Читать книгу Victoriavalle van liefde - Lizet Engelbrecht - Страница 5

3

Оглавление

“Rex, middag,” antwoord hy die internasionale oproep wat sy ontvangsdame na hom deurgesit het.

Noudat hy bevestig het dat Emesia veilig geland en saam met sy broer op pad is hierheen, kan hy aan dringender sake aandag gee. Hy brand al heeldag om met hierdie sakeman te praat, maar hy moes hom noodgedwonge aan ’n lyntjie hou tot hy seker was dat Emesia hier is.

“Hallo, Rex, my naam is Ettienne le Roux. Ek is deur Shain, jou makelaar, na jou verwys. Hy het my jou kontaknommer gegee, ek hoop nie jy gee om nie.”

“Glad nie, Ettienne. Waarmee kan ek help?” vra Rex en besluit om nie vir Ettienne te noem dat hy die oproep te wagte was nie.

“Ek skakel in verband met die hotel wat jy moontlik wil verkoop.”

“O ja, Shain het nou die dag so iets genoem. Ek’s bly jy het my gebel.” Rex probeer sy opgewondenheid beteuel. “Stel jy belang?”

“Ja, ek is ’n geruime tyd reeds op die uitkyk na nuwe besighede – ek is geïnteresseerd daarin om my bestaande toerismebesigheid uit te brei na Afrika. Volgens wat Shain my vertel het en wat op julle webwerf gewys word, kan hierdie hotel dalk net wees waarna ek soek.”

“Dit klink goed. Wat kan ek doen om jou te oortuig dat hierdie ’n besondere besigheid en ’n uitstekende belegging sal wees?”

“Niks, ek het reeds deur al die beskikbare syfers gewerk.”

“En?”

“Ek stel belang. Ek wil volgende week die hotel besoek. Sal volgende week geskik wees?”

“So vinnig?”

“Wel, ek het van Shain verstaan dat jy haastig is om te verkoop en terug te keer na Frankryk, maar sê gerus as ek verkeerd is.”

“Nee, nee, jy’s glad nie verkeerd nie. Ek wil so spoedig as moontlik dinge hier afhandel.”

“Nou dan staan daar mos niks in ons pad nie. Ek ken ’n goeie besigheid wanneer ek een sien, en jy is haastig om te verkoop.”

“Dankie, en glo my, hierdie is definitief ’n florerende besigheid. Met al die probleme in Zimbabwe is die toerismebedryf in Zambië besig om te ontplof. Jy sal nie ’n fout maak nie.”

“Ek weet. Zambië se ekonomie het die laaste paar jaar versterk en die kwacha verstewig konstant teen die dollar. Ek is opgewonde om my belange daarheen uit te brei. Jou ander vennote, kan ek aanvaar dat hulle ook wil verkoop?”

Rex se glimlag vries. Sy enigste kans om sy vennoot te oortuig om te verkoop, is om die koper hier by die hotel te kry.

“Julle is mos twee of drie vennote, dan nie?” vervolg Ettienne.

“Twee. Ons is net twee vennote.”

“Hoekom wil julle verkoop?”

“Ek is moeg vir Afrika, my ma se familie is van Frankryk. Ek wil daar ’n besigheid begin – closer to home, jy verstaan?”

“Natuurlik. Jou vennoot, voel hy dieselfde?”

“Definitief.”

“So hy wil ook verkoop?” dring Ettienne aan op ’n reguit antwoord.

Rex swets onderlangs en sê: “Hy byt-byt nog aan die idee om te verkoop, maar ek sal hom oortuig indien julle ernstig is. Hy sal nie ’n probleem wees nie.”

“Is jy seker? Ek sal nie daarvan hou om halfpad om die aarde te vlieg net om uit te vind die een vennoot wil geensins verkoop nie. Miskien moet ek eers met hom ook gesels.”

“Néé,” sê Rex vinnig en te hard. Met ’n meer beheerste stemtoon herhaal hy: “Nee, dis nie nodig dat jy met hom gesels nie. Ek is ook ’n besigheidsman en ek sal nie jou tyd mors nie. Boeta sal verkoop.”

“Goed, solank ons mekaar verstaan.”

“Natuurlik. Ek sal graag die hotel aan jou wil wys, want daar bestaan nie ’n foto wat reg kan laat geskied aan die boutegniek, tuinuitleg en natuurskoon nie. As jy eers die hotel met jou eie oë gesien het, is daar niks of niemand wat in jou pad sal staan nie.”

