Читать книгу Luistervink - Madré Marais - Страница 7

Lafbaait

Оглавление

Nicolene weet nie wat sy vir die kind se ma gaan sê nie. Sy, wat dan nie eens by was om te sien hoe die ding eintlik begin het nie. Boonop een wat in haar hart glo hierdie soort goed mag nooit goedgepraat óf weggelieg word nie.

Maar sy was tog eerste daar om te keer, die onderwyser wat die besigheid stopgesit het. Dis ook net sy wat weet hoekom die meisie dit gedoen het. En sy verstaan nou.

Hulle wag op die muurtjie aan die bokant van die parkie waar die kinders ná middagstudie speel. Die meeste van die motors wat onder by die hoofhek inry, draai links met die ry halfkaal bome langs en kom laai iemand hier op. Skuins na agter, anderkant die klimrame en swaaie en trekkerbande wat halflyf in die grond begrawe is, is die heining van die crèche. Die helder verf laat dit nie minder na tralies lyk nie. Geel, groen, blou, pers, pienk. Dan weer geel.

Nicolene bly bewus van die beweging by die hek, al weet sy nie eens watse soort motor die kind se ma ry nie. Dis so ’n rooie, het die meisiekind gesê.

Nou en dan roep een van die spelende kinders na die meisie. Dan spring sy van die muurtjie af en gaan hardloop eers nog ’n draai. Sy wys hulle. Sy wys almal sy kan vinniger as enigiemand, selfs die seuns, uitklim teen die dik, growwe tou met die knoop aan die onderpunt. En sy is glad nie bang om hoër as hulle almal te swaai nie.

Terwyl die meisie weg is, sit Nicolene alleen op die muurtjie met die skooltas by haar voete. Asof dit sy is wat wag om opgelaai te word. Dalk moes sy liewer bly staan het. Sy voel die sagte materiaal van haar langbroek aan die stene haak.

Uit een van die musiekkamers langs die koshuis kom die klavierklanke van ’n toonleer wat te haastig geoefen word.

Nicolene probeer onthou of haar ouers ooit vergeet het om haar by die skool op te laai toe sy nog kind was.

Haar selfoon vibreer in haar handsak. Sy knyp die sak vinnig onder haar arm vas, asof sy die foon wil stilmaak. Maar daar is geen geluid nie. Die klank is af. Sy het dit nooit aangeskakel ná die laaste klas van die dag nie.

Toe die ding ophou om sy stilte teen haar ribbes uit te skree, laat los sy met haar elmboog, maar haar skouers bly op ’n knop getrek. Sy hoef nie te kyk om te weet dis Riaan wat gebel het nie.

Sy kan hom sommer sien. Hoe hy ’n paadjie uittrap oor die grasperk tussen die voordeur en die oprit, met sy selfoon teen sy oor. Op die punt om in die bakkie te klim en skool toe te ry om haar te soek. Hy verstaan seker glad nie wat aan die gang is nie.

Hy moet haar net bietjie kans gee. Sy kan nie nou praat nie. Dit sou seker makliker wees om die foon net af te skakel, maar dit sal hom net meer omkrap.

Sy het vir hom ’n boodskap gestuur, vroegmiddag al, en hom laat weet hy moenie bekommerd wees nie, sy sal betyds wees. Sommer ’n verduideliking uitgedink oor ’n juffrou wat ’n krisis het en die skoolhoof wat gevra het Nicolene moet hiermee help. Al twee dele van die storie is waar, net nie noodwendig in daardie volgorde nie.

Verduideliking, dis wat sy die kind se ma nog skuld.

Riaan het nog altyd opgewerk geraak as sy nie teen tweeuur by die huis is nie.

“Jis, Nicky, jy moenie my so laat worry nie, man! Ek moet weet, moet darem kan sê …” Veel verder as dit kom hy gewoonlik nie voordat hy haar aan die arm nadertrek en soen nie, en vashou dat dit voel haar ruggraat gaan knak.

Riaan se liefde gebruik nie woorde nie. Hiervoor het hy liewer ’n manier om na haar te kyk dat sy weet sy behoort aan hom en niemand anders nie. En ’n spesiale stilbly waarna sy al leer luister het. Vir sy soort liefhê het hy hande.

