestaan net uit twee bewegings. I. Andante – Allegro vivace ’n Sangerige inleiding word gevolg deur ’n sterk ritmiese deel. II. Adagio – Andante – Allegro vivace Die aarselende Adagio lei tot ’n Andante waarin ons die tema van die begin van die werk hoor, weer, soos in die eerste beweging, gevolg deur ’n besonder snelle deel.

Sonate in D op 102 no 2 (22 min) I. Allegro con brio Die eerste beweging is lewendig, maar liries en die temas word deeglik uitgewerk. II. Adagio con molto sentimente ’n Tydgenoot het dit een van Beethoven se rykste en sensitiefste inspirasies genoem. Dit is reeds grotendeels in die styl van die rypste later werke en lei sonder pouse tot III. Allegro fugato Die oorgang tussen die bewegings is briljant en die fuga-komponering vir tjello en klavier ’n toonbeeld van Beethoven se genialiteit.

Vioolsonates Met sy tien vioolsonates het Beethoven weer vernuwing gebring in ’n vorm wat tevore gewoonlik beskryf is as sonates vir klavier met vioolbegeleiding.

Sonate no 5 in F op 24 (“Lente”) (34 min) Die bynaam van hierdie sonate kan stellig toegeskryf word aan die sonnige, vredige aard daarvan. Die werk bestaan uit vier bewegings. I. Allegro ’n Sag vloeiende melodie sing bo ’n stromende klavierparty. Geen wolkie in hierdie musiek nie. II. Adagio molto espressivo ’n Pragtige liriese beweging wat spreek van innerlike geluk. III. Scherzo, trio Hierdie kort beweging met sy staccato scherzo is vol humor. IV. Rondo: Allegro ma non troppo Ewe melodieryk as die eerste beweging stroom die tema in sy herhalings verby en sluit ’n geluksalige, probleemlose werk gepas af.

Sonate no 9 in A op 47 (“Kreutzer”) (35 min) Dit is seker Beethoven se beroemdste vioolsonate. Met hierdie werk het hy die vioolsonate uit die salon na die konsertsaal verskuif. I. Adagio sostenuto – Presto ’n Dramatiese beweging waaruit dadelik blyk wat die komponis bedoel het toe hy gesê het dat die sonate soos ’n concerto gespeel moet word. II. Andante con variazioni ’n Stel variasies, minder ernstig as gewoonlik in Beethoven se sonatevariasies. III. Finale: Presto Soos die eerste presto beweging word die sonate weer eens dramaties afgesluit. Deur sy sterk bou en virtuose aard is dit duidelik ’n werk wat tot die middelperiode behoort.

Sonate no 10 in G op 96 (27 min) is in 1812 gekomponeer en bestaan uit vier bewegings. Dit is taamlik vinnig gekomponeer vir ’n besoek van die Franse virtuoos Pierre Rode, maar Beethoven het besef dat die man nie meer eersterangs was nie, en het ’n sonate gelewer wat min eise aan die violis stel en die gewig van die musiek na die pianis oorgedra het. Aangesien die pianis ’n amateur was, is ook die klavierparty nie te moeilik nie.

KLAVIERSOLO

Beethoven het verskeie instrumente bespeel, maar sy roem as uitvoerende kunstenaar het berus op sy klavierspel; hy was beskou as een van die beste virtuose van sy tyd. Dit is dus verstaanbaar dat hy ’n aansienlike hoeveelheid werke vir hierdie instrument sou komponeer. Hy het ’n groot aantal kort werke gekomponeer, waarvan baie gereeld uitgevoer word. Afgesien van talle stelle variasies (waarvan die twee belangrikstes later behandel word) kan mens noem die twee Rondo’s op 51 no 1 en 2, wat drie jaar van mekaar gekomponeer is, die Rondo a Capriccio in C op 129 (6 min) (bekend as Woede oor ’n verlore stuiwer), die meesleurend melodieuse Andante in F (9 min) (ook bekend as Andante favori) en die misleidend eenvoudige Für Elise (3 min), wat bloot as klavierstuk beskryf is.

Bagatelles Die woord beteken “onbenulligheid”. Dié musiekvorm is ’n uniek Beethoveniaanse skepping. Die stukke is almal kort, net enkele minute lank. Daar is drie stelle. Op 33 bevat sewe stukke uit sy vroeë tyd; hier vind mens van die mooiste melodieë wat Beethoven in hierdie periode geskryf het en hy noem no 2 ’n scherzo, die nuwe vorm wat hy so pas in sy langer werke begin invoer het om die menuet te vervang. Op 119 is “nuwe” bagatelles genoem en daar is altesaam elf. Hoewel die groep eers in 1822 uitgegee is, is hulle oor ’n langer tyd geskryf en bevat stukke in verskillende style. Die laaste ses is as Op 126 gepubliseer en behoort ten volle tot die derde periode. Hierdie bagatelles wys dat mens nie lang, komplekse werke nodig het vir ware diepsinnigheid nie. Hulle is so ryp as sy laaste sonates en die Diabelli-variasies, met vreemde harmonieë en lang stiltes.

Diabelli-variasies in C op 120 (52 min) In 1823 het die Weense uitgewer en mindere komponis Antonio Diabelli ’n vyftigtal komponiste uitgenooi om elk een variasie te skryf oor ’n walstema wat hy self sou verstrek. Onder dié wat gevra is, was Liszt, Schubert, Hummel, Czerny – en Beethoven. Beethoven het hom nie aan die uitnodiging gesteur nie, maar later op eiesinnige manier begeesterd geraak en 33 variasies op Diabelli se tema geskep. Dit is sy laaste groot werk vir die klavier en dit staan, met die laaste vyf sonates, as die grootste klavierwerke van die meester. In var 22 verskyn ’n tema uit Mozart se Don Giovanni. Ook hier loop die werk uit op ’n grootse fuga (var 32) en die laaste variasie is ’n sangerige menuet waarin mens die indruk kry van ’n gevoelvolle afskeid, soos die coda van die Sonate no 32.

Eroica-variasies in E-mol op 35 (34 min) Die tema vir hierdie stel van vyftien variasies kom meermale in sy werke voor, o.m. in die slotbeweging van die *Simfonie no 3, vandaar die benaming Eroica. Dit is ’n lewendige en deurdagte stel variasies, ondersteun deur ’n volgehoue bas, darem nie heeltemal ostinato nie, wat daaraan die karakter van ’n passacaglia verleen. Die werk word afgesluit met ’n magistrale fugale gedeelte, waarmee Beethoven ’n nuwe tradisie vir die variasiewerk in die lewe roep. Hierdie laaste variasie duur byna tien minute uit die totale speeltyd van die werk en eindig met ’n sangerige coda.

Sonates Beethoven se 32 klaviersonates is deur Hans von *Bülow beskryf as die Nuwe Testament van klaviermusiek. Hierdie indrukwekkende reeks werke, wat in Schnabel se teksuitgawe 862 gedrukte bladsye beslaan, weerspieël Beethoven se hele ontwikkelingsgang as komponis vanaf die jeugdige drie sonates op 3, uitgegee toe die komponis 26 was, tot die indrukwekkende laaste sonate op III, uit sy 52ste jaar en een van die hoogtepunte van sy laaste periode. Slegs die bekendste sonates kan hier behandel word. Baie het byname waarvan die herkoms nie altyd duidelik is nie. Beethoven self het net aan twee (op 13 en op 81a) ’n naam gegee.

Sonate no 8 in C min op 13 (“Pathétique”) (19 min) I. Grave – Molto allegro e con brio Die eerste van slegs twee sonates wat Beethoven met ’n dramatiese stadige inleiding laat begin en uniek deurdat die tema van die inleiding twee maal in die ewe dramatiese en aangrypende Allegro herverskyn. II. Adagio cantabile ’n Pragtige melodie van agt mate begin hierdie gewilde beweging sonder seremonie, afgewissel deur twee episodes. Die emosionele krag van I. verstil hier in liriese sangerigheid. III. Rondo: Allegro ’n Ligte, melodieryke afsluiting in ’n heeltemal ander emosionele aard as die eerste twee bewegings.

Sonate no 14 in C-kruis min op 27 no 2 (“Maanlig”) (16 min) I. Adagio sostenuto In ’n belangrike vernuwing begin Beethoven die sonate met die stadige beweging, ’n sangerige arpeggio stuk wat aan die een kant herinner aan die preludes van Bach en aan die ander vooruitwys na die nokturnes van Chopin. Die bynaam, gegee deur ’n Weense kritikus, is te danke aan hierdie beweging. II. Allegretto ’n Ligte, dartele staccato tema met ’n byna sinkopiese trio waarin verspringde ritme en sterk kontraste in luidheid ’n skerp teenstelling met die hooftema vorm. III. Presto agitato Dit is eintlik die “eerste beweging”, ’n passievolle en stormagtige sonatebeweging met sterk ritmiese effekte en fortissimo akkoorde.

Sonate no 17 in D min op 31 no 2 (23 min) Beethoven het glo self ’n verband tussen hierdie sonate en Shakespeare se Tempest gelê, en soms word dit so genoem. I. Largo – Allegro Wat ’n inleiding kon wees, word na net meer as een maat deur die stormagtige eerste tema onderbreek. Die hooftema, wat met oorkruiste hande gespeel moet word, is dramaties aangrypend in sy enkelnotige eenvoud teenoor stormagtige begeleiding. II. Adagio Na ’n byna onheilspellende begin met beangstigende viernootpatrone in die linkerhand verskyn, gemerk dolce, een van die meesleurendste melodieë van hierdie meester. III. Allegretto Onafgebroke (byna 7 min lank) word ’n arpeggioagtige patroon volgehou, deur verskeie kommentators ’n moto perpetuo genoem.

Sonate no 21 in C op 53 (“Waldstein”) (25 min) I. Allegro con brio Gejaag, nerveus begin hierdie beroemde sonate van die middelperiode met ’n sterk ritmiese patroon wat vandag aan Orff herinner. Die wisselinge in toonaard van hierdie beweging is verstommend. II. Introduzione – Molto adagio ’n Kort, gedrae stadige tussenspel dien as inleiding tot III. Allegro moderato, ’n rondo, wat met baie gebruik van die linkerpedaal en in totale kontras met die basiese ritmiese eerste beweging gespeel moet word. ’n Swewende rustigheid oorheers hierdie beweging.

Sonate no 23 in F min op 57 (“Appassionata”) (24 min) Saam met die Waldstein die kenmerkendste sonate uit Beethoven se middelperiode. Daar is heelwat ooreenkomste tussen die twee sonates: albei is hewig emosioneel met ’n rustige verposing tussen twee heftige bewegings. I. Allegro assai Met ’n dreigende afwaartse patroon van drie note stort die sonate hom onmiddellik in ’n dramatiese uiteensetting. Trillers en ’n motief wat herinner aan *Simfonie no 5 kenmerk die beweging. II. Andante con moto ’n Stel van vier variasies op ’n pragtige terughoudende melodie wat onmiddellik, sonder enige inleiding, aangekondig word. Sowel die tweedelige tema as die eerste drie variasies het verskeie herhalings. III. Allegro ma non troppo Weer eens ’n dramatiese, selfs nerveuse beweging, met ’n donker oktaafmotief in die linkerhand en snelle passasies in die regterhand.

Sonate no 24 in F-kruis op 78 (9 min) Hierdie feërieke tweedelige sonate was vroeër jare totaal onderskat, maar is die eerste suggestie in die klaviersonates van die derde periode; dit is in vele opsigte ’n voorloper van die Sonate no 31. I. Adagio cantabile – Allegro ma non troppo Van hierdie beweging, wat dolce gemerk is, het Schnabel gesê: “Te maklik vir ’n kind en te moeilik vir ’n volwasse kunstenaar.” Dit is vloeiende, liriese Somernagdroom-musiek. II. Allegro vivace ’n Lewendige afsluiting vir ’n kommerlose, dromerige werk. ’n Sterk ritmiese staccato tema word gevolg deur ’n ewe ritmiese tweede tema wat opgebou is uit gesinkopeerde gepaarde sestiendenote met ’n sterk staccato in die linkerhand. Pianiste verskil in hul plasing van die aksent in hierdie tema.

Sonate no 26 in E-mol op 81a (“Les adieux”) (18 min) Beethoven het Duitse opskrifte vir die drie bewegings gegee, maar sy uitgewers het dit tot die komponis se ergernis na Frans verander en daarom word die sonate n.a.v. die opskrif van die eerste beweging nie Das Lebewohl genoem nie. Dit is geskryf vir aartshertog Rudolf wat Wenen in Mei 1809 weens die Franse beleg moes verlaat. I. Les adieux: Adagio – Allegro Die tweede sonate ná no 8 met ’n uitgebreide inleiding tot die eerste beweging. Die openingsnote vorm egter ’n belangrike motto wat telkens gehoor word. Die uiterste akkoordspronge wys vooruit na die laaste sonates. II. L’absence: Andante espressivo Hierdie kort beweging, wat die gedagtes van die komponis tydens die vriend se afwesigheid moet voorstel, is eintlik net ’n uitgebreide inleiding tot III. Le retour: Vivacissimento Met ’n uitbundige akkoord word die vreugde van die weersien gekonstateer. Uitgelate musiek met ’n buitengewone passasie van unisono note waaraan deur gebruik van die pedaal ’n harmoniese effek gegee word.

Sonate no 27 in E min op 90 (13 min) Die twee bewegings van hierdie sonate, wat al byna tot die derde periode behoort, het Duitse tempo-aanwysings. I. Mit Lebhaftigkeit und durchaus mit Empfindung und Ausdruck (Lewendig en deurgaans innig en uitdrukkingsvol) Die beweging begin met vier kort frases, elk in ’n ander toonaard. Dit is lewendig en geanimeerd. II. Nicht zu geschwind und singbar vorzutragen (Nie te vinnig, en sangerig) As die oorlewering reg is dat hierdie sonate gekomponeer is ter ere van die troue van ’n vriend, dan moet hierdie beweging die innige en idilliese huwelikslewe voorstel – ’n voorteken van Mendelssohn se liriek.

