Читать книгу ’n Muse vir Tess - Lucille du Toit - Страница 5

3

Оглавление

“Wat?” kraai Bianca van die lag toe Tess haar vriendinne van die petalje met die tandarts vertel. “Hy klink so oulik! Ek dink ek kort ’n nuwe tandarts.”

“Ek hoop jy het hom op ’n date gevra? Of ten minste gehint dat jy van hom hou.” Tanya druk nog ’n soutbeskuitjie in haar mond.

“Die man is waarskynlik getroud. Dis hoekom hy so vies was dat Tess hom gepla het. Hy en sy liefie was dalk besig om te cuddle, toe word hy uitgeroep,” giggel Anette.

Anette is heel moontlik reg daaroor. Tess kan nie dink dat so ’n aantreklike man nie ’n vrou aan sy sy sou hê nie. Haar gemoedstemming sak ’n aks laer. Op haar ouderdom is die kanse seker nou verby. Sy sal nooit weer iemand kry om die res van haar lewe mee te deel nie. Wie date nou nog wanneer jy al diep in die dertig is?

Sy kyk hoe Anette vir Bianca wyn inskink, terwyl Tanya nog ’n beskuitjie neem. Dankie tog vir vriendinne wat ’n leeftyd lank getrou bly – al van laerskooldae af. Sonder hulle weet Tess nie hoe sy deur hierdie krisis in haar lewe sou gekom het nie. Hulle kuiers een maal per week hou haar staande noudat sy en Tian uitmekaar is.

“Asseblief! Julle is nou sommer simpel. Ek hou nie van dokter Dan nie. Buitendien sal ek nooit weer ’n man in my lewe kan vertrou nie,” keer Tess gou. “Ek sê net hy het mooi oë en ’n mooi stem, dit is al. En die belangrikste van alles is hy maak nie seer nie.” Van die wegraak in die man se oë vertel Tess hulle niks nie. Die sagte grys strepies langs sy slape is ook vir haar nogal aantreklik, maar sy noem dit ook nie teenoor haar vriendinne nie. Netnou maak hulle allerhande onnodige afleidings.

Dit is tog nie asof sy aangetrokke voel tot die man nie, sy is net dankbaar dat hy haar uit haar pyn verlos het. Daarmee, moet sy erken, is hy beslis goed. Na die inspuiting het sy nie ’n greintjie seer gevoel nie. Hy het so mooi met haar gewerk asof hy dink sy gaan breek.

Dit is dierbaar, maar dit irriteer haar terselfdertyd grensloos. Hy dink seker sy is ’n swakkeling. Nes Tian altyd gedink het. Maar sy moet erken die paar sekondes wat hul oë mekaar gevind het, het … het iets gebeur. Sy weet nie wat nie, dalk was dit net haar ooraktiewe verbeelding.

“Buitendien is hy duidelik ook vasgevang in sy middeljarekrisis. Al die tekens is daar. Ek het hom seker eerder van tyd saam met sy skelmpie beroof.” Tess snork effe onvroulik.

“As ek jy was, het ek sommer net daar in die spreekkamer van al my opgekropte frustrasies ontslae geraak, jy weet?” skaterlag Bianca. “Jy kon dokter Dan verlei het. Hom toelaat om jou ’n wortelkanaal op ’n ander plek te gee!”

“Bianca!” raas Anette, maar hulle lag tog te lekker.

Die trane loop nou al skoon oor Tess se wange. Sy kan nie onthou wanneer laas sy so gelag het nie. “Soos ek sê, vir al wat julle weet, is hy dalk ’n getroude man.”

Tanya skink vir almal nog Merlot.

Die tweede bottel is al oop, maar vanaand het hulle ten minste ’n waardige verskoning. Die vriendinne vier Tess se eerste sukses. Adele Fourie was diep beïndruk deur die skildery wat Tess vanoggend by haar huis in Woodlands gaan aflaai het. Sy het deurnag gewerk en dit betyds klaargekry. Boonop het Adele belowe om Tess se nommer vir al haar vriendinne te gee.

Dit is presies waarop Tess gehoop het.

“Om die onderwerp te verander … wat gaan jy met daardie vet tjek doen?” vra Tanya.

“Ek weet nog nie. Ek het baie gate om toe te stop. Die lewe is duur en kinders verg geld,” sê Tess. “Tian betaal vir die nodigste, niks meer nie.”

