Читать книгу Wonderboom - Lien Botha - Страница 14
ОглавлениеTROOSTELOOS, DIE DOOIE BOOM
Dáárdie oggend het die foon om kwart voor agt gelui. Dit was Elena, die vrou by wie Wim se broer Arnold al amper ’n jaar gebly het nadat hy sy vrou, kinders, huis, besigheid en motor verloor het, grotendeels vanweë sy onhoudbare bestaan tussen die resessie en die bottel.
Die skoonsuster vertrek. Sy neem die twee kinders: ’n seun (12) en ’n dogter (8) en sy sê vir haar man dat sy hom nie meer liefhet nie en sy stap na buite (moontlik met ’n handvol besittings), klim in die motor (met die twee kinders) en ry weg. Die seun kyk een maal terug en sien hoe sy pa vooroor buig en kots. Verlaat sy ’n sinkende skip of verlaat sy die afwesigheid van liefde, jare van vlottende bates wat te veel geword het? Wanneer asem nie meer die ligboei kan ophou nie, ’n dryfmyn waarvoor jy nie meer kans sien nie. Wat het haar tot hierdie presiese moment voortgedryf? Want dit moes moed geverg het. Is daar iemand anders? Iewers? Of is dit haar eie gefrustreerde bestaan, die denkbeeldige betekenisloosheid van ’n onbevredigde lewe? Moeilik om te sê.
My swaer ontmoet ons vir aandete by die Wild Fig. Die plek vlek ou herinneringe oop van ’n tyd wat mens eerder sou wou vergeet, maar daar sit ons, die drie van ons met ons middelmatige loopbane, elkeen besig om in ontgogeling te versink, en in sy geval − ’n oorblyfsel. Hy is vrek kwesbaar en dit laat my die drostervrou verfoei. Maar ek is per slot van rekening veronderstel om bevry genoeg te wees om haar kant van die saak te probeer begryp. Waarom kan ek nie? Arnold se gesig het ’n voosheid. Hy glo dat God aan sy kant is en dat hy dus sal lewe. Die Bybel karteer gewoonlik hierdie soort landskap, want die ander opsie is ’n ysterboek. Yster kom na my toe deesdae; die reuk daarvan, die klank daarvan wanneer dit op sement val, hoe koud dit is. Van welke grond dit opgeroep word en in watter eeu dit vir die eerste keer in ’n sleutel uitgekarring is. Hy praat, meestal oor homself, soos altyd, en hy eet sy bord skoon: geroosterde eend en groente. Ek vertel vir hom dat hy kos moet eet wat in botter gaargemaak is, omdat dit sal dien as maagsalf vir die leed en die pyn wat na sy ingewande afsak en dit sal help beskut. Dis totale twak. Wat probeer ek sê? − hierdie beuselagtige poging tot gesprek.
Wim is onvermurfbaar in sy renons in die drostervrou en hy werk deur ’n inventaris van onafgehandelde insidente in ’n poging om Arnold die lig te laat sien en te laat besef dat hy beter af is sonder haar. Maar Arnold sit vasgenael tussen sy liefde vir die drostervrou en sy eie gekrenkte eer. Wim glo dat haar beeld gou sal vervaag omdat haar bydrae weinig meer was as ’n kanttekening. “Binnekort sal ons nie eens die kleur van haar hare onthou nie. Jy sal sien.”
Hulle het agt maande lank asem opgehou om te sien of dit sou hou, en daar was dit nou: verby met ’n botsing, en reeds die tweede motor wat hy afgeskryf het onder die invloed. Dwarsdeur ’n rooi lig, reguit in ’n ander voertuig in gejaag teen honderd-en-tagtig kilometer per uur. Die bestuurder van die ander voertuig, ’n vrou, was genadiglik ongedeerd. Bloedmonsters geneem? Weet nie, Elena was nie seker nie, en sy het nie geweet wat om te doen nie. Hierdie vrou wat van ’n klein dorpie naby Dracula se kasteel afkomstig was, was ontnugter tot in haar skedel. Hulle moes kom help, hy is ontslaan maar sy kon nie meer met die verhouding voortgaan nie, haar kind Lea met die sprokiesgesig het vir Arnold op die draagbaar gesien en histeries aan die gil gegaan, beide haar broer en seun het haar aangeraai om “die man” so spoedig moontlik uit haar lewe te kry. Sy het agt maande lank pop gespeel met die blondekopmannetjie met die blou ogies wat hom verbeel hy lyk soos Robert Redford en nou was sy sat. Nie dat mens haar enigsins kon kwalik neem nie. Geheel en al nie. Alles en almal wat in aanraking met hom was, het tweede gekom. Hy het Wim se lewe vir die grootste gedeelte daarvan hel gemaak, en nog steeds dit reggekry om in sy broer se kop te klim.
Die dag het ontaard in ’n gestry oor wedersydse familiekwessies, soos wat dikwels die geval was en gedreig het om hul verhouding van koers te bring. Vyftien jaar al. Dieselfde storie. Haar stamvader was Duits, Wim s’n Skots; sy kryt Wim se familie uit as Schweinebaches en hy roep haar mense as Dunderheads … ping-pong heen en weer. Later het sy en Wim op mekaar gegil, dit was so erg dat sy uit die huis wou hardloop, weg … oor Blesberg se spits en tot in die niet, weg van Wim se geskree en van al die issues. Tussen vieslike kragwoorde deur het sy Wim met die halwe bakkie ontbytkos gegooi. Dit het hóm skrams gemis, maar agter hom was die muur gevlek met melk, rosyne en hawermout, die bakkie aan skerwe.
“Ek gaan myself eet,” het sy gegil, “ek gaan myself eet sodat daar niks van my oorbly nie. Kýk …” Sy byt op haar vioolvinger en proe bloed.
