Читать книгу Die A tot Z van Klassieke Musiek - Koos Human - Страница 8

C

Оглавление

Cabaletta Vinnige slotdeel van ’n aria of ensemble uit ’n opera.

Cadenza ’n Virtuose passasie, wat die skyn van improvisering het, ingevoeg naby die slot van ’n opera-aria of ’n concerto-beweging. Mozart het cadenzas vir sestien van sy klavierconcerto’s geskryf, maar dikwels ignoreer pianiste hulle. Sedert Beethoven skryf komponiste eie cadenzas, of laat dit weg.

CAGE, JOHN (15 Sept 1912–12 Aug 1992) Amerikaanse komponis. Cage het o.a. by Schoenberg gestudeer. Hy is een van die belangrikste Amerikaanse avant-garde-komponiste. Hy het geskryf vir orkes, kamerensemble, klavier, stem en elektroniese apparaat.

Calando Sagter en stadiger wordend.

Can-can Baldadige Paryse hoogskopdans, bekend uit *Offenbach.

Cantabile Sangerig.

CANTELOUBE, MARIE-JOSEPH (21 Okt 1879–4 Nov 1957) Franse komponis. Hy was ’n leerling van D’Indy en het ’n grondige studie van volksmusiek gemaak, wat gelei het tot sy bekendste werk, die Chants d’ Auvergne (Liedere van die Auvergne) vir stem en orkes of klavier.

Cantus firmus “Vaste sang”, die grondtema (dikwels Gregoriaans) waaromheen kontrapuntale stemme geskryf is.

Canzona Lied, ook instrumentaal.

Canzonetta Liedjie, verkleinwoord van canzona.

Capriccio Lewendige musiek in taamlik vrye vorm.

Carillon Klokkespel.

CARISSIMI, GIACOMO (18 Apr 1605–12 Jan 1674) Italiaanse komponis. Hy was die grootste deel van sy lewe kapelmeester aan die Duitse Jesuïete-kollege in Rome. Hy het veral ’n groot rol gespeel in die ontwikkeling van die oratorium.

CARTER, ELLIOTT (11 Des 1908) Amerikaanse komponis. Hy het in Amerika by Ives, Piston en Holst gestudeer en in Parys by Boulanger. Daarna was hy dosent aan verskeie Amerikaanse universiteite. Hy het orkeswerk, kamermusiek, ballette en vokale musiek gekomponeer.

CASTELNUOVO-TEDESCO, MARIO (3 Apr 1895–17 Mei 1968) Italiaanse komponis. Hy was Joods en moes in 1939 weens politieke druk na die VSA verhuis. Hy was ’n bewonderaar van Shakespeare en het ouvertures tot talle dramas geskryf en al die liedere wat in Shakespeare se dramas voorkom, getoonset. Hy is veral bekend om die Klavierconcerto no 2 en die Kitaarconcerto.

Castrato Sanger wat na ’n operasie aan sy geslagsorgaan ’n besonder sterk sopraan- of altstem kon ontwikkel.

Cavatina Sangerige opera-aria, ook ’n kort instrumentale werk of beweging.

Cecilia, St Die beskermheilige van musiek, naamdag 22 November. Talle groepe en organisasies is na haar genoem en komposisies aan haar gewy.

Celesta Klein klawerinstrument met ’n klank soos klokkies.


Celesta

CHABRIER, EMMANUEL (18 Jan 1841–13 Sept 1894) Franse komponis. Hoewel Chabrier vroeg buitengewone talent geopenbaar het, wou sy pa nie toelaat dat hy van musiek ’n loopbaan maak nie, en het hy in die regte gestudeer en ’n staatsamptenaar geword. Hy was egter bevriend met musici, digters en skilders. In 1879, nadat hy reeds twee operettes gekomponeer het, is hy na Duitsland, waar hy kennis maak met die musiek van Wagner. Dit gryp hom so aan dat hy besluit om voltydse musikus te word en hy bedank uit sy werk. Verskeie van sy komposisies is vandag nog gewild, soos die klavierwerke Habanera en Bourrée fantasque, die komiese opera Le roi malgré lui (Koning ondanks homself) en veral die orkesrapsodie España.

Chabrier se musiek is opwindend, lewendig, selfs uitbundig en die sterk Spaanse sfeer van baie daarvan laat mense dink hy was ’n Spanjaard.

ORKES

España (7 min) In 1883 het Chabrier etlike maande lank in Spanje deurgebring en is betower deur die Spaanse musiek. Dit het aanleiding gegee tot hierdie werk, wat nie op Spaanse volkswysies gebaseer is nie, maar op ritmes en vorms. Twee Spaanse danse word gebruik, die *jota en die *malagueña. Die sketse was eers vir klavier geskryf, maar die komponis het dit met ’n besonder ryk besetting self georkestreer.

Chaconne Oorspronklik ’n stadige dans in drieslagmaat, hoogstens van agt mate, wat telkens herhaal word met variasies daaromheen gevleg.

Chanson Lied in die Franse styl; in die Middeleeue meerstemmig, vandag meestal ’n goeie kabaretlied. Ook gebruik vir instrumentale werk.

Charleston Amerikaanse (Neger)dans in 2/4- of 4/4-maat.

CHARPENTIER, GUSTAVE (25 Jun 1860–18 Feb 1956) Franse komponis. Hy moes reeds op vyftien begin werk, maar sy werkgewer het hom twee jaar later na die konservatorium in Lille gestuur, waar hy baie pryse gewen het. Vervolgens is hy na die Paryse Konservatorium waar hy komposisieles by Massenet geneem het. In 1887 verower hy die *Prix de Rome. Hy het twee operas geskryf, waarvan die bekendste *Louise is.

