Читать книгу Die laat lente - Linda Joubert - Страница 3
1
ОглавлениеIn die Brakelkom is die lente altyd traag. Die peer- en pruimblomme is al lankal gespeen in die tuine van die Hoogekraal- en Noodputboere, dan breek die Kombloeisels eers oop. ’n Mens kan daar tot diep in Oktober ryp verwag, en dit het selfs gebeur dat die oggende in November nog skerp koud is met wintermistigheid bokant die bergpoele.
Maar wanneer die lente kom, is dit nie ’n suinige gety soos in Middelvlei se wêreld nie; dis oorvloed en oordaad: blond en blou en goud.
Die peerlanings is ’n wit bewegende see, die perskeboorde is roos en rooi, en ver teen die lug staan die groen toppe van die rankskraal populiere.
So kom die lente in die Brakelkom, en so het Lina op ’t Hoff dit onthou uit haar jeug. En net so het die liefde ook in haar lewe gekom: die een oomblik het sy nog in die klein, troostelose wagkamertjie van die haltetjie gesit en wag – haar hande gevou in haar skoot, haar koffer met die etiketjie langs haar – en die volgende oomblik het Johannes van Brakel in die deur gestaan met sy hoed in sy hand.
“Is u mejuffrou Op ’t Hoff?”
“Ja, Meneer,” sê sy nederig terwyl sy opstaan en haar hand uithou. En toe hy dit in syne neem, was dit kompleet of sy die piet-my-vrou in die verte hoor roep. Die wêreld het om haar oopgeblom, maar sy het haar oë neergeslaan en niks gewys nie, want sy het haar plek geken.
“Die kar wag buite,” sê hy kortaf, en met dié vat hy haar koffer.
“Ek kan dit self dra, dankie, Meneer,” probeer sy keer, maar hy was al by die deur.
“Daar’s die kar, daar by die eikeboom.” Hy beduie met sy kop. “Ek is jammer ek is laat.”
“Dit maak nie saak nie,” antwoord sy sag.
Die eikeboom was ’n hele entjie van die haltetjie af, en hy het vinnig gestap. Lina moes haar inspan om by te bly, want haar swart rok was wyd en swaar en die donker reismantel ’n ekstra gewig om haar skouers.
Halfpad staan hy skielik stil en draai om. “Ek stap te vinnig vir jou, maar ek is so in die gewoonte.” Met dié haal hy sy hoed af en vee senuagtig met sy hand oor sy hare.
Lina glimlag. “Dis goed so, Meneer.” Vir die eerste keer kyk sy hom vol in die gesig, en noudat die eerste bly verwondering verby is, sien sy dat hy baie moeg lyk, eintlik uitgeput. Sy gesig is donker, skraal, en dis of die vermoeidheid soos ’n newel daaroor lê.
Net vermoeidheid? Lina het die tekens so goed geken: die aftrek van die mondhoeke, die blou kringe om die oë … Maar hier was iets meer as net moeg wees. Sy vrou is natuurlik skaars vyf maande vantevore begrawe, en ’n mens kon verwag dat hy dit sou wys. En tog, die ongedurigheid, die onrustigheid, die gevoel dat hy totaal uit pas was met die wêreld – dit was dinge wat ’n mens moeilik uit die dood kon verklaar. Opstandig wees, ja, of terneergedruk. Maar Johannes van Brakel was soos ’n vreemdeling in die mooi Brakelkom. Dit was of hy ’n mens wou waarsku: Moenie aan my raak nie.
“Is die plaas ver?” vra sy om geselskap te maak.
“Vier myl,” en hy beduie in die rigting waar die son ondergaan. “Dis anderkant die rivier. Ons moet deur die drif gaan.”
“Dan’s u naby die rivier.” Lina op ’t Hoff praat sag, maar die man hoor nogtans die blydskap in haar stem.
Hy hou sy hand uit om haar op die kar te help. “Dit klink of u bly is.”
“Dankie,” sê sy rustig. “Ja, ek hou van lopende water. Dis wat ek op die dorp altyd gemis het. Daar het ons net ’n put gehad.”
“Die rivier is skaars veertig tree van die opstal af.”
