Читать книгу Luistervink - Madré Marais - Страница 5

Waar die kweswerk gedoen is

Оглавление

Nog voordat hy met die bakkie onder die boom vol kwetterende voëls stilhou, sien hy die hond voor die agterdeur uitgestrek lê en hoe sy haar kop lig om hom aan te kyk asof niks op aarde fout is nie, nes Emmie altyd maak as hy die dag probeer praat oor wanneer sy Koen finaal hel toe gaan stuur.

Bo die toe deur brand die buitelig nog nie, al is dit sterk skemer. Nadat hy die werkers gaan aflaai het, is hy met die terugry deur die dorp eers in die strate op en af, sy kop by die venster uit, totdat sy lippe droog gefluit was.

Hy het hom weer heeldag oor die weglopery bekommer terwyl hulle in die veld gewerk het. Die onderhoudwerk aan die wildheining vorder stadiger as wat verwag is en hy ry al twee weke lank hoeveel liters diesel uit tot op Davies se plaas, meer as halfpad Jansenville toe. Totdat hy die werk gedoen kry, betaal die man hom nie die groot bedrag waarop hy staatmaak om met die bouwerk op die dorpsmeent te kan aangaan nie.

Die laaste ding wat hy nodig het, is moeilikheid by die huis, soos Emmie se hond wat elke nou en dan onderdeur die heining grawe of by die hek uitkom as iemand nie oplet nie. Dit het haar elke keer in ’n toestand.

As dit nie daarvoor was dat hy die huis so gou moontlik só sou wou inrig dat sy niks meer wil hê nie, sou hy liewer ’n verskoning uitgedink het as om vir Davies te werk.

Daar is groot dinge wat hy en Emmie nog moet uitsorteer voordat hy haar kan vra om te trou, maar al kom hulle ook nooit sover nie, sal hy daarmee tevrede wees om haar eenvoudig gelukkig te sien, en veilig.

“You should bring that Remington of yours with you tomorrow,” het Davies Maandag gesê toe hy op een van sy rondtes deur die wildkampe by hulle stop waar hulle nuwe sparre insit en ’n doringboom snoei wat oor die brandbaan tot teenaan die heining groei. Davies het in sy bakkie bly sit met die enjin wat loop, en met sy arm by die venster uit beduie terwyl die koelte van die lugversorger buitentoe mors.

“Might as well keep busy while you watch them work, of hoe sê ek?”

Hy het gewonder wat die ou bliksem die idee gee dat hy net rondstaan. Davies sien mos elke namiddag hoe hy lyk van die sweet en die stof wanneer hy by die lodge om ry sodat hy oor die dag se werk verslag kan doen.

“One of those laaities who came on the weekend hunt wounded a kudu. Shot one front leg clean off below the knee. Moer toe. If you can find it and shoot it, the meat is yours.”

Hy het vir die vangplek gewag, en die bakkie het al begin wegtrek toe Davies half terloops brom: “Bleddie nice bull too. If you don’t take a head shot, I could have a lekker shoulder mount made out of it.”

So iets sou natuurlik ’n gawe troosprys kon word vir ’n oorsese toeris wat te vrot skiet om sy eie trofee te oes en skaam kry om met leë hande huis toe te gaan; dít ongetwyfeld teen ’n gawe prys wat Davies op sy beurt skaamteloos sal laai.

Dit het hom twee dae gevat om die koedoe op te spoor, selfs al het hy sy Jack Russell en een van die werkers saamgebring om te help. Vandag, teen die namiddag se kant, het hy die bok in die visier gekry, maar die dier het teen ’n steilte aan die ander kant van ’n klofie gestaan. Daar sou nie genoeg daglig oor wees om die karkas daar te gaan haal en tot by die bakkie te bring nie.

Hy was gefrustreerd dat hy nie die sneller kon trek nie. ’n Koedoe is moeilik om te kry. Jy vra jou nog af of dit die draai van ’n horing of die tak van ’n olienhout is, terwyl hy stiller as ’n skaduwee in die bos verdwyn. Toe hy dié bul se driedraaihorings opmerk, was hulle laag, te naby die grond om ’n ervare jagter te bedrieg. Die dier het lank so gestaan voordat hy aangestruikel het.

Die vorige keer dat haar hond weg was, het Emmie daarop aangedring om elke dag die twee kilometer tot in die middedorp en terug te stap. Sy sê hy behoort tog van beter te weet as om te dink die hond sal na ’n voertuig toe aangeloop kom.

