Читать книгу Geheim van die Erongoberge - Magdaleen Viviers - Страница 3

Proloog

Оглавление

Tony Brown kyk onvergenoeg en kortasem na die vertrekkende vliegtuig op die lughawe van Huambo in Angola. Met ’n vuil, gekreukelde sakdoek vee hy die sweet van sy ronde gesig af. Hy het so pas sy vliegtuig verpas.

Onrustig dwaal sy oë deur die vertrek, rus dan op die twee mans wat hom nader en sy hartklop versnel. Hulle stap egter by hom verby en hy sug verlig. Hy kan nie langer hier in Angola bly nie, al het hulle hom as ingenieur nodig.

Gespanne loer hy weer oor sy skouer na die deure agter hom. Niemand agtervolg hom nie, maar hy sal ’n plan moet maak om hier weg te kom. Die twee mans het ’n entjie van hom af tot stilstand gekom en hul gesprek dring tot hom deur. ’n Opgewondenheid neem van hom besit. Hulle praat Afrikaans, wat hy gedeeltelik kan verstaan, maar nie eintlik kan praat nie. Al wat belangrik is, is dat hulle op pad is na Suid-Afrika. Toe hulle aanstaltes maak om te vertrek, nader hy hulle met kort, haastige treë.

“Verskoon my, menere, is julle op pad na Suid-Afrika?” vra hy op Engels.

Gesteurd kyk Hein van der Walt af na die kort, gesette man wat hom voorbarig aan sy elmboog terughou. “Ja, ons is, maar ons vlieg met ’n privaat vliegtuig,” kom die kortaf antwoord.

Hein trek sy arm beslis uit die Engelsman se greep. Sy oë is op die vliegtuig wat hy moet loods, sy gedagtes by sy werk. Hy vlieg die manne van die verskillende myne heen en weer tussen Johannesburg en Angola. Sy vriend, die bejaarde doktor Marius Blignaut, vlieg vandag saam met hom terug nadat Hein hom ’n week gelede na Huambo gevlieg het en hom daar gelaat het. Marius het hom laat verstaan dat hy besigheid in Huambo het.

Met gemengde gevoelens kyk Hein na die ouer man langs hom. Die skok wat hy vandag gekry het, lê nog vars in sy binneste. Marius Blignaut het hom gebruik, en hy het onskuldig in hul strik getrap. Hein vee met sy hand oor sy oë. Wat sal van sy vrou word as hy in ’n vreemde land in hegtenis geneem word? En hy is onskuldig!

Hein is haastig om tuis te kom. Hy het besluit dat dit sy laaste vlug sal wees, want Linda is swanger. Hy wil graag by haar wees, en nie in ’n vreemde land nie, wanneer sy geboorte skenk.

Vinnig lek Tony Brown oor sy dik lippe en vee weer die sweet van sy voorkop af. Hierdie hitte sal hom nog van sy verstand af dryf. Hy wend hom nou tot die ander man.

“Meneer, is daar nie plek vir my nie? Ek moet dringend na Suid-Afrika terugkeer. Kyk, hier is my kaartjie. Ek het so pas die vliegtuig na Suid-Afrika verpas.”

Hy sien hoe die twee mans na mekaar kyk. Die lang man trek sy skouers traak-my-nieagtig op en stap voort. Hoopvol kyk Brown na die ouerige man.

“Daar is seker nog plek vir jou,” stem hy duidelik onwillig in.

Die twee stap verder sonder om hulle aan Brown voor te stel, of om vir hom te wag.

Haastig, blasend, volg hy hulle met sy kort treë toe hulle na die Cessna-vliegtuig stap. Hy sluk. Hy hou reeds nie van vliegtuie nie, nou moet hy nog in so ’n klein vliegtuigie vlieg. Wel, hy het nie ’n keuse nie. Dis óf dit óf dis die tronk in ’n vreemde land. Hy kan ook nie langer in hierdie hitte bly nie. Steunend klim hy in.

Tony Brown praat nie met die Suid-Afrikaners nie. Dis ook duidelik dat hulle hom ignoreer. Hy gee nie om nie, solank hy net kan wegkom. Met ’n grynsende glimlag kyk hy terug na die lughawe toe hulle opstyg. Hulle sal lank na hom soek. Miskien weet hulle nog nie eens dat hy daardie man doodgeskiet het nie. Hy dink hulle soek nog na die skuldige.

Wat hom betref, was dit selfverdediging. Die man het hom met ’n mes bestorm, wat anders kon hy doen? Nooit weer keer hy terug na hierdie ellendige plek nie, neem hy hom voor.

