Читать книгу Geheim van die Erongoberge - Magdaleen Viviers - Страница 5

2

Оглавление

Wim sluit ’n oomblik moeg sy oë toe hulle laat daardie aand by die Eiland in Upington stilhou.

“Dankie tog, hierdie eerste skof is verby. ’n Warm bad en bed sal nou heerlik wees,” sug Joan Vorster en rek haar behaaglik uit.

“Gaan ons ’n vleisie braai, Tertius?” vra Wim.

“Dit sal nie sleg smaak nie, hoor. Het jy vleis saamgebring, of moet ons gou gaan koop?”

Omgekrap kyk Simoné na Tertius. “Dis te laat daarvoor, daar is geen winkels meer oop nie. Buitendien kan julle nie nog honger wees nie. Julle het die hele dag biltong geëet.”

“Natuurlik is ons honger. ’n Man kan nie net van biltong leef nie. Dis ’n lekkerny, nie kos nie,” antwoord Wim haar. “Ek het voorsiening gemaak, want ek het besef julle sal nie daaraan dink nie. Ek het geweet ons sal laat hier aankom en het vleis en brood ingepak. Julle moet net sorg vir die toebroodjies. Dis alles in die koelsak.”

Tertius druk Simoné tergend teen hom vas toe sy hardop kreun. “Moenie vir my vertel jy wil gaan slaap nie? Julle het dan heelpad geslaap,” tart hy haar.

Simoné loer verby Tertius na die lang blondekopman toe hy weer praat.

“Te oordeel na haar slanke figuurtjie kan party mense seker nie baie eet nie. Miskien sit hulle te vinnig vetjies op die verkeerde plekke aan. Jy weet mos wat ek bedoel, Tertius.”

Simoné gluur die man voor haar omgekrap aan en maak haar uit Tertius se omhelsing los. “Jy het niks met my eetgewoontes uit te waai nie, en ek …”

Tertius skaterlag en sy draai kwaad na hom. “Jy kan self die toebroodjies vir julle maak, ek gaan slaap.”

Wim versper haar weg met sy groot liggaam. Hy bekyk haar met ’n grinnik op en af, sy hande op sy heupe gestut. “O nee, eers die toebroodjies. Jy kan tog sekerlik nie toelaat dat ons arme mans honger gaan slaap nie. Of kan jy nie toebroodjies maak nie?” wil hy sarkasties weet.

Hulle meet mekaar met die oë. Sy wil hom eers iets bytends toesnou, maar bedink haar betyds. Hierdie rondte het hy gewen, dit moet sy toegee. Maar haar beurt sal nog kom, wag maar. Sy kners op haar tande en sien hoe Tertius met ’n breë grinnik na hulle kyk. Verwytend kyk sy na hom, voordat sy woordeloos om Wim Beukes stap om die toebroodjies te gaan maak.

Sy sien net betyds hoe Charl die oopplan-kombuis binnekom en koes vinnig agter die toonbank weg. Sy sug verlig toe hy uitstap sonder om haar te gewaar. Sy het tog nie nou krag om nog sy attensies ook af te weer nie. Hy laat haar behoorlik gril.

Waarom is hy so haastig om by die Erongoberge te kom? Toe hy besef het dat Wim by die Eiland indraai om daar te oornag, het hy hardop kapsie gemaak. Hy wou deurry, het hy aangevoer.

Wim Beukes het hom egter net koel maar beslis meegedeel dat hy plek vir die nag hier bespreek het. Charl het gesien dat hy nie met Wim sal kan redeneer nie, hom nog minder sal kan oortuig. Dus het hy maar dikmond sy woorde gesluk.

Ingedagte berei Simoné die toebroodjies voor met die kaas en tamaties wat sy in die koelsak gekry het, maar tog ook met ’n glimlaggie. Beukes weet hoe om die nodige in te pak. Seker al gewoond daaraan, dink sy.

Sy pak die toebroodjies op ’n bord en laat dit op die tafel onder ’n doekie. Vinnig kyk sy waar die mans is en maak dat sy wegkom. Sy is nie honger nie. ’n Warm stort sal die moegheid uit haar liggaam neem.

