Читать книгу Voorskrif vir die hart - Kristel Loots - Страница 5
3
ОглавлениеToe dokter Vincenzo by die deur uit is, besef Zoely dat sy nog steeds nie die sleutel vir haar blyplek gekry het nie.
“Ag, ekskuus tog, Dokter,” maak Hermien verskoning toe sy weer daarvoor vra. “Ek het nou skoon vergeet om vir dokter Vincenzo te vra.” Sy kry ’n kleurtjie in die gesig. “Met alles wat gebeur het …”
Oor haar dooie liggaam gaan Zoely verskoning vra vir háár deel van die vertoning wat Hermien en die pasiënte in die wagkamer so stomgeslaan het. As dit hulle ontstel het om die dorp se dokters so kinderagtig te sien optree, kan hul wonderlike dokter Vincenzo dit maar vir hulle verduidelik. Dis immers hý wat geheel en al teen protokol opgetree het. Tot op hede het hy hom nog nie eens aan haar voorgestel of haar welkom geheet of ’n ordentlike woord met haar gewissel nie. Al wat hy gedoen het, was om haar soos ’n skouperd te laat voel.
Zoely stry teen die ongeduld in haar. Sy’t nie tyd vir ’n gepoer-poer soos hierdie nie. “Kom wys vir my waar my spreekkamer sal wees,” stel sy voor. “Dan wag ek solank daar.”
Want sy sien nie kans om langer soos ’n rare vertoonstuk voor die wagtende pasiënte te paradeer nie. Teen dié tyd behoort hulle genoeg te hê om dae lank oor te skinder wanneer die nuwe dokter ter sprake kom. You ain’t seen nothing yet, wil sy vir hulle sê.
Sy krimp ineen toe sy die kamer sien waar sy veronderstel is om haar pasiënte te konsulteer. Dis ’n donker vertrek met toegetrekte grys gordyne. In so ’n plek sal ’n pasiënt elke keer die ergste verwag, en ’n doodstyding sal ook nie onvanpas wees nie.
Sy trek dadelik die moeë gordyne oop sodat die son kan binnedring. Toe kyk sy verlangend na die ondersoektafel in die hoek van die vertrek. Sy is moeg genoeg om daarop aan die slaap te raak.
Die wagkamer sit kant en wal vol siekes, sy weet. En die enigste ander dokter het ’n omie gaan sien wat van die dak afgeduiwel het. Maar jammer vir hulle, sy’s nog nie aan diens nie en sy sien ook nie kans om nou al na allerhande kwale te luister nie. Daarvoor is sy self te verniel ná alles wat haar hierheen gedryf het en die lang rit wat sy alleen moes aflê. Die siekes van Arendsnes moet vandag maar net geduldig op hul arrogante dokter met sy sielvolle, diepdonkere oë wag.
Sy laat gly haar vingers oor die stofbedekte boeke in die boekrak teen die agterste muur. Vismotgevrete mediese werke uit die jaar toet. Wat in daardie verouderde studies oor die menslike liggaam en sy werkinge verkondig word, is heel moontlik intussen al verkeerd bewys. Wie ook al voorheen hier die inwoners van Arendsnes gesond probeer dokter het, was nie op hoogte van die nuutste ontwikkelings op mediese gebied nie. Het dalk nog ’n goeie dosis kasterolie aanbeveel vir maagkwale.
Sy blaai deur ’n paar van die boeke voordat sy dit sugtend terugplaas. Met die omdraai stamp sy teen die ratelende plastiekgeraamte wat haar die creeps sou gee as sy ’n pasiënt moes wees. Sy gaan sit moeg op die stoel agter die lessenaar en laat sak haar kop op haar arms.
Skielik is daar ’n geskarrel by ontvangs en hoor sy ’n kakofonie van hoogs ontstelde stemme.
“Maar ek sê mos vir oom,” hoor sy Hermien se skril stemmetjie. “Dokter is nie hier nie, hy’s uitgeroep na oom Jan Botha toe. Hy’t van die leer afgeval.”
“Ek gee nie om of Jan Botha sy nek gebreek het nie, my vrou het hulp nodig!” protesteer ’n basstem wat die dooies sou wek. “Kyk hoe lyk sy. Daar’s groot fout met haar, sê ek vir jou!”
Zoely wil weghardloop. Sy lyk en voel soos ’n vloerlap in haar jeans en verkreukelde T-hempie wat skaars tot by haar middel strek. Allesbehalwe na ’n dokter wat vertroue sal inboesem tydens ’n noodsituasie. Maar soms het ’n mens geen keuse nie, veral nie ’n dokter nie.