OPERA

Louise (175 min) Opera in vier bedrywe. Bedryf I. Louise (sop) se minnaar Julien (ten) woon oorkant die straat. Louise se ouers wil nie hê hulle moet trou nie, en Louise belowe om Julien te probeer vergeet. Bedryf II. Toneel 1. ’n Straat. Louise en haar moeder (alt) kom Julien teen. Die moeder vertrek. Julien probeer Louise oorreed om met hom weg te gaan, maar sy aarsel. II. 2. Die winkel waar Louise werk. Haar kollegas terg haar oor haar verliefdheid. Julien sing ’n serenade en Louise besluit om na hom te gaan. Bedryf III. In hul huis sing Louise van haar geluk (Depuis le jour – Vanaf die dag). Die moeder verskyn: Louise se pa is siek en sy gaan saam terug. Bedryf IV. Dit was ’n set. Louise se ouers verbied haar om na Julien terug te keer. Na ’n hewige rusie word sy uitgejaag. Haar vader (bar) vervloek Parys wat sy dogter verwoes het.

CHARPENTIER, MARC-ANTOINE (?1645–24 Feb 1704) Franse komponis. Hy het met die dramaturg Molière saamgewerk. Charpentier het sewentien operas gekomponeer, waarvan Médée die bekendste is. As hofkomponis vir die Franse kroonprins het hy baie gewyde musiek geskryf. In sy tyd is hy beskou as meer geleerd en verfynd as *Lully, wat toe die septer geswaai het.

CHAUSSON, ERNEST (21 Jan 1855–10 Jun 1899) Franse komponis. Hy was ’n welgestelde aristokraat. Na ’n studie in die regte is hy in 1880 na die Paryse Konservatorium, wat hy ’n jaar later verlaat om private lesse by César Franck te neem. Franck het ’n groot invloed op Chausson gehad. Hy was ’n teruggetrokke maar gul persoon wat kunstenaars ook geldelik gehelp het, o.a. Debussy. Hy is vandag veral bekend om sy Simfonie in B-mol, die Poème en verskeie liedere. Hy is dood in ’n fietsongeluk.

SOLO EN ORKES

Poème op 25 (16 min) Hierdie werk vir viool en orkes, in 1896 gekomponeer, toon sterk invloed van Franck. Na ’n geheimsinnige openingsdeel is daar aangrypende hoë vlugte van die viool, gevolg deur ’n onrustige passasie wat afwisseling bied. Die stemming is egter byna deurgaans droefgeestig.

CHÁVEZ, CARLOS (13 Jun 1899–2 Aug 1978) Meksikaanse komponis. Aanvanklik het hy les by sy broer gekry. Op twintig het hy ’n simfonie gekomponeer. Later het hy direkteur van die Nasionale Konservatorium en dirigent van die Simfonie-orkes van Meksiko geword. Hoewel hy nie volksmusiek as sodanig gebruik het nie, het sy werk ’n sterk Meksikaanse inslag. Sy bekendste werk is waarskynlik Sinfonia India, waarin hy gebruik maak van Meksikaanse instrumente. Naas ballette het hy koor-, orkes-, kamer- en klaviermusiek asook liedere gekomponeer.

CHERUBINI, LUIGI (14 Sep 1760–15 Mrt 1842) Italiaans Franse komponis. Cherubini is in Florence gebore, maar het in 1784 na Londen gegaan en vier jaar later na Parys, wat eintlik sy setel geword het. Hier het hy in navolging van Gluck die opera hervorm. Hy het in onguns by Napoleon beland en is na Wenen. Daar het hy bevriend geraak met Beethoven, wat Cherubini beskou het as die belangrikste operakomponis van sy tyd. Hy is egter terug na Parys, waar hy in 1822 direkteur van die konservatorium geword en só ’n groot invloed op die Franse musiek uitgeoefen het. Hy is bekend om sy gewyde musiek en die opera Medea.

CHISHOLM, ERIK (4 Jan 1904–8 Jun 1965) Skots-Suid-Afrikaanse komponis en pedagoog. Hy is in Glasgow gebore en was dirigent in Skotland tot hy in 1946 direkteur van die SA Musiekkollege aan die Universiteit van Kaapstad geword het. Hy het baie gedoen om eietydse musiek te bevorder en self verskeie werke gekomponeer, o.m. die opera-trilogie Murder in three keys wat in New York opgevoer is en waarvan een, die monodrama Dark Sonnet, in Kaapstad aangebied is.

CHOPIN, FRYDERYK FRANCISZEK (1 Mrt 1810–17 Okt 1849) Poolse komponis. Sy voorname is later verfrans tot Frédéric Francois. Sy pa was ’n Fransman wat na Pole geëmigreer en later onderwyser aan ’n hoërskool in Warskou geword het. Sy ma was Pools en het goed klavier gespeel. Hoewel Chopin op vroeë leeftyd blyke van besondere musiektalent gee, sorg sy ouers dat hy ’n normale skoolopleiding ontvang en hulle weerstaan die versoeking om hom soos ’n tweede Mozart te paradeer. Aanvanklik neem hy les by sy suster Louise, maar van sy sesde jaar kry hy onderrig by ’n onpretensieuse violis, Zywny. Zywny het dadelik besef dat hy die seun niks van klavierspel kan leer nie en lei hom in tot die werke van Bach, Haydn en Mozart. So maak Chopin ’n grondige studie van die klassieke meesters terwyl hy sy eie individualistiese klavierstyl selfstandig ontwikkel. Hy begin uitnodigings ontvang na adellike huise en leer daar die sfeer van elegansie en verfyning ken wat so goed by sy temperament sou pas. Sy opus 1, die Rondo in C min, verskyn in 1825, maar hy het reeds tevore klavierstukke gekomponeer.

Nadat hy op sestien die skooleindeksamen aflê, studeer hy drie jaar lank aan die Warskouse Konservatorium, waar hy ’n deeglike teoretiese onderrig kry. Hierna gaan hy in 1829 op eie stoom na Wenen en maak daar sy suksesvolle debuut as pianis met sy eie komposisies. ’n Tweede konsert word ewe gunstig ontvang. Die sukses van Krakowiak (’n vroeë Rondo vir klavier en orkes) en ’n improvisasie op Poolse volksliedjies laat hom besef watter moontlikhede skuil in die koppeling van Pools-nasionale musiek en sy besondere klavierstyl.