Die rede hiervoor is in sy gedagtes ingebrand, maar hy verkies om die eerste keer dat hy die hond gesien het te onthou as die dag dat hy Emmie eindelik oorreed het om by hom te kom woon. Nadat hulle die oggend vir hóé lank oor die foon daaroor geredeneer het, het hy homself gedwing om op te hou dink en is hy na Koen se plaas toe om haar te gaan haal.

Hy is van vertrek tot vertrek deur die huis agter haar aan terwyl sy maak asof sy besig is met dinge wat dringend gedoen behoort te word en hulle in harde fluisterstemme stry soos twee akteurs in ’n verhoogdrama, met die toneel wat ’n paar keer in die TV-kamer gaan draai waar Koen in ’n stoel met ’n klomp klein, ronde brandmerke aan die armleunings teruggesak lê, al twee bene reguit voor hom uit, met sy kop skuins vooroor op sy skouer en een arm wat slap langs hom hang.

Hulle het in sirkels bly praat, maar in ’n stadium het hy agtergekom sy ruim nie meer op waar iets laat lê of gebreek of uitgemors of omgeskop is nie; sy het begin om haar goed bymekaar te kry. Dit het haar nie te lank gevat nie. Sy het net ’n rugsak oor die tralies agterop die bakkie gegooi en voor langs hom ingeklim met die tjankende bokser op haar skoot. Hy wou iets daaroor sê, want hy het nie geweet wat sy hond met dié een sou maak nie, maar hy het die vars rowe en die kaal kolle aan die pels gesien en gemaak dat hulle daar wegkom voordat Koen wakker word.

Emmie het hom eers baie later vertel van hoe Koen daardie oggend soos ’n kind gesit en huil het met die halfdooie hond in sy arms.

Koen kon niks onthou van wat die dag vantevore gebeur het nie, en sy het hom ook nie gesê dat hy die bokser agter sy bakkie vasgemaak en op die werf rondgesleep het nie, en dat dit sy was wat die klip teen die voorruit gegooi het om te keer dat hy na die grootpad uitdraai. Hy het in ’n dwaal uitgeklim en in die huis verdwyn terwyl sy ’n plan moes maak om die tou los te kry waar dit in die verwoede dier ingesny het. Sy en Koen was teen daardie tyd al lank genoeg saam dat sy geweet het dit sou nie ’n verskil maak om hom te vertel van dit wat nooit eens tot sy bewussyn deurdring nie.

Anders as Koen kon haar pa destyds ten minste agterna probeer verskoning maak vir die goed wat hy aangevang het terwyl hy dronk was, het sy gesê.

Die bokser het hier by hom kom gesond word, en hy weet Emmie vertrou niemand anders as hom met die hond nie. Die tefie spring nou spelerig om hom rond soos sy altyd maak om te groet, net ver genoeg van ’n mens af dat sy buite bereik bly.

Hy sluit die deur oop en sit die buitelig saam met die opwaskombuis se lig aan. Die hakie langs die een waaraan hy die bakkie se sleutel hang, is leeg.

Die hond moes self teruggedwaal het. Emmie is weg met die motor.

Hy loop deur die kombuis en in die donker gang af en sit eers weer in die slaapkamer ’n lig aan voordat hy die jaggeweer op die grond neersit en die deure van die klerekas waarin die kluis is, met al twee hande oopmaak.

Vanoggend het hy Emmie probeer oorreed om dié keer nie weer te stap wanneer sy na die hond gaan soek nie, maar hy was steeds nie seker of sy enigiets gehoor het wat hy sê nie.

Hy het alleen wakker geword. Sy is gewoonlik voor hom uit die bed om koffie te maak en kos te pak wat hy kan saamvat veld toe, maar teen die tyd dat hy aangetrek was en in die kombuis gekom het, was niks daarvan nog gedoen nie.

Hy is deur die sitkamer op die stoep uit en het haar ’n ruk staan en dophou waar sy in die bedding links van die sementdam besig was. Aan die ander kant van die dam, na die hoenderhok se kant toe, was die akkers van die groentetuin wat hy net voor die winter aangelê het. Die varkore waartussen sy aan die werskaf was, het al so hoog gestaan dat die houtrakkies wat hy vir haar kruieplante ontwerp het, pasgemaak om aan die dam se wal te haak, net-net daarbo uitgesteek het.