Sy stoot haar vingers deur haar hare voor sy by die deur uitstap. “Hermien?” vra sy. “Kan ek help?”
Dan sien sy die gesette vrou wat hygend na asem voor die toonbank staan. Haar blougrys velkleur dui op ’n suurstoftekort, merk Zoely dadelik op.
“Mevrou?” Sy aarsel, onthou dan dat sy op die platteland is. “Tannie? Voel tannie oukei?”
“Nee! Sy’s g’n oukei nie. Julle kan mos sien,” antwoord die oom met die Goliatskouers wat langs haar staan.
Dis waar wat hulle sê, besef Zoely. As ’n man en vrou lank genoeg met mekaar getroud is, begin hulle na mekaar lyk. Hierdie oom en tannie kan vir ’n tweeling aangesien word. Twee potsierlike potjierolle, ewe lank, ewe rond, die gesigte volmane, die voete in die uitgetrapte pantoffels soos mosbolletjies uitgerys.
Dis seker wat dokter Vincenzo bedoel het met sekere uitdagings wat saam met die pos kom, dink sy. Arendsnes is heel moontlik ’n aftreedorpie waar die pensioenarisse een na die ander op daaglikse basis twee-twee op ’n slag in hul spore omkap. Want as sy moet raai, is hierdie hygende vrou nie ver van omkap nie.
Sy tree haastig nader en neem die vrou aan die arm. “Kom sit,” nooi sy en lei haar tot by die naaste stoel. Sy voel dadelik die vrou se pols. Dis hopeloos te vinnig. Ook is haar vel klammerig, en haar asem jaag.
“Sy voel al heeldag nie lekker nie,” kerm die oom, sy stem dik van bekommernis. “Ons het maar gedink dis iets wat sy geëet het, maar dit wil nie beter word nie.”
Zoely voel nie so kalm soos sy behoort te wees nie. Sy weet nie watter instrumente in dokter Vincenzo se spreekkamer is nie, maar in die spreekkamer wat aan háár toegesê is, het sy niks gesien wat sy kan gebruik nie. Sy’t jare laas met ’n noodgeval soos hierdie te doen gehad. In die stad word mense direk hospitaal toe geneem wanneer ’n beroerte- of hartaanval dreig. Dawid was eintlik nie so ver verkeerd nie: sy hét nie veel meer by haar praktyk gedoen as om mangelontsteking te dokter en salfies vir seerplekke en vlooibyte voor te skryf nie.
“Dis tannie Nolte,” help Hermien, wat ook nou naderstaan. “Sy bak die lekkerste koeksisters in die dorp.”
En sy en die oom eet heel moontlik die meeste daarvan self, dink Zoely toe sy sien hoe die tannie uit haar klere bars.
“Het tannie enige pyn?” vra sy.
Die vrou knik. “My arm,” beduie sy. “’n Vreemde gevoel in my borskas. Asof iemand ’n groot klip op my bors gerol het en my arm … dis seer. En ek is so moeg, nursie, doodmoeg.”
“Dis nie ’n nursie nie, tannie,” giggel Hermien. “Dis die nuwe dokter – dis dokter Du Toit.”
“’n Dokter?” sê die oom verontwaardig. “As sy ’n dokter is, is ek Superman!”
Zoely wil haarself verdedig, maar besluit daarteen. Wat nou van belang is, is dat mevrou Nolte nie verder ontstel word nie.
“Kan tannie deurstap spreekkamer toe?” vra sy so kalm as moontlik.
“Ek kan probeer,” hyg die vrou.
“Kom help my,” vra Zoely vir Hermien. “Ons moet die tante in dokter Vincenzo se spreekkamer kry.”
“Dokter Vincenzo se spreekkamer?” Hermien se oë is groot.
“Dis reg, ja. Hopelik is alles wat ons nodig het daar.”
“Ek weet darem nie, Dokter. Dokter Vincenzo is baie heilig op sy goed.”
“Dit kan nie anders nie, Hermien. Kom!” sê Zoely.
Maar Hermien huiwer nog. “Solank Dokter net nie vir mý voorstoot as dokter Vincenzo hier aankom nie.”
Zoely vererg haar. Dis duidelik wie se woord wet is hier rond.
“Ek sal jou nie voorstoot nie, Hermien,” sis sy. “Ek is heeltemal mans genoeg vir dokter Vincenzo as hy klagtes het.”
Hermien giggel. “Dis ook weer waar. So het ons mos gesien.”
Dis nie die persepsie wat Zoely wou skep nie – dat sy ’n feeks is wat mans vir brekfis opeet – maar daar’s nie nou tyd om dit reg te stel nie.
