Читать книгу Waar is die kleure heen? - Louisa du Toit - Страница 5

3

Оглавление

In die loop van die Maandagoggend sit die sekretaresse ’n koppie tee langs Meyer op sy lessenaar neer.

“Dankie, Madge.”

Sy bly nog staan.

“En toe? Wil jy ’n verhoging vra? Of al weer kraamverlof? Dit lyk mos darem nie so nie.” Hy laat sy blik tergend oor haar dwaal.

“Nee, ag, ek het maar net gedink …” Sy haal laggend die skouers op. “Almal wonder, en ek is die enigste een wat die moed het om te vra … hoe voel u nou eintlik oor … wel, oor u vennoot en u skoonsuster?”

Onbegrypend staar Meyer die jong vrou aan. “Wat bedoel jy, hoe voel ek oor Henk en …” Laura? Hy het immers net een skoonsuster.

“Ja, sien, noudat meneer Pienaar met haar uitgaan …”

Sy voorkop voel meteens koel en ver van hom af, asof sy verstand in hierdie oomblikke gedistansieer geraak het van die res van hom.

“Ek het nie geweet nie,” hoor hy sy eie stem formeel antwoord. “Wat seker behoort te bewys hoe min ek omgee.”

Sy ganse houding gee te kenne dat die onderhoud – want as ’n gesprek voel hy dit kwalik aan, verby is. Maar Madge Roberts bly nog staan. “Die hele Sederburg wonder natuurlik of en wanneer en met wie sy weer gaan trou. Dis mos al ’n jaar dat Piet dood is.”

Die feit dat sy die hele Sederburg met sy kleinlike nuuskierigheid verteenwoordig, maak hom kriewelrig. Sy is ’n redelike sekretaresse en ’n vriendelike mens, maar haar weetywer is gevaarlik. Dit het hy lankal agtergekom. Die keer toe hierdie einste Henk Pienaar moeilikheid met sy vrou begin kry het en hulle uitmekaar is, was sy die eerste een wat geweet het.

“Waarom gaan julle haar nie self vra nie?”

“Wel, gissings is daar genoeg.”

“Ek weet,” sê hy en kyk haar reguit in die oë. “Almal het gedink dat ek na Piet se dood sou teruggaan na Laura toe. Het dit nooit by die romantiese Sederburg opgekom dat ’n saak afgesluit kan wees, soos boeke aan die einde van ’n boekjaar nie?”

“Soms bly daar darem ’n saldo’tjie oor,” waag sy dit guitig.

“En soms niks,” antwoord hy bruusk. Sy hoef nie te weet dat sy eie hart dwarsweg teen hierdie uitspraak roep nie.

“Lyk my nie u is lus vir gesels vanmôre nie,” besluit sy half in erns, half in luim. “En terwyl u nou self netnou die gesprek in die rigting gestuur het: my man wil nie hê ek moet meer werk nie. Hy het verhoging gekry, en hy wil my tuis by die kinders hê. Wat dink u, meneer Bronkhorst?”

Hy kyk haar aan. “Wat ek dink, maak nie saak nie. Jy lewer goeie werk vir my en Henk, maar as jou gesin jou nodig het, behoort dit voorkeur te kry. Wat sê Henk?”

Sy kollega is uitstedig vir ’n paar dae. Hy wonder of Henk geweet het.

“Ek het nog nie met meneer Pienaar daaroor gepraat nie,” erken sy.

“Wat dink jy, wie sal ons in jou plek kan kry? Jy weet Sederburg loop nie oor van jou soort nie.” Hy kan die pluimpie bekostig want diep, diep in sy hart voel hy ’n tikkie verligting. Dis waar, dit sal ongemaklik wees om ’n nuwe een te leer, maar met Madge Roberts hier, voel hy altyd blootgestel. Sy weet te veel, vermoed te veel, praat los. Hy sou ’n stil, formele tikster verkies.

“Wat van Fiona Collins, Meneer? Sy wil aansoek doen.”

