Читать книгу Victoriavalle van liefde - Lizet Engelbrecht - Страница 3

1

Оглавление

“Rustig nou,” sê Emesia en tel Sandra se hand op. “Spaar jou krag, ons kan later hieroor praat.”

“Nee, ek wil nóú, want ons moet vir hom ’n antwoord gee voor die einde van die week,” stry Sandra.

“Liewe hemel, Sandra! Dis buite die kwessie. Wat is die haas in elk geval?”

“Hy wil net die vakature vul.” Sandra leun terug teen haar hospitaalkussing.

“ ’n Vakature word nie oornag gevul nie, daar’s advertensies, kortlyste, onderhoude. Dit alles vat tyd. Hoe lank korrespondeer jy al met hierdie Rhodes?”

“ ’n Rukkie.”

“Hoekom hoor ek nou vir die eerste keer daarvan? Presies hoe lank is jy al met dié gekonkel agter my rug besig?”

“Wat maak ’n dag diékant toe of daai kant toe nou saak? Belowe my jy sal gaan,” dring Sandra aan.

“Jy ontstel jou onnodig. Kyk hoe bleek is jy. Rus nou eers.”

“Nee, nee! Een van die dae rus ek permanent, nou wil ek praat. Ek wil hê jy moet my belowe.”

“Ek sê jou wat, ek sal dit oorweeg. Op één voorwaarde: dat jy nou kalmeer, teruglê en jou oë toemaak. En dis doctor’s orders.”

“Dis nie goed genoeg nie.” Sandra beur orent en sit haar ander hand op Emesia s’n. “Voor jy my belowe dat jy Zambië toe sal gaan, kan jy of enige ander dokter daarvan vergeet dat ek sal kalmeer,” hyg sy.

Die situasie is ernstig, besef Emesia, maar sy is nie bereid om so ’n belaglike belofte te maak nie. Versigtig sê sy: “Ek … Dis moeilik. Jy weet ek kan nie net oppak en gaan nie – wat van my praktyk?”

Sandra se hand is yskoud. Emesia wens hulle kon plekke ruil. Sy wil nie haar beste vriendin verloor nie.

“Ek verwag nie dat jy môre of oormôre moet gaan nie …” Sandra hyg na asem en probeer haar asemhaling reguleer, “net voor die einde van hierdie jaar. Em, belowe my jy sal ’n plan maak!”

Emesia sug. “Ons was elf jaar oud, en die waarsêer was besig om die dood in die oë te staar.”

“Nes ek nou die dood in die oë staar?”

“Dis glad nie wat ek bedoel het nie. Jy gaan nog lank lewe, jy het maar net ’n baie, baie slegte week. Moenie opgee nie, asseblief.”

Sandra antwoord nie. Gee Emesia net daardie kyk wat ’n duisend woorde spreek.

“Sal jy gaan?” vra sy eindelik weer.

“Ek glo lankal nie meer daaraan nie, jy weet tog,” probeer Emesia walgooi. Sy ken haar vriendin; sy ken daardie kyk. Maar sy gaan nie vandag ingee nie.

“Drie maande. Net drie, dis al wat ek vra. Daar,” Sandra wys na ’n juweledosie en ’n paar koevertjies wat op haar bedkassie lê. “Gee dit aan, seblief.”

Emesia staan op en voldoen aan die versoek. Sandra druk die paar goed teen haar hart vas. Sy sluit haar oë.

Emesia kyk af op haar vriendin. ’n Knop kom sit in haar keel; sy knipper haar oë om van die waterigheid ontslae te raak. Sy weet die einde is hier. Die hospitaal het haar vroeg vanmôre gebel en gesê sy moet kom.

“Sandra …” fluister sy.

Sandra maak haar oë oop en sê: “Em, hier’s een koevertjie vir elke maand.”