“Kom, oom,” vra sy. “Kom help ons asseblief.”
“Ek … kan sélf loop,” keer die tante.
Maar haar bene vou onder haar en tussen Zoely en die oom en Hermien en selfs ’n paar van die ander pasiënte wat naderstaan om te help, moet hulle haar feitlik spreekkamer toe sleep.
Zoely stuur dadelik die nuuskieriges uit en maak die deur toe. Dis net Hermien en die oom wat saam met haar en die pasiënt in die spreekkamer agterbly. Sy kyk om haar rond. Ja, sy kon dit dink. Hier blink alles, nie ’n dingetjie uit sy plek nie. As sy moet raai, is die modernste apparaat vir noodbehandeling hier beskikbaar.
Dankie, dokter Vincenzo, dink sy in sy afwesigheid. Jou spreekkamer red my vandag van ’n groot verleentheid.
Sy neem dadelik die vrou se bloeddruk. Soos sy verwag het, is dit hemelhoog. Toe eensklaps roep mevrou Nolte uit, gryp na haar bors en sak inmekaar.
Wat Zoely gevrees het, het gebeur. Sy hoef nie eens die pasiënt se karotispols in haar nek te voel nie – sover haar kennis en ondervinding strek, is dit inderdaad ’n hartarres wat hier voor haar oë afspeel.
Die oom kreun asof dit hý is wat pyn verduur. Zoely wil hom uitstuur, maar sy’s bang om dit te doen. Sy weet teen hierdie tyd dat gesinslede graag wil bystaan wanneer so iets gebeur. Soms is dit die enigste tyd wat hulle gegun word om afskeid te neem.
“Oom,” vra sy en hou haar stem so kalm as moontlik, “help my om die tannie op die mat te laat lê.”
“Maar sal sy nie koud kry nie? My ouvrou lê nooit op die mat nie.”
Dis nie nou ter sake nie, maar Zoely besef dat hy in ’n toestand van skok is en nie noodwendig rasioneel sal optree nie.
“Toemaar, oom, die mat is lekker sag.” Sy lig in mevrou Nolte se oë. Die pupille is groot, maar daar is geen reaksie nie.
Sy draai na Hermien. “Dis taamlik ernstig,” fluister sy. “Laat weet asseblief vir dokter Vincenzo.”
Hoe gouer hy by haar kan aansluit, hoe beter is mevrou Nolte se kans om te oorleef, besef Zoely maar net te goed. As daar ’n hartstilstand is, moet die hart so gou moontlik weer aan die gang gekry word, en sy is nie seker of sy dit alleen sal regkry nie.
Sy druk met haar een hand op mevrou Nolte se voorkop en buig haar kop agteroor. Sy plaas die vingers van haar ander hand onder die benerige deel van die onderkaak en lig die ken sodat die tande amper sluit. Sy luister angstig of daar asemhaling is. Daar’s niks …
“Die vrou het valstande,” laat die oom hulpvaardig hoor. “Moet ons dit uithaal?”
Zoely skud haar kop. “Dis nie nodig nie, oom.”
Miskien moet sy hom uitstuur. Miskien is alles wat hy hier sien te ontstellend vir hom. Dit help nie sy kry die tannie deur en die oom gee in nie. Onsekerheid oor haar bekwaamheid staan soos ’n draak met ’n vuurspuwende bek voor haar, maar die dokter in haar neem tog oor. Die nagevolge van wat vandag hier gebeur, gaan in ’n groot mate van háár afhang.
Gelukkig kom Hermien weer die spreekkamer binne.
“Is hier ’n kardiopulmonêre resussitasiemondstuk wat ek kan gebruik?” vra Zoely gejaag.
“’n Wát?”
“’n KPR-mondstuk,” verduidelik sy. “Vir mond-tot-mond-asemhaling.”
“O! Ja, natuurlik. Ek dink dokter Vincenzo hou alles hier in sy stoorkamer. Maar die deur is toe. Ek weet nie of ons dit mag gebruik nie.”
“Ons mag!” verseker Zoely haar. “Maak oop en gee aan.”
Toe dit lyk asof Hermien huiwer, jaag sy haar dringend aan. “Maak gou, daar is nie tyd om te mors nie!”
Zoely plaas die KPR-mondstuk in die pasiënt se mond, druk haar neus toe, neem ’n diep asemteug en blaas asem in die vrou se longe. Een keer, twee keer … Sy lig haar kop, kyk of die tannie se borskas uitdy, maar sien nog niks. Toe plaas sy die hak van haar linkerhand op die onderste helfte van die vrou se sternum, min of meer op die tepellyn, en vleg die vingers van haar hande inmekaar. Sy maak haar arms reguit en sluit haar elmboë, met haar skouers direk bo haar hande geposisioneer.
