Читать книгу Wanneer passie blom - Madelie Human - Страница 5

3

Оглавление

“Verdomde Kupido,” brom Janie terwyl sy die dose met die gewraakte pers en groen orgideë, waarvoor sy nou vir ’n derde keer terug blommestoor toe moes loop, in The Daisy Chain se werkkamer neersit. “Jy’t my nou ’n klomp moeilikheid op die hals gehaal met die verkeerde mansmens wat jy so onnodig op my pad gestuur het.”

“Kupido? Waarvan praat jy, Janie? Dis mos nog lank nie Valentynsdag nie.” Janie ruk soos sy skrik toe Thea agter die rak vol blomvase uitkom. Sy het nie besef iemand kan haar hoor nie. As Thea van haar skrywery aan Kupido moet uitvind, sal sy die einde daarvan nooit hoor nie.

“Sommer niks.” Janie haal die kartonhouer se deksel af en snak na asem. Bo-op in die boks is die heel mooiste orgidee wat sy nog ooit gesien het. “Dis sowaar ’n Pana­mint!” Sy lig die blom byna eerbiedig uit die doos en hou dit versigtig vas aan die buisie voedingstof waarin orgideë vervoer word.

“ ’n Panamint? Maar dit was mos nie deel van ons bestelling nie. Ons kan sulke duur blomme g’n bekostig nie.” Thea staan nader en bekyk die rare blomspesie met groot oë.

Janie loer in die boks in en lig die verpakkingsmate­riaal op. “Dit lyk my die res is wel ons bestelling. Dis net . . . wag, hier is ’n kaartjie by . . .” Stadig lig sy die kaartjie en snak vir ’n tweede maal na haar asem.

“ ’n Klein blykie om te sê hoe jammer ek is oor die feit dat julle nou moet trek, veral oor jy ’n ander tuiste vir jou orgideë sal moet soek, Janie. Wil jy my versameling seldsame orgideë sien? Ek kom haal jou Vrydagaand om seweuur, dan gaan wys ek jou. Miskien kan ons sommer iewers iets eet ook. Ria het my beduie waar jy bly. Ryno,” lees sy prewelend.

“Verwaande mansmens. Hy’t sowaar gedink ek sou vir sy oeroue slenter val. Hy’s nie eens oorspronklik nie.” Verontwaardiging laat Janie byna verstik. “Wil jy dalk my wonderlike versameling seldsame blomme sien?” koggel sy met ’n singerige stem.

“Slenter? Jy weet goed daardie enkele blom kos ’n fortuintjie. Dis nou ás mens dit ooit in die hande kan kry. Hoekom is dit by ons bestelling? Wat sê die kaartjie nog?” ryg Thea die vrae uit en loer oor Janie se skouer na die kaartjie. “Uiteet? Oe la laaaa . . .! Dit klink my alte veel na ’n date.”

“Is dit sy manier van om verskoning vra? Hoe kan ’n simpel blom en ’n bord kos nou vergoed vir die feit dat ons die winkel gaan verloor en ek sak en pak met al my orgideë moet trek?”

“Ag, nee wat, man. Jy’s al weer onnodig agterdogtig. Alle mans is nie soos jou pa nie. Die man het die volste reg om te besluit hy wil ons nie hier op sy plaas laat voortgaan nie. Ons het mos geweet ons is op geleende tyd hier. Gaan jy na sy versameling kyk?”

“Natuurlik nie. Hy kan met sy seldsame orgideë en al in sy seldsame peetjie in vlieg.”

“Janie, Janie, Janie . . . dis geen wonder jou liefdeslewe is slegs ’n vae herinnering uit jou studentedae nie. Jy laat wonderlike geleenthede soos dié deur jou vingers glip. Jy’s kastig baie seker watter soort man jy wil hê, maar vermy mansmense soos die pes. Jy druk jou kop in die sand soos ’n volstruis en dink as jy maak of jy iets nie sien nie, sal dit weggaan. Soos jy aangaan, is Ryno ’n bylmoordenaar of iets en vir my lyk hy baie skaflik. Sag op die oog ook en heeltemal redelik. Hy het ons drie maande kans gegee om ’n ander plek te soek.”

“Maar so-o nié die man wat ek vir Kupido gevra het nie. Baie dankie, maar nee dankie. Vat jy gerus maar hierdie seldsame blom vir jou en gaan kyk na sy versameling uitsonderlik wonderlike orgideespesies. As hierdie man Kupido se idee is van die regte man vir my, kan hy gerus weer ’n keer dink.” Janie druk die buisie met die blom in Thea se hande.

