Читать книгу ’n Muse vir Tess - Lucille du Toit - Страница 4

2

Оглавление

’n Sagte plukkie aan Jan-Daniel se bed laat hom wakker skrik. Klein handjies vou om sy gesig en die volgende oomblik kry hy ’n nat soen op sy wang. Emma. Hy maak eers of hy nie wakker word nie al hoor hy hoe die kinders giggel en vir mekaar fluister. Dit beteken Emma en Joshua is nou albei op die bed.

Met ’n brul kom hy orent en gryp speels na die twee terwyl hulle kraai van die lag.

“Plaatkoekies!” sing Emma.

“Pappa het belowe,” las klein Joshua by.

“Ek het, het ek nie? Nou maar toe, kom. Gaan was julle hande, dan kan julle my help en later kan ons dalk in die tuin werk. Mooi blommetjies plant,” sê Jan-Daniel vir die kinders.

Teen die tyd dat die plaatkoekies op die tafel is, lyk dit asof ’n orkaan die kombuis getref het, maar die kinders het alles terdeë geniet.

Terwyl hulle eet, kyk hy of daar nuwe boodskappe op sy foon is. Hy sug hardop, want die skerm wys twee nuwe stemboodskappe. Dit was al ’n uur en ’n half terug.

Hy het so gehoop vandag gaan rustig wees, al is hy aan diens. Waar is die dae toe sulke tegnologie nog nie bestaan het nie? Dit kan net een van twee persone wees: sy ma of ’n pasiënt. Daar is altyd daardie een siel wat sy tandpyn tot op die laaste uitstel voordat hy ’n tandarts besoek en wat beslis nie elke ses maande vir ’n roetine-ondersoek kom nie. Dit is ook gewoonlik húlle tande wat die hele week pyn, maar eers op ’n Saterdagoggend ondraaglik word. Hy sal met een van sy kollegas moet praat. Kyk of hy nie dalk sy werksnaweke kan ruil nie. Dit is onsin dat sy enigste tyd saam met die kinders op sy roepnaweke val.

Hy wil nie hê sý naweek met die kinders moet afsteek by die tye wat hulle saam met Sulien en daardie vent van haar is nie. Hy moes al klaar gehoor het hoe Emma vertel van die groot, vet, oranje visse wat sy saam met Mamma en die oom gesien het. Blykbaar vat sy eks en meneer Macho hulle soms Saterdae kwekery toe vir ontbyt.

Hy sal nog moet uitvis presies watter kwekery dit is.

Hier betrap hy hom al weer dat hy aan Sulien en haar nuwe lewe dink. Is hulle dié naweek alleen? Of is die man se kinders dalk by hulle? Hy sou vandag graag “terloops” ’n paar plante wou gaan koop het en hopelik, heel onskuldig, die nuwe man in haar lewe uiteindelik onder oë gekry het, maar nou gaan dit ook nie gebeur as hy na die spreekkamer moet gaan nie.

En as dit van Sulien afhang, gaan hy nooit aan die vent voorgestel word nie. “Dit het niks met jou te doen nie,” sê sy altyd.

Maar hy dink natuurlik dit het als met hom te doen. Vervlaks, sy kinders bly saam met die man onder een dak.

Dit is nog ’n ding wat hom dwars in die krop steek. Terwyl hulle getroud was, wou sy die korporatiewe leer klim en nou het sy haar werk uit die bloute bedank en gaan sy heeltyds kinders grootmaak. Sy het altyd saans laat gewerk. Naweke weggegaan om belangrike kliënte te spreek. Hoeveel keer was dit nie saam met daardie vark nie? Hy verwag nie hulle moet almal nou een groot familie wees nie. Nee, beslis nie, maar die minste wat die bliksem kan doen, is om te kom kennis maak. Buitendien hoort die kinders by hóm wat Jan-Daniel is, en nie by hul ma nie.

Hy trek sy asem in en begin langtand na die eerste stemboodskap luister.

