Читать книгу Waar is die kleure heen? - Louisa du Toit - Страница 4

2

Оглавление

Gee my krag, dink Meyer sugtend toe hy voor die huis van Freek en Susara Walters stilhou. Hy hoop maar Freek is aan ’t dut … of dut hy ooit? Hy lê seker net op sy rug met die hande oor sy groeiende magie gevou om wyshede uit te dink waarmee hy ander kan beïndruk en sy pad verder boontoe baan. En die Sederburgers laat hulle so maklik mislei.

Kwalik kom daar ’n nuwe komitee, of Freek Walters dien in die bestuur, indien nie as voorsitter nie, dan as “Vise” soos Susara alte graag sê. Eintlik sê sy “Viesie”.

Die huis is ontwerp deur Freek, en die tuin deur Susara. ’n Groteske houtbruggie lei na die voordeur. Soos alles waar Susara haar hand aan sit, selfs al het sy dit elders smaakvol aangebied gesien, kleef daar ’n atmosfeer van swak smaak aan die tuin. Foei tog, en sy liewe suster wil tog so graag in die hoogste kringe gereken word. Hy vind haar waar sy in die portaal, hande op die heupe, ’n afdruk staan en besigtig. ’n Nuwe toevoeging tot die Walters-versameling van onsmaaklikhede, besluit Meyer toe hy sy suster dagsê.

“Hoe gaan dit?” vra hy in die volle wete van wat hy met hierdie vraag ontketen. Hy het egter geleer dat ’n mens Susara gou reeds in ’n gesprek die geleentheid moet gee om te ontlaai, anders karring en skimp sy die hele tyd op ondraaglike wyse.

“Gedaan,” sug Susara moeg. “Ek is mos in beheer van die grootkoektafel by die skoolbasaar. Konvenor, noem hulle dit. Daar moet ’n minimum van honderd en twintig koeke wees, en Freek is al weer gekies as viésie gisteraand op daardie ontwikkelingsraad, of wat ook al. Hoe lyk dié vir jou? Freek het dit hierdie week vir my in die stad gekoop. Hy was mos as lid van die boukommissie saam om kerke te besigtig; omtrent twintig gekyk. Ek sê soos mevrou Kok, liewer ’n goeie afdruk as ’n swak oorspronklike skildery, stem jy nie ook saam nie?”

Meyer dink aan die afdruk in Mie se voorkamer tuis, die landskapskildery van ’n toneel uit die agtiende eeu wat altyd sy sinne so streel as hy daarna sit en kyk.

“Hm-hm,” stem hy twyfelend saam en hou sy kop skeef om Susara tevrede te stel.

Komende van die stugge Meyer, beskou Susara die neus­geluid as onverbloemde goedkeuring. “Jy is verkoue, klink dit vir my. Weet jy, die mansmens het darem goeie smaak.”

“Watter mansmens?”

“Maar Fréék,” antwoord Susara vererg. “Hy sê dit het dadelik sy oog getref, want dit was ’n groot lokaal, ’n meubelwinkel. Jy weet, jy staan eintlik te naby. Hulle sê as jy ’n skildery wil beoordeel, moet jy eintlik ver staan.”

“Hm-hm. Is die kinders klaar?”

“Watter kinders?” wil Susara weet om tyd te wen.

“Watter kinders. Esbie en John, natuurlik. Ek het mos gesê ek vat hulle saam met my rugby toe.”

“Middag,” sê Freek onverwags agter Meyer. Hy staan sy oë en knipper in die deur wat vanuit die portaal binnehuis toe lei. “Voetbal is eintlik ’n beter woord,” betig hy sy jong swaer meteens.

“ ’n Baie mooi woord,” stem Meyer saam, “maar ongelukkig beteken dit nie presies dieselfde as rugby nie.” Dit was nie nodig nie. Uit beginsel bly hy meestal net stil wanneer Freek Walters sy kennis begin uitstal. Af en toe kry hy lus om sy swaer se kaarte ’n slaggie deurmekaar te skommel. Vanmiddag, veral, voel hy dat alle mense darem nie altyd skotvry moet wegkom met hulle stommiteite nie.

“Ek kan my nie voorstel hoe dit dan nie dieselfde sou wees nie,” verweer Freek met hewiger knipperende oë. Wanneer hy lekker aan die gang is en nie weerspreek word nie, gaan sy oë vir kort tydjies heeltemal toe terwyl hy praat. Nou bly dit egter knipper.