Hulle moet al twee nog daaraan gewoond raak dat hy teen vyfuur weer op pad is, om betyds te wees vir die nagskof. Dis regtig nie hoe hy dinge sou wou hê nie, sê hy, dis nou maar net hoe dinge is. Soms is Riaan net betyds terug dat hy die sekuriteitshek oopsluit wanneer sy al voor die oop deur wag om skool toe te gaan.

’n Kind kom met ’n wye draai uit die parkie aangehardloop, om die punt van die lae muurtjie, maar steek in sy spore vas toe hy by haar kom. Hy ken die reël: In die parkie mag jy speel soos jy wil, maar jy hardloop nie in die pad waar die motors verbykom nie.

“Juffrou, ek wil net gou kom vra, juffrou,” die seuntjie is so uitasem dat hy eerder die woorde insluk as dit sê, “ekke wil net weet of juffrou Nicky weet … Juffrou, hoe laat is dit?”

Sy oë blink bo die pienk wange. Die hele gesiggie gloei van die rondhardloop in die koue lug.

“Sorry, ek bedoel seblief, juffrou.”

Nicolene glimlag.

“Hmmm, kom ek kyk. Of wag, kyk jy sommer hier, dan sê jy bietjie – jy het nou die dag mos mooi geleer,” sê sy en trek haar mou op sodat die outjie haar horlosie kan sien.

“Disse … dis amper halfvier al, dink ek, juffrou.”

Sy wil hom nog reghelp, maar hy staan nie lank genoeg stil nie. Teen die tyd dat hy onthou om “Dankie, juffrou!” agterna te skree, is hy al halfpad teen die leer van die glyplank uit.

Sy sien hy is reg. Haar maag draai. Dis ná vyf-en-twintig oor drie.

Nog voordat die nagskof deel van hul roetine geword het, het Nicolene al plan gemaak dat hulle soveel moontlik tyd saam kan hê. Sy kon haar net-net uit die buitemuurs wurm, al is sy “vriendelik verplig”. Dis twee skoolwoorde wat sy maklik gebruik as sy leerlinge sover wil kry om iets te doen. Maar dieselfde woorde hou soos ’n boelie ook haar hande agter haar rug vas. Van jong onderwysers word daar verwag om meer as net hul deel te doen.

As studenteonderwyser, toe sy haar proefstudie by ’n ander skool gedoen het, het sy netbal afgerig. Die kleintjies kon nie eens vir die helfte van ’n oefening konsentreer nie. Die ouer kinders wou liewer grappies maak as om op die spel te fokus. Maar Nicolene het dit regtig geniet, omdat sy kon onthou hoe lekker dit vir haar was om netbal te leer speel. Sy het stil-stil daarvan gedroom dat een van dié meisies ook later tot op nasionale vlak sou vorder, net soos sy op hoërskool.

Vandat sy graad gekry het, het sy nog nie weer afgerig nie. Liefde vra opoffering. Sy het in haar heel eerste kwartaal by die nuwe skool ’n kans gevat en aangebied om met die redenaars te help. Dis nooit nodig om ná skool te bly nie. Sy kry die leerlinge sommer deur die loop van die dag bymekaar vir voorbereiding.

Wanneer hulle iewers moet deelneem, is Riaan altyd daar. Dan is dit sý beurt om plan te maak. Al beteken dit deesdae hy moet slaap verloor, of met iemand skofte ruil.

Sy weet dis nie sy soort ding dié nie. Die toesprake verveel hom. Hy het die meeste van die tyd sy selfoon skelm op sy skoot. Maar elke keer dat een van haar redenaars klaar gepraat het, klap hy so hard hande dat mense na hom toe omkyk. Dan het hy daardie breë glimlag om sy mooi mond. Die glimlag wat sê: “Ja, nè, hoe’s daai vir jou? Jy weet dit, jy weet jy behoort donners jaloers te wees.”

Net só glimlag hy wanneer sy hom aan iemand voorstel en hy die persoon se hand skud, met sy ander arm styf om haar skouers.

“Jy moet pasop, my goggo,” het sy hom aan die begin geterg, “ek gaan jou nog eendag aan mense voorstel as my chauffeur!” Maar Riaan bring haar in elk geval nog steeds na dié soort goed toe. Hy hou nie van die idee dat sy verloofde voor in die skoolbussie langs die bestuurder moet saamry nie.

