Читать книгу Die afwesigheid van berge - Louis Esterhuizen - Страница 8
Terwyl julle slaap hou julle hande vas
Оглавлениеasof die nag ’n terloopse verbyganger is en die boom
se lustelose geskuur teen die geut
geen voorspel
tot gure weer is nie
met jul gesigte na mekaar toe gedraai slaap julle
en julle weet nie
dat die tyd van voorneme verander het nie
dat mis uit die grond
losgekom en reeds begin het
om bome
te verwasem nie
dat voëls digter saamgebondel sit en pruil
terwyl die vreemdeling
in die tuin
reeds
die droom wat julle aan mekaar beloof
betree het nie