Читать книгу Wonderboom - Lien Botha - Страница 10
ОглавлениеDIEREBOOM
Dit is vreemd, dink sy toe sy vroeg in Januarie met die strand langs loop om te kyk of iets bruikbaars uitgespoel het. Daar is drie dooie robbe, en een lê naby die water. Haar hart bokspring, maar toe sy afbuk en aan die buik raak, sien sy dat dit weer eens te laat is. Mens kry selde jou hande op ’n rob vir die pot, hetsy lewend of dood. Sy vertoef by die ander twee wat verder terug, teen die duine, lê – die proses van verderf is goed aan die gang, en maaiers wat soos borrelrys lyk, swetterjoel in en deur die stukkies ontbindende pels.
Een jaar toe hulle hierlangs geloop het saam met die dramaturg Guy Faure het hulle loop en bespiegel dat die klanke van insekte opwindende musiek behoort te maak.
By Draadbaai het hulle die skool dolfyne gemerk wat pyl-en-boog in die see-reservaat se rigting, en die volgende oomblik duik Wim in die water, op pad na hulle toe. Magriet en Guy het ’n ent saamgeswem maar moeg geraak en omgedraai. Op die strand het sy die water fyn dopgehou vir haar man met die groot hande, die hande van ’n beeldhouer, want hy het kleiner geword, al verswelgend in sy liefde vir die see en al die wesens daarbinne.
Waar die duine begin afplat, sien sy ’n vierde rob wat met geweld ontbind; die dooie dier is ontplooi deur ’n ander dier – watter dier? Dalk ’n bobbejaan? Maar nee, sy dink nie dis op hul spyskaart nie, eerder iets soos kraaie. Klein stukkies pels lê rondom die karkas gestrooi, die kop lyk of dit uitgesuig is soos wat ’n Franse smulpaap ’n kreefkop sou insuie. Die rob lê seker al omtrent drie dae daar op die strand, die oë is weg, die weefsel in simbiose met die wiere waarin hy rus, ’n graf. Sy snorbaarde is vergeefs, alles omtrent die dier is wanhopig, en sy kan daar niks eens van eet nie want hy is reeds aan ’t verrot. Sy stap aan op soek na mense – wat hier wel eens was: vissermanne, stranddrawwers, kinders in vlak poele, stropers. Sy wat op ’n tyd alleen die stilte en verlatenheid opgesoek het, is nou uitgehonger vir ander stemme.
Wie kom by haar op? Wie spook hier tussen die geeste van die Hangklip-drosters se agttiende-eeuse vloek? Mens skryf jou eie geskiedenis, het sy altyd vir Wim gesê. Aan Wim kan sy beswaarlik dink sonder dat die sand onder haar leegloop in wanhoop se swaarteveld.
Sy het die vooruitsig om weer ’n ordentlike maaltyd te nuttig. Oor drie weke hou die Heydenrichs partytjie en sy is gevra om agtergrondmusiek te verskaf. Hulle reël van tyd tot tyd sulke geleenthede uit “bekommernis oor die situasie in die land” en dan nooi hulle gewoonlik ’n “sukkelende” musikant om vir hul gaste op te tree. Die ryk elite wat binne die ringmuur bly voortbestaan, amuseer hulself met ’n verskeidenheid onderwerpe en aktiwiteite. Hulle sal armoede beskou as ’n fenomeen wat jy met afgryse van ’n afstand kan besigtig net om huis toe te gaan en jou galpille weg te sluk. Magriet wonder waarom die Heydenrichs nie eerder in een van hul huise in Frankryk of Engeland gaan woon nie.
Benewens ’n bord kos betaal die egpaar haar ook eenduisend rand. Hiermee sal sy probeer oorleef tot tyd en wyl sy die tog noorde toe aandurf. Sy hoef in elk geval vir ’n geruime tyd nie na ’n spreeu, stuk seebamboes of fisanteier te kyk nie en sal haar krag kan opbou vir die reis.
Stelselmatig neem die plan vorm aan; haar vriende van die musiekgroep Joe Bloom vertrek kort ná Albino X se herfskonsert op hul Karoo-toer, en sy kan saam met hulle deurry tot op Beaufort-Wes.
Louise Wildenboer, een van die groeplede, se oom moet skape na ’n vendusie toe neem op Britstown, en Magriet se skaapmondering is reeds geslag. Sy sal plan B uit die stofstraatjies van daardie onbeduidende dorp optower, want haar volgende mikpunt is die Kimberley-omgewing, waar sy moontlik nog op die genade van ’n jeugkennis sal kan staatmaak.
Op die dag voor die Heydenrichs se partytjie sal sy ’n geleentheid Kaapstad toe kry saam met ’n afgetrede professor wat navorsing by die Argief in Roelandstraat gaan doen. Sy spesialisasie is die Hangklip-drosters, en kaptein Leander Boegies is sy fokus. Albino X glo vas dat die kaptein een van sy voorsate was, en die professor is dus in die bevoorregte posisie om die navorsing so lank as moontlik uit te rek en sodoende vir homself ’n soldy te bly handhaaf. Magriet vermoed dat die professor al ’n aansienlike hoeveelheid bog oor Boegies kwytgeraak het en dat hy grotendeels vóórgee dat daar nog dokumente oor die droster bestaan. Maar om te oorleef, moet mens ’n bliksemse plan maak, al beteken dit dat jy gesofistikeerd begin lieg.