Byna teen sy sin gee die man die inligting, maar dis of iets hom noodsaak om met die donker, stil vrou te gesels. Miskien was dit omdat hy weer haar stem wou hoor. Johannes van Brakel het ’n fyn gehoor vir stemme gehad, en die meisie s’n was laag en sag en baie rustig. Miskien was dit ook maar net die skemeraand waarin hulle nou gery het wat hom so gestem het: die rooi waar die son agter die berge ingesak het, die stilte van die saailande langs die pad.
Die kar was goed geveer en die twee merries het mekaar en hulle drywer goed verstaan.
Lina het teruggeleun, en haar kappiehoed het met die ry al agtertoe geskuif. Toe die man weer na haar kyk, was haar gesig heeltemal oop van die kant af.
Sy was nie mooi nie, ook nie eens meer baie jonk nie. Haar hare was in ’n eenvoudige bolla in haar nek gevleg en haar gesig was eintlik te grof vir ’n vrou: sterk wangbene, ’n stewige ken – ’n boeregesig.
“Hou u van hierdie wêreld?”
Lina kyk na hom, dan na die donkerende landskap om hulle. Die koringlande was bruinerig in die laat lig, en ver na die een kant toe was die wilgers donker langs die rivier.
“Ek ken dié wêreld, het hier grootgeword tot my tiende jaar,” antwoord sy. Die bly klank was weer in haar stem, sodat die man met nuwe oë om hom heen kyk.
“Ja,” sê hy, asof hy dit skaars wil toegee, “dis mooi. Dis nou baie mooi, maar wat as die winter kom? Aprilmaand val die eerste ryp, en dan is dit net die mis en die aanhoudende reent.”
“Selfs dan,” en sy tel haar hande op om haar kappiehoed reg te skuif. Haar hande is groot en sterk, selfs skurf, die hande van iemand wat werk, en die moue van haar bloese hang wyd weg van haar stewige polse. Toe sy klaar is met haar hoed, vou sy hulle weer in haar skoot.
Die man kyk lank na haar hande. Hy vergeet eintlik om die perde aan te spoor, sodat hulle stadiger draf. “Jy het jou oupa opgepas?” vra hy uiteindelik.
“My grootoom, ja.”
“Vir lank?”
“Die afgelope vyftien jaar.”
“’n Leeftyd,” sê hy stroef. “Is dit al wat jy gedoen het?”
“Ja,” sê sy en toe voeg sy uit haar eie by: “Hy het baie oppas nodig gehad, veral die afgelope vyf jaar. Toe was hy heeltemal bedlêend. Sy bene het ingegee en hy kon byna niks vir homself doen nie.”
“Waarom het jy dan nie weggegaan nie? Jou grootoom, dis mos nie na-familie nie?”
Die meisie antwoord eers nie. Sy kyk voor haar in die pad. “Dis soos dinge kom,” sê sy naderhand. “Hy het my ingeneem toe ek wees agtergelaat is.”
“Jy is ’n goeie mens.” Weer sê hy dit asof dit vir hom moeilik is om die erkenning te maak.
“Nee.” Sy glimlag. “Ek doen net wat my hand vind om te doen. Maar u het tog self ondervinding van sulke sake. U het my mos geskryf dat u stiefdogter kreupel is, dat haar bene …”
“Ja,” sê die man kortaf. Hy draai weg van die meisie af, en meteens was dit of hy besef dat die perde te stadig draf. Hy roep ’n paar keer ongeduldig en die kar beweeg vinnig vorentoe. Maar hy praat nie verder nie.
Lina het heen en weer geskud soos die kar oor die hobbelrige gruis beweeg. Skielik stamp sy teen hom aan toe een wiel onverwags wegsink in ’n sandgat. Onwillekeurig steek hy sy hand uit om haar te hou, maar sy sit byna onmiddellik weer regop. “Ek is jammer, Meneer,” sê sy.
Hy sê niks, en sy voel hoedat die bloed opstoot in haar gesig. Gelukkig was dit nou al sterk donker sodat hy skaars haar verleentheid oor die onverwagte aanraking sou kon opmerk.