“Ek vind ook dat foto’s nie altyd die waarheid vertel nie. Ek verstaan van Shain dat julle die hotel geërf het en dat dit reeds ’n geslag of wat aan jou familie behoort?”

“Ja, my oupagrootjie se pa het die hotel van die grond af opgebou, en sedertdien het dit nog nooit ons familie se hande verlaat nie.”

“Is jy seker jy wil so ’n familie-erfstuk nou laat gaan? Wat van jou kinders?”

“Ek het gelukkig nog nie daardie fout gemaak nie, maar ás ek eendag mal raak en kinders oorweeg, sal ek hulle in elk geval ’n beter toekoms in Frankryk kan gee as hier in agtergeblewe Afrika.”

“Vir iemand wat ’n besigheid wil verkoop, is jy baie negatief teenoor Afrika.”

Rex lag. “Afrika is goed vir baie mense, maar Zambië en hierdie hotel was nog nooit in my bloed nie. As kind het ek en my ma gereeld haar familie in Frankryk gaan besoek; sy kon ook nooit vat kry aan Zambië nie. Sy en my pa is later geskei juis omdat my ma te veel huis toe verlang het. Hy was egter nie bereid om sy familiegeskiedenis vir haar of vir my agter te laat nie – Zambië en die hotel was in sy bloed. Ná skool is ek terug na my ma in Frankryk, waar ek studeer het.” Hy sug en vervolg: “Ek’s nie meer ’n tiener nie, ek weet Frankryk is my toekoms. Dis wie ek is, en dis waarheen ek sal terugkeer sodra ek hier verkoop het.”

“Ek verstaan, maar wat van jou pa? As die hotel in sy bloed is soos jy sê, sal hy sekerlik nie verkoop nie.”

Rex lag. “Nee, daar is ’n groter kans dat hy by die waterval sou afspring voor hy die hotel sou verkoop, maar my pa is so agt maande gelede oorlede.”

“Jammer om dit te hoor. Is jou ander vennoot familie?”

“Stiefbroer, maar hy het nie hier grootgeword nie. In werklikheid het hy eers ses maande gelede hier aangekom. Die hotel het geen sentimentele waarde vir hom nie, so jy hoef jou nie oor hom te bekommer nie.”

“Dis goed om te hoor. Dan sien ek jou volgende week. Ek en die argitek wat al my hotelle ontwerp het en twee van my finansiële adviseurs sal ’n draai kom maak. Ons sal die hotel en omgewing in detail bekyk en wil jou finansiële state ook sien.”

“Natuurlik. Dit pas my uitstekend,” sê Rex opgewonde.

Maar ’n bekommerde frons kruip oor sy gelaat toe hy die gehoorbuis neersit. Hoe gaan hy dit regkry?

Wel, dis sy hele toekoms en hy mag nie misluk nie. Hy sal sy plan fyn moet uitwerk. Boeta mag niks vermoed totdat dit te laat is en hy veilig in Frankryk sit nie – en dis presies waar Emesia in die prentjie pas. Sy weet dit nog nie, maar sy sal een van die mooi dae die toekoms van die Rhodes Inn in die palm van haar hand hou.

Emesia raak bewus van ’n koue drukking op haar voorkop. Sy kreun en probeer omrol. Haar knieë pyn en haar longe brand. Die vuur! onthou sy. Haar Fransman brand dood en sy het sowaar haar bewussyn verloor.

Sy probeer orent kom, maar iets verhoed haar. Sy gryp na die nat ding wat oor haar oë hang en haar sig belemmer. Sy vat iets raak – dit voel soos vingers. Dit beweeg. Dit ís vingers. Iemand se vingers is oor haar oë.

Sy ruk die hand van haar gesig af en kyk vas in Deon se oë. As sy nie van beter geweet het nie, sou sy sweer dis twee bekommerde oë wat na haar terugstaar. Vreemde deurskynende blou oë, ’n kuiltjie in die ken en ’n sekelmaanlitteken van die hoekie in sy lip tot in die kuiltjie. Sy staar, sy weet, maar dis asof haar brein nie lekker wil funksioneer nie. Wat was eerste, wonder sy, die litteken of die kuiltjie? Sy’t nie vroeër die litteken opgemerk nie, en ook nie die begeerlike lippe nie. Of het sy?

Hy kug.

Sy knipper haar oë en stamel: “Vir … vir wat jaag jy soos die duiwel? Jy kon mos sien ek wou uitklim. Eers parkeer jy en toe jaag jy soos die duiwel! Het ek my wind uitgeval?”

“Ja, jy was uit soos ’n kers, jou knieë en elmboë is stukkend en jy het my byna ’n oorval laat kry. En waarvoor?”