“Rugby is net ’n soort voetbal, dis hoe dit werk,” weerlê Meyer die omslagtige argument. Hy is klaar sat vir die kragmeting met woorde, al duur dit nog skaars sekondes. Hoe hy ook al probeer, hy kan die kortstondige ontmoeting op Laura se drumpel nie uit sy geheue sluit nie. Miskien is dit ook te gou. Hy het immers deur ondervinding geleer dat oorwinning nie voor die hand liggend is nie. Dit kom deur harde werk, soos alles wat die moeite werd is.

“Freek is baie moeg,” verklaar Susara uit die bloute, asof enige vergissing of geheuefout van haar man so verklaar sal kan word. “Dis ’n vreeslike tyd, Meyer. Ek en Freek dien nou in meer goed as wat ons kan behartig. Wanneer ek by jou en Mie kom, kan ek net nie glo dat daar nog huise is waar dit so rustig kan gaan nie. So baie mense wil vandag net nie betrokke wees nie. Maar Mie was nooit lief om die samelewing te dien nie, of hoe, Freek?” Sy slof haar hoë­hakskoene aan waar dit op die portaalvloer gestaan het terwyl sy die afdruk aan ’t regskuif was.

“Nja,” sê Freek. En daarmee is hy ook sommer los. Meyer volg Susara die woonkamer in. Net “mense” word sitkamer toe geneem, ook nie sommer “gevat” nie, die res na die “Tie-wie-kamer”, soos Susara dit by voorkeur noem.

“Ek het haar toe vanmôre gebel. Piet is mos vandag ’n jaar dood,” sê Susara. Sy het vir Laura lankal tot ’n voornaamwoord gereduseer. Die droefheid oor Piet en die wrewel vir Laura meng op ’n koddige wyse op Susara se gesig. Haar mond glimlag droewig, maar haar oë frons kwaai.

“Ja,” sê Meyer, onwillig om te verraai dat hy vergeet het, “Mie het ’n brood vir haar gestuur.” Terselfdertyd noem hy dit om sodoende Susara se jaloesie ’n bietjie aan te blaas. Dis vir hom altyd vermaaklik.

“O,” sê Susara, en sy reageer volgens Meyer heeltemal voorspelbaar. “Is ons dan nie ook bedroef nie? Was Piet nie ook my eie broer nie? Hoor jy, Freek, Ma het vir Laura ’n brood gestuur.” Wanneer sy met Freek oor haar ma praat, is dit altyd “Ma” en nie “Mie” nie.

“Nja,” sê Freek duister. “Daar’s geen verklaring vir voorkeure nie.”

“Jy moet vir Ma ’n koolkop uit ons tuin saamvat, Meyer,” sê Susara, na aan trane. Dis maklik om haar gedagtes te lees: soveel onbaatsugtigheid sal vurige kole op Mie se hoof hoop. En kool is nou volop, terwyl tamaties en aartappels duur is.

“Ek hoor mos nou sy het klere vertoon … gemodelléér … in die hoteltuin. Mevrou Kok vertel my. Ek weet ook nie waarom ek en jy nie daar was nie, Freek. Ek dink daar was ’n uitnodiging in die pos. Maar mens kan ook nie oral wees nie.”

“Van wie praat jy, van Mie?” vra Meyer onskuldig. “Haar lyf model gehou?”

“Ma sal haar tog so goedkoop maak,” ontken Susara met ’n snuif.

“Is dit dan nou goedkoop om klere te vertoon?” wil Meyer gebelg weet. Dit is nie sy bedoeling om Laura te verdedig nie, maar die gekarring van sy heelwat ouer suster kan hy opeens nie langer verdra nie.

“Dis goed, Meyer, kom maar vir haar op. Asof sy ons nie genoeg smarte aangedoen het nie. Jy dalk vir altyd ’n verbitterde oujongkêrel; Piet in die graf; ons almal ongelukkig.”

“Laura sal bly wees om te hoor dat haar invloed so ver strek,” sê Meyer sarkasties. “En ek is nie verbitterd nie.”

“Ha,” sê Susara. “Vertel dit vir die voëltjies.”

Hy spring op. Die atmosfeer in die vertrek oorweldig hom. Die plastiekbeeldjie van Beethoven op die klavier wat deur niemand bespeel word nie, die nagemaakte kroonkandelaar en die blinde oog van die televisiestel maak hom benoud.

“Sou Esbie en John klaar wees?” vra hy en kom agter dat sy asem effens gejaag is.

“Jong, ja, die kinders het nog nie vir hulle pa toestemming gevra om uit te gaan nie,” sê Susara en kyk met swaar opset na haar man. Sy ontsien geen moeite om Freek se vaderbeeld halfpad tegemoet te kom nie. “Kan hulle maar, ou vader?”

