Читать книгу Voorskrif vir die hart - Kristel Loots - Страница 4

2

Оглавление

Toe Zoely oor die koppie gery kom, lê Arendsnes voor haar uitgestrek. Wel, uitgestrek is seker nie die beste woord om te gebruik nie, dink sy toe sy na die tipiese kleindorpse toneel voor haar kyk. Dit lyk soos ’n prentjie uit ’n koffietafelboek: te mooi om waar te wees.

Die vissershuisies aan die soom van die dorp, die skreeuwitte kerk wat in die middel van die dorpie staan, met die toring soos ’n wysvinger na bo, die rivier en die dorpsdam omring deur lowergroen gras en bome, en die diepblou van die see in die verte. Die vroegoggendsonstrale dans oor die spieëlgladde water, sodat sy haar oë met moeite oophou teen die aanslag daarvan. Dit lyk asof ’n kleuter met vetkryt die prentjie geteken en ingekleur het: alles te oordadig groen en wit en blou, met die groot vet son oranjegeel soos ’n ryp lemoen.

Sy haal haar sonbril uit haar deurmekaar handsak om haar te verskans teen soveel lig en helderheid. ’n Baritonsanger se fluweelstem klink oor die radio, wat sy aangeskakel het sodat sy nie agter die stuurwiel aan die slaap moet raak nie. Dis ’n Walliese sanger wat die liefde besing, wat vertel van sy hele hart wat aan die vrou van sy drome behoort, dat hy al sy môres vir haar wil gee, sy lewe soos ’n sagte tapyt voor haar wil ooprol.

Zoely sluk aan iets wat in haar keel kom saampak het. Twak! Sommer sentimentele twak. Mooi woordjies en ’n strelende deuntjie wat vir goeie verkope sorg. Illusies! Romantiek wat naïewe ou meisietjies aangryp. Nie bedoel vir ’n vrou soos sy wat die lewe al leer ken het nie.

Maar tog … Met haar motor se ruit afgedraai sodat sy die seelug saam met die malse plantegroei van die omgewing kan ruik, en in die aangesig van soveel skoonheid, kom ruk ’n stuk verlange aan haar hart waarvoor sy nie raad het nie.

“Dis van min slaap,” brom sy. “Uitputting wat met jou sinne speel. Wat jy nodig het, Zoely du Toit, is ’n bed en ’n paar uur se slaap. Maar eers ’n lekker warm bad om te herstel van die lang pad hierheen.”

Sy wip soos sy skrik toe haar selfoon aan die lui gaan. Sy hoef nie op die skermpie te kyk om te weet wie dit is nie. “Ja, Louis, ek is oukei.”

“Waar is jy?”

“Langs ’n windpomp waarop daar een of ander swart ding sit. Dalk ’n kraai, of ’n aasvoël, ek weet nie.”

“Is aasvoëls dan swart?”

“Jy’s ’n regte stadsmannetjie!” verwyt sy. “Weet net so min soos ek van die natuur af. Kom ons hoop dis ’n kraai.My oë sal dalk nog uitgepik word, maar ek sal dan ten minste nie deur ’n aasvoël weggedra word nie.”

“Waarvan praat jy, Zoely?”

“Dis nie ék wat praat nie, dis die vaak.”

“Het jy tog nie regdeur gery nie? Ek het dan gedink jy gaan oorslaap.”

“Ek wou, maar …”

Dis moeilik om te verduidelik. Daar was skielik ’n dringendheid in haar om so ver as moontlik van Johannesburg af weg te kom. En dit het na te veel moeite gevoel om af te pak en by ’n hotel in te teken.

“Dit was nie baie verstandig van jou nie, sus.”

“Ek weet, maar moenie nou met my baklei nie. Ek is te vaak daarvoor.”

“Waar is die windpomp?”

“Nie ver van Arendsnes af nie.”

“Is jy ernstig?” Sy hoor die verligting in sy stem. “Is jy amper daar?”

“Ek kan die dorpie sien waar ek van die pad afgetrek het.”

“Is jy veilig daar waar jy staan?”

