Читать книгу Droomberig - Luné Olivier - Страница 4
1
Оглавление“Dit bring ons aan die einde van vanaand se program. Sluit gerus weer volgende week by Délicieux aan wanneer ons gaan rondsnuffel by vanjaar se Cape Argus Lifecycle Expo.” En Anelia glimlag vir die kamera.
“Ons ervaar ook die Karoo se wondermooi natuurskoon en Anelia kuier by vanjaar se Decorex-uitstalling. Moet dit nie misloop nie,” groet Henry Carstens die kykers.
“Au revoir,” groet Anelia ook.
Hulle albei wag totdat die koördineerder die sein wys dat die kameras afgeskakel is.
Nog ’n suksesvolle uitsending van die vermaaklikheidsprogram. Vandag het dit besonder goed gegaan.
Henry glimlag vir haar: “Dit was ’n goeie aanbieding, Anelia. Ek dink die hele Suid-Afrika kyk na Délicieux net omdat jy die mooiste aanbieder op die kassie is.”
“Dankie.” Met ’n skouerophaling maak sy die kompliment af. Sy probeer haar rok met die geel-en-blou blommotief ongesiens aftrek. Henry het die manier om praatjies te maak wat haar ongemaklik laat voel. Sy vlieg op, skakel die mikrofoon af en haal die gehoorstuk uit haar oor.
Doelgerig stap sy na die kleedkamer waar sy uit haar handsak in die locker ’n rekkie haal om haar lang blonde hare vas te maak. Die handsak hang sy oor haar skouer en wuif in die verbygaan vir almal.
Sy geniet haar nuwe werk, besluit Anelia terwyl sy oor die parkeerarea na haar motor toe stap. Sy kon nie glo dat Délicieux haar as die nuwe gesig van die program gekies het nie; dit was die kans van ’n leeftyd.
“Hey, maak jy aspris of jy my nie hoor nie?” ’n Ferm hand gryp haar arm vas.
“Jy sal my ’n hartaanval gee, Henry!” Sy hou haar vry arm oor haar bors. “Ek is jammer, ek het jou glad nie gehoor nie.”
“Nooi, jy moet versigtig wees, want enige skelm kan jou hier vasvat en ontvoer.”
Henry se irriterende attensies maak haar moedeloos. Die man kry net nie einde nie; sy het hom nog nooit aanleiding gegee nie, maar blykbaar het hy nie die breinkapasiteit om los-my-in-hemelsnaam-net-uit-lyftaal te verstaan nie.
“Nee wat. Ek dink ek is darem veilig hier by die ateljee, maar nou moet jy my asseblief verskoon, want ek is laat vir ’n afspraak.” Sy grawe die motorsleutel uit haar handsak en groet Henry kamma haastig. Gou skakel sy die motor aan en groet die sekuriteitswag voor sy onder deur die veiligheidshek in die rigting van haar huis ry.
Vanmiddag sien sy nie veel van Vrydae se gewone sosiale geskarrel op die paaie in Kaapstad nie. Dis naweek en terwyl die meeste vroue nou optof vir ’n aand uit, verlang sy na haar kat, Milo en ’n liefdesverhaal.
Anelia werk nou al twee maande by Délicieux. Miljoene Suid-Afrikaners kyk elke Donderdagaand na dié uur lange vermaaklikheidsprogram wat reeds agt maande se lugtyd geniet. Die program is so populêr omdat die stories wat gedek word, baie gou gebeeldsend word, glo sy. Gewoonlik kom die stories binne ’n week nadat hulle gebeur het op die lug.
Daardie eerste aanbieding van Délicieux darem! Sy krimp nou nog ineen. Hoewel die span nie regstreeks uitsaai nie, moes sy en Henry die aanbieding ’n paar keer herhaal. Deels omdat sy senuweeagtig was en die program se naam verkeerd uitgespreek het, maar ook omdat Henry sy oë nie van haar kon afhou nie.
Sy het die hele week voor die nuwe aanbieding geoefen om Délicieux reg uit te spreek. Totdat Mercia haar op dié tegniese punt gehelp het: “De-li-sjo”. ’n Franse woord wat “heerlik” beteken.