Terug in Warskou werk hy aan sy twee klavierconcerto’s. Die onbestendige politieke toestand verhoed hom om op reis na Duitsland en Italië te gaan; en hy is ook verlief op ’n jong sangeres, Konstancja Gladkowska. Op 17 Maart 1830 voer hy die *Concerto no 1 met enorme sukses in Warskou uit – die konsert moet herhaal word. Sewe maande later speel hy die *Concerto no 2: dit sou sy laaste konsert in Warskou wees. (Die concerto’s het in die omgekeerde volgorde verskyn.) Die Pole begin hom al as hul nasionale komponis beskou.

Hy vertrek na Wenen, maar sy vroeër sukses word nie herhaal nie, en via München en Stuttgart bereik hy Parys. Sy eerste uitvoering daar, vroeg in 1832, vestig onmiddellik sy naam en hy word ’n gesiene figuur in die Paryse musiekkringe, met vriende soos Berlioz, Liszt, Rossini, Meyerbeer en Bellini, asook skrywers soos Balzac en skilders soos Delacroix. Hy word ’n gesogte klavieronderwyser in die deftige kringe en dit is nie meer vir hom nodig om konserte te hou ter wille van die inkomste nie.

Sy vorige beminde, Konstancja Gladkowska, trou en Chopin het ’n kortstondige verhouding met ’n ander sangeres, gravin Delfina Potocka. Hy reis na Duitsland waar hy Mendelssohn ontmoet. In Dresden verkeer hy met ou Poolse vriende en raak halsoorkop verlief op die sestienjarige Maria Wodzinska, self ’n goeie pianis. In Leipzig stel Mendelssohn hom bekend aan Robert en Clara Schumann; Chopin sou verklaar dat Clara die enigste vrou in Duitsland is wat sy musiek kan speel.

Die verhouding met Maria kom in 1837 tot ’n einde nadat Chopin se gesondheid versleg het, al was daar nog geen diagnose van tuberkulose nie. Hy bring ’n kort besoek aan Engeland en gee een private uitvoering in die huis van die klavierbouer Henry Broadwood. Terug in Parys raak hy al hoe meer bevriend met die romanskryfster George Sand, aan wie Liszt hom voorgestel het. In 1838 word hulle minnaars. Hulle gaan na Majorca waar hy die 24 *Préludes voltooi, maar in die slegte weer verswak sy gesondheid so dat hulle na die vasteland terugkeer.

Hoewel sy gesondheid totaal ondermyn is, beleef hy, geïnspireer deur Sand se vriendskap, ’n tyd van groot skeppingsdrif en skryf o.m. die *Sonate no 2, die Impromptu in F-kruis en verskeie mazurkas en nokturnes. Sy vernaamste bron van inkomste bly ryk leerlinge.

Die verhouding met George Sand versleg, o.m. omdat hy in rusies die kant kies van haar dogter en skoonseun en sy karikaturiseer Chopin in ’n roman.

Op 16 Februarie 1848 hou Chopin sy laaste openbare konsert in Parys en speel naas eie komposisies ook die klavierparty in ’n trio van Mozart. Enkele dae daarna breek die Februarie-revolusie uit wat die monargie van Louis-Philippe omverwerp. As gevolg van die onveilige omstandighede kwyn sy getal leerlinge. Op uitnodiging van sy ryk Skotse leerling Jane Stirling gaan hy na Brittanje waar hy o.a. vir koningin Victoria speel en enkele ander private uitvoerings hou. Die laaste konsert van sy lewe vind plaas in Manchester – dit is ook die grootste ooit, met 1 200 toehoorders.

Hy keer terug na Parys, maar het feitlik geen inkomste nie. Die Stirlings maak ’n groot geldelike skenking aan hom wat sy laaste weke veraangenaam. Op 17 Oktober 1849 sterf hy in die teenwoordigheid van sy suster en eerste onderwyseres, Louise, en ’n paar Poolse vriende. Mozart se Requiem is uitgevoer by die begrafnis in die Madeleine-kerk en Sand se skoonseun, Clésinger, oor wie die rusies met Sand indertyd was, het ’n beeldhouwerk vir sy graf gemaak.

Mendelssohn het gesê Chopin was ’n volmaakte musikus. Hy is dikwels verkeerd beoordeel oor sy werk en oor die vertolking daarvan. Byna ’n eeu na sy dood, tot in die 1930’s, is Chopin se musiek oor die algemeen sleg uitgevoer deur grootdoenerige virtuose wat vir effekbejag tot uiterstes gegaan en hulself verregaande vryhede veroorloof het, selfs deur die musiek te verander. Dit het daartoe bygedra dat Chopin lank beskou is as ’n sentimentele salon-komponis. Niks is verder van die waarheid nie. Sy grootste werke (en daar is talle meesterstukke) verteenwoordig hoogtepunte van die romantiek. Hy het self in sy hele lewe net omtrent dertig openbare konserte gehou, sy leerlinge was geeneen virtuose nie, en daar was dus geen Chopin-tradisie nie. Eers in die afgelope dekades het van die wêreld se voorste pianiste met eerbied en bewondering versigtig ’n Chopin-tradisie begin skep.

Chopin het met enkele uitsonderinge nie die groot vorme beoefen nie, maar sy twee laaste sonates is dié meesterstukke sedert Beethoven. Sy krag het gelê in die korter werke soos Ballades, Scherzo’s, ens. waarvan die oënskynlik romantiese vryheid ’n uiters streng vormtug versluier. Feitlik al sy werke is vir die klavier. Die enigste musiek wat nie vir die klavier is nie, is ’n trio, drie stukke vir tjello en klavier, ’n stel variasies vir fluit en klavier en sewentien Poolse liedere. Chopin was nie self betrokke by die ballet Les Sylphides nie. Dit is deur verskeie persone oor ’n periode georkestreer vir die choreograaf Fokine, wat die ballet in 1907 die eerste keer aangebied het (met Pavlova). Dit is vandag nog een van die gewildste ballette in die repertoire. Dit bestaan uit preludes, walse, nokturnes en mazurkas. Die nokturne op 32 no 2 en die wals op 18 no 1 is deur Stravinsky georkestreer.

