Читать книгу ’n Muse vir Tess - Lucille du Toit - Страница 3

1

Оглавление

Tess se moeë vingers vou om die kwas se steel. Met haar ander hand vryf sy oor haar wang en dan gly haar vingers af na die stywe spiere in haar nek. Daar is behoorlik twee harde knoppe, alles te wyte aan al die spanning waaraan sy die afgelope tyd blootgestel is. Dit is die prys wat sy moet betaal omdat sy nag ná nag wakker lê. As sy aan alles dink waaraan sy nou gewoond moet raak, voel dit of daar gal in haar keel opstoot. Nie eens ’n soet koppie rooibostee sal die bitter smaak kan wegvat nie.

Van al die dinge is die leemte langs haar op die bed waar ’n warm lyf altyd gelê het, die moeilikste om te verwerk. Sy moet ook nou onthou daar is huur om te betaal, munisipale rekeninge, skoolfonds en wie weet wat nog als. Tian is nie meer hier om alles te doen nie. Nee, nou is die lysies wat sy op die yskas plak en die waarskuwings op haar selfoon al hulp wat sy het om te voorkom dat haar deurmekaar kop iets vergeet.

Natuurlik maak die kinders asof alles haar skuld is. Háre! Dink hulle regtig sy moes ’n haas uit ’n hoed kon geruk het om die situasie te verander?

“As Mamma dalk mooier aangetrek het, Mamma se hare blonder gemaak het …”

Tess skud haar kop. Dit is vir niemand maklik nie. Sy het self ook al gedink dit moet haar skuld wees, maar sulke gedagtes moet sy keer voordat hulle in haar binneste nesmaak.

Sy staar na die halfklaar landskap voor haar. Die skildery gaan nooit betyds klaarkom vir mevrou Adele Fourie nie. En dit is juis by dié kliënt dat Tess haar voet in die deur wil kry. Dit is sover die enigste plan wat sy het om ekstra inkomste vir haarself en die kinders te verdien ná sy en Tian uitmekaar is. Haar ou vriende die kwas en skilderdoek is haar redding. Sy wil regtig probeer selfstandig wees en nie meer op Tian staatmaak nie, maar dit is moeilik en haar trots gaan nie vir Mienke se perdrylesse of Mia se saksofoonlesse betaal nie.

Sy weet al wat Tian se reaksie sal wees as hy moet hoor sy het weer begin skilder. Soos oor alles wat sy in hul huwelik aangepak het, sal hy seker vir haar lag. As sy mooi dink, het dit al begin toe sy ná skool Parys toe is as au pair met die plan om deeltyds kuns daar te studeer. Na twee maande oorsee het hy haar oortuig om terug te keer Suid-Afrika toe.

Dit was volgens hom ’n mors van tyd. Hy sou mos vir hulle sorg, wat wil sy nou met ’n kwalifikasie in kuns maak? “Kom huis toe,” het hy aangedring. Hulle was jonk en smoorverlief. Sy bombastiese houding was soort van oulik, het sy gedink. Ook die manier waarop hy altyd beheer van situasies geneem het, maar soos van Vincent Van Gogh het dié vorm van versotheid van haar ook sy tol geëis.

Sy onthou nog hoe sy die dag toe sy op die vliegtuig moes klim, senuweeagtig op en af geloop het. Plaas dat sy na die stemmetjie in haar agterkop geluister het. Daardie stemmetjie wat op hulle troudag ook gefluister het … Sy het dit geïgnoreer, want sy het gedink Tian is die opoffering werd. As sy toe geweet het wat sy nou weet, het sy eerder self haar oor afgesny en vir hom gepos. Dit sou dalk minder seergemaak het.

Destyds het sy gedink dit is romanties dat hulle so jonk getrou het, maar terwyl Tian klaar gestudeer het, is haar drome opsy geskuif sodat sy – volgens Tian se plan – by die huis kon bly en begin kinders grootmaak. “Ek sal vir jou sorg,” was sy woorde.

En hy hét – tot eendag toe hy iemand anders bo haar verkies het.

Op ses-en-dertig moet sy, tuisblyma van ’n twaalf- en ’n veertienjarige dogter, nou vir haar ’n naam as kunstenaar probeer maak. Nooit weer sal ’n man haar so beïnvloed nie.

Sy sal dit eenvoudig nie toelaat nie.

Dié skildery is meer as net ’n skildery, dit is ’n simbool van haar selfstandigheid. Daarom moet sy dit klaarkry. As Adele se vriendinne die skildery sien, sal hulle hopelik ook een na die ander van haar werke bestel.

Dit gaan haar reputasie beslis skade doen as die dekselse ding nie Sondag klaar is nie, maar dalk sal Adele ’n mediese noodgeval verstaan. Alles te wyte aan die vervlakste kiestand wat haar al heelnag wakker hou. Die pyn is ondraaglik en geen pynpil wil dit verdoof nie. Sy het gedink as sy opstaan en kom skilder, sal die afleiding dalk help, maar dit is nie die geval nie. Die kalm atmosfeer en sagte musiek in haar ateljee streel geensins nie. Nie die pyn in haar tand of haar hart nie. Inteendeel, die eensaamheid sypel vanoggend behoorlik uit die rooi mure van die vertrek.

