Читать книгу Die laat lente - Linda Joubert - Страница 4

2

Оглавление

Daar’s vermoeidheid van die liggaam en daar’s vermoeidheid van die gees. Maar daar is nog een wat iets van albei is. Lina het ’n lang dag agter haar gehad; haar lyf was nie gewoond aan die rondskud en die skommel van ’n koets nie. Maar dit op sigself sou haar nie so uitermate uitgeput laat voel het nie. Sy was ’n mens wat gewoond was aan werk, aan die gebruik van haar hande.

Maar al die tyd in oom Dawid se huis, terwyl sy die bakkiespomp getrap en die klaende sieke na hand en mond versorg het, het sy vrede van gemoed gehad. Sy kon haar oggende in blymoedigheid begin en saans haar hoof in vrede neerlê. Sy was so ’n soort mens.

Maar dié aand, nadat sy die breë trap opgeklim het wat na die boonste slaapkamers lei en die deur agter haar toegemaak het, het sy skielik met haar kop in haar hande op die venstersitbank neergesak. Sy was tot sterwens toe moeg, en dit was nie net van die rit nie.

Sy kon nie dink nie, nie voel nie. Die gebeurtenisse van die lang dag, die tyd daarvoor, oom Dawid se lang siekte en sterfte – alles het soos water oor haar heen gespoel, en sy kon net haar oë toemaak en in die stilte wegsink.

Iemand klop aan die deur. Lina het skielik baie verleë gevoel nog so met haar reismantel en kappie aan, maar sy maak oop. Dit was ’n bediende met ’n kan koffie, melk en toebroodjies – nie dieselfde bediende wat die jong meisie in die stootstoel weggeneem het nie. Hierdie een se gesig was vriendelik en sommer openlik nuuskierig.

“Het Nonna alles wat Nonna wil hê? Sal Nonna regkom? Ai, ek hoor Fleurette het maar weer so ’n spektakel van haarself gemaak. Ai, die arme meneer tog. Hy kry so swaar met haar, en dis nie eens sy eie kind nie, sommer optelgoed … En dit die eerste aand wat Nonna hier aankom. Ai, ek hoop tog Nonna gaan haar regmaak, want gedoriewaar, die lewe wat sy algar lei. Maar dis haar mame se skuld, al is sy nou dood …”

Dit was sommer land en sand aanmekaar, en terwyl sy wag dat Lina klaar eet, begin sy vrypostig die koffer oopmaak, uitpak en ophang.

Die vrou was nou besig om haar kerktabberd op te hang. Voor sy dit in die kas bêre, beskou sy dit eers van dié kant af, dan van die ander kant af.

Lina glimlag. “Is daar iets verkeerd?”

“Ai, waarom dan so baie swart? Alles is dan swart. Nonna’s mos nie so oud nie.”

“Dis vir die son, en buitendien, swart dra goed.”

Maar die vrou skud haar kop. “Net so ’n ou kleurtjie … As Nonna nou ’n rooi tabberd wou dra, helderblou of groen, soos dié van oorlede Mevrou …”

Lina kyk oor die rand van die koppie, stip na die bediende. Sou sy iets bybedoel het met haar gepraat? Maar sy was al weer besig om van die wit, geborduurde onderklere weg te pak. Sy het ’n deuntjie tussen haar lippe en tande deur probeer fluit: “Daar oorkant die spruit, daar staan ’n blom …”

Sy kom skielik regop en sonder om na Lina te kyk, sê sy wars in die wind: “Daar’s kaste en kaste klere van die oorlede mevrou in die vrykamer. Te mooi! Sy was een met ’n oog vir ’n rok. En die rompe en die strikke en die valletjies! Vra vir my van die stryk en die stywe. En nou hang hulle daar, vir die motte en die muf. As die meneer dit liewer sou wegneem.”

Sy hou haar kop skuins om te sien hoe die goewernante op die informasie reageer, maar Lina eet en drink rustig verder. As sy dit kon verhelp, sou sy nie maklik weer ’n gesprek met iemand aanknoop oor Johannes van Brakel se oorlede vrou nie. Toe sy die laaste bietjie koffie uitgeskink en gedrink het, sê sy: “Dankie, dit was lekker.”

“Plesier,” en die lywige vrou raap die skinkbord op. Sy beweeg lig-lig na die deur. “Nag, Nonna.” Sy haak die deur met haar voet oop en dan is sy uit, maar voor sy die knip finaal indruk, steek sy haar kop weer ongeërg na binne. “Hier in die huis het ons ore, maar ons hou ons monde dig oor dinge wat ons nie aangaan nie.”

Die deur word op knip getrek.