Dis op die punt van sy tong om “Nee!” te roep. Maar omdat Madge hom so stip dophou, beheer hy sy stem en sy gesigspiere tot elke prys.

“Dit staan enigeen vry om aansoek te doen.”

“Maar sal u nie bevooroordeeld wees teenoor haar nie?”

“As ek is, sal ek ’n swak baas wees.”

“Meneer antwoord nie my vraag nie.”

“Kyk, Madge, wat verwag jy moet ek sê? Ek kan sekerlik nie uit my vel spring van opwinding nie. Die feit bly nog staan dat daardie meisie saam met my getroude broer in die motor was die nag toe hy verongeluk het.”

“Sy is ook nie meer dieselfde mens nie. Sy het baie verander. U weet sy was lank in die hospitaal na die ongeluk. Sy het haar werk verloor. Sy werk nou wel weer by die apteek, maar sy hou nie van toonbankwerk nie. Sy is goed met tik en boekhou. Hoe lank moet sy dan boet? Die samelewing vergewe ook nie.”

“En van wanneer af is jy ’n kampvegter vir die verdruktes?” vra Meyer, nie sonder sarkasme nie.

“Ek kan maar net nie onreg verdra nie. Ek weet hulle noem my ’n skinderbek, maar ek kan nie help dat ek altyd wil weet wat in ’n saak aangaan nie. En as alles nie reg is nie, grief dit my.”

“Wanneer wou jy opgehou het?” vra Meyer, moeg vir die ontleding.

“So gou moontlik, meneer. Ek en Peet wil ook weer bou aan ’n gesin.”

“Ag, dit ook nog.” Dit was uit voor hy kon dink.

Die jong vrou lag sorgvry. “Hoe dan anders? Die lewe gaan mos aan.”

“Ek sal met Henk praat wanneer hy terugkom. Ons moet die betrekking dan maar adverteer in Die Sederburger.”

Hy voel verward toe hy weer alleen is en oor sy werk buig, Henk en Laura … Het hy dan oogklappe aan dat die hele Sederburg daarvan weet en net hy nie? Hoe lank al? Hoe ernstig? Hulle was albei voorheen getroude mense, hulle sal weet wat hulle wil hê.

En daardie meisie dalk hier in die kantoor: Fiona Collins, ’n Naam wat ingebrand is in sy geheue soos met die rooiwarm yster waarmee jy die merk op ’n kudde plaas.

Sy het verander, beweer Madge. Sy ly. Goed en wel, wat verwag sy? Elke mens ly in ’n meerdere of mindere mate; dis net dat party daarna gesoek het.

Die olieverwarmer versprei vanmôre nie genoeg warmte om Meyer aan die gang te kry nie. Sy verkoue is aaklig, en dis ’n miserabele, deurmekaar naweek wat agter hom lê. Die toestand van Josef Abrahams bly hom kwel, en dat hy nie geweet het nie …

Nou tref iets anders hom: dalk wou Laura Saterdagmiddag nie oor die siekte van Josef praat nie; sy het tog seker aangeneem dat hy reeds daarvan weet. Dalk wou sy oor haar toekomsplanne praat.

Henk Pienaar …

Meyer probeer hom so ’n situasie indink: Henk getroud met Laura. Stralend hier op kantoor; Laura wat soms inloer, ewe stralend. Die pyn pols deur hom … liewer gee hy dan self hiervandaan pad, na ’n onbekende eiland.

Meyer spring op. Voor die venster neem hy stelling in, koulik, sy hande diep in sy broeksakke gedruk. Strak hang die gordyne voor die lang, onaansienlike venster. Goedkoop, geblomde katoengordyne, deur Madge gekies om sindelik en doeltreffend te wees. Half lank. Deur Minah het hy geleer om half lang gordyne te verwerp. Dit moet of kort, of lank wees, sê sy. Die gordyne in hulle huis is almal lank. Stowwerige, swaar fluweelgordyne wat in hulle diep voue die verloop en fluisteringe van menselewens verborge hou. Hy besef nou dat hy deur Minah meer volledig leer verwerp het as wat hy sou wou toegee. Die hekel aan kleindoenery, die verwerping van nagemaakte dinge het hy van haar. As hy egter maar meer van haar aanvaarding gehad het. Sy kan so skynbaar moeiteloos bo-oor ’n vertroebeling leef.

