Читать книгу Droomberig - Luné Olivier - Страница 6

3

Оглавление

Twee weke later voel dit vir Anelia asof sy al baie gemakliker optree met die wêreld se oë op haar. Haar glimlag kom nou natuurliker en sy is bekend met Délicieux se prosedures, sowel as die aanbieding self.

Dit is Dinsdagoggend en sy moet voorberei vir ’n onderhoud met ’n bekende akteur.

“Skattebol, ek weet nie eers hoekom jy in my mooimaak-stoel kom sit nie, jy is beautiful genoeg,” skerts Donovan die stilis.

“Jy het my nog nie soggens sonder my geplakte gesig gesien nie,” gesels sy saam.

“Nee wat, Donovan ken die tricks of the trade. Jy het inner beauty. Ek dink ek moet eerder daardie ander ou tannie deegliker onder die kwas kry. Die een wat soms die weerburo vir Nuus-Direk doen. Goeie genade met ’n hoofletter G. Dit vat my ure om haar presentable te maak.”

Donovan is ’n karakter op sigself, en Anelia laat hom maar begaan. Vandat sy die eerste dag by Délicieux ingestap het, het hy haar op haar gemak laat voel.

“Daar’s hy. Jy is all done. Gaan maak nou die ou vaal omies se dag daar op die kassie.”

“Dankie, Donovan.” Anelia kyk in die spieël. “Soos gewoonlik het jy wondere verrig,” komplimenteer sy hom voordat sy groet en haar na die aanbiedingstoel haas.

Die onderhoud verloop vlot, en die tegnici is tevrede na die eerste poging.

“Haai, Anelia. Ek het ingestaan by die onderhoud. Jy het regtig ’n goeie storie gedoen,” gesels Bernice vrolik.

“Dankie vir die kompliment. Wat doen jy hierdie tyd van die aand nog hier?” vra Anelia terwyl sy vir haar koffie ingooi.

“Ek wag vir Lewis om terug te kom van ’n storie wat hy laat vanmiddag geskiet het,” verduidelik Bernice.

“Ek het nie geweet julle is saam nie?” sê-vra Anelia terwyl Bernice se wange verkleur. “Ag, ek is bly vir julle part. Julle maak ’n oulike paartjie.”

“Dankie,” kom dit skaam.

Anelia sien Henry uit die hoek van haar oog waar hy saam met medewerkers staan. Hy staar haar skaamteloos aan. Sy draai liewer om en kyk anderpad.

“Ek …” Die volgende oomblik stort Anelia die warm koffie amper oor haar hand uit. Sy verstik en haar keel trek heeltemal toe, want aan die ander kant van die vertrek staan hý.

Bernice het die beker intussen uit haar hand gevat en klop haar liggies tussen die blaaie.

O genade, hy is op pad hierna toe, besef Anelia. Dié idee laat haar selfs hewiger hoes.

Wat ’n spektakel maak sy nou! Selfbewus vryf sy oor haar nuwe rooi rok.

Leon vou sy sterk vingers om haar elmboog. “Is jy OK, Anelia?” vra die bekende warm stem.

Anelia kan net knik terwyl sy die trane uit haar oë vryf.

“Ek gaan kry gou vir jou ’n glas water,” bied Bernice aan en stap wasbak toe. Anelia wil nog verduidelik dat dit regtig nie nodig is nie, want die ergste is verby, maar Bernice is klaar vort.

“Jy lyk beeldskoon,” fluister Leon saggies in haar oor.

“Ek het nie verwag om jou hier te sien nie,” is al waaraan Anelia kan dink om te sê.

“Gewoonlik sê mens dankie vir ’n kompliment,” grinnik hy weer saggies.

Die kuiltjie in sy wang toor haar stem heeltemal weg.

“D … dankie, Leon,” kry sy dit uiteindelik uit.

“Ek is bly om te sien jy onthou nog my naam.” Sy vingers streel hoër op teen haar kaal arm.

Vir ’n oomblik voel dit asof sy weer aan die hoes wil gaan.

“Ken julle mekaar?” Bernice is terug met die water. Dankie tog, Leon neem sy hand van haar arm af.

“Dankie.” Dankbaar vat Anelia die glas by Bernice en neem twee groot slukke.

