Читать книгу Voorskrif vir die hart - Kristel Loots - Страница 3

1

Оглавление

“Is jy nou heeltemal laf?” Louis kyk na Zoely asof sy stapelgek geraak het. “Stapelgek?” vra hy dan ook.

“Hoekom?” wip sy haar vir haar broer. “Wat is nou so vreeslik daaraan om –”

“Om jou met ál jou talente aan die gatkant van die wêreld te gaan begrawe? Dis malligheid!” verklaar hy onomwonde. “Wat’s fout?” koggel hy verder. “Wat van …”

Hy aarsel ’n oomblik, dink na. “Wat van Putsonderwater? Of `? Hoekom dan nie maar soontoe gaan nie? Het hulle nie dokters nodig nie?”

“Ek weet nie, Louis. Al wat ek weet, is dat Arendsnes ’n dokter nodig het en dat ek daar gaan locum, maak nie saak hoe gek dit vir jou mag klink nie.”

“Hoekom, sus? Hoekom in die middel van nêrens gaan wegkruip?”

“Jy vrá nog. Komaan, Louis, dis maklik genoeg om te verstaan.”

“Ja … seker,” gee hy teësinnig toe. “Maar dit gaan juis lyk asof jy skuldig is, asof jy wel iets het om weg te steek as jy nou uit die stad verdwyn.”

“En het ek nie?”

“Nee, sus, jy’s nie skuldig aan enigiets wat gebeur het nie, ook nie aan daardie laaste futiele daad van daardie simpele eksman van jou nie. Dis op sý boekie en op syne alleen.”

“Dis nie wat die res van die wêreld dink nie.”

En soms, net soms, wonder sy self ook hoeveel skuld sy het aan die gemors waarin soveel mense om haar beland het.

“As ek dit kan regkry om van die verlede weg te kom, al is dit net vir ’n rukkie sodat ek my wonde kan lek, sal ek tevrede wees.”

“En jy glo die mense van Arendsnes lees nie koerant nie? Kyk nie televisie nie? Wat’s fout? Is hulle ongeletterd?”

Zoely voel hoe die trane agter haar ooglede brand. Sy verstaan haar broer se ontsteltenis omdat sy weggaan, maar tog het sy meer begrip van hom verwag.

“Nee, natuurlik nie. Maar dis hopelik ver genoeg van Johannesburg af om nie bekendes en vriende en selfs vyande om elke hoek en draai raak te loop nie.” Sy sug. “En elke keer te probeer verduidelik dat ek van niks geweet het nie, terwyl ek in hul oë kan sien dat hulle nie ’n woord glo wat ek sê nie.”

Haar broer bal sy vuiste. “Weet jy, as ek my sondes nie ontsien nie …”

“Ja, ja, ek weet. Julle mans met julle testosteroon …” Sy skreef haar oë. “Glo my, jy’s nie die enigste een met moord in jou hart nie. In elk geval, dis te laat daarvoor. Ons kan die eintlike sondebok nie meer bykom nie. Daarvoor het hy wel deeglik gesorg.”

“Die lafaard!”

“Los dit nou. Dit sal ons niks baat om gif te spoeg nie. En ’n mens moet seker deernis hê met wat gebeur het.”

“Seker, ja.”

Zoely probeer glimlag. “Terloops, ek gaan darem nie myself en my talente heeltemal op Arendsnes begrawe nie. Die idee is immers dat ek siek mense gesond moet maak, so wat maak dit saak of dit stadsmense of plattelandse mense is? Kieme is nie kieskeurig oor waar hulle toeslaan nie.”

“En die ou vir wie jy gaan locum? Wat weet jy van hom?”

Sy frons. “Nie veel nie. Al ons korrespondensie en reëlings is per e-pos gedoen. Eintlik niks.”

“Jy vat ’n kans. Hoe weet jy of hy genuine is?”

“Ek wéét nie, boet. My lewe bestaan blykbaar daaruit om kanse te vat.”

Vir ’n oomblik wonder sy of sy haar broer met haar bedenkinge moet belas, besluit dan om dit tog te doen. Dis waarvoor broers daar is.

“Hy’s moontlik ’n horingoue, gekrokte dokter wat nog sy lewe lank op die dorp praktiseer en teen dié tyd te veel bewe om ’n inspuitnaald te hanteer. Nou het hy hulp nodig, want die naaste hospitaal is op die naburige dorp. En dis vier, vyf uur se ry Kaap toe as die pasiënte meer gespesialiseerde hulp nodig het.”

“Jy sal dus jou storie moet ken om te keer dat die dorpsmense soos vlieë om jou val.”

“Ja, dank jou die duiwel om my daaraan te herinner. My selfbeeld is hoeka aan skerwe.”

“Aan jou vermoëns as dokter hoef jy nie te twyfel nie, Zoely.”

“Net aan my mensekennis?”

“Wel …” Hy haal sy skouers op. “Dit was duidelik nie net vir jou wat daardie skarminkel ’n rat voor die oë gedraai het nie.”

“Hy met sy gladde bek!” voeg sy by.

