Читать книгу Wanneer passie blom - Madelie Human - Страница 4

2

Оглавление

Beste meneer Kupido,

Het jy ooit my vorige brief gekry? Blykbaar nie, want die enigste man wat ek sedertdien ontmoet het, is die allerlaaste man vir my. Ek praat nou van Ryno Bruwer van die blommeplaas. Ryno Bruwer! Die man wat my familie verneuk het, die een wat met ’n klap van sy vingers alles waarvoor ek en Thea die afgelope jare bitter hard gewerk het, ongedaan kan maak.

Het jy hom dalkies op my pad gestuur net om my te toets of om met my die spot te dryf? Is dit jou idee van ’n grap? Wel, ek het nuus vir jou. Dit gaan nie werk nie, hoor. Ek gaan nie vir hom of sy soort val nie. Jy weet presies waarvan ek praat.

Die man is ’n seksis wat dink vroue is hulpelose goed wat gered behoort te word. Hy kom daar met sy groot wit lorrie aan – mens sou sweer dis ’n wit perd en hy is die ridder wat die arme, hulpelose, vroulike wesentjie te hulp moet snel. Ja, ek weet ek kon die kombi nie self uit die pad gestoot en brandstof te voet kilometers ver gaan haal het nie, maar nietemin.

Dan is hy nog meerderwaardig ook en lag vir my of ek ’n kind is. Nee wat, as dit die man is na wie jy die pyl met my naam op gemik het, kan ek sommer nou al vir jou sê dit gaan nie werk nie. Die draaitjie wat my maag maak elke keer wanneer hy daai paar blou kykers so reguit op my rig, is sommer niks. Ek het my ontbyt net te vinnig afgesluk oor ek bietjie laat was Maandagoggend, dis al.

Nee wat, jy moet maar weer verder soek na die regte kandidaat vir my. Jy sal buitendien nou moet gou speel, hoor. Valentynsdag kom vinnig nader. Tiek tok.

Beste Groete,

Janie.

“Janie, waar is die pers en groen orgideë vir vanaand se funksie van die sakekamer?” Thea steek haar kop by die deuropening tussen hulle werkkamer en die winkel in.

“Hulle moet daar wees. Ek het hulle self by die blom­skuur gaan uitsoek. Ria het hulle laat verpak en by ons bestelling neergesit. Dit was definitief op die staat wat hulle per e-pos aangestuur het.”

“Die blomme is nie hier nie. Kom kyk self.” Thea se blonde kop verdwyn uit haar gesigveld.

Janie gooi haar blomskêr neer. “Ai, ek bel gou vir Ria. Dalk het hulle daar agtergebly.”

“Jy sal hulle self moet gaan haal, want dis belangrik dat ons presies die regte blomme kry. Die vrou wat die geleentheid reël, was baie beslis oor wat sy wou hê; ons sal haar nie met iets anders tevrede kan stel nie. Ek hoop daar is nog van daardie spesifieke groen en pers orgideë. Is daar glad nie van daardie kleur hier in jou eie kweekhuis nie?”

“Nee, myne blom nie nou nie. Daar is net een ander orgideeboer iewers in Magaliesburg se omgewing wat sulkes het. Ria het dit spesiaal vir ons bestel,” antwoord Janie en grom onderlangs. Daar gaan haar enigste vry middag. Sy het so daarna uitgesien om op haar bed te gaan lê en lees vanmiddag. Net gisteraand het sy ’n heerlike romanse van haar gunstelingskrywer op haar e-boek­leser afgelaai.

Die blomskuur is buitendien die allerlaaste plek waarheen sy wil gaan. Die kantoor van die ridder met die wit lorrie is daar. Tot dusver het hulle hom nog nie weer met ’n oog te siene gekry nie, maar Ria verseker haar hy is daar. Die werknemers hop glo soos hy hom laat geld om alles reg te ruk wat oom Gert kwansuis verwaarloos het. Janie en Thea lê behoorlik laag en vermy die blommestoor sover moontlik. Sy weet dat hulle daarmee eintlik net die onvermydelike uitstel, maar nou ja.

“Oukei. Begin jy solank, ek gaan maak gou daar ’n draai.” Janie dink skielik aan een van haar oorlede ouma se gunsteling-uitdrukkings: Kom ek om, so kom ek om.