Lina op ’t Hoff was dertig jaar oud. Sy het gedink sy ken haarself en haar wêreld, al was dit dan net tot by die laaste stofstraat van die dorpie waarin grootoom Dawid gebly het, maar toe die kar weer egalig beweeg, het sy geweet dat sy nou op ’n pad was waarvan sy die einde nie kon voorspel nie. Twintig jaar lank het haar lewe in ’n stil systroom ingegaan, ’n agterwatertjie wat tussen slaapkamer en kombuis opgedam het, ’n bestaan waarin een dag soos die ander verbygegaan het, en die sekerste teken van die wisselende getye die steeds hulpeloser wordende sieke was. Januarie kon hy nog sy arms gebruik, Mei moes hy gevoer word en Oktober was hy soos ’n pasgebore baba.
Maar nou hier op die kar langs die man wat so vreemd afsydig was … Sou die lente altyd so gekom het, so met onrus en ongedurigheid? Was dit wat dit beteken het as die piet-my-vrou oor die lande roep: dat mens ’n vreemdeling word vir jouself?
“Het jy lank vir my moes wag?” Sy skrik, want die man het totaal onverwags gepraat.
“Omtrent ’n halfuur.”
“Jy moes al onrustig begin word het?”
“Ek is gewoond aan wag, Meneer.”
Sy sê niks verder nie, maar skielik was dit vir Johannes van Brakel of hy haar daar op Bloemdal se markplein kon sien waar sy wag, stil en donker in haar swart lakense rouklere en die streng kappiehoed oor haar hare.
“Het iemand jou kom afsien?” vra hy.
“Nee, Meneer.” Sy gee geen verdere verduideliking nie.
Miskien het dit hom nie aangegaan nie, maar hy wou tog weet.
“Waarom nie?”
“Hulle was ontevrede omdat ek op u advertensie geantwoord het.”
“Het hulle dan iets teen my?” Sy stem is agterdogtig in die donker.
“Teen u?” Hy kan haar verbasing hoor. “Wat sou hulle teen u hê? Nee, Meneer. My tante wou hê ek moes saam met haar gaan.”
“En waarom het jy nie? Dit sou tog beter gewees het as om goewernante te word.”
Skielik spits die perde hulle ore. Lina kyk vorentoe na waar die pad teen die oorkantste wal uitgaan. Daar’s iemand te perd. Die dier glip-gly teen die skuinste af. Dan is die ruiter langs hulle. Nou kan sy sien dat dit ’n man is. Hy hou vlak by die kar stil.
“Naand, Meneer,” sê hy.
Lina probeer nuuskierig meer van die gesig sien. Die groet was so vreemd, oënskynlik baie beleef maar tog met ’n ondertoon van veragting.
“Naand,” sê Van Brakel. “Waar gaan jy heen?”
“Besigheid, sommer my eie besigheid.” Die ruiter beduie vaagweg met sy hand, maar weer was daar die vae uittarting in sy stemklank.
“In die aand?” Dit was vir Lina of sy kon sien hoe haar werkgewer die leisels vaster vat in sy hande.
“In die aand? Ja, Meneer, baie dinge kan in die donker gebeur. Jy weet tog self.” Dan lag hy en kap sy hakskene in die perd se sye sodat die dier verskrik vorentoe spring. “Goeienaand, Meneer,” roep hy oor sy skouer.
Lina sê niks, die man ook nie. Hy sit so stil dat sy eintlik ongemaklik begin voel. Dan staan hy skielik op uit sy sitplek. Hy leun vorentoe en slaan die merries so hard dat die kar met ’n skok wegruk. Die water spat onder die hoewe uit en maal deur die speke.
“Ek haat die water,” sê hy driftig en spoor die diere nog steeds aan. “Jy sien dit nou so stil, maar jy sal nooit kan dink hoe dit om daardie draai kan spoel met ’n vloed nie. En so skielik! Sommer meteens ’n muur van water, ’n wal wat breek. En die Here bewaar iemand wat in die pad kom.”
“U praat of u self in so ’n vloed was?”
“Nee,” sê hy kortaf, “ek weet daar niks van af nie.”
