Читать книгу Waar is die kleure heen? - Louisa du Toit - Страница 3
1
ОглавлениеMinah Bronkhorst kom agter haar seun in sy oop kamerdeur staan. ’n Oomblik lank betrag sy in stilte sy lenige gestalte. Sy hare is klam van die stort.
“Jy het mos gesê jy gaan na Freek en Susara toe?” wil sy dan weet.
“Ja, Mie. Ek het belowe om die kinders rugby toe te vat.”
“Terwyl jy dan tog by Laura verby moet ry …”
Meyer voel sy rug styf word. Hy moes geweet het dat sy ma nie om dowe neute na sy kamer toe gekom het nie. Sy meng selde in met die private lewe of die emosiewêreld van haar kinders. Toe hulle klein was, het sy hulle selfs geleer om haar “Mie” te noem; ’n kruising tussen Minah en Ma, asof sy daardeur ’n afstand sou kon skep. Sy wou nooit deur haar kinders geabsorbeer word nie.
Dis vir Meyer swaar om ’n versoek van haar te weier. Sy vra nie maklik ’n guns nie. Bowendien woon hulle twee alleen saam in hierdie groot huis. Hulle kan dit nie bekostig om afsydig teenoor mekaar te staan nie. In ’n sin het hulle mekaar erg nodig, en nogal lief ook. Hulle hou selfs van mekaar, dink hy geamuseerd. Dis dalk hoekom sy hom nog nie uitgeskop het nie. Hy trek die swart kammetjie deur sy klam hare. Terwyl hy die krullerige punte met ’n oop hand teen sy nek vasdruk, soek hy na ’n antwoord.
Eindelik besluit hy op ’n reguit, ofskoon wrede antwoord. Wat tussen hom en Laura was, is finaal en pynlik verby. Wanneer sal sy ma besluit om alle hoop te laat vaar dat hy weer by Laura sal gaan flikflooi? Na wat sy hom aangedoen het in die verlede? Eerder sal hy nagte lank oor haar wakker lê, sat van verlange, as dat hy hom weer sal laat wegstuur en verneder. Hy laat die kammetjie sak. Sy skouers in die gestreepte hemp is stil toe hy sy ma se blik in die spieël vind. “My pad gaan nie by Laura se huis verby nie,” sê hy pront.
“Jy kan as jy wil. Dis die logiese pad na Freek en Susara toe: by Laura se huis verby.”
“Ek het nie gesê die pad loop nie daar verby nie, ek het gesê my pad. Waarom sou ek die logiese pad wou vat as dit om Laura gaan?” vra hy harder as wat nodig is, want Mie staan immers naby hom. Hy swaai om en met grimmige bewegings trek hy die bruin ferweelbaadjie aan wat al saf gedra is. Hy hou veral van dié baadjie aan sy lyf op ’n Saterdagmiddag.
“Wat het Shakespeare geskryf van te veel protesteer?” vra Minah. Haar mondhoeke trek effens sinies. Sy is ’n eienaarde mengeling van tannie en lady. In voorkoms is sy geen welversorgde sosiale ikoon nie. Sy is trouens nie eers ’n danige mooi vrou nie. Sy het die uitgesakte figuur van ’n moeder wat drie kinders in die wêreld gebring en grootgemaak het sonder om enigsins op haar voorkoms te let. Sy het ’n onbestudeerde versorgdheid wat eintlik deur menige ander vrou op bestudeerde wyse nagejaag word. Sy lyk so losgemaak van almal en alles. En tog gee sy om. Meyer, wat die meeste met haar te doen het, weet dit.
Aan dit alles dink hy terwyl hy haar vlugtig bekyk. “Laat my nou maar met rus,” versoek hy. “Hoe ek die ding met Laura verwerk het, is mý saak. Ek het dit gedoen volgens die lig wat ek gehad het, en ek bly daarby. En as dit lyk of ek te veel teenkap: wat anders staan my te doen as die hele dorp en my eie ma gedurig probeer om my weer aan Laura te koppel?”