Moeg lê hy met sy kop agteroor teen die rugleuning en steur hom nie verder aan die mans in die vliegtuig nie. Sy gedagtes is ook nie by hulle nie. Sy asemhaling kom rustig. Hy wil liewer nie dink aan waar hy hom bevind nie. Solank hy hom verbeel hy ry in ’n motor, is alles reg. Toe een van die mans se stem ’n ruk later fluisterend opklink, luister hy eers afgetrokke daarna.

“Hein, ek wil jou iets vertel. Eintlik wil ek eerlik teenoor jou wees. Daardie groot houtkis wat jy by my gesien het toe jy my ’n week gelede hier afgelaai het …” Hy aarsel ’n oomblik. “Daar was wapens in.”

“Wat! Hoe kon jy, Marius? Daardie wapens gaan nog baie mense se lewens eis. As iemand daarvan uitvind, is ek ook in die moeilikheid, en ek is onskuldig! Niemand sal my egter glo nie, want ek het jou daar besorg. Dis genoeg dat ek uitgevind het van die ander dinge waarmee julle besig is.” Sy stem is bitter.

Marius Blignaut antwoord hom nie daarop nie. “Ek het ook betaling daarvoor gekry,” sê hy sag. Weer aarsel hy. “Ek wil jou iets wys.”

Brown luister nou met aandag na die gesprek. Hy hoor hoe die jonger man skielik sy asem hard intrek en sy nuuskierigheid neem toe.

“Marius, waar kry jy daardie goed?”

“Ek sê mos dis die betaling wat ek gekry het. Ek wil dit met jou deel, aangesien jy my daarheen geneem het. Ongelukkig is daar al drie mense dood oor hierdie einste goed in my hand.” Hy kyk na die man agter hulle. “Ek wonder of hy slaap.”

“Nee, dankie, ek wil nie daarvan hê nie. Ek sal altyd skuldig voel. Hemel, ek kan dit nie verstaan nie! Jy’s tog ’n verantwoordelike mens, Marius. Waarom het jy jou in hierdie ding begewe? Besef jy nie wat daardie mense moet deurgaan wat hierdie goed uit die berg moet haal nie?”

Hein kyk na agter voor hy vervolg: “Maak eers heeltemal seker of die man slaap. ’n Mens weet nie wat sy reaksie sal wees as hy hierdie goed by jou sien nie. Marius, jy weet wat dit aan ’n man doen. As daar al mense dood is, is daardie goed mos bloedstene en –”

Vinnig en gerusstellend val die ouer man hom in die rede: “Toemaar, die man slaap, moenie bekommerd wees nie. Ek stem nie met jou saam nie. Ek noem dit nie bloedstene nie, want …”

Brown, wat gemaak het of hy rustig slaap, se aandag is nou toegespits op die fluisterende stemme. Toe die ouerige man se stem dus opgewonde raak en hy besef waarvan hy praat, maak hy sy oë op skrefies oop en sit vorentoe. Sy oë rek. Verslae, ongelowig staar Brown na die voorwerpe in die man skuins voor hom se hand. Hy sluk hard.

Hein kyk terug na sy vriend langs hom en besef te laat dat Brown wakker is toe hy hom uit die hoek van sy oog gewaar. Nogtans probeer hy haastig die inhoud van sy vriend se hand vir Brown se oë bedek.

“Bêre daardie goed!” beveel Hein skerp.

Tony Brown trek sy asem hoorbaar in. Gierig rus sy blik op die ongeslypte diamante, só groot dat die aantal stene die ander man se handpalm vol lê. Hemel, daardie stene moet ’n fortuin werd wees.

Sy stem is hees toe hy vra: “Waar kry julle daardie diamante?”

Marius druk haastig die diamante in ’n wit leersakkie en knoop dit toe, maar Brown handel vinnig. Hy gryp na die sakkie en ’n gestoei ontstaan. Die leersakkie met die diamante val tussen die voorste twee sitplekke van die vliegtuigie in. Desperaat probeer die doktor dit in die hande kry.

Brown keer hom deur hom met sy pistool ’n harde hou net agter die oor te slaan. Met ’n kreun sak die ouer man in sy sitplek terug. Sy nek knak slap vooroor. Brown gryp na die sakkie, maar Hein is hom een voor.

Met gierige oë kyk Brown na die vlieënier met die sakkie in sy hand. Dodelik ernstig rig hy die pistool op Hein. “Gee my daardie sakkie of ek skiet jou net hier,” sis hy.

Die vliegtuigie tref skielik ’n lugleegte en Brown verloor sy balans. Hy gryp na die rugleuning voor hom en trek onverwags die sneller. Die koeël slaan in die instrumentepaneel van die vliegtuigie vas.

Geskok, verskrik deur die onverwagte harde knal in die beknopte ruimte van die vliegtuig, laat val Hein van der Walt die klein vliegtuigie. Dit tuimel dadelik afwaarts, grond toe.

Bevrees skree Brown op die vlieënier: “Tel die verdomde vliegtuig op, anders skiet ek jou!”