“Anelia het in my vasgewaai,” sê Leon bondig met ’n skewe glimlag.

En amper gaan Anelia weer aan die stik.

“Dit was met die storie van die suidooster waarheen jy my twee weke gelede gestuur het,” verduidelik sy.

“Say no more,” knipoog Bernice vir haar. “Hier is Lewis nou. Tata, mense.”

“Kom eet vanaand saam met my,” nooi Leon hier langs haar.

“Vra jy my of sê jy my?” Anelia besluit om hom van sy eie medisyne te gee.

“Ek vra groot asseblief, Anelia.”

Die manier waarop hy haar naam sê, laat haar bene so week voel dat sy knik.

Hy stu haar aan die elmboog na die hoofingang. Sy moet eers ’n paar sekondes gaan stilstaan voordat sy onthou wat sy veronderstel is om te doen.

“Ek wil net my handsak uit my locker gaan haal,” beduie sy toe, en kies koers na die aantrekkamers.

Leon wag op dieselfde plek toe sy terugkom. Gelukkig raak hy nie weer aan haar nie en stap hulle in stilte oor die parkeerarea tot by haar motor. Dit is asof haar brein in watte verander wanneer hy aan haar vat.

“Kan ons eers jou motor huis toe neem, dan ry jy sommer saam met my?” vra hy galant.

Sy huiwer ’n oomblik voordat sy antwoord, want sy dink dis nie ’n goeie idee om hierdie vreemdeling nou al na haar veilige nessie te neem nie – hy het haar wêreldjie klaar van die as af gekantel.

“Kom ek ry agter jou aan.”

“Goed so. Daar is ’n oulike eetplek in Observatory.”

Weer eens knik sy net.

Leon wag by haar motordeur totdat hy die deur hoor sluit voordat hy na sy motor stap.

Sy kyk na sy lenige lyf, die denimbroek wat styf om sy ferm agterstewe vou, en besef sy moet konsentreer toe hy begin ry.

Wat vang sy tog aan? Sy herken haarself amper nie.

Pre-Leon sou sy nooit enige man se uitnodiging vir ete so maklik aanvaar het nie. En hier klap hy net sy vingers, en sy volg hom soos ’n marionet. Haar gedagtes dwaal sodat sy by ’n robot vinnig rem moet trap om te voorkom dat sy in die agterkant van Leon se motor vasry.

Konsentreer, Anelia. Dié man maak dit onmoontlik om te fokus.

Tot haar verbasing hou Leon voor He/Brew’s stil. Hy kom na waar sy haar motor parkeer en hou die deur oop.

“Hoe het jy geweet?”

“Dit is my gunsteling …” gesels hulle byna gelyk.

Hulle glimlag vir mekaar.

“Jy eerste,” bied hy aan.

“Dit is my gunsteling-koffieplek. Niemand maak beter cappuccino’s as He/Brew’s nie.”

“Ek weet. Ek kom baie hierheen. Ek is bevrees koffie is my downfall.”

Beslis iets wat hulle gemeen het. Sonder koffie sal sy sowaar sterf.

“Dis vreemd. Hoe is dit moontlik dat ons mekaar nog nooit voorheen hier raakgekuier het nie?”

“Ag, seker verkeerde plek, verkeerde tyd, jy weet,” trek hy sy skouers op.

Net daar besef Anelia dat sy Leon al voorheen moes gesien het: hiér, dis ál verklaring vir haar drome. Dit maak mos nie sin dat sy net sommer van ’n vreemde gesig sou droom nie; sy moes hom al voorheen hier gesien het, en sy beeld moes diep indruk op haar onderbewussyn gemaak het.

“Kom ons gaan in,” stel Leon voor. “Dis koelerig hier buite.”

Christiaan kom groet hulle by die deur. “Haai, Anelia. Hoe gaan dit met jou?”

“Vra my weer wanneer ek klaar van julle lekker koffie inhet,” skerts sy.

Christiaan neem hulle na die hoekie van die restaurant. Toe gesels hy nog ’n rukkie. Opgewonde vertel hy van die koekkompetisie wat hy wil hou om ’n nuwe bakker te soek.