Die glimlag wat skielik aan sy mond trek, word breër. Wat op aarde? ’n Tiener of ’n gigolo? Die skerpsinnige kommentaar laat hom hardop lag.

Emma en Joshua kyk albei na hom.

Nog nooit het iemand vir hom só ’n boodskap gelos nie. Sy eie antwoordboodskap is wel dalk te wyte aan sy gekrenkte ego en ’n vroeë middeljarekrisis, maar hy het tog gedink die pasiënte wat hom ken, sal dit geniet. Duidelik was hy verkeerd. Die tweede boodskap is van dieselfde persoon. Dié keer gee sy haar naam as Tessa Meyer en verduidelik wat met haar tand verkeerd is. Dit klink regtig of sy enige oomblik in trane gaan uitbars. As dit nie was dat die vrou sy planne opfoeter nie, sou hy haar dalk nou jammer gekry het.

Jan-Daniel skakel die nommer terug. Hy verwag ’n helse uittrap omdat hy sy foon nie vroeër beantwoord het nie.

“Huh?” Mevrou Tessa Meyer klink erg deur die slaap en verward. Maar net ’n oomblik later roep sy uit: “Dis jy! Dankie tog.”

Jan-Daniel kan die irritasie in haar stem verstaan. Hy het regtig nie haar oproepe gehoor nie, seker omdat hy en die kinders te veel van ’n geraas in die kombuis gemaak het. Eintlik het hy skoon vergeet dat hy die naweek ander verpligtinge ook het. As die kinders by hom is, is dit nie moeilik om van die res van die wêreld te vergeet nie. Hy sal Maandag uitvind met wie hy naweke kan ruil. Hierdie reëling gaan beslis nie vir hom werk nie.

Maar nou sal hy eers die situasie met Tessa Meyer moet red en die spanning ontlont: “Dit is amper beter,” sê hy glimlaggend.

“Ekskuus?” vra die vrou verward.

“Die vorige boodskappe was nou nie juis sexy nie, jy kan bly wees ek bel jou terug,” terg hy.

Hy hoor ’n geskokte asemteug. “Hoor hier …” Dit klink asof sy hom nou die leviete gaan voorlees, maar dan onderbreek sy haarself: “Boodskappe? Nee … ek het net een gelos,” sê sy. “Daar is seker nog ’n ander pasiënt wat ook sit en suffer totdat die tandarts aan diens eendag opstaan.”

Oukei, so sy grap het nie heeltemal uitgewerk soos hy gehoop het nie. Nie almal het ’n sin vir humor nie. Hy verwag dat Tessa Meyer enige oomblik in sy oor gaan gil en staan gereed om die telefoon op ’n afstand te hou.

“Albei was beslis van mevrou,” sê hy nou meer professioneel. “Ek is seker die eerste een was net nie vir my ore bedoel nie, maar as dit u meer op u gemak laat voel, kan ek u verseker ek is nie ’n tiener of ’n gigolo nie.”

Jan-Daniel tel een … twee … drie sekondes van doodse stilte, dan nog ’n asemteug. Emma en Joshua hang nou aan sy bene. Hulle lag en kyk wie kan eerste soos apies op hul pa se rug klim. Hy probeer hulle wys dat hulle moet stilbly.

“O … dít. Ek het pyn.” Sy klink sowaar skaam. “Jy kan tog sekerlik verstaan?”

“Ek is al erger dinge genoem,” sê Jan-Daniel. Deur my eks, wil hy byvoeg, maar hy los dit eerder. “As jy my oor so tien minute by my spreekkamer kry, dan kyk ek gou na jou tand.”

Toe Tess voor die spreekkamer van die tandheelkundepraktyk stilhou, vlam haar woede van voor af op.

Hier staan ’n rooi dubbelkajuit-bakkie wind­skeef oor twee parkeerplekke, asof dit ’n bood­skap stuur.