“Ek kan jou verseker hier is nie ’n lewende siel met slegte – of goeie – bedoelings in sig nie. Net ’n groot, leë niks. As ek hier aan die skree sou gaan, sal die dassies begin rondskarrel en die nare ding op die windpomp sal sy vlerke klap, maar verder sal daar nie veel gebeur nie.”

“En as jou motortjie kalf?” vra hy bekommerd.

“Kry julle anderdag my geraamte hier.”

Sy hoor hoe Louis sy tong klap. “Ek is ernstig, Zoely. Jy’s vroualleen, jy moet versigtig wees.”

“Ek het gedink toe daar ’n man in my lewe was … sou ek veilig wees. Dat hy my sou beskerm. Wat ek nie geweet het nie, is dat ’n man in jou huis ook ’n adder aan jou boesem kan wees.”

“Los nou eers jou gewroeg. Kry jou ry en sorg dat jy in die beskawing kom.” Daar is ’n stiltetjie voordat hy sê: “Jy weet jy kan altyd terugkom as dit te erg raak daar, nè?”

“Ek weet, ja,” sê sy om hom gerus te stel.

Maar omdraai is nie werklik ’n opsie nie, dit weet sy.

Teen die tyd dat sy by Arendsnes indraai, voel dit of daar sand in haar oë is. En só moet ek nou voor die dokter verskyn, dink sy vies. Sonder grimering, en sonder dat ek my hare gekam of my tande geborsel het. Eerste indrukke is glo blywend. Wat beteken die ou dokter gaan altyd aan my dink as ’n verwaarloosde vrou met sakke onder haar oë, deurmekaar hare en gekreukelde klere.

Miskien, besluit sy dan, is dit ’n goeie ding dat sy lyk soos die lappop wat op die ashoop beland het. Wat die liewe dokter van Arendsnes ook al in gedagte gehad het met sy vreemde vereistes vir ’n locum, hy behoort dadelik te besef dat daar nie romantiese wegbreeknaweke op hom wag nie.

Sy hoef gelukkig nie stil te hou om vir iemand te vra waar die spreekkamer is nie. Sommer by die ingang van die dorp waar besoekers aan Arendsnes hartlik welkom geheet word, is daar ’n padwyser met Dokter in groot, duidelike letters.

’n Bekende warmte sprei om Zoely se hart. Dis wat ek is, dink sy dankbaar. ’n Dokter. Iemand wat pyn verlig, wat mense gesond maak. Daar is niks anders wat sy ooit weer wil wees nie. Beslis nie iemand se trofeevrou nie.

“Toe ek met jou getrou het, het ek nie gedink jy gaan vir die res van jou lewe ’n huisdoktertjie bly nie,” het Dawid haar graag verwyt. “Ek het gehoop jy beskik oor meer ambisie as dit.”

Zoely skud haar skouers. “Voertsek, Dawid!” sê sy hardop. “Voertsek uit my kop en uit my lewe uit. Gee my ’n kans om van voor af te begin.”

Toe sy stilhou voor die skakelhuisie wat as spreekkamer dien, hark Zoely met haar vingers deur haar hare. Miskien moes sy tog maar by ’n garage langs die pad stilgehou en iets aan haarself probeer doen het, maar dis asof sy selfs dáárvoor te moeg is. Dit was ’n lang pad en ’n lang nag, met herinneringe wat haar bloots gery het. Buitendien, sy is so moeg vir voorgee, moeg daarvan om die blink kant bo te hou. Op die oomblik is daar min blink in haar lewe om boontoe te draai. Miskien is dit goed as die mense van Arendsnes haar op haar slegste leer ken. Sodat wanneer die waarheid haar eendag inhaal – en dit sal – die skok nie so groot sal wees nie.