“Tian is ’n aap,” sê Anette. “Dit is natuurlik omdat hy nou twee gesinne moet onderhou.”

Tess glimlag. Dit is wat haar ma ook sê. Sy het selfs gedreig om vir Tian namens Tess trompop te loop. Noudat sy daaraan dink, haar ma het na haar pa se dood ’n regte vuurvreter geword. Sy vat nie meer nonsens van enigiemand nie. Dalk kan sy by haar ’n les of twee leer, net jammer haar ma bly nou op Hermanus. Hulle sien mekaar heeltemal te min.

“Praat van gate toestop … Ek weet wat jy met bietjie van die geld kan doen,” sê Bianca, en almal kyk nuuskierig na haar. “Jy kan vir jou ’n helpende hand koop, jy weet, ietsie om vir jou te doen wat ’n man nie altyd reg kan doen nie,” verduidelik sy.

Haar hande praat saam, en Tess sien Anette en Tanya se monde hang net so ver oop soos hare oor die opmerking.

Bianca grinnik. “Dit is te sê as jy nie al klaar so ’n iets het nie.”

Anette gaan skielik aan die hoes en loer na die dak terwyl sy haar asem probeer terugkry. Dit is duidelik dat sy vir ’n sekonde oogkontak met hulle vermy. Beteken dit dat selfs Anette so iets het? Hulle Anette? Maar met ’n man soos Anette s’n, is dit seker nie so ’n belaglike gedagte nie. Tess is seker in Anette se binneste is daar ’n diva wat smeek om uit te kom, maar haar Gert hou haar onder die duim. Amper net soos Tess die afgelope vyftien jaar gevoel het.

“Moenie laf wees nie, Bianca!” keer Tess, want sy was nog altyd ’n bietjie aan die skaam kant. En sy het net nooit die nodigheid vir speelgoed in die slaapkamer ingesien nie.

“Moenie so ’n ou koek wees nie, almal het dit, maar niemand erken dit nie. Hemel, Tessa, geen wonder Tian het jou vir ’n ander vrou gelos nie.” Bianca klap haar hand oor haar mond, maar die woorde is klaar uit.

Tess trek haar asem in. Haar vriendin se woorde sny diep … maar steek daar dalk waarheid in? Sy het al dikwels gewonder of sy nie te bekrompe was nie. Noudat Tess daaraan dink, het hulle die laaste jaar voor die egskeiding selde seks gehad. Sy het net altyd gereken dit is omdat hulle tevrede is. Nooit het sy gedink sy gaan vervang word nie.

“Bianca! Skaam jou,” raas Anette weer. “Jy kan nie sulke goed sê nie.” Sy staan op en kom sit langs Tess en vou haar arms bemoedigend om Tess se skouers.

“Ek is jammer. Tess weet ek is nie ernstig nie,” sê Bianca. “Ek sê net jy moet die spinnerakke daaronder afstof! Voor jy jou oë uitvee …”

Tess druk haar gesig in haar hande. Sy kan nie anders as om te lag nie. Tipies Bianca – sy weet hoe om die manlike geslag te gebruik voordat hulle háár gebruik. Hoe kry sy dit reg om elke maand ’n nuwe kêrel te hê? En almal van hulle koop vir haar duur geskenke. Mans hang aan haar lippe en uit die vier van hulle is sy altyd die een wat aandag trek.

Haar vriendinne kan nie méér uiteenlopend wees nie, besef Tess geamuseerd. Anette is beslis die ordentlike een van hulle vier. Altyd op haar plek in snyerspakkies en ’n Mercedes. Saans staan sy slaggereed met manlief se aandete wanneer hy by die voordeur instap. Anette is seker net so dankbaar vir hierdie afleiding een maal per week soos wat sy is. Om Anette te wees moet uitputtend wees.

Tanya is seker weer maar te bly om van al die mansmense by haar huis te ontsnap. Om vier seuns groot te maak is geen grap nie. Tess weet Tanya is spyt dat sy toe nooit die ontwykende dogtertjie gekry het nie, maar gaan beslis nie die kans waag om seuntjie nommer vyf by haar kroos te voeg deur nog ’n swangerskap aan te durf nie. Buitendien spot Tanya dat sy reeds vyf seuns het, want haar man, Herbert, sal mos ook nooit grootword nie.