Sedert Tian haar vir daardie flerrie gelos het, is sy eensaam.

Ten minste kan sy nou doen wat sy nog altyd wou gedoen het en dalk selfs ’n bietjie geld maak. Die onderhoud wat Tian betaal, stop skaars al die gate toe.

As sy ’n ander soort ma was, kon sy van die kinders se buitemuurse bedrywighede gestaak het, maar dit sal sy nooit doen nie. Nee, sy wil hulle vlerke gee, hulle leer om te droom. Iets wat Tian ten sterkste afkeur. Hy is na alles ’n realis.

Dit is seker hoekom sy nooit goed genoeg was nie – haar kop is glo te veel in die wolke. En toe? Nadat sy al haar drome vir hom prysgegee het? Toe is ’n huisvrou blykbaar ook nie wat hy regtig wou gehad het nie, want hy het haar verneuk met iemand met gemanikuurde hande wat ’n maatskappy bestuur. Nog ’n realis soos hy wat die wêreld koud en klinies benader en geld soos bossies maak.

Tess kyk ’n oomblik na haar naels. Hulle is kort en prakties soos haar blonde hare wat in ’n praktiese bob gesny is. Daar is fyn krakies in haar naelvliese wat van die terpentyn uitgedroog is.

Sy tel die kwas weer op en vryf sirkels in die geel verf voordat sy dit met egalige hale op die doek vee. Vir die soveelste keer probeer sy om die sonsondergang in te skakeer, maar tevergeefs. Moedeloos sit sy die kwas weer neer.

As die geklop in haar tand net wil ophou! Sy probeer verniet nou konsentreer. Wat sy moet doen, is om by ’n tandarts uit te kom.

As die meisiekinders net by die huis was. Uit die onheilige verbintenis met Tian het sy darem twee engele as beloning gekry. As hulle tuis was, het sy haarself nie vanoggend so jammer gekry nie. Tydens Tian se naweke saam met die kinders voel sy altyd ekstra eensaam. Mens beleef mos alles erger wanneer jy so voel. Sy sou nou graag pens en pootjies agter die kinders se rûe wou gaan inklim het.

Vervlaks! Sy moes geweet het dokter De Gouveia gaan nonsens aanvang toe sy ontvangs­dame gister ’n uur voor haar afspraak gebel het om te hoor of sy dit na volgende week kan skuif. Iets oor sy kinders se atletiek.

Tess het nie mooi geluister nie. “Nee, natuurlik nie,” het sy verontwaardig gesê. “Sê nou die tand begin pyn?” Sy voel dan al heelweek met haar tong aan die gaatjie.

Hy was haastig toe sy in die stoel gaan sit het, maar het haar verseker dis ’n klein holte. Die stopsel was in ’n japtrap ingesit, en hy het nogal bygevoeg die tand kan dalk sensitief vir hitte of koue wees.

Maar hemel weet, dié pyn is ondraaglik.

Tess sit haar kwas neer en dwaal doelloos van vertrek na vertrek. Die woonstel waar sy en die kinders nou bly, is werklik argaïes. Sy moes geweet het Mienke sou natuurlik haar neus daarvoor optrek – nie cool genoeg vir haar moeilike tiener nie. Ten minste dink Mia die daktuin is nice. Vir Tess het die plek karakter. Dit laat haar aan ’n outydse woonstel op die Griekse platteland dink en daarom het sy die voordeur heel eerste kobaltblou geverf.

Sy drentel terug na die rooi ateljee en loer na die horlosie teen die muur wat sy ook self gemaak het. Die elegante wysers wys dat dit uiteindelik sesuur is. Dit is darem nie so buitensporig vroeg nie? Tandartse het ook mos noodgevalle waarna hulle moet omsien en dié is beslis ’n noodgeval.

Die skildery sal maar tot later moet wag. Miskien kan sy vanaand deurnag … as die tand teen daardie tyd beter voel.

Tess gryp haar handsak. Sy kan net dink wat die uitstappie na die tandarts haar weer gaan kos. Sy wil stuipe kry wanneer sy onthou hoe Tian “mooi” met haar gepraat het, asof hy met ’n graadeen-kind praat, toe hy verduidelik het dat hy nou net vir die kinders se mediese onkostes sal opdok – nié vir hare nie.

Die vermetelheid.

Sy raak sommer weer van voor af vies toe sy met haar handsak oor haar skouer die blou voordeur agter haar toetrek.

Toe Tess voor die spreekkamer stilhou, is sy dankbaar die noodnommer staan in groot swart letters op die deur. Haastig skakel sy dit, net om deur ’n antwoordboodskap begroet te word.

Belaglik.

Die boodskap verwys haar na die Life Rosepark-hospitaal se Ongevalle.

Geïrriteerd bestuur Tess deur Bloemfontein se strate daarheen. Miskien moet sy haar wang hard byt. Help dit nie as mens ’n ander pyn het waarop jy kan konsentreer nie?