Sonate no 28 in A op 101 (20 min) Beethoven, nog steeds in sy Duitse bui, gebruik Duitse aanwysings, maar verskaf dié keer ook Italiaanse vertalings. Albei word hier aangegee. Hierdie sonate kan beskou word as die eerste in die derde periode. Die laaste beweging is eintlik die hoogtepunt van die werk. I. Etwas lebhaft, und mit der innigsten Empfindung (Allegretto ma non troppo) Soos ook die laaste kwartette, skep die musiek die indruk van losheid, asof invalle en nie struktuur nie ’n rol speel. Maar die vorm is volmaak, hoewel uiters vry, en die vryhede wat die komponis hom veroorloof met die aanvaarde vorm is byna ongelooflik. Die ver uitmekaar geleë akkoorde met ’n byna hol klank, so tipies van die laaste periode, is duidelik aanwesig. II. Lebhaft, marschmässig (Vivace, alla marcia) Soos die eerste, ook ’n baie kort beweging; soos die tempo-aanduiding dit stel, ’n marsie. III. Langsam und sehnsuchtsvoll (Adagio ma non troppo, ma affetto) ’n Werk van buitengewone skoonheid en aangrypendheid wat oorgaan tot die finale IV. Geschwind, doch nicht zu sehr, und mit Entschlossenheit wat darem werklik onbevredigend bloot as Allegro vertaal word. Dit is ’n stralende deel wat van innerlike geluk en blymoedigheid spreek. ’n Vierstemmige fuga kom binne die beweging voor – een van verskeie fugas wat Beethoven in sy laaste sonates en strykkwartette ingevoer het.

Sonate no 29 in B-mol op 106 (“Hammerklavier”) (40 min) Veral in sy laaste jare was Beethoven baie gesteld op die gebruik van Duits en Hammerklavier was die woord wat hy vir pianoforte gebruik het. Dit is Beethoven se langste sonate, ’n werk van simfoniese afmetings. I. Allegro Imperieus is die beste woord om die selfversekerde, magtige openingsakkoorde te beskryf waarmee die eerste tema van die eerste beweging die sonate inlei. In teenstelling is die tweede tema meer liries. Albei is kort – weer ’n bewys van hoe Beethoven uit byna elementêre motiewe grootse komposisies (hier met inbegrip van ’n fugato) kon opbou. II. Scherzo: assai vivace Die eerste keer sedert die Sonate no 18 dat ’n scherzo in ’n sonate ingevoer word. Die kort en rustelose beweging is gebou op ’n kort, speelse frase wat op geniale manier in allerlei gedaantes herhaal word. III. Adagio sostenuto Dit is een van die langste stadige bewegings in alle musiek en ’n meesterwerk wat die aangrypendheid van die stadige bewegings in die laaste strykkwartette ewenaar. Dit is so heg gekonstrueer, met so ’n rykdom aan tematiese materiaal, dat dit feitlik onmoontlik is, selfs met musiekvoorbeelde, om die bou van die werk behoorlik te beskryf. IV. Finale: Largo – Allegro risoluto Die inleiding tot die beweging is ’n fantasie waarin die komponis se verbeelding en vindingrykheid vrye teuels het; daar is nie minder as vyf verskillende toonaarde nie! Die Allegro is ’n indrukwekkende driestemmige fuga wat sy plek kan inneem naas die *Grosse Fuge.

Sonate no 30 in E op 109 (20 min) I. Vivace ma non troppo ’n Fantasieryke beweging met afwisselende tempo. Oënskynlik is dit ’n bykans vormlose werk, maar dit is streng gekonstrueer. Die snellopende vaart word twee maal deur ’n adagio passasie onderbreek. II. Prestissimo Rusteloos, besonder vinnig en in sonatevorm is hierdie beweging byna ’n inleiding tot die slot, wat Beethoven blykbaar in sy laaste sonates die belangrikste deel geag het. III. Andante, molto cantabile ed espressivo Beethoven het hier ook nog die Duitse weergawe van die Italiaanse aanwysings bygeskryf. ’n Tema met ses variasies waarin die komponis byna alle moontlikhede van sy vredige cavatina benut. Hierdie tema is een van die pragtigste in die Beethoven-literatuur, vergelykbaar by die cavatina in die Kwartet opus 130.

Sonate no 31 in A-mol op 110 (19 min) I. Moderato cantabile, molto espressivo Hierdie oënskynlik eenvoudige, sangerige beweging met speelse arpeggio-lopies naas die liriese hooftema laat mens dink aan iets soos A Midsummer Night’s Dream. II. Allegro molto Soos die vorige sonate, is hierdie kort en snelle middelbeweging basies ’n inleiding tot die groots opgesette slot. Die coda lei tot III. Adagio ma non troppo – Fuga – Allegro ma non troppo Die Adagio is ’n wonderbaarlik eenvoudige Arioso dolente wat ontwikkel tot ’n fuga; dan keer die arioso terug en ná ’n aantal akkoorde, verrassend en bykans ongemerk, weer die fuga in omgekeerde vorm.

Sonate no 32 in C min op 111 (28 min) Naas die Hammerklavier is dit seker die kroon op die hele reeks. Dit bestaan net uit twee bewegings. I. Maestoso: Allegro con brio ed appassionato Nog een van die weinige gevalle waar Beethoven ’n inleiding tot ’n eerste beweging het: dramatiese akkoorde, gevolg deur ’n marsagtige vinnige deel. II. Arietta: Adagio molto semplice cantabile Die laaste twee woorde in die aanwysing is deurslaggewend – eenvoudig, sangerig. Die koraalagtige melodie word gevolg deur ’n aantal variasies wat nie genommer is nie. Anders as by die normale tema-en-variasie is elkeen nie ’n afsonderlike uitwerking van die tema nie, maar hulle bou in ’n hegte strukturele eenheid op tot ’n klimaks wat weer sangerig verstil in ’n musikale teenhanger van die katarsis in die Griekse tragedie.

VOKAAL

Beethoven het grotendeels instrumentale musiek gekomponeer, maar nietemin ’n aansienlike en belangrike skat aan vokale werk nagelaat. Hy het sowat 80 liedere gekomponeer en sowat 150 Ierse, Skotse en Engelse volksliedjies verwerk. Naas die slotbeweging van die *Simfonie no 9 het hy nog ses sekulêre werke vir koor geskryf (o.m. die Koorfantasie vir klavier, solostemme en orkes op 80, ’n voorstudie vir die Finale van Simfonie no 9), asook twee misse en ’n oratorium. Hy het ook een opera nagelaat, *Fidelio.

Beethoven se liedere het soms orkesbegeleiding en soms Italiaanse woorde, maar die merendeel is in Duits met klavier. Die bekendste Italiaanse lied is In questa tomba oscura (In hierdie donker kelder) en onder die Duitse liedere (met tekste van o.a. Goethe) is Adelaide, Andenken (Herinnering), Die Ehre Gottes (Die eer van God) wat begin met die woorde Die Himmel rühmen (Die hemele roem), Wonne der Wehmut (Vreugde van die weemoed), Zufriedenheit (Tevredenheid), Zärtliche Liebe (Tere liefde) en An die Hoffnung (Aan die hoop). Baie van die liedere is voor Schubert se geboorte gekomponeer en Beethoven se rol as grondlegger van die Duitse Lied is lank misken.

Hy het ook die eerste volwaardige liedersiklus gekomponeer, An die ferne Geliebte op 98 (Aan die verre geliefde) (15 min), wat boonop ’n aaneengeskakelde geheel is sonder enige pouse tussen die ses liedere, en ’n begin en ’n hoogtepunt in die romantiese sangkuns verteenwoordig. Die liedere (almal strofies behalwe die laaste) handel oor die romantiese liefdesverlange met die tradisionele verwysings na berge (bv. 1. Auf dem Hügel sitz ich spähend – Op die heuweltop sit ek en tuur; 2. Wo die Berge so blau – Waar die blou berge), wolke (bv. 3. Leichte Segler in den Höhen – Ligte seilskepies omhoog; 4. Diese Wolken in den Höhen – Hierdie wolke daar bo), die lente met blomme, voëltjies en kabbelende stroompies (bv. 5. Es kehret die Maien – Mei keer terug). Die slotlied (no 6) is die eintlike opdraglied: Nimm sie hin denn, diese Lieder (Neem dan hierdie liedere).

Missa solemnis in D op 123 (70 min) Hierdie grootse *Mis vir stemkwartet, koor en orkes is oorspronklik beoog as ’n huldigingswerk vir die wyding van sy vriend aartshertog Rudolf as Aartsbiskop van Olmütz. Beethoven het egter so verdiep geraak in die musikale en religieuse aspekte van sy selfopgelegde taak dat die Mis eers drie jaar na die geleentheid voltooi is. I. Kyrie: Assai sostenuto Na ’n orkesinleiding stort die koor hom in die werk, en sy kragtige aanvang word voortgesit in die liriese kwartet. II. Gloria: Allegro vivace In stryd met die liturgiese gebruik is dit nie ’n solis nie, maar die koor en magtige orkes wat dadelik optree. III. Credo: Allegro ma non troppo Ook hier word die liturgiese voorskrif verontagsaam en begin die koor die langste en mees komplekse onderdeel van die Mis. Die tenoorsolo sing Et incarnatus en word later deur die ander lede van die kwartet bygestaan. IV. Sanctus: Adagio Soos by die ander dele, is die aanvanklike tempo-aanduiding maar een van talle wat die vinnig veranderende musiek beskryf. Die kwartet met tremolo strykers lei tot twee fugale dele, en dan kom ’n lang orkesgedeelte met ’n wonderbaarlike vioolsolo, later aangevul deur die kwartet en koor. V. Agnus Dei: Adagio Dit begin met ’n bassolo waarby die ander lede van die kwartet en die koor hulle mettertyd voeg. Ook die tenoor en alt het solorolle en die werk eindig op ’n seëvierende noot.

OPERA

Fidelio (130 min) Opera in twee bedrywe. By Beethoven was die drang om ’n opera te komponeer oorweldigend. Hy het lank aan sy enigste opera gewerk, maar die eerste opvoering as Leonore was ’n mislukking en na twee verwerkings het Fidelio, soos ons die opera vandag ken, in 1814 sy finale beslag gekry, met die ouverture wat vandag daarby gehoor word. Voor die tyd het Beethoven drie *Leonore-ouvertures geskryf, waarvan No 3 sedert Mahler dikwels tussen die twee tonele van bedryf II gespeel word. Die handeling vind plaas in ’n tronk naby Sevilla in die agtiende eeu. Bedryf I. Toneel 1. Die sipier Jacquino (ten) betuig sy liefde aan Marzelline (sop), dogter van die opsigter Rocco (bas). Hy kom binne saam met die kneg Fidelio (sop), wat in werklikheid Leonore, vrou van die gevangene Florestan is, en haar as man vermom het om by haar eggenoot te kom. Rocco sinspeel daarop dat sy dogter en Fidelio gaan trou en daar volg ’n kwartet (Mir ist so wunderbar – Ek voel so vreemd) en ’n aria deur Rocco (Hat man nicht auch Gold beineben – As daar nie ook goud is nie). Fidelio vra of hy saam met Rocco die tronk kan binnegaan en Rocco vertel van ’n spesiale gevangene in eensame opsluiting. I. 2. Die binneplaas. Die bose tronkgoewerneur don Pizarro (bar) daag op en kry ’n brief met die berig dat die minister, don Fernando, op pad is om ondersoek na toestande in die tronk te kom instel. Pizarro wil dadelik van sy gevangene (Florestan) ontslae raak en beveel Rocco om ’n graf te grawe. Fidelio het die gesprek gehoor en vermoed dit is haar man. Sy gee uiting aan haar gevoelens in ’n groot vertoonstuk (Abscheulicher! – Komm Hoffnung – Afskuwelike – Kom, o hoop). Sy oorreed Rocco om die gevangenes op ’n mooi lentedag uit te laat, wat hy doen (koor O welche Lust – O watter vreugde). Pizarro is egter woedend en beveel hom om die gevangenes terug te stuur (koor Leb wohl, du warmes Sonnenschein – Gegroet, warme sonskyn). Bedryf II. Toneel 1. Florestan (ten) lê vasgeketting in ’n donker kerker en sing sy groot aria Gott, welch Dunkel (God, watter duisternis). Hy word flou. Rocco en Fidelio kom om die graf te grawe. Florestan kom by en Fidelio herken sy stem. Dan verskyn Pizarro en haal sy dolk uit, maar Fidelio rig ’n pistool op hom en ’n veraf trompet kondig die aankoms van Fernando aan. Man en vrou sing ’n roerende duo (O namenlose Freude – O naamlose vreugde). II. 2. (Hier word gewoonlik die ouverture *Leonore no 3 gespeel.) Don Fernando (bar) is in die binneplaas en sê hy het gekom om ongeregtighede te ondersoek. Florestan en die ander gevangenes word bevry en die opera eindig met ’n grootse ensemble ter ere van Leonore (Fidelio), oorheers deur die koor (Wer ein holdes Weib errungen – Wie ’n liewe vrou verower het). Pizarro word gearresteer.

Bel canto Mooi sang. Beskryf hoofsaaklik die Italiaanse, liriese legato styl met pragtige stemproduksie, veral in teenstelling tot die deklamatoriese styl.

BELL, WILLIAM HENRY (20 Aug 1873–13 Apr 1946) Suid-Afrikaanse komponis. Bell is in Engeland gebore en het in 1912 na Suid-Afrika gekom as hoof van die SA Musiekkollege en later professor in musiek aan die Universiteit van Kaapstad. Hoewel hy self gekomponeer het, is hy veral bekend om sy werk as leermeester van en yweraar vir sy studente, van wie die belangrikste Hubert *du Plessis, Gideon *Fagan, Blanche *Gerstman en John *Joubert was.

BELLINI, VINCENZO (3 Nov 1801–23 Sept 1835) Italiaanse komponis. Hy was die seun van ’n Siciliaanse orrelis en is met die steun van ’n weldoener na die Konservatorium van Napels. Hy het vroeg reeds die aandag van operadirekteure getrek en verskeie suksesvolle operas gekomponeer waarvan die meeste vandag vergete is. Die eerste groot werk wat nou nog opgevoer word, was *La Sonnambula (1831), wat oral goed ontvang is. Binne tien maande skryf hy *Norma, een van die beroemdste naamrolle in die Italiaanse opera. In 1833 gaan hy vir ’n kort rukkie na Engeland en van daar na Frankryk, waar hy op aanbeveling van Rossini uitgenooi word om ’n opera te komponeer; so ontstaan *I Puritani. Bellini is onverwags oorlede en sy begrafnis was die dag na die eerste opvoering van I Puritani. Die begrafnis was indrukwekkend met ’n mis o.l.v. Rossini en Cherubini, gebaseer op motiewe uit I Puritani en met byna al die soliste uit die opera. In 1876 is hy herbegrawe op sy geboorteplek, Catania in Sicilië.