Om nou eerlik te wees is haar nuwe werk vir haar délicieux! Die afgelope paar maande het sy al die heerlikste kos op die proef gestel en die mooiste skeppings aanskou. Die program is ook omgewingsgerig en bestee baie tyd aan die sosiale kant van die lewe. Iets waaroor sy dankbaar is, want sy is nou maar eenmaal nie uitgeknip vir die ernstige, brutale lewensfeite in nuusberigte nie.
Wat destyds met haar pa gebeur het, het haar uiters bang vir die harde wêreld van die joernalistiek gemaak.
Anelia draai uiteindelik by die oprit van haar meenthuis in Nuweland in. ’n Rilling trek deur haar toe sy uit die motor klim; ’n koel Maartwind waai reeds hier.
Sy druk die knoppie om die motorhuisdeur agter haar toe te maak en loop kombuis toe waar sy ’n koppie melk vir Milo in die mikrogolf sit.
Maestro kom skuur teen haar bene.
“Hallo, my kattie. Het jy na my verlang?” Sy tel hom op. “Jy is seker baie honger?”
Die kat antwoord haar met ’n klaende miaau.
Sy skep vir hom kos uit en giet vars water in sy bak.
Die mikrogolf pieng en Anelia meng haar Milo en skakel die TV aan om na CNN te kyk; dis vir haar interessant om te sien wat die onderskeie internasionale kanale belangrik ag.
Nadat Maestro ’n rukkie besluiteloos rondgestaan het, kom krul hy hom op haar skoot op.
Gelukkig kan sy môre later as gewoonlik slaap. Eers ontmoet sy Mercia by He/Brew’s vir brunch en daarna gaan sy die winkels invaar – iets wat sy altyd geniet. Die stewige kleretoelaag wat sy by Délicieux ontvang, is – naas haar werksbevrediging – die grootste voordeel.
Hoewel sy reeds ’n bekende gesig in sosiale media is, bly Anelia ’n bietjie sku. Daarom plaas sy haarself selde in die kollig.
Dis verbasend dat die skinderkoerante nog nie agtergekom het sy en Zack gaan saam uit nie. Al is hulle nou maar eers drie uiters normale, amper vervelige, maande saam, probeer hy darem om haar spesiaal te laat voel, hoewel sy soms wonder of hy opreg is. Zack het nog nooit enige aanduiding gegee dat hy die heelal sal versit om by haar te wees nie. Aan die een kant geniet sy haar vryheid, maar is ’n verhouding nie veronderstel om allesomvattend, uniek en spesiaal te wees nie?
Ai, en sy ril opnuut, daardie Henry darem! Daar is iets aan hom waarop sy nie haar vinger kan lê nie. Sy is seker dat ander vroue die sosiale blootstelling geniet wanneer hulle aan die sy van iemand soos Henry is, want hy is beslis iets vir die oog, maar sy wil regtig nie buite kantoorure saam met hom kuier nie.
Sy tel haar foon op en druk op haar ma se nommer in die kontaklys.
Dis nie lank voordat haar ma antwoord nie: “Hallo, my skat. Wat ’n verrassing! Ek is so bly jy bel my.”
“Haai, Ma.” Sy weet sy moet meer gereeld bel, want haar ma is verskriklik alleen vandat Anelia se pa oorlede is. “Hoe gaan dit daar?”
“Baie goed, jong. Jy het my net betyds gebel. Ek kom nou van die aftreeoord af waar ek vir van die inwoners koekies gevat het. Piet het byna die hele baksel verorber.”
Anelia hoor die glimlag in haar ma se stem: “Het die omie alles opgeëet omdat dit lekker is of omdat hy Ma se geselskap te veel geniet het?” terg sy.
Haar ma kug effens ongemaklik. “Vertel my eers hoe het dit vandag by Délicieux gegaan?” verander sy gou die onderwerp.
“Baie goed. Met elke program is ek meer op my gemak. Ek moet sê, om uiteindelik te werk in dieselfde ateljee as waar Pa vir soveel jare gewerk het, is ’n belewenis. Ek verlang vanaand verskriklik na Pa, want ek voel om een of ander rede so na aan hom.”
