Читать книгу Wanneer passie blom - Madelie Human - Страница 3

1

Оглавление

Geagte meneer Kupido,

Ek staan vandag daar in ons stoorkamertjie by my en Thea se bloemistewinkel om seker te maak dat ons voorraad genoeg is vir Valentynsdag wat om die draai is. Dit laat my toe aan jou dink. Jy is mos die boepensmannetjie met die pyl en boog wat paartjies bymekaarbring, dan nie?

Dis toe dat ek daaraan dink dat dit tyd is om jou hulp in te roep. Thea, my beste vriendin en vertroueling, wat nog altyd daar was vir my, het haar droomman ontmoet en gaan binnekort trou. Dis tyd dat ek terugstaan, ophou om vir so baie dinge op haar staat te maak en haar te laat gaan sodat sy haar eie geluk kan gaan soek. Die enigste ding wat haar sal oortuig dat ek haar nie meer so nodig het as wat sy dink nie, is ’n man van my eie.

Ja, ek weet dat ek mans eintlik heeltemal afgesweer het, maar miskien is dit tyd dat ek ou koeie in ou slote los waar hulle hoort en aangaan met my lewe – my liefdeslewe, om meer spesifiek te wees. Ek is buitendien siek en sat om die verlepte blommetjie teen die muur te wees en Saterdagaande tuis te sit met net my kat vir geselskap.

My begeerte is nou nie juis na ’n miljardêr of selfs nie eens ’n miljoenêr nie, want ek soek nie ’n storieboekromanse nie, net ’n regte-egte hartverloor-romanse. Ja, ’n tonekrullekker halsoorkop verlief raak sal goed wees, dankie. Een waar die held enigiets sal doen om die heldin gelukkig te maak.

Ek soek asseblief tog nie ’n wimp van ’n man nie. Hy moet weet wie nou eintlik die jagter is en hy moet my voete onder my kan uitslaan. Moet my nou nie verkeerd verstaan nie: hy hoef nie so sterk te wees dat hy my by die trappe op kan dra asof ek niks weeg nie, want ek weeg nie niks nie, dit weet ek maar alte goed. Ek het ’n goeie badkamerskaal, dankie.

Dis ook nie nodig dat jy vir my ’n filmstermooi tall-dark-and-handsome ou met breë skouers, spiere wat bult en sjokoladebruin of mosgroen oë hoef te soek nie. Gewone bruin of groen sal doen, dankie. Laat staan ook maar die vierkantige ken met die kuiltjie in die middel. Hy kan maar ’n doodgewone kennebak hê, hoor. Designer baardstoppels is ook nie nodig nie, dit sal my net kielie.

En o ja, hy hoef nie ’n supersuksesvolle sakeman of kunstenaar te wees nie. Die man wat jy vir my vir hierdie romanse op Valentynsdag uitsoek, kan maar doodgewoon wees solank hy my mouter op hoë revolusies kan laat woema. Ek wil net vir een keer voel hoe dit voel om ’n vuurwarm verhouding aan te knoop.

’n Gewone man met rooi bloed in sy are sal die ding vir my doen. Maar hy moet darem weet wat om met ’n vrou in sy arms te maak. Jy weet tog seker hoe my kêrel op universiteit se onhandige gevroetel in die donker my genees het van alle begeerte om “dit” te beleef. Die man vir hierdie projek moet beslis weet wat om tussen die lakens aan te vang sodat ek ook kan uitvind waaroor die bohaai nou eintlik gaan.

Is dit nou te veel gevra?

Nie?

Ek sou so dink, ja!

So kry jou dinges in rat, meneer Kupido. Asseblief, man. Die ontmoeting sal spoedig moet gebeur, want soos jy weet, is Valentynsdag oor ’n maand en Thea en Jaco se troue heel waarskynlik nie baie lank daarna nie. Ek is moeg om vir almal blomme op Valentynsdag te moet stuur en self niks te kry nie.