Dié blomme het hy van tannie Harrington afgesmeek toe sy dit spesiaal laat aanry het om die kerk se tuin oor te doen. Gelukkig was sy so in vervoering oor haar “angel trumpets” en hoe dit die simbool van die blye tyding in haar tuinuitleg verteenwoordig, dat sy eindelik toegegee het toe hy sê dis vir Emmie. Hy wou haar iets vlekkeloos gee. Dit was kort nadat sy by hom ingetrek het op die groot meent by die ingang na die dorp. Daar het hy self maar nog net ’n jaar gewoon. Hy het die varkore as ’n verrassing geplant terwyl sy eendag Port Elizabeth toe was vir inkopies.

Die blomme was in sy en Emmie se tuin ook soos boodskappers uit ’n ander wêreld, heel anders as die harde veld aan die ander kant van die heining, en die getande aalwyne en naboom wat wild hier groei.

Dalk is dit wat Emmie vroegoggend daar tussen hulle gaan soek het: ’n boodskap.

Die son was nog nie uit bo die rif rante wat anderkant die stuk veld agter die dorp verby sny nie en die lug was wit met ’n wasige pienk vlies oor, die lyfwarm binnekant van ’n afgeslagte vel.

Hy het tot by haar geloop en hy kon sien sy weet dat hy agter haar staan, maar sy het haar tyd gevat om iets te sê.

“Net omdat die goed nie vrek nie,” het sy eindelik die woorde uitgewurg, tussen die tuingrafie se knarsende gespit deur, “beteken dit nie hulle is gelukkig hier nie.”

Hy het besluit om niks hierop te sê nie. Hy sou veel eerder iets wou sê oor die krul van haar hare wat oor haar skouers val, en langs haar gesig, terwyl sy vooroor buk om die plante raak te vat; iets oor haar rug, en haar bene wat uitsteek onder die blou rok wat sy altyd eenkant hou vir dorp toe gaan. Hy probeer nog elke dag verwoord hoe hy voel, van die oomblik dat hy haar ontmoet het in haar en Koen se kombuis waar die twee mans gaan sit het om besigheid te praat toe Koen die jakkalsproef laat span het.

Hier in sy tuin, op die werf wat hy so versigtig vir haar omskep, beweeg sy met selfs nog meer selfversekerdheid. Met die een hand het sy vanoggend die grond om die plante se stingels losgemaak, en met die ander die varkore met bol en al uit die grond geruk. Sy het nie na hom toe omgedraai nie. By sy voete, aan die rand van die bedding, het die blomme op die natgedoude gras gelê soos knolgroente wat te vroeg geoes is.

“Ek sal weer kyk, in die dorp rond, op pad na Davies toe en terug. Sal jou laat weet as iemand iets gesien het.”

Sy het regop gekom, asof sy nog iets wou sê, maar toe net gelag en verder gewerk.

Die omgekraptheid sou haar nie vinnig los nie, het hy al geleer. Dit kan dae lank aanhou. Eindelik is dit vir hom wat sy straf, veral as hy iets doen wat hy dink haar sal laat beter voel.

Terwyl hy oor die grasperk teruggestap het na die huis toe, het hy gedink aan hoe die omgekarringde grond en die water van die sementdam en die vroegoggend ruik soos planttyd op die landerye waar hy twee seisoene gelede nog mielies en sonneblom help saai het.

Hy sou vir haar irisse plant waar sy die varkore uitgehaal het, het hy besluit. Hulle sou hoog groei van die oorloop uit die dam en geel en pers blomme uitstoot voor die grys sement.

Net voordat hy op die stoep was, het sy iets agterna geroep.

“Jy weet jy mors jou tyd, nè? Daardie klomp op die dorp het verleer om hulle oë te gebruik. Hulle bekke het heeltemal oorgevat.”

Hy weet wat sy bedoel. Die meeste mense dink nie eens regtig na wanneer jy uitvra oor ’n rondloperhond nie. Selfs die mense wat eerlikwaar wil help, is maar net te sigbaar verlig dat hulle ’n lewe leef waarin jou krisis nie bestaan nie. “Ai tog,” sê die mense graag, “sê as daar enigiets is wat ons kan doen, asseblief, hoor,” en dan draai hulle net daar om, dankbaar dat dit nie hul hond is wat weggeloop het of hul motor wat gestamp is of hul man wat suip nie.