“En die juweledosie? Gaan jy my vra om met jou te trou?” probeer Emesia verby die knop in haar keel ’n grappie maak. Onderlangs werk haar brein egter aan ’n geldige verskoning waarom sy nie die belofte aan Sandra kan maak nie. Maar behalwe haar afbetaalde praktyk het sy nie man, kind of kraai nie. Sy het niks wat haar bind nie – niks wat nie drie maande sonder haar sal oorleef nie.

“Die dosie is vir daardie dag wanneer jy oortuig voel dat ek verkeerd was, dan maak jy dit oop. Net dan. Toe, belowe my nou, asseblief.”

Emesia glimlag innerlik. Dan moet sy die boksie sommer nou oopmaak.

“Jy’s nou onregverdig, Sandra. Ek gaan nie Zambië toe nie, daar is niks vir my daar nie. My lewe is hier.”

“En jou Fransman?” Sandra vorm die woorde duidelik met groot inspanning.

“Dis ’n sprokie – fiksie. Iets wat nie waar is nie.”

Sandra kreun en Emesia weet dat die pyn wat nou in haar vriendin se oë sigbaar is, niks met die kanker of enige fisieke pyn te doen het nie.

Emesia kyk angstig om haar rond. Sy is alleen. Al die passasiers wat saam met haar op die internasionale vlug was, is reeds weg.

Haar oë soek deur die aankomsaal, maar behalwe die man wat aan die oorkant van die vertrek staan en op sy selfoon praat, sien sy niemand wat lyk of hy op soek is na ’n besoeker nie.

Sou die hotel vergeet het dat sy vandag arriveer? Of het hulle vergeet dat sy nie vervoer het nie en dat hulle haar hier moet ontmoet? Sy voel naar van benoudheid. Hoeveel sal ’n taxi van die lughawe tot by die hotel kos? Hoe ver is die hotel? Watter taal praat die mense hier in Zambië?

“Ag, aarde,” kreun sy hardop en wens Sandra was hier om die spanning te ontlont. Liewe ou Sandra sou selfs in hierdie penarie iets gekry het om oor te lag, dink sy verlangend.

Sy moet hulp kry! As haar pa moet weet sy sit gestrand … Sy wil nie eens daaraan dink nie. Sy kyk rond, maar dis steeds net sy en die groot man aan die oorkant van die saal. Hy stap driftig heen en weer terwyl sy hande wild beduie, en dan en wan kan sy sy onderdrukte stemtoon hoor.

Livingstone se lughawegebou is klein. Sy kan van die een kant tot by die ander kant sien en sy weet nou al hier is nié ’n buro waar sy geld kan omruil nie. Hier is ook nie ’n openbare telefoon nie. Wel, hier is darem ’n telefoonhokkie, maar sonder ’n instrument sal sy maar sukkel om daardie SOS-oproep te maak. Haar hart klop vinniger. En ’n voorgevoel vertel haar dat haar rande nutteloos gaan wees in Zambië.

Hemel, hoekom het sy nie vroeër aan al hierdie goed gedink nie? Ná haar afskuwelike nagmerrie van verlede nag moes sy geweet het dinge gaan vandag verkeerd loop. Die vlamme, vuur en as waarvan sy heelnag gedroom het, was ’n voorteken.

Sy het lus en swets. Dis alles Sandra se skuld! Sandra het haar op haar sterfbed gedwing om ’n simpel belofte te maak, en kyk waar sit sy nou!

“Weet jy wat jy doen, my kind?” het haar pa vanoggend gevra toe hy haar op die lughawe in Kaapstad aflaai.

“Natuurlik, Pa,” was haar antwoord. Diep binne was sy bang, maar dit kon sy nie vir hom sê nie.

“Jy hoef dit nie te doen nie, weet jy? Dit was ’n onregverdige belofte. Sandra sou nooit so iets van jou verwag het terwyl sy nog by haar volle positiewe was nie.”

Emesia het hom nie geantwoord nie. Sy het op haar tone gerek, hom op sy wang gesoen, omgedraai en weggestap sonder om terug te kyk.

Toe, soos nou ook, het sy geweet sy pak die onbekende sonder handskoene aan, maar hoe moeilik kan dit nou wees? Afrika is Afrika. Dis net: sy haat sukkel.