Toe sy in die kamer kom wat sy met Joan deel, merk sy dat die ander meisie klaar in haar bed lê. “Waar kom jy aan ’n man soos Charl Taljaard? Is jy regtig verlief op hom?” wil sy reguit weet.

Die blondekop slaan haar blou oë neer en vroetel met die laken. “Ek weet nie. Ek bedoel, ek glo nie ek is op hom verlief nie. Ons het by ’n partytjie ontmoet, en ek het nogal gevlei gevoel dat hy my uitgesonder het.”

“Hoe lank gaan julle uit?”

“Vier maande. Dis te sê wanneer hy lus het om my uit te vra. Hy het ’n reputasie dat ’n meisie dit nie lank by hom uithou nie.”

“Maar as jy dit weet, waarom hou jy dit nog by hom uit? Julle pas nie by mekaar nie. Ek sou hom lankal onder sy bas geskop het.”

Voordat Simoné begin uittrek, sluit sy eers die deur. Sy sien Charl Taljaard se gesig voor haar en ril liggies. ’n Mens weet nooit of hy die idee in sy kop sal kry om te kom kyk wat hulle doen nie. Sy vertrou hom nie. Dan kyk sy terug na die meisie in die bed.

“Daardie gedagte kom al hoe sterker na vore.” Joan stut haar op haar elmboog en kyk na Simoné. “Ek het nie geweet jy’s verloof nie. Jy het niks van jou verlowing by die werk laat val nie. Waarom dra jy nie jou ring nie? Jou verloofde is omtrent aantreklik. Ek verbeel my dat ek hom al êrens gesien het. Wat dink jy van Wim Beukes? Hy’s net so aantreklik, nè?”

Simoné glimlag. “Ja, Tertius is aantreklik. Wim Beukes? Die man dink ooglopend baie van homself. Maar ek moet erken: hy ís aantreklik met daardie blonde kop en blou oë van hom.”

Sy ignoreer die blondekop se ander vrae en stap onder die stort in. Sy kan Joan nie die waarheid vertel nie. Dalk laat glip sy iets teenoor Charl.

Bibberend draai Simoné haar stywer in haar dik wolbaadjie toe. Dis nog donker en koud toe hulle die volgende oggend in die pad val. Sy wou eers nie die baadjie saamneem nie, en is nou dankbaar dat Tertius haar omgepraat het.

Waarom jaag Wim Beukes hulle so vroeg uit die bed? Sy hoop dat hy êrens sal stilhou vir ontbyt. Sy voel taamlik hol op haar maag.

Simoné kyk teen die agterkop vas van die man wat haar gedagtes so oorheers. Sy merk dat hy vanoggend darem ’n baadjie aanhet. ’n Frons kruip tussen haar wenkbroue in toe sy by die venster uitkyk. Tot selfs haar drome oorheers hy. Hy het gisteraand net eenvoudig met sy groot gestalte in haar droom geklim en dit behoorlik oorgeneem.

Sy bloos liggies toe sy aan haar droom dink. Hy het haar driftig in sy sterk arms toegevou en haar asem behoorlik uit haar gesoen. Ingedagte sit sy haar vingerpunte teen haar halfoop lippe. Sy wonder hoe hy regtig sal soen. Hy het ’n mooi mond en sal ’n meisie seker na groot hoogtes lei …

Hemel tog, waaraan dink sy! Sy is nou behoorlik laf. Hier sit sy en droom oor die man en hy steur hom nie eens aan haar nie. Is buitendien ’n vreemdeling vir haar. Boonop dink hy sy’s verloof.

Skuldig kyk sy op en ontmoet die ligblou oë in die truspieëltjie. Tergend knipoog hy vir haar. Onverwags slaan haar hart bollemakiesie en sy kyk vinnig weg. Die vermetelheid van die mansmens om vir haar oog te knip! Benoud wonder sy of hy haar gedagtes kan lees. Sy oë lag haar nie verniet uit nie.

In Wim se blou blik kruip ’n geamuseerde lag toe hy sy blik wegdraai van die truspieëltjie. Waarom lyk die meisie so skuldig? Waaraan het sy gedink? Miskien aan hom?

Sy fassineer hom met daardie onstuimige bruin oë wat so maklik kan vuur spoeg. Haar kop wat sy so parmantig agteroorgooi. Daardie parmantige houding van haar wat hom behoorlik uitnooi om haar te tem. Hy frons. Hy moet onthou sy behoort aan ’n ander, ’n man van wie hy dadelik gehou het.