Die wind roer die boomtakke bo Nicolene se kop sodat blare soos confetti grond toe val. Sy ril. Mevrou, daar het vandag in pousetyd iets gebeur, kry sy die eerste sin in haar gedagtes agtermekaar. Daar was ’n voorval en jou dogter het seergekry. Of eerder, jou dogter het iemand erg seergemaak.

’n Voorval. Sy vou haar arms en trek haar skouers hoog op, en dan weer ver terug, om die stywe spiere tussen haar blaaie te probeer strek. Wie praat tog van ’n voorval? Dit klink soos iets wat sommer vanself gebeur het. Nie soos iets wat gedóén is nie.

Agter haar gil ’n klomp kinders almal tegelyk. Sy ruk haar lyf te vinnig om na hulle toe en ’n steekpyn skiet deur haar linkerskouer. Niks is fout nie, sien sy dadelik. Hulle speel net. Die kinders jaag mekaar nou met ’n groot gelag rond. Dis net ’n speletjie.

Sy draai stadig weer vorentoe terwyl sy oor haar skouer kyk hoe die meisie nader hardloop. In ’n wilde gimnastiekbeweging druk die kind met al twee haar hande op die muurtjie en swaai die een been oor, met die ander een agterna. Vinnig wikkel sy haar hande onder haar bobene in, ná die geklouter op die ysige klimraam.

Die kind is ’n regte wildewragtig. ’n Meisiekind behoort haar nie so te gedra nie. Slordigheid wys jy is aan die binnekant ook deurmekaar, sê Nicolene altyd vir die kinders. Deurmekaar en sleg, het sy selfs al gesê. Veral die meisies. Dit beteken jy is sleg onder die uithanghemp en die lang naels en die hare wat uit die knippies val.

Tog het sy vandag vir dié meisiekind ’n stempel op haar hand gedruk, nadat die ding gebeur het. Die ding waarby ’n meisie nooit betrokke behoort te wees nie. Wat honderd keer slegter as slordigheid is. Of hande in die sakke loop. Erger nog as woorde op skoolbanke uitkerf of vloek. Sy het dieselfde stempel gekies wat sy gewoonlik gebruik om kinders te beloon wat aan die einde van die dag nog netjies is.

Dis nie lank voordat die meisie weer begin kriewel nie. Asof sy skielik van iets onthou, trek sy haar trui af oor haar linkerskouer totdat die rooibruin vlek op haar hemp uitsteek. Sy kyk van die kol af op, asof sy wil seker maak of Nicolene dit ook sien. Dan trek sy die trui reg.

Nicolene maak asof sy weer hek toe kyk, maar sy loer onderlangs na die meisie se regterhand, die een wat sy nog om haar boarm hou op die plek waar die bloed sit. Die bleek wysvinger trek ’n halfmaantjie na. Van die een punt na die ander, en weer terug. Die meisiekind se kneukels is nerfaf, en nog blink van die salf, maar dit lyk nie eintlik vreemd nie. Daar is soveel krapmerke. Seker van boomklim. Of ’n kat by die huis. Die blou skooltrui is vol fyn wit haartjies.

Dan sien sy uit die hoek van haar oog die motor wat stadig naderkom. So ’n rooie.

Dit was nie ’n voorval nie, skiet die gedagte deur haar kop. Geval. Dalk liewer ’n geval. Mevrou, jou dogter was betrokke by ’n geval van – ’n geval van wat presies?

Die foon vibreer.

Ongeval? Ook nie.

Nee, nee, nee, sy kan nog steeds nie. Veral nie nou nie. Sy kan nie antwoord nie.

Gevallestudie. Dis wat sy vandag besef het sy is. Nie dít wat die kind gedoen het nie, nie die meisie nie; nee, sy, Nicolene, is ’n gevallestudie.

Die motor stop net ’n entjie van hulle af, maar die meisie spring nie op nie. Sy swaai net haar bene vorentoe en agtertoe, sodat die agterkant van haar skoene teen die muurtjie kap. Dit klink dof, met die broek wat in die pad is. Die meisie se broek is te lank agter. Sy trap dit heeldag raak, sodat dit al aan die een kant ’n gat gemaak het.