Sy trek haar asem diep in en tel tot tien, maar dit help niks.

Sy was nog deur die slaap toe hy netnou gebel het, anders sou sy hom seker ingevlieg het. Ná ’n slapelose nag is dit geen wonder dat sy met die selfoon in haar hand op die rusbank aan die slaap geraak het nie. Hy het omtrént sy tyd gevat om haar terug te bel. En toe maak hy nog daardie simpel grappie oor haar boodskappe wat nie sexy genoeg is nie. Die voorbarigheid! Die man is sowaar kinderagtig. Nee, hy moet beslis pas uit varsity wees. Waar kom hy daaraan om so met pasiënte te praat?

Maar sy besef sy is die een wat verleë is. Boonop het sy haar gekerm as ’n boodskap gelos … hom ’n tiener en ’n gigolo genoem.

Haar verstrooidheid is natuurlik nog iets wat Tian gefrustreer het. Sy ry kopskuddend om die rooi rytuig en parkeer haar wit karretjie netjies in ’n parkeerplek. Sy kan nie anders as om te dink dokter Dan is ’n rebel nie. Wat haar aanbetref, kan hy wees wat hy wil solank hy haar net van haar pyn verlos.

Toe sy uit haar kar klim, maak iemand die glasdeur van die spreekkamer al oop.

Tess bal haar vuiste en stap opsetlik stadiger na die deur. Sy sal haar nie nou laat aanjaag nie. As sy haar sin kon gekry het, het sy die deur met ’n harde slag agter haar toegeslaan, maar dit word met ’n sagte klik agter haar toegemaak.

Dit is eers toe sy opkyk na die lang man dat sy die vriendelike bruin oë raaksien wat haar begroet. Sy moet twee maal kyk. Hy het die mooiste oë wat sy in ’n lang tyd gesien het, nie dat sy heeldag in mans se oë kyk nie, maar oplettend is sy wel. Onder die oë is ’n perfekte neus. Nog laer, ’n warm glimlag en ’n sterk kakebeen. Dag oue stoppelbaard bespikkel die ken.

Vir ’n oomblik tuur Tess asemloos na die sterk hand wat spontaan na haar gehou word. Haar blik volg die arm wat aan die hand behoort soos ’n padkaart na bo. Die man is nog gespierd ook. Breë vierkantige skouers en betaamlike spiere bult uitlokkend onder die rooi materiaal van sy T-hemp. Die mou span styf om ’n bruingebrande arm.

Tess byt haar lip. Fantasties. Nou moet sy nog voor ’n adonis ook kruip. Asof sy haar nie al genoeg skaam oor die boodskap van netnou nie. Voordat sy aan die hand kan vat, skiet die pyn weer deur haar kaak. Dankbaar oor die ontydige onderbreking, snak Tess na haar asem.

“Mevrou Meyer, is jy oukei?”

Hy vou sowaar sy arms om haar skouers. Die aanraking trek soos ’n missiel deur haar lyf.

Tess klik haar tong en ruk los uit sy greep. “Ek is reg, dankie,” is al wat sy uitkry. Netnou laat haar stem haar in die steek, want die ongemak lê nog breed tussen hulle.

Toe die pyn skietgee, kyk sy gou weer na die tandarts. Sy sluk so sag sy kan, maar dit kom harder uit as wat sy gehoop het.

Hy is uiters aantreklik. En heelwat ouer as wat sy verwag het. Tess skat hom net-net veertig, so ’n paar jaar ouer as wat sy is. Gelukkig is hy nie nat agter die ore nie.

Dan kyk sy twyfelagtig na die hand wat hy weer na haar uitstrek.

“Jan-Daniel Vermeulen,” sê hy. “Maar my vriende noem my Dan.”

Dit verduidelik die boodskap op sy telefoon. Jan-Daniel? Wat ’n mooi naam. Dit pas beter by die man wat voor haar staan. Hy lyk nie soos ’n Dan nie.

