Читать книгу Wonderboom - Lien Botha - Страница 12
ОглавлениеSPOOKBOOM
Samesweerders van ’n bevoorregte eendersheid; die koning van Suid-Afrikaanse kuns (in sy kenmerkende wit hemp van ingevoerde katoen) beweeg neus eerste deur die gaste terwyl hy telkens met sy handpalm praat. Wanneer hy verby ’n groepie beweeg, is dit asof hulle na hul asems snak en kniebuig soos wat Magriet dink die Wyse Manne uit die Ooste eens in die boek Matteus gedoen het. Sy hou die gaste dop vanuit die laagste hoek van die tuin. Na benede gloei die ligte van ’n stad wat jare gelede vir haar bekoring ingehou het maar nou soos ’n vreemde tor in die donker smeul.
’n Entjie van haar af staan drie mense en gesels. Een is ’n lang, skraal vrou met skouerlengte donker hare. Sy het vroeër gewerk by ’n kunsafslaer waar ’n skildery van eende op ’n dam vir miljoene verkoop is. Die vrou was baie aantreklik toe sy jonger was, maar nou beklemtoon haar swart hare die rimpelings langs haar mond, en die lae hals lyk of dit wil swig onder die swaar juweliersware wat om haar nek gedrapeer is. Wat ’n ander wêreld, dink Magriet. Om te dink sy het eens op ’n tyd relatief goed ingeskakel by hierdie sosiale gewoel, en nou is sy ’n anonieme buitestander.
Haar opdrag behels vier sessies, maar die gaste luister in elk geval nie. Sy herken hier en daar nog iemand uit die verlede, hoewel sy twyfel of hulle haar sal eien. Sy het niks, net ’n viool. Onder die stilte en beskutting van ’n wildekatjiepiering dink sy aan die verhaal van die violiste Ginette Neveu wat volgens oorlewering haar Stradivarius in haar arms gekoester het toe haar lyk in die vliegtuigwrak gevind is.
Blomtyd is van Desember tot Januarie, en die bloeisels dra ’n soet reuk. Die harde, buigsame hout is gewild in die vervaardiging van instrumenthandvatsels, asook vir huisgerei soos houtlepels en roerspane vir pap. Die fyngemaakte wortel kan gebruik word om melaatsheid en rumatiek te behandel deur klein snytjies in die vel te maak en dit in te vryf.
“Waar swerf jy?”
Sy kyk versigtig op. Die man is middeljarig, met donker, reguit hare wat begin yl raak om die slape. Hy kyk stip na Magriet. Sy haal haar skouers op in antwoord.
“Ek hou van jou vernuf met die A mineur-drieklankharmonie.”
“Dankie.”
“Sal jy omgee as ek langs jou sit?”
Sy skuif na links sodat daar vir die vreemdeling plek is langs haar. Hoewel sy haar lyf vanoggend met boegoeblare gesmeer het en ook van die lyfroom in die gastebadkamer aangewend het toe sy gearriveer het, is sy tog bekommerd dat daar ’n klankie uit haar vel opgaan. Mense wat honger is, ruik anders. Sy bad gereeld in die see en probeer skoon bly, maar haar higiëne is nie wat dit was nie.
“Verskoon, ek het effe verkoue,” sê die vreemdeling.
Halleluja, dink Magriet, hy sal my nie juis kan ruik nie.
“Skuus, ek is nalatig. Benedikt Burger. Ek woon hier langs die Heydenrichs, eintlik in hulle werkerskwartiere.”
Sy reik haar skraal hand uit. “Magriet Vos.”
Hy kyk af en lyk vir ’n oomblik verskrik. “Ah, I feel it, it is vanished.”
Magriet glimlag. “Pamina in die vierde toneel. Jy is ’n Towerfluit-man, lyk dit my.”
Tot haar verbasing brei hy nie verder uit oor Mozart se opera nie maar val weg met ’n relaas oor ’n artikel wat hy pas geskryf het. Dit handel oor die oorsprong van Maleise kos aan die Kaap en wie nou kwansuis kan aanspraak maak op disse soos bobotie. Hy raak meegevoer deur die narratief van sy eie navorsing en kap na ’n befaamde koskenner wat glo die invloed van die Maleiers wil negeer. Hoe meer hy praat, hoe hongerder raak Magriet. Ek gaan flou val, dink sy. Die man moet nou stilbly.
“Kan ek vir jou iets te ete bring?” vra hy.
Magriet knik verlig. (Hoor sy Tamino se magiese fluit wat droefheid in vreugde kan verander?)