Dis nie dié kind se ma in die rooi motor nie. Nicolene se kop voel te lig. Die bestuurder is ’n man wat die toeter twee keer vinnig druk, die teken vir ’n meisie met twee lang swart vlegsels om langs hom in te spring. Dis nog nie die regte motor nie, daar is nog tyd oor om te dink. Maar dis asof daar niks is om te onthou nie, en asof daar geen nuwe gedagtes oorbly om te dink nie.

Al wat Nicolene weet, is dat die foon weer bewe.

Sy haak die band van haar skouer af en laat gly die handsak stadig onder haar arm uit. Sy kyk hoe dit tot langs haar op die muurtjie afsak. Dit gaan lê amper stil daar, maar die punt wat aan die een kant afhang, is te swaar. Dit gaan val, weet sy, maar sy keer nie.

Sy staan op net toe dit die grond tref. Sy loop ’n paar tree in die rigting van die sportvelde en ignoreer die meisiekind se stem agter haar. Maak asof sy nie die geluid van skoolskoene op plaveisel hoor toe die meisie opspring nie. Die kind tel seker die sak op. Die sak met die stil skreeuende selfoon in, die ding wat Nicolene nog steeds teen haar lyf voel.

Die een of ander tyd gaan hy ophou bel. Gaan hy besluit dis genoeg en tot hier ry.

Op die verbleikte gras is ’n hokkiespan besig met oefening. Die spelers se geroep versplinter in die lug. Dit bly hang bo die helderkleurige bondel wat heen en weer oor die veld maal. Sy luister na die stemme. Hulle speel net. Dis soos die kleintjies in die parkie. Hulle is nie regtig benoud nie. Dis nie skrik wat so klink nie. Maar van die meisies se gille laat haar hart stamp teen die krimpende traliewerk van haar ribbes.

Die seun wat in pousetyd aan die personeelkamer se deur kom hamer het, se stem was opgewonde. Nie een van die ander onderwysers het regtig opgelet toe sy die deur oopmaak nie. Hulle het hulle ook nie dadelik gesteur aan wat die kind te sê gehad het nie.

Bewus van die drama het hy gefluister, maar hard genoeg vir almal om te hoor: Daar is ’n bakleiery voor meneer Botha se klas, iemand moet kom help.

Nicolene was al af by die trappe en amper in die vierkant toe sy van die teebeker in haar hand onthou. Met die buk om dit op die stoep neer te sit kon sy tussendeur die bene van die bondel kinders voor haar sien.

Sy het vasgekyk in die wydgerekte oë van ’n seun. Bloed het skuins uit sy neus grond toe geloop, onder sy een wang in, waar sy gesig met ’n knie teen die plaveisel vasgedruk was. Die vingers van ’n hand, verrassend klein en bleek, het hom aan sy hare beetgehad. Toe die voet skuif vir beter vastrapplek, het die bandjie van ’n meisieskoen onder die grys skoolbroek uitgesteek.

Staan op, het dit binne haar geskree, gaan keer. Maar haar bene het lam geword. Haar lyf het gaan hurk. En haar tong was dik en warm asof sy self bloed in haar mond het.

Sy het net daar gesit. Kon nie eens ’n geluid uitkry nie. Toe is daar iewers in die deurmekaar geroep van die kinders ’n stem wat net ’n rou klank maak, nie woorde nie.

Die geluid hiervan het haar regop getrek.

Dit was asof niemand besef het sy is daar nie. Alles het onwerklik gevoel totdat sy die selfoon in haar hand gehad het. Toe sy die seun wat die bakleiery staan en afneem, aan die skouer vasgryp en die foon uit sy hand ruk, was dit asof alles uitmekaarspat. Die kinders was binne ’n paar oomblikke almal ver genoeg van die bakleiers af om uit die moeilikheid te wees.

Sy het afgekyk na die twee op die plaveisel. Die woede waarmee die skraal lyfie die seun platgedruk hou, het haar geskok. Maar toe die meisie die vuis waarin sy die seun se hare vasklou, stadig oopmaak, het Nicolene die foon voel swaar word in haar hand. Sy het dit in haar jas se sak gedruk en gesê die seun kon dit aan die einde van die dag terugkry. Toe het sy almal wat nog soos smartvrate op ’n ongelukstoneel rondstaan, weggejaag. Teen die tyd dat die skoolhoof opgedaag het, het die twee bakleiers al regop gekom.