“My ma het my van die kompetisie vertel. Sy gaan beslis inskryf!” gesels Anelia geïnteresseerd saam. “Haar gebak is uit die boonste rakke. As jy wil, Christiaan, kan ek dalk probeer om iets by die ateljee te reël oor die kompetisie? Miskien ’n bietjie reklame?”

“Dis sal wonderlik wees.” Christiaan vat liefdevol aan haar arm.

Die blik in Leon se oë ontgaan haar nie. Sy hoop nie hy dink …

“Ek belowe niks nie, maar ek sal my bes doen.” Gelukkig groet Christiaan en kan sy haar volle aandag weer aan die aantreklike man oorkant haar gee.

“Klink my jy is ’n regular hier?” vra Leon, effens afgetrokke, nie oorlopend van vriendelikheid nie.

“Jip, ek is bevrees ek is ook ’n volslae kafeïen-junkie.”

“Sal ek vir ons wyn bestel? Wat verkies jy?” vra Leon.

“Rosé, asseblief. En vir poeding, beslis ’n mocca chocca.”

Anelia kyk onderlangs na Leon terwyl hy die bestelling plaas. Die sterk kakebeen. Die bruin hare is ietwat verwaaid. Die lippe vorm ’n glimlag toe die kelner hom uit die voete maak.

“Wat het jy vanaand by @Media gedoen? Ek het jou nog nie vroeër daar gesien nie?” vra Anelia belangstellend, nou meer op haar gemak.

“Ek doen so nou en dan kontrakwerk vir Nuus-Direk. Wanneer ’n belangrike saak meer intensiewe ondersoek vereis, roep hulle my in om navorsing te doen en seker te maak van die feite voordat die storie loop.”

“Is jy dan ’n privaat speurder?”

“Nee, ek is ’n spesialis in bedrogondersoeke. Vir enigiets wat met finansies, data-ontleding of korrupsie te doen het, ontsyfer ek die dokumente en verifieer feite. Gewoonlik neem prokureurs of ouditeurs my in diens, maar soms doen ek ook kleiner kontrakwerk soos vir Nuus-Direk.”

“Nou waarvoor is jy nou aangestel?” Haar nuuskierigheid kry die oorhand.

“Jy, met al jou vrae, is beslis in die regte beroep,” glimlag hy. “Ongelukkig kan ek nie vertroulike inligting laat uitlek nie.”

Die kelner verskyn weer tussen hulle. Terwyl hy skink, heers daar stilte.

“Vir iemand wat dikwels op die kassie is, is jou lewe nie baie in die media nie. Ek dink nie ek het al ooit iets van jou op enige sosiale media gehoor nie,” vervat hy die gesprek.

“Ja, ek probeer my privaat lewe so hou, maar vertel my eerder van jou vorige ondersoeke,” versoek Anelia.

Leon brei uit oor van sy vorige kontrakwerk. Anelia vind sy geselskap interessant en stimulerend. Iets wat sy selde ondervind het in die geselskap van Zack wat eintlik altyd net oor homself gepraat het.

Die kelner maak weer sy verskyning om hulle bestelling te neem.

“Weet jy miskien wat jy wil hê, Anelia? Ons het nog glad nie na die spyskaart gekyk nie.”

“Dis nie nodig nie. Ek sal die Engelse muffins vat met ham en avokado en ’n medium eier, asseblief,” plaas sy haar bestelling.

Leon kyk na haar asof sy iets snaaks gesê het, maar hy bestel die special van die dag van biefstuk, eier en skyfies.

“Ontbyt vir aandete?” vra Leon met geligte wenkbroue nadat die kelner verdaag het.

“Ja, moenie vir my lag nie,” verduidelik sy ernstig. “My ma was, hoe sal ek sê, nie altyd die gewilligste kok op aarde nie. Sy is die beste bakker wat ek ken, maar boerekos maak was nie haar idee van ’n lekker tydverdryf nie. Ons moes baie keer ontbyt vir aandete eet wanneer sy nie lus was om te kook nie. Sy het dit altyd ‘brinner’ genoem, breakfast for dinner. Ek het die slegte gewoonte ongelukkig ook aangeleer.”

Leon lag heerlik. “Dit klink … lekker. Jy sal dit maar een aand vir my moet maak.”

Praat hy sowaar al klaar van ’n tweede afspraak?