Sy strek haar arms toe sy uit die motor klim om van die spierspanning in haar skouers ontslae te raak. Toe teug sy die vars seelug diep in haar longe in. Om haar krys seemeeue opgewonde oor ’n paar broodkrummels op die sypaadjie. Die geluide, eie aan ’n stranddorpie, is soos musiek in haar ore en sy kry daardie vakansiegevoel wat enige binnelander ervaar wanneer hulle ná ’n lang reis uiteindelik die see ruik. Sy kyk na die kothuisies in verskillende kleure wat afdraand na die strandgebied loop en weer tref die helderheid van die omgewing haar. Hier, in hierdie skilderagtige plekkie, besef sy dankbaar, gaan ek hopelik vir die volgende jaar werk.

Die ontvangsdame is duidelik onverhoeds betrap toe Zoely by die deur instap.

“Ek is Zoely Fou- …” Sy sluk. Is sy nou heeltemal mal? Om haar getroude van in ’n oomblik van swakheid te laat uitglip! Sy kug. “Ek is Zoely du Toit,” stel sy haarself bekend.

Die ontvangsdame druk aan haar hare. “Die nuwe dokter? Ag, ekskuus tog,” vra sy om verskoning en spring orent. “Dís nou ’n verrassing! Ons het Dokter eers later vanmiddag verwag.”

“Ek weet. Ek het vroeër weggekom as wat ek beplan het. En toe ry ek sommer deur.”

“Al die pad van Johannesburg af? Ag, maar dan moet Dokter mos moeg wees.”

“Ek is nogal. Ek sal graag wil gaan afpak en ’n paar uur slaap,” lag Zoely gemoedelik.

“Ek wou nog vars blomme in jou deel van die huis gaan rangskik het,” sê die ontvangsdame spytig.

“My deel van die huis? Ek verstaan nie?”

“Ja. En die vensters ’n bietjie oopgemaak het dat dit nie so muf ruik nie, jy weet?”

Nee, sy weet nie, maar sy sal uitvind, besluit Zoely. As sy net hier kan wegkom. Sy kyk versigtig om haar rond. Die wagkamer sit vol pasiënte, wat na haar staar asof sy uit die buitenste ruim hier geland het. Sy kan hul nuuskierigheid verstaan, maar dit doen niks om haar ongemak te verminder nie.

Sy lek oor haar lippe. Sy raak skoon op haar senuwees wanneer sy deur ’n wagkamer moet stap. Dis asof sy bang is vir die pasiënte, eerder as hulle vir haar. Die siekes in ’n wagkamer is gewoonlik ’n verenigde front, en sy as dokter is in die ander kamp. Soms selfs die vyand, wat hulle langer laat wag as wat hulle wil en wat met inspuitnaalde en galbitter medisyne dreig. Eers later, eers wanneer ’n pasiënt begin gesond word, word ’n dokter as ’n held gesien. Maar ook net tot die rekening in die posbus beland …

Wat sou hulle wat haar so aanstaar van haar dink? wonder Zoely. Sal sy so uitgerafel soos sy nou lyk genoeg vertroue by hulle inboesem sodat hulle dit sal waag om later haar spreekkamer te betree?

Ek moet so professioneel as moontlik optree, besef sy en trek haar skouers agteroor. “Alles reg, juffrou,” verseker sy die ontvangsdame. “Al wat ek nodig het, is die adres en ’n sleutel om oop te sluit.”

“Dokter Vincenzo het die sleutel. Daar is op die oomblik ’n pasiënt by hom, maar hy sal nie lank wees nie.”

Die ontvangsdame kom agter die toonbank uitgestap. “En Dokter moet tog nie vir my juffrou sê nie. Ek is Hermien van Schalkwyk.”

Zoely hoor ’n deur oopgaan en dit raak stil in die wagkamer. Alle oë is in daardie rigting gedraai.

“Dokter Vincenzo?” roep Hermien. “Die nuwe dokter is hier. As Dokter dalk ’n tydjie het.”

Zoely draai om. Sy wil vorentoe stap, maar sy stol in haar spore. As dít dokter Vincenzo is – die man met wie sy gekorrespondeer het en saam met wie sy veronderstel is om te werk – gaan sy permanent asemnood hê. Dis beslis nie ’n dirty old man wat voor haar staan nie, maar ’n beeld van ’n man.