Desperaat probeer Hein die vliegtuig weer op hoogte kry, maar met die instrumente wat beskadig is, het hy beheer oor die vliegtuig verloor. Dit val met skreeuende enjin in ’n rondomtalie afwaarts.

Brown kyk deur die venster na onder, maar daar is net kaal, verwronge bergspitse onder hulle. Hy kners op sy tande toe sy maag ’n draai maak. Sy blik keer terug na die vlieënier toe dié weer beheer oor die Cessna het. Hy sien die sakkie waarin die diamante is in Hein se hand. Stadig rig hy weer die pistool op die vlieënier.

Koud kyk Hein van der Walt na die man agter hom. Sy hart klop egter met ’n onrustige gevoel, want hy besef dat die kort man se gierigheid vandag hulle dood kan beteken.

“As jy daaraan dink om my te skiet, verongeluk jy ons albei,” waarsku hy. “Jy het reeds van die instrumente verwoes. Jy is dan ook die diamante kwyt, want ek sal sorg dat jy dit nie kry nie. Hierdie stene maak julle almal mal. Dis bloedstene. Dit het al drie lewens geëis, nou het jy ’n vierde ook geneem. Wil jy nóg twee lewens neem, joune inkluis? Is dit die moeite werd?”

“Ek gee nie om nie, ek wil daardie stene hê. Ek is lus en skiet jou!” dreig Brown.

Met ’n sarkastiese glimlag kyk Hein na hom. “Soos ek gesê het: dan sterf jy ook!”

Brown loer na onder. “Waar is ons nou?” wil hy kortaf weet.

Hein van der Walt kyk ook na onder. “Bokant die woestynagtige Erongoberge van Namibië.”

Brown kners op sy tande. Vir ’n oomblik oorheers die mislikheid hom toe die vliegtuigie onverwags weer val toe dit ’n lugleegte binnegaan. Hy sien hoe die vlieënier sy houvas op die sakkie diamante verloor toe sy hand onverwags hard teen die vensterraam kap. Die sakkie val by sy voete.

Brown druk die pistool teen Hein se kop en sis deur sy tande: “Land met die vliegtuig hier êrens, want ek wil daardie diamante hê.”

“Dis nie joune nie, en ek kan nie hier land nie. Ek gaan jou aan die polisie uitlewer.”

Woedend, en sonder om te dink wat hy doen, slaan Brown met sy pistool na die man voor hom. Met ’n kreun val Hein oor die instrumentepaneel. Met grootgerekte oë en ’n wildkloppende hart besef Brown wat hy gedoen het.

Skielik verloor die vliegtuig momentum. Dit val tollend na onder. Die neus van die Cessna word teruggedwing in die rigting waaruit hulle gekom het. Dit sweef ’n ruk lank, om skielik weer tollend, met skreeuende enjin na onder te val. Vreesbevange kyk Brown deur die venster terwyl hy krampagtig aan die sitplek vasklou. Met ’n sinkende gevoel besef hy dat hulle enige oomblik die berge gaan tref.

Vinnig soek sy oë na die sakkie diamante, maar hy sien dit nêrens. Desperaat worstel hy om die deur van die vliegtuig oop te kry. Hy moet uit die vliegtuig kom voordat dit met die aarde kennis maak. Met ’n laaste wanhopige poging slaag hy daarin. Die skielike geweldige wind wat die ruimte van die vliegtuig binnestroom, ruk hom van balans af en by die vliegtuig uit …

Stadig keer Tony Brown terug na die werklikheid. Vir ’n oomblik weet hy nie waar hy is nie. Die son steek warm op hom neer en hy knip sy oë daarteen. Traag sit hy regop en kyk om hom heen.

Sy blik val op die vliegtuig. Hy het sowaar die vliegramp oorleef! Hoe is dit moontlik? Hoe lank lê hy hier? Hy is verbaas om te sien dat die vliegtuig nie uitgebrand het nie. Dit lê egter stukkend gebreek teen ’n helling van die berg, met ’n afgrond gapend aan die ander kant.

Die diamante! Hy moet dit gaan soek. Met ’n kreun kom hy regop en druk sy hand dadelik teen sy ribbes vas. ’n Pyn skiet deur sy arm. Hy besef dat hy dalk sy ribbes sowel as sy arm gebreek het, want hy kan nie sy linkerhand beweeg nie. Hy kyk af na sy klere en merk die bloed daaraan. ’n Duiseligheid wil hom oorweldig, maar hy kners op sy tande en knyp sy oë styf toe.

Ná ’n paar oomblikke kyk hy om hom rond. Die hoë kranse lyk ru, dor en onherbergsaam. Daar is geen lewe in sig nie, nie eens voëls nie. Alles is stil en verlate. Hy strompel na die vliegtuig en soek wanhopig na die sakkie diamante, maar kry dit nie. Die pyn wil hom oorweldig en hy leun swaar teen die voorste gedeelte van die vliegtuig aan.