“Sê net wanneer. Ek is ’n professional in brinners,” skerts Anelia saam.

Skielik word Leon se gesig ernstig. “Hoekom wou jy nie nou die dag jou nommer vir my gee nie? Is daar iemand spesiaal in jou lewe en is vanaand net jou manier om dit vir my te sê?”

“Ja … Nee.”

Leon bly haar vraend aankyk.

“Ek sou nie jou afspraak aanvaar het as daar iemand was nie.”

Die arme Zack het nie nou die dag die trekpas verwag nie. Hulle het in die onpersoonlike koffiewinkel ontmoet. Hy het haar op die lippe gesoengroet en dadelik weer oor Western Werne se miljoene begin uitwei.

Al wat sy eintlik nou van die afspraak kan onthou, is die ondrinkbare filterkoffie. Amper het sy nog die flou skottelgoedwater in die beker teruggespoeg. Uiteindelik moes sy Zack onderbreek om ’n spreekbeurt te kry.

Hy het haar verslae aangestaar, sy gesig vanaf die nek bloedrooi. Sy mond het net ’n paar keer oopgegaan soos ’n vis wat na lug soek. Kinderagtige tiener wat hy in wese is, het hy toe op haar geskree, sy baadjie gevat en by die deur uitgestorm. Die vent het haar sowaar met die rekening gelos sodat sy vir die slegte koffie, waarvan sy slegs een sluk gevat het, moes betaal.

Maar watter verligting was dit nie! Dit het gevoel of ’n las van haar skouers af is. Daar is ’n rede waarom hulle verhouding nooit tot ’n dieper vlak ontwikkel het nie. In ’n verhouding, het sy ontdek, kan “veilig” en “vervelig” sinoniem wees.

“Hoekom is daar niemand in jou lewe nie?”

Anelia weet nie hoe om hierdie vraag te beantwoord nie. “Ek weet nie.” Wat kan ’n mens nou eintlik sê? Sy begin ongemaklik raak oor die rigting waarin hierdie gesprek afstuur. “Ek raak nie sommer by enige man betrokke nie.”

“Dan voel ek opreg geëerd dat jy my vanaand die geleentheid gegun het om jou uit te neem.”

Spot hy nou met haar?

“Hoekom is ek dan die uitverkorene?” vra hy belangstellend.

“Ek weet nie,” antwoord sy ontwykend. Sy kan nie juis vir hom sê dat hy haar voete vanaf hul eerste ontmoeting heeltemal onder haar uitgeslaan het nie. Mmm … Eintlik al in haar drome!

“Ek hou jou nie in kruisverhoor nie,” verseker Leon haar. “Dis net moeilik om te verstaan hoekom jy nog nie deur iemand opgeëis is nie?”

“Ek weet nie,” is al wat sy werktuiglik antwoord.

Leon neem haar hand in syne. Dit voel asof geen man haar hand al ooit tevore so sagkens, so liefdevol aangeraak het nie. En vir ’n oomblik weet sy ook nie hoe om te reageer nie

“Ek is bly daar was nog nie so iemand nie,” hervat hy die gesprek. “Kan ek jou asseblief na vanaand weer uitneem?”

Die vraag is so ernstig, so opreg.

Sy byt haar onderlip vas en knik haar kop stadig. Weer eens kry hy dit reg om haar net “ja” en “amen” op alles te laat sê. Is sy nie in staat om hom te weerstaan nie?

“Ek sal jou nie in die steek laat nie,” belowe hy. Hy laat haar hand gaan toe die kelner met hul kos te voorskyn kom.

Nou sing haar hart die ongelooflikste melodie.

“Jou ontbyt lyk lekkerder as my aandete,” kla Leon toe die borde voor hulle neergesit word.

“Brinner,” korrigeer sy hom glimlaggend.

Die res van die aand sweef Anelia op ’n wolk. Die geselskap, die kos en natuurlik, die mocca chocca, word ’n sprokie.

Leon is ’n regte heer. Hy laat haar op haar gemak voel en luister met eerlike belangstelling wanneer sy gesels. Sy is eintlik teleurgesteld toe die kelner aankondig dat He/Brew’s wil toemaak.

Leon betaal die rekening terwyl Anelia vir hom by die voordeur wag. Sy hou hom dop toe hy sy beursie weer in sy broeksak steek. Hy lig dieselfde hand en vryf sensueel oor sy mond.