Ryno strek en knip sy oë wat water van staar na die state voor hom op die rekenaarskerm. Eintlik wil hy liewer daar buite besig wees met die bestuur van dag tot dag van die plaas. Sy eie plaas! Uiteindelik het hy nou sy eie plaas waar hy kan maak en breek soos hy wil. Sy oorlede pa het hom bitter baie van boerdery, veral blommeboerdery geleer, maar hulle het selde oor iets saamgestem. Twee hardekoppe saam op een plaas werk eenvoudig nie. Hy wou meer moderne metodes implementeer, maar sy pa het hardkoppig aan sy manier van doen vasgeklou.

Na sy pa se dood het hy sy oë oopgehou vir ’n plek waar hy van voor af kan begin en sy eie ding doen. Toe daar geadverteer is dat hierdie plek opgeveil gaan word, kon hy sy erfgrond nie vinnig genoeg verkoop om dié plaas te kon aanskaf nie. Nou kan hy al sy planne, wat altyd agterweë moes bly omdat sy pa nie daarmee wou saamstem nie, in werking stel.

Maar eers moet hy sin maak van die boekhouding wat die afgelope jaar feitlik totaal agterweë gelaat is. Mens kan sien die vorige eienaar het belangstelling verloor. Ryno is lus vir die uitdaging om die plek weer tot sy volle potensiaal op te bou, maar om in ’n kantoor te moet sit en stoei met syfers frustreer hom.

Miskien moet hy ’n heeltemal nuwe boekhoustelsel invoer en van voor af begin, of beter nog, ’n professionele boekhouer kry om die boeke te ontrafel. Ryno sug. Hy sou die plaas eerder vandag verder wou verken en die kweekhuis waarheen hy sy uitgebreide orgideeversameling van sy ou plaas af wil verskuif, gaan bekyk.

Hier is heelwat dinge wat hy heeltemal sal moet verander voor als na sy sin is. Daar is byvoorbeeld die blomwinkel in een van die geboue wat die minimum huur inbring. Hy kan nêrens ’n huurkontrak daarvoor opspoor nie. Volgens die prokureur is dit ’n familielid van ou Gert Deysel wat die winkeltjie daar bedryf. Dis net nog ’n oorlas waarmee hy nie opgesaal wil wees nie. Die winkeltjie sal beslis moet gaan. Hy kan die ruimte baie beter benut. Hulle beset juis die kweekhuis langs hul winkeltjie wat hy vir sy eie orgideeversameling wil gebruik.

“Dis wat ek nie kan verstaan nie, Ria. Ek het die bokse met die pers en groen orgideë wat jy vir ons bestel het daar op die vloer by die res van ons bestelling neergesit, maar hulle is nie in die winkel nie. Die ander blomme is alles daar, maar die pers en groenes vir môreaand se funksie is beslis nie,” hoor Ryno ’n erg verontwaardigde stem.

Die gekriewel wat die heserige vrouestem in sy binneste veroorsaak, maak dat hy vinnig opstaan en sy kop by sy kantoordeur uitsteek. Waar het hy daardie stem al vantevore gehoor? Is dit nie . . .? Hy stap in die gang af. Genade, Bruwer, het jy niks belangriker om te doen as om agter sexy vrouestemme aan te loop nie? Hy kryt homself al die pad uit, maar gaan nietemin na die portaaltjie waar Ria, sy assistent wat die bloemiste se blombestellings hanteer, se kantoortjie is.

“Ek het alles hier gekry nadat jy weg is, Janie. Ek wou dit nog met een van die werkers na julle toe oorstuur, maar ons was gister ongelooflik besig. Jy weet mos al die bloemiste van die dorp wil die week se blomme Maandae al hê,” paai die middeljarige vrou agter die lessenaar.

Nes hy vermoed het, dis sowaar die klein parmant met die wilde bos brons krulle wat gister hier in die hek sonder brandstof kom staan het. Daardie heserige stem sou hy op enige plek in die wêreld kon uitken. Dit het hom gister getref waar hy in hierdie stadium nie getref wil wees nie. Hy wonder waar in die dorp haar blomwinkel is.

“Dit lyk my al sy is maar altyd so verstrooid, Ria. Gister het sy vergeet om brandstof in te gooi en toe los sy boonop die helfte van haar bestelling hier,” laat Ryno dood­luiters van hom hoor.

Die twee groen oë wat hom sedert gisteroggend so bygebly het, beloon hom met ’n gifkyk reg in die middel van sy borskas. “Ek is eerder verstrooid as ongeskik, baie dankie,” snip sy terug.