Bellini het die virtuoos-liriese tradisie van Italiaanse *bel canto-operas, waarvan Rossini en Donizetti die ander belangrike beoefenaars was, afgesluit en met ’n werk soos Norma die meer dramatiese werk van Verdi voorafgegaan. Hy was goed bevriend met Chopin, en daar word soms gesê dat Chopin se klavierstyl in sy meer ornamentele oomblikke beïnvloed is deur Bellini.

OPERA

Norma (160 min) Opera in vier bedrywe. Die eerste opvoering was ’n mislukking, maar Norma het een van die gewildste operas in die repertoire geword. Bedryf I. Die priester Oreveso (bas) lei ’n diens waarin die Galliese Druïdes bid om wraak op die Romeinse besetters. Die Romeinse prokonsul Pollione (ten) vertel sy centurion Flavio (ten) dat hy sy minnares en moeder van sy twee kinders, die hoëpriesteres Norma, wil verlaat ter wille van een van die ander priesteresse, Adalgisa (mezzo). Norma (sop) verskyn en sing die beroemde Casta diva (Reine godin), ’n aanroeping van die maan. Bedryf II. Norma is by haar kinders in die hut waar sy hulle versteek. Adalgisa kom binne en bely dat sy ’n minnaar het. Pollione verskyn en Norma besef hy is Adalgisa se minnaar. Bedryf III. Norma vra Adalgisa om haar kinders na Pollione te neem want sy wil sterf. Adalgisa sê egter dat sy Pollione se liefde verwerp om Norma se ontwil (Mira o Norma – Kyk, o Norma). Bedryf IV. Oreveso spreek die Druïdes toe, maar ten spyte van hul haat jeens die Romeine gehoorsaam hulle Norma se oproep tot vrede. Norma verneem egter dat Pollione hom nie laat beweeg het deur die pleidooie van Adalgisa nie en in woede vuur sy die Druïdes aan tot oorlog (Guerra! Guerra! – Oorlog, oorlog!). Daar moet ’n offer gevind word en Pollione, wat so pas die heiligdom binnegekom het, word aangegryp. Alleen, treiter Norma hom en hy pleit om genade, maar Norma sweer dat sy nou Adalgisa sal laat sterf. Voordat sy hierdie besluit kan bekend maak, is haar berou te groot en sy kondig aan dat sy self die offerande sal wees.

I Puritani (Die Puriteine) (170 min) Opera in drie bedrywe. Hoewel die opera in Engeland afspeel, het die karakters Italiaanse name. Bedryf I. Elvira (sop), dogter van die Puriteinse kommandant, gaan trou met Riccardo (bar), maar sy is eintlik verlief op Arturo (ten), ’n koningsgesinde. Elvira se vader word oorreed om toe te stem tot haar huwelik met Arturo, wat in die vesting verwelkom word al is hy ’n vyand. ’n Gevangene word binnegebring en Arturo besef dit is die koningin, Enrichetta (mezzo), weduwee van die vermoorde koning. Wanneer Elvira speels haar bruidsluier oor Enrichetta se kop hang, besef Arturo dat hy haar met dié vermomming kan red. Hy doen dit, en Elvira glo dat Arturo haar ter wille van ’n ander vrou verlaat het. Bedryf II. Binne die Puriteinse vesting, beleër deur die rojaliste, gee Elvira in ’n groot waansintoneel uiting aan haar verwarring en emosionele skok (Qui la voce – Hier, in sy soete stem). Hoewel Riccardo nog verbitterd is omdat hy Elvira verloor het, oorreed Giorgio (bas) hom om Arturo ter wille van Elvira te gaan soek (Il rival salvar tu puoi – Jy sal jou mededinger kan red). Bedryf III. In ’n skuilplek op die slagveld hoor Arturo Elvira se stem. Hoewel hy op vlug is, sing hy die refrein van die lied en sy sluit by hom aan en hoor sy verduideliking van sy verdwyning. Sy verval tog weer in verwarring en hulle word gevang. Die rojaliste is egter verslaan en ’n algemene amnestie word aan alle gevangenes verleen.

La Sonnambula (Die slaapwandelaar) (130 min) Opera in twee bedrywe. Bedryf I. Toneel 1 Amina (sop), ’n weeskind, gaan trou met ’n ryk jong boer Elvino (ten), op wie Lisa (sop), eienares van die herberg, self verlief is. Terwyl die huwelikskontrak geteken word, verskyn graaf Rodolfo (bas), wat jare weg was en nie herken word nie. Amina sing van haar vreugde (Come per me sereno – Hoe vredig vir my). Die graaf komplimenteer haar en Elvino bars uit in jaloesie (Son geloso del zefiro errante – Ek is jaloers op die briesie). I. 2. Die graaf is in sy kamer in die herberg. Lisa besoek hom, maar vergeet haar sjaal op die sofa wanneer sy vertrek. Amina kom binne: sy loop in haar slaap en die graaf besef sy is die “fantoom” waarvan die hele dorp praat. Hy verlaat die kamer en sy gaan lê en slaap op die sofa waar Lisa en die dorpenaars haar aantref. Elvino glo dat sy hom bedrieg het. Bedryf II. Toneel 1. Die dorpenaars vra die graaf om in te gryp. Elvino kry Amina en vat sy ring terug, al sê die dorpenaars die graaf sal van haar onskuld getuig. II. 2. Elvino het nou besluit om met Lisa te trou. Die graaf verduidelik wat ’n slaapwandelaar is, maar niemand verstaan dit nie. Dan verskyn Amina in die beroemde slaapwandeltoneel. Sy is in lewensgevaar en almal bly stil sodat sy nie wakker skrik en haar doodval nie. Nog aan die slaap sing sy oor haar verlore geluk (Ah! non credea mirarti – Wie sou dit kon glo!). Elvino glo nou wat gebeur het en gee die ring terug en Amina sing ’n vreugdevolle aria met koor (Ah! non giunge uman pensiero! – Menslike denke kan nie begryp nie).

Benedictus Geseënd. Onderdeel van die Sanctus, ’n deel van die *Mis.

Berceuse Wiegelied.

BERG, ALBAN (9 Feb 1885–24 Des 1935) As seun van welgestelde ouers het hy in ’n musiekbewuste huis grootgeword en ’n onbekommerde lewe in Wenen en in die familie se plattelandse verblyf deurgebring. In 1900 sterf sy vader en beland die gesin in geldelike sorge; Berg word ’n staatsamptenaar. In 1904 reël sy ouer broer dat hy musiekles ontvang by *Schoenberg, aanvanklik kosteloos. Danksy ’n erflating kom die gesin finansieel weer op die been. Berg kan uit sy werk bedank en voltydse aandag aan musiek wy.

In 1914 sien hy ’n opvoering van die drama Wozzeck van Georg Büchner en besluit om ’n opera daarop te komponeer. Militêre diens onderbreek sy werk, maar in 1922 is die opera voltooi. Hy sukkel om dit opgevoer te kry, en berei ’n konsertweergawe voor, Drie Fragmente uit Wozzeck, wat in 1924 met groot sukses aangebied word. Op 14 Desember word die opera self in Berlyn opgevoer en dit besorg hom onmiddellik wêreldwye roem.

Intussen het Berg hom tot kamermusiek gewend en ontstaan o.m. die Kammermusik en Lyrische Suite waarin hy met die *twaalftoonsisteem eksperimenteer. Hy wou egter nog ’n opera skryf en in 1928 kry hy die plan om twee stukke van die dramaturg Wedekind saam te vat in Lulu. Sy werk hieraan word onderbreek deur die opdrag om ’n vioolconcerto te skryf. Vier maande nadat hy die concerto voltooi het, sterf Berg a.g.v. ’n infeksie ná ’n insekbyt. Van Lulu was die eerste twee bedrywe voltooi en die derde bedryf ongeveer een derde, met sketse vir die res. Dit is eindelik in 1979 ná die dood van Berg se weduwee deur Friedrich Cerha voltooi.

Berg het ’n onbestendige lewe en ’n ongelukkige loopbaan gehad. Deur die Nazi’s is hy as ’n ontaarde komponis beskou en ironies genoeg het sy vroeë dood hom moontlik van vervolging gered. Sy werke is nie dikwels uitgevoer nie. Nietemin is hy die mees aanvaarde van die Weense komponiste wat rondom Schoenberg en sy twaalftoonskool gewerk het. Hy word vandag veral onthou om Wozzeck en die Vioolconcerto.

OPERA

Wozzeck (90 min) Opera in drie bedrywe. Die ongewone orkestrasie verg ’n militêre orkes, ’n restaurantorkes, hoog gestemde viole, ’n akkordeon, ’n vals staanklavier, ’n bombardon (’n soort bastuba) en ’n kamerorkes. Die sangstyl is die sg. *Sprechstimme en daar is nie juis sprake van arias nie. Bedryf I. Die verhouding tussen Wozzeck (bar) en Marie (sop), en hul buite-egtelike kind, word na vore gebring. ’n Verhouding ontstaan tussen Marie en die tamboer-majoor (ten). Bedryf II. Wozzeck word gehoon oor die verhouding tussen Marie en die tamboer-majoor, en in verskeie tonele word hy in al hoe groter spanning geplaas en eindelik selfs deur die tamboer-majoor geslaan. Bedryf III. Wozzeck vermoor Marie by ’n dam, maar wanneer mense die bloed aan sy hande sien, gaan hy terug na die dam op soek na sy mes. Hy stap in die dam tot hy verdrink.

BERIO, LUCIANO (24 Okt 1925) Italiaanse komponis. Hy het o.m. by *Dallapiccola gestudeer en was aan die hoof van ’n elektroniese ateljee in Milaan. Hy het byna ’n dekade lank in Amerika gedoseer. Hy het ’n sg. collage-styl ontwikkel waarin hy op groot skaal gebruik maak van temas en motiewe uit die werk van ander komponiste.

BERKELEY, LENNOX (12 Mei 1903) Engelse komponis. Hy het onder Nadia Boulanger gestudeer waar hy kennis gemaak het met Stravinsky en Poulenc. Sy musiek is tradisioneel, hoewel hy in later jare deur die serialisme beïnvloed is. Hy het simfoniese werke, concerto’s, kamermusiek en klavierwerke asook ’n groot hoeveelheid vokale musiek, o.m. vier operas, geskryf.

BERLIOZ, HECTOR (11 Des 1803–8 Mrt 1869) Berlioz was die seun van ’n plattelandse dokter wat gehoop het sy seun sou in sy spore volg. Die pa het egter belangstelling in musiek gehad en Berlioz leer fluit speel. Die musiekonderwyser het die seun se talent raakgesien en hom ekstra lesse gegee.

In 1821 gaan hy na Parys om vir dokter te leer, maar musiek bly sy passie. Hy word diep geïmponeer deur die operas van Gluck en skryf na sy ouerhuis dat hy komponis wil word. Dit word met hewige ontsteltenis ontvang. Berlioz se sterk emosionele geaardheid blyk nou reeds. Hy kry dit egter reg om hom by die konservatorium in te skryf en reeds op 22-jarige leeftyd blyk sy sin vir die teatrale deurdat hy ’n uitvoering reël van sy eie Messe solennelle met ’n orkes van 150 lede. Daar was ’n goeie leermeester by die konservatorium, Reich, wat oortuig was van die student se genialiteit.

In September 1827 besoek ’n Engelse toneelgeselskap Parys om Shakespeare op te voer en ’n aktrise met die naam Harriet Smithson speel die rol van Ophelia in Hamlet. Hoewel Berlioz nie ’n woord Engels verstaan nie, is hy in vervoering. Hy raak ook terstond verlief op Smithson, maar sonder enige reaksie van haar. Die geselskap vertrek en Berlioz ontdek in sy studies die simfonieë van Beethoven en Goethe se Faust (in ’n Franse vertaling). Alles ontlok hewige emosionele reaksies. Die Engelse toneelspelers keer terug en hy reël ’n konsert van sy eie werke waarheen hy Smithson uitnooi, maar sy kom nie.

Nou besluit Berlioz om ’n outobiografie in musiek te skryf en hy noem dit ’n *Symphonie fantastique. Ten spyte van die emosionele agtergrond, is hierdie simfonie ’n baken in die musiekgeskiedenis: die *idée fixe, wat Wagner later die *Leitmotiv sou noem, die frase wat met ’n bepaalde emosie of situasie of karakter verbind word en telkens terugkeer, kom vir die eerste keer aan die bod in die Symphonie fantastique.

In 1830 wen Berlioz eindelik die *Prix de Rome. Na sy terugkeer in 1832 is Harriet Smithson en haar Engelse akteurs weer in Parys. Hulle is in ’n finansiële krisis en Berlioz reël ’n konsert om hulle te help. So ontmoet hy Smithson uiteindelik, en in 1833 trou hulle – met die onthulling aan Berlioz dat sy vrou diep in die skuld is. Dit lei tot ongewone werksaamheid by Berlioz. Hy komponeer (vir Paganini) die simfonie vir altviool en orkes Harold en Italie, die opera Benvenuto Cellini en die Requiem. Die opera was ’n mislukking, maar later, in 1838, is daar triomfantelike suksesse met Harold en die Symphonie fantastique.

Hy knoop ’n verhouding aan met Maria Recio, ’n swak sangeres, wie se loopbaan hy probeer bevorder. Hy neem haar saam op reise in die buiteland, maar sy is ’n verleentheid en Harriet se verbittering groei.

In 1844 publiseer hy sy standaardwerk oor orkestrasie, Traite d’Instrumentation, ’n werk wat vandag nog geraadpleeg word. Twee jaar later voltooi hy Le damnation de Faust (Die verdoeming van Faust). Hy maak ontsaglike reklame vir die eerste uitvoering, maar dit is ’n mislukking. Sy haglike finansiële posisie word gered met ’n reis deur Rusland waartydens hy goed verdien met sy konserte.