“Ai, my kind. Ek kan dink dit is nie lekker nie. Ek dink ook in die laaste tyd meer as gewoonlik aan hom. Jou pa … Riaan sou so trots op jou gewees het.”
“Ek sou so graag dinge wou doen soos wat hy dit gedoen het, Ma.”
“Ek weet, my kind, maar jy is nou in ’n fase van jou lewe, en ’n plek, waar ek glo jy moet wees en jy is baie goed net daar waar jy is.”
“Dankie, Ma. Hoe was Ma se week?” verander Anelia die onderwerp voordat haar gedagtes weer oortyd begin werk oor die omstandighede waarin haar pa oorlede is.
“Baie besig. Ek moes vandag op aanvraag van ’n kliënt tien dosyn Hertzogkoekies vir die tuisnywerheid bak. Daar is ook volgende maand ’n koekkompetisie waarvoor ek wil inskryf. Die wenner kan ’n kontrak wen om vir ’n baie bekende koffiewinkel te bak. Die plek se naam is iets soos He/Brew’s.”
“O, dis my geliefde koffieplek! Ma moet beslis inskryf. Ma se koeke en poedings is van die lekkerste wat ek al geproe het.”
Anelia is bly haar ma raak weer opgewonde oor haar ou belangstellings – sy is deur ’n baie traumatiese tyd en het gesukkel om haar man se dood te verwerk. “Ek en Mercia gaan eet gereeld by He/Brew’s. Ons ontmoet juis weer môreoggend daar vir ontbyt. Ek en die eienaar, Christiaan, is al op voornaamterme so dikwels kom ons daar. Hulle het die lekkerste koffie in Kaapstad.”
“Dan sal ek beslis inskryf. Wat doen jy die naweek?”
Haar ma stel altyd baie belang in wat in Anelia se lewe aangaan. Sy is ’n huisvrou wat vandat haar man dood is, selfs meer in die gemeenskap woeker. Sy bly nog in die huis in Rondebosch waarin Anelia grootgeword het en is baie betrokke by die kerk, die tuisnywerheid en die aftreeoord in die omgewing.
Hulle gesels ’n rukkie voordat Anelia belowe om die volgende naweek by haar ma te gaan kuier, en aflui. Sy neem die laaste slukkie van haar Milo wat teen dié tyd koud is en staan op. Maestro gaan maak hom tuis op sy bed in die hoek van die eetkamer. Anelia besef dit is nog nie eers halfnege nie, maar sy wil vanaand vroeg inkruip. Nes ’n regte ou vrou.
Anelia skrik wakker van Maestro se halsbandklokkie wat haar maan dis tyd om op te staan. Sommer dadelik is sy ergerlik, want sy het die wonderlikste droom gehad.
’n Vreemdeling met smaraggroen oë het tot diep in haar siel gekyk. Dit het haar veilig en terselfdertyd opgewonde laat voel. Hy het sy duim oor haar halfoop klam lippe gevryf voor sy lippe hare vlindersag aangeraak het. Sy tong het haar lippe saggies oopgedruk en die binnekant van haar mond tydsaam verken. Toe het hy haar nader aan hom getrek en sy soen verdiep.
En … simpel kat!
Sy voel aan haar warm gesig en byt haar onderlip vas terwyl sy haar asem probeer terugkry. Dit het alles so werklik gevoel.
O aarde! Toe sy sien hoe laat dit is, spring sy op. Sy kies ’n swart denimbroek en sagte pienk toppie uit haar klerekas. In haar bedryf durf sy niks waag wat haar voorkoms betref nie. Foto’s of brokkies kommentaar op sosiale media word dikwels uit verband uit geruk. ’n Prys wat sy gewillig is om te betaal vir haar droomwerk, besluit sy toe sy die laaste keer in die spieël kyk.
By die koffiewinkel wag Mercia reeds op haar. “Goeiemôre, jong. Iemand lyk darem lekker uitgeslaap.”
Na universiteit het Mercia as teksskrywer by Nuus-Direk begin werk, terwyl sy wat Anelia is, haar meestersgraad voltooi het. By haar vorige werk het sy as navorser begin en haar opgewerk totdat sy die minder belangrike berigte se tekste begin skryf het.