Sy is in elk geval nie van plan om die belofte te verbreek wat sy drie maande gelede gemaak het nie. Sy het soos belowe hierheen gekom om haar toekomstige man – volgens Sandra – te ontmoet en hom terug te neem Suid-Afrika toe as dit moet. Hoe vinniger sy die Zambiese stof van haar voete afskud, hoe beter. Haar praktyk wag, en daar is vir die Fransman – indien hy wel bestaan – baie in Suid-Afrika om na uit te sien. Haar pa, weet sy nou al, sal nie huiwer om vir hom aandele in hulle familie se in-en-uitvoermaatskappy te gee nie.

’n Afkondiging oor ’n vlug wat arriveer, onderbreek haar gedagtes. Hoopvol trek sy haar selfoon uit haar skouersak. Sy kyk na die skerm en swets onderlangs. Daar’s nog geen sein nie. Sy het persoonlik na Vodacom se kantoor by Century City gery om dit te reël – en nou’s daar niks! Wat gaan sy maak?

Vlugtig loer sy weer na die enigste ander nie-amptelike persoon in die aankomsaal. Hy is steeds besig op sy selfoon, en sy sal haar kop op ’n blok sit dat hy ontsteld is. Sy sug. Daar verdwyn haar enigste hoop. Sy sal nooit so ’n ontstelde man, wat nog daarby senutergend aantreklik is, om hulp vra nie. Sy moet weer buite gaan rondkyk, miskien wag die hotel se minibus daar.

Deon druk die selfoon styf teen sy oor vas en probeer gedemp praat waar hy in die aankomsaal staan. “Ek verstaan nie hoekom jy so haastig is om weg te kom nie. Die een oomblik redeneer ons nog oor die situasie, en die volgende het Rex jou vlug terug Suid-Afrika toe bevestig. Ek wil jou nie verloor nie, jy besef dit tog?”

“Nee, jy wil net jou brood aan albei kante gebotter hê,” sê Amanda.

Daar hang ’n stilte tussen hulle.

“Ek en jy het nog altyd geweet waar ons met mekaar staan,” verbreek sy eerste die stilte. “Om langer te bly sou niks verander het nie. Soos ek gisteraand gesê het: jy kan nie verwag dat ek my loopbaan, meenthuis, diere en vriende moet opoffer net omdat jy jou nuutgevonde familie-erfenis wil bestuur nie.”

“Ag, nonsens, Amanda! Jy kan ’n loopbaan, vriende, diere en alles hier in Zambië ook hê. Ons kan een maal ’n maand in Suid-Afrika gaan kuier, of anders kan ons vereers ’n langafstandverhouding hê soos ek voorgestel het.”

Hy soebat, hy weet, maar hy wil haar nie verloor nie. Hy is haar gewoond. Hoekom kan sy hom nie net vir een maal in haar lewe ondersteun nie?

“Deon, ek is jammer. Ek sal nooit in hierdie armsalige land kan bly nie, en ’n langafstandverhouding sal nie werk nie. Jy ken my: ek het jou aan my sy nodig. Wie gaan my na al my sosiale verpligtinge vergesel as jy in Zambië sit? Dit sal net nie werk nie, ek is jammer.”

“Jy’s reg, ek ken jou. Tog het ek gehoop vir meer!” Sy stem is hard en hy raak bewus van die meisie aan die oorkant van die aankomsaal wat hom dophou. “Ná vyf jaar het ek gehoop vir ’n mate van lojaliteit en standvastigheid. Ek het meer verwag.”

“Ek ook. Totsiens, Deon.”

Hy luister na die sein in sy oor en kners op sy tande. Die vroumens daar oorkant hou hom steeds soos ’n valk dop. Wat is haar probleem? Kan sy nie sien hy’s besig met ’n privaat gesprek nie?

Hy klap sy foon toe en druk dit in sy sak. Dan stap hy na haar toe. Sy beter net stilbly en saamry. Sy gemoed kook en hy voel lus om moord te pleeg.

