Читать книгу Liefde in die skemering - Lizet Engelbrecht - Страница 5

Оглавление

3

“Oom Matty, jou kuiergas is hier,” sê Monique en kyk meewarig na oom Matty se toe oë. Hy slaap nie, sy weet. “Maar as oom nie vandag na gesels voel nie, kan hy anderdag terugkom,” sê sy in ’n poging om oom Matty aan te moedig om Joseph te groet. Maar haar hart bloei vir haar pasiënt. Sy eerste kuiergas in baie maande, en dan is dit iemand wat hy nie eens kan vertrou nie. Vir die duisendste keer wens sy sy het geweet watter tipe bedreiging die vent vir haar oom Matty inhou.

“Oom Matty, ek gaan nou loop. Ek los julle alleen, maar ek is nie ver nie. Roep as oom my nodig het, ek’s net in die studeerkamer. Is dit reg so?” Sy verwag nie regtig ’n antwoord nie. “Joseph, hy slaap nie, jy kan maar gesels. Jy’t veertig minute. Verskoon my.”

“Hoe weet jy hy slaap nie? Hy lyk of hy so uit soos ’n kers is. Ek wil hom nie steur nie. Laat ek liewer oor ’n halfuur of so terugkom.” Joseph lyk soos ’n kat in ’n vreemde pakhuis.

“Nee, praat gerus,” sê sy beslis. Halfpad deur die vertrek kyk sy oor haar skouer en sê paaiend: “Hy slaap nie, ek verseker jou, jy kan hom maar vertel waarna jy op soek is.”

Monique trek die deur toe, maar nie op knip nie. Sy vertrou nie vir wolf in skaapsklere nie. Oom Matty het haar gister, nadat Joseph gebel het, maar bitter min vertel: dat hy die man se ma reeds jare ken. Dat hy die vrou belowe het om haar seun veilig te hou. Dit was vir haar die vreemdste, dat oom Matty nou sê dis Joseph wat onveilig is, nie hy self nie. Juis noudat oom Matty se seisoen draai en daar binnekort ’n erfporsie beskikbaar gaan wees? Dis mos duidelik: Binnekort gaan seun en ma seker beweer dat Joseph oom Matty se buite-egtelike kind is en moet erf.

Vermoed oom Matty ook dat dit hul plan is? Is dit die rede vir sy vreemde versoek? Wil hy Joseph se aandag afgetrek hê deur ’n vrou? Maar wat dan van die storie dat hy die een is wat vir Joseph moet beskerm?

Monique weet nie watter kant toe om te dink nie en het al meermale gewonder of oom Matty nie tog maar effe kinds raak nie, maar een ding staan soos ’n paal bo water: Sy sal nooit weer toekyk hoe geldgierige parasiete toesak op iemand se erflating nie. As dít is wat in hierdie situasie gaan gebeur, weet sy hoe om op te tree. En sy het elke woord van haar Florence Nightingale-belofte bedoel.

Joseph weet nie hoe om die geraamte in die bed te benader nie. Die meeste ouer mans het yl hare of is bles, maar nie Matty Olsen nie. Bo die uitgeteerde lyf is daar ’n welige silwer boskasie wat Joseph nog meer ongemaklik laat voel. Dit lyk steeds of die ou man rustig slaap.

’n Tydjie lank staar Joseph na die vreemde skildery aan die oorkant van die vertrek. Dit is moeiliker as wat hy gedink het om hier te wees; die oom lyk so weerloos. Hoe dring ’n mens aan op die waarheid wanneer jy kan sien dat om bloot asem te haal ’n moeisame taak is vir die een wat moet vertel. En was sy ma seker hierdie antieke mens sal hom kan help?

Die skildery trek sy aandag aanhoudend. Dis ’n vreemde uitbeelding van ’n onstuimige see en ’n ligtoring. Hy wonder of die skilder dalk kleurblind was, of depressief, want ligtorings is tog altyd simbole van hoop, veiligheid en redding, eerder as hierdie somber, neerdrukkende affêre. Dan draai hy met ’n sug terug na die bed. Hy glo nie die ou man luister nie. Hy kan netsowel sê wat in sy hart is en dit minstens uitkry.