Die diepte van die borskasdrukke moet vier tot vyf sentimeter wees, onthou sy, en teen ’n honderd per minuut toegedien word. Sy begin hardop tel: “Een en twee en drie en vier en vyf en …”
Tot by vyftien. Toe dien sy weer twee asemteue toe, maar nog steeds sien sy geen teken dat die pasiënt op haar eie begin asemhaal nie. Vrees wil haar verlam, maar sy stry met alles in haar daarteen. Sý kan nie nou vou nie, die pasiënt is van háár afhanklik. Vaagweg hoor sy die oom se gekerm.
Sy neem diep asemteue om die maksimum suurstofkonsentrasie in haar uitasemhalings te verseker, en verloor heeltemal tred met die tyd terwyl sy beurtelings kunsmatige asemhaling en drukking op die pasiënt se bors toepas. Die ou instink neem oor en sy is versigtig om die vrou se maag nie op te blaas soos sy dit een keer tydens haar studentedae gedoen het nie.
Haar T-hempie skuif hoog op sodat sy ’n koue luggie oor haar kaal middeltjie voel waai, maar sy kan niks daaraan doen nie. I’m not dressed for the occasion, dink sy met meer as ’n tikkie histerie.
Toe sy bewus raak van iemand anders se teenwoordigheid, kyk Zoely nie dadelik op nie. Sy konsentreer op die pasiënt. Maar toe dokter Vincenzo langs haar kniel, besef sy dankbaar dat Hermien hom wel opgespoor kon kry. Die verligting dat sy nie meer alleen teen die doodsengel veg nie, maak haar skoon lighoofdig. Trane dreig agter haar ooglede, maar sy sluk dit weg.
“Ek het ’n semi-outomatiese eksterne defibrillator wat ons kan gebruik,” sê dokter Vincenzo, sy diep stem gerusstellend naby aan haar. “Gee vir my die skêr aan, Hermien. En dan sal ons jou en meneer Nolte verskoon.”
“Ek gaan nêrens heen nie,” brom die oom.
“Ons sal beter met die tannie kan werk as oom saam met Hermien buite wag.” Dokter Vincenzo se stem duld nie teëspraak nie.
“Julle moet haar deurhaal, Dokter.” Daar is ’n snik in die ou man se stem. “Sy’s al wat ek het.”
“Ons sal ons bes doen, oom. Ek belowe.”
“Kom, oom,” hoor Zoely Hermien sê. “Ek gaan maak vir oom ’n koppie tee. Die tannie is in goeie hande.”
Ek hoop sy’s reg, dink Zoely. Want mý hande is maar bra bewerig.
Toe die twee by die deur uit is, sny dokter Vincenzo mevrou Nolte se rok en bra voor oop. Dit sou nie goed wees vir die arme oom om dit te sien nie, besef Zoely. Ook nie wat gaan volg nie.
Dokter Vincenzo plaas die twee defib-elektrodes op die pasiënt se bors. “Ons wag net totdat die masjien haar hartritme geanaliseer het.”
Zoely is oneindig dankbaar vir die vooruitgang in mediese toerusting toe die blikstem op Engels aankondig dat skokbehandeling nie tans aanbeveel word nie.
“Ons gaan voort met KPR,” besluit dokter Vincenzo sonder die geringste huiwering.
Hy behartig die pasiënt se respirasies en maneuvreer die suurstofmasker en die vrou se kaak met die behendigheid van iemand wat al voorheen in hierdie situasie was, terwyl Zoely die KPR-behandeling voortsit.
“Sy moet in die hospitaal kom,” merk Zoely onnodig op.
“Die ambulans is op pad,” stel dokter Vincenzo haar gerus.
Hulle werk saam asof hulle dit al jare lank doen. Hy gee een respirasie vir elke vyf drukke wat sy gee en doen gereeld ’n analise van die hartritme, totdat die masjien aanbeveel dat hulle tot skokke oorgaan.
Dis dokter Vincenzo wat dit waarneem terwyl Zoely opsy staan. Weer dink sy dat dit goed is die oom kan nie sien hoe sy vrou se lyf ruk as sy die skokke ontvang nie. Sy bewonder die vaardigheid en kalmte waarmee die dorpsdokter die behandeling toepas.
“Daar is ’n polsslag,” kondig hy na die tweede hartskok aan.