Aaa! Daardie lippe vra om gesoen te word.

Ingedagte knibbel sy aan haar bolip. Wat gaan sy doen as Leon haar wil soen? Terugsoen? Hom van haar af wegstoot?

Sy skrik effens toe hy meteens langs haar staan en die deur vir haar oophou. Woordeloos stap hy saam met haar tot by haar motor.

Bietjie onseker staan sy rond. Sê sy net “totsiens” en spring in die motor?

Die volgende oomblik druk hy haar teen die motor vas. Die venster is koud teen haar rug, maar sy gee nie om nie. Sy onderlyf dring teen hare terwyl hy met sy wysvinger se rugkant vanaf haar oor af tot by haar ken streel. Toe neem hy haar ken tussen sy voorvinger en duim vas. Haar hele wese wil uitskree dat sy lippe hare moet aanraak sodat sy die warm binnekant van sy mond kan verken.

“Kan ek nou maar jou nommer kry?” Sy soenbare lippe beweeg aan die een kant op in ’n skewe glimlag en hy hou sy foon na haar toe uit.

Met bewende vingers tik sy haar nommer in. Hopelik korrek.

“Ek sal agter jou aanry om seker te maak jy kom veilig by die huis.”

Hoe is dit moontlik dat die man se stem so ontspanne, so neutraal klink? Dit voel of sy haar stembande iewers langs die pad verloor het, en hy praat asof daar niks op hierdie aarde fout kan wees nie.

Sy kug voor sy hom gerusstel dat dit regtig nie nodig sal wees nie.

“Dis gevaarlik om hierdie tyd van die aand vrou-alleen buite te wees.”

Is dit nou net ’n kamma besorgde manier om meer van haar te wete te kom? Sy hou nie daarvan om mans wat haar vir die eerste keer uitneem, haar woonplek te wys nie.

“Dit is regtig nie nodig dat jy saamkom nie. Ek bly net hier om die draai,” skerm sy weer.

“Ek kan jou nie net hier alleen in die straat los nie, Anelia.”

“Nou maar goed,” gee sy toe. “Maar jy gaan nie inkom nie.”

“Hoekom nie?” vra die tergende stem.

Sy het nie ’n antwoord gereed nie, en gelukkig laat Leon dit ook daar.

“Ek sal dan net agter jou aanry. Ek bel jou môre. Jy moet asseblief veilig ry, Anelia.” Hy neem haar hand in syne en soen die palm sag en warm.

Haar hele liggaam voel koud toe hy van haar af wegbeweeg. Dis met moeite wat sy orent kom en haar motorsleutel in haar handsak soek. Sy voel lomp terwyl Leon haar so aandagtig dophou. Uiteindelik vind sy dit, en staan Leon effens agtertoe sodat sy die deur kan oopmaak.

“Lekker slaap.” Anelia het nie die vermoë om meer as hierdie twee woorde te sê nie.

“Ek slaap altyd lekker wanneer ek van jou droom,” beloon hy haar weer met die skewe glimlag. Hy wag totdat sy ingeklim het en maak die deur dan toe.

Werktuiglik maak sy die sitplekgordel vas, druk die sleutel in die gleuf en skakel die ligte aan, alles asof in stadige aksie. Gelukkig is die kompleks waarin sy woon, nie ver hiervandaan af nie, want sy weet nie hoe sy met haar deurmekaar kop by die huis sou kom as sy ver moes bestuur het nie.

Anelia is dankbaar toe sy veilig by hul klein kompleks stilhou.

Leon wuif vir haar toe hy sien die groot hek wat toegang aan al die inwoners verleen, begin toegaan.

Tuis maak sy gou gereed vir die bed en het net ingeklim, toe haar foon ’n biepgeluid maak. Dis al na tien. Wie sou dié tyd van die aand ’n boodskap stuur? Maestro kom stel ook ondersoek in en spring op die bed.

“Ja, kat. Jy weet jy mag nie hier slaap nie, maar vanaand sal ek ’n uitsondering maak.”

Hy kom spin teen haar.