Emesia besef meteens dat die vreemdeling reguit op haar afpyl. Sy voel ongemaklik onder sy strak blik en ’n drang oorweldig haar om net onder sy oë uit te kom, maar voor sy kan omdraai, is hy by haar.

“Deon.” Hy steek sy hand na haar uit. “Jy ry sommer saam met my. Ons kombi staan gestrand – pap wiel.”

’n Oomblik staan sy versteen met haar hand in syne. Sy het nog nooit sulke ligblou oë gesien nie. Groot swart pupille omring deur ’n deurskynende blou kleur – ligter as die hemel se blou. Dit voel kompleet of sy regdeur sy oë kan kyk.

“Jy praat Afrikaans?” vra sy verbaas.

“Dis korrek,” sê hy en los haar hand. “Kan ons maar gaan?”

“Is … is jy van …” Haar woorde stol.

Sy moet nou nie dwaas wees nie, miskien is hy ’n reeksmoordenaar wat op lughawens rondhang op soek na ’n verlore siel. Sy moet op ’n manier sy identiteit ondersoek. Net omdat hy Afrikaans magtig is, beteken nie dat sy hom kan vertrou nie.

Sy besef dat die man haar dophou – en wag op ’n antwoord. Hoe moet sy die situasie hanteer? Die man is ’n wolf in skaapsklere. Hy skuil natuurlik agter sy aantreklike voorkoms en imposante liggaamsbou. Sy het gelees van mans wat ordentlik en professioneel voorkom, maar wat eintlik net op soek is na ’n sagte teiken.

“Ses stukke bagasie en ’n skootrekenaar, is jy seker dis alles een mens s’n?”

Die klank in sy stem laat haar vinnig opkyk. “Het die gastehuis jou gestuur om my te kom haal?” vra sy en hou sy gesigsuitdrukking fyn dop.

Hy bekyk haar op en af en die frons op sy voorkop ontgaan haar nie. Sy trap onseker rond; die man ontsenu haar. Daardie deurskynende oë gee haar sommer die wegholkoors … En tog, sy kan nie ophou kyk na sy oë nie.

“Nee, ek’s nie van die gastehuis nie. Is jy Emesia of nie?”

“Ek is,” sê sy, maar besef dan hy kon haar naam op haar bagasie gelees het. “Van waar is jy?”

“Rhodes Inn.”

“Ag, man, plaas jy net so sê! Ek dog jy’s ’n moordenaar of iets. Ek het net bekommerd geraak dat die eienaar vergeet het om my by die lughawe te kry. Ek besef hy is ’n besige man, hy’t skaars tyd om ’n ordentlike telefoongesprek te voer. Ek dog ek staan gestrand,” lag sy en stuur ’n skietgebedjie op dat hierdie ooglopend ontstelde man haar tog veilig by die hotel sal bring.

“Kom, ek het ’n afspraak oor dertig minute, ons moet ry,” sê hy en neem die bagasietrollie.

Haar hakke klik-klak oor die teëlvloer en sy moet haar inspan om by hom te hou, tot sy oorslaan na ’n drafstap. Hy stap op die swaaideure af, knik vir die deurwag en dan is hulle buite. Die humiditeit tref haar vol in die gesig, soos die stoom van ’n pot kookwater waarvan die deksel te vinnig gelig is. Sy snak na asem.

“Mensig, dis warmer as wat ek verwag het.” Sy skuif haar gebreide toppie se moue op. “Ek’s vieruur vanmôre al uit die vere. Toe was dit koel in Kaapstad, en die suidooster was op sy beste.”

Hy antwoord nie.

Sy skud haar kop vies en besluit om eerder die omgewing te bekyk. Alles hier buite is net so skoon en netjies soos in die lughawegebou – klein maar netjies. Geteerde bane, ’n netjiese grasperk en beddings waar die daglelies goudgeel blom. Die lug is skoon en blou. Sy begin in haar skouersak na haar kamera grawe. Sy het haar familie belowe sy sal vanaand vir hulle foto’s e-pos – alles vanaf die oomblik dat sy gearriveer het.