Groetnis,

Janie Venter

NS. Sien jy, ek het selfs ’n gewone naam, afgelei van Janetta, niks eksoties of onuitspreekbaar nie. Jig, wat het my ma besiel om my na ouma Nettie te vernoem? Die man wat jy vir my kry, kan maar ’n Jan of ’n Gert of so iets wees. Jacques klink vir my soos ’n sissie en Steve alte veel soos een wat vir ander vroue loer terwyl hy saam met jou is, soos Pa met Ma gemaak het. Ek soek ’n doodgewone man met ’n doodgewone naam, asseblief tog.

Op las!

“Agge nee, Daisy, man!” murmureer Janie toe die ou kombi wat sy en Thea as afleweringsvoertuig vir hul blomwinkel gebruik, viervoet vassteek net toe sy vroeg Maandagoggend by die blommeplaas se hek indraai. “Asseblief tog, Daisy, moenie dit aan my doen nie. Ons het so baie bestellings vir hierdie week. Wat gaan ons maak as ons nie kan aflewer nie?”

’n Ongeduldige getoeter agter haar laat haar omkyk. Een van Bloemendal se wit vragmotors kom teenaan Daisy se agterkant tot stilstand en die bestuurder lê behoorlik op die toeter. Ongeskikte vent. Ai, sedert haar oom Gert se dood ’n paar maande gelede gaan dinge nie alte lekker hier op hul familie se blommeplaas nie. Die bank het kort voor sy dood al haar oom se eiendom gekonfiskeer en verkoop om sy skuld te delg en die ontsteltenis daaroor het hom ’n noodlottige hartaanval besorg.

Die dag van die veiling waarop die plaas met alles daarop verkoop is en haar oom die hartaanval gekry het, wil Janie nooit weer oorhê nie. Een persoon het die plaas met alles daarop teen ’n belaglik lae prys op die veiling opgeraap – alles behalwe die orgideeversameling wat in elk geval nog altyd Janie s’n was. Haar oom het gekeer dat dit nie ook verkoop word nie en daarvoor is Janie bitter dankbaar, want die kweekhuis vol kosbare plante verskaf haar jare lank reeds oneindige vreugde.

Almal gis en wonder nou oor die geheimsinnige man wat die koop deur ’n slinkse prokureur laat hanteer het. Skindertonge weet te vertel dis ’n man met die naam van Ryno Bruwer van wie niemand hier in Krugersdorp se omgewing nog gehoor het nie.

Janie sug en gluur vies na die toeterende lorrie agter haar. Dis tyd dat die man, wie hy ook al is, beheer oorneem sodat die werkers weer dissipline kan leer. Hulle luister nie na haar nie. Kyk nou net hoe gaan hierdie een tekere. Kan hy nie net ’n bietjie geduld aan die dag lê nie?

“Ja, ja, ja. Netnou gaan al die roosknoppe en lelies ontydig oop van jou yslike rumoer. Hoekom gaan jy nie eenvoudig verby nie?” raas sy. Maar ’n vinnige kyk rondom haar verseker haar daar is nie ’n manier waarop die bonkige vragmotor op die tweespoorpaadjie by haar verby kan skuur nie. Die man beduie dat sy haar blombussie van die pad moet aftrek. Janie voel lus om haar ruit oop te draai en hom iets toe te snou. Hoe moet sy dit doen as die dooie ding staan waar hy staan? Verbete probeer sy die kombi weer aan die gang kry, maar verniet. Daisy se aansitter draai en draai lawaaierig, maar niks gebeur nie.

Toe die deur langs haar skielik oopgepluk word, skrik sy haar boeglam. “ ’n Vroumens. Dit kon ek gedink het,” grom ’n diep stem hier langs haar.

“Askies?” Vererg kyk sy op, draai haar kop vinnig weg en dan weer terug vir ’n tweede kyk. Sy ken al die plaaspersoneel . . . wie sou die ongeskikte vreemdeling wees? Meer nog, kan iemand wat so onmanierlik is ooit sulke mooi saffierblou oë hê? Sy voel hoe die aarde rondomtalie met haar draai. Die snytjie roosterbrood wat sy van­oggend so staan-staan ingesluk het, maak net so ’n vinnige omwenteling in haar maag. Wow!

“Skuif oor anderkant toe, laat ek kyk of ek die stuk blik aan die gang kan kry.” Hy mik om in te klim.