Om saam met die professor te ry stel minstens nie dieselfde soort eise as wat deur sommige van die ander jammerharte gestel word nie. Afgesien daarvan dat hy haar elke keer herinner aan die vele skeepswrakke wat naby Hangklip lê, is die rit van sowat sestig minute heel draaglik.
“Ternate 1680, Louise Scheller 1882, Ispahan 1886, Verona 1902, Bellona 1912, Natal 1916, Imp 1920.”
Sy kyk altyd ver uit oor Valsbaai se water en dan laat sy haar gedagtes loop. Op een plek hang steeds ’n verslete stukkie lap naby die reliekskryn wat opgerig is vir die branderplankryer wat een jaar in Kogelbaai deur ’n haai doodgebyt is.
Maande later is die woordeboek gevlek. ’n Man met een been dryf nader aan die rotse, die haai verdwyn … sonder dat sy honger gestil is.
Soms is sy verplig om ’n geleentheid saam met Gerhard Schoeman, die laaste oorblywende stroper, te vra.
Dit behels gewoonlik dat hy iewers langs die pad stilhou sodat sy draad eers getrek kan word. Hy wou op ’n dag haar mond ook nog om sy triestige voël hê, maar sy het volstrek geweier.
“Geen mens weet waar hierdie ding al was nie. Dan stap ek eerder verder.”
“Oukei, man, dan net jou hande … relax.”
Sy verbeel haar dit is ’n geleentheid om haar vingers te olie vir die viool. Selfbegogeling laat jou toe om dinge te verskans of aanvaarbaar te maak; daar kan selfs ’n mate van metamorfose plaasvind − solank jy net bereid is om van rat te wissel.
Met verloop van tyd het sy egter van plan verander en dit as ’n geleentheid gesien, die slukkies semen as kos begin beskou. Suig en sluk in afwesigheid van die geleidelike ritme van liefde, niks soos Wim nie – vinnig oor en verby en albei het gekry wat hulle soek.
Die skoonheid van Wim se beminning vir ewig verlore.
Wim het aan die see gegee en die stroper het van die see gevat. Magriet kon slym in haar gewete voel klodder.
Hulle ry vroeg, want die professor wil ’n goeie skof insit by die lessenaar. Hy sit altyd by tafel nommer vyftien as gevolg van een of ander bygeloof daaroor. Sy vermoed dit het iets met ’n sportsoort uit te waai. Watter dokumente gaan hy vandag van die houtrakke afhaal? Wie se vervloë, irrelevante tydlyn gaan hy probeer naspoor, en hoeveel daarvan gaan hy uit sy duim suig ter wille van oorlewing?
Sy het al per geleentheid vir hom gewag by een van die lessenaars in die ou tronk. Daar het sy ’n boek sien lê met die titel Sketches Representing the Native Tribes, Animals and Scenery of Southern Africa.
Stadig het sy deur die boek begin blaai; die bladsye was vol skimmelvlek en op een plek het iemand esdoringblare gepars wat nog in die boek gelê het. Deur ou diere is sy meegesleur − die sorgvuldige arsering van elande, renosters, gemsbokke, springhase en jakkalse.
Die bruin jakkals is slegs een van vele soorte van die spesie. Hulle gewoontes is dieselfde in alle lande en hulle is ewe geslepe in Afrika as Europa.
Ten spyte van grootskaalse verbrokkeling is die pad met sy verskeie uitsigpunte steeds besonders; elke kinkel en opvou ken sy soos die spore op haar handpalms. By Blousteen, waar die helling op sy hoogste is, dink sy altyd aan Thelma en Louise, en dan wonder sy oor die trefkrag van so ’n dapper sprong. Arme inspekteur Hal Slocumb het nie ’n kat se kans gestaan nie. Slocumb, wat ’n eienaardige naam. Wat het van Harvey Keitel geword?
Bakens gelaai met assosiasies: Boskloofpunt vir walviskyk in die wintermaande; Die Kamer, waar minnaars hulle motors teen skemer geparkeer het; Kogelbaai, waar die pad lank en reguit oopstryk met bloekoms aan weerskante. Dis hier waar die berge reusagtig opstol tot teenaan onstuitbare wolke en waar die somerbrande korte mette met die landskap kan maak.
Die mees verraderlike kontoer van almal het egter geen naam nie.
Die kleur van die see aan die einde van ’n dag in Februarie is naamloos. Dit verg ’n nuwe woord, maar daar is nie ’n woord vir hierdie kleur van agtuur op ’n louwarm somersaand nie.
