Читать книгу Die laat lente - Linda Joubert - Страница 5

3

Оглавление

’n Nuwe dag beteken ’n nuwe begin, veral as ’n mens die vorige aand as ’n vreemdeling in ’n vreemde bed gaan slaap het. Lina was sommer baie vroeg wakker, al het sy laat eers aan die slaap geraak. Waar die gordyne nie dig was nie, het die vroeë somerson deur haar venster tot op die gehekelde matjie langs haar bed gestroom.

Vir ’n paar oomblikke het sy gelê en kyk na die helder ligstraal op die bont matjie. Dit was of sy nie heeltemal mooi kon besef waar sy was nie, maar toe ’n haan skielik helder en lank kraai, het sy regop gesit. Sy het na die venster toe gegaan en die gordyne wyd oopgetrek. Toe haal sy diep asem.

Skielik besef sy dat sy nie alleen is nie. Sy kyk versteurd af. Johannes van Brakel was in die tuin, byna onder haar venster. Hy was in donker ryklere met ’n peits in sy hand. In die skerp lig van die oggend was hy groter en skraler as wat sy die vorige aand gedink het.

“Goeiemôre, juffrou Op ’t Hoff,” groet hy beleef maar koel.

Lina word bloedrooi, pynlik bewus van haar spierwit nagrok en die dun kantvalletjie.

“Juliet,” sê hy spottend, “die venster is daar, die skone is daar …”

Maar Lina het nie gewag dat hy sy sin voltooi nie. Sy het teruggetree in die kamer en die gordyn toegetrek. Toe het sy haar so vinnig as wat sy kon, aangetrek: ’n langmoubloese wat sy hoog in haar nek vasspeld. Sy het haar hare styf teruggevleg van haar voorkop af. Eers toe was sy tevrede. Wat sou die man van haar dink? In haar nagklere voor die oop venster!

Gelukkig was hy nie aan die ontbyttafel nie. Dit was net sy en die dogter, Fleurette, en sy het nog boonop eenkant gesit in haar rolstoel met ’n skinkbord voor haar. Maar die kind wou niks eet nie. Sy het ’n bietjie rondgesteek met haar vurk in die kos, toe stoot sy die bord weg.

Lina smeer ’n bietjie botter duntjies op ’n sny brood. Sy drup donkerbruin bessiestroop daarop. “Jou naam is Fleurette, nè?”

Die kind antwoord nie.

“Fleurette beteken blommetjie.”

Daar kom ’n veragtende trek om die kind se mond en sy sê: “Dis Frans.” Maar sy kyk nie op nie.

“Ja, jou moeder was Frans, dan nie?”

“Wie het vir jou gesê?” Haar oë vlam in haar skraal gesig. “Wat weet jy van haar af?”

Lina se hand sak terug, nog so met die stukkie gesmeerde brood daarin. “Ek weet niks van haar af nie; ek het net gehoor dat sy Frans was, en baie mooi. Jy het dit tog self gisteraand vir my gesê. Onthou jy nie?” Sy probeer rustig en gewoonweg praat om die kind te kalmeer.

Maar Fleurette wil van niks weet nie. “Wat het Katryn gisteraand van haar geskinder? Wat het sy vir jou vertel?” Die kind se hande wring om die leunings van die rystoel.

“Wie is Katryn?”

“Daardie aaklige ene.” Dis of die meisie die woorde uitspoeg. “Sy het kamtig gisteraand vir jou koffie gebring, en toe bly sy ’n ewigheid in jou kamer. Waaroor het julle gepraat? Was dit oor my ma? Was dit?”

“Fleurette, ek weet niks van jou ma af nie, buiten dat ek dink sy moes ’n pragtige mens gewees het.”

“Sy was, sy was,” fluister die kind. “Jy moes haar gesien het as haar hare los was, en haar dun middeltjie. Ek kon byna met my twee hande daarom vat.” Sy bring haar hande voor haar asof sy die daad by die woord wil voeg, en weer besef Lina hoe groot en sterk hulle was. Maar die kind gaan voort: “Sy was klein en lig, so lig. ’n Mens kon haar byna wegblaas soos ’n veertjie. Wag, ek sal vir jou wys.”

