Читать книгу Liefde in die skemering - Lizet Engelbrecht - Страница 4
Оглавление2
Monique loer deur die skuifdeure na buite waar die son op die klein branders speel en seemeeue krys. Die Joseph-persoon behoort nou enige oomblik te arriveer. Sy gooi haar lang swart vlegsel terug oor haar skouers en druk los haartjies agter haar oor in. Sy het hierdie gebaar nou al ’n duisend keer herhaal vanoggend, dink sy grimmig.
’n Voertuig se deur wat oop- en toegaan laat haar ligweg skrik. Hy’s hier! Die man met wie sy haar kwansuis vir die volgende agtien maande sal moet bemoei. Sy gaan wag senuagtig by die voordeur. Kuiermense is by hierdie huis so skaars soos wors in ’n hondehok en ’n eensamer mens as oom Matty het Monique nog nie teëgekom nie. Tog wens sy hierdie kuiergas vurig weg.
’n Lenige man met breë skouers kom nader gestap. Sy herken hom van die foto wat oom Matty vir haar gewys het, maar in lewende lywe vertoon hy langer. Sexier. En sy hare is beslis nie so netjies gesny as op die foto nie. Inteendeel. Monique kan haar oë nie van sy matraskop wegskeur nie. ’n Skaapskêr sal daarin verdwaal!
“Goeiemôre, ek is Joseph Greeff. Ek het ’n afspraak met meneer Olsen.”
“Dis korrek. Dis jou eerste keer hier?” vra sy onnodig en kyk baie vlugtig in sy oë. Sy het nie lus dat hy die waarheid, naamlik dat sy weet wie hy is, in haar oë moet sien nie. Hy kan maar dink hy’t met ’n ander verpleegster gepraat.
“Ja, dit is,” sê hy effens onthuts.
“Wel, sit gerus,” sê sy toe hulle in die voorportaal staan, en beduie na ’n ongemaklike bankie. Sy kyk op haar horlosie. Vyf voor nege. Oom Matty is lankal gereed, weet Monique, maar hierdie man kan gerus maar wag.
“Ek staan sommer,” sê hy nogal stroef en kyk op sy eie horlosie.
Monique kyk onwillekeurig ook na sy pols en sien hoe die swart rubberband van sy luukse polshorlosie styf om sy arm sit. Die donkersilwerkleurige gesig lyk mooi by sy blas vel. Sy armhaartjies krul op teen die rubberbandjie. Sjoe! As hy so ’n duur horlosie kan bekostig, het hy mos genoeg geld van sy eie. Wat kom soek hy hier? Hy’s beslis nie lelik nie . . .
“Ek sien jy bewonder my horlosie.” Sy byna sarkastiese stem ruk deur haar en Monique besef dat sy sowaar staan en staar het.
“O nee, glad nie. Dis gans te opsigtelik,” sê sy koel en kyk hom in die oë. Maar dis tog baie mooi aan daardie verruklike arm, koggel ’n stemmetjie haar diep binne.
Hy verwerdig hom nie om te antwoord nie, maar Monique sweer sy kon verbasing en daarna verontwaardiging in sy oë sien. Hy kyk stip na haar en skielik kry sy warm. Sy tel ietwat vervaard die afstandbeheerder op en skakel die lugverkoeler aan. Miskien moet sy hom tog al deurstuur na oom Matty toe, die wagtery werk net op haar senuwees.
’n Paar kamers daarvandaan lê oom Matty in sy siekbed en staar na die muurhorlosie. Daar’s vyf minute oor; Joseph het laat weet hy sal negeuur hier wees. Matty se maag maak ’n nare draai. Word sy grootste droom oor vyf minute waar? Of ’n nagmerrie?
’n Minuut of wat lank dwaal sy gedagtes na die laaste gesprek wat hy met Joseph se ma, Olivia, gehad het. Hy en Olivia weet al baie jare van mekaar, maar ter wille van Joseph het hulle destyds ooreengekom om mekaar te vermy. Hy sou hoegenaamd geen kontak met Joseph hê nie, tensy Olivia voor hom doodgaan. Indien dit gebeur, het hy belowe om haar seun te beskerm. Matty en Olivia deel ’n geheim.
Dit was ’n belofte wat Matty nie ligtelik gemaak het nie, maar diep binne hom het hy nie vir een oomblik geglo dat Olivia hom met Joseph sou agterlaat nie. Dat sy voor hom gesterf het, maak geen sin nie. Hy is ’n ou, ou man! En nou sit hy met die gebakte pere.
Toe die emosie Matty wil oorweldig, draai hy sy kop na die skildery van ’n ligtoring teen die muur. Hy dwing sy gedagtes ferm in daardie rigting. Van al sy skilderye is hierdie een sy gunsteling. Net jammer dat daardie spesiale iets nog altyd ontbreek. Hy kan nie sy vinger daarop sit nie, maar ’n fundamentele kleur, lyn of emosie ontbreek in hierdie skildery.