KLAVIER EN ORKES

Andante spianato et grande polonaise brillante in E-mol op 22 (15 min) Die twee dele het apart ontstaan. Die Polonaise met orkesbegeleiding is in 1830-31 gekomponeer, en die Andante net vir soloklavier in 1834 in Parys. Die twee werke is deur die komponis saamgevoeg vir een van sy laaste konserte in Parys in 1835. Spianato beteken rustig, sonder sterk kontraste, en so is hierdie byna idilliese werk wat rustig voortstroom, met as middeldeel ’n ewe ingetoë mazurka-agtige melodie. ’n Nogal dramatiese horingfanfare verander, die toonaard en die Polonaise begin met ’n briljante inset deur die klavier. Ook hier bly die orkes op die agtergrond. Hierdie werk word meermale as solostuk sonder die orkes uitgevoer.

Klavierconcerto’s Van Chopin se twee klavierconcerto’s is die een wat bekend staan as No 2 eintlik eerste gekomponeer en by Chopin se eerste optrede in Warskou uitgevoer. Om ’n verskeidenheid van redes is dit eers drie jaar later as die huidige Concerto no 1 gepubliseer. Die orkestrasie by die concerto’s is nie baie sterk nie.

Klavierconcerto no 1 in E min op 11 (40 min) Geskryf in die tyd van sy liefde vir Konstancja Gladkowska is dit ’n liriese, sangerige werk, vol teerheid en gevoel. I. Allegro maestoso risoluto Die beweging begin taamlik konvensioneel met die eerste, sterk tema, gevolg deur ’n liriese tema in E. Sodra die klavier inval, skuif die orkes na die agtergrond. Die klavier behandel die temas op ’n verskeidenheid van vindingryke maniere. II. Romanze: Larghetto Na ’n kort inleiding deur gedempte strykers begin die klavier met ’n pragtige nokturne-agtige melodie. Chopin het in ’n brief geskryf dat die beweging melancholies is, “’n soort bepeinsing in pragtige lenteweer in die maanlig. Dit is waarom ek die begeleiding so gedemp gemaak het . . .” III. Rondo: Vivace Dit volg onmiddellik op II. Na ’n kort orkesinleiding speel die solis die eerste, Pools-gekleurde tema met ’n lang bewerking. Die tweede tema is sagte, hoë oktawe teen strykeragtergrond. ’n Bruisende coda sluit die werk af.

Klavierconcerto no 2 in F min op 21 (32 min) I. Maestoso ’n Betreklik kort orkesuiteensetting van die temas lei tot ’n opwindende klavierintrede. Stormagtig word binne die eerste mate die hele klawerbord van bo tot onder bespeel. Met egte pianistiese virtuositeit word die temas verwerk en versier. II. Larghetto Met dieselfde tempo-aanduiding as in die Concerto no 1 is ook hierdie beweging in die styl van ’n nokturne. Aanvanklik omspeel die klavier koloratuuragtig die tema, maar na ’n onstuimige middeldeel word die innige tema sonder enige ornamentasie in alle eenvoud herhaal. III. Allegro vivace Hierdie rondo is eerder soos ’n Poolse volksdans, ’n mazurka of krakowiak. Die eerste danstema word gevolg deur ’n scherzando deel. Chopin gebruik die strykers *col legno, wat pas mode geword het. Ná ’n horingsinjaal volg ’n opwindende coda.

KLAVIERSOLO

Ballades Dit is ’n instrumentale vorm wat Chopin geskep het, hoewel sy vier Ballades nie as ’n eenheid gekomponeer is nie, maar oor ’n tydperk van sewe jaar ontstaan het. Nietemin is daar ’n sekere ooreenkoms tussen die vier, nie net in die feit dat hulle in 6/4- of 6/8-maat is nie; daar is ’n soort innerlike eenheid, ’n gemeenskaplike dramatiese karakter wat Chopin die benaming Ballade laat kies en aan hierdie vier werke laat gee het. No 1 in G min op 23 (9 min) Chopin het vier jaar aan hierdie nege minute gewerk! Die werk begin met ’n treffende stygende figuur van vyf mate wat nie weer voorkom nie. Die kragtige hooftema staan in teenstelling tot ’n idilliese tweede tema wat self lei tot ’n heftige fortissimo, afgesluit deur ’n dramatiese coda. No 2 in F op 38 (8 min) Dié ballade, opgedra aan Schumann, het ook oor verskeie jare ontstaan. Dit begin met ’n kalm, byna rimpellose ritmiese patroon wat plotseling deur magtige akkoorde van weerskante oor die lengte van die klawerbord oorweldig word. Na ’n merkwaardige, kragtige bewerking van die temas keer die rustige sfeer van die openingsmate as slot terug. No 3 in A-mol op 47 (8 min) Soos No 1 begin No 3 met ’n stygende figuur, maar ’n korte wat onmiddellik lei tot ’n elegante, sjarmante eerste tema. Daar is heelwat spel met tonaliteite en dan verskyn die tweede tema, ook sangerig gebou op gebroke akkoorde wat byna sinkopaties met verspringde aksente verskyn. Die uitwerking en ontwikkeling van hierdie temas is van die kragtigste wat Chopin ooit geskryf het en bevestig ook sy meesterskap van modulasie. No 4 in F min op 52 (11 min) Dié ballade, dalk die hoogtepunt van die groep, begin bykans aarselend en dit duur geruime tyd voordat die eerste tema sy vorm aanneem, maar geleidelik groei die spanning en dit is ’n klankgety wat oor die toetsbord spoel en met een van die oorweldigendste en moeilikste codas eindig.