“Toe nou, Meyer … ek wou maar net vra of jy vir Laura en die kind ’n vars brood sal saamvat. Julle is tog nie volslae vreemdelinge vir mekaar nie, of hoe? Julle besit saam ’n handelsaak, en jy wil nie met haar praat nie. Wat ’n grap. Ek weet nie hoe jy so kan lewe nie. Ek verstaan dit nie.”
Meyer besluit dat sy eerlik genoeg lyk; oor die brood, in elk geval. “Ek sal die brood afgee,” besluit hy stuurs. “Maar die danige handelsaak wat ons saam besit, dis ’n gesukkel waarvoor ek nou deksels moeg is. Ek wil daarvan ontslae raak.”
“Laura is geheg daaraan. Dit het tog aan Piet ook behoort.”
“Piet, Piet, Piet. Net of sy so danig geheg was aan Piet.”
“Jy praat van jou broer. En hy lewe nie meer, om hom te verdedig nie. Watter reg het jy om te beweer dat sy nie aan hom geheg was, of hy aan haar nie?”
“Watter reg?” Hy gee ’n smalende neuslaggie. “Ek het alle reg om dit te beweer, want hulle geluk, ás hulle enige geluk saam gehad het, was op my ongeluk gebou. Fondamente van sand. Want Piet het haar by my afgevry, onthou?”
“Sou sy dit toegelaat het as sy nie vir hom omgegee het nie? En jy self is nog baie bitter vir iemand wat glad nie omgee nie.”
“Ek vergeet maar net moeilik, my Mie. Ek kan dit nie help nie. Om te onthou is ’n normale funksie van die brein.”
“Jy aard na jou pa. Vergeet en vergewe nooit. Piet het meer soos ek geaard, hy kon iets vergeet en daaroor kom.”
“Veral as hy met die prys weggestap het, ja. En dit was nie omdat hy jou eienskappe gehad het nie, Mie. Dit was omdat hy ’n losbol sonder gewete was.”
Minah toon geen pyn oor hierdie ruwe opmerking nie. Sy het lankal verby pyn geleef. Die matheid in haar blik is nie die soort moegheid van ’n vrou wat van vroeg tot laat deugsaam in haar huishouding arbei nie. Dis eerder ’n soort morele vermoeidheid omdat sy moeg is van sien en weet wat andere nie sien en weet nie.
As seuntjie het Meyer haar ’n hopelose moeder gevind. Sy was nie lief vir huiswerk en kindgrootmaak nie en het hom, Piet en Susara met trae ongeduld van haar lyf af probeer hou. So vroeg moontlik saans moes hulle in die bed gestop word, en dan het Meyer wakker gelê en geluister hoe sy klavier speel.
Hy het dikwels gedink dat die klavierles wat sy gee, vir haar meer beteken as haar kinders van vlees en bloed. Vir ’n woelige seuntjie is dit ’n straf om halfses bed toe te gaan, selfs al is hy moeg gespeel en al is dit winter.
Iewers langs die pad van grootword het die klem egter verskuif. Jy kry moeders wat uitstekend vaar met klein kinders, omdat dit vir hulle speelgoed is; maar sodra die kind groter word, verloor hulle voeling. Met Minah was die omgekeerde waar. Haar eie volwassenheid het eintlik geblyk toe sy met volwasse wordende kinders moes werk. Soos die drie kinders groter word, het hulle eerder na haar as na hulle pa gegaan om hulp en raad.
Die beste verstandhouding het sy waarskynlik tans met haar oorblywende seun en dogter: ’n soort radar-ingesteldheid. Sy wil weet van hulle, sy wil hulle liefhê, sonder dat hulle wedersyds veel van mekaar verg. Meyer het alle rede om te glo dat sy bitter getreur het na Piet se dood; en tog het die versoek nooit oor haar lippe gekom dat Laura en die kind by haar sal kom inwoon nie. Meyer het ook ’n sterk vermoede dat sy hom soms onder haar voete wegwens, maar hy hou hom blind daarvoor. Sy kan nie alleen woon nie. Sy is te verstrooid en onprakties, sal saans vergeet om die deure te sluit. Sy pa was altyd die een wat gekyk het of al die kinders binne is en dan die deure agter hulle gesluit het.
“Jy kan nie die saak verkoop nie.”