“Wie ís ek?” Joseph kry geen antwoord of blyke van lewe van die ou man nie. Nes hy gedink het. Hy sug swaar en wonder vir die soveelste keer wat die verbintenis tussen Matty Olsen en sy ma kan wees. Aanvanklik het hy ’n verhouding oorweeg, maar nadat hy die oom se ouderdom besef het, betwyfel hy daardie moontlikheid sterk.

“Ek wil net weet wie ek is!” Joseph hoor sy stemtoon onwaardig styg en onthou van Hitler daar buite se dreigemente. Hy voeg heelwat sagter by: “Ek verdien die waarheid. Ek kan nie meer ’n vreemdeling in my eie vel wees nie. My ma het gesê oom kan my help.”

Joseph sien hoe die grys kop effens beweeg, onrustig, maar die oë bly toe.

Joseph se passie vir argeologie is juis gebore uit sy strewe om meer oor sy eie verlede uit te vind. In sy soektog na die waarheid het hy bedwelm geraak deur ander se geskiedenis en gebeurtenisse in vervloë tye. Jare lank het hy geglo sy werk is genoeg, dat hy nie meer omgee oor sy eie persoonlike verlede nie. Maar hy was verkeerd. Sy begeerte het net lê en prut, en nou, met sy ma in haar graf en sy enigste familie dus van hom weggeraap, kan hy dit nie meer binnehou nie.

“Die verpleegster sê oom slaap nie regtig nie. Ek glo haar,” sê hy nou ná die beweging. “Meneer Olsen, oom? Kan ons asseblief gesels?”

Die gryskop se oë gaan moeisaam oop. Dit lyk of hy sukkel om sy ooglede van mekaar weg te trek. Maar dan kyk Joseph skielik vas in die blouste oë wat hy nog gesien het.

“Jy kom baie in die son sonder ’n hoed. Laas wat ek jou gesien het, het jy nie sulke sproete op die neus gehad nie. Die son is giftig,” sê die ou man stadig.

Joseph kyk om om seker te maak niemand staan agter hom nie. Met wie praat die oom? Yl hy dalk?

“Oom, my naam is Joseph, oom, ons het nog nie ontmoet nie. Joseph Greeff,” sê hy stadig en effens harder as normaal. Die oom moet sekerlik naby honderd wees. Moontlik doof? Seniel? Hoekom het sy ma hom tog hierheen gestuur?

Onwillekeurig sluit sy vingers oor die sekelmaan-gelukbringer wat hy om sy nek dra. Dit was die laaste geskenk wat sy ma vir hom gegee het – dié antieke sekelmaantjie en ’n poskaart. Hy het dadelik geweet: In hierdie twee objekte lê die waarheid van sy lewe opgesluit. Die poskaart het net ’n paar reëls daarop gehad:

Indien jy nog die waarheid wil weet, vind vir Matty Olsen. Vergewe my, ek wou jou net beskerm. Lief jou altyd.

Joseph stap na die voetenent van die hemelbed. Hy lig die hospitaalstyl-inligtingsblad wat daar hang en lees: J. M. Olsen (Matty). ’n Besef stuur hoendervleis oor sy lyf. Matty Olsen is natuurlik die J. M. Olsen wat agterop sy sekelmaantjie gegraveer staan. Hy het dit lanklaas omgedraai en die in-skripsie gelees, maar hy kan homself skop dat hy nie vinniger die konneksie gemaak het nie.

“Meneer Olsen, ons het ’n afspraak vir vandag. Kan oom nog onthou?”

“Nou hoekom dink jy dat ek ons afspraak sou vergeet het?” Die stem is krakerig en koel.

Joseph trap-trap rond. Hy kan nie sake nou beduiwel nie, nie nou nadat die verbintenis tussen die poskaart en die sekelmaantjie so treiterend naby is nie. “Ek het dit nie so bedoel nie, ek –”

“En moenie so staan en skreeu nie, ek’s nie doof nie. Mens sal sweer ek’s stokoud soos jy tekere gaan.”

Joseph se mond gaan vinnig oop en weer toe. Opwinding bruis deur sy are, maar dit lyk of hy nie ver gaan kom met hierdie man nie. Hy moet! Hy móét eenvoudig weet.

“Vir wat skreeu jy so?” vra Monique skerp uit die deur. Sy kyk vinnig na haar pasiënt, maar oom Matty lê taamlik rustig teen die kussing. Dis eerder Joseph wat bleek om die kiewe lyk.