Barcarolle in F-kruis op 60 (9 min) Hierdie werk in die vorm wat verskeie komponiste uit die Venesiese bootlied verfyn het, is in dieselfde tyd as die Sonate no 3 geskryf, maar ’n groter teenstelling is moeilik denkbaar as tussen die twee werke. Chopin begin nie dadelik met die ritmiese patroon nie, maar ’n kort inleiding vang die luisteraar vas en impliseer dat meer as ’n blote bootlied gaan volg. Die stuk in 12/8-maat is ’n modelvoorbeeld van hoe Chopin met beperkte melodiese materiaal en ’n neergelegde, vaste ritmiese patroon ’n wonderwêreld van klankkleur en spanning kan skep; en soos die spanningsvolle inleiding gee hy ook ’n ander kleur aan die lied deur dit nie singend te laat wegsterf nie, maar met fortissimo akkoorde laat eindig.

Berceuse in D-mol op 57 (4-5 min) Hierdie “wiegelied” is nog een van die meesterwerke wat Chopin in die nie-klassieke vorm geskryf het. Die stuk bestaan uit 70 mate waarvan elkeen begin met ’n D-mol-pedaal en ’n begeleiding in die linkerhand wat feitlik sonder afwyking deurgaans herhaal word. Daarbo sweef ’n melodie wat met dertien variasies en ’n coda subtiel verander en die baspatroon voortdurend omspeel. Dit is ’n ongelooflike demonstrasie van vormtug in ’n vrye fantasie en ’n hoogtepunt in Chopin se werk en die klavierliteratuur.

Études Chopin het feitlik geen formele klavierles ontvang nie en het homself geleer. Hy het ’n aantal studies gekomponeer om tegniese probleme i.v.m. klavierspel op te los; tegelykertyd het hy uitstekende kuns gelewer, in teenstelling tot soortgelyke werk van Czerny, Clementi e.a. Die Études beslaan twee boeke, elk met twaalf studies. Dit is twee pragtige versamelings, maar dit is nie moontlik om by elkeen stil te staan nie. Boek I op 10 (26 min) Chopin was negentien toe hy hierdie stel van twaalf tegniese probleme vir homself geskep het. No 3 in E het ’n liriese melodie wat selfs met woorde verwerk is as So deep is the night; No 5 in G-mol word net op die swart klawers gespeel; No 12 in C min is die sg. “revolusionêre” studie. Boek II op 25 (29 min) Hulle is in Parys geskryf en in 1836 gepubliseer. Chopin staan terug van die virtuose-stryd van die destydse konsertsaal en beoefen sy studie privaat. No 2 in F min is ’n openbaring in die funksionele gebruik van ornamentasie. No 4 in A min is die verbysterende staccato-studie, des te verbasender omdat Chopin selde staccato gebruik. In die “vlinder”-studie, no 9 in G-mol, moet staccato en legato met dieselfde hand gespeel word. No 11 in A min staan bekend as die “winterwind”.

In 1839 het Chopin nog drie studies gekomponeer, die Trois nouvelles études (Drie nuwe studies), sonder opusnommer. Hulle word nie dikwels uitgevoer nie.

Fantaisie in F min op 49 (12 min) Hierdie werk is in 1840-41 gekomponeer, omtrent dieselfde tyd as die Ballade no 3, en soos die benaming Ballade, is Fantasie hier ook ’n unieke term, hoewel komponiste soos Bach en Mozart dit al tevore gebruik het, maar gewoonlik bloot as inleiding tot of onderdeel van ’n werk. Dit is ’n komposisie wat van Chopin se rykste gedagtegang weerspieël, maar daar is ’n ontwykende element, soos ook in sommige van die Ballades, wat tot die ryke geskakeerdheid van hierdie Fantasie bydra. Die werk begin met ’n stadige marsagtige tema gevolg deur ’n tweede motief; en as hierdie deel afgehandel is, word dit nie weer gebruik nie. Nou volg passasies met triole wat lei tot die Allegro en sy hartstogtelike tema. ’n Gedugte verwerking lei eindelik tot ’n middeldeel, gemerk Lento sostenuto, ’n pragtige melodie. Maar die triole keer terug en voer tot ’n triomfantelike slot in die majeur.

Fantaisie-Impromptu in C-kruis min op 66 post (4 min) Hoewel dit vandag een van Chopin se gewildste werke is, het hy dit nie self uitgegee nie. Dit sluit in die vinnige hoofdeel aan by die drie Impromptus, maar die liriese middeldeel, wat aanleiding gegee het tot die liedjie I’m always chasing rainbows, is te maklik en neig tot sentimentaliteit.

Mazurkas Chopin het die vorm van dié tradisionele Poolse volksdans verfyn en die moontlikhede daarvan ten volle uitgebuit in 51 mazurkas, wat nie as ’n eenheidsgroep gekonsipieer is nie, maar oor baie jare ontstaan het, van op 6 tot op 68. Die mazurkas is nie op werklike temas uit die volksmusiek gebaseer nie, maar Chopin het die ritme en die sfeer van die danse as bron gebruik. Reeds by sy eerste stel van vier mazurkas op 6 het hy geskryf dat dit nie vir dans bedoel is nie. Al die elemente van die tipiese mazurka is egter daar: die brombas, die trioolfigure, die kort motiewe (soms net een balk), die sg. “vroulike” slot op die “swak” slag van die maat, e.d.m. Dit is onmoontlik om die mazurkas afsonderlik te bespreek of selfs om sommiges uit te sonder; ’n baie bekende is op 67 no 3 wat voorkom in die ballet Les Sylphides.