Hulle is nou die steilte uit, en die perde gee effens skiet. Dan gaan hulle om die draai, en toe lê die plaas en die opstal voor hulle – Schoonaanzicht. Die gewels is wit, maar verder is die aand donker oor die werf en lande. Die groot bome is swart skadukolle. Daar brand ’n liggie in een van die boonste gewels.
’n Hond begin blaf, dan nog een. Die perde draf nou gelykweg, en as Lina haar kom kry, hou hulle stil en die man help haar af. Hy haal haar koffer af, en ’n plaaswerker verskyn uit die donkerte.
“Janus, neem die juffrou in.”
Janus raak met sy voorvinger aan sy voorkop.
Lina volg hom. Die huis is enorm groot. Daar is ’n yslike, wye stoep – selfs in die donker kon sy sien hoe die teëls blink – en balies met stoepplante langs die voordeur. Dis Krismisrose en die blomme is soos wit sneeuballe tussen die loof. Janus maak die deur oop, en Lina kyk terug na waar die kar stilgehou het, maar die man het al weggery daarmee om die huis in die rigting van die waenhuis.
Daar was lig in die voorhuis. ’n Yslike lamp het op die tafel gebrand. Die geel glans het die vertrek gevul, maar daar was niemand nie. Janus het half onseker om hom gekyk en gesê: “Die kleinnonna sal seker nou-nou kom.”
“Dis goed,” antwoord Lina. “Jy kan maar gaan.”
En toe sien sy dit. Dit was teen die agterste muur van ’n uitbousel van die vertrek: die portret van ’n vrou. Daar was niks verder teen daardie muur nie, ook nie meubels nie, net ’n ovaal tafeltjie waarop ’n bak met rose gestaan het.
Lina het doodstil gaan staan voor die skildery, ’n ontsaglike portret van ’n vrou. Haar hare was rooibruin kastaiings en dit was soos ’n kroon om haar kop. ’n Mens kon bly kyk daarna. Dit was asof die vlegsels geleef het met ’n vreemde soort lewe, heeltemal onafhanklik van die verf en die olie. En onder die portret, gerangskik in ’n vaas, was die vars geplukte rose. Die vrou moes mevrou Van Brakel gewees het, en die uitbouseltjie ’n familieheiligdom gewy aan haar nagedagtenis.
Meteens draai Lina om. In die oop deur agter haar is ’n meisie in ’n rolstoel, haar hande om die wiele soos sy dit tot stilstand gerem het. Om haar bene en voete is ’n kombers gevou om haar kreupelheid te verberg. Maar Lina kan sien dat selfs haar bolyf krom is. Net haar hande makeer niks nie. Hulle is uitermate sterk en goed ontwikkel.
“Goeienaand,” groet Lina. “Jy is seker Fleurette.”
Maar die meisie antwoord nie. Sy beweeg nog ’n paar tree nader totdat die stoel voor die portret staan.
“Dis my ma,” sê sy stug.
Lina steek haar hande uit. “Ek het so gedink,” sê sy. “Sy was pragtig.”
Saam kyk hulle na die vrou. “Ja,” stem die kind toe, “sy was die mooiste mens in die hele wêreld. Sien jy haar hare?”
“Ja.”
“Wanneer dit los was, het dit tot op haar heupe gehang, nes rooi goud. Mens wou met jou hande daaraan vat. Dit was nes dit gelewe het.”
Skielik ril Lina.
“Kry jy koud?” vra die kind bot.
Lina probeer dit weglag. Hoe om aan die meisie te verduidelik hoe sy ’n oomblik gevoel het? En dit oor die hare, die hare wat so ’n eie lewe gehad het?
“Jy lyk na haar,” sê sy.
“Ek?” Die meisie kyk haar openlik vyandig aan. “Kyk,” sê sy dan, “kyk, kyk!”
Daar was ’n spieël aan die muur reg agter hulle, ’n groot spieël met ’n pragtige, vergulde raam. Dié was versier met uitgesnyde blomslingers en ronde medaljes, en bo was twee voëls wat met hulle bekke aan die haak in die muur vasgehou het. Maar Lina het nie daarna gekyk nie. Die vrou het in die spieël gehang, die raam van haar skildery was in die groter raam van die spieël, en ook in die weerkaatsing het haar hare met die vreemde goudskyn gelewe en het die groen van haar rok al die lig gevang.