“Tess,” stel sy haarself voor. Sy vergeet skoon van haar pyn en vat sy hand. Die tandarts se aanraking is sag en warm. “Ek hoop nie jy werk aan tande soos wat jy parkeer nie.”

Sy trek haar hand gou terug asof sy dit pas per ongeluk in kookwater gedompel het en kyk rond. Daar is niemand agter die ontvangstoonbank nie. Die plek is doodstil en onheilspellend leeg. Hulle is stoksielalleen hier.

“Moet wees omdat ek so ’n laatslaper is,” kap Jan-Daniel terug. “Miskien het ek die parkeerplek nie mooi gesien nie …”

Sy trek haar asem skerp in en haar oë op skrefies. Onthou, jý is die een wat verleë is, Tess, maan sy haarself. “Jammer. Ek is nie altyd so giftig nie,” probeer sy die situasie beredder.

“Toemaar, mevrou Meyer, daardie lieflike mond van jou sal binnekort so dood wees, jy sal nie meer ’n woord kan uitkry nie.”

Tess voel hoe sy bloos. Sy probeer die geluid van verbasing sluk voordat dit by haar stembande uitglip, maar dis te laat. Sy ken sy soort. Hy is soos Tian. Sy kar, sy klere, sy houding. ’n Middeljarige man met ’n middeljarekrisis in sy kortbroek en plakkies by ’n U2 T-hemp. Nie soos die een in haar kas wat sy nie wil weggooi al het dit al twee gaatjies nie.

Nee, sý hemp het hy beslis eers onlangs aangeskaf. Alles skree “mid-life crisis”.

Jan-Daniel skuur verby Tess om die spreek­kamer se voordeur agter haar te sluit. Die laaste ding wat hy nou wil hê, is dat nog pasiënte hul opwagting in sy wagkamer sal maak. Hy hoop dit is ’n vinnige prosedure. Voor sy ma se brug-marathon vandag moet hy die kinders weer by haar gaan haal.

Hy glimlag. ’n Brug-marathon, bid jou aan. Hy wonder soms watter onheiligheid alles in daardie aftreeoord aangaan.

Hy lag toe hy sien hoe Tess skrik toe hy die sleutel in die slot draai. Wat dink sy gaan hy met haar maak noudat hy die deur gesluit het? Hel, die vrou het omtrént vooropgestelde idees en dalk ’n skroef ook los.

Nie dat hy sal omgee om daai parmantige mond van haar ’n les of twee te leer nie. Hy is al heeltemal te lank sonder ’n vrou in sy lewe, en ’n man het behoeftes, maar sy dink dan al klaar hy is ’n tiener, ’n gigolo en boonop ’n laatslaper. Buitendien is sy nou ’n pasiënt.

“Stap voor.” Hy beduie in die rigting van die smal gang.

Die vrou is klein en fyn en lyk beslis nie soos wat sy oor ’n foon klink nie. Toe hy so pas aan haar hand gevat het, kon hy sweer ’n skok het deur sy lyf getrek. Sy het haar hand so vinnig weggepluk dat hy wonder of sy dit ook gevoel het? Dit moes sy verbeelding gewees het.

Daar is geen ring aan haar hand nie – en dít het hy hom nie verbeel nie. Mevrou Tessa Meyer, of liewer Tess soos sy haarself noem – hy is nie meer so seker van die “mevrou” nie – is verdomp sexy as dit net nie vir haar bitterheid was nie. Dit herinner hom te veel aan sy eks.

“Die eerste deur links,” sê hy toe sy huiwer.

Jan-Daniel kyk haar geïnteresseerd agterna terwyl sy vooruit stap. Onmiskenbare begeerte slaan hom soos ’n vuishou in die maag. Tess se perfekte klein agterstewe pas volmaak in die denimbroek wat sy aanhet. Daarby dra sy ’n T-hemp en swart-en-wit sneakers. Blonde hare wip oor haar skouers. Glad nie die beeld wat hy in sy kop gehad het na daardie twee boodskappe op sy foon nie. Nee, hy het ’n stewige, veeleisende, prim en propperse VLU-tannie verwag.