“Askies?” Thea kyk haar skielik skerp aan. “Rewind net ’n bietjie . . . Kupido? Wat is dit met jou en Kupido vandag? Is jy koorsig?” Tongklikkend druk Thea met die agterkant van haar hand teen Janie se voorkop.

Janie druk haar vriendin se hand weg. “Ag hel, hoekom het jy my tog gehoor? Ek kan ook niks vir jou geheim hou nie.”

“Watse geheim?”

“As jy dan nou moet weet . . . Kupido gaan my help soek na die regte man.”

“Kupido gaan jou help man soek? Wag, wag, wag. Hierdie storie vra vir lekker sterk boeretroos. Sit jy. Ek skakel vir ons die ketel aan, dan vertel jy vir jou tante Thea alles. Kom praat met my, maatjie. Jy weet jy mag niks vir my wegsteek nie. Ons het op laerskool mos gesweer ons sal altyd als met mekaar deel.”

Thea druk die orgidee se buis versigtig in ’n blok oase om dit staande te hou sodat die blare nie beskadig nie en tap die ketel vol water in die kombuishoekie van hul werkkamer. Janie kan sommer sien sy maak haar reg vir ’n lekker sessie van derms uitryg. Háár derms, natuurlik.

Ai tog.

“Jy gaan vir my lag.” Hoe op aarde kan sy vir die koelkop Thea vertel dat sy iets so pateties aanvang soos om aan ’n denkbeeldige liefdesimbool briewe te skryf?

“Janie Venter, mannehater, op soek na ’n man met behulp van die einste Kupido hier kort voor Valentynsdag? Dit klink vir my na ’n briljante idee, nie iets om oor te lag nie,” verklaar Thea droogweg terwyl sy koffiepoeier in hul bekers afmeet.

Janie besluit om dit so vinnig en pynloos moontlik agter die rug te probeer kry en haal diep asem. “Ek skryf in my dagboek . . .” begin sy, maar dan begewe haar moed haar weer. Dis so simpel.

“Ja, ek weet mos dat jy dit van ons hoërskooldae af al doen. Elke dag, al val die hemel . . . wat daarvan?”

“In die dagboek gesels ek met . . . uhm . . .” Hoe de hel kan sy iets so pateties aan ander mense bekend maak?

“Uhm? Kom aan, die afwagting gaan nog my dood kos, ek hang oor ’n afgrond aan my vingernaels,” por Thea ongeduldig aan.

“Kupido,” blaker sy dit uit.

Stilte.

Daar is sowaar geen reaksie uit Thea nie. Janie kyk versigtig na haar vriendin. Dié staan hand oor die mond daar by die ketel en skud geluidloos van die lag.

“Ja, lag jy maar. Ek het geweet jy gaan my uitlag, dis hoekom ek jou nie daarvan wou vertel nie.”

Janie kan sien Thea span alles in om haar lag nie te laat oorborrel nie. “My verstandige vriendin, Janie Venter, skryf briewe aan Kupido?”

“Dis wat ek gesê het.”

Thea sluk haar geamuseerdheid met moeite in voor sy die groot vraag vra. “En toe vra jy vir die . . . uhm . . . man – is Kupido ooit ’n man? Is engeltjies dan nie geslagloos nie? – dat hy vir jou ’n kandidaat moet soek noudat jy besluit het jy wil tog ook soos enige ander normale vrou ’n man hê?” Dit lyk kompleet asof Thea die beste nuus in jare gekry het.

“Ek het dit sommer vir die lawwigheid gedoen. Jy weet mos ek geniet dit om my gedagtes op papier uit te druk . . . wel, toe hou ek maar aan daarmee,” bieg Janie beskaamd.

“Mens kan seker in jou dagboek skryf wat jy wil.” Thea klink nou doodernstig, sonder enige vooroordele. Janie kry die vriendin wat haar sedert hulle kleuters was, nog altyd onvoorwaardelik aanvaar het net soos sy is, sommer meer lief.

Dankbaar dat dit lyk of Thea nie regtig dink sy is simpel nie, gaan sy voort. “Ek het dit vir hom uitgespel dat ek die man voor Valentynsdag wil ontmoet. Dit gaan my bederfie vir Valentynsdag wees.”

“Bederfie nogal?” Thea tel kastig op haar vingers. “Dit gee onse Kupido . . . h’m . . . ’n skrale vier weke kans om die man te kry en hom met een van sy liefdespyle te tref. En watse soort man het jy vir Kupido gevra?” Thea bring die twee bekers koffie en kom sit langs Janie by die lessenaar. “Komaan, bieg. Watse soort man soek jy vir hierdie meesterplan van jou?” Thea hou haar beker tussen twee hande vas en bekyk haar vriendin doodernstig, alle laggery nou op ’n end.