Wim het omgedraai, gereed om sy broer vir die soveelste maal te gaan red. Alle lewe het uit Magriet gedreineer en die monster het in haar keel kom sit terwyl haar maag ’n magtelose draai gemaak het. Sy het vooroor gebuig met haar kop op haar arms, maar sy kon nie huil nie.
Wim het nooit sy broer kon red daardie dag nie. Hy het die naamlose, verraderlike kontoer skerper gevat as gewoonlik en die motor is by Clarence-weg af; oor rotse en deur gras, sodat Wim, saamgepers deur glas en metaal, uitgerol is in die see. Sou hy die vyfmalige tolling wel oorleef het, het hy oplaas in die see verdrink.
Magriet het opgehou sweef van toe af. Sy het heelwat later eers weer die viool begin speel, met haar voete onvas op die grond wiegend haarself probeer sus met Barber se Adagio.
Rome − Sedert sy eienaar se dood twee maande gelede het Tommy die hond nog nie ’n enkele altaardiens in die klein kerkie in die suide van Italië waar sy eienaar se begrafnis plaasgevind het, misgeloop nie.
Wanneer mens in die wind loop, dan is dit minder vreesaanjaend; die swart suidoos, noem hulle dit al dekades, eeue lank. Sy het lankal geleer dat jy dit op dié manier moet trotseer: loop dit; begin by ’n punt in die landskap en vleg deur die teue wat jou heen en weer kasty, kyk na die gras wat in die wind swiep, die bome wat grond toe buig. Sy onthou hoe die krone van die ou bloekoms wat lankal afgekap is skuins gewaai het, jy kon die suisings van ander plekke hoor deur onder die waaibome te vertoef. Daar het sy veilig gevoel, want die bome was hoog en groot, hulle het ’n afstand nader aan die hemele gehad as sý, die mens. Dan het sy geluister en stemme gehoor van vroue wat met klippe gestenig is, hulle stemme was in die wind, sy kon kinders hoor lag en diertjies hoor kreun, in die wind wat so oor kontinente kon voortstoom was daar altyd ’n eindelose hoeveelheid geheime en verhale opgesluit. Sy het die stof van woestyne daarin gesien, die geliefdes wat lankal reeds dood is.
Maar van alles was sand en wind die mislikste sameswering: loop jy naby die see, dan waai die sout oor jou; verder op teen die wit duine kom maal die sand onder jou kake. Haar uitdaging was om die wind te oorkom en sy het – tot ’n mate. Sy het haar viool gespan en begin speel, stadig die klanke uitgestryk, dan het sy gefokus op die noukeurige spanning wat die vioolstok oor die snare teweeggebring het, en later het die wind bedaar en al wat sy dan kon hoor was die toonhoogte van die instrument.
Snags as sy te moeg was om verder te speel, het sy in die donker gelê en luister hoe die sinkplaatdak oplig aan die oostekant − daar waar die wind erg plunder. Die plaat het ’n metaalagtige deuntjie gehad soortgelyk aan dié van windpompe op verlate plase. Dit was vir haar die ergste, sy het die houtdeur toegemaak en die kombers oor haar kop getrek. Later het sy dan wel aan die slaap geraak, en teen die tyd dat die son op was, het sy wakker geword. Soms was dit tjoepstil want die wind het in die nag sy lê gaan kry, maar ander kere het die wind vier of vyf dae lank voortgewoed. Dit was wanneer die viool haar gered het.
Haar bed is ’n nes. Sy het dit so gemaak: rond, ovaal eintlik, met walle van takke en stukke pluim, ou lappe en komberse soos ’n wewersnes op die vaalwit pad tussen Springbok en Pofadder.
Die lakenwit landskap strek verby enige verbeelding. Hoe wonder jy nie oor die mense wat daartoe in staat is om hier te bestaan nie. Waar is die water? Hoe de hel oorleef hulle? Voëls verskyn uit die bloute − soos gissings − net om weer te verdwyn. Versamelvoëls; elke nes uniek en moeisaam geweef tot ’n huis in die lug. Soms is die struktuur so swaar dat die tak van ’n groot kameeldoring breek onder die gewig daarvan. Voëlwoonstelle. Twiet-twiet, hoeveel is die huur? Twiet-twiet, is dit veilig? Twiet-twiet, is elektrisiteit ingesluit? Elektrisiteit. Wat ’n woord − nou feitlik niebestaande. Vir ’n lang ruk was ons vryheid opgesluit in die aanvaarding van die opgefokte status quo. Die verlede se skuld konstant gemeet aan die korrupte hede in ’n poging om ons skuld te delg en só ’n mate van vergifnis te probeer bewerkstellig − ’n selfkastydende neiging om die vrot tot op die been in te asem.
“Baie voëls op hul eerste migrasie is nie van hul ouers vergesel nie en daar is dus niemand wat vir hulle die pad kan wys nie,” sê die boek.
Die klanke val deur haar skraal vingers, grond toe. Die snare sny deur die dun vel aan die punte van haar vingers. Help my, dink sy. Hier is nou feitlik niemand meer oor wat ek ken en op wie ek kan steun nie. Nou is dit net die lang tog noorde toe, terug na waar ek vandaan kom. My lewe weer by die begin, asof die tyd tussenin slegs ’n droom was. Herinneringe aan my ouers wat na my terugstaar uit foto’s, reisend op skepe, altyd omring deur ander mense. Hoe vreemd, my ouers. Ek wil terug na my broers en my suster. Terug na die voet van die berg en onderstebo gaan hang aan die hoogste tak van die Wonderboom en wag tot die môre wanneer hulle my sal kom haal. Daar wil ek afkyk na ’n tapyt van blare, geweef deur die geeste van die amakosana wat onder die boom begrawe lê.