Sy blik glip weer na die truspieëltjie en hy merk dat sy nou met geslote oë lê, haar kop teen die sitplek gesteun. Waarom kan hy haar nie ignoreer soos hy met al die ander meisies op sy ekspedisies doen nie? Dis net … daar is iets aan haar wat sy aandag gevange hou. Hy roer sy breë skouers. Hy sal haar uit sy gedagtes moet kry.

Skuinsweg kyk hy na die man langs hom. Hy hou ook nie van die aandag wat Taljaard aan Simoné gee nie. Dit laat hom onrustig voel.

Sy frons sny dieper in sy voorkop toe hy dink aan die gesprek wat hulle gisteraand om die vuur gehad het.

Toe Taljaard hom by die vuur aansluit, het die gesellige atmosfeer tussen Wim en Tertius verdwyn. Hy het na Tertius gekyk en die onvriendelike uitdrukking op sy gesig gesien en dadelik geweet dat Tertius ook nie van Taljaard hou nie.

“As ek my sin kon kry, het ons deurgery,” het Taljaard weer begin karring. “Ek weet regtig nie waarom julle nog wil oornag nie. Ek kon jou help bestuur het. Selfs Hougaardt sou jou sekerlik afgelos het.”

Wim het hom opnuut vererg. “Ek het jou gesê ek bestuur alleen. As jy nie van my metodes hou nie, Taljaard, kan ek julle met die grootste plesier net hier los en terugkeer. Ek het baie ander en beter dinge om met my tyd te doen.”

“Ek het jou meer as genoeg betaal vir hierdie ekspedisie, en ek verwag van jou om aan my wense te voldoen,” ruk Charl hom op.

Afgemete stap Wim om die vuur en gaan staan amper teenaan die korter man. Hy sien hoe Taljaard vinnig sluk. “Laat ons twee mekaar nou baie mooi verstaan: jy het my nie gekoop nie. Ek is ook nie afhanklik van jou geld nie, Taljaard. My eer is egter op die spel. Ek het julle beloof dat ek julle na die Erongoberge toe sal neem, en dit sal ek doen, maar op mý voorwaardes. Is dit duidelik? Ek weet dat Simoné van der Walt met ’n spesifieke doel na die Erongoberge toe gaan en ek sal haar daarheen neem. As jy ons dus wil verlaat, sal niemand jou keer nie.”

Charl neem vinnig ’n apologetiese houding in, met sy hande beskermend voor hom in die lug, en staan veiligheidshalwe ’n paar treë terug. “Dis nie nodig om jou so op te ruk nie. Dis tog ek wat vir hierdie ekspedisie betaal,” laat hy vies hoor.

“Waarom is dit vir jou so belangrik dat jy juis na hierdie spesifieke berge toe wil gaan, Taljaard? Daar’s niks anders daar behalwe woestyn nie. Ek het jou opgesom vir ’n stadsmens en nie een wat tussen die berge wil infoeter nie?”

“Soos Simoné het ek ook ’n spesifieke rede waarom ek daarheen wil gaan. Ek sal nie saameet nie. As julle my sal verskoon, gaan ek slaap.”

Stilswyend kyk Wim Taljaard agterna toe hy wegstap. Dan kyk hy terug in die hart van die kole. Weer kom daardie waarskuwende gevoel by hom op. Hy vertrou die man glad nie.

Dis Tertius wat die stilte tussen hulle verbreek. “Ek wonder tog waarom hy so gedetermineerd is om by daardie berge uit te kom.”

“Wel, eersdaags sal ons weet. Die vleis is reg. Miskien het daardie verloofde van jou tog vir ons toebroodjies gemaak.”

Saam stap hulle die woonstel binne en vind die genoemde toebroodjies op die tafel. Met ’n skewe glimlag staar Wim vir ’n oomblik na die toebroodjies, voordat hy begin weglê aan die vleis.

Met ’n tevrede glimlaggie kyk Wim op sy horlosie. Dis nog vroeg, nou eers vieruur. As hulle nie tyd langs die pad verspil nie, kan hulle vanmiddag ongeveer halfvier by hul bestemming aankom.