“Hoekom nie? Ter wille van Laura? Sy het my eenkeer uitverkoop. Wat verhinder my om dieselfde met haar te doen?” Hy snuif-snuif liggies; het ’n hengse verkoue, en sou liewer in die bed klim as om Esbie en John rugby toe te vat. Maar hy het vir Susara belowe. Sedert sy knieskyf begin lol het, kan hy self nie meer speel nie. Dié dat hy dwing om te wil gewig aansit. Sit by die werk ook heeldag op sy bas.
“Jy is so ’n klein mensie, Meyer,” skel Minah haar seun uit.
Dis vir hom dierbaar as sy iemand uitskel. Haar ergste wrewel is opreg skadeloos, goedmoedig, dit raak kant nog wal. Wanneer sy peins of haar onttrek, het sy ’n atmosfeer van oerwysheid om haar. As sy vies word, is sy soos ’n skooldogtertjie wat tong uitsteek om die skool se hoek.
Meyer grinnik. “Nes my pa?” tart hy haar. “Hy het jou darem goed gedien, Mie. ’n Groot gees sou jou nooit so bedien het soos hy gedoen het nie. Wees bly jy het klein siele rondom jou. Grotes vat te veel lewensruimte.”
“Jy kan selfs nie jou aandeel in die saak verkoop sonder Laura se toestemming nie,” vervat Minah. Haar wrewel het vervloei terwyl sy die praktiese probeer bykry. Dat Meyer so kwetsend gepraat het, het by haar verbygegaan. Sy loop na die spieël en bekyk haar beeld openlik, amper nuuskierig. Toutjies vergrysende hare het losgeraak uit die rol in haar nek. “Dalk moet ek my beter versorg,” besluit sy heeltemal buite verband met die gesprek.
Meyer bars uit van die lag. “Waar’s die brood?” wil hy weet. “Hou jy vir ons ook een?”
“Ja, jy kan die korsie kry voor jy ry.”
Meyer loop deur die breë gang. Ou huis, tipies dorps. Dik mure, ’n feit wat duidelik blyk as mens na die houtkosyne kyk. Hoë plafonne. Vrekkoud nou in die winter; g’n wonder hy bly verkoue nie. Kos hulle ’n fortuin aan vuurmaakgoed om te oorleef. En daar sal ook weer geverf moet word, dis voor sy pa se dood laas gedoen. Toe het hy dit saam met sy twee seuns gedoen.
Sedertdien is altwee Piete dood, pa en seun. Sy pa, daarvan is Meyer oortuig, het gesterf vanweë die mees algemene kwaal onder mans: getroude lewe. Met die jonger Piet was dit egter ’n ander storie. Meyer voel hoedat sy greep op die varsgebakte brood hard word. Hy kneus die kors soos hy die mes daarteen druk. Broer Piet, dink hy skamper, is dood in sy poging om meer uit die lewe te probeer druk as wat, menslik gesproke, daarin kon wees.
Piet het verongeluk, skaars ’n halwe kilometer van sy huis af, in die omringende veld waar die eerste dorpshuise begin. Hy het te vinnig gery, te veel ingehad … en hy was nie alleen in die motor nie. ’n Ander vroumens, die een wat nou in die apteek in die hoofstraat werk, was by hom. Dit was Laura se verdiende loon, roep die een helfte van Meyer se gemoed sedertdien uit. Maar die ander helfte voel bar en doods, ’n wintervlakte.
Minah kom ook die kombuis binne. Haar spieëlbeeld het haar kortstondig opgeskerp vir haar eie voorkoms. Sy is besig om los hare terug te druk, maar dis ook sover as wat dit kom. Sy draai die tweede brood in ’n doek toe. Die doek self ruik na ou brood, wat bewys dat dit lank laas gewas is. Hy hoop Mie het haar hande gewas voordat sy geknie het. Broodbak val onder haar min huishoudelike deugde. Sy het skynbaar een aktiwiteit uitgekies waarin ’n mitiese deugsaamheid vir haar opgesluit lê, en die beoefen sy. Dit moet dan seker vergoed vir baie ander tekortkominge. Die kombuis is nie netjies nie, maar het tog ’n soort ordelose geselligheid. Geruite, platgesitte stoelkussings op die wakis, die bekende houtkas vol stronke langs die swart stoof. Minah het ’n elektriese stoof, maar dis ’n wit olifant. Sy ontsien die moeite om dit te leer ken.