Skielik kraak die wrak en gly ’n meter verder teen die skuinste af. Hy skrik en ruk terug. Hy sien meteens die ouer man raak. Versigtig gaan hy nader, besef dan dat die man dood is. Met moeite sleep hy hom na die afgrond toe. Hy moet ontslae raak van alle bewyse, dink hy desperaat.

Hy kyk om hom heen waar die vlieënier is, maar gewaar hom nie. Weer oorweldig ’n duiseligheid hom en hy gaan staan ’n oomblik. Hy ruk sy kop op en luister gespanne na ’n stem wat van iewers opklink. Is dit die vlieënier wat ook die ramp oorleef het?

Hy strompel weer terug na die wrak. Die diamante! Hy moet die vlieënier ook by die afgrond afgooi, voordat die man van die diamante ontslae raak. Al moet hy hom skiet. Waar is sy pistool?

Meteens is daar meer as een stem, en hierdie keer baie duideliker. Hy frons. Waar kom die stemme vandaan? Net voordat die duisternis hom oorweldig en sy bene onder hom invou, sien hy deur ’n waas hoe ’n polisie-reddingsgeselskap na hom aangestap kom.

“Jy is uiteindelik wakker. Hoog tyd, hoor, jy lê al twee dae hier.”

Tony Brown knip-knip sy oë teen die skerp lig. Sonder begrip kyk hy na die vrou met die wit klere aan. Dan kom hy agter dat sy arm in gips is, dat sy borskas seer is. Stadig keer die gebeure na hom terug. Die diamante! Met ’n sagte verwensing staar hy op na die plafon van die wit vertrek.

Sy oë draai terug na haar. “Waar is ek?”

“In die Kataura-hospitaal in Windhoek. Jy’s gelukkig om te leef, meneer Brown,” gesels die verpleegster. “Die vliegtuig het in stukke gebreek toe dit die aarde tref, en jy kan bly wees dat jy uitgeval en oorleef het. Die polisie het jou daar gekry. Gelukkig was jou vliegtuigkaartjie en paspoort in jou baadjiesak. Wat het verkeerd gegaan met die vliegtuig, meneer Brown?”

Hy antwoord haar nie. Hy frons ongeduldig. Dan bevind hy hom seker nog in Namibië. Hy sal teruggaan om na die diamante te gaan soek. Hy het darem naastenby ’n idee waar om te soek: tussen die rotse van die Erongoberge in Namibië waar die vliegtuigwrak lê.

Waar hierdie Erongoberge is, weet hy nie. Miskien is dit naby dié Windhoek waarvan die verpleegster praat, maar hy sal uitvind. Sy maag trek skielik op ’n knop saam. Die polisie! Hy hoop nie hulle het die diamante ontdek nie, want daardie stene behoort aan hom.

Hy sal so verlangs by hierdie praatsieke verpleegster uitvind of iemand nie dalk iets in die vliegtuig gevind het nie. Die vlieënier is seker dood, dis waarom sy nie melding van hom maak nie. Hy kyk by die venster uit. Hy sal iemand moet kry om hom met die soektog te help, sonder om enige vrae te vra. Sy vriend Charl Taljaard? Ja, Charl sal hom help.

Dis net: Charl is behep met diamante. Dit sal miskien ’n waagstuk wees om hom te betrek, maar hy het nie ’n keuse nie. Charl het die geld om ’n ekspedisie op die been te bring. Hulle móét net daardie diamante in die hande kry! Daarna sal hy baie geld tot sy beskikking hê.

Hy kyk weer na die verpleegster. “Sal jy my vriend kan laat weet waar ek is? Dis baie dringend. Hy bly in Suid-Afrika.”

Sy glimlag vriendelik. “Sekerlik, meneer Brown. Gee my net al die besonderhede.”

Nadat hy die inligting aan haar verstrek het, stap sy weg. Maar by die deur aarsel sy en kyk terug na die man in die bed. “Ek moet jou waarsku: die polisie wil met jou kom gesels. Hulle wil alles omtrent die ongeluk hoor.”

Met ’n onrustige gevoel kyk hy haar agterna. Wat moet hy die polisie vertel? Hulle sal uitvind dat die vliegtuig nie aan hom behoort het nie en dat hy nie alleen daarin was nie.

Toemaar, hy sal wel aan ’n plan dink en hulle op ’n dwaalspoor lei. Hy sal hulle beslis nie vertel van die diamante nie. Dit behoort aan hom. Hy sal sorg dat dit in sy besit kom, al moet hy weer moor daarvoor.

Geheim van die Erongoberge

Подняться наверх