In die hoof se kantoor kon die twee kinders nie vir Nicolene óf mekaar in die oë kyk nie, maar hulle kon die hoof nie ignoreer nie. Die meisie is nie in Nicolene se klas nie, maar toe die ergste verwarring oor was, het sy haar herken as ’n kind uit een van die jonger grade.

Die meisie het nie gehuil nie, net die duiwel in haar oë gehad. Sy het die hoof se vrae nukkerig geantwoord, of glad nie, en geweier om te verduidelik wat gebeur het. Die seun het in elk geval genoeg van ’n bohaai opgeskop vir al twee van hulle. Hy het aansitterig gesnik en heeltyd met ’n stuk toiletpapier oor die droë bloed aan sy bolip gevee. Sonder skaamte die slagoffer, al is hy drie jaar ouer as die meisie.

Hy het niks gedoen nie, het hy bly sê, die mal meisiekind het hom aangeval.

Eers toe sy agterna saam met die meisie badkamer toe loop sodat sy haar gesig en hande kon was, het die kind weer na haar gekyk. Die groen oë het Nicolene in die spieël dopgehou terwyl sy die hare uit die gesiggie vee en weer in ’n bokstert vasmaak. En toe sy help om die grys langbroek af te stof en die das reg te trek, het die meisie haar vertel.

Dis toe dat sy besef het. Gevallestudie. Soos die langvrae wat sy as student moes beantwoord om daardie aaklige eksamens in sielkunde deur te kom.

Kort daarna het Nicolene die video van die bakleiery op die seun se selfoon uitgewis en dit met ’n duidelike boodskap teruggegee: As niemand weet dat daar ooit ’n video was nie, hoef die skoolhoof ook nie uit te vind iemand het iets afgeneem nie.

Wanneer sy nou terugdraai na die parkie, sien sy hoe die kind haar tas agter in ’n motor laai. Dis toe nie ’n speel-speel-motor nie, tref die simpel gedagte haar, en dit is regtig rooi. Nicolene voel sy kan hardop aan die lag gaan. Dis soos om heeltyd te wag dat die klok lui, en dan te ruk van die skrik wanneer dit gebeur.

Die meisie gaan staan by die ruit en beduie iets vir haar ma. Een van die vingers wat vroeër vuis gemaak het, wys in Nicolene se rigting. Die vrou klim uit en lig haar hand onseker om te groet.

Nicolene druk haar bewende hande in haar sakke en stap nader.

Mevrou, jou dogter het vandag ’n ander leerling aangeval. Wat die oorsaak hiervan was, is nie ter sake nie. Selfs om terug te veg, sou dit die geval wees, is om te baklei. Sy kry hiermee haar enigste waarskuwing. Hierdie soort gedrag is, en bly, onaanvaarbaar.

Dis wat die skoolhoof gevra het sy moet sê. Dis wat sy behoort te sê. Maar selfs in haar gedagtes wurg sy aan die oorformele woorde, die skynheilige “mevrou”. Dit laat haar naar voel.

Mevrou se dinges, besluit sy. Al wat oorbly, is dat sy die moed van haar oortuiging sal hê om te sê wat sy moet.

Sy stel haarself voor en maak ’n geselsie. Eers ’n bietjie vertroue wen, voordat sy die vrou se vermoë om haar kind reg op te voed bevraagteken.

“Ek is ’n bietjie bekommerd ná iets wat vandag by die skool gebeur het. Het jy dalk al opgelet dat jou dogter aggressief optree?”

Die manier waarop die vrou frons, maak Nicolene dadelik ongemaklik. Sy is ook bekommerd, verward, nie op die verdediging nie. “Nee,” sê sy, “hoe bedoel juffrou Nicky dan nou?”

Die pyn steek weer tussen Nicolene se blaaie. Watter soort vraag is dit in elk geval? Nicolene, het jy dalk al opgelet dat jý aggressief optree?

Sy leun net effens met haar bobeen teen die muurtjie. Die materiaal van haar broek haak weer aan die growwe stene. Dit gaan wolletjies maak, sy moet dit nie so laat skuur nie.

Denim sou nie só maak nie. Dit sou beter gewees het. Maar Riaan hou nie daarvan dat sy dit dra nie. En sykouse by ’n rompie sou seker nog erger gehaak het, maar dis in elk geval nie eens ’n opsie nie. Daarvan hou hy nog minder.