Haar oë vernou en haar vinnige temperament neem onmiddellik oor. “Niemand noem my ‘Vroumens!’ nie en nog minder skel jy my getroue Daisy as ’n stuk blik uit.” Vasberade gryp sy die sleutel weer en gee dit ’n venynige draai. Gewillig hoi-hoi Daisy se enjin daar agter, maar niks verder gebeur nie.

“Daar is ’n los draad iewers of jou . . . uhm . . .” Sy oë dwaal spottend oor Daisy se blombeverfde sykant terwyl sy wenkbroue veelbetekenend opwip. “ . . . Blommetjie se brandstof is op,” is die opinie van die wysgeer wat haar met arms oor die bors gevou staan en betrag.

“Dit kan nie te min brandstof wees . . .” Haar oog vang die brandstofmeter. Heeltemal leeg. “Thea, jou verpesting!” Ergerlik klap sy op die stuurwiel.

“Dit help nie jy skel op iemand anders of jy klap vir . . . uhm . . . Daisy nie. Wat gaan jy daaromtrent doen? Jy versper my pad,” grom Saffieroog weer.

Verbeel sy haar of is daar baardstoppels op sy redelik vierkantige ken? Sy laat nie toe dat mans met designer baardstoppels haar kop en haar maag laat draai nie. Daarvoor is sy heeltemal te verstandig. Thea sê altyd haar vennoot vrek van verstandigheid. Buitendien is ongeskeerde kennebakke nie ’n gelaatstrek wat sy aantreklik vind nie. Ouens met lang baarde is net lui vir skeer, dis so eenvoudig soos dit. Of is dit nou Kupido wat haar brief nie mooi gelees het nie?

Nou nie dat sy gedink het dat haar brief aan die simbool van liefde enige vrugte sou afwerp nie, maar nogtans. Laat sy net weer ’n keer mooi kyk. Nee, dié een is ooglopend nie die man waarvoor sy gevra het nie. Twee eienskappe tel reeds teen hom. Miskien drie of vier. Hy is lank, sy skouers breed en boonop blink sy swarterige hare alte mooi in die oggendson nes dié van alle helde in storie­boeke. Die man is mooi genoeg vir ’n advertensie van . . . wat ook al. Ai! Mooi mans beteken moeilikheid. Dit het sy mos oor en oor uit haar ouers se huwelik geleer.

“Nou wat stel jy voor moet ek doen?” vra sy astrant genoeg sodat hy nie moet dink sy vra hulp nie. Sy kan haar ooglede nou maar eenmaal nie pruilend en hulpeloos fladder wanneer sy ’n man se hulp nodig het nie. Dis só nie haar ding nie. Eintlik kan sy self regkom. Hy moet net sy ry kry, dan maak sy self ’n plan.

Met ’n sug, so al of hy dink sy is onnosel, ontknoop hy sy arms en roep na die twee werkers wat in die vragmotor sit en wag. “Jerry, Amos! Kom help gou, asseblief, laat ons hierdie rammelkas uit die pad uit stoot. Skuif oor, ek het nie tyd om te mors nie,” herhaal hy ongeduldig sy opdrag van vroeër en kyk haar afwagtend aan tot sy onwillig gehoorsaam. Janie is baie lus om hom aan te vat oor die rammelkasstorie, maar bedink haar. Op die oomblik is sy tog afhanklik van sy hulp, of sy dit nou wil erken of nie. Hoe kan sy die kombi nou alleen uit die pad uit stoot?

“Ryno Bruwer.” Hy steek sy hand na haar toe uit terwyl hulle vir die werkers wag.

Janie kyk na die groot hand asof dit haar iets gaan aandoen. Ryno Bruwer. Nogal ’n sterk naam. Ryno Bruwer? Dis mos . . . Vinnig kyk sy weer na hom. Dis die vent wat haar en haar ma van hul erfporsie ontneem het.

Onwillig sit sy haar hand in syne. “Janie Venter?”

’n Blaflaggie weergalm in die ruimte van die kombi terwyl sy oë ’n rustige wandeling oor haar hele lyf neem. Sy weerhou haar om te pluk aan haar T-hempie wat op sekere plekke hopeloos te styf span. Laat hom kyk, dink sy argeloos, maar die aarde dreig al weer om te begin tol met haar, en hierdie keer om heeltemal ’n ander rede.