As dit so is dat Henk en Laura van mekaar hou, moet hy in staat kan wees om dit te aanvaar. As dit so moet wees dat Fiona Collins hier kom werk, moet hy nie bevooroordeeld optree nie. Miskien moet mens jou eie hart tot op so ’n uiterste punt kan verloën. Maar hierdie voornemens bring nie sommer rus in sy ontstemde gemoed nie. Laat ek maar erken, dink hy terwyl hy sy hande tot vuiste in sy broek­sakke voel bal, dat ek nooit weer ’n heel mens was sedert die affêre met Piet en Laura nie.

Buite die venstervlak lê die hoofstraat van Sederburg. Hoe goed het hy die dorp leer ken, elke mens en elke gebou. Hy kyk na die vergeelde bankgebou daar oorkant, wat destyds die enigste flitsende neonlig gehad het. Ouers het saans gaan stap of ry om dit vir hulle kindertjies te wys. En daar, skuins anderkant een van die handvol verkeersligte, is die garage waarheen Piet se motor ingesleep was. Die Sederburgers het saamgedrom en gekyk … ’n rilling het deur die dorp getrek.

Daar is die juwelier waar hy en Laura die verloofring uitgesoek het, voordat Piet tussenbeide gekom en haar weggesteel het. En tot vandag toe wil hy wat Meyer Bronkhorst is, nog graag uitvind: wat doen ’n man met ’n tweedehandse verloofring? Is daar ’n geheime prosedure waarvan hy nie weet nie, ’n soort etiese ooreenkoms, waarvolgens jy so ’n ring onder die toonbank deur kan teruggee sodat dit gepoets en weer as nuut uitgestal kan word? Nee, dis tog nie moontlik nie. En om dit te verkoop – watter nooi sal ’n ander se weggooigoed wil aanvaar?

Weggooigoed; dit lê tuis in ’n laai. Hy en Mie het nie eers ’n brandkluis nie. Daar roer niks in sy gemoed as hy die stukkie vakmanskap teenkom terwyl hy soek na man­sjetknope of ’n dasspeld nie. Hy krap dit eenkant toe weg. Dis soos ’n koerant wat jy klaar gelees het en wat geen nuuswaarde meer vir jou besit nie. Hy het hom doelbewus aangeleer om so met daardie ring om te gaan. Laat dit lê. Laat dit vergete raak, saam met alles wat kosbaar is. Ha-ha-ha. Dalk kan hy sake doen met ou Henk.

Koop die ding, man, ek gee jou ’n groot afslag. Laura sal nie omgee nie, sy was gewoond om dit aan haar vinger te hê … soos uitgetrapte skoene, jy weet.

Beswaard drentel Meyer terug na sy lessenaar toe. Al voel hy vanmôre so lusteloos, tel hy tog sy een groot seë­ning: dat hy hou van sy werk, dat hy gelukkig is daarin. Syfers. Kontroleerbaar, anders as hierdie warnet van mens­­like gevoelens. Selfs al bereik finansiële boeke jou in die deurmekaarste toestand, kan jy orde daaruit skep. Jy samel al die nodige stukke in en selfs al skeel daar net ’n sent, kan jy deur die nag werk om dit te vind.

Vanoggend sal hy egter nie konstant kan werk as hy nie eers dit afgehandel het wat op sy gemoed druk nie. Tot dusver het hy daarteen geveg, maar nou vra hy vir Madge om Laura vir hom op die lyn te kry. Hy besluit om streng net oor een saak te praat; Madge sal buitendien die ore spits.