En voor Lina nog iets kon sê, het sy die rolstoel geswaai en beweeg sy oor die vloer, deur die gang in die rigting van die sitkamer. Byna onmiddellik is sy terug met die allerfynste Dresdense figuurtjie in haar skoot: ’n herderinnetjie met ’n krompuntstaffie en ’n breë porseleinhoed met ’n yslike puntveer. Sowat van grasie en bekoorlikheid! Dit was of die poppie totaal los was van die aarde, so lig was die porselein. Lina hou haar hand uit om dit te neem, maar die meisie ruk dit jaloers terug.

“Nee,” sê sy, “nee, dis soos my ma, jy mag nie daaraan vat nie.” Nou streel sy met haar hande daaroor, oor die gesiggie, die skraal middeltjie. “Sy kon sing, weet jy? So mooi sing.”

“Ja,” antwoord Lina rustig. Sy skink vir haarself ’n koppie tee in. “Vertel my daarvan.”

Fleurette neurie ’n Franse liedjie half deur haar neus terwyl sy haar kop heen en weer op die wysie beweeg. Dan, meteens vyandig: “As sy wou, kon sy die topsangeres in Parys geword het. Die mans het van oral gekom om haar te hoor.”

“Ek glo dit,” en Lina sit haar koppie neer.

“Sy was mooi en slim en kon sing en kitaar speel. Daar was niks wat sy nie kon doen as sy wou nie. Op die boot hierheen … O, die mense was dol oor haar. Sy was soos ’n koningin. Jy moes haar gesien het in die aand as sy aangetrek was. Ek het haar altyd gehelp. Ek het haar hare vir haar gekam voor sy hulle opgesteek het. In die donker het die borsel klein vonkies daaruit geslaan. Dan draai sy hulle in lokke en maak hulle vas om haar kop. Sy het my haar halssnoer ook laat vasmaak, die een met die groen smaragde.”

“Die een in die portret?”

“Ja, die een in die portret. Dit was vierkantige stene, elkeen so groen soos die blare van die wasplant. So pragtig teen Maman se vel. Ek was altyd versigtig daarmee. Maman het gesê sy vertrou niemand anders daarmee nie, net vir my. Wanneer sy in die aand teruggekom het, het ek dit weer losgemaak. En dit in ’n dosie weggebêre. Ek het nooit gaan slaap voor ek dit gedoen het nie, al was dit ook hoe laat.”

“Dis tog nie verstandig nie. Iemand soos jy het baie slaap nodig.”

“Ek moes wag vir haar; ek moes haar help. Sy het daarop gereken. Verstaan jy dan nie? Ek wou dit vir haar doen. Sy wou dit hê.”

“Ja,” sê Lina, “ek verstaan. Jy kon nie anders nie. En het jy baie aande moes wag?”

’n Glimlaggie, byna van voldoening en trots, sprei oor die meisie se gesig. “Byna elke aand. Ek sê jou mos, Maman was pragtig. Elke dag was daar drie, vier mans. O, sy kon uitsoek. As sy haar groen rok aantrek en sy hang haar smaragde om haar nek, watter man kon haar weerstaan? Soos houtpoppe het hulle geval.” Sy maak ’n gebaar van veragting. “Soos domino’s, as sy net na hulle kyk. O, ek kon so lag kry. Ek en Josephine wou ons morsdood lag as hulle met hulle maansiekgesigte vir haar kom wag. ‘Madame, jy is so mooi,’ ‘Madame, jy is so begeerlik,’ ‘Madame, ek bemin jou so!’”

So goed maak die kind die verliefde minnaars na dat Lina nie kon help om te lag nie, en tog was iets binne haar seer. Die dinge wat Fleurette alles vertel het, die bestaan wat sy saam met haar ma gevoer het, dit was mos nie die lewe vir ’n kind nie. Om so nag na nag te moes wakker bly net om ’n halssnoer los te maak. Maar wat anders het die kind ook gehad as die nabyheid van haar geliefde moeder?

Die meisie kyk nuuskierig op. “Waaraan dink jy nou?”

“Aan jou,” antwoord Lina eenvoudig.

“Aan my?” Weer die wantroue in die stem. “Waarom aan my?”

“Sê my, wat het jy by jou vorige goewernante geleer?”