Sy steek vas en rits haar kamerasak oop. Dan besef sy dat Deon tussen die rye motors verdwyn het. Haastig rits sy die kamerasak toe en druk dit terug in haar skouersak.

“Sal maar later afneem,” mompel sy.

Sy mis die sout reuk van die Kaap, die natheid wat meestal teen haar strandhuis aanwaai en die altyd teenwoordige reuk van uitlaatgasse. Die lug hier is amper reukloos.

Iewers brul ’n voertuig. Sy skrik en slaan oor na ’n drafstappie. Die man is kapabel en ry vir haar weg. Snaakse vent, definitief nie die joviaalste wat sy al teëgekom het nie. Sy wonder of hy vir die Rhodes Inn werk en of hy sy eie vervoerbesigheid het en die hotel net van sy dienste gebruik maak.

Toe sy die viertrek bereik, hou hy die passasiersdeur vir haar oop.

“Ek sit sommer agter, dankie.”

“Ek ry nie taxi nie, en jy is veilig voor.”

Sy wil stry, maar sluk haar woorde. Daardie oë. Hoewel ’n ongewone kleur is daar iets anders aan sy oë wat haar hinder. Onwillig klim sy voor in. Hy druk die deur toe en stap om die voertuig, klim langs haar in.

Hy lyk heeltyd boos, soos iemand wat sukkel om sy woede binne te hou en enige oomblik gaan ontplof. Sy ken hom van geen kant nie, maar sy ken ’n ontevrede mens wanneer sy een sien. Tog, sy oë is kalm en sy stem klink rustig – kortaf, maar rustig.

Hy skakel die enjin aan en hulle oë ontmoet. Sy wenkbroue is ’n donkerbruin kleur, maar dis die uitdrukking in sy oë wat haar maag op ’n knop laat trek. Dis iets tussen geamuseerdheid en bejammering.

“Gereed?” vra hy.

Sy knik net, want sy vertrou nie haar stem nie. Hy trek sonder ’n verdere woord weg. Sy vou haar hande gespanne inmekaar. Sy gaan nie met die man probeer gesels nie, besluit sy.

Buite flits bome verby. Die natuur is indrukwekkend groen en ruig.

Dan kan sy haar nie langer bedwing nie – die stilte is té veel. “Jy’s baie bevoorreg om vir so ’n bekende hotel te werk. Ek het in ’n tydskrif gelees die hotel is vroeër erken as een van Afrika se beste hotelle. My ouers, veral my ma, weier om in hotelle te bly, want sy’t in hulle grootgeword. Maar selfs my ma dink daar is iets spesiaals aan die Rhodes Inn.”

Sy babbel, sy weet. Sy moet eerder stilbly, maar sy kan nie. Dis haar swak punt: wanneer sy ongemaklik voel, babbel sy.

“Ek kon skaars glo dat die hotel destyds so gewild was. Konings en koninginne het daar gebly. Die skrywer van die artikel meen dat die hotel waarskynlik vandag nie meer dieselfde resultate behaal nie, maar hy skryf dat dit steeds ’n idilliese plek is.”

Hy sê steeds niks, kyk net sydelings na haar voor hy weer sy aandag by die pad bepaal.

Sy kaak is sterk en prominent, merk Emesia so tussen die gebabbel deur. Hy is seker ’n introvert, geen mens is so ongeskik nie. Hy probeer nie eens ’n gesprek voer of haar vrae beantwoord nie.

Behalwe vir sy verskoning van ’n groet vroeër op die lughawe het hy nog nie weer ’n woord met haar gepraat nie. Sy het al baie getoer; ’n blote “Welkom in Zambië” sou aanvaarbaar gewees het. Tog, wat maak dit saak? Hy’s die hotel se drywer en ná vandag sal sy nie weer in sy onvriendelike gesig hoef vas te kyk nie.