“Sê vir Laura ek stuur dit,” beveel Minah.
“Dit spreek tog vanself.”
“Ja, maar sê dit nietemin. Jy is kapabel en smyt dit sonder ’n woord by haar deur in. Dis tog darem iets om te sê,” besluit Minah prakties. Wanneer sy prakties probeer wees, is dit net so kragteloos as wanneer sy vies probeer wees.
Sy loop saam met hom tot by die voordeur. Dis vreemd. Sy is nie die saamstapsoort nie. Een van die redes, seker, waarom sy so min vriendinne het. Sy lyk altyd haastig dat ’n besoek moet eindig, lyk grondig in die knyp met los geselsies en aanvaarde standpuntjies. Daarom kom sy so hopeloos oor die weg met haar skoonseun Freek, wat allerweë geag word vanweë die uitsonderlike en breedsprakige wysheid wat hy voorgee.
Meyer het al gewens Freek moet op ’n manier net stilweg verdwyn. Maar, dis waar, dan bly ’n mens sit met Susara en die twee kinders, en dis nog erger. Die ergste ding wat Freek ooit kon oorkom, was om ’n belangrike persoon hier op Sederburg te word. Hy het ’n status wat hy moet handhaaf, ’n beeld waaraan hy steeds moet dink, en persoonlik vind Meyer dit ’n ondraaglike toedrag van sake. Hy kan in sekere dinge dalk na sy oorlede pa aard, maar in ander is hy deur en deur Minah se kind.
Soos sy, verag hy enige vorm van gekunsteldheid, van bestudeerdheid. Terwyl Meyer die hoë stoeptrappe afklim op pad na die garage, ontwikkel hy ’n splinternuwe vrees: sê nou Freek besluit om saam rugby toe te gaan vanmiddag? Sederburg teen ’n besoekende studentespan … Freek sal hom mos daaroor moet kan uitspreek, Maandag in die skool se personeelkamer. Gelukkig, daar is darem nog sowat ’n halfuur speling.
Om Freek en Susara se huis te bereik, moet Meyer dwarsdeur die middedorp ry. Freek het, heel gepas, in die nuwe uitsoekbuurt laat bou; ’n pralerige huis, sonder smaak ingerig. Op skuld, natuurlik. Maar dis seker ook nie die ergste nie. Die meeste mense steun maar op boulenings. Een probleem wat ek darem nie het nie, besluit Meyer lakonies. Sal seker maar lewenslank by Mie bly. Hy voel nie lus om te trou, nie na wat tussen hom en Laura gebeur het nie. Nog een so ’n knou, en dis klaar met ’n ou. ’n Mens, selfs ’n mansmens, wat dikwels as ’n beestelike spesie bestempel word, kan nie maar net aanhou met seerkry sonder om onder te gaan nie.
Goed en wel, hy het soos die digterlike doringboompie weer regop gekom, maar ook die litteken sal bly. Hy het vir hom ’n aanvaarbare substituut geskep vir die lewe wat hy aanvanklik beoog en begeer het: ’n lewe van liefde saam met Laura, die eerste en enigste liefde in sy lewe. ’n Liefde wat in sy gesig teruggegooi is. Toe Piet destyds vir Laura afgevry het (dit was vrywel nie die ergste nie, maar dat sy dit toegelaat het!) was hy teen die grond geslaan. Die jonger Piet, losbol … kan ’n vrou ooit so blind wees?
Ure, dae, maande van vertwyfeling. Die dood kon nie erger wees nie. As Laura, of hy self, liewer dood was, het hy inderdaad dikwels in daardie tyd gedink. Ag, hy was ’n wrak. Het nagte deur wakker gelê, hele nagte. Dis ’n ontsettende ondervinding om ’n hele nag wakker te lê. Dit was asof selfs Mie hom vermy het, asof sy bang was om by sulke dieptes betrokke te raak. Sy was nooit een vir aansprake nie. Daarvoor het sy kleinsielige pa beter geaard, het hy bitter besluit.