Ná omtrent vyftien minute keer hy terug met ’n Beierse porseleinbordjie waarop drie stukkies beet en ’n ster-anys gerangskik is. Die beet het Rorschach-patrone gemaak wat haar laat dink aan ’n vlermuis.
Sy moet stadig oor die klippe met die kos, want as sy haar nou vergryp deur te vinnig te eet, gaan sy siek word. Larghissimo, met haar oë toe.
Was sy maar die aantreklike vrou van selfs vyf jaar gelede, dan het hy haar moontlik ’n bed aangebied, maar kyk hoe lyk sy.
Die Heydenrichs het twee Ierse wolfhonde. Die Keltiese reuse het op die gras by haar voete kom lê en dit laat haar rustig voel. Nog twee sessies oor vir die aand. Sou iemand hier ooit weet dat sy eens op ’n tyd soos ’n sweefstok-arties deur die lug gewieg het met haar viool onderstebo, dat sy die wêreld vanuit die mees uitsonderlike hoeke bekyk het? Jare lank was dit haar party trick – sy kon die viool onderstebo speel terwyl sy deur die lug swaai. Dit was eintlik ’n grap, hoe sy ja en nee op papiertjies geskryf het, dit toegevou en in die lug opgegooi het en dan na willekeur haar volgende konsert daaruit gekies het. Nou stryk die stok gelate oor die herhalende komposisies van vergange meesters. Sy moet opstaan en verder speel, “Killing Me Softly With His Song”. Dit is die strelende soort musiek wat mense van die kokon verkies. Binne die kokon moet dinge voortgaan soos altyd, en omdat die mense binne hierdie papiebestaan oor die kapitaalkrag beskik, is dit vir hulle moontlik om ’n eersteklas-toestand te bly handhaaf.
Hoe de hel hulle hul kopruimtes om die ellende daar buite kry, is ’n raaisel.
Hier is die nek van die viool, hier is die brug met die delikate siddering van die snare se spanning – die spits van ’n ystervark se penne.
Die tas van iemand se vingerpunte op haar vel. Dit is die man wat sy vroeër ontmoet het.
“Sal jy my aan die slaap kom speel?” vra hy. “Ek sal jou uiteraard beloon.”
Sy knik. “Ek behoort teen elfuur klaar te wees.”
In vergelyking met die herehuis van die Heydenrichs is Benedikt Burger se woonstel karig gemeubileer. Magriet vind daar ’n element van die askeet teenwoordig. Dit is duidelik dat hy lief is vir lees, en die boekrak is netjies georden volgens onderwerpe. Hy bied vir haar tee aan wat ruik na rooswater en sê dat sy maar kan begin speel sodra sy dit klaar gedrink het. Hy gaan lê op die bank langs die boekrak en kyk haar stip aan. Ná “Castle on a Cloud” is sy oë toe.
Dit is skuins voor middernag en sy moet nog terug Tuine toe. Sy soek die badkamer. Daar is Kama Sutra-illustrasies in die gang en sy onthou soortgelyke prente in die huis van haar peetma, jare voordat sy haarself geskiet het. Dit was 26 Desember. Haar man het gaan swem en toe hy in die huis kom en verby haar slaapkamer loop, sien hy haar daar lê met sy Colt 45 naby die harsings.
Vlinder, Aap, Dolfyn: moenie hierdie posisie te lank handhaaf nie, want die bloedtoevoer na die brein kan ’n floute veroorsaak.
Die man neem die viool uit haar hande. Hy draai haar om sodat hy van agter teen haar druk. Sy voel die stulping. Wanneer laas het sy ’n lyf teen hare gevoel? Die viool tref water en swel uit, die viool dryf af met die rivier, tussen ou blare en deur koel, dan warm strome wat die rivier deurvleg. Tutte le corde. Dit oorskry haar honger en roep haar terug na ’n kardinale behoefte; die ekstase daarvan wanneer sy die jagtigheid van die greep om haar lende inlyf.
Toe hy haar na hom toe omdraai, byt sy hom. Hy hou haar gesig met albei hande vas en sy sien trane in sy oë, dan druk hy albei sy duimvingers tot in die binnekant van haar mond asof hy haar speeksel wil uitpars, haar sap wil sien. Sy vergeet van alles waarvoor sy deesdae moet baklei, hy fluister in haar oor dat sy ’n geur het soos die aarde, hy het dit vroeër die aand waargeneem tussen die soet reuk van die katjiepiering.