Ek kon nie wag tot môre nie. Dankie vir ’n onvergeetlike aand. Droom van my. L

Haar vingers huiwer oor die sleutels. Wat moet sy antwoord? Sy begin tik, maar vee die boodskap dadelik weer uit. Na die derde probeerslag sit sy die foon op die bedkassie neer en skakel die lig af, maar dit duur nog lank voordat sy uiteindelik aan die slaap raak.

Die hele deurmekaar nag is sy nie seker of sy droom of net aan haar droomman dink nie. Die ding moet nou end kry, want sy kan amper nie glo dat so iets in die wêreld bestaan nie.

Soveel passie, soveel intensiteit, soveel ekstase …

Anelia staan tydsaam op om gereed te maak om na haar ma toe te gaan. Sy is vandag proefkonyn vir die bakkompetisie, dus gaan sy nie eers ontbyt eet nie. Sy het gereël om Délicieux se kameraman later vanoggend in Rondebosch te ontmoet by die nuwe boetiek waaroor sy ’n storie moet dek.

“Ek het die perkoleerder vir jou aangesit,” groet haar ma haar met ’n soen toe sy die voordeur oopmaak.

“Sjoe, Ma, dit ruik hemels hier! Vanoggend is die koffie sowaar ’n bysaak. ”

Haar ma stap voor haar uit na die kombuis. Op die tafel staan drie koeke.

“Oe, maar Ma het omtrent uitgehaal!”

“Ja, ek het gisteraand tot laat versier. Ek het dit so geniet, Anelia.”

Dit lyk regtig of haar ma weer haar lus vir die lewe ontdek het.

“Skink vir jou koffie, ek kry die borde en eetgerei.”

“Onthou, ek het net ’n uur. Die storie wat ek moet doen, is sommer hier om die draai.”

“Ek het alles klaar reggepak sodat jy betyds sal kan wees.” Haar ma sit ’n bordjie voor haar neer. “Dit is die miljoenêr-moussekoek. Daar is roomkaas en karamelkondensmelk in die vulsel.”

Anelia hap ’n vurk vol van die klam donkerbruin koek met die ligbruin versiersuiker. Sy sluit vir ’n oomblik haar oë om die onvergelyklike smaak in te neem.

“Dis die wenresep, Ma,” verklaar Anelia oortuigend.

“Jy het nog nie eers aan die ander twee geproe nie.”

“Ek sal aan hulle proe, maar ek belowe Ma, dít,” Anelia wys met die vurk na die stuk koek, “is die wenner.”

“Hierdie een het weer ’n sjokoladesous oor met sprinkelneute en ’n klein bietjie Amarulageursel,” verduidelik haar ma.

Anelia proe aan die soet, stroperige donkersjokoladekoek.

“Mmm, dis heerlik.”

Haar ma kry die laaste stuk koek gereed. “Die rooi fluweelkoek is anders as die gewone fluweelkoeke. Die smaak is verryk met heuning en bessiestroop, vandaar die dieper rooi voorkoms.”

Anelia moet twee happe neem om die ware smaak van die koek te proe.

“Watter een dink jy staan ’n kans?” vra haar ma onseker.

“Beslis, ongetwyfeld, die eerste een. Dis absoluut heerlik. Kan Ma asseblief vir my sommer nog ’n stuk sny? Wat gaan Ma met al hierdie koek doen?”

“Ek het gereël dat ek alles later na die ouetehuis sal vat. Dan kan ek sommer ook hoor wat hulle daarvan dink.”

“Vir die ouetehuis of vir oom Piet?” kan Anelia nie anders as om te terg nie.

“Moet nou nie verspot wees nie, kind.” Haar ma se gesig verkleur effens.

“Ma moet net oppas dat al hierdie koek die ou mense nie in ’n diabetiese toestand skok nie, want ek glo nie hulle of oom Piet sal kan ’nee’ sê vir al dié bederf nie.”

“Natuurlik gaan ek eers vir jou ’n stukkie van elk afsny om huis toe te vat.”

Hulle kuier nog ’n ruk voordat Anelia weer moet ry.

Intussen het Bernice haar gebel om te sê dat die baas haar wil sien sodra sy weer op kantoor is.

“Middag, Anelia,” groet Fick toe Anelia later by sy kantoor instap.