Ná die koffie en brood het Lina aansienlik beter gevoel. Sy kon nou na haar kamer kyk, dit bestudeer en vergelyk met die een waarin sy vyftien jaar lank geslaap het. Dit was ’n redelike groot kamer, nie besonder hoog nie, en aan die een kant het die skuinste van die dak nog ’n deel van die hoogte weggesny. Daar was twee vensters met diamantvormige ruitjies met lood tussenin. Op die hoë bed was ’n yslike verepeul gestapel, en die behangsels was spierwit gestyf. Alles was kraakskoon en netjies en blinkgevryf, maar so koud …

Sy skuif die vensterraam op en leun uit. Daar is die water, ongeveer veertig tree ver, soos hy gesê het. En daar agter is die Komberge. Om haar was die Komnag, somers en soel, nes sy dit van vroeër jare onthou het. Dit was haar wêreld hierdie en sy het dit liefgehad. Dertig jaar al is dit deel van haar.

Sy maak haar oë toe. Die jare wat verby is, was meteens by haar in die kamer, soos plaatjies van ’n towerlantern wat sy uit haar kindertyd onthou het – towerplaatjies van jouself as kind, die enigste kind van twee verliefde ouers by ’n eenmanskooltjie iewers in die Brakelkomvlakte, daar waar die berge ’n draai maak om die vrugbare vallei te vorm. Meneer en mevrou Op ’t Hoff, meneer met die deftige lakense pak, hoë keiltjie en Europese knypbrilletjie – ik ben, jij bent, hij … Neen, stommerik, zoo zeggen wij niet op het Nederlands, en as die klas moeg gespook was met hierdie deel van die taal, nou ja, dan maar gaan soek na die de- en die het-woorde. En as meneer Op ’t Hoff smiddags uitgeput van sukkel met die boereseuns en -dogters sy voordeur oopmaak, wag mevrou Op ’t Hoff op hom. Sy was Afrikaans, een van die Brakelkommeisies, maar wanneer Eggert op ’t Hoff by haar was, het hy sy vae heimwee na die waterland vergeet en die gesukkel met die leerlinge as die Afrikason die wêreld soos ’n miskoek bak. Sy was ’n blymoedige mens en in haar tuin het madeliefies gegroei, en eiewys vleilelies wat selfs ou buurman Stoffel Landman met sy boekkennis en spesiale kraalmis nie aan die lewe kon hou nie.

Eggert op ’t Hoff het die wasdom en die vrugbaarheid om sy vrou gesien en hy het geweet dat die lewe goed was. Ceres het hy haar dan genoem. Sy het nie geweet waarom nie, maar sy het geglimlag.

Een somer, ’n besonderse droë somer toe selfs die groot fontein in die kloof opgedroog en die aarde vir maande onder ’n verskriklike son geblaker het, het sy maagkoors gekry. Die siekte was daardie jaar kwaai, en in al die Kombegraafplase het ’n nuwe graf of twee bygekom. Karolien op ’t Hoff het gedoen wat die dokter haar aangesê het om te doen, en toe die siekte kwaaier word, het sy moedig gestry, maar toe sy sterf, het sy dit aanvaar soos sy die lewe aanvaar het.

Eggert op ’t Hoff het blomme op haar graf geplant, goudgeel madeliefies. Van die buurmense het amper aanstoot geneem. Dit was mos g’n grafblomme nie: malskruid ja, of die beskeie wit en pers grafstruikies, maar hierdie uitdagende plante wat die lig van die son teruggekaats het?

Maar Eggert op ’t Hoff het net gewag dat die blomme op sy vrou se graf goed aan die gang was, toe is hy ook dood. Een of ander inwendige kwaal, so het die dokter beduie toe Karolien se familie hom uitvra. Nee, daar was niks aan te doen nie, hoegenaamd niks nie, en buitendien, die begeerte vir die lewe was nie daar nie.

Lina op ’t Hoff leun terug op die venstersitbank. Dit was alles so lank gelede, en tog, wanneer sy haar oë toemaak, kon sy dit so duidelik sien: die onderwyserswoning en haar ma se tuin. As jy tien jaar lank op ’n plek gebly het, is dit joue vir ewig, al was jy toe nog maar ’n kind. Mense, vreemde mense wat sê dat hulle jou familie is, kom jou haal in ’n kar met ’n wit kap en twee vosperde langs die disselboom. Jy ry ’n lang tyd, so al tussen die plase deur, en as dit aand word, kom jy by ’n stowwerige dorpie met huise op klein, afgebakende erfies; jy kry ’n kamer, ’n eie agterkamertjie wat op die wasplek uitkyk. Daar is selfs ’n kas om jou swart rouklere in op te hang. Jy sit jou Bybel en jou gesangboek en jou boek met versies op die tafeltjie langs jou bed neer en dan gaan staan jy by die venster, maar jy kyk vas teen ’n witgekalkte muur, ’n hoë muur, en dan wonder jy wat nou van jou gaan word, want jy is heeltemal wees, en ’n grootoom is nie baie naby familie nie.

Hoe het die familie nou weer gesê toe hulle haar die eerste keer sien? Sy trek gedoriewaar nie op die Gouwse nie, dan seker maar op die Op ’t Hoffs. Snaaks dat ’n kind altyd na die lelike een van die ouers moet lyk!