Dis Laura self wat antwoord. Hy visualiseer haar so duidelik, daar in die afskeepkantoortjie, eintlik net ’n soort afskorting, omring deur materiaalmonsters en meubelstukke. Soms is dit Josef of een van die handlangers wat die telefoon beantwoord, wanneer sy met klante besig is.

“Laura? Meyer.”

“So hoor ek.”

“In verband met Josef. Dit spyt my dat ek Saterdag te haastig was om oor hom te gesels.”

“Ja?” Dis duidelik dat sy die ongepoetsheid van Saterdagmiddag nog nie vergeet het nie; hy kan haar seker ook nie verkwalik nie. En hoe kan sy hom glo dat hy te besig was … terwyl hy sy ferweelbaadjie aangehad het, die een wat sy destyds saam met hom uitgesoek het en waarvan sy gesê het: “As jy dit aantrek, mag jy nooit kwaai of haastig of besig wees nie, hoor.”

“As dit vir jou lyk asof hy uitsak, moet hy ophou werk. Ek sal nog steeds sorg vir sy salaris, as die besigheid dit nie kan bybring nie. Tot tyd en wyl daar ander reëlings getref kan word, pensioen byvoorbeeld. En sy medies.” Hy praat vaag. Die klein besigheid is nie sterk genoeg om groot mediese uitgawes te dra nie, daar sal na ’n staatshopsitaal gekyk moet word.

“Ek sal die woord pensioen liewer nie voor hom noem nie.”

“Ag, noem dit dan wat jy wil. Maar hou hom dop. Sy vrou sê hy is vergeterig. Maak tog saans seker dat hy gesluit het.”

“Dis gaaf dat jy nou daaraan begin dink het. Wat my betref, dis dinge waarmee ek al leer saamleef het.”

Hy besluit om hom nie te vererg nie. Hy probeer rasioneel oor haar suurderigheid dink. Sy het seker rede … dat hy so ongeërg was teenoor die probleme van die winkel. En om sy humeur te verloor, sal weer eens dalk net aan haar demonstreer dat hy nog kan omgee. Wat nie waar sal wees nie.

“Dan is dit in orde, Laura. Dankie. Tot siens.” Hy gee haar nog ’n oomblik geleentheid om verder te reageer, leiding in die gesprek te neem. Maar sy volg dit nie op nie, sê ook bloot net tot siens. Sy hand bly nog om die gehoorbuis geklem. En nou voel hy nog steeds nie ligter nie, besluit Meyer.

Dis min of meer ook die trant van Laura se gedagtes toe sy van die telefoon wegdraai. Sy skuif dwars in haar lessenaarstoel en kyk deur die venster na die peperboom langs die ingang. ’n Dankbare koeltetjie vir menigeen wat die winkel besoek. Die geur van die boom, veral as dit deur die son gestowe word, sal haar altyd herinner aan die eerste kennismaking met die Bronkhorste. Toe sy nog Meyer se beminde was.

“En dis nou my en my broer Piet se goue eier,” het hy haar bekend gestel aan die onderneming wat hulle kortweg, en ietwat ten onregte, die “Winkel” noem.

Sy het al danig baie van die “Piet” gehoor, en was bra nuuskierig om hom te ontmoet. Met die suster, Susara, ma van twee tienderjarige kinders, het sy reeds kennis gemaak, en was nie baie geïmponeer nie. ’n Goedkoperige soort, so anders as die ma, wat deur die kinders snaaksweg “Mie” genoem word. Sy het gewonder hoe die oorlede pa was, en of die suster dalk meer na hom aard.

Piet was egter vir ’n paar dae na Johannesburg om persoonlik materiaalaankope te doen. Hy dra die winkel nogal sterk op die hart, het Meyer haar verseker.