“Middag, dis goed om jou weer te sien.” Sy het hom nog net een keer tevore ontmoet en dit was toe sy die eerste dag hier ingestap het. Bernice het haar voorgestel, maar vir haar het dit gevoel of sy nie eintlik ’n indruk op Fick gemaak het nie.

“Ja. Ek moet sê, jy doen uiters goeie werk, Anelia.”

Verligting daag oor haar. As die baas komplimente uitdeel, moet sy die kykers tog bietjie beïndruk. “Ons kyksyfer het gestyg vandat jy by Délicieux aangesluit het.”

“Dankie, dit is baie goeie nuus.”

“Ja, dit is. Behalwe dat jy ’n goeie aanbieder is, is jou stories opgewek en interessant. En die mense hou daarvan om na jou te kyk. Ek dink almal probeer om jou pa in jou te sien. Hy was een van die beste verslaggewers wat Suid-Afrika nog ooit gehad het.”

Anelia weet nie regtig hoe om hierop te reageer nie.

Gelukkig praat Fick verder. “Ek het gehoop ek kan jou wegrokkel van Délicieux en jou eerder by Nuus-Direk gebruik. Ons is tog almal deel van die @Media-familie.”

“Hoe bedoel jy nou?” Onsekerheid klem om haar bors.

“Die meeste programme en stories word hier onder dieselfde handelsnaam geskiet.”

“Ek verstaan dit so, maar …” Sy sal seker nooit kan vergeet dat ondersoekende joernalistiek haar pa se kos was by Nuus-Direk nie, die suurstof in sy longe, die bloed wat deur sy are gevloei het. Riaan en sy beste vriend, Erik, wat ’n kameraman was, het altyd saam aan stories gewerk.

“Die bestuurspan het vergader en ons wil almal kyk hoe jy in die veld vorder met ingewikkelder stories as Délicieux se kosproe en tuinmaak,” onderbreek die baas haar gedagtegang. Fick sit terug in sy stoel, heeltemal gemaklik.

Anelia, wat voel hoe sweet op haar voorkop uitslaan, sit vorentoe in haar stoel. Wat moet sy antwoord? Kan sy uitstel vra? Dalk kan sy eers daaroor gaan dink. Hulle kan so ’n bom tog nie summier op haar laat bars nie. Hulle besef nie regtig wat Nuus-Direk van haar vra nie. Haar pa het sy lewe in hierdie einste posisie verloor toe hy verslaggewer was.

“Toemaar, Anelia. Ek kan sien ek het jou onkant gevang. Jy hoef nie nou al te antwoord nie.”

“Sal ek my pos by Délicieux verloor as ek die nuwe aanbod weier?” vra sy bekommerd.

“Natuurlik nie.”

“Dan kan ek ongelukkig nie die werk by Nuus-Direk aanvaar nie. Jammer.”

“Is jy seker? Gaan dink eers bietjie daaroor na. Jy sal uitstekend in die posisie vaar. Jy hét die vermoë om Riaan se skoene vol te staan.”

“Dis juis waarom ek nie kan nie.” Anelia vlieg op, want sy kan nie ’n enkele oomblik langer in hierdie kantoor bly nie.

“Wees gerus, Anelia. Gaan ontspan en geniet die res van die week.” Fick staan ook op en vergesel haar tot by die deur.

Anelia glip by die naaste badkamerdeur in. Die persoon in die spieël lyk bleek en beangs. Sy kan nie! Sy kan eenvoudig nie! In geen omstandighede kan sy doen wat haar pa gedoen het nie. Nooit sal sy soos hy kan wees nie. Nooit!

Sy spoel haar gesig af. Ernstig ondersoekende joernalistiek het sy lewe geëis. Verstaan hulle nie, sy durf dit nie ook aanpak nie? Háár lewe wil sy regtig nie ook vir haar werk inboet nie. Dít kan sy nie aan haar ma doen nie. Vir die hoeveelste maal besweer sy die vrese wat sedert haar pa se dood snags by haar spook.

Sy haal ’n paar keer diep asem om te probeer kalmeer. Sy wil sommer onmiddellik by die huis kom. Die meenthuis is lanklaas behoorlik skoongemaak …

O nee, vanmiddag se opname wag nog.

Nog een diep asemteug, en sy vind haar weg na Donovan.

Droomberig

Подняться наверх