Uiteindelik het hy vir hom ’n veilige paadjie uitgetrap; sonder opwinding, weliswaar, maar ook sonder blootstelling. Hy bly by Mie in die huis, doen in die week sy rekenmeesterswerk, dra geldelik by tot wat Mie die “saak” noem, die sukkelende stoffeerwinkel wat hy en Piet destyds gesamentlik met hulle spaargeld begin het.
Verder tree hy op as ’n soort voog vir Freek en Susara se kinders, aangesien hulle eie ouers te besig is om opgang te maak. Mens kan nie verwag dat hulle nog ore moet hê vir hulle kinders se behoeftes nie.
Iewers in Meyer se gewete krap dit omdat hy geen aandag aan Laura se driejarige seuntjie bestee nie. Hy het in die verlede reeds ’n keer of wat probeer om die kind aan te raak, vriendelik aan te spreek. Maar dis ’n eienaardige kind, skraal, beeldskoon, swyend, broeiend. Hy draai sy gesig weg wanneer Meyer met hom praat. Mens kry by hom die eienaardige gevoel dat hy geen kind is nie, maar ’n stokou wyse. Miskien het hy veel van Laura, miskien aard hy na sy ouma Mie. Van Piet het hy in voorkoms egter niks, waaroor Meyer ’n soort dwingende leedvermaak voel asof dit Piet nou nog sou kon deer dat sy kind by Laura nie na hom lyk nie.
Die kleinerige huis wat deur Laura bewoon word, is net langs die stoffeerwinkel. Die winkel lyk van buite ordentlik genoeg, soos die meeste sakegeboue op Sederburg. Meyer haat dit egter om die plek van binne te sien, en hy wonder hoe Laura dit so kan aanhang. Sy is eintlik iemand vir skoonheid, mooi klere. Hy hoor dat sy meegewerk het aan ’n klerevertoning in die hoteltuin onlangs. ’n Mannekyn, bid jou aan, sy ontpop nou as ’n mannekyn. Maar haar lewe slyt sy in die muwwe kantoortjie tussen monsters van materiaal en geraamtemeubels met uitstaande vere soos doodsbeendere. Hy hou nie daarvan nie. Hy hou van sy werk tussen ordelike syfers. Kolomme en tabelle. Kontroleerbaar. Hy wil nie ou bekleedsels, waarop babatjies met suur en slap tieners met koeldrank gemors het, vervang nie.
Dat Laura dit nog doen, is vir hom tekenend van ’n soort hardkoppigheid, ’n weiering om te erken dat sy ’n gemors van alles help maak het. Sy wil bewys dat die ou weë nog gangbaar, bewandelbaar is. Sy wil die oë sluit vir die blinde doodloopstraat waarin sy haar en andere laat beland het. Of wil sy nie? Hy weet nie. Weet nie wat sy dink, hoe sy leef nie. Wat hy van haar geweet het, het hy met inspanning vergeet en hy probeer nooit meer daaraan dink nie. Soms, egter, oorval dit hom onverwags en pynlik.
Dis ’n yl wintersmiddag, met ’n snydende windjie deur die blaarlose, straatkantse bome. Daar is ’n skril noot in die gefluit van die wind deur die motor se venster skreef. Hy moet na die ding laat kyk, die ruit draai nie heel tot bo op nie. Verdeksels, dink Meyer in blinde opstand onderwyl hy buite Laura se hekkie uitklim en die motor se deur agter hom toeklap. Mie met haar brood … Nou moet Laura nog voel dat sy gepamperlang word, dat haar dade van die verlede goedgekeur word. Dis duidelik dat Mie by Laura beter aanklank vind as by haar eie dogter. Geen wonder Susara is so giftig op Laura nie. Maar Susara, aan die ander kant, is sekerlik geen maklike dogter om te hê nie.