Net jammer Tessa Meyer is so kwaai, anders het hy dalk Carla se raad gevolg en weer begin date. Hmm, as vriendin sal Carla verheug wees, maar as sy ontvangsdame sal sy dit dalk nie goedkeur dat hy een van hulle pasiënte date nie.

“Hoe kan ek help, mevrou Meyer?”

Jan-Daniel merk hoe Tess alles om haar inneem: wit mure, beige mat. Wat dink sy? Hy weet die plek lyk nog nie reg nie. Dit kort nog… iets … maar daar was nog nie tyd sedert hy sy praktyk na hierdie gebou geskuif het om uit te werk presies wat daardie iets is nie. Dalk moes hy tog maar vir sy eks gevra het om ’n paar voorstelle te maak. Nee wat, noudat sy ’n nuwe man in haar lewe het, sal dit seker ’n bepaalde grens oorskry. Hy sal maar ’n interieurontwerper kry om die plek te kom omtower.

“Ek is jammer om so vroeg te pla, maar ek het gister aan die tand laat werk en nou is hy vreeslik seer.” Sy sit haar handsak op die toonbank neer.

Jan-Daniel knik.

Sy vroetel met haar handsak. “En … jammer oor die boodskap.” Tess byt haar lip en loer na hom.

Die verskoning kom onverwags. Hy kan nie van haar mond af wegkyk nie.

Terwyl sy op ’n antwoord wag, pruil sy haar mond. Hemel, daar is dit weer: die begeerte wat hom met volle krag tref. Daar was duidelik iets in die plaatkoekies wat hy vanoggend geëet het of dalk is hy net te lank alleen.

Hy kyk liewer weg en begin peuter aan die radio om die atmosfeer ’n bietjie ligter te maak. “Dit is regtig oukei, Tess. No hard feelings,” antwoord hy haar uiteindelik. “Buitendien gaan ek my dikste naald kies vir jou verdowing, dan is ons kiets.” Voor hy kan keer, knipoog hy.

Haar oë rek.

“Van wanneer af het jy die pyn?” vra hy gou.

“Van laas nag af. Dokter De Gouveia het die tand gister gestop. Ek vermoed hy het ’n fout gemaak.”

Jan-Daniel knik. “Was die tand voor die tyd ook seer?”

Tess skud haar kop. “Glad nie. Ek was bewus van ’n gaatjie en daarom is ek tandarts toe, maar dit was nog nie seer nie. Dit was juis om dié tipe krisis te voorkom en kyk nou!”

Jan-Daniel probeer konsentreer op wat Tess sê, maar die beweging van haar mond smokkel met sy kop.

Nadat Tess ’n paar vorms ingevul het, gaan sit sy in die tandartsstoel waarna Jan-Daniel haar beduie. Die stoel se koue leer laat haar ril toe haar lyf daarteen terugsak. Sagte musiek speel in die agtergrond. Dit laat haar ’n bietjie ontspan.

Toe die man nou net vir haar geknipoog het, het dit vir haar gevoel of die res van haar woorde agter in haar keel vasslaan. Sy het eerder stilgebly voordat sy dalk nog ’n sarkastiese opmerking maak. As hy net weet hoe sy naalde haat, sal hy verstaan hoekom sy nie vir sy grappie gelag het nie. Altans, sy hoop dit was ’n grap.

“Skuif bietjie boontoe. Nader aan my.”

Sy skuif haar gewig op sodat sy gemakliker met haar kop lê. Die helder lig bokant haar is amper verblindend.

Dokter Dan het nou ’n masker oor sy mond en ’n paar rubberhandskoene aan.

Vir ’n oomblik kyk sy reg in die man se oë vas voordat sy gou wegkyk. Sy gesig is heeltemal te naby aan hare.