“Huh? Nja. Wat?” skrik Freek op. Sy oë knipper gesteurd.

“Rugby gaan kyk saam met Meyer. Die kinders.”

“Die kinders?”

“Esbie en John,” herinner Susara. Sy knipoog vergoelikend na haar broer. “Hy is ook so oorlaai, weet jy. Hy was nie een aand hierdie week tuis nie.”

“Ja, natuurlik, Ek is seker dat die kinders hulle sal gedra, Meyer. Ek sê altyd, ek en Susara het die fondamente gelê so goed ons kan. Van nou af aan moet die kinders ’n eie identiteit ontwikkel. En wat gaan jy en Laura in die winkel aanvang?” Die oë in hulle vroeë plooibedjies knipper in Meyer se rigting.

“Hoe bedoel jy, wat gaan ons in die winkel aanvang?” vra Meyer.

“Nou met Josef se siekte. Laura het my vertel. Jy moenie dink dat ons teen Laura draai nie. Ek vind nog gereeld uit hoe dit gaan. Mens kan nooit sê jy trou nie met iemand se familie nie. Wat my betref, het Laura familie geword en familie sal sy bly.”

“Ons sal maar sien en maak ’n plan,” mompel Meyer. Dis die eerste woord wat hy hoor oor siekte van Josef. Dis dan natuurlik daaroor dat Laura netnou met hom wou praat. Wel, as Josef uit die diens tree, kan hulle maar vergeet om verder met die stoffeersaak aan te gaan. Kommer neem van hom besit; deur die jare het hy lief geword vir Josef Abrahams, die man met die vonkel in die oog en die knap hande.

Haastig oorweeg hy: hy kan vir Mie vra om uit te vind wat daar aangaan. Hy wil nie teenoor Freek en Susara laat blyk dat hy nie op hoogte van sake is nie. Maar as daar vir hom nog enige vooruitsigte in die middag was, het dit verdwyn.

“Die kinders …” eis hy ongeduldig.

“Hulle is in die agtertuin … op die patio, dink ek,” verklaar Susara. Sy het ’n spesiale manier om die woord “patio” uit te spreek; stadig en duidelik, asof sy vermoed dat Meyer dalk nie sal weet wat se deftige soort ding dit is nie.

Dis dan ook waar Meyer hulle vind, lui swaaiend op die skoppelmaaibank met die bont bekleedsel. Esbie kom hom dadelik tegemoet. Sy lyk ouer as haar agtien jaar. Sy is groot en stadig, maar nie lelik nie, en ’n minsame kind. “Dag, oom Meyer,” sê sy en haak by hom in.

“Verspotte meisiekind. Jy kan net vir iemand ‘oom’ sê as hy tien jaar ouer as jy is. Kyk goed na my. Lyk ek soos ’n oom, hê? Kyk my spiere. Kyk my kuif. Kyk my skitterwit glimlag. Die gesogste vrygesel op Sederburg.” Hy neem stelling in en poseer soos ’n kragman op ’n verhoog.

“Ha-ha-ha,” lag John met sy seunstem wat onlangs gebreek het en nog nie baie stewig op die nuwe fondamente rus nie. Humor soos hierdie begryp en waardeer hy: plat, oop, bereikbare snaaksigheid, soos wat sy ma ook daarvan hou, al wys sy dit nie graag nie. Dis vir Susara ’n voortdurende bron van kommer dat sy soms ’n televisieprogram kostelik vind en dan van ander moet hoor dat dit “vlak” is. Moeisaam probeer sy haar smaak aanpas, maar intussen geniet sy darem stilletjies saam met John die programme waarvoor ander die neus optrek.

“Oom Meyer, het oom gisteraand gekyk na daai ouens op Sportfokus?” John spring ook van die swaaibank af op en probeer Meyer se pose oortref. Dis maar onlangs dat Sederburg televisie gekry het, en John se ganse gemoed en gedagtelewe is deurtrek daarvan.

“Kom, is julle reg vir die rugby?”

“Ons het nartjies en grondbone,” bevestig John.

Hulle moet weer voor Laura se huis verbyry.

“Oom Piet is vandag ’n jaar dood,” sê Meyer. Hy noem dit om homself te martel. ’n Soort bieg … omdat hy nie vanmiddag geluister het toe Laura hom skynbaar van Josef se siekte wou vertel nie.

“Oom Piet was ’n smaart ou,” sê John.