Magriet word wakker onder die spokende moerbeiboom in die Kompanjiestuin. Die boom het volgens oorlewering meer as twee eeue laas vrugte gedra nadat ’n vlugtende slaaf homself in die omkyk teen die stam dood gehardloop het. Nou dwaal sy rustelose gees tussen die krom takke soos iemand sonder heenkome.
Het sy gedroom? Sy is alleen hier en haar bondgenote die boemelaars is ook nêrens te bespeur nie. Dis net sy en die boom. Hoe laat kan dit wees? Sy wens dit wil oggend word sodat sy kan huis toe gaan, haar in haar voëlnes gaan opkrul en vergeet van die mense wat sy laas nag moes aanskou − mense wat haar eensaamheid en hopeloosheid tot op ’n rotslys dryf.
Haar hande pyn verskriklik. Sy vryf hulle versigtig, ritmies, sy soen haar hande, sy wil haar hande eet sodat daar niks van haar kan oorbly nie. Sy wens dit was nie ’n droom nie, watter begeerte jag nou in haar skoot?
Kyk jy na my, Wim, sien jy my waar jy nou is en is jou hande nog my beskutting teen gevaar?
Toe sy die oggend na die partytjie vir die tweede maal wakker skrik, is die daglumier in wording. Sy voel iets warms en die reuk van yster wat naby haar drup. Met haar middelvinger raak sy aan die plas langs haar en proe dan daaraan. Dit is bloed. Is dit haar bloed? Sy bly stil lê. Stil stil stil. In haar kop neurie sy “Thula baba”. Sy soek haar viool en onthou dan dit is onder haar, begrawe in plastiek in die vlak grond sodat sy in haar slaap daaroor ’n oog kan hou. Bokant haar, in een van die dwarstakke, gewaar sy die kop. Sy snak na haar asem. “Wilhelmina!”
Net die kop, met die warboel dreadlocks, haar oë wyd soos twee vraagtekens. Fok fok fok, dink sy. Sy voel ’n blaasgeluid diep in haar ore, duisendpote kruip op agter haar nek, haar are stol terwyl sy haarself stadig wegsleep van die spokende moerbeiboom.
Dit help nie mens gaan polisie toe nie. Jy retireer net, maak of jy niks gesien het nie, niks weet nie – vee uit, move on. Jy durf nie betrokke raak nie. Dit kan jou einde beteken. Van moord af rol jy geruisloos weg en kyk nie terug nie anders verander jy in ’n soutpilaar.
Hiermee dan my gewaarwordinge direk ná die onthalsing: die ooglede en lippe van die onthoofde man het met onreëlmatige ritmiese sametrekkings bly werk vir ongeveer vyf of ses sekondes. Hierdie verskynsel is al opgemerk deur diegene wat in soortgelyke omstandighede as ek kon sien presies wat gebeur nadat die nek afgekap is … Ek het etlike oomblikke gewag. Die krampagtige bewegings het tot ’n einde gekom. Die gesig het begin ontspan, die ooglede het halfpad gesluit oor die oë sodat slegs die wit van die bindvlies sigbaar was, presies soos in die geval van sterwendes, of pas gestorwenes, met wie ons daagliks in ons professie te doene kry.
Op daardie oomblik het ek met ’n duidelike en harde stem uitgeroep: “Languille!” Ek het gesien hoe die ooglede stadig oplig, sonder enige konvulsies − ek beklemtoon opsetlik hierdie besonderheid − maar met ’n egalige beweging, heeltemal helder en normaal, soos wat in die alledaagse lewe met mense gebeur wanneer hulle ontwaak of uit ’n diepe bepeinsing geruk word. Vervolgens het Languille se oë stip na my gestaar en sy pupille het in fokus gekom. Dit was nie ’n onseker blik sonder enige emosie soos wat mens normaalweg bespeur by die aanspreek van sterwendes nie. Ek het te doene gehad met onmiskenbaar lewendige oë wat na my gekyk het. Ná etlike sekondes het die ooglede weer toegegaan, stadig en reëlmatig, en die kop het dieselfde voorkoms aangeneem as vantevore, voordat ek hom aangespreek het.
Ek het sy naam weer eens uitgeroep, en vir die tweede maal, sonder enige beroering, het die ooglede stadig begin lig en het onbetwisbaar wakker oë na my gekyk, moontlik met selfs meer deurdringendheid as die eerste keer. Die ooglede het weer begin toegaan, hoewel minder volkome. Ek het ’n derde keer probeer, maar dié slag was daar geen verdere beweging nie, en die oë het die glasige voorkoms gehad van dié van iemand wat dood is.