“Hoekom klink dit soos ’n vraag? Is jy nie seker wat jou naam is nie?” Skynbaar klaar met sy inspeksie van haar persoon, kyk hy haar genadiglik nou in die oë. Mansmense.

’n Rillinkie trek teen Janie se ruggraat af. Nie ’n onaangename een nie. Inteendeel. Dit sal mos nie deug nie: as hy die nuwe eienaar van die plaas is, is rillings van opwinding die allerlaaste reaksie wat sy teenwoordigheid by haar behoort te ontlok. Janie ruk haar reg; om die waarheid te sê ruk sy haar behoorlik op vir die man. “Natuurlik weet ek wat my naam is.”

’n Lam gevoel neem nogtans besit van haar hele lyf. Die voortbestaan van The Daisy Chain, haar en Thea se blomwinkeltjie, is heel waarskynlik in hierdie man se groot hande wat nou met soveel selfvertroue op Daisy se stuurwiel rus.

As die nuwe eienaar van Bloemendal het hy die reg om haar en Thea kennis te gee om hul onderneming van sy plaas af te verwyder. Boonop het sy geen ander heenkome vir haar orgideë nie. Waar op aarde gaan sy met ’n hele kweekhuis vol plante heen? Al voel sy hoe wrewelrig oor hy nou die regmatige eienaar van hul familieplaas is, kan sy beslis nie bekostig om ongeskik teenoor hom te wees nie.

Hy lag weer, ’n gemaklike klank, so asof hy dit baie doen. Natuurlik lag die ellendeling maklik. Hy lag al die pad bank toe met die kaart en transportakte van hul familieplaas knus in sy gatsak. Die feit dat hy die plaas vir ’n hele klomp miljoene goedkoper as die markwaarde uit die boedel gekoop het, sit soos gal op die krop van Janie se maag. Die bank het die eiendom verkoop slegs vir die bedrag wat haar oom hulle geskuld het. Daar het van oom Gert en haar ma se erfgoed niks oorgebly nie. Die res, elke grashalmpie en elke blom, behoort nou aan hom. Om alles te kroon het hy die reg om te kan besluit oor die voortbestaan van The Daisy Chain – die winkeltjie wat haar en Thea se ganse bestaan uitmaak.

Janie se tannie het die winkeltjie hier op die plaas begin, maar dit net so gelos toe sy oom Gert vir groener weivelde verruil het. Janie en Thea het dit oorgeneem en die afgelope paar jaar bitter hard gewerk om hul klein besigheid winsgewend genoeg te maak om vir hulle albei ’n redelike inkomste te genereer. As die nuwe eienaar besluit dat hulle nie meer die gebou wat hul winkel en die kweekhuis wat Janie se orgideë hier op die plaas huisves by hom kan huur nie, sal dit broekskeur gaan as hulle die duur winkelhuur van een van die winkelsentrums op die dorp moet betaal.

“Jy het nie veel van ’n keuse nie. Op die oomblik is ek en Jerry en Amos jou enigste hulp hier rond. Reg, stoot maar, manne!” roep hy by die oop deur uit. Janie blaas haar asem ergerlik uit. As hy maar kon weet. Sy het absoluut geen keuse nie. Hy is haar enigste uitweg in meer as een opsig. Maar Janie Venter buig die knie voor geen man nie. Sy gaan veg vir haar regte; hierdie selfversekerde man gaan haar nie van sy plaas af skop nie. Jerry en Amos stoot, en Daisy se wiele rol stadig teen die skuinste langs die pad af terwyl Janie onderlangs na hom kyk en ’n versigtige vraag waag. “Werk jy nou hier op die blommeplaas?” Sy verwens haarself onmiddellik oor die lafhartigheid daarvan. Hoekom vra sy nie reguit wat sy wil weet nie? Sy naam is Ryno Bruwer, dieselfde as die nuwe eienaar s’n. Janie weet voor haar siel dat hy die nuwe eienaar moet wees en dat sy eintlik maar net probeer om die onvermydelike so lank moontlik uit te stel.