“Ek het net effens hard gepraat, verskoon my.” Sy kan sien iets is met die man aan die gang, hy flous haar glad nie. Trippel rond asof die eindtye kom. Raak hy tog nie aggressief met oom Matty nie?

“Vir wat? Oom Matty is nie doof nie,” sê Monique en stap nader. Sy lê haar hand vlugtig op oom Matty se voorkop. “Daardie lastige koors kan enige oomblik terugkeer. Oom, ek gaan nou weer, maar ek wil hê oom moet my roep as oom my nodig het. Ek is net hier buite.” Sy draai na Joseph. “En Joseph, hier hoef jy niemand te beïndruk nie, los maar die ‘meneer Olsen’. Ons praat sommer van oom Matty.”

Sy wil wegstap, maar oom Matty vat haar aan die elmboog en sê vreemd verskonend: “Monique, hierdie is nou Joseph Greeff, jy weet,” sê hy en druk haar elmboog asof hy ’n geheime boodskap wil oorsein.

“Ja, oom, ek weet mos.”

“Joseph, ou seun,” gesels oom Matty nou skielik gemoedelik. “Monique klink net so kwaai, eintlik is sy ’n oulike nooientjie. As ek ’n bietjie jonger was . . .”

“Ek is seker, oom,” sê Joseph met ’n vreemde uitdrukking op sy gesig.

“Julle twee kan gerus vanaand by die restaurant hier op die strand –” begin oom Matty, maar Monique val hom blitsig in die rede.

“Oom, Joseph is hier om iets persoonliks te bespreek. Hy het net veertig minute.” Sy kyk op haar horlosie. “Wel, nou dertig minute, dan gaan hy ry.”

“Heil Hitler,” sê Joseph saggies en kap sy hakke teen mekaar.

Monique gee hom ’n moordende kyk en stap vinnig uit. Sy besef oom Matty is gretig dat sy die belofte oor Joseph nakom, maar hy moet nou nie nog verder kom lol nie. Dis ongemaklik genoeg vir haar soos sake staan. Ai tog!

Joseph kyk die figuurtjie met die vlegsel wat parmantig heen en weer wip agterna. Sy’t in die tien minute wat hy haar ken sy hittemeter meer in die rooi gedryf as enigiemand anders óóit. Sowaar, sy’s ’n geitjie – maar wat ’n geitjie!

Hy staan nader aan oom Matty, wat intussen weer sy oë toegemaak het. Die opwinding maak hom mal. Joseph het altyd geweet daar steek meer in sy verlede as sy ma se storie dat sy ’n moeilike tiener was wat haar streng ouers wou skok. Sy wat glo een aand uit die huis geglip en alleen na ’n kroeg toe is met die idee om haarself te gaan wangedra. In die kroeg het sy by die toonbank gaan sit, ’n martini bestel, al het sy geen idee gehad hoe ’n martini smaak nie, en die ouer man langs haar uitdagend aangekyk. Hy was nie heeltemal haar pa se ouderdom nie, maar ideaal vir haar doel.

Dit, volgens sy ma, was die laaste ding wat sy kon onthou. Die volgende oggend het sy in ’n motel wakker geword. Vier weke later het sy uitgevind sy is swanger, en kort daarna het sy boonop haar ouers verloor.

“Jy’s nog hier,” onderbreek oom Matty se krakerige stem Joseph se gedagtes.

“Ek gaan nêrens nie,” antwoord Joseph beslis en wonder of hy op die gemakstoel moet gaan sit om sy punt te bewys.

“As jy hier is, beteken dit jou ma is toe oorlede,” sê oom Matty tam, en Joseph merk verbaas die waterigheid wat in sy oë opdam. Hy antwoord met ’n kopknik, onkant gevang deur die hartseer in die oom se oë. Sou hulle dalk tog ’n verhouding gehad het? Die oom se tranerigheid dreig om hom ook weer emosioneel te maak.

“Dan is jy Joseph junior. ’n Afstammeling van dié ligtoring.”

“Van die ligtoring?” Hy het al gevrees dat sy pa baie slegte dinge sou wees, of baie goeie dinge nié sou wees nie, maar hy het vir seker nooit verwag om te hoor dat sy pa ’n ligtoring is nie!