Miskien is dit die timbre van walvisliedere of van visherinneringe of van ’n miljoen getye wat oor eeue heen versamel is. Verbeel jou die stemme wat styg en sink op maat van skakerings soos Auro Metal Saurus (goeie naam vir ’n rock-groep), Munsell, Cool Black, International Klein Blue. Die ink vloei deur die wonder van al die wesens − lewend en dood, diep en vlak: krappe, amfipodes, waaierwurms, sargassumvisse, lintgras.
Die professor laai haar af aan die onderpunt van die Kompanjiestuin, want die Hollanders se mislukte groentetuin gaan haar tuiste wees vir die volgende dag of twee.
“Totsiens, Magriet, pas jouself op.”
Hy is emosieloos, ter wille van sy eie behoud. Dit is hoe dit werk. Elkeen vir homself.
Afrika-termiet (Macrotermes bellicosus). Hierdie termiete se merkwaardige vestings is die sleutel tot hul oorlewing, aangesien die temperatuur binne die nes konstant bly ten spyte van wisselende buitetemperature. Die mierneste is so goed ontwerp dat die mens dit nou van nader bekyk in ’n poging om die ontwerp te probeer ewenaar, sodat minder energie vir menslike strukture benodig word. Termietneste kan tot 9 m hoog strek, is waterdig en gebruik ventilasieskagte wat die temperatuur binne die nes teen ’n konstante 30 ºC handhaaf.
Om in die Kompanjiestuin te slaap is vir Magriet niks nuuts nie. Vanweë die feit dat heelwat mense hier woon, is dit ironies genoeg relatief veilig. Sy begin stadig met Goewermentslaan oploop en haar oë soek na Wilhelmina, wat reeds meer as ’n dekade die derde parkbank regs bewoon. Maar sy is nie te bespeur nie – seker ’n draai gaan loop of kos gaan soek. Dis ook nie meer soos vroeër toe weggooikos volop in die dromme was nie. Nou se dae moet jy ver en wyd snuffel. Die eekhorings is aansienlik minder en van die groot kransduiwe is daar net ’n handvol oor.
’n Kind is deur sy ouma met ’n knopkierie doodgeslaan omdat hy ’n hoenderboudjie gesteel het.
Sy loop langs die wit geboue wat jare laas geverf is. Miniatuurpolitici hang nog hier rond, dis net die binnekring wat saam met Albino X Vergelegen toe getrek het. Van die strook akkerbome staan slegs nog ’n paar. Hulle word bewaak deur skarminkels wat soos veiligheidswagte aangetrek is. Die hout moet in die toekoms na Albino X toe. Dis vreemd om die laning so gestroop te sien, maar ten minste val daar nou heelwat meer son deur. ’n Rot beweeg lui oor die plaveisel, en verder boontoe, naby van wat oor is van Rhodes se afkopstandbeeld, staan die voëlhok leeg. Sy herroep die stemme van die voëls; hulle vokale wat verskillende boodskappe uitgestuur het en wat haar aan die resonansies van die viool laat dink het. Die vywer is leeg en die bodem het al begin opskurf.
Langs die ruïnes van die teetuin staan die inligtingskantoortjie. Van toentertyd se uitstalling is niks oor nie. In die gang was daar ’n swart-en-wit foto van ’n deftig geklede man op ’n bank omring deur ’n lushof van broodbome, strelitzias, wisteria, clivias, palms … hierdie tuin was nie heilig daarop dat die plantegroei inheems moet wees nie. Daar was ’n roostuin en rose met name soos Satchmo, Tineke en Bride’s Dream, want op Saterdae kon jy die gevolge van chiffon oor die grasperk hoor sis. In die lente was daar soms ’n bonsai-uitstalling waar jy jou kon vergaap aan die boompies wat tot diep in hul wortels geknyp is. In die middel van die somer kon mens skoolkinders hoor lag tussen die ontdekkings van ’n opvoedkundige skattejag deur. Almal in blou.
Sy gaan lê op die uitgedorde gras en kyk boontoe. Die wolke word pluimende bome. Hulle blare val en begin soos sirkels rol, hulle stamme bult, dan gaan daar deurtjies in die stamme oop en binne-in verskyn diere wat eens op ’n tyd hier gewei het. Hulle knik en groet haar.
“Hallo, Leeu.” Sy vleg haar vingers deur die oker maanhaar. Leeu is enorm, sy druk haar kop teen sy nek en wil op hom klim en wegry, maar hy brul en sy skrik want sy onthou dat ’n leeu haar niggie Berta se been amper afgebyt het.
“Hallo, Renoster, waarom is jou oë so klein?” Renoster spits sy ore, want hy kan klanke hoor wat slegs vir dowes verstaanbaar is.
“Hallo, Olifant, kom blaas jou trompet vir die dirigent.” Die reus is vandag te swaar om eens ’n slurp te lig.
“Buffel, waar is jou kudde, hoe loop jy dan so alleen?” Buffel staar in die niet en droom van die soet grasvelde waar hy eens op ’n tyd gewei het.
“Luiperd, leen vir my net een van die rosette op jou pels, asseblief, sodat ek vanaand in die geheim kan skitter.” Luiperd is reeds vort, hy het in sy wildste drome ’n vlakvark gewaar.