Dit was ’n vreemde besoek, daardie eerste besoek aan Sederburg vanaf die universiteit waar sy en Meyer studente was. Dit het ’n eienaardige kwaliteit gehad. Alles was kleiner as waaraan sy as stadskind gewoond was; behalwe die huise en persele, natuurlik. Groot watererwe, soos dit genoem word. En tog was daar in die dorp onderliggende lewensruimte. Sy moes sien en glo: mense wat in die stad sou uitsak vanweë hulle rariteit, word hier aanvaar met hulle rariteite en al. Oom A kan ’n korrelkop wees, en hulle beskinder hom groen en geel, maar almal spring nogtans op aandag as oom A die winkel binnekom. Tant B is ’n skinderbek en almal weet dit, maar niemand vermy haar daarom nie, want sy bly ten slotte ’n lekker geselser.

En, o, die buitewêreldse atmosfeer in die huis van Mie Bronkhorst. Sy is ’n soort anachronisme, sy hoort nie hier op Sederburg nie. Sy is nie ’n kleinburgerlike, selfs nie burgerlike tipe mens nie; eerder is daar ’n soort adel aan haar. Nie gepoleerd nie. Sy sou ’n slonsige, traak-my-nie-agtige barones kon uitmaak wat asketies in ’n kasteel leef. Stof vir ’n Gotiese roman. ’n Mens so verstrooid onafhanklik as wat jy jou kan indink, maar ’n mens met ruimte in haar hart vir andere. Wat ’n teenspoed dat sy vir Minah Bronkhorst nie meer vryelik aan huis kan besoek nie. Wanneer sy gaan, probeer sy dit maar tydens werkure reël, sodat Meyer nie tuis moet wees nie.

Meyer … sy druk haar hande teen haar brandende wange vas.

Waarom presies het hy pas gebel? Net om te sê sy moet saans seker maak dat dit toegesluit is? Of wou hy dit by haar tuisbring dat hy ook goed op hoogte is met Josef se toestand? Dit laat haar ongemerk glimlag: sy weet reeds alles … dat Meyer Saterdagaand by Josef en Sylvia aan huis was. Hy het beslis in die loop van daardie dag eers uitgevind wat gaande is. Waarom anders sal hy op ’n Saterdagaand daar besoek gaan aflê?

Sy skrik op toe die handlanger haar kom roep. “Mevrou, Josef het ’n verskriklike kopseer.”

“Vadertog,” skrik sy. Sy haas haar na die werkruimte. By die groot naaimasjien sit Josef met sy kop in sy hande.

“Jy moet huis toe, Josef. Jy moet ophou om te wil werk. Voorlopig, in elk geval.”

Hy is humeurig, soos dikwels die afgelope tyd. “Nou vir wat moes jy gaan staan en stories aandra?” trap hy die handlanger, ’n broerskind van hom, uit.

In die klein kantoor gee Laura pynpille aan Josef en probeer verstandig met hom gesels. “Dis nie dat jy oorbodig sal word nie, Josef. Die winkel sal jou steeds nodig hê. Maar is dit nie verstandig dat jy liewer iemand vir die werk help oplei nie? Dan hoef jy nie self so hard te werk nie. Jy kan net bystaan en raadgee. Waarom lei jy nie vir Petrus op nie?”

“Dan is ek binne ’n week dood,” kreun Josef. “Hy het mos hoeka pap in sy hande.”

Laura sug. “Nou hoe dan? Jy weet my swaer stel nie belang in die saak nie. Dis nie winsgewend genoeg nie. En dis nie my of jou skuld nie, Josef. Ons kan wonderlik uitbrei. Maar dan moet ons vir ander ook staanplek gun. Ons kan geheel en al ’n meubelwinkel van hierdie plek maak. Ons kan matte verkoop en lê. Ons kan ’n oudhede-afdeling hê. Maar nie ek en jy alleen nie. Ons wins verlede maand was hopeloos te min. Ek moet meneer Meyer gelyk gee: dit regverdig nie die moeite om die plek oop te hou nie. Dit was ’n ander saak toe meneer Piet nog hier was. Op ’n manier het hy gehou van die werk, soos ek en jy daarvan hou.”

Josef sug nou ook. As hy sy kop in sy hande druk, sien Laura dat die hare met die fynkrul grys begin word. Hartseer stoot in haar op. Sy voel nog baie week en kwesbaar na Saterdag, toe sy Piet se sterfdatum herdenk het.