Sy durf skaars asemhaal. Wat op aarde? Is dit haar skildklier of het die vervlakste man se blik so pas haar hormone op hol gejaag? Laat sy maar eerder haar oë toemaak. Die prosedure moet nou net vinnig verbykom. Sy sal haar voet nie weer hier sit nie.

Sy knyp haar oë gespanne bottoe.

“Maak lekker groot oop.”

Sy skrik effens by die aanhoor van sy stem. Tot die klank daarvan is aangenaam vir haar sintuie. Vir ’n millisekonde dink sy hy bedoel dalk haar oë, dan onthou sy hoekom sy eintlik hier is. Sy het sowaar alles omtrent haar ondraaglike pyn vergeet.

Met haar oë steeds toegeknyp, volg Tess sy instruksies. “Argh!” kreun sy van pyn toe hy by haar seer tand begin peuter.

“Jip, daar’s ons culprit. Goed dan.” Jan-Daniel neem blykbaar plate om sy vermoede te bevestig.

Toe sy die man hoor opstaan, dink Tess dat dit veilig is om weer haar oë oop te maak. Net betyds om die inspuitingnaald te sien wat die liewe dokter uithaal.

“Ek gaan die senuwee liewer uithaal … Ek vermoed dokter De Gouveia het dit beskadig toe hy in jou tand geboor het.”

Tess knik en haal diep asem. Dit lyk beslis of hy ’n spesiale naald vir marteling het wat hy hou vir oomblikke juis soos dié. Die lig weerkaats van die naald af. Dokter Dan druk saggies aan die agterkant en ’n druppel vloeistof vorm by die vlym­skerp punt voordat dit stadig teen die naald afrol.

Tess ril weer. Ag tog, dit gaan seermaak.

Toe Jan-Daniel die naald in Tess se kies druk, rol ’n traan skielik oor haar wang. Vervlaks, hier huil sy sowaar voor die man. Sy knyp haar oë weer styf toe, maar is verbaas toe hy veersag die traan afvee met die papierhanddoek wat op haar bors lê.

“’Skuus, ek weet dis seer, maar jy sal nou beter voel,” troos hy.

Tess hoor hom skaars. Is hier iewers dalk ’n gat waar sy haar kop kan indruk? Het hy regtig so pas haar traan afgevee? Hierdie dag wat pas begin het, duur al hopeloos te lank wat haar betref. Sy kry so skaam. Hy sal dink sy is ’n regte sissie wat nie eens ’n inspuiting kan vat nie. Sweerlik lag hy nou agter daardie simpel masker.

Soete wraak.

Terwyl Tess haar mond oopmaak, merk Jan-Daniel ’n strepie geel verf op haar voortand. Dieselfde kleur wat hy netnou onder haar wysvingernael opgemerk het.

Vir ’n oomblik kyk hy na die vrou voor hom. Sy knyp haar oë styf toe, maar die bietjie wat hy kon sien toe hulle oop was, was soos die uitspansel op ’n bewolkte dag. Al het haar oë vir hom hartseer gelyk, is hulle tog mooi op ’n manier.

Tess dra nie ’n greintjie grimering nie. Van die ma’s by sy kinders se skool plak dit behoorlik aan. Om nie te praat oor hoe van hulle deesdae oor hul voete val om geselsies met hom aan te knoop nie. Nee, dié vrou is beslis anders. Sy hoef regtig nie met make-up te bodder nie. Haar vel is perfek. Dit lyk sag en soepel. Op haar delikate neus is ’n paar oulike sproete. Daar is wel sagte lyne om haar oë. Hy is seker hulle kreukel effens wanneer sy glimlag, nié dat hy so iets al by haar gesien het nie.

Dan beweeg sy blik laer af. Hy is seker ’n paar sexy borste kruip onder die T-hemp weg. As die papierhanddoek nie nou daar gelê het nie, sou hy die gleufie perfek kon gesien het. Hy moet keer of sy asemhaling gaan hom verraai. Jan-Daniel kyk gou weg voordat sy pasiënt sien waarna hy staar.