“Vir ’n Fransman,” mompel sy en kom orent. “Die vuur, ek moet …”

Hy plaas sy hande op haar skouers. Sy kan nie beweeg nie. Sy kan die hitte van sy hande deur haar bloes se symateriaal voel – sy hande is groot.

Sy ruk en pluk. “Los my. Laat my gaan!”

“Daar is nie ’n vuur nie,” sê hy stadig en kalm, maar hy gee haar skouers ’n effense skud.

“Wat?” vra sy ongelowig en wys in die lug op. “Daar is! Daar …”

“Dis ’n wolk, ja, ’n rookwolk, maar nie as gevolg van vlamme of vuur nie. Dit word veroorsaak deur die Victoria-waterval.”

“Deur wie?”

“Die Victoria-waterval.”

“Is nie, dis …” Sy kyk na die wolk. Watse onsin probeer hy haar nou wysmaak? “Wat bedoel jy?”

“Weet jy dan niks? Die water val so kragtig tot onder in die kloof dat mis 400 meter en hoër in die lug opstyg. ’n Mens kan die misbank van vyftig kilometer weg sien, en die sproei hang soos ’n wolk bo dié hotel. Mosi-oa-Tunya.”

“Wat?”

“Mosi-oa-Tunya, noem die Zambiërs die rookwolk. Dit beteken: die rook wat dreun.”

“Ek verstaan nie,” prewel sy.

Hy laat val sy hande van haar skouers. “Het jy nie nagelees oor Zambië, die mense, hulle kultuur, die gevare en die Victoria-waterval voordat jy besluit het om vir ’n jaar hier te kom werk nie?”

“Dit was nie nodig nie. Ek het in elk geval nie ’n keuse gehad nie, ek móés kom. En die wolk lyk soos die rookwolk in my nagmerrie. So al het ek nagelees, sou ek nie voorbereid gewees het nie,” sê sy en voel hoe die besef dat sy ’n volslae gek van haarself gemaak het haar nek warm maak.

“Ek verstaan. Kom dat ek jou in die hotel kry sodat iemand na jou knieë en elmboë kan kyk.”

Agt-en-veertig uur later en Emesia hinkepink uit haar kamer vir die eerste keer vandat sy by die hotel gearriveer het. Doktersbevele. Haar blik gly oor die antieke gebou. Die hotel is in die vorm van ’n fort gebou, hoewel die geboue verspreid lê, met uitgestrekte grasperke tussen die geboue.

Sy stop en probeer haar weerbarstige krulle platdruk. Sy en die krulle het mekaar aanvaar – hulle moes. Nadat sy die krulle op haar agtste verjaarsdag afgeskeer het en die skoolkinders haar selfs meer gespot het oor haar kaalkop as haar krulkop, het sy besluit om die krulle te aanvaar. Maar die vogtige lug hier help nie.

Volgens die brosjure behoort die swembad aan haar linkerkant te wees, ontvangs anderkant die grasperk en die restaurante aan weerskante van die swembad. Die opelugrestaurant, die Boma, lê seker agter haar waar die Zambezi vloei. Die voorste vleuel, het sy gelees, bestaan uit die ingang, ontvangs, kantore en vyf onthaalsale – dis die oorspronklike hotel. Die losstaande vleuels, almal later gebou, bestaan elk uit vyftig suites, ’n biblioteek en ’n ontspanningslokaal. Links is die Jasmyn-, regs Baobab- en agter die Krokodil-vleuel.

Sy is ingeboek in Krokodil no. 50. Haar sitkamer se skuifdeur, waar sy nou staan, loop uit op die grasperk, en aan die oorkant blink die hotel se enorme swembad. Haar hoofslaapkamer het ook ’n skuifdeur, wat na ’n knus agtertuintjie lei. Sy het gister daar op ’n bankie gesit en boeklees.

Sy trek die lug diep in haar longe op. Dit ruik nog vars en skoon – effens soet van die jasmyn wat blom. Van haar voordeur neem sy die geplaveide voetpaadjie wat links om die swembad kronkel tot waar die brosjure die kantore aandui. ’n Oomblik gaan staan sy in die tuin onder ’n baobab en luister. Die gedruis van die waterval is altyd daar – op die agtergrond, maar permanent teenwoordig. En wanneer daar ’n bries stoot, kan sy die sproei van die Victoria-waterval koud en klam op haar vel voel. Nie so koud soos die drywer se albasteroë nie, maar verfrissend soos ’n nuwe liefde.

“Miskien het ek my kop harder gestamp as wat ek besef het,” mompel sy en stap verder.