Ek self sou haar nie graag as dogter wou hê nie, dink Meyer sugtend. Liewer as suster, dan kan hy hom beter van haar distansieer. Hy troetel die gedagte aan Susara as teenwig vir die swarigheid om aan Laura se deur te moet klop. ’n Swarigheid, ja … so maak hy hom wys. Maar die dowwe klopping van sy hart kan hy nie beheer nie. Dalk is sy nie tuis nie, dink hy met ’n snydende voorgevoel van teleurstelling. Teleurstelling, omdat hy haar nie sal sien nie, omdat hy dan tevergeefs die moeite sou gedoen het, en omdat die heerlike warm brood die doel sal mis. Sal dit dan maar vir Susara vat.
Maar Laura is tuis.
Hy weet dit half intuïtief toe hy op die klein, rooi, versorgde voorstoepie staan. Laura het lank gekla oor die eise van ’n rooi stoep, en toe by Mie die raad gekry om dit met stoepverf te verf, dit hou darem baie langer as waks. By Mie kan jy altyd wenke kry wat arbeid bespaar.
Dis vir Meyer nie ongewoon om aan Laura se voordeur te klop nie. Op ’n Saterdagmiddag egter wel. Wanneer hy kom, is dit in die week, en streng oor werk, en dan handel hy dit staan-staan in die deur af. Dis sy self wat voordeur toe kom en nie die wyse kind wat so graag die deur oopmaak en die telefoon beantwoord nie. Dalk slaap hy. Hy is maar nog net ’n groot baba … drie jaar oud, dink Meyer vlugtig met ’n soort erbarming wat hy nie voorheen vir die afwesige kind gevoel het nie.
Laura Bronkhorst het ’n seegroen serp om haar hare. Dit span styf oor haar voorkop, sodat hy vir ’n oomblik nie kan onthou hoe die hare onder die serp moet lyk nie. Dan onthou hy wel. Bruinerig. Ligter as donker en donkerder as blond. Maar wat maak dit saak? In vier jaar se tyd het hy daardie hare nie aangeraak met sy vingers nie, nog met sy lippe, hoeseer hy ook daarna gehunker het.
Dit maak hom hard in sy binneste om te sien dat haar oë, haar grootste bate, lig gegrimeer is selfs op ’n Satermiddag wanneer sy alleen is. Of is sy nie alleen nie?
Sy nooi hom nie binne nie. Maar waarom sou sy? As hy in vier jaar nooit blyke gegee het dat hy oor haar drumpel wil kom nie? Die huis waarin sy en Piet gewoon het, is klein en beknop en sonder atmosfeer. Te jonk om antiek te wees en te oud om nuut te wees. Hy haat die half onbekende huis, terwyl hy tog die gevoel het dat hy elke sentimeter daarvan saam met Piet en Laura beleef het, tot satwordens toe.
“Mie stuur hierdie,” sê hy, en oorhandig die brood in die vetterige doek. Hoe wys is Mie, wat hom hierdie woorde saamgegee het, anders het hy niks te sê gehad nie.
Laura kyk na hom. “Dankie,” sê sy. Daar is geen gevaar dat hulle vingerpunte aan mekaar sal raak terwyl die klein oorhandiging plaasvind nie. Laura se blik is dralend, barsvol soos vrugte na die reën. Hy kry die indruk dat daar iets dringends is wat sy aan hom wil sê, maar hy moedig haar nie aan nie. Tog bly hy bewus van die sprekende blik. Dat sy lief is vir ligte ooggrimering, maar nie vir lipstif nie, sorg vir ’n soort konsentrasieveld rondom haar oë. En tog hou sy jou uit, beskut sy haar innerlike gevoelens soos wanneer die lig van buite op ’n prentglas sou val en dit hinderlik laat blink.
Dis asof sy agter haar oë wegkruip. Meyer kan die gevoel nie juis beskryf nie. Hy kan nie onthou of sy hom vroeëer by haar oë laat inkyk het nie. Hoe kan hy onthou, as hy elke herinnering eiehandig nek omgedraai het?
“Dus het Mie onthou,” sê Laura. Haar stem is laag en sag, maar vol.
“Wat onthou?” vra Meyer voor hy dit kan keer. Hy sou hom nie graag van ’n antwoord afhanklik wou stel nie, maar dis eenmaal uit. Hy kan die woorde nie terugtrek nie, ewe min as distelsade in die wind.