“Nee, kry ’n man. Daardie plastiekspeelding kan nie die gras sny nie en dit gaan nie vanself gebeur nie,” gooi Tanya haar stuiwer in die armbeurs voordat sy vir haar nog ’n glas wyn skink.

“Julle is laf. Ek het nie ’n man of speelgoed nodig nie,” sê Tess toe sy op haar horlosie kyk. Sy kom heeltemal goed reg sonder ’n man in haar lewe, dankie. Dit is net snags wat sy soms wens sy was nie alleen nie.

“Jammer, maar ons sal moet klaarmaak. Ek moet die kinders gaan haal. Die meisiekinders sal dink ek los hulle by Ken en Barbie vir die week.” Dit is haar bynaam vir Tian en sy nuwe houvrou.

Tess giggel.

Hulle kan nog nie trou nie, want die klein kwessie van Tian en Tess se egskeiding is nog nie afgehandel nie.

Toemaar, Tian, binnekort is dit finaal. Dan is ons huwelik amptelik verby. Tess en Tian. Almal het altyd gedink hulle is die perfekte paartjie; dat hul liefde en huwelik vir altyd sou hou. Toe gebeur dit nou nie so nie. Tian het haar soos ’n vis oopgevlek en al haar binnegoed uitgehaal voordat hy haar hart onder sy voete vertrap het.

“ ’n Koppie koffie voor ons ry,” keer Tanya. “Komaan, jy moet heeltemal nugter wees as jy Tian en die flerrie moet trotseer. Netnou vang jy iets onbesonne aan. Nie dat hulle dit nié verdien nie, maar ek wil eerder nie vir my vriendin in die selle gaan kuier nie.” Sy spring op om koffie te gaan maak.

Tess het altyd gedink dat sy en Tian saam oud sou word. Nooit het sy vermoed hy sal iemand wat so vals is, en daarmee bedoel sy vervals is, bo haar verkies nie. Tess weet vir ’n feit daardie borsmaat is nie deur moeder natuur uitgedeel nie en die vrou se neus is darem net te perfek. Dalk is haar arme man se geld op na al die operasies en nou moet iemand anders die res befonds? Al wat Tess weet, is dat as sy langs Tian se nuwe liefde sou staan, niemand eens vir haar wat Tess is, sal raaksien nie.

Boonop is die vrou nog suksesvol ook.

“Hierso.” Tanya hou die skinkbord met vier stomende koppies koffie na haar toe uit. Dit ruk Tess terug uit haar donker gedagtes. Hemel weet, as sy eers in daardie krater wegsink, is sy vir dae soek.

Sy neem ’n koppie, en Tanya deel vir die ander ook uit.

Nadat Tess se vriendinne huis toe is, gaan staan sy voor die spieël in haar slaapkamer en bekyk haarself aandagtig. Haar hare is nie slordig nie, maar dit is ook nie juis besonder mooi nie. Blonde slierte hang vormloos op haar skouers. Haar borste is dalk ’n bietjie klein. Sy is hopeloos te maer. Mans wil seker nie net aan vel en been vat nie. Argh! Waaraan dink sy tog? Die laaste ding wat sy nou nodig het, is om snags oor nóg ’n man wakker te lê. Om te wonder waar hy is, wat hy doen. Sy sal buitendien nooit weer ’n man in haar lewe kan vertrou nie.

Voordat sy die voordeur agter haar toetrek, draf sy vinnig na Mienke se kamer toe. Sedert haar oudste dogter grimering ontdek het, lê haar spieëltafel besaai met al wat ’n potjie en poeiertjie is.

Tess wend ’n tikkie vleeskleurige lipstif aan.

Dalk is dit tyd vir verandering. Metamorfose moet tog iewers begin.

Tess huiwer toe sy en Bianca voor die winkel stilhou. Dalk was dit nie so ’n goeie idee dat sy vir Bianca gebel het om hulp te vra met ’n effense makeover nie.

Nee, sy peins nou al twee weke hieroor en vandag is die dag! En tot dusver het alles goed gegaan. Kyk net hoe mooi lyk haar naels en die nuwe modieuse snit van haar bob. Sy is opgewonde oor die paar mooi bloesies, nuwe denimbroek, langbroeke en die pragtige rok wat in winkelsakke in die kattebak van Bianca se motor staan.