Die reuk van ontsmettingsmiddel vul Tess se neusgate toe sy die deur na Ongevalle oopstoot. Die plek is leeg vir ’n Saterdagoggend. ’n Mens sou dink hier is ’n paar dronk mense met erge olikheid of ten minste een kraamgeval, maar Tess is die enigste persoon hier.

Die verpleegster agter die toonbank gaap voordat sy Tess vriendelik groet.

“Lang nag?” vra Tess. Die pyn wat gisteraand opgedaag het, steek weer. Sy gryp haar wang vas en vryf dit sag. Asof dit gaan help!

Die verpleegster knik net. “Waarmee help ons?” vra sy.

“Dokter De Gouveia het gister my tand gestop en nou pyn dit vreeslik. Sy noodnommer het my hierheen verwys,” verduidelik sy.

“Net ’n oomblik,” sê die verpleegster vriendelik. Sy stap na ’n kantoor en praat met iemand.

Tess hoor stemme, maar nie wat gesê word nie.

Die verpleegster kom uitgestap met ’n stuk papier.

“Dit is die besonderhede van die tandarts dié naweek aan diens. Ons skakel hulle ongelukkig nie. U moet self bel en met dokter praat. U is gelukkig, want dié een se spreekkamer is sommer hier op die hospitaal se perseel. Skakel hom gerus.”

Die vrou verduidelik vir Tess waar die spreekkamer is.

Sy knyp haar oë toe voordat sy dankie prewel. Kon hier nie maar eerder ’n tandarts spesiaal vir haar gesit en wag het nie? Dan kon sy net vinnig in die stoel spring en siedaar, die pyn word gestop.

Die spreekkamer is aan die ander punt van die hospitaal, en Tess ry na die gebou. Sy sal hom bel en sommer hier wag, sy is dan nou hier. Dié deel van die hospitaal is egter doodstil. Dit is net haar motor wat nou hier in die parkeerterrein staan. Sy klim uit.

Voor die wit mure begroet ’n tuintjie haar. Die vrolike gesiggies en petunias sou haar enige ander dag opgebeur het, maar nie vandag nie. Alles lyk geslote en verlate. Sy het so gehoop hier is dalk al iemand. Op ’n goudkleurige plaat teen die muur staan Dr. J. Vermeulen.

Toe Tess die papier met die nommer uithaal, merk sy die geel verf wat onder haar wysvingernael gekompakteer is. Dit sou Tian die horries gegee het. Sy byt aan die nael in die hoop om van die verf ontslae te raak voordat sy in haar motor terugklim.

In die kar skakel sy die nommer op die stukkie papier.

“Haai, dis Dan hier. Los ’n boodskap in jou sexyste stem en ek kom terug na jou, cheers.”

Benoud sny Tess die konneksie af. Amper skrik sy haar pyn skoon weg.

Het sy die verkeerde nommer geskakel? Niks sal haar meer verbaas nie. Dit moet al die pynpille wees, probeer sy haarself oortuig. Haar kop is deesdae ook so deurmekaar. Of dalk is die nommer net verkeerd?

Die tweede keer wat Tess die nommer skakel, maak sy seker sy doen dit reg. Dieselfde boodskap begroet haar.

“Onprofessioneel. Dit kan nie ’n tandarts se nommer wees nie! Verdomp, die vent klink eerder soos ’n gigolo of ’n vervlakste tiener,” sê sy vir haarself. “Wie op aarde sê nog cheers?” Vir wat soos ’n ewigheid voel, staar Tess na die selfoon in haar hand voordat sy siedend terugry na Ongevalle.

“Dit moet die verkeerde nommer wees dié. Ek dink julle het ’n fout gemaak,” sê sy nou befoeterd vir die verpleegster, want die pyn raak net erger. “As die man aan diens is, sal hy seker sy foon antwoord?”

“Mevrou, ek verseker jou dit is sy nommer.” Die verpleegster stoot die stuk papier terug na Tess.

“Gee my dan asseblief dokter De Gouveia se nommer. Hy sal seker weet wat hy verkeerd gedoen het. Dit kan net sy onbeholpenheid wees wat die pyn veroorsaak het!” raas Tess.

Die verpleegster stap weer na die kantoor. Sy en die persoon daarbinne praat gedemp met mekaar voordat sy terugkom. “Ons kan regtig nie vir u dokter De Gouveia se privaat nommer gee nie. U het die regte nommer vir die tandarts wat op roep is. Dokter Vermeulen. Ek stel voor u skakel net weer.”

Tess is stomgeslaan. “Argh! Mag julle tande ook pyn!” skree sy en loer oor die verpleegster se skouer na die madame in die kantoor wat steeds nie haar verskyning gemaak het nie. Sy kan sweer sy sien ’n glimlag aan die verpleeg­ster se mondhoeke pluk.

In haar motor skakel Tess die nommer tog maar weer.

Dié keer los sy ’n pleitende boodskap oor haar pyn en lyding en hoop dat dokter Dan haar sal terugskakel. Terwyl sy terugry huis toe, stuur sy stilletjies ’n skietgebed op dat die knaap nie vars uit varsity is nie.

’n Muse vir Tess

Подняться наверх