“Goed, juffrou. Ek sal iemand leer. Maar asseblief net nie vir Petrus nie. Kry vir my ’n sterk man wat weet hoe om die lap oor die frame te trek, ’n Man met ’n geestelike oog, soos ek, wat met toe oë kan gaan sit en die stoel vooruit kan sien soos wat hy moet lyk wanneer hy klaar is.”

“Ek sal iemand kry,” belowe Laura blindweg. Maar wie tog? Sy kan adverteer en iemand kry wat vakleerlingskap vir hierdie soort werk ondergaan het, maar so iemand wil gewoonlik nie op Sederburg of ’n dergelike plek sit nie.

“Alle goeie dinge kom langsamerhand,” vervolg sy, maar haar woorde klink in haar eie ore soos ’n vloekskoot tussen ’n swerm wildeganse in. Hoe lank wag sy self al op die terugkeer van die goeie dinge?

Klein Pieter word wakker waar hy in die hoek op sy matrassie gelê en slaap het. Hy is ’n kind wat saans tot laat wakker is, en soggens is hy dan vroeg pootuit. Dis iets wat Minah nie kan begryp nie … ’n kind wat tot laat in die huis rondloop. “Myne moes altyd vroeg bed toe,” sê sy dan, sodat Laura haar laglus moet onderdruk. Sal sy ooit vergeet met hoeveel vuur Meyer en Piet haar eenkeer vertel het van hulle vroeg-bed-toe ganery. “Ek het eers gedink dis ’n sin vir roetine, nou besef ek dit was ’n manier om ons onder haar voete uit te kry,” het Meyer vertel.

“Ja,” het Piet laggend aangevul, “soos die baddery. Ek het gedink sy het ’n reinheidsmanie, want as sy mens sien, het sy eerste gevra: ‘Het julle al gaan bad?’ Ook ’n manier om ons onder haar voete uit te kry, sien.”

Die geleenthede wat die twee broers so saam met haar geskerts het, was bitter, bitter weinig. Alte gou was die breuk daar, die vertroebeling, verbittering, wat tot op hede voortduur. As sy tog een keer uit haar hart met Meyer kon praat, hom vra om die strydbyl te begrawe. Maar so iets sal seker nooit gebeur nie. Hy het haar die afgelope jare nooit deur woord of daad aangemoedig om openlik met hom te praat nie. Sy kry die indruk dat hy haar tot elke prys sou wou vermy, dat dit vir hom ’n kruis is om te weet sy woon nog op dieselfde dorp, en dat familiebande hulle teen wil en dank bind.

“Het ek gou geslaap?” vra Pietertjie, wat skynbaar steeds bang is dat hy iets kan misloop deur die ongewenste, onvermydelike slaapproses. Dit benou soms vir Laura. Die kind lyk na haar. Maar daar is in sy rustelose geaardheid tog veel van Piet. Hoe verknog sy ook aan die driejarige is, net so ver voel sy haar soms van hom verwyder in belewenis. Dis asof hulle ligjare uit mekaar lewe, selfs wanneer hy sy armpies om haar nek sit en haar druk.

Hierdie winkel bied geen uitdagings aan hom nie. Hy is nie die gewone soort seuntjie wat hou van donker hoekies en ’n deurmekaar geweste nie. Hy stel belang in stralers, supersoniese dinge. Sy wou hom al in die kleuterskool sit, maar kry die eienaardige idee dat dit vir hom ’n belediging sal wees om tussen kunsfeetjies en -kabouters te beweeg, met klei te speel en prentjies in te kleur.

“Jy het baie gou geslaap,” verseker Laura hom, en kry dan ’n dankbare ingewing: dis mos nog skoolvakansie, dalk kan sy vir John Walters vra om Pieter vir die dag te kom haal. Sy bel dadelik, tog dankbaar vir die familiebande met Freek en Susara. Susara is wel ’n nydige soort mens, maar sy hou van die kleintjie en Freek, veral, verneem gereeld hoe dit gaan en of hy met iets kan help. Dis meer as wat sy van Meyer kan sê. Sy kry die indruk dat hy, indien hy haar in die straat sien lê, bo-oor haar sal tree en die moeite dan nog ’n jammerte sal vind.