“Ek kan ongelukkig nie dieselfde van jou sê nie, vriendin.” Anelia frons. “Wat pla?”
Die kelner sit ’n stomende cappuccino voor elkeen neer. “Ek het solank vir jou bestel, He/Brew’s se housebrand.” Mercia wys na die koffie.
“Dankie. Ek het jou gisteraand by die @Media gemis.”
Dis Mercia wat vir haar die werk by Délicieux gekry het sodat sy uiteindelik ’n aanbieder kon word, maar vir die nuusveld sien Anelia steeds nie kans nie.
Christiaan kom groet hulle vriendelik en vra uit na die koffie.
“Daai man het die hots vir jou,” lewer Mercia kommentaar toe Christiaan sy aandag by ander kliënte bepaal.
“Sjoes! Hy kan jou dalk nog hoor.” Anelia kyk bekommerd rond. “Maar ek dink in elk geval nie so nie.”
“Vriendin, soms dink ek jy is blinder as ’n ou, bysiende vrou!”
“Eet ons vanoggend Engelse ontbyt of koek?” vra Anelia om haar vriendin eerder die geleentheid te gee om haar hart uit te praat. Die bui bepaal altyd die kos.
“Maak dit maar regte kos. Ek sal seker nou-nou weer beter voel.” Mercia voeg die daad by woord en wink die kelner nader sodat hulle kan bestel.
“Ek en die man het al weer vasgesit,” begin Mercia oor haar kêrel uitwei. “Ons is nou maar eenmaal soos water en olie. Ek sweer, net as ek dink ek verstaan Shawn, gaan vang hy iets simpels aan. Weet jy wat het hy nou weer gedoen?” Sy skep asem. “Hy het vir my ’n budgie gaan koop. Die man het sowaar vergeet ek jeuk van vere. Ken hy my na ’n hele jaar saam nog steeds nie? Nou moet ek staan en skuldig voel wanneer ek die voël gaan aflaai by die troeteldierwinkel of DBV, of waar ook al.”
Anelia onderdruk ’n glimlag. Haar beste vriendin is ’n karakter. Shawn het sekerlik net goed bedoel. “Hy wou jou seker maar net bederf,” skerm Anelia vir hom.
“Se voet! Kon hy nie maar ’n vis of ’n hond of iets anders gekoop het soos enige ander normale mens nie?”
Die arme Shawn moet ook maar altyd bontstaan as teiken vir Mercia se skoorsoekerige temperament. Sy het nie verniet rooi hare nie, dink Anelia.
“As die arme man jou so irriteer, hoekom gee jy hom nie die trekpas nie?” waag Anelia.
“Nee!” Mercia antwoord so hard dat ’n paar mense se koppe in hul rigting draai. Sy leun vooroor en fluister: “Jy weet, ek het jou mos al gesê hy is die laaste man saam met wie ek ooit wil wees. Ons is soos roomys en sjokoladestroop tussen die lakens. Ek sal nooit weer só saam met ’n man kan wees nie.”
“Wel, daar het jy nou jou antwoord,” glimlag Anelia.
“Ja, jy weet, ek oordryf altyd, maar al wat my genees, is om stoom by jou af te blaas. Wag, ek bel hom sommer nou om op te maak.” Laggend druk Mercia ’n sliert rooi hare agter haar oor in.
Anelia luister hoe haar vriendin die man in haar lewe bel en om verskoning vra. Hulle ruil allerlei stoute liefdeswoordjies uit voordat hulle uiteindelik groet.
“Ek sal julle liefde nooit verstaan nie, Mercia.”
“Nee, jy sal eendag. As jy die regte persoon ontmoet, sal jy enigiets doen om hom altyd in jou lewe te hou,” kom die antwoord.
“En jy dink nie Zack is daardie persoon nie?”
“Nee.”
“Ek begin ook so dink.”
“Het jy uiteindelik besef hy laat jou nie tiek nie?”
“So iets, ja.” Gisteraand se droom het haar sowaar meer laat tiek as al Zack se soene.
“Ek het lankal geweet hy’s nie reg vir jou nie. Jy het nie sterre in jou oë nie. Jy huil nie nagte oor hom om nie. Hy consume jou bestaan nie geheel en al nie.” Mercia is weer op ’n dramatiese tog.