Daardie ligtoring, dink Matty nou, is heel letterlik ’n uitbeelding van sy begin, maar ook van sy einde. Hy sou so graag die ligtoring wou oorskilder. Daardie ontbrekende iéts vind en byvoeg.
In die ingangsportaal verplaas Joseph ongeduldig sy gewig op sy linkerbeen. Die vroumens staan en staan net, dit lyk nie of sy hom ooit na haar pasiënt gaan vat nie!
“Gaan jy weer hierheen kom?” verbreek Monique die stroewe stilte.
“Dalk, dalk nie, wat maak dit aan jou saak?”
“Solank jy by die reëls hou,” sê sy ferm en druk los haartjies agter haar oor in. Die vent is bra ongeskik!
“Watse reëls? Dit is tog meneer Olsen se huis hierdie, dan nie, nie ’n hospitaal nie?”
“Dit is so, maar meneer Olsen is baie siek. Die enigste rede hoekom hy nie in ’n hospitaal opgeneem word nie, is omdat ek hom baie goed versorg en toesien dat hy nie ontwrig word nie. So, daar is reëls hier.”
“Soos?” Sy wenkbroue skiet op.
“Besoektyd word na my goeddunke toegestaan of gekanselleer. Indien jy hom ontstel, sal ek jou moet vra om te gaan. En indien jy my pasiënt ooreis, sal jou besoektyd kortgeknip word. Dis hoe dit moet wees.”
“Soveel mag vir so ’n klein meisietjie,” sê Joseph smalend. Die verkleinering bring dadelik ’n blos na Monique se wange, deksels, dat sy nou moet bloos soos ’n bakvissie!
“Maak daarmee wat jy wil, maar ek is hier om meneer Olsen op te pas, en jy sal moet gehoor gee aan wat ek sê.”
Joseph antwoord nie. Ná ’n paar lang oomblikke waarin Monique sweer haar knieë die bewerasie gekry het onder sy speurende blik, knik hy tog – baie effens. Sy voel hoe die spanning in haar skouers skiet gee. Rondte een is hare!
“Dan kan jy maar deurstap. Hier in die gang op, die tweede deur aan die linkerkant,” sê sy en stap uit die ingangsportaal na die aangrensende studeerkamertjie waar haar rekenaar staan.
Hierdie man is nie net liederlik aantreklik nie, hy is uitgeslape ook. Heel waarskynlik selfs gevaarliker as wat Christof was. Monique se maag draai. Ag aarde tog, wat het geword van die skaam, skugter ou wat sy haar voorgestel het? Hoe gaan sy vir oom Matty teen hiérdie man beskerm? Hoe vang of hou ’n vrou ’n hunk soos Joseph Greeff, selfs al is dit net vir agtien maande? Hy is so . . . mán!
’n Kug laat haar opkyk. Hy staan nog altyd daar, presies op dieselfde plek, dog sy bruin oë lyk nie meer vererg nie, maar eerder onseker. Kan dit wees . . . byna pleitend!
“Weet jy nie watter kant is links nie? Daar, dáái kant,” sê sy kamstig hooghartig en beduie. “Tweede deur.”
“Stap jy nie saam nie? Sê nou hy slaap?” vra die groot man met ’n onsekerheid wat Monique heeltemal onkant vang. Miskien is hy nie só onmenslik soos sy voorkoms hom laat lyk nie, dink sy met ’n skielike klein blyheid, maar sy onderdruk vinnig die idee en antwoord koel: “Foei, jy sukkel met links en regs en nou moet ek nog jou hand vashou ook.”
“Hel, maar meneer Olsen omring hom met ’n spul bitter pomelo’s. Onvriendelikste vroue wat ek nog aangetref het,” sê Joseph stuurs en praat vinnig verder voordat sy ’n woord kan inkry. “Waar is Monique dan? Ek het verstaan dat sý meneer Olsen se verpleegster is. Roep haar, asseblief. Sy’t darem gister ’n rapsie minder suur geklink as jy.”
Monique trek haar skouers agteruit en stap verby hom in die gang af. Oor haar skouer sê sy: “Kom, hy verpes dit wanneer iemand laat is vir ’n afspraak.”
Matty wil nie, maar hy moet sy en Olivia se laaste gesprek nou onthou. Dis belangrik dat hy mooi helder is in sy kop oor wat sy gesê het, nou met haar seun wat voor hom gaan staan.
“Oom Matty,” het sy begin, en hy kon die trane in haar stem hoor. “Hy’t ’n meisie. ’n Nuwe een. Amanda is haar naam.”
“Olivia, kalmeer nou eers,” het hy gepaai. “Dis mos darem nie Joseph se eerste meisie nie. Jy behoort al toe-oë van hulle ontslae te raak. Jy het die ander dan so maklik verjaag.”