“Maar jy is ’n goeie dokter. Jy kon teen dié tyd lankal ’n spesialis gewees het as jy nie so halsoorkop voor die preekstoel beland het nie. Daarna het jy net vir Dawid geleef en nie weer by jou studies uitgekom nie.”

“Ek kan dit nie voor Dawid se deur lê dat ek nie verder gaan studeer het nie. Hy het my aangemoedig om dit te doen.”

Nie regtig aangemoedig nie, om haar ore gekerm daaroor. “As jy iets in die lewe wil bereik, Zoely, sal dit nie help jy bly ’n huisdoktertjie nie.”

“Iets in die lewe bereik of meer geld maak?” wou sy weet.

“Gaan die twee begrippe nie maar hand aan hand nie?”

Vir Dawid, ja, weet sy nou. Vir hom het alles om geld gegaan. Hy het geluk en sukses aan geld gemeet en hy was nie kieskeurig oor hoe hy daardie geld in sy sak laat beland het nie.

Sy draai na haar broer, probeer hom troos. “Eintlik is dit al wat ek nog ooit wou wees: ’n nederige ou huisdoktertjie wat in keelgate kyk en salf vir seerplekke en vlooibyte voorskryf – soos Dawid dit gestel het.”

Louis snork. “Asof hy so ’n danige sakeman was!”

“Dis hoe hý dit gesien het.”

“Behalwe dat daar ’n reuseverskil is tussen ’n sakeman en ’n swendelaar.”

“Nie in Dawid se oë nie. Blykbaar ook nie in sy ma s’n nie.”

Daar heers ’n stiltetjie tussen hulle.

“Weet jy wat?” gee Louis skielik toe. “Miskien is dit tog die oplossing om in ’n one-horse town te gaan laag lê totdat dinge bedaar het. Miskien kan jy daar vergeet van die bleddie Dawid se skades en skandes.”

“Ons moenie so van hom praat nie, boet. As ons hom nog kon beetkry, was dit ’n ander saak. Nou …”

“Nou is hy nie hier om reg te maak wat hy verbrou het nie en word alles op jou skouers gepak.”

Zoely herken haar eie woede in haar broer.

“Ek is ten minste bly dat jy weer jou nooiensvan gebruik,” vervolg hy. “Nou is jy darem van dáárdie albatros om jou nek ontslae.” Hy sug. “Maar dit sal helaas nie genoeg wees om te keer dat jy met die skandaal geassosieer word nie.”

“Ek lyk darem anders as in die dae toe my gesig op elke koerant se voorblad gepryk het.”

“En die kort hare pas jou. Jy lyk soos ’n ou skoolmeisietjie, die ene onskuld.”

Dis haar beurt om te snork. “Die dae van mý onskuld lê in die verre verlede.”

En tog gaan pak sy hierdie nuwe lewe van haar soos ’n lam ter slagting aan. Soos ’n naïewe ou skoolmeisietjie, terwyl sy van beter behoort te weet. Sy moet haar kop laat lees!

“Daar ís iets wat my pla omtrent Arendsnes se dokter,” erken sy.

“Ja? En dit is?”

“Dat hy glo op soek is na ’n losloper om vir hom te locum – ’n aantreklike vrou wat nie elke aand by die huis wil slaap nie. Daar sal glo sekere ‘uitdagings’ aan my gestel word.”

“Wat op aarde bedoel hy daarmee?”

“Hy’s baie vaag daaroor. Blykbaar sal daar van my verwag word om soms oor naweke iewers heen te gaan.” Sy sluk. “Saam met hom.”

Die ontsteltenis laat Louis se stem ’n oktaaf styg. “My liewe suster, jy kan so iets mos nie waag nie! Wat gaan jy doen as die dokter ’n dirty old man is? As hy meer van jou verwag as om sy pasiënte te dokter?”

“Hom baie duidelik laat verstaan dat hy hom met my misgis.” Sy stoot haar ken uit. “Ek gaan nie met my laat mors nie, dit verseker ek jou. Dokter Vincenzo van Arendsnes sal ’n hou kry waar dit seermaak, en nooit weer kanse met ’n weerlose vrou probeer vat nie.”

“Ek worry my vrek oor jou! As jy al jou opgekropte woede teenoor Dawid gaan uithaal op elke ander man wat jou pad kruis, sal jy nooit weer ’n man kry nie.”

“En wat op aarde sal ek met ’n man wil maak, Louis?”

“Liefde ervaar, Zoely. Jy kan nie nou in ’n regte ou bitterbek en mannehater ontaard nie.”

“En hoekom nie? Ek het genoeg rede.”

“Natuurlik het jy, maar … Oujongnooiskoene pas jou nie, sus.”

“Dis net oujongnooiens wat oujongnooiskoene kan dra. Ek het reeds die vreugde en bevrediging gesmaak om in die heilige eg verbind te wees, onthou?”

Louis raak liggies aan haar skouer. “Dis presies wat ek bedoel: hierdie sinisme van jou. Jy klink al klaar soos ’n regte ou bitterbek. As jy so aangaan, sit daar een van die dae ’n permanente plooi om jou mooi mond. What a waste.”