“Verlede naweek se partytjie saam met sy vriende was ’n ramp!”
“Do tell!”
“Om te begin, was hy laat, soos altyd. Daar gekom, het die drank al klaar gevloei. Teen elfuur was Zack so dronk dat ek sy motor alleen na my huis toe bestuur het. Hy het dit die volgende dag kom haal en probeer van toe af nog elke dag om my vir ete te neem om vir sy gedrag te vergoed.”
“Die man het issues.”
Gelukkig sit die kelner die kos voor hulle neer voordat Mercia die geleentheid kry om verder uit te brei.
“Ons het die week nog nie eers tyd gehad om te kuier nie. Hoe gaan dit by Délicieux? Ek is so bly ons werk uiteindelik saam, wel, tegnies gesproke. Dit tel mos dat ons in dieselfde gebou is, nè? As jy eers jou voete gevind het en dinge gaan bietjie rustiger, sal ons nog lekker by die ateljee kan saamklets,” gesels Mercia.
“Ja, die eerste paar weke was omtrent ’n malhuis, maar ek geniet dit om daar te wees. Dit voel of ek uiteindelik in my pa se voetspore volg. Dis asof sy teenwoordigheid steeds daar is,” verklaar Anelia hartseer. “Jy weet watter wonderlike mens en verslaggewer hy was.”
“Hy was, vriendin. Die mense by Nuus-Direk praat nog met soveel lof van hom. Hy was ’n regte go-getter. Niks het ooit in sy pad gestaan wanneer hy ’n storie gedoen het nie.” Daar is bewondering in Mercia se oë.
“Jy weet, Mercia, ek was so jonk en naïef dat ek geglo het die joernalistiek is ’n veilige werk en altyd gewonder het waarom my pa so hard om beskerming gebid het. Eers later het ek besef in watter gevaar sy lewe heel dikwels was. Dit was nou wel sy passie, maar sjoe, jy kry joernaliste en dan kry jy joer-na-lís-te. Soos my pa.” Sy skep asem. “Altyd op die randjie van gevaar om die waarheid na die wêreld te bring.”
“Dalk is dit hoekom, jy weet … dalk kon hy daardie druk nie meer gehanteer het nie?”
“Wie sal weet?” antwoord Anelia, maar sy weet. Haar pa sou nóóit selfdood gepleeg het nie – daarvoor het hy die lewe, sy gesin en sy werk te lief gehad. “Ons kos word koud,” verander sy die onderwerp en vat ’n hap van haar worsie.
Hulle kuier verder lekker saam sonder om weer te verwys na enige van die mans in hul lewes. Mercia groet haar met ’n stewige drukkie voordat sy, volgens haar, verder gaan “opmaak” met Shawn.
Anelia het haar lus vir inkopies verloor en keer eerder terug huis toe om te gaan afstof, vloere mop, badkamer skrop en wasgoed was – na vanoggend se ete het sy baie om oor na te dink, en die alledaagse takies bring vir haar ’n mate van kalmte en berusting.
Teen vieruur is Anelia lyfseer gewerk. Haar meenthuis is van hoek tot kant silwerskoon. Elke kas is afgestof, tot die lysies teen die vloere is afgevee. Daar is nie ’n vuil rak of tafel te siene nie. Selfs haar DVD-versameling is skoongemaak en die stort se drein geskrop.
Anelia bekyk die vertrek om haar. Haar blyplek kan dalk skoon wees, maar haar gedagtegang is steeds ’n warboel van emosies en onsekerhede.
Van die begin van hul verhouding af ontbreek die passie tussen haar en Zack. Ja, Zack gedra hom reeds soos iemand wat deur ’n midlife-crisis gaan, maar hy het haar nog altyd op ’n troontjie geplaas.
Onder die stort dink sy weer aan die kuier die oggend saam met Mercia. Kan ’n verhouding regtig so allesoorheersend soos Mercia en Shawn s’n wees? Altyd aan die stry, maar met soveel liefde, vonk en vuur. Haar en Zack se verhouding kan eenvoudig nie in dieselfde kategorie geplaas word nie.