“Beslis nie lank en donker en ook nie noodwendig vreeslik aantreklik nie, ek soek nie ’n clichéagtige storieboekman nie. Definitief nie ryk of vreeslik geleerd of vernaam nie. ’n Doodgewone ou. Maar iemand wat ervare is in die . . . h’m . . . wat my kan leer van die dinge van . . . jy weet.”

Thea rol haar oë. Sy weet. Natuurlik weet sy. Sy is ’n verloofde meisie wat voor haar verlowing boonop ’n hele paar ander liefdesverhoudings gehad het. “Dit skakel nou die tall dark and handsome Ryno uit.” Druk sy haar vinger op ’n eina blou kol. Thea is hopeloos te skerpsinnig.

“Baie duidelik skakel dit hom uit. Hy is so-o nie my soort nie.”

“Jy weet natuurlik die liefde werk nie so nie, nè?” Met fyn slukkies drink Thea aan haar koffie.

“Wie’t van liefde gepraat?”

“Ons praat hier van jou liefdeslewe, my maat, of jy dit nou wil weet of nie. Wat jy dit ook al noem, dit maak nie ’n verskil nie. Mens kan nie kies op wie jy verlief gaan raak of wie vir jou lief moet word nie. Ek het altyd gesê rugbyspelers en spiertiere gee my ’n pyn.” Thea se oë word dromerig soos telkens wanneer sy net aan haar geliefde dink.

“Totdat jy vir Jaco ontmoet en halsoorkop op ’n professionele rugbyspeler verlief en aan hom verloof geraak het. Ja, ek weet, maar . . .”

“Maar?”

“Ek soek nie noodwendig liefde nie, ek soek net . . . wel, iemand van my eie. Buitendien gee Ryno my ’n pyn, maar hy is die enigste ou wat ek ontmoet het sedert ek vir Kupido begin skryf het.” Janie blaas oor haar koffie dat die stoom in die lug in trek.

“Ek wonder hoe hubaar hy is? Dink jy daar is ’n vrou­tjie in oom Gert se huis daar bo teen die bult?”

“Jy weet mos ek het nie ’n idee of hy getroud is of nie; dit skeel my ook nie, want ek stel nie belang in trou nie.”

“Regtig nie? Njannies? Jy soek iemand van jou eie, maar jy wil nie trou nie?”

“Nee. Ek gaan ook nie vir sy slenters val nie. Ek gaan nie saam met hom na sy blomme kyk of uiteet nie, of hy nou hubaar of onhubaar is, of nie.”

“Agge nee, Janie! Al weer ’n gulde geleentheid vir ’n date met ’n aantreklike man, en jy versmaai dit! Wat moet ek met jou maak? Jy soek kastig ’n . . . iemand van jou eie en as die geleentheid hom voordoen, hol jy weg dat jou voete klap.”

Janie skud haar kop. “Read my lips. Ek gaan nie saam met hom nie, en dit is klaar.”

“Nou hoe op aarde wil jy voor Valentynsdag die man met wie jy kans sien vir . . . wat ook al, leer ken?” vra die blondine hande in die sye.

“Ryno is nie daardie man nie.” Daarvan is sy ten minste doodseker.

“Hoekom is Ryno dan so ’n issue?”

“ ’n Issue?” Hoe moet sy nou weet? Dis dan juis wat haar so omgekrap het van Maandagoggend af.

“Ja, hoekom hamer jy so op hom as jy hom nie oorweeg nie?”

“Die skelm het my oom se plaas byna verniet gekry en hy’t ons hier uitgeskop. Natuurlik maak dit hom ’n issue.”

“Janie, hy’t die plaas wettig gekoop en dit gee hom nou die reg om hier te maak soos hy wil.”

“Ja, dis seker so, maar ek sê mos hy’s die enigste ou wat ek nog ontmoet het sedert ek aan Kupido begin skryf het en . . .” wat die wêreld laat tol wanneer sy in sy oë kyk. Sy is skaam om te erken haar lyf verraai haar deur te reageer op die vyand.

“En?”

Terwyl hulle nou haar derms uitryg, kan sy net sowel alles bieg. Thea sal dit buitendien uit haar uittrek. “Iets het gebeur toe hy vir die eerste keer met daardie blou oë na my gekyk het.” Janie ontwyk haar vriendin se skerp blik, drink liewer nog ’n slukkie koffie. Haar maag maak sommer weer allerhande kaperjolle wanneer sy net aan hom dink.

“Watse iets?”

“Sommer net . . . iets.”

“Ooooo . . . ek sien. En dis hoekom jy genooi word om na sy uitsonderlike blomspesies te gaan kyk en nie ek nie.” Dit lyk of Thea nou presies weet wat daardie iets was.