Maar hy bly ’n eienaardige vent. Sy kan haarself nie keer nie en kyk weer na hom. Sy vel is goudbruin. Sy voorarms is ’n skakering donkerder as die res van sy lyf – wel, die gedeeltes wat sy kan sien. Sy ligbruin hare blink in die son en is nou ligter as wat sy aanvanklik in die lughawe gedink het. Afgesien van sy ligblou oë is die res van sy uiterlike ’n avondmaal vir die oog, besef sy en draai haar kop weg.

Doelbewus spits sy haar aandag op die landskap toe. Dis nie dat sy vandag ’n koninklike ontvangs verwag het nie. Inteendeel, ná haar telefoniese gesprek met Rhodes, die hoteleienaar, het sy goed geweet waarvoor sy haar inlaat. Hy het pertinent vir haar gesê: “Dame, hierdie is nie ’n pos vir ’n stadsjapie nie.”

“Ek het op ’n plaas grootgeword en ek weet wat die werk behels.”

Dit was ’n noodleuentjie. Sy het nie heeltemal op ’n plaas grootgeword nie, maar sy het vakansietye soms by haar oupa en ouma op die plaas gaan kuier. Wel, dit was ook nie heeltemal ’n plaas nie, dit was eerder ’n plot.

“Nee, jy weet nie, en jy gaan nié my tyd en geld kom mors nie. So voordat jy op daardie vliegtuig klim, maak seker dat jy voorbereid is op die omstandighede hier.”

Sy byt haar onderlip ingedagte vas. Sy was daardie dag op die punt om vir die eienaar te sê dat sy ook nie lus het vir hierdie werk nie, maar dat sy ’n belofte gemaak het. Sy wonder wat die arrogante man sou sê as sy vir hom gesê het: “Meneer Rhodes, jy moet mooi dink wat jy vandag kwytraak. Volgens my vriendin is jy Die Een – die regte man vir my. Wat beteken dat jy dalk oormôre styf agter my rug wil inkruip en dan het jy vandag jou brûe verbrand.” Sy het stilgebly, want dis ’n delikate situasie.

Welcome to Livingstone, lees sy die bord en kyk geamuseerd rond. Sover sy weet, is Livingstone en spesifiek die Victoria-waterval een van Zambië se belangrikste toeriste-attraksies. Sy het ietwat meer verwag as die smal twee bane waarop hulle tans ry, besef sy en kyk nuuskierig rond. Die omgewing is mooi, en die smal pad word opgehelder deur die pragtigste bome in blom: rooi, pers en goudgeel.

Namate hulle deur die dorpie ry, besef sy dat baie geboue nog uit die 1800’s of selfs vroeër dateer. Sy merk ’n Shoprite, Pep Stores en First National Bank op, en daar is sowaar ’n Ocean Basket ook. Hulle ry verby ’n winkelsentrumpie op haar linkerkant en dan is hulle oor ’n treinspoor. Dis die laaste van Livingstone voor ruie veld en wildernis hulle omring.

’n Geluid onderbreek haar gedagtegang. Dis Deon wat sy venster afdraai. Die wind is bedompig en ruk aan haar romp. Hy het nie eens haar opinie gevra nie, dink sy en kyk vererg na hom. Sy haat dit wanneer haar hare deurmekaar waai.

Sy regterarm rus op die oop venster en sy kuif hang wanordelik oor sy voorkop. Daar is nou ’n tevrede uitdrukking op sy gelaat.

“Sjoe, maar die pad is vol slaggate. Is dit as gevolg van die reën?” vra sy.

“Dis hoe die paaie hier in Zambië lyk. Maar as jy nou al begin kla, weet ek nie hoe ons deur die jaar gaan kom nie.”

Sy ruk haar asem in en sê: “Gelukkig net drie maande.”

Hy frons en kyk vlugtig na haar kant toe.

’n Arrogante hoteleienaar is een storie, maar ’n ongeskikte minibusdrywer is ’n ander, besluit sy. Ontsenu trek sy haar hand deur haar krulle en probeer om nie na die geslote gelaat langs haar te kyk nie. Sodra hulle by die hotel arriveer, gaan sy die man se gedrag verkla. Geen werknemer behoort gaste en kliënte so sonder respek te behandel nie. Hy moet aangespreek word!