Hy doen sy Italiaanse naam gestand met sy donker, broeiende voorkoms, breedgeskouer en gespierd onder sy wit jas, met ’n paar kykers wat ’n vrou heeltemal sal mesmeraais. Zoely kry dit met die beste wil ter wêreld nie reg om haar blik van hom af weg te skeur nie. Die man straal ’n viriliteit uit wat haar amper bang maak, maar dis veral die outoriteit van sy houding wat haar aandag trek: sy hoë voorkop, sy trotse neus, sy ferm mond en sy kragtige kakebeen.

Zoely hoor skaars hoe Hermien haar aan dokter Vincenzo voorstel. Hy blykbaar ook, want hy gaap haar skaamteloos aan.

Ag hemel tog, dink sy benoud. Waarom staar die man so na my? Is dit omdat ek lyk soos iets wat die kat ingedra het, of herken hy my dalk van die foto’s wat in die koerante was? Of van die televisiebeelde?

Sy het hard probeer om haar gesig onder ’n trui weg te steek toe die batebeslagleggingseenheid destyds saam met die media by hul huis opgedaag het. Sy was totaal ontredder toe sy die televisiekameras buite gewaar het, maar sy kon nie heeltemal daarin slaag om weg te kruip nie. Daardie aand het sy verstom na die televisienuus gestaar en haar eie doodsbleek gesig herken. En dit was nie die laaste keer nie. Daar is gereeld in die argiewe gedelf terwyl die bedrogsaak waarby Dawid betrokke was, ondersoek is.

Sy het sedertdien heelwat gewig verloor en haar haarstyl heeltemal verander. Ook het sy intussen ’n operasietjie aan haar oë laat doen sodat sy nie meer bril dra nie. Sy trek ook nie meer so lah-di-dah aan soos destyds nie. Maar dit kán wees dat haar gesig ’n klokkie by dokter Vincenzo laat lui, al eien hy haar nie dadelik nie. Dan is alles in elk geval verlore, want een of ander tyd sal hy onthou waarom haar gesig vir hom so bekend lyk.

Sy sluk swaar, soek na woorde om die oomblik te ontlont, maar niks kom in haar gedagtes op nie.

“Mmm,” brom die dorpsdokter uiteindelik. “Goeie beenstruktuur …” Hy skreef sy oë om haar beter te bekyk. “’n Lieflike mond ook.” Hy leun vorentoe, steek sy hand na haar toe uit en draai haar gesig skuins na hom.

Zoely is te verstom om teë te stribbel. Waar kom die man aan sy arrogansie? Wie gee hom die reg om haar te bekyk en te bevoel?

“Sterk profiel,” merk hy goedkeurend op. “Just what the doctor ordered.”

Zoely se mond is droog, haar kop heeltemal leeg. Maar dan is dit asof die lewe eensklaps na haar terugkeer. Sy was verniet bekommerd – die man wonder nie hoekom sy so bekend lyk nie, hy evalueer haar skaamteloos! Hy bekyk haar soos iets wat op skou is, wat te koop is, wat deur hom geweeg word sodat hy kan besluit of sy aan sy standaarde voldoen.

Iets in haar raak los, soos ’n rekkie wat tot sy uiterste beproef was en skiet gee. Sy is nie hier om op haar uiterlike beoordeel te word nie. Sy’s ’n gekwalifiseerde dokter, demmit, al is dit net ’n huisdoktertjie. Sy’t die sertifikate om dit te bewys en sy is hier om mense gesond te maak.

Kyk, hierdie derduiwel met sy vol, sexy mond is so aantreklik soos die sonde self, maar sy kan nie toelaat dat hy vir ’n oomblik dink sy is beskikbaar vir sy speletjies nie. Sy lig haar kop, draai die ander wang uitdagend na hom sodat hy haar profiel van daardie kant af ook kan beskou en klaarkry.

Sy hoor die goedkeurende geluid wat hy maak; ook daardie kant van haar gesig stel hom blykbaar tevrede. Nou toe nou! Skynbaar het sy die toets – wat hoegenaamd niks met haar bevoegdheid of bekwaamheid as dokter te make het nie – geslaag. Wel, daar wag ’n onaangename verrassing op hom!