Nocturnes Die negentien nokturnes is ook nie as ’n eenheid gekomponeer nie en het tot stand gekom vanaf Chopin se sewentiende jaar tot 1846, drie jaar voor sy dood. Hierdie nokturnes hou geen verband met die agtiende-eeuse notturno nie en het as voorbeeld die weemoedige, sangerige klavierstukke van die Ierse komponis John Field. Die nokturnes weerspieël ’n verskeidenheid stemmings en hulle toon ook (soos trouens Field s’n) die invloed van die Italiaanse bel canto-styl wat so gewild was in Europa en sy mees tipiese gestalte gevind het in die ornamentele opera-arias van Bellini. Die gewildste nokturnes is seker op 9 no 2, op 15 no 1 en 2, op 27 no 2, op 32 no 1 en 2.

Polonaises Soos die mazurkas het Chopin in sy sestien polonaises geen direkte temas uit die talryke Poolse volksdanse met dié benaming geneem nie. Die polonaise was egter die ideale vorm vir Chopin om sy hartstogtelike patriotisme in uit te stort, en terselfdertyd virtuose werk vir die klavier te skep. Formeel is die polonaises ook van sy interessantste werk en bied hulle onverwagte komplekse strukture wat nie gewoonlik van hierdie dansvorm verwag sou word nie. Die twee bekendste polonaises is op 40 no 1 in A, die “Militêre”, en op 53 in A-mol, die “heroïese”.

Préludes op 28 (45 min) Die 24 Préludes is as ’n groep gepubliseer, hoewel hulle nie as sodanig gekomponeer is nie, maar hulle word dikwels so uitgevoer. Die Préludes omvat die hele reeks toonsoorte in die majeur en die mineur. So staan dit in die tradisie van Bach se 48 Preludes en Fugas (’n werk wat Chopin intiem geken het), maar daar is geen fuga nie. Dit is ’n boeiende versameling in die afwisseling nie net van toonaard nie, maar ook van stemming en vorm, die lengte en die gebruik van elke denkbare stylmiddel. Dit is byna onmoontlik om spesiales uit te sonder, want elk van die 24 stukke is ’n pragwerk in eie reg en saam vorm hulle ’n hoogtepunt in Chopin se kuns. No 1 in C is ’n direkte toespeling op die eerste van Bach se “48”, no 2 en no 4 is albei aangrypende studies in die tragiese, die kort no 7 sou die voorspel tot Les Sylphides word en no 15 is die bekende “Reëndruppel”prelude met sy dreigende eentonige kloptoon dwarsdeur die werk.

Scherzo’s Die vier scherzo’s is gebou op die basiese patroon van ’n lewendige, dramatiese hooftema en ’n meer liriese middeldeel (trio) gevolg deur ’n herhaling van die hooftema. Chopin gebruik hierdie patroon natuurlik veel meer vindingryk en geskakeerd, en die komponis se kombinasie van vrye verbeeldingsvlug met ’n skynbaar onuitputlike bron van melodieë aan die een kant en streng vormtug aan die ander gee ’n aangrypende spanning aan die werke. No 1 in B min op 20 (10 min) Twee magtige akkoorde begin die werk en dan is daar ’n sterk patroon van nerveuse oplopende frases wat telkens met ’n forse akkoord eindig. Die liriese middeldeel is gebaseer op ’n ou Poolse kerslied. No 2 in B-mol min op 31 (9 min) Twee misterieuse trioolfigure word gevolg deur ’n dramatiese akkoord-passasie wat lei tot ’n liriese hooftema. Die middeldeel is eenvoudig sonder veel ontwikkeling. No 3 in C-kruis min op 39 (7 min) Na ’n geheimsinnige openingsfrase word die hooftema in forse oktawe in albei hande aangekondig. Die middeldeel het ’n koraalvorm. No 4 in E op 54 (10 min) is die minste van die vier, hoewel sommige kommentators probeer om ’n dieper betekenis daarin te vind en beweer dat meer intieme kennismaking nodig is om die werk na waarde te skat.

Sonate no 2 in B-mol min op 35 (24 min) I. Grave Na die eerste vier mate word daar in die aanwysings slegs gesê dat die snelheid verdubbel moet word. Dit is ’n nerveuse allegro, byna beangstigend, maar met ’n merkwaardige vormgewing. II. Scherzo Hierdie beweging staan nader aan Beethoven se scherzo’s as aan Chopin se eie. Ook hierdie musiek, met die herinnering aan ’n dodedans, wys soos die eerste beweging na III. Marche funêbre Dit is die bekende dodemars, wat twee jaar voor die res van die sonate gekomponeer is. (Dit verklaar seker waarom die hele werk as ’t ware in die skadu van die dood is.) Sombere, kragtige akkoorde kenmerk hierdie mars, afgewissel deur ’n lieflike vertroostende liriese melodie. IV. Presto ’n Byna angsaanjaende beweging wat baie vernuwings in pianistiese komposisie verteenwoordig. Dit is al beskryf as die wind wat waai oor die kerkhof.

Sonate no 3 in B min op 58 (27 min) I. Allegro maestoso Na vier afgaande note volg ’n aantal akkoorde wat inderdaad majestueus is. Daar is ’n verstommende rykdom aan tematiese materiaal. II. Scherzo: Molto vivace Soos dié vir die Sonate no 2 moet ook hierdie scherzo nie naas een van die selfstandige scherzo’s beoordeel word nie. Die vorm is verstommend eenvoudig. III. Largo ’n Koraalagtige nokturne, berustend en pragtig melodieus, totaal anders as die dramatiese dodemars van die Sonate no 2. IV. Finale: Presto, ma non tanto Sestien kragtige akkoorde lei tot ’n uitgebreide rondo wat plek-plek selfs aan ’n polonaise herinner. Die sonate eindig met ’n kragtige coda.

Walse Chopin het veertien walse geskryf waarin hy die verfynde sosiale elegansie van die Franse salon volmaak herskep het. Schumann het die walse aristokraties genoem. Dit is nouliks moontlik om enige enkele uit te sonder: hul stemmings wissel van opgewek tot melancholies en hul ritmiese karakter van meevoerend tot somber, van lig-skarrelend tot hoofs. Dit is ’n verbasende skat, alleen geëwenaar deur Brahms se walse wat eintlik ’n sekere bestudeerdheid toon in vergelyking met Chopin.