Oor die inkopies wat Bianca volgende beplan, het Tess egter haar bedenkinge. Tog is hulle nou hier voor die winkel waarin sy nog nooit was en ook nie beplan het om ooit in te gaan nie, want as Bianca eers ’n ding in haar kop het …

Hartstog, staan die naam in wit kursiewe letters op ’n pienk naambord bokant die ingang. “Al gaan ons net kyk,” het Bianca haar aangemoedig.

Sy het natuurlik lekkergekry toe Tess toegee. “Ons kry net vir jou sexy onderklere. Niks anders nie,” troos Bianca weer. “Ek belowe.” Sy druk Tess se skouer.

“Ek het nie sexy onderklere nodig nie, Bianca. Net ek sien myself sonder klere.”

“Hou op hardkoppig wees, Tess. Elke vrou moet in mooi nagklere slaap en mooi onderklere dra. As jy sexy voel, sal jy sexy lyk en jy het buitendien so ’n mooi lyf. Wees bly jy het nie vetrolle nie. Alles daarbinne sal jou perfek pas. Daar is vroue wat hul voortande sal gee om jou lyfie te hê.” Bianca knik om haar punt te beklemtoon.

Tess byt haar lip van verleentheid.

Die parkeerarea voor die winkel is stil, tog huiwer Tess om uit te klim. Is sy nie nou sommer simpel nie?

“Kom ons ry liewer. Dit was ’n dom idee. Ek het genoeg onderklere,” keer Tess toe Bianca begin uitklim. “Sê nou iemand sien my hier? Netnou herken hulle my, dan sê hulle kyk waar loop Mienke en Mia se ma rond.”

Bianca vryf oor haar voorkop. “Nonsens! Dan sê jy jy was net gou apteek toe,” stel sy voor. “ ’n Vrou se seksualiteit is iets om op trots te wees. Jy is nie klip nie. Ons het ook … behoeftes. En ek wed jou jy het nie die tipe onderklere in jou kas soos dié wat hulle hierbinne verkoop nie.”

Tess staar net na die winkel voor haar. Langsaan is ’n selfoonwinkel. Aan die ander kant ’n apteek en ’n pizzarestaurant. Die plek waarnatoe hulle gaan, is nogal stylvol, al moet sy dit teësinnig erken.

Miskien moet sy net uitklim. “Ek weet nie? Is jy seker hiervan?” vra sy weer.

“Tessa, klim uit. Wat jy vandag gaan koop, is lewensbelangrik.”

Ja, want niemand kan sonder sexy onderklere asemhaal nie, dink Tess kopskuddend. Sy hou van die praktiese katoenonderklere wat sy dra. Lekker gemaklik.

“Nou goed, maar jy vertel vir niemand nie, hoor jy my … en ek hou my sonbril op.” Tess se maag maak ’n draai.

Bianca kraai van die lag. “Doodreg, kom. Jy sal nog vir my dankie sê, jy sal sien.”

Bianca en Tess klim uit.

Tess kyk benoud rond. Hier is gelukkig niemand wat sy ken nie.

Bianca en die verkoopsdame groet mekaar soos ou kennisse. Sy is waarskynlik hul beste kliënt.

Daarenteen is Tess skaars in die winkel of sy tree terug. Liewe aarde! Sy kan sommer voel hoe die blos oor haar wange uitslaan toe sy na al die intieme produkte om haar rondkyk. Sy is seker nou so rooi soos ’n tamatie.

Bianca vat haar aan die skouers en stuur haar terug die winkel in. “Kom,” sê sy soos ’n ma wat met ’n kind raas en lei Tess reguit na ’n vertoonkas.

“Bianca! Goeie bliksem … ag nee, man, waar is die onderklere?” vra Tess benoud en kyk rond. “Dít is nie onderklere nie!” Sy beduie na die kas en kyk haar vriendin kwaai aan.

Bianca glimlag net.

Tess voel hoe die lag in haar eie keel opborrel. “Hoe weet jy in elk geval presies waar alles is?” Sy probeer vies klink, maar haar stem is dik van die lag en haar skouers ruk. Aaaah! Sy druk haar hande oor haar oë en loer deur haar vingers. Sy wonder of hulle mondskerms saam met van hierdie speelgoed verkoop. Magtig! Mens sal jou tande kraak. Van die goed lyk of dit eerder in ’n hardewarewinkel hoort.