Jip. Hierdie roos pluk jy nie sonder handskoene nie. Sy het dorings. Dis iets om te aanskou wanneer haar oë so blits, gereed vir ’n lekker geveg, nes gisteroggend daar by die hek. Onwillige belangstelling roer in sy binneste. Met dié doringrosie sal ’n man ’n waardige geveg kan aanknoop. Dit kan net interessant raak. Hy plant sy bene wyd en maak gereed vir ’n vermaaklike paar minute. “Ongeskik? Hoe kan jy my ongeskik noem? Ek was galant en het jou uit ’n penarie gered.”

“Galant? Noem jy dit galant om my uit te skel as ‘Vroumens!’ en my voertuig ’n stuk blik te noem?” Ryno het sowaar nie ’n antwoord hierop nie. Te oordeel na die vonke wat haar oë na sy kant toe skiet, sal hy sy tuinhandskoene nader moet trek, maar . . . wat dink hy tog? Tyd vir interessante onderonsies met roosdorings het hy nie. Hy het ’n verwaarloosde blomboerdery wat hy moet regruk en opbou; hy’t nie tyd vir ginnegaap met ’n sexy bloemis nie.

Voor sy summier haar rug op hom keer, kry hy sowaar nog ’n vuil kyk. Haar oë se sagte groen laat hom dink aan ’n koel lentedag vol onverwagse helder sonligflitse. Sonlig wat kan skroei. Sy oë dwaal vir oulaas teen haar lyf af voor hy terugdraai na sy kantoor toe. Hy moet liewer verder gaan stoei met die deurmekaar boekhou­stelsel. Hy’t g’n tyd om hier rond te hang en dít om ’n vroumens nie.

Hy draai egter terug en met drie lang treë is hy langs Ria agter haar lessenaar. “Kom, dan help ek jou om jou orgideë te gaan soek.” Behulpsaam beduie hy in die rigting van die kamer waar die geplukte orgideë vir bestellings gehou word.

“Nee dankie, ek sal regkom,” wys sy sowaar sy hulp van die hand. Hy verkyk hom toe die groen sonflitse op sagte lentegras verander in yskoue ryp op wintergras. Die meisiemens het wraggies die mooiste, uitdrukkingsvolle oë wat hy nog gesien het. Die natuurlike roospienk van haar mond laat hom aan dinge dink wat liewer kon gebly het.

“Meneer Bruwer is ’n kenner van orgideë. Jy moet sy enorme versameling sien.” Ria se blik verskuif nuuskierig tussen Janie en die man langs haar. “Janie, het jy en die nuwe plaaseienaar mekaar al ontmoet?” probeer sy om die ongemak te oorbrug.

“Ja,” antwoord Ryno.

“Nee . . . nie eintlik nie . . .” kom die raaiselagtige antwoord gelyktydig van haar. Ryno verstom hom. Wat bedoel sy nou? Sy’t nou net hul eerste ontmoeting staan en oprakel. Liewe hemel, die vroumensie is ’n ander een!

Ryno kan nie help om te lag nie. “Lyk my sy’t dit al weer vergeet, Ria. Sy’s so wrintiewaar die verstrooidste mens wat ek nog teengekom het.”

Sy hou duidelik niks daarvan dat hy vir haar lag nie. Haar een hand land op ’n effens geronde heup. Ryno moet homself inhou om nie op die einste rondings te bly fokus nie. Hy kyk liewer op in die kwaai oë wat nou weer vir hom blits. “Verstrooid? My voet! Niemand het my ingelig dat jy die nuwe plaaseienaar is nie, dis maar al wat ek bedoel.”

“Meneer Bruwer, Janie is een van die twee bloemiste wat die blomwinkeltjie hier op die plaas huur. Meneer Deysel was haar oom. Sy is ook die eienaar van die orgideë in die kweekhuis langs die blomwinkel,” kom Ria weer tussenbeide.

Ryno se kop ruk op en terselfdertyd sien hy deur die breë glasdeure die blombeverfde monstrositeit wat daar anderkant ewe knus langs die buitegeboutjie geparkeer staan. The Daisy Chain, lees hy. Agge nee. Sy is sowaar een van die bloemiste wat hy van plan is om van sy plaas af te skop.

Wel, sy besluit is geneem en hy gaan nie van plan verander nie. Die winkeltjie en orgideë van hierdie roosdoring sal maar moet gaan, sexy stem, sagte kurwes of te nie. Die feit dat hy haar oulik vind en dat sy iets laat roer wat vasgeroes in sy borskas was, sal sy sakebesluit nie beïnvloed nie. Die dae wat hy na ander mense se pype gedans het, is vir goed verby.