Nee, die familie het nie doekies omgedraai nie, en in haar hart het Lina geweet hulle praat die waarheid. Daarom het sy haar hare maar netjies gekam en haar rok en voorskoot platgestryk. As ’n mens dan nie mooi kan wees nie, kan jy in elk geval ordentlik lyk, en dié aand aan tafel het grootoom Dawid sy kop goedkeurend geknik: Die liewe kind was op haar plek, stil en gedwee. Sy behoort nie te veel moeite te gee nie.

Dat ’n kind eensaam kon wees? Bog! Hier het hy self die hele dag in sy huis deurgebring met net sy seëls en sy voëls, en hy was in die sewentig. En buitendien, die meisie het nooit gekla nie. Sy was ’n stil, gedienstige kind wat altyd goeie rapporte huis toe gebring het aan die einde van die kwartaal. Sy het nooit gegiggel soos ander meisietjies van haar jare nie, en sy kon lewerpannekoek voorberei soos selfs grootoom Dawid se ma dit nie kon doen nie: eers die uie so effens bruinmaak in ’n skeppie botter, dan die tiemie en die knoffel en die hoenderlewertjies, en as die mengsel net so ’n prikkelende braaireuk begin kry, word dit toegevou in ’n pannekoek, en dan skep mens die sous daaroor. Nee, sy was ’n goeie kind. Dit was ’n geseënde dag toe grootoom Dawid besluit het om haar in te neem, sy niggie Karolien se kind, liewer as om haar na ’n weesinrigting te laat gaan. En toe die rumatiek oom Dawid so ’n stuk of vyf jaar later skoon begin plattrek, het hy nog meer rede as ooit gehad om dankbaar te wees. Hy het eersteklas verpleging gekry sonder om ’n pennie uit te gee, en dan kon sy nog vir hom voorlees ook, want dis een van die dinge wat die skooljuffrouens haar geleer het.

Nee, oom Dawid sou goeie oppas hê tot die dag van sy dood. En as hy nie meer daar was nie, sou sy testament daarvoor sorg dat die kind nie broodsgebrek ly nie; sy sou drie pond in die maand ontvang totdat sy die dag te sterwe kom, of haar in die staat begewe.

Lina was ’n mens wat gedoen het wat haar hande vind om te doen, en by haar geboorte het sy die gawe van blymoedigheid van haar moeder gekry. Selfs die eng bestaan in grootoom Dawid se huis kon nie haar vreugde demp nie. Sy het hom met dankbaarheid verpleeg tot die einde toe, toe die dokter in ’n fluistertoon gesê het: “Dis verby.”

Maar toe sy dogter ’n dag of wat ná die begrafnis so verlangs in die rigting begin praat dat dit miskien goed sou wees as Lina nou maar saam met haar teruggaan aangesien sy tog nie langer ’n onderdak sou hê nie, dat sy maar verniet by hulle kon kom inwoon en net hier en daar ’n bietjie hand hoef te gee met die huishouding, miskien die meisies onderrig vir hulle eksamen, het Lina regop gekom waar sy besig was om ’n bed op te maak en gesê: “Nee, tant Mynie, ek het ander reëlings getref.”

Sy het die warm water wat die bediende in ’n koperbeker ingebring het, in die skottel omgekeer. Toe trek sy haar boklere uit. Dan was sy haarself, en die hitte van die water is verfrissend teen haar stowwerige vel. Sy het nie verder gedink nie, haar net welbehaaglik oorgegee aan die genot van die water aan haar liggaam.

Eers toe sy haar spierwit linnenagrok aangehad het, het sy weer aan haar sonderlinge aankoms gedink. Dit was toe sy haar beeld in die spieël gesien het: die eenvoudige nagrok wat wyd en regaf van ’n ingetrekte hals afgehang het, haar hare wat in twee bruin vlegsels oor haar skouers lê, haar groot gesig daarbo.

Die beeld was eenvoudig en maagdelik. Vir een oomblik was dit vir Lina of sy nog iemand in die spieël sien: ’n vrou met goudrooi hare en ’n groen fluweeltabberd, laag uitgesny oor haar pragtige bors – aantreklik, lokkend.

Toe speel ’n ligte windjie deur die venster en kom dans om die vlam van die kers in haar hand. Sy kyk af na die flikkerende vlam en toe sy weer na die spieël kyk, was die tweede beeld weg. Was dit blote verbeelding, ’n hersenskim opgetower deur haar vermoeidheid uit die donkerte en die laatheid van die nag? Lina sou nie kon sê nie. Sy het in die bed geklim, bewend van iets wat nie koue was nie. Daardie vrou, daardie vrou met haar rooigeel hare en uitdagende houding, en Johannes van Brakel, vir wie die Komwêreld so teen sy sin mooi was en langs wie die onrus soos ’n hond saamgedraf het …

Sy self tussen hulle beide.

Sy maak haar oë toe. “Vader,” bid sy, “gee my weer rus, kalmte van gemoed. Dit was al wat ek ooit gehad het.”

Die laat lente

Подняться наверх