Choreografie Die beskrywing of uiteensetting van die danse in ’n ballet volgens ’n stelsel van simbole wat die passies aandui.

Chromaties In teenstelling tot die *diatoniese toonleer, bevat die chromatiese toonleer ook intervalle van halftone. Die chromatiese toonleer omvat 12 intervalle. As mens op ’n klavier die toonleer van C majeur speel met al die swart toetse ingesluit, is dit ’n chromatiese toonleer: ook E-F en B-C is halftoon-intervalle.

CILEA, FRANCESCO (26 Jul 1866–20 Nov 1950) Italiaanse komponis. Sy eerste opera het hy geskryf terwyl hy nog student in Napels was. Sy derde opera, L’Arlesiana, was matig suksesvol; die hoofrol hiervan was een van Caruso se vroeë optredes. Slegs Adriana Lecouvreur, ook met Caruso as skepper van die tenoorrol, was in Italië matig suksesvol maar nie juis buite die land nie. Sy volgende opera het net twee aanbiedings beleef en sy laaste is glad nie opgevoer nie. Adriana Lecouvreur is ’n *veristiese opera wat handel oor ’n beroemde agtiende-eeuse Paryse aktrise en afspeel agter die verhoog van die Comédie Française.

CIMAROSA, DOMENICO (17 Des 1749–11 Jan 1801) Italiaanse komponis. Hy het aan die Konservatorium van Napels gestudeer. Sy eerste opera is met groot sukses opgevoer toe hy 23 was. Die volgende agt jaar het hy beurtelings in Rome en Napels gewoon en vyftien operas geskryf wat byna oral in Europa opgevoer is. In 1787 word hy kamerkomponis vir Katherina die Grote van Rusland en in St Petersburg komponeer hy operas, kantates en instrumentale werke. Vervolgens nooi Leopold II hom om Salieri op te volg as hofkomponis in Wenen en hier skryf hy in 1792 sy bekendste opera, *Il matrimonio segreto. Die volgende jaar keer hy terug na Napels, waar hy vorstelik ontvang en aangestel word as hofkomponis. Hy was die revolusionêre republikeinse gedagte goedgesind en het die Franse gesteun toe hulle Napels inneem. Hy is in die tronk gesit, maar deur invloedryke bemiddeling weer vrygelaat. Op pad terug na St Petersburg is hy oorlede.

Cimarosa het 62 operas gekomponeer waarvan net Il matrimonio segreto vandag nog gehoor word. In sy tyd is hy met Mozart vergelyk. Hy was op sy beste in komedies en was een van die vindingrykste beoefenaars van die *opera buffa.

OPERA

Il matrimonio segreto (Die geheime huwelik) Opera in twee bedrywe (165 min) Bedryf I. Carolina (sop) is sonder die medewete van haar pa, Geronimo (bas), getroud met sy klerk, Paolino (ten). Graaf Robinson (bas) word deur Paolino huis toe gebring met die oog op ’n huwelik met Carolina se suster Elisetta (sop), maar die graaf raak verlief op Carolina en van die groot bruidskat aan Geronimo is daar nie meer sprake nie. Bedryf II. Carolina en Paolino besluit om te vlug, maar hulle word in dieselfde kamer betrap en moet erken dat hulle getroud is. Die graaf oorreed Geronimo om dit te aanvaar en hy besluit om tog met Elisetta te trou.

CLEMENTI, MUZIO (23 Jan 1752–10 Mrt 1832) Italiaanse komponis wat van sy veertiende jaar in Engeland gewoon het. Hy was in sy tyd ’n beroemde pianis en komponis, en word vandag hoofsaaklik onthou vir sy groot aantal sonates.

CLOETE, JOHAN (17 Nov 1957) Suid-Afrikaanse komponis. Cloete is op Moorreesburg gebore en het in 1976 by die Universiteit van die Vrystaat begin studeer, maar besluit om eerder na Kaapstad oor te skakel waar hy aan die Musiekkollege onder Peter Klatzow en Arnold van Wyk gewerk het. Hy het ’n aansienlike aantal werke gekomponeer waarin sy persoonlike wêreldbeskouing meermale ’n belangrike rol speel. Sedert 1982 het hy skerp bewus geword van Afrika-invloede en toon sy werk tekens daarvan.

ORKES

Celebration (8 min) Dit is aanvanklik vir klavesimbel geskryf met die titel Township 1. In 1986 het hy dit georkestreer. Na ’n forse, byna baldadige begin, klink ’n meesleurende “penniefluitjie”-wysie, in die woorde van Wilma Stockenström, “mal en uitgelate . . . met ’n dun, uittartende kleur”, en hierna is die werk ’n fees van ritme en melodie, soms ragfyn, dan weer onstuimig.

Coda Slot.

Col legno Met die houtrug van die strykstok gespeel.

Colla parte Saam met die hoofparty.

Colla voce Saam met die stem, volg die stem.

Con, col, coll’, colla, colle Met.

Con arco Met die strykstok gespeel, in teenstelling met *pizzicato.

Concertante Konserterend. ’n Simfonie met ’n sterk concerto-karakter; die solo-instrumente in ’n concerto grosso.

Concertino ’n Klein, of kort concerto.

Concerto ’n Werk in simfoniese vorm, gewoonlik met drie bewegings, vir een of hoogstens drie soliste met orkes. Ook konsert genoem.

Concerto grosso ’n Vroeë vorm van die concerto uit die sewentiende en agtiende eeu, met verskeie solo-instrumente. Moderne komponiste het ook die vorm beoefen.

Continuo Deurlopende bas op klawerbord as begeleiding vir instrumente of stemme (bv. in die resitatiewe in Mozart-operas).