“Ja, die ligtoring van wraak.”

Joseph kyk benoud oor sy skouer, deur se kant toe. Die oom yl nou beslis. Miskien moet hy liewer vir Hitler roep.

“En jy is hier om die storie van jou en die ligtoring te hoor.”

“Oom sê ek is Joseph junior. Dié mag ek dalk wees, maar van een of ander ligtoring van wraak weet ek niks nie. Oom sal moet verduidelik.” Terwyl Joseph praat, sien hy hoe die verrimpelde lippe op ’n plooi trek asof die ou man probeer om ’n glimlag te onderdruk.

“Die poskaart wat my ma vir my nagelaat het, sê net dat oom my die waarheid sal vertel.”

“Watter waarheid?”

“Oor wie ek is, natuurlik!” sê Joseph. Hy word al weer opgewerk, maar deksels, dis belangrike goed dié! Hy haal diep asem en gaan dan kalmer voort: “Wie ek is, en ook wie oom is. Die naam wat agterop my sekelmaan gegraveer is, stem ooreen met oom se voorletters en van.” Hy trek die sekelmaan onder sy hemp uit, maar dit lyk nie asof die ou man daarna kyk nie.

“Ek glo nie dis toevallig nie, so ek sal ook graag wil weet hoekom oom nooit van oom laat hoor het nie. Ek wou nie regtig ’n pa hê nie, ek en my ma het goed reggekom – maar hel, ek bedoel . . . as oom dan familie van my is . . .”

’n Lang stilte volg. Ná ’n tydjie kan Joseph dit nie meer hou nie. Hy bars uit: “So, is oom my pa, of wat? Dis al wat ek wil weet. Is my van Olsen of Greeff – ek wil nie meer ’n vreemdeling vir myself wees nie. Ek moet weet waar ek vandaan kom, wie my voorouers was.”

“Is ek nie bietjie oud om jou pa te wees nie?” Die ou man lyk sowaar asof dit alles een groot grap is! Joseph voel die onsekerheid aan hom ruk.

“Die bord daar by oom se voete sê oom is negentig jaar oud. So dan kon oom omtrent vier-en-sestig gewees het toe ek gemaak is. Beslis nie onmoontlik nie. So? Is dit die geval?”

“Sit, kind, jou bene is te dun om die waarheid te dra. Laat ek jou die storie vertel soos ek dit ken. Jou geskiedenis, my geskiedenis – die Olsens se verlede. Waar sal ek begin?” mymer hy.

“By die begin,” antwoord Joseph en gaan sit skielik. Is hy werklik só naby daaraan om die waarheid te ken?

Die verrimpelde lippe plooi weer byna in ’n glimlag. “Goed, nou maar gee dan vir my die pak foto’s aan wat in daardie laai lê. Daar, die boonste een.”

Joseph staan op en trek die bedkassie se laai oop. Hy skuif ’n dokument wat netjies met krammetjies gebind is eenkant toe, en daaronder vind hy ’n pak foto’s. Wanneer hy die dokument terugstoot om die laai toe te maak, vang sy oë vlugtig die woorde wat in vet letters daarop gedruk is: Kontrak tussen J.M. Olsen en Monique Botha. Nogal ’n formele storie, so ’n privaat verplegery.

“Hierdie is jou geskiedenis,” sê oom Matty gewigtig toe hy die pak by Joseph aanvat. “Nee seun, kom, help my eers dat ek regopper kan sit.” Joseph staan half skrikkerig nader, maar vind dis tog heel eenvoudig om die ou man onder die arms te vat en hom teen die kussings op te help.

Oom Matty kyk lank na die eerste foto en gee dit dan stadig vir Joseph aan waar hy weer langs die bed gaan sit het. Dit is ’n horingou foto, kan Joseph sien. Die wit en swart het lankal geelbruin verkleur en die rande van die foto is saggevat en verrond. Op die agtergrond is daar ’n skip en voor haar drom ’n groep mense saam. Hulle lyk opgewonde en vrolik.

Joseph bekyk die kleredrag en haarstyle. As argeoloog en iemand wat darem iets van die geskiedenis weet, kan hy die klere uitken as uit die vroeë twintigste eeu. Die skip ook.

Liefde in die skemering

Подняться наверх