Nicolene draai haar lyf stadig diékant toe en daardie kant toe sodat sy voel hoe die materiaal skaaf.

“Sy was vandag in ’n bakleiery betrokke.”

Die kind het haar onder haar ma se arm ingewoel. Sy hou een van haar ma se vingers styf vas, sodat Nicolene weer die stempel agter op haar hand raaksien. Jy’s ’n ster! staan daar in effens gesmeerde ink.

Nicolene knyp haar oë toe en dwing haarself dan om na die ma se gesig te kyk.

“Ek wil dit net duidelik maak dat die skool nie sulke gedrag goedkeur nie.”

“Ja. Nee, natuurlik nie,” kry die ma uit. Nicolene was so bang vir die vrou se reaksie, en nou sê sy byna nie ’n woord nie.

Oor die vrou se skouer sien Nicolene hoe Riaan se bakkie by die skoolterrein inry. Met die naarheid wat in haar keel opstoot, kyk sy hoe hy regs draai by die hek, na die hoofgebou se kant toe.

Hy ry te vinnig. Die bakkie wip en stamp oor die spoedwalle. Hy ignoreer die sebrastrepe. Hy jaag verby die ronde bordjies met die spoedbeperking van 20 km/h.

Sy besef dit nie dadelik nie: Hy weet nie sy is hier by die parkie nie.

Hy het geen idee waar sy is nie. Die gedagte swel binne haar uit. Sy dink aan haar motor wat nog presies staan waar sy dit vanoggend geparkeer het. Hy kan maar na haar klas toe loop, dis gesluit. En hy sal verniet aan die skoolkantoor se deur gaan klop.

Wat gebeur nou, gaan die skool optree? wil die ma weet. Wat moet sy met haar kind maak?

Nicolene kyk af. Daar is ’n taai druppel van iets op die kind se een skoen. Sy sien nie die kleur daarvan nie. Sy sien dit net omdat die sand daarin vassit. Soos ’n klontjie modder sit dit daar. Sy is bly sy het dit nie vroeër raakgesien nie. Sy sou dit afgevee het.

En dan sou sy juis nie die bakleiery nie, maar dit wat regtig vandag gebeur het, maklik kon stil lieg.

“Jou dogter het vandag haar eiewaarde besef, dis eintlik al wat die geval is.” Sy glimlag bewerig daaroor dat dit toe dié woord is wat pas. “En niemand hoef op te tree nie. Sy het dit klaar gedoen.”

Terwyl sy kyk hoe die rooi motor hek toe ry, oorweeg sy dit om agterna te loop. By die hek uit en in die straat af. Om net te bly loop, al weet sy nie waarheen nie.

Maar sy doen dit nie.

Nicolene gaan sit op een van die parkie se swaaie en haal haar selfoon uit haar sak. Sy kyk nie hoeveel oproepe sy gemis het nie. Sy maak dadelik die video oop wat sy vroeër vir haarself aangestuur het.

Sy wil nie die bakleiery sien nie. Sy kyk net weer en weer na die stukkie heel aan die begin. Toe die seun al met die meisie begin sukkel het, maar voordat sy terugveg. Nicolene wil die meisie se gesigsuitdrukking sien die oomblik voordat sy haar uit die seun se greep ruk.

Terwyl sy na die video kyk, stoot sy haarself terug en swaai dan vorentoe. Terug, en vorentoe, swaai sy onder Riaan se greep uit.

Nog vinniger, en hoër.

Riaan, wat so lief is vir haar dat hy haar in die huis toesluit terwyl hy nagskof werk.

Hoër.

Sodat sy veilig is.

Nog hoër, nog.

Sodat sy die oggend soos ’n hond voor ’n toe hek moet staan totdat hy met die sleutels by die huis kom.

Op die hoogste punt verslap die kettings en die swaai ruk sodat sy die foon neergooi om te keer dat sy val.

Riaan, wat met al sy liefde netsowel ’n klomp bloederige, krom halfmane oor haar hele lyf kan los, nes dié wat aan die meisiekind se arm sit van toe die seun teruggeveg het.

“Juffrou, is dit hoe ’n lafbaait lyk? Ek wou nie een hê nie. Voor die bakleiery het hy gesê hy gaan my ’n lafbaait gee, toe druk hy my vas.”

Luistervink

Подняться наверх