Noudat Pietertjie saam met John weg is, draal die Maandag onmeetlik langsaam verby. Laura verkies haar lewe deur nog ’n vinnige pas. Ledigheid akkordeer nie met haar nie. Sy verbaas haar oor Meyer en Minah, wat so swyg­saam kan sit en staar. So was Piet ook nie. Sy en Piet was in daardie opsig eenders; te eenders. Beweeglik. Dis net dat hulle beweeglikheid in verskillende kanale gelei is: hare in werksaamheid, syne in plesierjag, uithuisigheid, geldsug. Soos sy later moes uitvind. Hulle huwelik het op ’n manier standgehou, maar daar was nooit werklik eenheid nie. Soos altyd, hok sy die knellende gedagtes af. Sy wil nie ontaard in ’n tobber nie. Tobberige mense is ’n kruis vir die om hulle heen. Hulle is dinkers, nie denkers nie.

’n Paar minute voor toemaaktyd ry sy om vir Pieter by die Walterse te gaan haal. Eers nadat sy hom gebad en ete voorberei het, onthou sy om te gaan kyk of die winkel toegesluit is. Inbraak sal ’n ramp wees. Die materiaal is duur, en onvervangbare antieke stukke staan rond om oorgetrek te word.

Sy maak seker dat die kind tevrede met sy bordjie kos voor die televisie sit en verseker hom dat sy binnekort terug sal wees. Yl, kil skemer het oor Sederburg neergesak. Die lewe het binnenshuis gekeer, want buite sny daar ’n ysige windjie deur die verlate strate. Iewers op die berge moes kapok geval het. Vanaand oor die weervoorspelling sal mens wel daarvan hoor.

Laura ys toe sy vind dat die winkel inderdaad nie gesluit is nie. Josef se toestand is erger as wat ’n mens besef. Stellig verduur hy genoeg pyn om hom gedagteloos te maak, al wil hy dit nie erken nie. Oomblikke lank staan sy in die verlate, deurmekaar lokaal. As sy haar sin kan kry, word die binnemure uitgebreek sodat die groot pakkamers deel van die lokaal kan uitmaak. Daar kan dan ’n aparte verkoops- en werksafdeling ingerig word, afgeskort van mekaar. Haar gedagtes neem die vrye loop. Dis of sy beter kan dink en visualiseer noudat sy alleen is. Soos Josef sê, kan sy met haar geestesoog sodanige verbeteringe vooruitsien.

Sy steek haar hand uit na die skakelaar teen die muur. In die enkele sekondes voordat die rommelrige lokaal deur lig oorspoel sal word, verstrak sy meteens. Sy voel staalharde spanning deur elke vesel van haar lyf skiet. Sy het … sy het ’n geluid gehoor, so effens dat dit meer intuïtief as sintuiglik was. Iets soos die kraak van ’n rusbankveer. Ten spyte van die spanning van spier, is daar in haar ingewande ’n onbeheerbare trilling.

Sy het nog altyd gewonder hoe sy in ’n dergelike situasie sal optree. Nou weet sy dat sy onvermydelik in so ’n situasie is, en sy is panies bang dat die ander persoon haar warm, hortende asemhaling sal hoor. Want sy is doodseker dat daar iemand by haar in die winkel is. In die oomblik van skrik flits een gesig voor haar verby: Meyer. Sal hy omgee as sy iets oorkom? Sal hy weet hoe sy gevoel het … dat hy sterk in haar verskrikte gemoed geleef het?

Sal hy dan opnuut, en inniger, treur oor wat daar tussen hulle verlore gegaan het, stukkend geval het, vyf jaar gelede?

Waar is die kleure heen?

Подняться наверх