Toe ’n man die winkel binnestap, vlug Tess summier na waar sy dink die onderklereafdeling is. Die knop op haar maag gee effens skiet terwyl sy alleen daar ronddwaal. Hier is regtig pragtige onderklere. Tess streel oor die uitrustings van kant en satyn. Sy het laas sulke sexy goedjies op haar wittebroodvakansie gedra. Na die kinders was sy net nie meer lus om sexy te lyk nie. Dit is harde werk.

Uit die hoek van haar oog kan Tess sien Bianca wys vir die verkoopsdame wat sy uit die kas moet haal. Sy wil liewer nie weet wat haar vriendin koop nie.

Die man van netnou stap nader na Bianca. Haar vriendin flirt wragtig net daar met hom.

Tess kyk nog deur die tooisels rond op die rakke.

“En … sien jy iets wat jy wil hê?” vra Bianca skielik langs haar.

“Alles, maar die goed kos ’n fortuin,” sê Tess en hou ’n lang, swart sjiffonnagrok met swart fluweelpatrone en twee splete wat behoorlik tot onder haar sitvlak kom voor haar skraal lyf. Die lae hals is heeltemal oorbodig omdat mens in elk geval als reg deur die materiaal kan sien. Wanneer sal sy dit ooit dra? wonder sy en hang dit eerder terug op die rak.

“Wat van dié een?” vra Bianca en hou ’n rooi satynnagrok na haar toe uit.

Tess lig haar wenkbroue. “Ek het regtig nie sexy slaapklere nodig nie. Ek sê mos ek slaap alleen, Bianca.”

“Op die oomblik, ja.”

Bianca se woorde vang Tess onkant. Sy het nog nooit regtig daaraan gedink om met enigiemand anders as Tian seks te hê nie. Na vyftien jaar was hulle aan mekaar gewoond. Sal sy dit ooit kan doen? Sy wil eerder nie nou daaraan dink nie.

“Vir wat flirt jy met mans wat in sulke plekke rondloop?” vra Tess net om die onderwerp te verander.

“Het jy nie die man se duur horlosie gesien nie? Sy pak? Sy das?” Bianca waai met haar hand voor haar gesig asof die blote gedagte haar bloed laat borrel.

Tess skud haar kop. Sy kyk afkeurend na haar vriendin, maar dit lyk nie of dit Bianca juis skeel nie.

“Hy het my nommer gevra.”

“En toe gee jy dit vir hom?”

“Natuurlik het ek,” sê Bianca. Sy wys na ’n sexy swart korset wat met toutjies agter die rug toeryg. “Dié een?”

“Nee, man. In daai ding gaan mens nie kan asemhaal nie. Buitendien is my borste te klein.” Tess vat selfbewus aan haar bors. Hoe sal sy tog in een van dié kontrepsies lyk?

Sy kies eerder ’n paar stukkies onderklere wat sy weet sy elke dag sal kan dra. Kledingstukke wat darem nie te ongemaklik lyk nie en tog ook darem sexy genoeg is.

“Ek is trots op myself,” sê Tess toe sy en Bianca op die sypaadjie buite die winkel staan.

“Nè? Volgende keer kan jy jou oë dalk vir ’n paar minute oophou,” spot Bianca. “Kon jy darem iets tussen jou vingers deur sien? Jy het hulle so styf voor jou gesig gehou. Volgende keer kan ons vir jou ’n papiersak oor die kop trek.” Bianca lag.

Tess bloos weer van voor af. “Moenie vir jou laf hou nie. Ek het gekyk … ’n bietjie. Buitendien, as ek ’n sak oor my kop dra, sal hulle dink ek wil die plek beroof.”

Die twee vroue skaterlag.

“Mevrou Tessa Meyer, hallo.”

By die aanhoor van haar naam voel Tess hoe vlamme teen haar nek uitslaan. Terselfdertyd is dit asof haar brein vries.

Bianca stamp vir Tess in die ribbes.

Toe sy tot verhaal kom, kyk sy in dokter Dan se bruin oë vas. Tyd staan ’n oomblik stil.