Hy kyk reguit in haar oë en maak sy stem formeel. “Juffrou Venter, ek wil jou en jou vennoot asseblief in my kantoor spreek. So gou moontlik.” Dit gaan sekerlik ’n onaangename ontmoeting wees, maar hoe gouer hy dit agter die rug kry, hoe beter vir hulle almal. Daarmee draai hy om en dié keer stap hy terug na sy kantoor toe sonder om weer om te kyk. So byna-byna het hy hom deur ’n hees stem en ’n sexy lyf laat verlei en die oog van sy doelwit af geneem.

Janie verstar. Nou het sy daarin geslaag om die een man wat hul besigheid kan maak of breek, die vieste in te maak. Ai, hoekom kan sy tog nie haar skerp tong en haar vinnige humeur beteuel nie?

Sonder om die orgideë te gaan haal, drafstap sy terug na The Daisy Chain toe. Thea sal nou moet help. “Thea!” roep sy toe sy die deur oopstoot.

“Het jy dit gekry?” Thea gee haar net een kyk, sit die loof waarmee sy besig is neer en kom nader. “En nou?”

“Hy wil ons sien.”

“Hy? Die plaaseienaar?”

Janie knik net stom.

“Toe maar, maatjie, hy kan ons nie sommer net hier uitskop nie. Ons ooreenkoms met oom Gert is dalk nog van krag. Mondelinge ooreenkomste is mos ook geldig.”

“Miskien, ja, maar ek het die man nou twee keer met my haastige mond die hel in gemaak. Ek sê jou hy gaan ons hier wegjaag.”

“Wat het jy nou weer gesê?”

“Dis wat hy gesê het! Ek haat dit as ’n man my as ‘Vroumens’ aanspreek en boonop neerhalend en beterweterig is.”

“Kom ons gaan hoor wat hy op die hart het. Wees positief. Dalk wil hy net die besonderhede van ’n nuwe huurkontrak met ons bespreek.” Thea trek haar oorjassie uit en kam met haar vingers deur haar hare.

“Dis my vennoot, Thea Viviers,” stel Janie haar vriendin aan Ryno voor toe hy hulle by sy kantoor innooi.

“Kom sit, dames.” Ryno skraap ’n stapel tydskrifte en brosjures van blombolle bymekaar en skuif dit uit die pad uit. “My kantoor is bietjie chaoties. Meneer Deysel was nie baie georganiseerd nie,” maak hy verskoning.

Janie vererg haar oor sy negatiewe verwysing na haar oom, maar bly wyslik liewer stil. Dit sal nie deug om hom weer kwaad te maak, of erger nog, te amuseer nie. Hy vind haar optrede blykbaar baie vermaaklik. Sy haat dit as mense haar openlik uitlag.

“Miskien kan julle my help,” val hy weg toe hulle hom net afwagtend aankyk.

“Waarmee kan ons help?” vra Thea toe Janie moedswillig stilbly.

“Ek kan nêrens in hierdie chaos ’n huurkontrak vir jul winkeltjie opspoor nie?” Hy beduie na sy deurmekaar kantoor en kyk hulle vraend aan.

Janie skuif ongemaklik op die puntjie van haar stoel. “Dis omdat daar nie een bestaan nie.” Dit sal tog nie help om anders voor te gee nie.

“Hoekom nie?” Hy sit met ’n selfvoldane nes-ek-gedink-het-uitdrukking agteroor.

“My oom het gedink dit was onnodig. Hy het ons vertrou en ons vir hom.” Haar stem klink meer uitdagend as wat sy dit bedoel het, maar die man se selfversekerdheid veroorsaak dat haar rugstring al stywer trek.

Ryno druk sy elmboë op die tafel en leun effens vorentoe. “Dis ’n bietjie van ’n waagstuk is dit nie? Dis mos nie hoe mens sake doen nie.”

Janie se skouers trek net nog verder agtertoe. “Dit het vir jare goed gewerk so. Ek kan nie sien hoekom dit moet verander nie.”

“Die plaas het van eienaar verander, juffrou Venter, en dit verander alles.” Janie se nekhare kriewel. Hy kan bekostig om meerderwaardig te klink, want hy het die hef in die hand.

“Ons kan ’n kontrak laat opstel as dit is wat u bedoel?” laat Thea hoopvol van haar hoor. Hou jou in, Jaantjie, jy is die verleë een, is die boodskap wat haar oë vir Janie sein. Soos gewoonlik gryp Thea in wanneer sy sien haar heethoof van ’n vriendin maak al weer droog, besef Janie. Sy haal diep asem en sit effens agtertoe op haar stoel.