Ja, dink Meyer. Indien jy dit as “smaart” beskou om vinniger as ’n ander te ry, om jou broer se verloofde af te vry en haar dan in die huwelik te kul. Of sou Piet oor geheime eienskappe beskik het waarvan hy, Meyer, nie weet nie?

“Kan ons nie net vir haar hallo sê nie?” vra Esbie.

“Nee,” antwoord Meyer bars. Dan vervolg hy genadiger: “Ek was al daar vanmiddag. En ons wil nie die voorwed­stryde mis nie.” Hy kyk vinnig na Esbie langs hom op die kussing. “Wat? Huil jy tog nie?”

“Dis baie hartseer … van Laura en oom Piet.”

“Ja, ek skat sy is ’n soort tragiese heldin,” besluit Meyer met stywe lippe.

“Wat gaan oom-hulle doen noudat Josef so siek is?” vra Esbie. “Gaan julle die plek verkoop?”

“Josef sal tog seker regkom,” sê Meyer nadenkend. As hy maar kon uitvind wat gaande is, sal hy dalk minder skuldig voel.

“Met ’n gewas op die brein? Klink vir my na doodsake. Die dokters meen dan dis te laat om te opereer,” praat John van die agterste kussing af. Hy moet besig wees om ’n nartjie te eet, want die geur hang prikkelend in die motor wat warm gestoof is van die winterson. Altyd en altyd hierna, dink Meyer Bronkhorst, sal ek die geur vereenselwig met die vreeslike skrik wat my oorweldig het by die aanhoor van die nuus: Josef … gewas op die brein … te laat vir opereer … en hy het dit nie geweet nie.

Wat se soort mens het hy dan geword, afsydig en onttrek aan die werklikheid? ’n Ystermuur waarteen vuiste tevergeefs bons om toegang … die vuiste van Josef Abrahams. Hy voel meteens baie bedroef. Sou Mie geweet het? Dit moes skielik gekom het. Hy was nie eens daarvan bewus dat Josef gesondheidsprobleme het nie. Nee, Mie het sekerlik nie geweet nie.

“Watter dag was Josef presies by die dokter?” probeer hy uitvind.

“Hulle het mos laas week plate geneem, dan nie?” bereken Esbie. “Maar hy wil dit nie aanvaar nie, oom Meyer. Laura sê hy sal seker aanhou werk tot hy neerslaan.” Snaaks dat die kinders vir haar so ewe natuurlik op die naam noem.

Die winterson lê bleek oor die verdorde gras van die rugbyveld toe hulle hulle plekke op die oop pawiljoen ingeneem het. Meyer kan nie onthou dat hy ooit so min erg aan ’n sportverrigting gehad het nie. Alles kom meteens so sinloos voor: die gelag en gejil rondom hom, herkenningsklappe op sy skouer, nartjieskille en oopknallende koeldrankblikkies.

Met die bakkende son tussen sy blaaie voel sy verkoue tien keer erger, en Sederburg se nederlaag pas soos ’n handskoen by sy gemoedstoestand. Soos verdrinkte waterlelies bly die weemoedige oë van Laura in sy herinnering ronddrywe.

Hy is dringend haastig om vir Esbie en John af te laai en sy ry te kry.

Yl skemer begin toesak oor die bruin woonbuurt toe hy voor die huis van Josef Abrahams stilhou. Dis netjies ver­sorg en popmooi geverf deur Josef self. Meyer swyg broeiend toe hy deur die Abrahams-egpaar binnegelaat word.

“Waarom het jy my nie vertel nie? Waarom moet ek dit van ander hoor?” vra hy uiteindelik en kyk met ’n swaar oogopslag na Josef.

“Wat vertel?” wil Josef laggend weet, maar die klank is hol.

“Dat jy … wel, nie so lekker voel nie.”

“Wat is dit dan nou vir ’n taai man soos ek? Ek sal vir meneer nog onder die tafel in werk.”

“Dit betwyfel ek nie. Ek het nooit ’n hand gehad vir die goeters nie,” erken Meyer en beduie na die netjies beklede rusbankstel in die klein voorkamer. “Maar … moet jy nie ’n bietjie gaan rus nie, Josef? Net tot jy weer sterker is?”

“Gaan rus? En juffrou Laura dan, meneer?”

“Wat van juffrou Laura?”

“Sy kan mos nie so alleen nie. Meneer sit dan nooit g’n voet daar nie. Dis met enige besigheid soos met ’n mielieboerdery: die beste kunsmis is jou voetspore tussen die rye.”