In 1854 sterf Harriet na ’n lang siekbed en hy trou met Maria Recio. In dieselfde jaar komponeer hy die oratorium L’enfance du Christ (Die kinderdae van Christus) en nog verskeie operas: eers Les Troyens (Die Trojane) en daarna Béatrice et Bénèdict, sy laaste werk. Geeneen was ’n sukses nie. In 1862 sterf Maria en sy laaste sewe jaar verslyt Berlioz deur rond te reis en verskeie liefdesverhoudings aan te knoop, maar hy komponeer niks meer nie. Naas sy musiek het hy sy belangrike handleiding tot orkestrasie en sy Memoirs nagelaat.

Berlioz is soos ’n oordrewe voorstelling van die romantikus. Sy werk het baie dikwels skerp uiteenlopende menings uitgelok. Daar is sommiges wat dit as hipersentimenteel, melodramaties en waardeloos bestempel. Tog het Berlioz ’n aantal merkwaardige werke gekomponeer wat die toets van die tyd deurstaan het. Hy was ’n uitstekende orkestreerder en hoewel hy nie een van die topfigure van sy tyd was nie, kan sy musiek nie geringgeskat word nie. Die Symphonie fantastique, met sy idée fixe, is ’n belangrike vernuwende werk. ’n Sekere oordadigheid kenmerk egter baie van sy werke.

ORKES

Ouverture Le Carnaval Romain op 9 (Die Romeinse karnaval) (9 min) Die werk is gebaseer op temas uit die opera Benvenuto Cellini. Dit begin met ’n lewendige tema in die strykers, gevolg deur ’n tere melodie op die Engelse horing (’n liefdesmotief in die opera), oorgeneem deur strykers. ’n Derde karnavalstem verskyn en die drie temas word vervleg.

Symphonie fantastique op 14 (50 min) Hierdie outobiografiese “Fantastiese simfonie” is geïnspireer deur Berlioz se liefde vir Harriet Smithson en die komponis het ’n *program daarvoor geskryf waarin hy die dramatiese verloop wat nie in besonderhede deur die musiek uitgebeeld kan word nie, verduidelik. I. Réveries – Passions (Drome – Hartstogte) Largo – Allegro agitato e appassionato assai. ’n Jong kunstenaar is smartlik verlief en die vrou word voorgestel deur ’n tema, die sg. idée fixe, wat kort ná die begin van die werk verskyn in die fluit en strykers, en in elke beweging sy opwagting maak. Die tema oorheers hierdie beweging. II. Un bal (’n Bal) Allegro non troppo Die kunstenaar verbeel hom in sy drome dat hy in ’n balsaal is waar hy sy geliefde sien, maar nie kan bereik nie. III. Scène aux champs (Toneel op die platteland) Adagio Die kunstenaar hoor twee herders (Engelse horing en hobo) maar die vredige sfeer word versteur deur die idée fixe: ’n skim van sy geliefde. Eindelik keer die pastorale tema terug. IV. Marche au supplice (Gang na die skavot) Allegretto non troppo In ’n angsdroom is die kunstenaar ter dood veroordeel weens moord op sy geliefde. Hy dink aan haar, maar die skavot onderbreek ru die idée fixe. V. Songe d’une nuit de Sabbat (Droom van ’n heksesabbat) Larghetto – Allegro Die heksesabbat word gehou vir die kunstenaar se begrafnis. Die idée fixe is nou verwring, want die geliefde neem deel aan die orgie. ’n Dies irae klink op en word ten slotte saam met die heksedans gehoor.

BERNSTEIN, LEONARD (25 Aug 1918–14 Okt 1990) Amerikaanse komponis. Hy het gestudeer aan Harvard en die Curtis Institute in Philadelphia. Bernstein het o.m. drie simfonieë, ’n koorwerk Chichester Psalms en ’n Mis gekomponeer, maar is veral beroemd om West Side Story, ’n verbluffende kombinasie van sang en dans, gebaseer op die Romeo en Juliet-verhaal, en ongetwyfeld die belangrikste Amerikaanse musical sedert Gershwin met liedjies soos Tonight, Maria, I feel pretty en Somewhere. Hy was ook ’n beroemde dirigent.

Besyferde bas Sien Continuo.

Bitonaliteit Die gelyktydige aanwesigheid van twee toonaarde.

BIZET, GEORGES (25 Okt 1838–3 Jun 1875) Franse komponis. Hy het uit ’n hoogs musikale familie gestam en vroeg reeds sy talent geopenbaar. Hy het les ontvang by uitstekende leermeesters soos *Halévy, met wie se dogter hy getroud is. As tiener het hy ’n eerste prys gedeel in ’n operette-kompetisie wat Offenbach uitgeskryf het. In 1857 wen hy die *Prix de Rome en in die Italiaanse hoofstad skryf hy o.m. ’n “ode-simfonie”, Vasco da Gama. Na sy terugkeer in 1860 vestig hy hom in Parys as komponis. Hy het ’n gangbare loopbaan gehad, maar geen groot roem verwerf nie. Hy het meer as twintig operas en operettes (sommiges net in een bedryf) gekomponeer en selfs dié onder die vroeës wat vandag nog in geheel of in uittreksels gehoor word, soos Les pêcheurs de perles (Die pêrelvissers) en La jolie fille de Perth (Die mooi meisie van Perth), was geen dawerende suksesse nie.

Hy word gevra om bykomstige musiek te skryf vir Daudet se toneelstuk *L’Arlésienne, maar dit word ook nie goed ontvang nie. Sy laaste werk, die opera *Carmen, word vandag nog beskou as een van die hoogtepunte in die operaliteratuur (en een van die gewildstes), maar die eerste opvoering was ’n fiasko en kort daarna is Bizet oorlede – nog nie 40 nie. Van sy *Simfonie in C, wat hy as sewentienjarige gekomponeer het, het niemand eens geweet voor die manuskrip in 1935 in die biblioteek van die Paryse Konservatorium ontdek is nie.

Bizet was nie ’n diepsinnige komponis wat belangrike vernuwings gebring het nie. Nietemin het hy in sy eie tyd veel meer erkenning verdien. Carmen is waarskynlik die gewildste opera in die repertoire en het selfs aanleiding gegee tot ’n gemoderniseerde weergawe oorgeplaas in ’n swart Amerikaanse gemeenskap met nuwe woorde deur Oscar Hammerstein II en getitel Carmen Jones.

ORKES

L’Arlésienne (Die vrou van Arles) Daar is twee suites gebaseer op die musiek wat Bizet vir Daudet se toneelstuk geskryf het. Die eerste is van die komponis self; die tweede is na sy dood saamgestel en bevat ook dele uit La jolie fille de Perth. Die oorspronklike stuk speel af in die Provence en Bizet het verskeie Provensaalse melodieë daarin verwerk. Die Eerste suite (18 min) bestaan uit vier dele: ’n Prélude (waarin een van die vroeë saxofoonpartye voorkom), ’n Minuetto, ’n Adagietto, een van Bizet se gewildste korter werke, slegs vir die strykers, en ’n Carillon met ’n sterk aanwesige kloktema. Die Tweede suite (18 min) bestaan eweneens uit vier dele, waarvan die laaste, ’n Provensaalse volksdans, die Farandole, populêr is.

Simfonie in C (20 min) ’n Bekoorlike jeugwerk vol herinneringe veral aan Schubert. Dit bestaan uit vier bewegings, die eerste en laaste in die konvensionele sonatevorm, die tweede ’n Adagio en die derde ’n Scherzo en trio.

OPERA

Carmen (160 min) Opera in vier bedrywe, gebaseer op ’n novelle van Mérimée. Dit is oorspronklik as *opéra comique geskryf. Bedryf I. ’n Plein voor ’n sigaretfabriek in Sevilla. Die boeremeisie Micaela (sop) soek na haar kêrel don José (ten), ’n offisier in die wag. Hy is nog nie aan diens nie. Marsjerende kinders boots die omruiling van die wag na (Avec la garde montante – Met die afloswag). Die middaguur breek aan en die fabrieksmeisies kom uit, heel laaste Carmen (mezzo) wat haar flikkers gooi na José met ’n *habañera (L’amour est un oiseau rebelle – Die liefde is soos ’n opstandige voël). Sy gooi ’n roos na José wanneer hulle werk toe teruggaan. Micaela verskyn en José verberg die roos. Hulle sing ’n duo (Parle-moi de ma mère – Vertel my van my ma) en Micaela vertrek. Daar is rumoer in die fabriek: Carmen het iemand met ’n mes gesteek en José arresteer haar. Sy sing ’n *seguidilla met allerlei beloftes (Prés des remparts de Séville – Op die skanse van Sevilla) en José help haar om te ontsnap. Bedryf II. ’n Herberg. Carmen en haar vriendinne dans (Les tringles des sistres tintaient – Die tamboeryne het geklink) en dan verskyn die stiervegter Escamillo (bar). Bewonder deur almal besing hy homself (Votre toast – Jul heildronk). Na sy vertrek wag Carmen op José wat weens sy oortreding self gevange geneem is. Hy het nog steeds die verwelkte roos en betuig sy liefde (La fleur que tu m’avais jetée – Die blom wat jy na my gegooi het). José baklei met ’n luitenant wat die herberg binnekom en is nou deel van die smokkelaarsgroep wat die herberg as kwartier gebruik. Bedryf III. Die smokkelaars se bergkamp. Die smokkelaars verskyn met hul ware op die kranse (Écoute, compagnon – Luister, vriend). Carmen en haar vriendinne lees die toekoms uit kaarte, maar die dood word telkens voorspel (En vain pour éviter les réponses amères – Verniet probeer mens die antwoorde ontken). Micaela verskyn op soek na José (Je dis que rien ne m’épouvante – Ek sê niks maak my bang nie) en kruip weg wanneer Escamillo verskyn en met José slaags raak. Carmen beëindig die bakleiery en nadat Escamillo almal na sy volgende stiergeveg uitgenooi en vertrek het, word Micaela gevind. Sy oorreed José om met haar na sy sterwende moeder te gaan (Moi, je viens te chercher – Ek het jou kom soek), maar hy sê vir Carmen dat hy later sal terugkeer. Bedryf IV. Die arena in Sevilla. Escamillo en Carmen verskyn (Si tu m’aimes – As jy my liefhet). Die stiervegter gaan die arena binne en Carmen wag. José verskyn en pleit by Carmen. Sy weier egter om Escamillo ter wille van hom te verlaat en hy vermoor haar terwyl die toreador se lied triomfantelik in die arena opklink.

BLISS, ARTHUR (2 Aug 1891–27 Mrt 1975) Engelse komponis. Hy het les gekry by Stanford, Vaughan Williams en Holst. Afgesien van drie jaar in die VSA het hy in Engeland gewoon. Hy is veral bekend om sy Music for strings (’n werk vir strykorkes), ’n klavierconcerto, klarinetkwintet en ’n sonate vir altviool en klavier. Hy het ook ’n opera en verskeie ballette en bykomstige musiekwerke geskryf.

BLOCH, ERNEST (24 Jul 1880–15 Jul 1959) Switsers/Amerikaanse komponis. Hy is in Genève gebore en het reeds as jeugdige begin komponeer. In 1915 word hy professor aan die Geneefse Konservatorium, maar die volgende jaar verhuis hy na die VSA waar hy hoof word van sowel die Cleveland Institute of Music as die Konservatorium van San Francisco. Die meeste van sy werke is diep gewortel in die Joodse geloof.

Schelomo (21 min) Die subtitel van hierdie werk is “Hebreeuse rapsodie vir tjello en orkes” en dit gee ’n beeld van Salomo as die denker van die Prediker eerder as die magtige koning in al sy weelde. Volgens Bloch self is die eerste tema ingegee deur die woorde “alles is ydelheid”, maar die sfeer van die musiek verander en gee ’n voorstelling van die praal van Salomo. Die aanvanklike luim keer egter terug en mediterend eindig die werk met ’n uitgerekte lae noot op die tjello. Schelomo is een van die belangrikste twintigste-eeuse werke vir tjello en orkes.

Blokfluit ’n Houtblaasinstrument. ’n Houtblokkie is tussen die snawelvormige mondstuk en die buis aangebring sodat die lugstroom net deur ’n smal spleet kan ontsnap. Dit is een van die oudste instrumente, waarskynlik uit die twaalfde eeu, en populêr tot sowat 1750. In afgelope dekades het dit weer gewild geword, hoofsaaklik omdat dit ’n eenvoudige instrument vir onderrig is.

Blues ’n Jazz-lied met ’n swaarmoedige of onvergenoegde aard, van Amerikaanse Neger-oorsprong en met ’n redelik kenmerkende vorm.

BOCCHERINI, LUIGI (19 Feb 1743–28 Mei 1805) Italiaanse komponis. Hy is in Lucca gebore, maar het die grootste deel van sy lewe in Madrid deurgebring, hoewel hy ’n tyd lank hofkomponis was van Friedrich Wilhelm II van Pruise. Reeds op dertien was hy ’n tjellovirtuoos. Hy het veral vir strykers gekomponeer, o.m. 125 kwintette, 102 kwartette en 60 trio’s. Die bekende Menuet kom uit die Kwintet op 13 no 5. Boccherini is in groot armoede oorlede.

BOIELDIEU, FRANÇOIS (16 Des 1775–8 Okt 1834) Franse komponis. Hy is in Rouen gebore en is later na Parys, waar hy groot sukses behaal het. In 1834 word hy direkteur van die opera in St Petersburg. Na sy terugkeer, agt jaar later, het hy opnuut Paryse gehore verower, o.m. met La dame blanche (Die wit dame), ’n opera waaruit uittreksels vandag nog gehoor word.

BOITO, ARRIGO (24 Feb 1842–10 Jun 1918) Italiaanse komponis en librettis. Hy is in Padua gebore en het in Milaan gestudeer. Van vroeg af is sy aandag verdeel tussen musiek en letterkunde. Op 26 skryf hy die opera *Mefistofele, maar a.g.v. die heftige gevoelens destyds tussen die tradisionaliste en moderniste ontstaan daar sulke onluste dat die polisiehoof die opera afgelas. Eers sewe jaar later is Mefistofele weer opgevoer. Sy tweede opera, Nerone, het hy nie voltooi nie. Boito het ook verskeie libretti geskryf, o.m. Verdi se Otello en Falstaff en Ponchielli se La Gioconda.