COPLAND, AARON (14 Nov 1900–2 Des 1990) Amerikaanse komponis. Copland is in Brooklyn, New York, gebore en is in 1920 na Parys om onder Nadia Boulanger te studeer. In 1945 ontvang hy die Pulitzer-prys vir *Appalachian spring. Copland was die eerste Amerikaanse komponis wat internasionale aansien verwerf het en deur sy optrede as dirigent en as skrywer van artikels en boeke het hy baie gedoen om Amerikaanse musiek te bevorder. Aanvanklik was daar ’n sterk jazz-invloed in sy werk, maar dit het vroeg verdwyn. Copland het hom sterk daarvoor beywer om die gaping tussen moderne musiek en die luisterpubliek te oorbrug.

ORKES

Appalachian spring (25 min) Hierdie werk is aangevra as ballet vir die beroemde Amerikaanse danseres en latere choreograaf Martha Graham. Dit is in 1944 die eerste keer uitgevoer. Die danseres het die verhaal verskaf. Die toneel is die Pennsylvania-heuwels aan die einde van die vorige eeu. ’n Boeretroue word gevier; die egpaar is vervul met hoop en angs vir die toekoms. ’n Buurman en ’n opwekkingsprediker met sy volgelinge gee hulle raad. Die ballet eindig hoopvol. Die balletsuite bestaan uit agt dele wat die verloop van die verhaal in danse uitbeeld. Hoewel die titel vir die ballet dié is van ’n gedig van Hart Crane, is daar geen verband tussen die twee nie.

El Salón México (11 min) Die werk is ingegee deur ’n danslokaal wat Copland in 1932 tydens ’n besoek aan Meksiko geleer ken het. Copland gebruik Meksikaanse volkswysies in wat hy genoem het ’n “aangepaste Meksikaanse potpourri” waarin die temas nie net gebruik word nie, maar geïdentifiseer en soms onontwarbaar ineengestrengel word ter wille van beknoptheid en samehangendheid. Met sy opwindende orkestrasie, polsende ritmes en meesleurende melodieë is dit seker Copland se bekendste werk.

Cor anglais Sien Engelse horing.

Corda Snaar.

CORELLI, ARCANGELO (17 Feb 1653–8 Jan 1713) Italiaanse komponis. Hy het by leermeesters in Bologna ’n grondige onderrig in vioolspel ontvang en was waarskynlik die eerste professionele vioolvirtuoos, reeds op jeugdige leeftyd. Na talle konsertreise, veral in Frankryk, keer hy op 29-jarige leeftyd terug na Rome waar hy onder die beskerming van verskeie invloedryke kardinale die res van sy lewe deurbring. Hy het gerieflik geleef en ryk gesterf. Hy het byna uitsluitlik vir strykers geskryf, veral vir die viool. Hy word beskou as die vader van die *concerto grosso.

ORKES

Concerto grosso op 6 no 8 (17 min) Dié concerto, fatto per la notte di Natale, soos dit beskryf word op die titelblad, is die beroemde Kers-concerto. Dit is, afgesien van die kerklike verband, ’n uitstekende voorbeeld van Corelli se styl en is geïnstrumenteer vir twee viole en een tjello as soliste met ’n strykorkes. Die werk bestaan uit vier bewegings, oor die algemeen ernstig, met as derde beweging ’n Vivace.

KAMERMUSIEK

La folia op 5 no 12 (12 min) Die reeks sonates vir viool en klawerbord op 5 het die grondslag van die vorm gelê. Die beroemdste vandag is die een met die bynaam La folia, wat in der waarheid geen sonate is nie, maar ’n reeks van sestien variasies op ’n Portugese dans wat ook deur baie ander komponiste gebruik is.

CORNELIUS, PETER (24 Des 1824–26 Okt 1874) Duitse komponis. Hy is bekend om sy opera Der Barbier von Bagdad (Die barbier van Bagdad), waarvan die ouverture nog gehoor word, en sy siklus van ses Weihnachtslieder (Kersliedere), waarvan die derde, Die Könige (Die konings), die bekendste is.

Countertenor Natuurlik hoë manstem, anders as die *castrato, met ’n sterk Britse konnotasie.

COUPERIN, FRANÇOIS (10 Nov 1668–12 Sept 1733) Franse komponis. Die Couperins is die Franse Bachs, op ’n meer beskeie skaal. Hulle was byna twee eeue aktief in die Franse musieklewe. Omdat hierdie Couperin ook ’n oom met dieselfde voornaam gehad het, word hy beskryf as Couperin le grand (die grote). Hy was orrelis in die kerk waar sy familie geslagte lank gespeel het en was hofmusikus vir Lodewyk XIV. Hy het, naas ander werke, meer as 200 komposisies vir die klavesimbel geskryf, baie van ’n beskrywende aard soos Le coucou (Die koekoek). Hy het ook ’n beroemde handleiding tot klavesimbelspel geskryf.

Courante Franse dans in 3/4- of 6/4-maat.

Credo Deel van die *Mis.

Crescendo Geleidelik harder wordend.

Crucifixus Onderdeel van die *Credo; selfstandige werke met dié titel is ook gekomponeer.

Csárdás Hongaarse dans wat gewoonlik stadig begin, algaande versnel en lewendig afsluit in 2/4 of 4/4.

CUI, CÉSAR (18 Jan 1835–26 Mrt 1918) Russiese komponis. Cui het o.m. vyftien operas gekomponeer, maar hy is veral bekend as ’n leier van die Russiese nasionale skool van die negentiende eeu en iemand met aansienlike invloed in daardie tyd.

CZERNY, CARL (20 Feb 1791–15 Jul 1857) Oostenrykse komponis. Hy was ’n leerling van Beethoven en het meer as duisend werke gekomponeer. Vandag is hulle vergete afgesien van studies vir klavierstudente en ’n paar transkripsies.

Die A tot Z van Klassieke Musiek

Подняться наверх