Die meisie se mondhoeke kry ’n spottende trek. “Nikswerd vroumens! Wat het ek met haar probleme uit te waai? Dit neem twee mans drie dae om ’n kamer van twaalf by sestien te pleister. Hoe lank sal drie mans werk aan ’n kamer van agtien by veertien as hulle net halwe dae werk? Waar het jy in jou lewe groter kaf gehoor? Wat gaan dit my aan hoe lank hulle werk?”

Die kind frons. “Gaan jy ook met dieselfde dinge begin? Boeke? Maman het altyd gesê dis net lelike vrouens wat hulle neuse in boeke druk. Vrouens wat nie omgee dat hulle oë rooi word van die stip kyk nie. Sy het nie gelees nie, en die slimste mans wou net met haar gesels.”

“Ja, maar …”

“Ek kan borduur,” vervolg die kind vinnig, “pragtig borduur. Ek het al Maman se onderklere vir haar gemaak en versier: broderie anglaise, petit point, kruissteek. Maman het altyd gesê daar’s niemand wat soos ek kan werk nie. En daar was nooit ’n vrou wat onderklere soos sy gedra het nie. Nee, waar sy ook al was, in Parys of op die boot of in die stowwerige gouddorp van die Republiek, haar brassières en haar onderrokke, ag, al haar onderklere was die mooiste. Sy kon vir jou aantrek. Geen wonder die mans het so vir haar geval nie. Net so een kyk en dit was verby.” Fleurette gee ’n snaakse laggie. “Ek onthou so goed die aand daar in die hotel toe Maman vir meneer Van Brakel ontmoet het.”

“Waar was dit, Fleurette?” Byna teen haar sin vra Lina die vraag.

“In Johannesburg. Meneer Van Brakel het in die ontvangskamer gesit toe ons inkom. Ek was net agter Maman toe sy by die vertrek instap. Josephine het my gestoot. En toe kyk ek op. Daar sit hy en hy kyk na Maman, en sy kyk na hom en sy glimlag so effens. Jy ken mos die prentjie van Cupido en sy pyl. Nou ja, toe ek meneer Van Brakel so sien sit terwyl Maman vir hom glimlag, het ek geweet: Ha-ha, Cupido het jou, reg deur die hart.”

Skielik wou Lina niks meer hoor nie. Basta met die kind en haar stories. Wat het dit haar aangegaan waar Johannes van Brakel sy beeldskone vrou ontmoet het? Sy was Lina op ’t Hoff, dertig jaar oud, grof en onaantreklik. Sy het die jare van die wysheid vergete al bereik. En wat meer is, sy is aangestel om die Franse meisie te leer en te onderrig sodat sy sou vergeet dat sy ooit tot wie weet hoe laat in die nag moes wakker bly. Sy wat Lina is, moet vir haar leer wat ’n derde en ’n vierde naamval is. En of die kind nou wou of nie, sy sou moes uitreken hoeveel mans in hoeveel dae ’n wingerd snoei. Daarvoor het Johannes van Brakel haar dertig pond per jaar met vry kos en inwoning aangebied.

“Kom,” sê sy kortaf, “jy kan vir my wys waar die skoolkamer is.”

“Dis aan die agterkant van die huis,” sê die kind gesteurd, “maar ek is nie nou lus vir werk nie. Ag, Mam’selle,” soebat sy skielik, “jy het dan maar gister eers gekom.”

Maar Lina neem die stoel se handvatsel beslis in haar hande. Toe beweeg hulle deur die gang na ’n ruim vertrek met groot vensters. Op ’n esel staan die swartbord. Op die vloer was inkkolle, en ’n mens kon die reuk van kryt kry.

Lina het haar asem diep ingetrek. So ja, dink sy by haarself, so is dit beter. Dis dinge waaraan sy gewoond is: die skoolkamer en die boeke. Nou net haar aandag geheel en al by haar werk bepaal, dan sal die onstuimige klop van haar hart geleidelik bedaar en sal sy weer die wêreld reguit in die oë kan kyk. Sy sal kan vergeet dat Johannes van Brakel drie jaar gelede sy bruid na sy erfplaas toe gebring het en nou, vyf maande ná haar begrafnis, nog ’n vreemdeling vir almal is.

Die laat lente

Подняться наверх