Vir ’n oomblik sluit Zoely haar oë dankbaar, maar sy weet ook dat hulle nog lank nie kan ontspan nie. Die hart is ’n onvoorspelbare orgaan en hou soms baie onaangename verrassings vir ’n mens in.
Vandat ek ’n dokter geword het, veg ek met alles in my teen die dood, dink sy. Stoei ek met die doodsengel wanneer hy sy grypende arms na een van my pasiënte uitsteek. Net om die ontsetting te beleef dat iemand na aan my verkies het om in daardie gulsige arms weggevoer te word.
Sy skud haar skouers, probeer ontslae raak van die donker gedagtes wat by haar opkom. Vergeet die verlede, Zoely, spreek sy haarself aan. Hier voor jou lê ’n vrou wat nog lank nie klaar geleef het nie.
Toe sy die sirene van ’n ambulans buite hoor, sug sy innerlik van verligting. Iewers in hierdie ou dorpie of in die nabye omgewing is daar tog iets wat vir ’n ambulans gebruik kan word. Sy kan maar net hoop dat die paramedici wat dit beman kundig genoeg is.
Maar toe hulle met ’n draagbaar by die deur instap, sien sy dat dit nie paloekas is wat hierheen gestuur is nie. Sy verduidelik kortliks wat gebeur het en kyk toe terwyl hulle dadelik met vaardige hande ’n drup vir die pasiënt insit.
Skielik moet sy stry teen ’n duiseligheid wat haar wil laat omkantel. Sy leun terug op haar hurke, verloor haar balans en beland op haar agterstewe. Dokter Vincenzo kyk vir ’n oomblik skuins na haar.
“Ons sal nou regkom, dankie,” sê hy streng toe sy orent kom. “Sonder jou.”
Hy verdaag my, besef Zoely. Soos ’n kind wat verbrou het, of soos ’n verpleegstertjie wat flou geval het by haar eerste aanskoue van bloed. Sy wil haar vererg, wil daarop aandring om enduit haar deel te doen, maar dan besef sy sy is só moeg dat sy meer van ’n hindernis as ’n hulp sal wees.
Sy kyk hoe die paramedici mevrou Nolte op die draagbaar tel. Tot haar verligting sien sy dat die vrou se kleur verbeter het.
“Ek ry saam hospitaal toe,” sê dokter Vincenzo toe hulle by die deur uitstap.
“Wat van die oom wat van die leer afgeval het?” onthou sy.
“Gelukkig niks ernstigs nie, net ’n verstuite enkel. Hy’s klaar in die bed met ’n koue kompres om die enkel en die buurvrouens aan die kloek om hom.”
“En die pasiënte in die wagkamer?”
“Ek het hulle vanoggend al deurgekyk – dis die gewone pyne en skete. Daar is niks wat nie tot môre kan wag nie.”
“Ek kan dalk maar –”
“Nee, jy kan nie. Jy val sélf om.”
Sy hoop nie dis ’n verwyt nie.
Hy haal ’n sleutel uit sy laai. “Hier, dis die huis se sleutel. Daar is ook ’n sleutel vir die spreekkamer aan die bondel. Maak jouself solank tuis in die huis. Ons sal later praat oor die verblyfreëlings.”
Wat is daar om oor te praat? wonder Zoely, maar sy’s so bly om uiteindelik die sleutel in haar hande te hê dat sy nie verder vrae vra nie.
“Is jy seker jy het nie my hulp nodig met mevrou Nolte nie?”
Hy skud sy kop. “Ek het al die hulp wat ek sal nodig kry,” verseker hy haar. “Jy’t gedoen wat jy kon.”
Ja, maar wat sy gedoen het, was nie veel meer as wat enigiemand met ’n basiese kennis van noodhulp sou doen nie, dink Zoely onseker van haarself. Was dit ooit genoeg om die vrou se lewe te red? Sy weet hoe belangrik die eerste uur ná ’n hartarres vir oorlewing kan wees.
“Tannie Nolte het ’n baie goeie kans om te oorleef,” sê dokter Vincenzo asof hy haar gedagtes kan lees.
Asseblief, ja, bid Zoely woordeloos.
Nie alleen sal dit ’n slegte begin vir haar as locum wees as mevrou Nolte dit nie maak nie, maar sy het gesien met hoeveel teerheid die oom agter die draagbaar aanloop terwyl hy liefdeswoordjies vir sy vrou fluister. En in haar is daar ’n stem wat uitroep dat dít is wat enige vrou behoort te hê – ’n man wat jou so liefhet dat jou pyn sýne word.