OPERA

Mefistofele (140 min) Opera met proloog, vier bedrywe en epiloog. Proloog. Onder die gesang van engele kry Mefistofeles (bas) verlof om Faust tot ’n val te bring. Bedryf I. Frankfurt. Faust (ten) word gevolg deur ’n monnik. In sy studeerkamer besing hy die natuur (Dai campi, dai prati – Van die velde, van die lande). Mefistofeles (bas) verskyn in monnikgewaad en stel homself bekend (Son lo spirito che nega – Ek is die gees wat [altyd alles] negeer). Hulle sluit ’n kontrak waarvolgens Faust sy siel in ruil gee vir Mefistofeles se dienste. Bedryf II. Mefistofeles het gereël dat Faust Margherita (sop) ontmoet, en hy maak haar die hof. Hierna verskyn Mefistofeles en Faust by ’n heksesabbat waar eersgenoemde ’n kristalbal van die aarde bewonder (Ecco il mondo – Hier is die wêreld). Faust het ’n visie van Margherita in die tronk. Bedryf III. Die waansinnige Margherita is daarvan aangekla dat sy haar kind vermoor het (L’altra notto – Nou die aand). Faust verskyn en hulle wil weggaan (Lontano, lontano – Ver, ver), maar Mefistofeles kom in. Margherita smeek om genade en sterwe. ’n Engelekoor sing van haar vergifnis. Bedryf IV. Aan ’n rivieroewer ontmoet Faust vir Helena van Troje (sop), op wie hy verlief raak. Sy vertel hom van die val van Troje. Epiloog. Faust is in sy studeerkamer. Mefistofeles wil hom verlei, maar Faust neem sy Bybel en bid. Hy sterf teen ’n agtergrond van engelekore.

Bolero Spaanse dans in drieslagmaat.

Boogie-woogie Styl van jazz-klavierspel met kenmerkende staccato linkerhand van gebroke akkoorde.

BORODIN, ALEXANDER (12 Nov 1833–27 Feb 1887) Russiese komponis. Hy is in St Petersburg gebore, die buite-egtelike kind van ’n prins en ’n intelligente jong dame, wat hom ’n goeie opvoeding gegee het. Hy het vroeg musiektalent geopenbaar en lesse ontvang, maar besluit om medikus te word. In 1863 trou hy met ’n begaafde pianiste wat hom intiem met die romantiese komponiste laat kennis maak. Die volgende jaar word hy professor in chemie in St Petersburg. Hy het ontwikkel tot ’n vooraanstaande wetenskaplike wat baie gepubliseer en al hoe minder tyd vir musiek gehad het. Daarby was sy vrou sieklik en moes sy later in Moskou gaan woon, wat meegebring het dat Borodin heelwat tyd moes deurbring met reise tussen die twee stede.

Sy vernaamste musikale prikkels het gekom van Balakiref, Moessorgski en later Rimski-Korsakof. Hulle het baie van sy werke afgerond en georkestreer, maar soms ook onnodig verander aan voltooide komposisies. Borodin het die vreugde gesmaak dat heelwat van sy musiek in Europa goed bekend geword het, o.m. deur die bemoeiinge van Liszt en ’n Belgiese gravin, aan wie hy verskeie liedere opgedra het. Hy het plotseling tydens ’n geselligheid van die Mediese Akademie aan ’n hartaanval beswyk. Sy vrou is vyf maande later oorlede.

Ten spyte daarvan dat Borodin ’n amateur was en heelwat werk onvoltooi gelaat het, is hy naas Tsjaikofski seker die vernaamste Russiese komponis van die negentiende eeu en het ’n belangrike bydrae gelewer op die gebied van opera, orkesmusiek, kamermusiek en liedere.

ORKES

In die Steppes van Midde-Asië (7 min) ’n Evokatiewe kort toondig waarin Borodin die uitgestrekte Russiese steppes voorstel, met ’n karavaan wat verskyn en weer in die eindelose verte verdwyn. Swewende viooltone en die gebruik van blaasinstrumente herskep die gees. Hierdie werk is een van die hoogtepunte in die Russiese nasionale musiek.

Simfonie no 2 in B min (28 min) Die eerste uitvoering van hierdie werk in 1877 was geen sukses nie, maar ’n herorkestrasie het gelei tot ’n gelukkiger uitvoering twee jaar later. I. Allegro moderato Die eerste tema word dadelik deur die strykers, later horings en houtblasers gespeel: ’n kragtige, vasberade, sterk Russiese tema. Die tweede tema is teer en liries en word deur die tjello’s ingelei. II. Scherzo: Molto vivace ’n Uitgerekte dissonante toon deur die koperblasers lei die sterk gesinkopeerde eerste tema deur die strykers in; die trio is ’n gevoelvolle tema deur die hobo met begeleiding deur triangel en harp. III. Andante ’n Weemoedige, dromerige beweging waarin die *pentatoniese skaal gebruik word. Blaasinstrumente is belangrik in die Andante. Dit gaan sonder pouse oor in IV. Allegro Na ’n inleiding van sewentien mate word die kordate eerste tema deur die volle orkes gespeel. Die tweede tema, aangekondig deur ’n soloklarinet, is ook lewendig maar nie so onstuimig soos die eerste nie. Die simfonie eindig met ’n lewendige coda van strykers, houtblasers, triangel en tamboeryn.

KAMERMUSIEK

Borodin het twee strykkwartette gekomponeer – ’n vorm wat glad nie in Rusland in swang was nie. (In die negentiende eeu het net Tsjaikofski ook dié vorm beoefen.) Die Kwartet no 2 (29 min) is die bekendste. Dit bestaan uit vier bewegings waarvan die stadige derde, die Notturno (Andante), buitengewoon gewild geword het en aan tallose verwerkings onderwerp is.

OPERA

Prins Igor (Knjaaz Igor) (155 min) Opera met Proloog en vier bedrywe. Borodin het goed twintig jaar daaraan gewerk, maar dit nie voltooi nie: dit is gedoen deur Rimski-Korsakof en Glazoenof, wat die werk ook gedeeltelik georkestreer het. Ouverture (11 min) Dit word dikwels as konsertstuk gespeel. Dit is gebou op temas uit die opera en is sterk ritmies. Die klimaks in die volle orkes is gebaseer op Igor se aria Ni sna. Proloog ’n Plein in die ou stad Poetiwel. Prins Igor (bar) en die Bojare (grondbesitters en howelinge) kom uit die katedraal: die invallende Polowtsers moet verslaan word. Daar is ’n sonsverduistering wat as slegte voorteken deur die skare vertolk word, maar prins Igor gaan voort. Hy neem afskeid van sy vrou, prinses Jaroslafna (sop), en haar broer, prins Galitski (bas-bar). Bedryf I. Toneel 1. Galitski, regent in Igor se afwesigheid, hou ’n losbandige fuifparty. Hy droom van Igor se val. I. 2. Jaroslafna se slaapkamer. Sy is bekommerd omdat sy nog niks van Igor gehoor het nie. Meisies kom binne om te kla oor Galitski se gedrag. Galitski kom self in en pronk dat hy Igor se troon gaan oorneem, maar sy suster dreig hom met hul vader. Bojare bring die nuus dat Igor verslaan en gevange geneem is. Chaos heers wanneer Poetiwel in vlamme staan. Bedryf II. Die Polowtser-kamp. Kontsjakofna (alt), dogter van die Khan, is verlief op die gevange prins Vladimir (ten), seun van Igor. Op haar groot aria (Pridjot li mili moi – Sal my geliefde kom) volg Vladimir se aria (Medlenno den pegasal – Stadig het die daglig verdwyn) en die hartstogtelike duo tussen die twee minnaars (Ljoebiesj li? – Het jy my lief?). Khan Kontsjak (bas), leier van die Polowtsers, bied Igor sy vryheid aan op voorwaarde dat hy belowe om nie verder teen hom te veg nie. Igor weier. Vir Igor se vermaak ontbied die Khan krygers en gevange vroue om te dans en te sing – dit is die Polowtser-danse. Tussendeur sing Igor sy aria (Ni sna, ni otdusja – Geen slaap, geen rus). Bedryf III. (Hierdie bedryf word soms weggelaat omdat dit nie as eg beskou word nie.) Igor ontvlug, maar Vladimir aarsel te lank en word gevang. Die Khan besluit dat Vladimir met sy dogter moet trou. Bedryf IV. Jaroslafna beween haar lot en die verwoeste stad (Akh, olagu ja – Ag, ek ween). Dan sien sy Igor aankom en hulle sing ’n ekstatiese duo (On, moi sokol jasjni – Dis hy, my skitterende valk). In ’n magtige koor huldig die volk hul prins.

BOULANGER, NADIA (16 Sept 1887 –2 Okt 1979) Franse komponis en leermeester. Dit is in laasgenoemde hoedanigheid dat Boulanger beroemd geword het. Haar leerlinge het ingesluit Berkeley, Copland, Harris en Piston. Sy het Monteverdi se madrigale aan die vergetelheid ontruk en gedirigeer en was aktief in die uitvoering (as dirigent) van belangrike eietydse musiek.

BOULEZ, PIERRE (26 Mrt 1925) Franse komponis en dirigent. Hy is in Montbrison gebore en het in Parys gestudeer, o.m. by *Messiaen. Reeds op 21 jaar het hy sy dirigentloopbaan begin en was aan die hoof van verskeie belangrike orkeste. Hy het hom toegespits op twintigste-eeuse musiek, later hoofsaaklik sy eie werke. Hy het verskeie orkeswerke gekomponeer, naas vokale musiek (o.m. Pli selon pli vir sopraan en orkes), kamermusiek, klaviersonates, twee bundels Structures vir twee klaviere, en musiek vir klankband. Hy word beskou as een van die belangrikste twintigste-eeuse komponiste.

Bourrée Franse dans in vierslagmaat.

Botone Behalwe die *grondtoon wat voortgebring word deur ’n instrument, is daar ’n komplekse aantal bykomende tone wat meeklink. Dié wat hoër as die grondtoon lê, word botone genoem.

BRAHMS, JOHANNES (7 Mei 1833–3 Apr 1897) Duitse komponis. Hy is in Hamburg gebore, en selfs sy lang verblyf in Wenen kon nie sy ernstige, selfs stugge Noord-Duitse geaardheid verander nie. Sy pa het die basviool gespeel en wou hê dat Johannes ook as orkesspeler opgelei word. Hoewel die seun verskeie instrumente bemeester het, was sy grootste belangstelling in klavier en so het hy eindelik ’n leerling geword van Eduard Marxen, wat ’n uitgebreide kennis van Bach en Beethoven gehad en ’n enorme invloed op Brahms se ontwikkeling uitgeoefen het. Sy lewe was moeilik en hy moes vir min geld klavier speel in kroeë.

’n Groot deurbraak kom in 1853 toe Brahms as begeleier ’n uitgebreide konsertreis met die vermaarde viool-virtuoos Reményi onderneem en so kennis maak met die violis en dirigent Joseph Joachim, met wie hy sy lewe lank bevriend sou bly en wat veel sou bydra tot die bekendstelling van Brahms se musiek. Reményi het Brahms se belangstelling in sigeunermusiek geprikkel.

Joachim het hom ’n bekendstellingsbrief aan Liszt gegee, maar Brahms het nie goed oor die weg gekom met die “meester van Weimar” nie en het homself (weer op Joachim se aanbeveling) by Schumann aangemeld. ’n Hegte vriendskap tussen hom en die egpaar Robert en Clara Schumann het ontstaan en Schumann het ’n geesdriftige artikel oor die jong Brahms geskryf. Tydens die geestelike ineenstorting van Schumann en ná sy dood in 1856 het Brahms standhoudend by sy vriende gestaan en alles in sy vermoë gedoen om Clara te help en te onderskraag. Hulle sou lewenslank intieme vriende bly, en niemand het ’n groter invloed op Brahms gehad as Clara Schumann nie. Daar was nooit enige aanduiding van meer as ’n platoniese verhouding tussen die twee nie.

Intussen het Brahms al ’n groot aantal werke gekomponeer, hoofsaaklik klavier- en kamermusiek, asook liedere, waarvan baie gepubliseer is. Sy eerste groots opgesette werk was die *Klavierconcerto no 1, waarvan die eerste uitvoering in 1859 ’n mislukking was. Brahms is hierna na Wenen waar hy o.m. dirigent van die Weense Singakademie en later van die koor van die Gesellschaft der Musikfreunde was. Hy het heelwat gereis, maar Wenen was nou sy woon- en werksentrum. Eintlik teen sy sin is hy as model van die “klassieke” komponis in die styl van Beethoven voorgehou teenoor die “moderne” Liszt en Wagner; gevoelens oor hierdie gewaande botsing het hoog geloop.

Brahms het standhoudend gekomponeer, nog steeds werk van meer intieme aard (solo-instrument en -stem, kamermusiek). Die uitvoering van die byna volledige *Ein deutsches Requiem in 1868 was ’n groot sukses, met Joachim en Clara Schumann albei in die gehoor. Hy het ook twee serenades vir orkes geskryf. Intussen het hy stadig gewerk aan sy *Simfonie no 1, wat eers in 1876 uitgevoer is.

Sy uiterlike lewensloop was nie merkwaardig nie. Hy het rustig gewerk, ’n groot verskeidenheid werke gekomponeer, en heelwat gereis en konserte gegee. ’n Tydelike breuk in sy vriendskap met Joachim is herstel danksy die *Dubbelconcerto vir viool en altviool, later gevolg deur die *Vioolconcerto.

Die dood van Clara Schumann in 1896 was vir hom ’n groot slag, vererger deur die feit dat hy weens ’n misverstand nie betyds was vir haar begrafnis nie. Hy was toe self al siek aan ’n lewerkwaal waaraan hy minder as ’n jaar later beswyk het. Hy is in Wenen begrawe langs Beethoven en Schubert. Dvořák was een van die draers.

