Читать книгу Luistervink - Madré Marais - Страница 6

Sinker

Оглавление

Hulle het langpad gery, soos hulle maar elke Desembervakansie gemaak het vandat hy kon onthou. Hy wou nie meer hier wees nie. Dit was altyd een helse optog, die gepak vooraf, met sy ma wat karring oor genoeg pare sokkies en onderbroeke terwyl sy pa in die garage rondkrap en vloek as hy dink niemand hoor hom nie, totdat hy eindelik moeg gesukkel en moerig winkel toe gaan vir ’n klomp vislyn en kunsaas en hoeke en loodsinkers so groot soos hul rifrug, Spoed, se knaters. ’n Oom wat eenkeer verby sy pa gestap het waar hy op die strand visvang, het gesê dis te swaar vir die slap karpstok. Dis dié dat die lyn heeltyd vassit en afbreek. Daardie sinker gaan nog die stok knak. Sy pa het gesê gaaf, dankie, hy sal onthou. Toe die oom ’n ent weg was, het hy in sy baard in gemompel dat net moffies enigiets kleiner as ses onse in die see gooi, begin inkatrol en ná ’n gestoei die lyn afgesny.

Hulle het vroegoggend by die huis weggetrek. Ná vyftien jaar hiervan was hy tot in sy siel toe moeg vir dieselfde pad, vir die musiek wat die aandag daarvan moet aftrek dat sy ma en pa niks het om vir mekaar te sê nie, selfs vir Bradley in sy superheld-T-hemp wat op die bakkie se agtersitplek sit met sy aandag op waddehelookal, blind vir die wêreld se gemors. Bradley was nog dom genoeg om aan te neuk, maar hy was oor dit. Ten minste kon hy sy ma oorreed om sy pa om te praat dat hy agterin, onder die kap langs die sakke en goed, sit. Dit was beter, omdat hy alleen kon wees. Maar toe hulle by die dam kom, was dit eers fototyd en Bradley was natuurlik eerste uit die bakkie om langs hul pa te gaan staan en glimlag asof alles oukei is, en sy pa het hom opgetel en op die muur tussen die parkeerplekke en die steil afdraand na die water laat sit sodat sy ma ’n mooi een kon neem met die dam en die seilbote agter hulle en die son op die water – nes dit later by die see sou wees. Toe is dit sy ma wat karring dat hy ook regstaan vir ’n foto, maar hy wil nie, en sy dreig, maar hy sal nie. Sy moet maar foto’s neem van die leë sonskyn om te hou vir later. Hy sal nie in die prentjie wees nie. En hy bly sit op die agterklap van die bakkie terwyl hulle met die sementpad op die damwal langs stap, sy ma en pa en Bradley. Hy wonder hoeveel onse lood volgens sy pa goed genoeg sal wees om in die dam te gooi. Toe hulle ver genoeg vooruit is, loop hy om tot voor die bakkie en langs die muur af. Klein golwe spoel teen die klippe. Die wind waai reguit in sy gesig. Hy loop tot in die middel van die damwal en wag vir ’n motor om eers verby te ry voordat hy hom teen die muur optrek en gaan sit sodat sy bene anderkant afhang. Ver onder sy voete is nou net groenerige water. Langs hom op die muur wip ’n voëltjie rond. Hy hou hom dop. Die voëltjie kyk ook oor die rand, ondertoe. Hy laat sak sy stert en draai sy kop en knip sy ogies, en sy vlerke klap die ritme van ’n bang, bang hartklop teen sy lyf uit voordat hy opvlieg in dieselfde oomblik dat Theo val.

Luistervink

Подняться наверх