“In die spreekwoordelike sweet van my aanskyn, ja,” antwoord hy doodluiters en stuur die kombi na ’n oop kol langs die pad sonder enige verdere verduideliking. “Jy kan saam met my tot by die blomskuur ry,” gaan hy voort. “Daar is brandstof. Ons kan ’n kannetjie petrol met my bakkie hierheen bring en kom ingooi,” bied hy ewe ordentlik aan. Ai, as hy nou ongeskik was, kon sy ’n behoorlike weersin teen die man opgebou het, maar nee, nou is hy gaaf en behulpsaam.

“Dankie. Ek dink . . .” Dis nou nie asof sy ’n keuse het nie. As sy enigsins haar sin kon kry, sou hy die laaste persoon wees wie se hulp sy sou vra.

“Jy reken?” Met ’n verdere laggie spring hy rats uit en gee sy werkers opdrag om by die kombi te bly tot hulle terugkeer. “Kom, Janie Venter, dan gaan kry ons brandstof vir jou blommewa.” Hy vra nie, hy sê. Die man is blykbaar gewoond daaraan om opdragte uit te deel. Maar ja, sy is nou eenmaal verleë: sy klim dus maar uit en volg hom na die lorrie toe, so dikbek soos kan kom. Thea weet dit net nie, maar sy is diep in die moeilikheid oor sy nie Saterdag vir Daisy laat volmaak het soos sy belowe het nie.

Teen wil en dank moet sy die grinnikende ridder van die wit lorrie toelaat om haar in sy strydwa se hoë kajuit in te help. Blykbaar amuseer sy hom baie, dink Janie grimmig. Sy wonder of hy nog so sal grinnik as hy weet wie sy regtig is.

Sal hy die ooreenkoms wat sy en Thea met haar oom gehad het, laat voortgaan? Haar oom wou destyds nie ’n kontrak laat opstel nie. Hy het gesê hy vertrou hulle om die situasie nie te misbruik nie. ’n Situasie wat totaal verander het. Wat nou gaan gebeur, sal hulle maar moet sien.

’n Hele paar ure later blaas Janie haar kuif uit haar oë en bekyk die gewone chaos van ’n blou Maandag in die werkkamer van The Daisy Chain.

“En toe, wat staan jy nog hier? Dis hoe laat al. Het jy nie ’n hot date vir vanaand nie?” klink haar vennoot en lewenslange vriendin se stem van die deur af. Thea, wat die dag se aflewerings gaan doen het, gooi Daisy se sleutels in die mandjie op die toonbank en bekyk die deurmekaar werkkamer met ’n suur gesig.

“Is dit iets wat mens kan eet? Ek’s hoeka rasend honger.” Janie gryp ’n swart sak en vee afvalblare en -stingels van die werkoppervlak daarin af. Dis sulke aanmerkings wat haar die afgelope jare skoon allergies vir mans gemaak het. Een en almal soek gedurig vir haar ’n man en sy is nou net mooi keelvol daarvoor. Die feit dat sy op sewe-en-twintig nog manloos is, pla haar blykbaar minder as vir almal om haar.

Haar mooi blonde vriendin ignoreer haar aanmerking, kom stut haar lyfie teen die staaloppervlak van die werktafel en bekyk haar skewekop. “Ai, Janie. Het jy al weer nee gesê vir daai oulike prokureur, die mooiste man op ons dorp? Wat is sy naam nou weer . . . Neil, die een wat so agter jou lyf aan is? Het hy jou nie gevra om vanaand saam met hom te gaan uiteet nie?”

“Agter my lyf aan is al wat hy is. Oulik is hy beslis nie. Nee dankie, hy’s gans en al te veel van ’n gladdebek. Hoekom gaan jy nie met hom uit as hy dan vir jou so mooi is nie? As jy my gou help om hier op te ruim is ek dalk net betyds vir my hot date met ’n stoomwarm bad en die bloedrooi strooikussings op my bank, kompleet met ’n opgewarmde aandete op my skoot. Hot genoeg vir jou?” Janie skraap ’n klomp oorskietloof bymekaar en druk dit in die emmer water op die toonbank. “Dis nou nadat ek my woonstel aan kant gemaak en die wasgoed gewas het. Dan Kiets Cat se sandbak skoonmaak voordat ek kan waag om aan die slaap te raak voor die TV.” Onvergenoeg gryp sy die sak blare en stingels en gaan sit dit in die groot drom waar die skoonmakers dit kan kry.