Brahms was ’n streng formele komponis met sy wortels in die klassieke tradisie. Hans von Bülow het gepraat van die drie B’s: Bach, Beethoven en Brahms. Dit beteken egter nie dat hy ’n tradisionalis of ’n epigoon was nie. Al is sy Simfonie no 1 skertsend Beethoven se Tiende genoem, is daar belangrike verskille tussen die twee. Sy werk is oor die algemeen ernstig, diepsinnig en gedrae, maar het ook voortreflike ligte oomblikke soos die walse, Hongaarse danse en talle verwerkings van Duitse volksliedere. Brahms het bykans in elke vorm en vir elke instrument of groep gekomponeer. Alleen die opera het hy nooit aangepak nie.

ORKES

Ouvertures Brahms het twee ouvertures gekomponeer, waarvan die Tragiese ouverture minder gehoor word.

Akademiese feesouverture op 80 (11 min) Die werk is gekomponeer na aanleiding van die toekenning van ’n eredoktorsgraad aan Brahms deur die Universiteit van Breslau. Die komponis het dit beskryf as ’n “vrolike potpourri van studenteliedere”, maar dit is natuurlik meer. In hierdie lewendige werk kan mens o.m. die wysie herken van ’n Duitse liedjie wat by ons bekend geword het as “Wat maak oom Kalie daar”, en die werk eindig met ’n triomfantelik-simfoniese bewerking van die tradisionele studentelied Gaudeamus igitur.

Tragiese ouverture op 81 (14 min) Die werk, wat nie vir enige spesifieke drama bedoel was nie, begin met twee akkoorde en ’n breë melodie, waarop die ouverture gebou is. ’n Tweede tema is enigsins meer lighartig. Die werk is in sonatevorm.

Simfonieë Brahms het lank gewag voordat hy met simfonieë begin het. Hy was 43 toe die Simfonie no 1 uitgevoer is, maar daarna het dit vinniger gegaan en No 4 is nege jaar later voltooi. Die vier simfonieë van Brahms is van die belangrikste en gewildste in die repertoire. In teenstelling tot Beethoven se simfonieë kan mens nie ’n “ontwikkelingsgang” van die komponis daarin sien nie. Sy styl het al ’n eie stempel gehad en die simfonieë verteenwoordig eintlik die kroon op Brahms se orkesmusiek. Brahms het hom baie deeglik voorberei op sy simfoniese skepping met voorafgaande werke soos o.m. die *Variasies op ’n Tema van Haydn, *Ein deutsches Requiem en die *Klavierconcerto no 1.

Simfonie no 1 in C min op 67 (44 min) Hierdie werk klink in sekere opsigte soos ’n voortsetting van Beethoven se simfonieë. Veral die laaste beweging herinner sterk aan die slot van Beethoven se Simfonie no 9. I. Un poco sostenuto – Allegro Met tromslae begin die inleiding – gedrae musiek met singende viole. Die inleiding word verder in die beweging gebruik. Die eerste tema is passievol en meesleurend, die tweede meer bruusk. II. Andante sostenuto ’n Pragtige, melodieryke beweging waarvan die weemoedige aard byna passievol deur die strykers verklank word en eindig met ’n pragtige vioolsolo. III. Un poco allegretto e grazioso Dit is in scherzo-vorm, maar glad nie in Beethoven se styl nie. Dit is ’n grasievolle, ryklik melodieuse beweging waarin die klarinet ’n belangrike rol speel. IV. Adagio – Più andante – Allegro non troppo Herinneringe uit die eerste beweging kom na vore en ’n pragtige horinggeskal, aangevul deur fagotte en trombone, lei tot ’n majestueuse marsagtige koraal deur die strykers.

Simfonie no 2 in D, op 73 (40 min) Sommige skrywers, steeds behep met die Beethoven-voortsetting, noem hierdie werk Brahms se “Pastorale” simfonie. Dit is net ’n jaar na Simfonie no 1 voltooi. I. Allegro non troppo Na enkele note in diep strykers, volg ’n horingroep wat dadelik die landelike sfeer optower; die stemming word behou in die tweede tema (altviole en tjello’s). Die chromatiek van die dromerige coda laat mens besef dat die afstand tussen Brahms en Wagner tog nie so groot was nie. II. Adagio non troppo Nie so vredig en landelik nie. ’n Nogal sombere dubbeltema deur tjello’s en fagotte open die deel en na ’n kort fugato bring ’n gesinkopeerde dansdeel afwisseling, maar die somber stemming keer terug. III. Allegretto grazioso Nie heeltemal ’n scherzo nie, maar weer ’n landelike sfeer met hobo’s en pizzicato tjello’s wat die hoofrol speel. IV. Allegro con spirito ’n Opgeruimde beweging met ’n nogal konvensionele eerste tema gevolg deur ’n ingetoë mars wat ’n verwantskap toon met die slot van Simfonie no 1. ’n Pragtige klimaks bring die simfonie tot ’n einde.

Simfonie no 3 in F op 90 (32 min) Aanvanklik is daar, in die geloof dat Brahms Beethoven in alle opsigte opvolg, geprobeer om hierdie simfonie Brahms se Eroica te noem, maar geen ooreenkoms of vergelyking met Beethoven se Derde is moontlik nie. Die simfonie is gebaseer op die note-motto F-A-F (Frei aber froh – Vry maar vrolik); soms word die A A-mol. I. Allegro con brio Nadat die motto gehoor is, speel die viole ’n ritmies versteurde eerste tema. Die tweede tema herinner aan Wagner se *Tannhäuser. II. Andante semplice Blaasinstrumente skep ’n pastorale sfeer; daar is in die klarinet ’n herinnering aan die motto. III. Poco allegretto ’n Elegiese melodie in die tjello’s staan in kontras met ritmiese dansfigure van die viole en altviole. Die beweging het ’n volksliedagtige aard. IV. Allegro ’n Stormagtige eerste tema, wat baie veranderinge ondergaan, lei tot ’n kalmer coda en aan die slot word, na die F-A-F-motto, die eerste tema van die eerste beweging teruggebring wat ’n eenheid aan die werk verleen.

Simfonie no 4 in E min op 98 (43 min) ’n Herfssimfonie, is hierdie werk al genoem. Dit het ’n statige gang, soos ’n breë rivier, rustig en kalm. I. Allegro non troppo ’n Pragtige, liriese beweging met ’n hooftema wat unisono klink en herinner aan ’n oomblik uit die stadige beweging van Beethoven se *Hammerklavier-sonate. Die tweede tema is forser en die beweging eindig sterk met trompette en pouke. II. Andante moderato Die horing blaas ’n antieke melodie wat deur ander instrumente oorgeneem word; dit herinner aan ’n Middeleeuse ballade, en die klanke verdwyn in die verte. III. Allegro giocoso ’n Robuuste beweging in die scherzo-gees maar nie in die vorm nie; trouens, dit is in beknopte sonate-vorm. IV. Allegro energico e passionato ’n Magistrale *chaconne, gegrond op ’n chromaties gewysigde vorm van die ciacona uit Bach se Kantate no 150. Die tema bestaan uit agt note, elk ’n volle maat lank, en daarop volg 30 variasies, elk, soos die tema, agt mate lank. Dit is een van Brahms se mees manjifieke konstruksies.

Variasies op ’n Tema van Haydn op 56a (17 min) Die tema vir hierdie stel variasies kom uit ’n Divertimento vir blasers van Haydn wat bekend staan as die St Antonius-koraal. Dit was Brahms se eerste groots opgesette werk vir die orkes. Daar is agt variasies met ’n coda in die vorm van ’n *passacaglia. Brahms het die komposisie ook vir twee klaviere verwerk (op 56b).

SOLO EN ORKES

Brahms het twee klavierconcerto’s, ’n vioolconcerto en ’n dubbelconcerto vir viool en tjello gekomponeer. Al vier is vandag nog standaardwerke in die repertoire van die verskillende soliste.

Dubbelconcerto vir viool en tjello in A min op 102 (35 min) Dit is Brahms se laaste werk in die concerto-vorm en het gehelp om ’n versoening te bewerkstellig tussen hom en sy ou vriend Joseph Joachim. Aanvanklik was die openbare reaksie terughoudend, maar in die twintigste eeu het die Dubbelconcerto gewild geword. I. Allegro Na ’n kort orkesinleiding speel die twee solo’s ’n kort onbegeleide passasie en hierna stel die orkes in ’n uitgebreide seksie die tematiese materiaal van die beweging bekend. II. Andante ’n Liriese beweging wat mens aan ’n kunslied laat dink. Die soliste speel die melodie in oktawe en die sangerige tema word ook in omgekeerde vorm aangebied. III. Vivace non troppo ’n Opgewekte rondo in ’n lewendige dansvorm, vol vernuftige tussenwerking van die drie hooftemas. Volle geleentheid word hier aan die virtuositeit van die soliste gegee.

Klavierconcerto no 1 in D min op 15 (50 min) Dit was Brahms se eerste groots opgesette werk van simfoniese omvang. Dit het ’n lang ontstaansgeskiedenis gehad en was nie ’n sukses met die eerste uitvoering nie. I. Maestoso Dramatiese orkesakkoorde lui die concerto in, ’n byna omgekeerde weergawe van die begin van Beethoven se *Concerto no 3. Trillers in orkes en klavier verleen ’n verdere gevoel van beangstiging. Die tweede tema is in betowerende liriese toon. II. Adagio Die stadige beweging kan beskou word as ’n huldeblyk aan Brahms se gestorwe vriend Schumann. Twee pragtige temas word onderskeidelik deur gedempte strykers en klarinette aangekondig en liries ontwikkel. III. Allegro non troppo Die rondo staan in skerp teenstelling tot die eerste beweging en toon Hongaarse invloed.

Klavierconcerto no 2 in B-mol op 83 (52 min) Die werk is twintig jaar ná die Concerto no 1 voltooi en is een van die langste en indrukwekkendste werke in die repertoire. Dit bestaan uit vier bewegings, ongewoon in ’n concerto. I. Allegro non troppo ’n Groter teenstelling as dié tussen die begin van hierdie concerto en sy voorganger kan mens jou nouliks voorstel. ’n Byna weemoedige, vraende inset deur die horing ontlok ’n ewe liriese reaksie aan die klavier en ’n idilliese vredigheid oorheers die beweging. II. Allegro appassionato ’n Scherzo, in geen maklik omskryfbare vorm nie, maar vol melodieë en lewendigheid. III. Andante Een van Brahms se lieflikste skeppings. Die beweging begin met ’n pragtige melodie gespeel deur ’n solotjello waarby die klavier later aansluit. Die musiek is oënskynlik improviserend, maar is besonder heg gebou. IV. Allegretto grazioso ’n Lighartige slot vir ’n meesterstuk, met herinneringe aan sigeunermusiek.

Vioolconcerto in D op 77 (41 min) Brahms se openbare musieklewe het saam met die violis Reményi begin en later was hy bevriend met Joachim. Hy sou dus aangetrokke wees tot die viool, maar op sy eie ingewikkelde manier, wat daartoe gelei het dat hierdie concerto indertyd ’n concerto téén die viool genoem is. I. Allegro ma non troppo Die twee hooftemas word gou gekonstateer deur onderskeidelik die strykers en die hobo’s; dan maak die solis met ’n passievolle uitbarsting sy intrede en ’n lang beweging van sowat 23 minute ontgin al die moontlikhede van musiek en instrument. II. Adagio ’n Liriese beweging, melodieryk en pastoraal in aanvanklike stemming. Die soloviool speel ornamentasies rondom die melodie van die hooftema wat deur die hobo ingelei word. III. Allegro giocoso ma non troppo vivace Dit is seker die langste tempo-aanwysing wat Brahms in ’n simfoniese werk gegee het en moet derhalwe noukeurig gevolg word. ’n Eg Hongaarse rondo met dubbelgrepe vir die viool en vol vindingryke wisselinge van die twee temas.

KAMERMUSIEK

Brahms het ’n aansienlike hoeveelheid kamermusiek geskryf, hoewel nie naastenby soveel soos Mozart of Beethoven nie. Daar is twee stryksekstette, drie strykkwintette, drie strykkwartette, twee klavierkwartette, drie klaviertrio’s, twee klarinetsonates, twee tjellosonates en drie vioolsonates. Daar is ook ’n horingtrio en ’n klaviertrio. Die twee werke wat egter die meeste gehoor word, is die kwintette vir vier strykers plus ’n ander instrument.

Klarinetkwintet in B min op 115 (37 min) I. Allegro Eers nadat die strykers die inleiding gespeel het, laat die klarinet die eerste note klink in ’n werk van skone melancholie. II. Adagio Die beweging het net een tema en die klarinet en ’n soloviool speel dit om die beurt. III. Andantino Die lighartigste beweging van die kwintet, met ’n melodie wat herinner aan die derde beweging van die Simfonie no 1. IV. Con moto Dit is ’n stel variasies, soos in Mozart se Klarinetkwintet.

Klavierkwintet in F min op 34 (44 min) Dit het ’n lang ontstaansgeskiedenis gehad, en die kwintet is die derde vorm waarin Brahms sy materiaal gegiet het. Dit is dalk daarom dat dit ’n heel ingewikkelde werk is met ’n baie ryk verskeidenheid temas. Met hierdie kwintet beweeg Brahms duidelik weg van die romantiek, meer na die wêreld van Beethoven en selfs vroeëre klassieke meesters.

KLAVIER VIER HANDE

Die skryf van musiek vir klavier vier hande het in die tweede helfte van die negentiende eeu baie gewild geword, en die werke is dikwels in private huise gespeel. Brahms het die meeste van sy simfoniese werke ook getranskribeer vir vier hande.

Hongaarse danse (50 min) Die 21 Hongaarse danse is in twee bande gepubliseer, onderskeidelik in 1869 en 1880. Hulle het Brahms beroemd gemaak. Hulle word vandag meestal gehoor in verwerkings vir klaviersolo of orkes. Die danse is gebaseer op egte sigeunerdeuntjies en Brahms het beter as enige ander komponis (met inbegrip van Liszt) daarin geslaag om die egte sigeunersfeer in formele musiek te herskep.

Walse op 39 (16 min) Die sestien walse is in 1865 uitgegee en Brahms het hulle skertsend beskryf as “twee boekies met onskuldige klein walsies in Schubertiaanse vorm”. Die walse word dikwels deur ’n solis uitgevoer, maar daardeur verloor hulle baie rykdom aan harmonisering. Die walse is meestal Weens of Oostenryks van stemming, maar in enkeles breek ’n Hongaarse sfeer deur.