Sy ruk haar kop op, kyk hom waterpas aan en staan toe ’n paar treë agteruit sodat sy ’n beter blik op hóm kan kry. Met haar kop skuins gedraai, kyk sy hom net so opsommend aan soos hy met haar gedoen het. Haar hart hamer wel op die maat van ’n oorlogsdans in haar bors en haar handpalms is sweerlik natgesweet, maar sy gee nie bes nie.

Die man is ongelooflik aantreklik, besef sy weer. Gevaarlik aantreklik met sy Atlasskouers en dik, donker hare. Maar sy sluk haar bewondering, draai haar kop na die ander kant toe en maak dieselfde geluide wat hy vroeër gemaak het.

“Mmm …” laat hoor sy met ’n kordaatheid wat sy nie werklik voel nie. “Nie sleg nie. Glád nie sleg nie. Sterk, Romeinse neus.” Sy staan nader, streel met haar vingerpunt oor die gleufie in sy ken. Sy voel die warmte van sy vel en snak innerlik na asem. “Sto- … storieboekduikie in die ken,” stamel sy effens. “Stewige kakebeen.” Sy knik haar kop. “Ja, nie sleg nie, heel gangbaar.”

Uit die hoek van haar oog sien Zoely die uitdrukking van stomme verbasing op Hermien se gesig. Die pasiënte in die wagkamer maak nie ’n geluid nie; dis asof die mure self asem ophou.

Dan bars dokter Vincenzo skielik uit van die lag. “En nog bekkig ook!”

Sy blik hou hare gevange en Zoely kyk nie weg nie. Dit vat alles in haar om nie verlore te raak in sy donker poele nie, maar sy hou haar kop hoog en kyk hom met net soveel arrogansie aan as wat uit hóm straal.

Sy weet dis nie hoe hierdie ontmoeting moes verloop het nie, sy weet sy is besig om haar kanse op ’n goeie werksverhouding met dokter Vincenzo te verbrou, maar dis of sy geen beheer daaroor het nie. Of daar ’n vreemde vrou in haar vel geklim het en haar optrede bepaal. ’n Vrou wat keelvol is vir mans en die manier waarop hulle vroue behandel. Hierdie Adonis voor haar verteenwoordig skielik vir haar Dawid en die vele ander mans wat roekeloos met vroue se harte en gevoelens speel.

Vaagweg hoor sy die telefoon lui en hoe dit beantwoord word.

“Dokter Vincenzo se spreekkamer. Hermien wat praat. Kan ek help?”

Selfs van waar Zoely staan, kan sy die ontsteltenis in die stem aan die ander kant hoor.

“O hel!” sê Hermien geskok. “Dis ’n gemors. Ek sal vir Dokter sê.”

Dokter Vincenzo draai onmiddellik sy rug op Zoely. “Wat is dit, Hermien? Wat’s fout?”

“Dis oom Jan Botha!” hyg sy. “Hy’t van die dak afgeval. Tant Sielie van langsaan is op die lyn, sy sê sy dink sy heup is gebreek.”

Hy neem die telefoon by haar. “Moenie hom beweeg nie, tant Sielie. Laat hom net so lê. Ek is nou daar.”

Hy skud sy kop toe hy die gehoorstuk terugsit. “Ou korrelkop. Ek het hom gewaarsku om nie self op die dak te probeer klim om sy lugdraad te verskuif nie. Ek sou dit vir hom oor die naweek doen, maar hy kon natuurlik nie wag nie.”

Hy ignoreer Zoely heeltemal. “Kry my tas, Hermien,” beveel hy kortaf.

Dan eers kyk hy terloops na haar. “Ons sal ons gesprek later voortsit, Dokter,” belowe hy. “Dan sal ek verduidelik waarom die vorm van jou gesig vir my enigsins van belang is.”

Zoely knik, nie in staat om iets te sê nie, maar oortuig daarvan dat sy sleg verbrou het en nie ’n goeie eerste indruk gemaak het nie.

Voorskrif vir die hart

Подняться наверх