Janie kan voel hoe haar vriendin se spekulerende blik haar volg en weet sy wil haar aanpraat oor iets. “Sarkasme is mos nie jou ding nie, Janie. Hoe het ek dit nou met jou?” Sy wys met ’n skraal vinger na Janie toe. “Jy, my maatjie, het ’n liefdeslewe nodig. Dis tyd dat jy jou droomman ontmoet.”

Janie sug. Al weer die ou storie. Sy kyk skoon anderpad en swyg liewer. Droomman? Die beeld van ’n lang, donkerige man met helder blou oë flits deur haar brein, maar sy ignoreer dit doelbewus. Ryno Bruwer is nie haar idee van ’n droomman nie. Sy het hoeka weke lank al nag­merries oor die moontlikheid dat hy hulle gaan verplig om hul winkeltjie te skuif.

“Gaan net saam met Neil iewers heen en geniet sy geselskap. Hy’s nie so onaardig nie, hy’s immers ’n gesiene prokureur hier in Krugersdorp. Hy ry ten minste met ’n ordentlike kar. Ek sal nie omgee om in daai sportmotor van hom vir ’n spin te gaan nie.”

“Geleerdheid of ’n kar maak nie die man nie. Ek soek ’n ordentlike man, nie een wat bo blink en onder stink is nie.” Janie hou haar besig met die afvee van die werkoppervlakke.

“Hoekom sê jy hy’s bo blink en onder stink?” Thea leun nader en bekyk haar met daai skerp oë wat niks mis nie.

“Die hele dorp weet as jy iets onder die tafel deur gedoen wil hê, is Neil Botha die prokureur daarvoor. Dis einste hy wat my tannie gehelp het om oom Gert so onderdeur te spring met die skeisaak. Dit het hom finansieel uitgeroei en uiteindelik sy dood veroorsaak. Dis ook einste hy wat die nuwe eienaar gehelp het om die plaas vir ’n fraksie van die waarde te bekom. Hy is ’n geslepe jakkals. Dit is nie die soort man wat ek wil hê nie.”

Agge nee, waar is die wag voor haar mond wanneer sy hom dringend nodig kry? Nou gaan Thea haar woorde teen haar hou. Jip, hier kom dit. Kyk net hoe blink haar oë skielik.

“Aaa . . . jy erken darem jy wil ’n man hê. Dis nuus, baie interessante nuus. Ek dog dan jy sê altyd jy wil nie een hê nie?” Byna triomfantelik gryp Thea ’n besem en begin met energieke bewegings vee.

“Ja, maar ek’s net moeg vir almal wat vir my ’n ander helfte soek. As daar te soeke is, sal ek dit liewer self doen.” Thea hoef nie te weet wat die eintlike rede is nie.

“Hoog tyd dat jy een kry, sou ek sê. Wat van die nice ou wat in die woonstel daar langsaan jou ingetrek het? Hy lyk nie te sleg nie en hy het beslis ’n ogie op jou.” Thea is nou ooglopend ingenome met die gedagte. Miskien moet sy keer voor haar vriendin weer op loop gaan met ’n idee.

“Thea Viviers, jy klink nou nes die aanbieder van die TV-program wat vir die boere vroue soek. Ek sal self besluit wanneer ek gereed is vir ’n verhouding.” ’n Paar saffierblou oë doem weer voor haar geestesoog op. Sy onderdruk die beeld summier. So nooit as te nimmer. Die rak vol blomhouers word afgestof asof haar lewe daarvan afhang.

Janie gooi die verestoffer skielik neer en pluk haar handsak uit die diep laai van die lessenaar in die hoek. “Ek dink ek het vanoggend die nuwe eienaar van Bloemendal ontmoet. Miskien moet ons ons liewer oor hom bekommer as oor ’n man vir my,” verander sy die onderwerp.

Thea kom verbaas nader. “En jy sê my nou eers? Hoe lyk hy? Seker ’n boepens-trol. Dink jy hy sal ons hier laat aanbly?”