Ek het so pas, met stiptelike noukeurigheid, aan u meegedeel wat ek in staat was om waar te neem. Die hele besigheid het vyf-en-twintig tot dertig sekondes lank geduur.
Sy moet begin stap. Terug huis toe. Dit is ’n tog van sewe-en-tagtig kilometer vanuit die Kaapse middestad na haar nes by die see, wat haar minstens drie dae sal neem, tensy iemand haar ’n geleentheid gee, maar dit is altyd riskant. Sy stap, kop omhoog, maak geen oogkontak − stap net, daar is honderde ander soos sy langs die pad, mense wat hulle lewe lank loop. Mense wat sy altyd bejammer het wanneer sy en Wim verby hulle gery het in hulle wit Honda, Bill Frisell se improvisasies in die lug. Wim het gesê dit klink soos die klankbaan vir The Grapes of Wrath.
Stap aanmekaar en wanneer jy moeg word, maak jy ’n gat in die grond en trek jou kop in soos ’n slak of ’n skilpad. Sy verdwyn tussen die ander voetgangers wat elkeen besig is om ’n bestaanstryd uit te meet. Soos miere beweeg hulle, tussen sink en rook, met die hoofweg eenkant ’n verkalkte aar en hulle aan die rand daarvan soos afwesiges want hulle bydrae is gering.
’n Ent voor haar beweeg ’n man met ballonne, net sy bene steek uit en dit lyk asof hy enige oomblik gaan opstyg. Waarheen is hý op pad?
Daar was ’n foto by ’n tentoonstelling in die Franse dorpie Arles waar sy een somer moes speel. Dit was van ’n ballonverkoper langs die puinhoop van ’n teehuis in Kaboel. Ballonne was onwettig onder die Taliban.
Die ruimte waar die uitstalling plaasgevind het, was in ’n gerehabiliteerde sanatorium waar Vincent van Gogh behandel is. How buildings learn. Toe Magriet by die gebou uitstap, diep ingedagte, het sy uit die bloute ’n oproep gehad van Guy Faure, maar min het sy geweet dat dit die laaste keer was dat sy met hom sou praat. ’n Week later is hy dood, moeg geword vir die antiretrovirale behandeling en armoede, die sukkelbestaan van ’n dramaturg wat nie die sale kon volpak nie. “Starry, starry night.”
Naby die R300 is ’n oop veld waar mense gereeld sokker speel langs die N2. Magriet stap ál stadiger, so stadig nou dat haar voete en die grond een word. Met elke tree tel sy aarde op en sleep die gewig daarvan saam met haar, want wat sy gadeslaan is vir haar loodswaar. Hulle skop ’n uil. Heen en weer. Die pootjies is vasgebind met ’n tou en die arme wysgeer is ’n pluimbol wat nie kan vlieg nie. Sy kan niks doen nie. Sy stop nie, maar hou aan stap met die skok en hartseer in haar hakskene asof sy en die uiltjie een is. Dalk is die uiltjie genadiglik reeds dood. Indien hy hierna wel nog leef, sal hy geestelik versteurd wees. Watse klankies sal uit sy keel kom? wonder Magriet.
Die Portugees-Oos-Indiese vaarder het op 16 April 1686 in die omgewing van Kaap Agulhas gestrand. Aan boord was ’n Siamese afvaardiging op pad na die hof van Louis XIV van Frankryk. Tydens hul staptog na Kaapstad was die oorlewendes so honger en dors dat die Mandaryne later verplig was om hul skoene te eet. Slegs ’n klein groepie oorlewendes het Tafelbaai ná 24 dae bereik.
Voor Monkeytown stop iemand langs haar. Sy kyk twee keer om seker te maak, want die persoon agter die stuurwiel lyk soos Inge Heydenrich.
“Aarde, mens, ek dog ek herken jou!” blaker die vrou met die joviale stemtoon van iemand wat heeldag sit en voetjie klop.
Magriet wil in die aarde insink.
“Ek het vergeet dat jy langs Seafarm woon. Jy moes net gepraat het, want ek is in elk geval op pad soontoe om te kyk na die stoffering wat ons laat oordoen het. Spring in!”
Magriet klim in die passasiersitplek. Haar voete is geswel en sy hoop nie Inge Heydenrich sien dit raak nie. Die twee Ierse wolwe sit agter. Hulle waai hulle sterte en die een sit sy kop op haar skouer. Die hond se asem is warm, dit ruik na kompos. Magriet vou haar arms om die viool.