“Dink jy nog so?” vra die meisie. Sy wys na die tweede beeld in die spieël: sy self in die rolstoel met haar beentjies stokkerig onder die swaar kombers. “Sy was so mooi. As sy by ’n kamer inkom, was dit of jy ’n lig opsteek.”
“Jou stiefvader was seker baie lief vir haar?” Lina kon haarself nie bedwing nie.
“Lief ?” herhaal die kind. “Vir haar? Ja,” en sy lag hard, “hy was lief vir haar. Baie lief.” Sy lag al harder, al skerper. Haar stem word dun, histeries. “Baie lief, nes Jean en Pierre.”
“Fleurette!” Johannes van Brakel was by hulle in die vertrek. Sy kuif lê skeef oor sy voorkop en hy is doodsbleek. Lina kan sien dat hy hom met moeite inhou. “Fleurette,” sê hy weer.
Die meisie hik half soos sy probeer om haar lag in te hou. “Jy was mos lief vir my ma, nè? Baie lief.”
Johannes van Brakel antwoord nie. Lina waag dit nie om na hom te kyk nie. Sy staan met haar oë half neergeslaan. Dat daar so ’n toneel moet wees net nadat sy op die plaas aangekom het.
“Jy’t weer rose onder die portret neergesit.” Nou was sy stem doodnugter en normaal, en Lina kyk op. Sy sien hulle al vier in die spieël: sy self, die man, die kind en die vrou van die skildery. Toe loop die man na die tafeltjie toe en haal die rose uit die water. Dan skuif hy die vensterraam op en gooi die rose ver weg in die donkerte in. “Ek het jou gesê ek wil nie blomme hier hê nie.”
Die meisie se gesig verander. Eers het Lina gedink sy gaan huil, maar toe sien sy dat dit van woede is. Die nog kinderlike ronding van die wange en die sagtheid van die ken was ineens vertrek deur ’n verskriklike drif.
Lina het meteens besef dat sy baie moeg was. Sy het aan die muur vasgehou om nie te val nie en haar oë toegemaak in ’n poging om haar ewewig te herwin. Dit was amper of die kamer om haar beweeg het. Eindelik kon sy haarself vertrou. Sy sit haar hand liggies op die meisie se maer skouer en vra: “Sal jy vir my my kamer gaan wys?”
“Moenie aan my raak nie.” Die meisie ruk haar skouer weg.
“Ek is jammer.” Lina skud haar kop.
Toe begin die meisie huil, nie soos ’n kind met ’n vinnige tranebui nie: dit was soos die huil van ’n grootmens, stram, teen haar sin, met droë snikke. Skielik draai sy haar stoel heftig om. “Josephine,” roep sy, “Josephine!”
Asof sy net buitekant die deur gewag het, kom ’n vrou in.
“Josephine,” snik die kind, “neem my weg.”
Die vrou kyk vinnig deur die vertrek, eers na Johannes van Brakel, toe na Lina. Sy sê nie naand nie, niks nie. Sy neem net die stoel se handvatsel en stoot dit behendig weg sodat haar rok ruis met die wegstap en haar lang oorbelle klingel. By die deur kyk sy nog ’n keer om.
Sy was ’n groot vrou met ’n liggeel gesig. Haar wangbene het ver uitgestaan, maar haar neus en ken was plat. Sy was ’n stewige vrou wat die kind seker goed versorg het. So het Lina gedink. Maar waarom dan haar onwillekeurige gevoel van afkeer? Sou dit wees omdat Josephine nie ooghare of wenkbroue gehad het nie? Ag, sy was seker maar oorstuur, dodelik moeg.
Op ’n skielike ingewing draai sy na haar werkgewer toe. “Mag ek na my kamer toe gaan?” vra sy beleef.
“Die tweede deur regs nadat jy by die trap opgegaan het.” Hy staan met sy skouers opgetrek voor die venster. Hy kyk nie eens na haar nie.
“Dankie, Meneer.”