Hulle vergeet van jou, tensy dit tyd is om nuus met mekaar uit te ruil oor hoe jy ’n vrou by jou laat woon wat nog met iemand anders getroud is, al is dit net op papier; en hoe daardie ander iemand verlede week die ongeluk op die grondpad uit plaas toe oorleef het, want ’n dronk man kry mos wonderbaarlik nie seer nie; en hoe die vrou nog steeds elke maand vir daardie man ’n deel van die geld stuur wat sy met die beskuitverkopery verdien om die rekeninge te betaal waarvoor sy altyd verantwoordelik was toe hulle saamgeleef het.

Koen het hulle nie eens een keer op die meent kom konfronteer of Emmie probeer ompraat of terugkry nie. Hy het blykbaar besluit sy is buitendien moeilikheid, gebreekte goed, en dis beter as sy voertsek; hy loop en vertel dit ook net so op die dorp rond. Snaaks, hoe Emmie se geld nog al die pad goed genoeg bly.

Hy het verwag dat Koen voor die dorpsmense grootmeneer sou speel as hulle mekaar raakloop, maar elke keer dat hy hom sien, is Koen aan die ander kant van die straat, of binne drie tree verby hom by die kafee se deur uit, of het hy skielik genoeg blokke soutlek gelaai by die koöperasie se stoor en trek hy pas daar weg.

Vanaand kan hy nie help om aan Koen te dink soos hy hom daardie dag in die stoel sien lê het nie. ’n Haelwolk hou jou aandag net só, jy bly vir hom kyk terwyl hy stil nader rol, juis omdat jy nie kan glo hy kan oor ’n rukkie alles om jou flenters slaan nie.

Nadat hy die geweer in die kluis weggesluit het, stort hy en trek skoon aan vir aandete. Hy sit die ganglig aan op pad terug kombuis toe om koeldrank uit die yskas te gaan kry en loop dan by die skuifdeur uit op die stoep.

Dit lyk vir hom die plan vir vanaand is ’n braai. Hy het die slaai in die yskas gesien, en die een hoek van die vadoek opgelig om seker te maak dis braaibroodjies op die tafel.

In die lig wat uit die sitkamer na buite val, pak hy ’n vuur in die buitebraai aan; die bedrading hier sal eers klaar gedoen word wanneer Emmie se kuier- en eethoekie ingerig is.

Eintlik stel hy opsetlik uit dat die stoepligte reggemaak word, want hy is besig om vir haar ’n kandelaar te bou om bo die houtbankies en koffietafel te hang. Hy het ’n ruk terug gesien hoe sy met ’n tydskrif sit en bly terugblaai na die dubbelbladfoto van ’n lang tafel waarrondom ’n klomp mense sit en kuier. Emmie het die krulle en patrone in die kandelaar met haar vinger nagetrek en toe aan van die gesigte geraak asof sy die glimlagte in die warm lig tel.

Sy het nie baie vriendinne nie, maar sy het ’n liefde daarvoor om te onthaal. Al is daar selfs net drie van hulle, sit sy ’n fees voor met dit wat sy het. Hy vermoed die meeste van hierdie vriendinne het ook maar genoeg te sê wanneer die tonge op die dorp klap. Hy vertrou hulle nie en glo Emmie weet ook van beter. Tog, sy is daaraan gewoond gemaak om juis dié wat haar verniel te bly versorg en vertroetel.

Hy trek die stoel uit waar sy tafel gedek het en draai dit só dat hy in die vlamme kyk wat hoog in die skoorsteen optrek. Dit was die moeite werd om dit oor te bou. ’n Mens wil nie met rook sukkel wat terugstoot en by die huis intrek nie.

Agter hom op die tafel staan ’n blompot met een van die varkore van vanoggend. Emmie het dit van die bol losgesny, maar nie die knak in die steel weggesny waar die groen vesels toegeknyp het nie. Die snywerk moes met iets stomps gedoen gewees het, want die onderpunt van die steel rafel, en van die repies het uitgeswel en na buitentoe opgekrul namate hulle al hoe verder losskeur.

Die twee honde kom uit die donker tuin aangedraf en sy Jack Russell gaan lê by sy voete. Die bokser kom druk vinnig haar snoet teen sy hand en spring ’n ent van hom weg, waar sy ook gaan lê en hom, soos elke keer, só aankyk.

Hy skep twee keer van die slaai in en eet die broodjies sonder dat dit ooit rooster toe gaan, terwyl hy kyk hoe die kole uitbrand en koud word.

Hy sal môre vir Davies laat weet hy gaan eers die kwesding haal voordat hulle met die werk kan aangaan. Hy weet mos teen dié tyd waar om te soek.

Luistervink

Подняться наверх