Eers wil haar tong nie reageer nie. Toe onthou sy dat sy dalk die groot pienk papiersak moet wegsteek. Vergeefs probeer sy om die sak met die woord Hartstog daarop agter haar bene te kamoefleer.

Sy het die man twee weke laas gesien, maar hy het nog presies dieselfde uitwerking op haar. Die kurwe van sy mond verklap dat hy klaar gesien het wat Tess probeer wegsteek.

“Hoe voel die tand?” vra Jan-Daniel, sy oë op hare vasgenael.

Tess weet nie waar om te kyk nie. Die donkerblou denimbroek en ligblou toeknoophemp laat hom goed genoeg lyk om op te eet.

“Ons … ek … my tand voel fantasties, dankie,” sê sy met ’n stywe glimlag.

Kan moeder aarde haar nie nou maar insluk nie?

“Stel jy my nie voor nie?” vra Bianca en steek summier haar hand uit na Jan-Daniel.

Hy vat dit. “Dan.”

Bianca hou sy hand heeltemal te lank vas na Tess se sin.

Sy wil immers nie langer voor haar nuwe tandarts staan en skaamkry nie, maar sy het mos in elk geval besluit sy sal nooit weer na die dokter se praktyk gaan nie. Die stem in haar binneste herinner haar dat Bianca ’n verleidster van formaat is en dat sy wat Tess is dalk nie wil hê haar voorbarige vriendin moet juis vir dokter Dan verlei nie. Waarom dit hoegenaamd saakmaak, is Tess nie seker nie.

“Dit is die tandarts wat my uit my pyn verlos het,” verduidelik Tess in die hoop dat Bianca nou die man se hand sal los.

Maar Bianca wip net ’n lok van haar lang rooi hare oor haar skouer en glimlag breed met haar kersierooi lippe.

Sy is enige man se droom, dink Tess, en sommige mense se grootste nagmerrie.

“Tess het ons baie van jou vertel, dokter.”

Nou is dit Tess wat vir Bianca in die ribbes pomp. O so stadig trek Bianca haar hand uit Jan-Daniel se greep.

Tess voel asof sy ’n beroerte gaan kry. “Bianca!” sis sy deur haar tande en kyk verskonend na Jan-Daniel. “Ek het hulle net vertel van die simpel boodskap wat ek per ongeluk vir jou gelos het.”

Jan-Daniel knik en glimlag ondeund asof hy hierdie gesprek heeltemal te veel geniet. “Ek moet gaan. Julle moet ’n lekker Saterdag hê, dames,” sê hy en beduie met sy kop na die pakkie wat Tess steeds agter haar bene vasklem.

Hy loop ’n entjie weg, steek dan vas en draai om. “O, en Tess … ek hou van jou nuwe haarstyl. Dit pas jou.”

In die kar bars Bianca uit van die lag.

“Dit is nie snaaks nie, Bianca. Net toe ek uiteindelik ’n ordentlike tandarts kry! Nou sal ek nooit weer my gesig daar kan wys nie,” sê Tess.

“Het jy nie gesê jy gaan in elk geval nooit weer jou gesig daar wys nie? Relax. Hy is seker nou vrek nuuskierig oor wat in daardie pienk pakkie van jou is. Ek gee hom ’n dag, dan bel hy jou,” sê Bianca.

Tess slaan haar liggies teen die boarm, maar dit laat haar vriendin net weer van voor af lag. “Ek het vir jou iets gekoop. Dit is in my sak,” sê Bianca.

Tess trek haar oë op skrefies. Sy vat Bianca se sak en loer skepties daarin.

“Nie die pienk boksie nie … dis myne, die nagrok is vir jou.”

Tess tas na die lap en haal dit uit. “Bianca, jy moes nie.” In haar hande is die duur swart sjiffonnagrok wat sy teruggehang het. Sy vat haar vriendin om die nek en druk haar styf vas. “Dis te duur.”

“Nee, dit is nie. Jy gaan deur diep water en ek wil jou bederf. Vat dit, toe. Belowe my net een ding?”

“Wat moet ek belowe?”

“Dat jy dit eendag vir ’n man sal dra … en my agterna alles sal vertel!” Bianca lag.

“Ek belowe,” sê Tess huiwerig. Hoekom het sy so pas weer Jan-Daniel se mooi bruin oë in haar gedagtes gesien?

’n Muse vir Tess

Подняться наверх