Eintlik kan hul verhouding in geen kategorie geplaas word nie, besef sy hartseer. Voor sy vriende is Zack altyd katjie van die baan en irriteer hy haar eintlik grensloos. Maar wanneer dit net hulle twee is, voel dit vir Anelia asof hulle eintlik alleen en eensaam in die wêreld is. Selfs wanneer hulle oor alles en nog wat gesels en allerlei toekomsplanne saam beraam. Daardie “tiek” waarvan Mercia praat, ontbreek eenvoudig steeds. Selfs Zack se soene is beheers en hou geen belofte van passie in nie. En dit alles laat haar nou nie eintlik begeerlik voel nie.
Dit bly vir haar ’n probleem dat Mercia nie van hom hou nie, en al sê haar ma niks nie, vermoed Anelia sy is ook nie mal oor hom nie. Is sy dan die enigste een wat Zack se mooi eienskappe raaksien? Die feit dat hy gedrewe, ferm en doelgerig is, is tog ’n pluspunt.
Sjoe, daardie droom van vanoggend! Die donkerkopman spook tydig en ontydig by haar. Sy bruingebrande arms klem haar lyf teen hom vas sodat hul liggame soos ’n legkaart inmekaar pas. Maar dis onmoontlik. So ’n droomman kan seer sekerlik tog nie werklik bestaan nie? “Tsskk,” klik sy haar tong. Malligheid!
Sy druk haar kop onder die gietende water en was haar hare driftig. ’n Verhouding soos wat sy en Zack het, is veilig en ongekompliseerd. En dit is hoe sy haar lewe verkies.
Sondagoggend staan Anelia lui op. Sy weet nie wat om met haarself aan te vang nie. Die huis is klaar skoon na gister se malle geskrop.
Sy gaan so min moontlik doen. Sy sal eers stort en dan die gemaklikste klere aantrek. Daar is ’n roman wat al vier weke lank in die boekrak staan en wag om gelees te word. Dan gaan sy ’n pizza laat aflewer en vanaand wil sy na ’n romantiese fliek op die televisie kyk, want sy het beslis bietjie romanse in haar lewe nodig. Iemand wat haar van haar voete af sal swiep.
Die karakters in die boek se liefde is in volle blom en haar pizza reeds halfgeëet toe haar foon lui. Zack!
“Praat asseblief gou, dis ’n ongeleë tyd,” sê Anelia kortaf sonder om te groet, nog steeds kwaad vir hom. Na verlede naweek se moles bel Zack nog elke dag, daarom dat sy maar eerder antwoord, anders gaan hy haar in elk geval net aanhou pes.
“Lyk my dit is altyd ongeleë wanneer ek bel. Jy antwoord nooit meer my oproepe nie.”
“Ek is besig by die werk, Zack. En eerlikwaar, ek is nog kwaad vir jou oor die fiasko laas Saterdag. Jy kan nie elke keer wat jy saam met jou vriende is so handuit ruk nie.” Sy kan presies hoor hoe suur en preuts sy klink.
“Ag, prinses, ek het so min tyd omdat die werk my so besig hou. Dit was ’n geleentheid om saam met jou te ontspan. Ek het so na jou verlang.”
Anelia bly eerder stil voordat sy iets sê wat kon gebly het.
“Geniet jou dag, prinses. Ek bel jou in die week sodat ons my nuwe kontrak kan vier.”
Anelia onthou nou dat hy op pad na die braai so iets genoem het. Zack is ’n senior vennoot in ’n maatskappy wat op die oop mark met aandele spekuleer. Sy nuutste triomf is die kontrak met Western Werne wat hy losgeslaan het, en dié firma is invloedryk. Hy leef vir sy werk en is ambisieus en droom daarvan om eendag baie geld te hê, wat seker ook ’n goeie eienskap is.
“Tot siens,” groet Anelia en druk die foon dood. Kan die man nie ’n slag dink en twee en twee bymekaar sit nie? Maar hieroor gaan sy haar beslis nie vandag kwel nie. Sy vou die boek weer oop en lees verder, maar word later die middag onderbreek toe Zack weer bel.
Sy ignoreer die oproep en leun terug teen die bank.
Die res van die dag verloop soos wat sy beplan het. Sy klim die aand kommervry in haar warm bed.