“Noem my gerus Ryno. Ons hoef seker nie so formeel te wees nie?” Hy kyk van die een na die ander.

“Sekerlik. Ek is Thea en sy is . . .” Die kruiperige Thea kyk afwagtend na haar. Ai, hoekom was sy nie meer soos Thea nie? Maar kruip voor hom sal sy beslis nie.

Janie sluk lang slukke. “Hy weet ek’s Janie,” gee sy sonder enige grasie toe. Sy kyk nie na Ryno nie, staar eerder verlangend na haar oom Gert se foto teen die muur waar hy trots met ’n trofee staan wat hy jare gelede by die een of ander blomskou verower het. Ai, hoekom moes hy boedel oorgee en hulle aan die genade van hierdie vent oorlaat?

“Wel, Janie en Thea, ek is jammer, maar julle sal ’n ander heenkome moet vind. Die blomwinkeltjie kan nie langer hier op die plaas bedryf word nie. Ek kan verstaan dat jou oom julle wou help, maar ek wil die winkel sowel as die kweekhuis langsaan, waar jou orgideë nou is, vir my eie versameling gebruik.” Sy verdoemende woorde klink asof hulle van onder water na haar kom.

“Agge nee!” glip dit onwillekeurig by Janie se mond uit. Sy val byna van die stoel se puntjie af van pure ontsteltenis. Sy het geweet dat dit ’n moontlikheid is, maar dis nietemin vir haar ’n skok. Sy het tog gehoop dat hulle kan aanbly en dat sy die kweekhuis waar haar orgideeplante is ook van hom sal kan huur.

“Ek sê mos ek is jammer . . .”

“Jammer? Jy skop ons uit sonder enige waarskuwing en al wat jy kan sê, is jy’s jammer?”

“Janieeee . . .” paai Thea. “Kan jy ons dalk ’n kennis­tydperk toelaat sodat ons ’n ander plek kan soek?”

“Ja, maar dit kan nie ’n onbepaalde tyd wees nie,” antwoord Ryno Thea se vraag met sy oë steeds stip op Janie. “ Ek moet my versameling orgideë so spoedig moontlik hierheen verskuif.”

“Hoe lank?” vra Janie.

“Gewoonlik kry mens ’n maand kennis. As julle wil, kan ek dit skriftelik . . .”

“Drie maande,” val sy hom in die rede en weier om weg te kyk voor sy vernoude blik.

Hy bly lank stil, kyk net na haar. “Oukei. Drie maande beginnende vandag,” gee hy onverwags toe. “Ek sal laat Ria vir julle die dokument per e-pos aanstuur.”

“Dankie,” antwoord Thea wat altyd goeie maniere openbaar.

Wel, Janie voel nie dankbaar teenoor hom nie en gaan nie anders voorgee nie. Waar de josie gaan hulle ’n bekostigbare winkel en ’n kweekhuis te huur kry? Sy staan net stram op en loop neus in die lug by die deur uit.

“Hy’t ons sowaar uitgeskop!” begin sy die oomblik toe hulle buite die gebou is.

“Dis seker sy goeie reg. Ek dink drie maande kennis is billik,” antwoord Thea bedaard.

“Hy wou ons net een maand gee. As ek nie aangedring het nie, sou ons vandag nog moes begin rondval om ’n plek te kry. Buitendien, een maand of drie maande gaan geen verskil maak aan die feit dat ons nie ’n ander plek kan bekostig nie.”

“Ons sal buitendien dadelik moet begin soek, Jaan. Jy weet daar is heelwat winkels beskikbaar in die winkelsentrums hier rond, maar teen pryse wat ons nie naastenby kan bekostig nie.”

“Weet ek dit nie! En waar de hel gaan ek met my orgideë heen?”

“Waarheen moet hy met syne gaan terwyl joune nog hier is? Die nuwe eienaar van sy ou plaas sal sy blomme sekerlik ook nie vir altyd dáár laat bly nie.”

“Wel, dis sy probleem,” hou Janie haar ongevoelig. “Ai, maar dit was so gerieflik hier, reg langs die stoor, al die kliënte van die plaas wat by ons ook inval . . . Wat gaan ons doen?”

Janie voel hoe haar moed al laer sak en verwens weer ’n keer vir Ryno Bruwer. The Daisy Chain se dae van voorspoed is getel.

Wanneer passie blom

Подняться наверх