KLAVIERSOLO

Brahms het sy bestaan aanvanklik gemaak deur klavier te speel en het in baie gevalle in later jare sy eie klavierwerke die eerste keer uitgevoer. Clara Schumann, self ’n virtuoos, het sy spel bewonder.

Brahms het ’n aansienlike hoeveelheid werke vir die klavier gekomponeer. Afgesien van drie sonates (almal vroeë werke) is daar ’n groot aantal korter stukke: vyf ballades, agtien intermezzi, sewe capriccio’s, drie rapsodieë, een scherzo en een romanze, wat van sy pragtigste musiek bevat.

Die titels is egter, so wil dit voorkom, willekeurig aan die stukke gegee, en berus meer op lengte as iets anders. So word die langste werke Rapsodieë genoem, dié wat iets korter is, Ballades, en dan word die titels Intermezzo, Capriccio en Romanze aan korter stukke toegeken, sonder enige klaarblyklike verband tussen die musiek en die betekenis wat tradisioneel aan sulke titels geheg word. Met die uitsondering van die twee Rapsodieë op 79 en die drie Intermezzo’s op 117 is hulle ook nie as groepe saam uitgegee nie. Die Klavierstücke op 76 bevat vier Capriccio’s en vier Intermezzo’s, die Fantasien op 116 drie Capriccio’s en vier Intermezzo’s, die Klavierstücke op 118 vier Intermezzo’s, een Romanze en een Ballade en die Klavierstücke op 119 drie Intermezzo’s en een Rapsodie. Al hierdie werke verskyn gereeld op die programme van konsertpianiste.

Daar is ook twee stelle variasies wat beroemde konsertitems geword het.

Variasies en fuga op ’n tema van Handel in B-mol op 24 (24 min) Dit is Brahms se meesterwerk in die variasievorm. Die tema is ’n aria uit Leçon van Handel (geskryf vir die kinders van die destydse Prins van Wallis). Hierop het Brahms 25 vindingryke variasies geskryf, in ’n werk van simfoniese omvang, afgesluit met ’n magistrale fuga waarin elke moontlikheid van hierdie vorm uitgebuit word.

Variasies op ’n tema van Paganini in A min op 36 (24 min) Dertig variasies op ’n tema van Paganini wat slegs uit een maat bestaan en die tema van ’n stel variasies deur Paganini self is. Dit is besonder tegnies van aard, en Brahms spits elke variasie toe op ’n spesifieke tegniese klavierprobleem. Die tema (die laaste van ’n stel van 24 Caprices) is ook die basis van Rachmaninoff se *Rapsodie op ’n tema van Paganini.

VOKAAL

Brahms het ’n groot aantal koorwerke geskryf, sommiges spesifiek vir manne- en vrouekoor. Hy was lank betrokke by koormusiek in Wenen en het ook baie geskryf vir amateurgroepe.

Alt-rapsodie op 53 (14 min) Hierdie werk vir altsolo, mannekoor en orkes het as teks Goethe se gedig Harzreise im Winter (Winterreis deur die Harzberge). Die gedig handel oor ’n jong man wat uit ’n staat van wanhoop beweeg tot berusting. Die rapsodie is gekomponeer vir Julie, die dogter van Clara Schumann.

Ein deutsches Requiem op 45 (70 min) Hierdie werk is uniek in sy konsepsie en in sy aanpassing van die tradisionele *Requiem tot ’n Protestantse vorm. Dit is ’n indrukwekkende komposisie vir sopraan (een solo), bas (twee solo’s), koor en orkes. Die sewedelige werk het oor ’n tydperk van sowat tien jaar ontstaan en die sopraansolo in deel vyf is eerste geskryf, ná die dood van Brahms se moeder. Die werk is op Bybeltekste (met inbegrip van die apokriewe boeke) gegrond. I. Selig sind die da Leid tragen (Geseënd is dié wat treur, Matt 5:4, Ps 126:5, 6), koor. II. Denn alles Fleisch, es ist wie Gras (Die mens is soos gras, 1 Pet 1:24, Jak 5:7, 1 Pet 1:25, Jes 35:10), koor. III. Herr, lehre doch mich (Maak tog aan my bekend, Ps 39:5-8, Wysheid van Salomo 3:1 – apokrief), bas. IV. Wie lieblich sind deine Wohnungen (Hoe lief het ek u woning, Ps 84:1-2, 4), koor. V. Ihr habt nun Traurigkeit (Net so is julle ook nou bedroef, Joh 16:22, Jes 66:13), sopraan. VI. Denn wir haben hier keine bleibende Statt (Want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, Heb 13:14, 1 Kor 15:51-22, 54-55, Op 4:11), bas. VII. Selig sind die Toten (Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe, Op 14:13), koor.

Liebeslieder-Walzer Daar is twee boeke: die eerste, op 52 (23 min), dateer uit 1869 en die tweede, op 65 (19 min), uit 1874; lg. word ook die Neue Liebeslieder genoem. Die twee boeke tesame bevat 33 kort sangfragmente wat in tydsduur wissel van 45 sekondes tot iets meer as twee minute en is vir sopraan, alt, tenoor, bariton en twee klaviere. Dit is gebaseer op tekste uit Polydora, ’n bloemlesing vertaalde gedigte uit verskillende tale soos Serwies, Pools, Russies, ens. Van die walse, bv. Am Donaustrande (Op die Donau-oewer) of Nicht wandle mein Licht (Moenie wegdwaal, beminde) uit boek 1, klink so Weens soos Schubert.

Liedere Brahms was een van die groot liederkomponiste van die negentiende eeu. Hy het reeds op 21-jarige leeftyd sy eerste liedere gepubliseer en oor ’n periode van 42 jaar vir solostem 187 liedere plus twee siklusse van negentien liedere altesaam en vir stemduo twintig liedere gekomponeer. Baie van sy liedere is in die standaardrepertoire van liedersangers, soos Auf dem Kirchhofe (In die kerkhof), Feldeinsamkeit (Veldeensaamheid), Geistliches Wiegenlied (Jesus-wiegelied, met altviool-obligaat), Immer leiser wird mein Schlummer (My sluimeringe word al sagter), In Waldeinsamkeit (In die woudeensaamheid), Die Mainacht (Die Meinag), O kühler Wald (O koele woud), O wüsst ich doch den Weg zurück (Ag, het ek maar die pad terug geken), Sapphische Ode (Sapfiese ode), Von ewiger Liebe (Oor die ewige liefde) en Wie Melodien zieht es mir (Soos melodieë beweeg dit my), om maar enkele van die bekendstes te noem. Daarby het hy ’n groot aantal Sigeunerliedere en Duitse volksliedere verwerk.

Sy twee siklusse is Die schöne Magelone (15 “romanses”) en Vier ernste Gesänge op 121 (Vier gewyde liedere) (18 min). Hierdie vier liedere was Brahms se laaste vokale werk en word deur baie as die kroon op sy liederskat beskou. Die liedere is gebaseer op Bybeltekste en hul titels is Denn es gehet dem Menschen (Een en dieselfde lot, Pred 3:19-22), Ich wandte mich (Verder het ek ook nog, Pred 4:1-3), O Tod, wie bitter bist du (O dood, hoe bitter is jy, Jesus Sirach, apokrief) en Wenn ich mit Menschen und mit Engelzungen reden (Al praat ek die tale van mense en engele, 1 Kor 13:1-3, 12-13).

Bravura Skittering, spoggerigheid.

BRIDGE, FRANK (26 Feb 1879–10 Jan 1941) Engelse komponis. Hy het aanvanklik in die tipies Engelse styl van Bax, Delius e.a. gekomponeer, maar na die Eerste Wêreldoorlog ’n veel strakker, persoonlike styl ontwikkel. Hy was ook die leermeester van Britten, wat baie gedoen het om sy musiek bekend te stel. Bridge het hoofsaaklik orkeswerke, kamer- en klaviermusiek en liedere gekomponeer.

Brindisi Drinklied, heildronk.

Brio Geesdrif, vurigheid.

BRITTEN, BENJAMIN (22 Nov 1913 –4 Des 1976) Engelse komponis. Hy is in Brighton gebore en het vroeg reeds blyke van sy talent gegee. Sy eerste gepubliseerde werk, Sinfonietta, is in 1932 geskryf, toe hy nog student was. Twee jaar later komponeer hy A simple symphony, wat nog steeds ’n gewilde item op die orkesprogram is. In 1937 trek hy internasionale aandag toe sy Variations on a theme of Frank Bridge in Salzburg uitgevoer word. In 1939 vertrek hy met sy lewenslange vriend en medewerker, die tenoor Peter Pears, na die VSA. Daar het die Bostonse dirigent en kampvegter vir eietydse musiek Serge Koussevitsky hom opdrag gegee om die opera *Peter Grimes te skryf. Dit is in 1945 opgevoer en was onmiddellik ’n internasionale sukses. Dit was sy eerste werk in die tradisie van die Britse volksopera.

Hierna het die een sukses op die ander gevolg. Hy was die grondlegger van die Aldeburgh Festival (die dorpie waar hy gewoon het), wat sedert 1948 gereeld gehou is en grotendeels om Britten gewentel het. Hy was gemoeid met amateurs, kinders (bv. Let’s make an opera) en opvoeding in die algemeen (*The young person’s guide to the orchestra). Hoewel sy instrumentale musiek nie onderskat moet word nie, is Britten veral om sy vokale musiek bekend: talle koorwerke, liedere, verwerkings van volksliedjies en bowenal dertien operas wat, naas Peter Grimes, bekende werke insluit soos The rape of Lucretia, Albert Herring, Billy Budd, The turn of the screw en Death in Venice. Hy was ook ’n uitstekende uitvoerende kunstenaar wat opgetree het as pianis, begeleier en dirigent. As pianis het hy groot naam gemaak as vertolker van veral Mozart en Schubert. Hy is tot die adelstand verhef en het die titel Lord Britten of Aldeburgh aangeneem.

Naas Purcell is Benjamin Britten seker die belangrikste Britse komponis. Sy werk is diepsinniger as Elgar s’n en bestryk ’n breër gebied as dié van Holst of Delius. Britten het feitlik in al die musiekvorme gekomponeer. Vir Suid-Afrikaners is dit interessant dat die teks van sy opera Gloriana geskryf is deur die in Pietersburg gebore digter William Plomer, terwyl die sopraan Betsy de la Porte opgetree het in die eerste opvoering van Albert Herring.

Britten het aktief oor ’n periode van meer as 40 jaar ’n uitgebreide reeks komposisies gelewer: orkesmusiek, concerto’s, liedere vir stem met orkes en klavier en, veral vroeër jare, baie bykomstige musiek vir films en hoorspele, klavierwerke (verbasend min vir ’n pianis), kerkmusiek, koorwerke, operas en ’n ballet.

ORKES

Sea interludes op 33a (16 min) en Passacaglia op 33b (7 min) Dit is tussenspele uit die opera *Peter Grimes wat as konsertstukke aangebied word. Die eerste drie tussenspele is in die volgorde soos in die opera, maar die vierde is uit sy normale posisie. I. Dawn Na die kort proloog volg hierdie tussenspel voor Bedryf I; dit roep seevoëls voor die gees. II. Sunday morning Die voorspel tot Bedryf II van die opera, met die gebeier van kerkklokke. III. Moonlight Voorspel tot bedryf III: ’n sombere werk wat die sfeer van die bedryf weergee waarin Grimes selfmoord pleeg. IV. Storm Die musiek kom in Bedryf I voor. Die stormagtige gedeelte bring die vier tussenspele tot ’n kragtige klimaks. Die Passacaglia, wat meestal saam met die tussenspele uitgevoer word, kom voor in Bedryf II. Britten het egter nie spesifiek bedoel dat dit saam met die ander uitgevoer word nie; die Passacaglia is ook op 33b, terwyl die Preludes op 33a is.

Sinfonia da requiem op 20 (20 min) Die Sinfonia is ter herinnering aan die komponis se ouers, maar in der waarheid is dit oorspronklik deur die Japanse regering aangevra ter ere van die tweeduisendste herdenking van die Mikado se dinastie. Die Japannese het dit egter verwerp vanweë die Roomse aard daarvan. I. Lacrymosa: Andante ’n Klaaglied in drie hoofmotiewe en met D as grondtoon. ’n Lang crescendo lei tot ’n magtige klimaks wat oorgaan tot II. Dies irae: Allegro con fuoco ’n Dodedans vol klimakse, afgewissel met rustiger gedeeltes. III. Requiem aeternam: Andante piacevole Inderdaad soos die “ewige rus” is hierdie vloeiende beweging na die voorafgaande heftiges. Rustige fluittone bo ’n harppatroon word onderbreek deur ’n liriese passasie deur die strykers; die eerste melodie word weer gehoor en die werk sluit af met ’n pragtige uitgerekte klarinettoon.

The young person’s guide to the orchestra op 34 (16 min) Hierdie verduideliking van die samestelling van ’n simfonie-orkes is in 1956 vir ’n film geskryf in opdrag van die Britse Departement van Onderwys. Dit neem die vorm aan van ’n stel variasies en fuga op ’n tema van Purcell. Die werk begin met die tema, eers gespeel deur die volle orkes en dan deur die vier instrumentfamilies: houtblasers, koperblasers, strykers en slagwerk. Nadat die volle orkes weer die tema gespeel het, volg dertien variasies waarin die individuele instrumente elk apart optree en die kenmerkende eienskappe van elk duidelik gedemonstreer word. Dan volg ’n fuga waarin die orkes weer in die omgekeerde orde “aanmekaargesit” word. Soms gaan die uitvoering vergesel van gesproke kommentaar.

VOKAAL

War requiem op 66 (85 min) Hierdie werk, in 1961 gekomponeer, is ’n kombinasie van die liturgiese Latynse *Requiem en ’n aantal gedigte van Wilfred Owen, ’n Engelse digter wat in die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel en merkwaardige oorlogsgedigte nagelaat het. Die War requiem is vir sopraan, tenoor en bariton met ’n seunskoor, ’n gemengde koor en simfonie-orkes. Soms word by die interpolerende gedigte van Owen ’n aparte kamerorkes met sy eie dirigent gebruik. Daar bestaan teenstrydige oordele oor hierdie werk.