“Ek het nie gekla nie,” verweer sy.

“O, wat noem jy dit dan?”

“Ek is net verras. Dit lyk ietwat anders as wat ek my dit voorgestel het.”

’n Minagtende snorkgeluid laat haar vinnig opkyk.

“Wat?” vra sy teen haar beterwete. Sy moet ’n redenasie met dié man vermy, waarsku haar gesonde verstand, maar haar geaardheid laat so iets nie toe nie. “Wat?” herhaal sy met nadruk.

Hulle oë ontmoet. Sy blik is openlik afkeurend, maar sy weier om weg te kyk. Vir ’n oomblik draai hy sy kop sodat hy haar vol in die oë kyk. Haar hart ruk. Dís wat haar hinder: daar is iets in sy oë wat sy veronderstel is om te herken, iets bekends. Iets belangriks, weet sy terwyl hulle kragte meet.

Hy gaan nie wegkyk nie, besef sy en voel hoe haar handpalms klam raak.

Eindelik kyk hy terug na die pad. Sy blaas haar asem stadig uit terwyl dit tot haar deurdring wat daardie oogkontak aan haar ingewande gedoen het. Of is dit omdat hy hom nie eens verwerdig het om haar vraag te antwoord nie? In ieder geval, die man se houding staan haar nie aan nie. Hy is seker die tipe man wat dink sy woord is wet en dat vroue dit moet gehoorsaam. Die tipe wat haar summier hier langs die pad, tussen êrens en nêrens, uit die motor sal boender net omdat hulle verskil. Goddank, sy verkies ’n gesofistikeerde gentleman bo sy ruwe tipe.

Kan die hotel so ver uit Livingstone wees? wonder sy en kyk na die beboste veld rondom hulle. Verlate veld. ’n Benoudheid vat-vat aan haar ingewande. Haar bagasie, juwele en ontwerpersklere sal seker ’n heel paar monde kan kosgee. Sy’s altyd so naïef, hoe kon sy sommer saam met die eerste die beste vreemdeling in ’n motor gespring het? Sy frons. Hy was darem baie toevallig daar – té toevallig.

Hy rem meteens só skerp dat sy vorentoe vlieg, net om deur die veiligheidsgordel teruggeruk te word.

“Wat’s fout?” vra sy beangs. Wat as al haar vrese oor hierdie man waar is? Wat as hy haar besteel en hier uitboender?

“Niks.”

“Hoekom stop ons in die middel van nêrens?”

“Jy weet darem seker hoe die natuur werk.”

Dis eerder ’n stelling as ’n vraag, besef sy en sien hoe hy aan sy belt peuter.

“Ja, ek weet! En jy kan daarvan vergeet dat jy my gaan uitboender. Ek sal my nie laat besteel of …”

Haar woorde vries. Haar hart stop, tog voel sy hoe die adrenalien deur haar are pomp terwyl sy na die mes in Deon se hande staar. Waar kom die mes vandaan? Sonder dat sy haar blik van hom afhaal, voel-voel haar hande na die veiligheidsknip. Sy moet haar gordel afkry. Hy beweeg en die lem flits in die sonstrale. Sy moet beweeg, uitkom, wegkom, maar haar bene weier om te reageer.

Stadig draai hy na haar, sy gesig steeds uitdrukkingloos.

Asof in ’n rillerfliek staar sy net na die mes. Dis nie jou alledaagse sakmes nie, nee, dis ’n slagtersmes. Die tipe met ’n breë lem en dik hefboom. Die tipe waarmee jy ’n koedoe se pens met een haal kan oopsny – van sy lies tot bo by sy nek.

Ek’s geskiedenis, flits dit deur haar brein terwyl sy só bewe dat sy nie die veiligheidsgordel se knop ingedruk kry nie. Histeries ruk sy aan die gordel.

Die lem beweeg en sy vries.

Victoriavalle van liefde

Подняться наверх