Gedra jou professioneel, Vermeulen, berispe hy homself.

Tog … hy kan dit nie definieer nie, maar daar is iets dêm aantrekliks aan die vrou wat in sy stoel lê. Dit gaan nie net oor wat ’n mens met die blote oog kan sien nie. Sy lyk na ’n gemaklike mens, as dit net nie vir daardie hartseer oë en vlymskerp tong was nie.

Toe sy hom netnou in die oë gekyk het, het sy skielik weer weggekyk. Sulien het altyd gesê hy het so ’n wilde kyk in sy oë, gewaarborg om enige vrou glo af te skrik. Die aanmerking het hom altyd laat wonder wat sy dan ooit in hom gesien het?

Jan-Daniel kyk af na Tess se hande wat om die stoel se armleunings klem. Jip, hy het reg gekyk: Daar is nie ’n ring aan haar ringvinger nie. Sy dra ook nie eintlik juwele nie, afgesien van ’n baie duur horlosie om haar pols. Daaraan het sy seker sentimentele waarde of dalk is sy net prakties en hou sy van ’n horlosie. Nie soos almal wat deesdae sommer na hul selfone loer om te sien hoe laat dit is nie. Hmm, die tyd stap hoeka aan. Laat hy hier klaarmaak.

Tess moet keer of sy wil glimlag vir dokter Dan wat sag op die maat van die musiek neurie terwyl hy aan haar tand werk. Sy neurie ook deesdae in haar ateljee wanneer sy konsentreer op ’n skildery waaraan sy werk. Elke keer wat sy daaraan dink dat sy nou uiteindelik in haar lewe kan doen wat sy nog altyd graag wou, mis sy vir Tian ’n bietjie minder. Sy sal deur die egskeiding kom, sy weet dit. Al voel sy soms so in die steek gelaat. So verwerp.

Hoekom sy juis altyd Tian se aanvaarding nodig gehad het, weet sy nie. Dit was nog altyd net daar soos ’n ou aanwendsel wat nie afgeleer kan word nie, die begeerte om hom iets goeds van haar te hoor sê. Nie dat dit dikwels gebeur het nie. Haar kos het gewoonlik smaak gekort, die beddegoed was te warm of te koud, die nuwe klere wat sy gekoop het net oukei, maar as hy haar die dag wel ’n kompliment gegee het, het dit haar laat voel soos ’n verslaafde wat sy fix gekry het. Soos ’n kind wanneer hy ’n ouer se goedkeuring kry.

Sy wou natuurlik altyd graag haar pa se goedkeuring gekry het en hy, soos Tian, was met niks tevrede nie. Alles kon altyd nog ’n tikkie beter gewees het. Nee, sy gaan nie meer toelaat dat ’n verlange na manlike goedkeuring haar manier van doen bepaal nie. Kwashaal vir kwashaal sal sy haar stukkende siel gesond skilder.

Die inspuiting doen blykbaar sy werk, want Tess voel nie meer die kloppende tand nie. Jan-Daniel werk so mooi met haar. Miskien is hy bang hy moet nog van haar trane afvee. Tess kry sommer van voor af skaam wanneer sy daaraan dink.

Laat sy tog weer ’n vinnige kyk na die dieptes van die man se donker oë waag. Net nog een keer. Om haar kwelling van netnou verkeerd te bewys. Die oomblik toe sy haar oë oopmaak, ontmoet hulle dokter Dan s’n.

Tess vroetel senuweeagtig, verstom dat haar hart wragtig weer ’n ruk gegee het. Die tipe ruk wat Tian die laaste paar jaar nooit meer geïnspireer het nie.

Dokter Dan se harde kug laat haar skrik voordat sy haar oë verleë wegskeur.

’n Muse vir Tess

Подняться наверх