OPERA

Peter Grimes Opera met proloog en drie bedrywe (145 min). Proloog. Ná ’n ondersoek na die dood van ’n leerjonge van Peter Grimes (ten), ’n nors en eensame visser, word Grimes vrygespreek. Bedryf I. Grimes het ’n helper op sy boot nodig. Keene (bar) vertel dat ’n weeskind beskikbaar is; die weduwee Ellen (sop) gaan haal die seun en verskyn met hom na die tussenspel. Bedryf II. Toneel 1. Sondagoggend. Ellen kom op die strand en sing een van die weinige arias (Glitter of waves). Sy sien dat die leerjonge beseer is en na ’n rusie met Grimes klap hy haar. Die kerkgangers gaan na Grimes se huis om die saak te ondersoek. II. 2. Grimes se huis bo-op ’n krans. Hy stuur sy leerjonge uit en waarsku hom teen die krans, maar ’n kreet beteken dat die seun hom doodgeval het. Nou daag die kerkgangers op en vind niks; hulle vertrek weer, maar kapt. Balstrode (bar) volg die visser. Bedryf III. Toneel 1. Kommer oor die veiligheid van die leerjonge ontketen ’n jag onder die dorpenaars. III. 2. Op die strand loop Grimes rond in die mis, kennelik van sy sinne. Balstrode neem hom na sy boot en sê hy moet na die diepsee vaar. Iemand sien ’n bootjie in die verte, maar niemand doen enigiets nie.

BRUCH, MAX (6 Jan 1838–2 Okt 1920) Duitse komponis. Hy is in Keulen gebore en het vroeg reeds musiekles gekry. Aanvanklik (1862-92) dirigeer hy in verskeie stede in Duitsland asook in Liverpool, en daarna word hy professor in komposisie in Berlyn. Hy het eregrade van die Universiteite van Cambridge, Breslau en Berlyn ontvang. In 1910 tree hy af en bly woon in Berlyn tot sy dood.

In sy tyd was Bruch veral beroemd om sy werke vir koor en orkes, vandag vergete. Hy het drie simfonieë, drie vioolconcerto’s en talle ander werke vir solo en orkes, kamermusiek, klavierwerke, sestien groots opgesette koorwerke, liedere en drie operas gekomponeer. Hy is eintlik nog net om twee werke bekend, die *Vioolconcerto no 1 en die *Kol nidrei vir tjello en orkes.

SOLO EN ORKES

Kol nidrei op 47 (Alle geloftes) (10 min) Bruch het besonder belang gestel in volksmusiek en het hom ook aangetrokke gevoel tot Joodse melodieë. Hierdie variasies vir tjello en orkes is op ’n weemoedige tema wat hy in Berlyn by ’n Joodse familie gehoor en hom as Protestant geweldig aangegryp het. Hierdie ou lied word op die vooraand van die Versoendag gesing. Die orkes hef die melodie aan, gevolg deur ’n stel pragtige variasies deur die solis, hoegenaamd nie in Hebreeuse styl nie.

Vioolconcerto no 1 in G min op 26 (24 min) Die enigste van Bruch se drie vioolconcerto’s wat nog gehoor word. Hy het tien jaar hieraan gewerk, en dit na die eerste uitvoering weer drasties hersien op aanbeveling van Joachim, wat ook die eerste uitvoering van die hersiene werk gespeel het. I. Allegro moderato Die eerste beweging word ’n Vorspiel (voorspel) genoem, een van die weinige simfoniese werke in die literatuur waarvan die eerste beweging net ’n inleiding is. Dit voer sonder onderbreking tot II. Adagio Dit is die deel wat werklik beroemd geword het en vandag nog die stuk van Bruch is wat die meeste gehoor word. Die intens liriese beweging bevat drie temas, en ’n ingewikkelde kontrapuntale verwerking lei tot ’n pragtige coda. III. Allegro energico ’n Virtuose meesterstuk waarin die solis met dubbelgrepe en trillers alles uithaal.

BRUCKNER, ANTON (4 Sept 1824–11 Okt 1896) Oostenrykse komponis. Bruckner is op ’n klein dorpie, Ansfelden, gebore en hy sou op verskeie afgeleë dorpies waar sy pa onderwyser was, grootword. Bruckner het self ook onderwyser geword en later “voorlopige” orrelis in die klooster St Florian, waar hy as kind koorknaap en leerling was. Hier skryf hy sy eerste karakteristieke werk, die Requiem in D min. In 1851 word hy “amptelik” aangestel in die orrelpos. Hy sou ’n beroemde orrelis word wat baie konsertreise onderneem het, ook na die buiteland, o.m. Londen, en was veral bekend om sy vermoë tot improvisasie.

’n Kenmerk van Bruckner se persoonlikheid was ’n gebrek aan selfvertroue, ’n onsekerheid oor sy eie rigting. Selfs in 1853 nog het hy aansoek gedoen om ’n klerklike pos in die staatsdiens, onseker of musiek sy ware rigting is. Hy was ook daarop gesteld om getoets en beoordeel te word, om diplomas of getuigskrifte te kry. Nadat hy hom eers deur ’n komitee van drie deskundiges bevoeg laat verklaar het, word hy in 1855 orrelis aan die katedraal van Linz. Hier kry hy ’n beskermheer in die persoon van biskop Rudigier, wat waardering vir sy werk het en hom komposisieles in Wenen laat neem. Na jare lange studie kry hy ’n getuigskrif dat hy ’n meester van sy vak is. Nou neem hy les in vormleer by ’n bewonderaar van Wagner, in wie se ban hy kom. Hy ontmoet Wagner ook by die eerste opvoering van Tristan und Isolde.

In 1866 gaan hy ná ’n senuwee-ineenstorting na Wenen waar hy sy voormalige leermeester Sechter opvolg as dosent aan die konservatorium. In Wenen skryf hy sy groot werke, die simfonieë no 2 tot 9 en die Te Deum, en hersien hy sy Simfonie no 1 grondig. Sy bewondering vir Wagner was byna grensloos en die Simfonie no 3 is ook aan hom opgedra. Dit het veroorsaak dat hierdie eintlik wêreldvreemde man ingesleep is by die heftige vete tussen die aanhangers van Brahms en Wagner. Ten spyte van die bemoeienisse van dirigente soos Nikisch en Mahler was sy werk aanvanklik nie in Wenen gewild nie. Vandag word dit hoofsaaklik in die Duitssprekende lande en in Nederland gereeld uitgevoer.

Bruckner se simfonieë is almal besonder lank en ryklik georkestreer. Sy orkestrasie het veel te danke aan die toon van die orrel en Wagner se invloed. Hulle is ernstig, selfs somber.

Simfonie no 4 in E-mol (64 min) Bruckner het dit self die “Romantiese” genoem. I. Allegro molto moderato Die beweging het ’n pastorale sfeer. Die eerste tema word deur horings teen ’n ruisende strykeragtergrond gespeel en deur blasers herhaal. Die tweede tema is in die strykers. Die derde tema herinner aan Beethoven se *Simfonie no 6. Die slot is magtig en groots. II. Andante In hierdie beweging is die strykers op die voorgrond, eers die tjello’s met die eerste tema en dan die altviole met die tweede. ’n Weemoedige beweging – die temas kan selfs klaend genoem word. III. Scherzo: Bewegt (Lewendig) Bruckner het Italiaanse en Duitse terme gemeng. Die jagklanke van hierdie scherzo verstewig die pastorale aard van die simfonie, des te meer nog die trio in die vorm van ’n Ländler. IV. Mässig bewegt (Matig lewendig) Hierdie beweging is glo aanvanklik deur die komponis self as ’n volksfees beskryf. Daar is herinneringe aan die eerste en tweede bewegings.

Simfonie no 7 in E (65 min) Bruckner se mees gespeelde werk. I. Allegro moderato Die begin van die werk laat mens besef waarom hierdie simfonie al skertsend die tremolo simfonie genoem is. Die eerste tema ontvou klimakties teen ’n sterk tremolo agtergrond van viole, horings en tjello’s. Die tweede tema volg besonder gou vir Bruckner en is sterk Wagneriaans. II. Adagio: sehr feierlich und langsam Van hierdie “uiters plegtige en stadige” beweging word soms beweer dat dit ’n treurmars by Wagner se dood is, maar dit is in werklikheid vier maande voor die gebeurtenis gekomponeer. Uiters Wagneriaans is dit inderdaad, o.m. deur die eerste gebruik deur iemand anders as Wagner van die sg. Wagner- of Bayreuth-tuba, ’n instrument met ’n klanktoon tussen die horing en die tromboon. Hierdie tubas speel die eerste tema, en viole die tweede. ’n Treursang is hierdie beweging inderdaad – seker Bruckner se gewildste komposisie. III. Scherzo ’n Spookagtige, beangstigende scherzo met ’n vreemde ritmiek, waarvoor ’n meer liriese trio, byna in die styl van Schubert, verligting bring. Die scherzo word na ’n lang stilte noot vir noot herhaal. IV. Finale Weer die sidderende tremolo viole wat ’n nogal opgewekte beweging inlui. Die eerste tema is breed en uitgesponne met ’n koraalagtige kontras in die tweede tema. Die Wagner-tubas maak weer hul verskyning. In die triomfantelike slot word die hooftema uit die eerste beweging na vore gebring.

Simfonie no 8 in C min (80 min) Dit is Bruckner se langste simfonie, maar dit is uitstekend ontvang by sy eerste uitvoering. I. Allegro moderato Na ’n tremolo in die viole word die hooftema deur altviole, tjello’s en basviole aangekondig. Die tweede tema word deur die viole gespeel en die derde deur horings, klarinette en fluite met pizzicato begeleiding. ’n Monumentale kontrapuntale ontwikkeling lei tot ’n wegsterwende slot. II. Scherzo: Allegro moderato: Langsam Altviole en tjello’s speel ’n enigsins onelegante tema, terwyl die trio ’n gelukkige, byna dromerige sfeer adem. Hier gebruik Bruckner die eerste keer ’n harp. III. Adagio: Feierlich langsam, doch nicht schleppend (Feestelik en stadig, maar nie sleperig nie) Dit is een van die langste bewegings in die simfoniese literatuur (22 min). Dit het ’n intieme en koesterende sfeer, geskep deur die strykers, maar dan kom daar toenemend Wagneriaanse elemente by met horingfanfares wat aan Siegfried herinner. IV. Feierlich, nicht schnell (Feestelik, nie vinnig nie) ’n Feestelike tema in die koperblasers weerklink bo die ritmiese onderbou van die strykers. Die sangerige tweede tema word deur die horings gespeel, begelei deur die viole en altviole. Alles lei tot ’n magtige klimaks waarin die hooftemas uit al die bewegings opklink.

Simfonie no 9 in D min (75 min) Hierdie onvoltooide simfonie is deur die komponis “aan die liewe Here gewy”. I. Feierlich (misterioso) Na ’n inleiding word die eerste tema unisono deur die volle orkes gespeel; die tweede, innige tema volg in die viole. Die beweging is nie in die gewone sonatevorm nie en in die coda hoor mens alleen die eerste tema. II. Scherzo ’n Vreemde plasing van die scherzo, tradisioneel die derde beweging. Na ’n dissonant-akkoord deur blasers volg ’n beweging vol demoniese ritmes; ook die trio is onrustig. III. Adagio Na fanfares begin ’n stadige, dalende tema deur die Wagner-tubas. Strykers speel ’n tweede tema; die temas word gelyktydig ontwikkel en die beweging (en die onvoltooide simfonie) eindig pizzicato.

Buffa/o Komies, soos in basso buffo of opera buffa.

BULL, JOHN (1563–12/13 Mrt 1628) Engelse komponis, bekend om sy volksliedjies en -danse. Hoewel hy ’n lied met die titel God save the King gekomponeer het, is dit nie die Britse volkslied nie, en dié nasionale eer word verkeerdelik aan John Bull toegeskryf. Vir Afrikaanse lesers is dit nogal ironies dat hy die laaste elf jaar van sy lewe orrelis in Antwerpen was, daar begrawe is, en ’n Middelnederlandse teks getoonset het: Den lustelijken Meij.

BÜLOW, HANS VON (8 Jan 1830–12 Feb 1894) Duitse dirigent. Hy het ’n enorme rol gespeel in die bevordering van die musiek van eietydse komponiste soos Liszt (met wie se dogter hy ’n tyd lank getroud was), Wagner, Tsjaikofski en R. Strauss.

Burlesk Humoristies, koddig, met ’n satiriese ondertoon.

BUSONI, FERRUCCIO (1 Apr 1866–27 Jul 1924) Italiaanse komponis. Busoni het hoofsaaklik in Berlyn gewoon. Sy groots opgesette opera, Doktor Faust, is nooit voltooi nie. Busoni het verbasend baie gekomponeer, veral vir klavier, maar die musiek word selde gehoor. Hy was ’n beroemde virtuoos, en het baie verwerkings van Bach e.a. gemaak, wat vandag nog gespeel word.

BUTTERWORTH, GEORGE (12 Jul 1885–5 Aug 1916) Engelse komponis. Hy het ’n groot belangstelling in die Engelse volksmusiek gehad. Sy bekendste werk is die orkesrapsodie A Shropshire lad, ingegee deur die poësie van Housman. Hy het in die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel; die Military Cross is postuum aan hom toegeken.

BUXTEHUDE, DIDERIK (1637–9 Mei 1707) Deense komponis. Hy was ’n vermaarde orrelis en J.S. Bach het 350 km ver geloop om na hom te luister. Hy het veral orrelwerke, kantates e.d.m. gekomponeer.

BWV Bach Werke-Verzeichnis, die katalogus van die werke van J.S. Bach, opgestel deur Wolfgang Schmieder met die tweehonderdste herdenking van Bach se dood in 1950.

BYRD, WILLIAM (1543–4 Jul 1623) Engelse komponis. Van Byrd se lewe is byna niks bekend nie. Hy was ’n leerling van *Tallis, saam met wie hy ’n aantal motette gepubliseer het. Hy was ’n oortuigde Rooms-Katoliek in ’n sterk anti-Roomse samelewing en moet hoë beskerming geniet het. Hy het naas ’n groot hoeveelheid dikwels vernuwende kerkmusiek ook sekulêre werke vir sowel stem as instrumente gekomponeer.

Die A tot Z van Klassieke Musiek

Подняться наверх