“Ek het, ja. Maar dié Amanda-meisie is anders. Hardkoppig.”
“Ag nonsens, het jy vir haar die storie gevoer dat Joseph MIV-positief is?”
“Natuurlik. Die tweede aand nadat hy my van haar vertel het, is ek na haar woonstel toe.”
“En?”
“Sy is daarna weer saam met hom uit. Hy’t haar naggesoen nadat hy haar afgelaai het en sy het nie gekeer nie! Vanaand het Joseph vir hulle ’n tafel vir twee by kerslig bespreek. Ek is bang, oom Matty! Dit lyk nie of ons plan dié keer gaan werk nie. Ek dink sy’s werklik lief vir hom!” ’n Oomblik het daar ’n swaar stilte gehang. Oor die telefoon kon Matty hoor hoe swaar sy sluk. “En ek is te moeg om verder te sukkel. Ek kan nie meer nie, oom Matty. Wat gaan van my seun word?” Sy het begin snik.
“Olivia, toe nou, moet jou asseblief nie so ontstel nie. Ek het mos jare gelede belowe dat ek hom sal beskerm.”
“Hoe, oom Matty, hoe? Jy is self sieklik en die tyd wag nie. Ek kán nie doodgaan as ek weet my seun gaan seerkry nie. Hoe hou ek tog die meisies van hom weg?”
“Olivia, wat jy nou doen, is: Jy gebruik jou siekte. Die laaste paar dae wat jy oorhet.”
“Hoe bedoel jy nou?”
“Jy laat Joseph verstaan jou dae is baie min. Die dokters sal dit bevestig. Maar jy dik bietjie aan, as dit moet. Jy sê prontuit vir Joseph dat hy die res van sy lewe het vir meisies en dat hy nou al sy aandag aan jou moet wy solank jy nog lewe. Jy vra hom reguit om Amanda eers nie te sien nie. Jy sê bloot jy kan nie nou daarmee vrede sluit nie. En dis mos die reine waarheid.”
“Ek kan dit nie doen nie, wat as –”
“Jy doen hom ’n guns, en jy weet dit.”
“En as hy weier? Hy gee reeds om vir haar.”
“Hy’s ’n goeie seun, Olivia. Hy sal jou nooit weier nie.”
“En daarna? Wat gebeur wanneer ek . . . wanneer ek nie meer hier is nie?”
“Dan moet hy mos na my toe kom. Ek werk aan ’n plan.”
Matty vee oor sy oë. Dit was rondom daardie tyd dat hy en Monique hul ooreenkoms gesluit het.
Joseph staan langs die verpleegster en wag dat sy die deur oopmaak. Haar kleredrag – hy’s nie seker of dit ’n uniform is nie – is vir hom aantreklik. Gemaklike skoene, ’n knap rompie wat die mooiste sonbruin bene ontbloot en ’n spierwit bloes wat geen geheim maak van haar volronde borste nie.
Sy’s korter, besef Joseph, as wat hy aanvanklik gedink het, tog het sy die elegansie van ’n lang vrou. Regop skouers en kop, met haar ken effens gelig. En besonder uitdagende oë. Hy’t nog gedink Monique klink nie onaantreklik nie, hoewel kwaai, en hier’s nou nóg ’n aanskoulike verpleegster . . .
“Jy gaan hom nie uitput nie. Ek hou jou dop,” sê sy met haar hand op die deurknip.
“Goeie genade, is jy een van Hitler se afstammelinge? Waarom so kwaai?”
“Nee, ek is Monique Botha en dis my werk om meneer Olsen op te pas.”
“Maar ek dog dan . . . so dis jý met wie ek –”
Maar sy het reeds die deur oopgemaak en ingestap.
Wat ’n aanvallende vroumens, dink Joseph vies terwyl hy nog op die drempel bly staan. Vir soveel draadwerk sien hy tog nie in ’n vrou kans nie.
Die kamer ruik na blomme, nie na hospitaal soos Joseph heimlik verwag het nie. Hy kyk versigtig deur die vertrek. Dis ruim, met ’n ligblou-en-mosgroen kleurskema. ’n Hemelbed met bedkassies. Teen die oorkantste muur hang ’n vreemde skildery, dis iets van ’n seetoneel. Dit het ’n donker en depressiewe gevoel wat nie strook met die res van die kamer nie. Reg onder die skildery, byna as verskoning, staan ’n groot pot aronskelke. Die skildery trek Joseph se blik terug. Vaagweg kan hy ’n ligtoring uitmaak, en . . .
“Vandag nog?” ruk Monique se stem deur hom.
Verdomp, wat is dit met hierdie vroumens! Ongeskik. Dis nie asof die oom êrens heen gaan nie, maar hy stap flink nader en besef dat hy die bed raakgesien het sonder om te besef daar lê ’n baie tenger persoon daarin.