“Hy is jonk, aantreklik en so ongeskik soos tien.” Hy was nie werklik ongeskik nie, maar dit pas haar om so aan hom te dink. Die vyand kan eenvoudig nie aantreklik en nog gaaf ook wees nie. Sy haak die band van haar handsak oor haar skouer.

“Ongeskik? Het jy hom weer die josie in gemaak? Dis hoekom jy nie ’n man in jou lewe het nie. Jy’s alewig op jou perdjie wanneer enigeen van die manlike spesie dit net naby jou waag.” Thea tel die stoffer wat Janie neergesit het op en gaan voort met afstof waar sy opgehou het.

Janie bekyk haar dierbare vriendin. Soos altyd vul hulle mekaar aan sonder om eens twee maal daaroor te dink, maar oor hierdie een ding kan hulle maar nie saamstem nie. “Stadig nou. Dis nie ek wat die man omgekrap het nie, dit was jóú skuld,” onthou sy skielik.

“My skuld? Hoe werk jy dit uit? Ek was nie eens daar naby nie.”

“Daisy het vanoggend sonder brandstof by die plaas se hek gaan staan net toe hy agter my indraai met sy lorrie.”

Toe Thea haar net onbegrypend aankyk, maak sy groot oë vir haar vennoot. “Daisy . . . onse kombi – die ene wat jy Saterdag met brandstof moes laat volmaak het – het sonder ’n druppel brandstof in die tenk soos ’n steeks donkie hier by die plaashek gevrek. Ek was verplig om meneer die nuwe plaaseienaar om hulp te vra.” Janie se wysvinger beskuldig haar vriendin van hoogverraad.

Uiteindelik is Thea by. Sy het darem die ordentlikheid om bloedrooi van verleentheid te word en ’n hand oor haar mond te sit. “Oepsie. Ek was haastig. Jaco het gewag sodat ek saam met hom na een van sy rugbyvriende se verjaardagpartytjie toe kon gaan. Askies, hoor,” vra sy om verskoning, maar peper haar vriendin met vrae. “En toe? Hoe lyk hy? Jy sê hy’s aantreklik? Wat sê hy?” Haar skuldgevoel verdwyn soos gewoonlik gou toe nuuskierigheid ooglopend die oorhand kry.

“Hy lyk soos ’n bleddie filmster, ’n arrogante een wat weet alle vroue swymel voor sy voete.”

“Oe la laaaa . . . dink jy hy’s getroud?”

“Ek weet nie, Thea. Genade, ek het drie woorde met die man gepraat. Ek het hom beslis nie na sy huwelik­status uitgevra nie. Hy was buitendien so meerderwaardig oor vroumense wat te dom is om te weet wanneer ’n voertuig volgemaak moet word en oor ons kombi wat, volgens hom, net ’n stuk blik is dat ek beslis nie praatjies met hom sou maak nie.”

“Pleks jy als uitvind wat ons wil weet. Wat gaan ons maak as hy sou besluit hy wil nie ’n sukkelende blomwinkeltjie op sy plaas hê nie?”

“Miskien bekommer ons ons verniet. Moontlik is ons ooreenkoms met oom Gert nog van krag. Hoekom het ons nie aangedring op ’n skriftelike kontrak nie? Dalk sou dit ons nou kon red. Ek weet nie hoe boedelsake werk nie. Kom ons wag maar en sien. Intussen wag my kat en my wasgoed. Ek moet ry. Dis jou beurt om toe te sluit.” Met ’n vingerwaai vir haar vriendin tel sy haar motor­tjie se sleutels op en maak die winkel se agterdeur oop.

Dis ’n onverwags ysige wind wat met sy snerpende asem haar lang krulhare rondpluk en geniepsig in die gesig klap toe sy uitstap. Hierdie buitengewoon koel Hoë­veldse weer is goed om blomme vars te hou, maar vir haar gaan dit net ’n rooi neus en die snuffels besorg. Dít nogal aan die begin van Januarie wat veronderstel is om hoogsomer te wees.

Met ’n suggie skakel sy haar motortjie aan en ry om die gebou in die rigting van die hoofpad. Langs die blom­skuur staan Ryno Bruwer se bakkie lewensgroot. Janie gluur vir die ding.

Wanneer passie blom

Подняться наверх