Vandag móét sy die eienaar ontmoet. Sy het reeds twee dae in die bed gemors.

“Gmff,” snork sy. Sy het gebrand om haar opinie vir die Duitse doktertjie te gee, maar sy het haar pose gehou en sy storie vir soetkoek gesluk. Wat is ’n paar skrape? Sy wil net haar belofte aan Sandra nakom. En ja, as sy eerlik is: sy vrek tog van nuuskierigheid om die man te ontmoet.

Sy vee ’n krul uit haar oë, maar dit spring net weer terug. Haar donkerbril sal help, dink sy en druk haar Oakley soos ’n kopband op haar kop.

Tot die dag voor sy elf jaar oud geraak het, het sy in liefdesverhale geglo – daarna nooit weer nie. Soos enige ander tienermeisie het sy geglo wanneer sy groot is, sal die dag aanbreek dat sy haar held ontmoet.

Sy sug. Sandra was eintlik die een wat al die rede in die wêreld gehad het om te verander, om sinies te raak en nie in liefde te glo nie – maar haar vriendin het nie verander nie. Sy het alles probeer om Sandra te oortuig dat dit ’n belaglike gedagte is dat sy Zambië toe moet kom om haar aanstaande te ontmoet. Hulle was elf jaar oud en die waarsêer wat dié uitspraak gemaak het, was heel waarskynlik seniel.

“Kan ek help?” vra ’n dame die oomblik toe Emesia deur die glasdeure stap.

“Nee, dankie, ek’s op pad na die eienaar se kantoor toe.”

“Het u ’n afspraak?” dring die gesette dame vriendelik dog beslis aan.

“Nee.”

“Ek is jammer, meneer Rhodes is baie besig vandag. As u nie ’n afspraak het nie, kan ek vir u een maak.”

“O, ek het gedink hy verwag my. Ek’s die nuwe verpleegster.”

“Emesia?” Die dame steek haar hand uit om te groet. “Baie welkom hier by ons. Ek’s Aggie, die hotelbestuurder.”

“Aangenaam om jou te ontmoet, Aggie. Dink jy ek kan my net gou aan hom gaan voorstel?”

“Ek hoor gou,” sê Aggie en stap na die telefoon.

Terwyl sy aanhou, fluister sy: “ Hy’s maar erg omgekrap vandag. Doeane gee hom grys hare – hulle maak die lewe vir hom baie moeilik.”

“O, hoe so?” vra Emesia, maar Aggie is reeds besig om oor die foon te praat.

Sy sit die foon neer en sê: “Sy kantoor is die derde deur op regterkant. Hy wag vir jou.”

“Dankie.” Emesia kyk na die enorme foto wat reg agter Aggie se ontvangstoonbank hang. “Ek het gister dieselfde foto op die lughawe gesien.”

Aggie kyk om. “Bakili Muluzi – dis wet dat die president se foto iewers moet hang waar hy sigbaar is.”

By die derde deur stop Emesia en bekyk die breë skouers, netjiese ligbruin hare en lang figuur wat voor die venster staan. “Verskoon my, ek is op soek na die eienaar van die hotel.”

Hy draai om en die oomblik dat sy Deon herken, steier sy effens terug. Hy is die laaste persoon vir wie sy vandag kans sien. Die man ontwortel vreemde emosies in haar.

“Watter een?” vra hy en vryf oor die roof op sy neusbrug.

“Ek … ek weet nie. Is daar dan meer as een?” Emesia wens sy kan ophou staar na die bruin merk op sy neusbrug. Het sy die man só hard gemoker?

“Ja, daar is meer as een.”

“Is hulle almal van Franse afkoms?”

“Wat?”

Sy voel hoe haar wange verkleur. “Ek bedoel maar net: is hulle familie? Ek het verstaan die eienaar is Frans, en ek dink dis die Franse eienaar wat my hierheen laat kom het.”

“Ja en nee.”

Sy lig haar kop vererg. “Hoe moet ek weet wat dit beteken?”

“Ja, hulle is familie en nee, hulle het nie beide Franse bloed in hulle are nie.” Hy gee ’n veelbetekenende glimlag.

“Dankie. Kan jy vir my sê waar ek die eienaar sal kry?”

“Die Franse een, neem ek aan?”

“Enigeen sal doen, dankie.” Sy tree agteruit. Hoe vinniger sy uit Deon se teenwoordigheid kom, hoe beter vir haar hart.

“Die volgende deur regs. Jy sal hom daar kry.”