“Ag, ek weet nie, die man krap my net om, dis al.”

“Miskien moet jy maar na sy blomme gaan kyk sodat jy kan uitvind wat hierdie omgekrapgeit nou eintlik beteken. Trek jou nuwe ontwerpersjeans en jou mooi smaraggroen top aan en begogel die man met jou sjarme. Mens weet nooit. Hulle sê juis die orgidee is die blom wat passie inspireer.” Thea wikkel haar lyf so al asof sy weet hoe om ’n man tot passie te inspireer. En dit net omdat sy ’n verloofde het wat deesdae begin druk op haar plaas vir ’n troudatum, dink Janie suur.

Janie kry lag. “Miskien is jy die een wat saam met hom moet gaan. Wat weet ek nou van passie en van ’n be­gogelry?” Hoekom sweet haar hande net by die gedagte?

“O nee, nie ek nie. Ek is geholpe, dankie. Dis jy wat vir Kupido ’n man gevra het en toe ontmoet jy vir Ryno. Te oordeel na die manier waarop hy na jou kyk, het jy met die ontmoetslag ook iets aan hom gedoen.” Thea wikkel haar wenkbroue vir haar.

“Ek? Aan hom? Hoe kyk hy nogal na my?”

“Anders as wat hy na my kyk, dis vir seker. Asof hy jou regtig raaksien, asof hy belangstel om jou beter te leer ken. Hoekom sou hy dié baie spesiale blom in ons boks gesit het? Hoekom het hy jou gevra om na sy versameling te gaan kyk en te gaan uiteet, en nie vir my nie? Die man is kant en klaar deur jou tot groot passie geïnspireer, sê ek jou. Kupido se pyl het hom getref. Kolskoot.” Thea gryp na haar borskas en demonstreer die trefslag dramaties. “En vir jou ook.” Sy tik op Janie se bors waar haar hart is.

Janie klap haar lawwe vriendin se hand liggies weg. “Aikôna. Daar’s nie ’n manier nie. Ek is immuun teen mans. Hy is immers die man wat ons van die plaas af geskop het.”

Thea se gesig versober en sy leun vorentoe.“Immuun? My voet. Jy sê dan hy krap jou om. Gaan saam met hom, net om dubbeld seker te maak of hy nie dalk die een is wat die gevlerkte mannetjie met die pyl en boog vir jou uitgesoek het nie. As jy hom begogel, kan ons dalkies aanbly op die plaas. Dis ’n gulde geleentheid om hom te oortuig dat sy plaas nie sonder die blomwinkeltjie kan klaarkom nie.”

Janie tuit haar lippe en bekyk haar vriendin skepties. H’m. Sy’t nog nie so daaraan gedink nie. “Jy’t nogal ’n punt beet.” Miskien is dit tog ’n geleentheid om die man te oortuig daar is vir hom voordeel in die feit dat daar ’n bloemistewinkel op sy plaas is.

“Boonop is hy lank met donker hare en baie aantrek­lik.” Thea rek haar oë spottend vir haar.

Janie trek ’n gesig. “Jip. Juis daarom is hy beslis nie die man wat ek vir Kupido gevra het nie.” Ai tog.

“Dit kan mos nie ’n té groot straf wees om saam met hom uit te gaan nie? Hy’s aantreklik, groot, uiters manlik en daai potblou oë . . .”

Dit lyk kompleet of die simpel Thea gaan begin swymel.

“Dit sal seker nie ’n straf wees nie, maar daar is ’n bleddie goeie rede hoekom ek nie so ’n man wil hê nie en jy weet dit.”

“Oor vroumense alewig agter jou aantreklike pa aangeloop en jou ouers se huwelik verwoes het. Ja, ek weet. Maar Ryno is nie jou pa nie.”

Janie sug. Haar pa is die allerlaaste onderwerp waaroor sy wil gesels. “Oukei, ek sal saam met hom gaan . . . as hy my weer vra,” probeer sy nietemin ’n agterdeur ooplos.

“Jy bedoel as hy jou Vrydagaand om sewe-uur kom haal soos die kaartjie sê. Dit klink nie of hy hom sal laat afsit nie.”

“Oeps, ja. Die kaartjie sê so. Oukei, Vrydagaand dan, maar daar gaan absoluut geen begogeling plaasvind nie. Ryno Bruwer is nie die man saam met wie ek . . . die ding gaan doen nie.” Daarvan is sy so seker soos nog iets. Sy gaan slegs saam met hom om hom te probeer oorreed om hulle op die plaas te laat aanbly.

Ja, dis waarop sy sal fokus.

Wanneer passie blom

Подняться наверх