“Toe maar. As dit nie ter sprake gekom het nie, maak dit nie saak nie,” sê sy duister. Dan: “Ek moet met jou oor die winkel praat, Meyer. Wanneer sal jy beskikbaar wees?”
“Ek sal nie wees nie,” antwoord hy koud. “As daar probleme is, moet die plek verkoop word. Ek stel nie daarin belang nie. Dit sluk net geld in. Dis ’n rommelwerf.”
Hy kry die indruk dat Laura ’n aks van ’n tree vorentoe neig, maar sy bly ten slotte op dieselfde plek staan. “Dis nie so nie,” antwoord sy, maar sonder emosie. Dis asof sy wil demonstreer dat sy ewe min behae as hy in hierdie gedwonge ontmoeting het. “Dis skeppingswerk. Ek vind dit terapeuties.”
Hy grinnik skeef. “Herskeppingswerk, bedoel jy. Die oorspronklike ontwerpers van die stukke rommel wat hier inkom, het dit anders bedoel. Ander stof, ander kleur, ander nuanse. Miskien was dit ’n leliker skakering en ’n goedkoper stof as wat jy nou daaroor plaas, maar dit was so bedoel. Jy kan ’n skepping verwerp, maar nie verander of verbeter namens die skepper nie.”
Na die onbeplande tirade kyk sy hom woordeloos aan.
Dit maak die woordevloed verder in hom los. Hy het nie geglo dat hy nog soveel woorde jeens Laura oor kon hê nie. En hy het eweneens ook nie geglo dat dit so, presies so bitter sal kan wees nie. “Of wil jy met hierdie skeppingswerk net maar bewys dat ’n mens dinge wat in hierdie lewe verknoei is, kan regdokter? Eenmaal bemors, maar met ’n nuwe stukkie lap staan dit weer in die voorkamer?”
Laura se lippe gaan effens oop. Hy sien elke natuurlike groefie daarvan, en hy wonder watter vernietigende wederwoord daaruit sal voortkom. Toe sy eindelik praat, is dit egter met ’n toonlose gevoelloosheid wat op hom inwerk soos ’n speld op ’n ballon. Hy verwens hom omdat hy aan ’n drang toegegee en die sinnelose woordevloed voor haar uitgestort het. Sy kan dink dat hy nog omgee, dat enigiets aangaande haar hom nog kan raak. Dat dit wel so is, is sy diepste geheim.
“Sê vir Mie dankie,” sê Laura, en sy begin om die deur stadig toe te maak.
Meyer swaai op sy hakke om. “Tot siens,” onthou hy mompelend. Dat hy waaragtig aan Laura weer eens ’n kans gegee het om hom te verwerp. Eers toe hy weer in die motor sit, probeer hy dink wat dit kan wees wat Mie onthou het. Hy frons, kyk na die datum op sy polshorlosie. Dan voel hy sy asem verswaar: 25 Julie.
Piet is vandag presies ’n jaar dood.
Mie het onthou, maar dit nie aan hom geopenbaar nie. Minah Bronkhorst, dink hy ontsteld. Sy het goed geweet dat hy nie aan hierdie klein “In memoriam” deel sou wou hê nie, tensy sy met ’n slenter te werk gaan. ’n Mislukte slenter. ’n Tyd lank bly Meyer net so sit, met sy hande stil op die stuurwiel. Die treiterende wind huil opnuut langs sy oor, sodat hy die venster vererg heeltemal probeer opdraai. Darem êrens iets wat oor Piet treur: die wind.
Vanwaar tog die gevoel van eindelose onbehae in sy binneste? Hy het gedink dat hy lankal by kwesbaarheid verby is. Eers toe hy onthou dat Laura hom deur die venster kan dophou, skakel Meyer die motor haastig aan. Toe hy wegtrek, voel dit asof iets in hom stadig skeur. So het dit voorheen gevoel, daardie afgryslike tyd toe Laura sy broer Piet bo hom verkies het.
Vanmiddag was daar ’n geleentheid om met haar te praat, dink hy met die asem warm op sy bolip. ’n Geleentheid om haar weer aan te raak, die soetheid van haar warmte te voel, en hy het dit verby laat gaan.