“Het ek dan ’n mooi mond?” probeer sy spot.

“Moenie vir jou simpel hou nie, jy ís ’n mooi vroumens. Of altans, dis wat my vriende sê. Jy’t glo come-to-bed-eyes en ’n figuur wat vir niks skrik nie. Maar as jy jouself gaan staan en verniel, sal geen man met ’n tang aan jou wil raak nie. ’n Wroegende vroumens is nie besonder gewild onder ons spesie nie. Daarvoor is ons ma’s daar; hulle maak ons moeg genoeg.”

“Smile, moenie sulk nie?”

“En moenie al wat man is met ’n knie in die lies wil bykom nie. Net dié wat dit nodig het, natuurlik. Soos byvoorbeeld hierdie dokter as hy met jou lol.”

“Ag, hou op faff, Louis. Ek sal niks onverantwoordeliks doen nie. Maar ek sál die dorp se ou dokter by die mediese raad gaan aankla as hy duistere bedoelings met my het. Dit verseker ek jou.”

Sy begin die glase waaruit hulle koeldrank gedrink het, bymekaarmaak, ’n duidelike teken dat sy die gesprek as afgehandel beskou.

“Weet hy van jou?” vra Louis versigtig. “Van wat gebeur het?”

“Natuurlik nie. Dink jy enige dokter wat ’n flentertjie ordentlikheid en edelheid in hom het, sal iemand wat by die Foucom-skandaal betrokke was naby sy pasiënte loslaat? Ek hoop maar net teen die tyd dat hy besef wie hy aangestel het, het ek my al as dokter bewys.”

Sy gaan sit langs hom op die bank. “Jy besef natuurlik dat ek niks oorhet nie, boet, feitlik net die klere aan my lyf. Ek moet van voor af begin, en dit behoort makliker te wees op die platteland. Veral op Arendsnes, waar daar glo vir my gratis blyplek op die dorp beskikbaar is.”

“Hoekom gratis?”

“Seker maar as lokmiddel om ’n dokter vir ’n one-horse town te kry. Onthou, dis die platteland – die plek is heel moontlik so ontvolk dat daar huise leeg staan. Ek twyfel of daar selfs tydens vakansies veel besoekers by daardie afgeleë vissersdorpie opdaag. Hou in gedagte dat ’n mens grondpad moet ry om daar te kom.”

“Dis ouens met vier-by-viers se kos daardie.”

Sy hoop nie so nie. Ouens met vier-by-viers kom gewoonlik van Sandton of een of ander ryk buurt in ’n stad en sal weet van Foucom.

Sy sug. “Ek kan maar net hoop dat die skandaal al ou nuus op Arendsnes is – ás dit ooit daar gaan draai het. En dat ek weer vir my ’n neseiertjie bymekaar kan maak. Iets wat mýne sal wees en wat ek vir myself mag hou sonder enige skuldgevoelens.”

“Jy was nooit wetlik verplig om Dawid se skuld te probeer delg nie – daarvoor het Pa betyds gesorg. Gelukkig het hy Dawid aangesien vir wat hy was.”

“’n Geldwolf, ja.”

“En andersins.”

Daar is dit weer, dink Zoely, die wegkyk in haar broer se oë. Asof hy iets vir haar wegsteek.

“Wat bedoel jy?”

Louis bloos sowaar. “Ag, los dit, sus. Ons kan inderdaad niks daaraan verander nie. Dis net … ’n man wat enigiets agter sy vrou se rug doen, is gewoonlik ’n volbloedwolf, en Pa het dit dadelik in Dawid raakgesien.”

“Arme Ma wat moes aanskou hoe Pa se voorspellings waar word. Gelukkig is dit hóm gespaar.”

Louis knik instemmend. “Ek is nogtans bly hy het daarop aangedring dat jy ’n huwelikskontrak laat opstel. En dat hy sy regskennis ingespan het om jou wetlik te beveilig as Dawid iets onverantwoordeliks sou aanvang.”

“Vertel dit vir ’n weduwee wat alles verloor het en bakhand voor jou kom staan. Of vir jou vriende wat Dawid met hul swaar verdiende geld vertrou en reusebeleggings by hom gemaak het, dan kyk jy hoeveel begrip jy daarvoor kry,” daag sy hom uit. “Natuurlik hou hulle my verantwoordelik vir hul verliese.”

Louis neem haar aan die skouers. “Miskien is daar ’n ryk boer op Arendsnes wat ’n vrou soek.” Sy stem is vol deernis.

Zoely skud haar skouers. “Nee, moenie eens daaraan dink nie! Ek sal probeer om nie permanente groewe langs my mond of ’n weduweeskof op my rug te ontwikkel nie. En ek sal nie oujongnooiskoene begin dra nie, maar met mans is ek kláár. Ek sal dalk ’n kat kry vir die lang wintersmaande, maar van nou af leef ek my lewe alleen.”

Voorskrif vir die hart

Подняться наверх