Sy kry die gevoel dat hy met haar spot. “Dankie,” sê sy, maar bly staan. Sy kon nog nooit opkrop nie. “Jy weet dit was ’n ongeluk.”

“Wat? Jou koms hierheen?”

“Nee, man, die hou teen jou neus.”

Hy vryf weer oor sy neusbrug, maar antwoord haar nie.

Sy lig haar ken. Sy sal nie weer jammer sê nie! Die man maak dit onnodig moeilik vir haar, en hy verlekker hom in haar ongemak, sy kan dit sien.

Sy draai om, maar voor sy uitstap, draai sy terug en sê: “Ek sal graag meer van Livingstone wil sien voor ek oor twee dae met my nuwe werk begin. Sal jy my later deur die Mosi-oa-Tunya-reservaat kan neem? Jy bestuur goed, en ek dink jy mag dalk ’n insiggewende toergids wees.”

“So, ek moet jou vervoer én jou toergids wees? Is daar nog opdragte?”

Sy frons. Sy kry alewig die gevoel dat die man besig is om haar vir die gek te hou. “Nee, dit sal vereers al wees. Sien jy kans om vir my die omgewing te wys?”

“Ongelukkig is ek besig vandag.”

“Ek sal jou vergoed – ek het nie bedoel dat jy dit verniet moet doen nie. Jy het tog seker ’n vasgestelde bedrag wat jy per kilometer eis? Ek wil baie graag die reservaat sien, maar ek kan ook nie onnodig spandabelrig wees nie, so as jy billik is, sal ek van jou dienste gebruik maak.”

“Ek verstaan.”

“Het jy enige idee hoeveel dit my sal kos? Die totaal: jou fooi, toegangsgeld en so meer. Die brosjure in my kamer noem toegangsgeld van dertig dollar.”

“Ja, ek is maar duur, juffrou,” sê hy en vryf oor sy ken. “Maar ongeag die prys sal ek eers by my meneer moet gaan luister of ons die motor vir so ’n uitstappie mag gebruik.”

“Dankie. Sal jy uitvind, of moet ek hom vra? Ek is op pad na hom toe en sal graag oor ’n uur wil vertrek.”

“Dan kan jy hom sommer vra.”

Emesia knik, draai om en stap uit. Die man laat haar ongemaklik voel, nee, dis eerder ’n aantrekkingskrag. ’n Onverklaarbare spanning tussen hom en haar wat haar ontstig. Sy ken nie die gevoel nie, maar instinktief weet sy dat sy die vlinders wat in haar maag fladder elke keer wanneer sy in Deon se oë kyk, moet hokslaan.

Miskien moet sy juis nie saam met hom rondry nie; miskien moet sy hom juis vermy tot hierdie lawwe aangetrokkenheid oorwaai.

Dan klap sy haar tong vererg. Sy is besig om haar verstand te verloor – ’n drywer, wil jy nou meer. Dis verregaande!

Deon kyk haar agterna: fyn figuurtjie, wispelturige blonde krulle en parmantige houdinkie. Hy vryf oor sy ken. Wat is dit aan die vrou wat hom so amuseer?

Sy geaardheid is ernstig – hy ken nie die oppervlakkige sy wat in haar teenwoordigheid na vore kom nie. Hy en sy ma was al die jare alleen. Hy ken swaarkry, en hy moes van jongs af groter verantwoordelikheid op sy skouers neem as enige van sy vriende. Wanneer sy maats smiddae krieket in die pad gespeel het, het hy van deur tot deur gestap en lemoene verkoop om sakgeld te verdien.

Vir wat wil hy nou staan en laf raak; haar treiter en tart?

Dis omdat hy nie die gevoel kan afskud dat alles rondom haar nie pluis is nie. Wat soek sy vroualleen in Zambië? Hy ken haar soort: bederf en opgepiep. Tog klop sy hart vinniger elke keer wanneer hulle paaie kruis.

Hy skud sy kop vererg. Sy vorige mislukte verhouding is nog nie eens koud nie en sy hormone spring trampolien met die eerste ronde boudjies, viooltjieblou oë en rosige wange wat hy raakloop. Het hy nie sy kop hard genoeg met Amanda gestamp nie?

Hy draai om, stap deur die middeldeur na sy studeerkamer en gaan staan voor die venster. Die kunsmis wat hy laat gooi het, het gehelp. Die gras lyk goed – lowergroen. In die verte sien hy ’n trop sebras wei.

Alles is so rustig. Alles behalwe sy voorgevoel dat Emesia haar eie duistere motief het, en dat daardie motief hom op een of ander manier insluit.

Victoriavalle van liefde

Подняться наверх