Meyer sit ’n rukkie stil voor hierdie subtiele aanklag. Miskien het dit alles so moes kom: as Josef nie verder kan nie, sal Laura moet instem om die plek te verkoop. Voor Josef durf hy dit egter nie sê nie. Dit sal wees om die laaste grond onder sy voete uit te ruk. “Jy hoef nie bang te wees vir die geldsake nie, Josef. Ek sal sorg dat jy ’n toelaag kry.”

Josef skud sy kop meewarig. “Dit gaan nie daaroor nie, meneer. Ek lewe deur hierdie handewerk. As jy my hande stil maak, maak jy my selwers stil. Dan sit ek bietjie-bietjie en doodgaan.”

“Nee, maar dan verstaan ek, Josef. Ek wil net nie hê jy moet aangaan wanneer jy nie gesond voel nie.”

Daar is min woorde gesê, maar Josef Abrahams se vasberadenheid loop soos ’n taai sening onder die oppervlak.

“Bly jy, ek sal saam met die meneer uitstap,” sê die groot vrou toe Meyer opstaan.

Pas is hulle buite, of sy bring ’n sakdoek na haar gesig. “Ag, my jene, meneer. Soos ek dit verstaan, is hy ’n sterwende man. En dis swaar om te sterwe as jy nie ’n nageslag het nie. Dis die ergste … nie die kopseer of die vergeterigheid nie.”

“Jy moet my dadelik laat weet as dit lyk of sy kragte ingee, Sylvia.”

“Dis die laaste ding wat hy sal wil erken, meneer. Soos hy sê: as hy ingee, verkoop meneer die winkel. Dan sal juffrou Laura die dorp verlaat, en alles sal verby wees.”

Alles sal verby wees … watter betekenis skuil agter hierdie duistere woorde? Het Josef met sy stille waarneming lankal gesnap dat daar ’n laagliggende, maar nog smeulende vuur tussen hom en Laura is?

“Sê vir Josef nie ek of Laura kan verkoop sonder dat die ander een ook geteken het nie. Dit staan in die kon­trak.”

’n Bepalinkie waarop hy aangedring het om hom teen Piet se wispelturigheid te beskerm, dink Meyer toe hy met die stofstraatjie wegry tussen spelende kinders deur. Nou boemerang dit.

Dis skerp koud toe hy die motor bêre en die breë stoep van sy tuiste beklim. ’n Hond huil iewers teen die groeien­de maan, en die werfbome buig in die kouerige wind.

Minah wag in die kombuis, waar die vuur lekkende tonge by die stoof se bek uitskiet. Verkluim loop Meyer nader en sprei sy hande oop voor die hitte. Dit lyk soos ’n smekende gebaar. “Jy kon my maar herinner het, Mie. Ek het vergeet dat dit vandag ’n jaar is.”

“Wat maak dit tog saak?” vra Minah Bronkhorst. Sy staar in die gloeiende vlamme. Sy het naby Meyer kom staan.

“Ek wil twee dinge weet, Mie. Het jy ooit in jou lewe getreur? Oor Pa, oor Piet?”

Minah se blik roer nie. Hy dink eers dat sy nie wil antwoord nie. Eers later, heelwat later, antwoord sy: “Ek is van mening dat die mens veredel word deur verlies eerder as deur besit.”

Dalk stem hy saam, dink Meyer. Dalk was daar ’n tyd toe hy liewer sou wou besit en onedel bly, as verloor en veredel. Maar dalk stem hy nou saam.

Minah haal die deksel van sy bord kos af, waar dit eenkant op die stoof gestaan het. Hy eet sommer staan-staan voor die vuur: vleis in ’n ysterpot gebak, en brood.

Dan stel hy sy tweede vraag: “Is ek in die pad, Mie? Sou jy liewer wou hê dat ek apart gaan woon? Ek weet jy hou nie van mense rondom jou nie.”

Weer swyg Minah lank. “Bly,” sê sy dan.

En haar hand, die kunstenaarshand wat aweregs behoort aan ’n middeljarige ma-liggaam, raak hom vlugtig teen sy skouer aan. Hy onthou met pyn hoedat hierdie selfde hand hom in troos aangeraak het nadat die bom tussen hom en Laura gebars het.

Dit was nie vir Mie nodig om te praat nie. Terwyl sy hom aangeraak het, daardie dag, het dit gevoel asof haar aanraking ’n kanaal gevorm het, waardeur sy pyn na haar toe gevloei het. Dit was soos salf op sy rou gemoed.

“En dan is daar nog Josef ook,” sug Minah. Dus het sy dit ook geweet, maar hom gelos om self uit te vind.

Waar is die kleure heen?

Подняться наверх