“Ek dink julle moet solank jul dokumente regkry vir die grenspos, mense,” sê hy oor sy skouer. “Ek wil nie te lank hier vertoef nie. Dis nog omtrent ’n uur en ’n half se ry voordat ons op Karasburg kan gaan koffie drink. Ons sal eers by Keetmanshoop ontbyt eet.”

“Hoe ver is Keetmanshoop van Karasburg af?” vra Joan.

“Ongeveer nog so 220 kilometer. Nog om en by twee ure se ry.”

“Teen daardie tyd is ek al dood van die honger,” mompel Simoné onderlangs. Haar oë lig en ontmoet die laggende bloues in die truspieëltjie toe hy die dakliggie aanskakel.

“Dis jou eie skuld. Jy wou mos nie gisteraand eet nie.”

Vir Simoné lyk dit of sy oë haar spottend uitlag. Sy vererg haar toe hy boonop weer vir haar oogknip voordat hy die liggie afskakel. Sy kan egter nie haar vinnige hartklop beheer nie en kners sag op haar tande. Verwaande vent!

Sy’s verloof, maar nogtans knip hy vir haar oog. Hy lê seker aan by al wat ’n meisie is op sulke safari’s wat hy onderneem. ’n Onverwagte steek van jaloesie prik deur haar en sy frons liggies, verwonderd.

Met ’n sug van verligting kyk Charl Taljaard terug na die verdwynende liggies van die grenspos agter hulle. Hy is bly dis agter die rug. Hy weet nie hoe hy dit sou verduidelik het as hulle die pistool by hom moes vind nie.

Met ’n smalende glimlag kyk hy skuins na die man langs hom. Blykbaar ken die mense by die grenspos vir Beukes, want hulle het glad nie hul bagasie deursoek soos hy gevrees het nie. Beukes beweeg seker baie deur die verskillende grensposte. Hy kry hom amper jammer. Die man het seker nie ’n behoorlike werk nie, dis waarom hy hierdie soort ding doen.

Dis te platvloers vir hom wat Charl is. Hy wil liewer in die stad met al sy opwinding en meisies bly. Binnekort sal hy alles kan bekostig wat sy hart begeer. Met ’n verveelde sug kyk hy by die venster uit.

Wim se blik rus op die Karasberge wat swart bo die aarde uittroon in die naderende sonsopkoms. Met ’n sug van genoegdoening maak hy die venster oop en trek die koel, vars oggendlug diep in sy longe. ’n Innerlike vrede kruip in sy hart. Hy’s weer tuis, weer terug in die natuur tussen die vlaktes en berge. Hier voel hy weer mens. Voel hy weer die nabyheid van sy Skepper aan.

Sy blik gaan terug na die truspieëltjie en hy merk hoe die twee meisies dieper in hul baadjies inwoel. Met ’n glimlag draai hy die ruit weer toe. Gelukkig het hulle nie te lank by die doeane vertoef nie. Hy gaan ook so gereeld daar deur dat hulle hom al ken.

Toe die dorpie Karasburg ’n ruk later in sy gesigsveld kom, maak hy die ander wakker. “Is julle ook lus vir koffie, of sal ons maar deurry, aangesien julle almal slaap?”

Taljaard lig dadelik sy kop op waar hy ook gesit en slaap het. Hy frons. “Wil jy al weer stilhou? Ons mors tyd, man. Ek sê ons ry aan.”

Wim ignoreer hom. Hy verwerdig Taljaard nie eens ’n antwoord nie en kyk om na Tertius.

“Nee, ek slaap nie, maar koffie sal nou vorentoe smaak,” laat dié haastig hoor. Hy skud aan die twee meisies. “Wil julle koffie hê?”

Vaak gaap Simoné agter haar hand. “Natuurlik is ons lus vir koffie. Waar is ons? Gaan ons nou stilhou? Is dit nog koud buite? Wanneer eet ons?”

Wim kyk na agter waar sy in die middel sit, maar vra aan Tertius: “Vra sy altyd so baie vrae, al is sy nog so deur die slaap?”

Tertius lag. “Ek skat so.”

Hy merk hoe Wim effens frons en sy glimlag verbreed.

“Dis halfses. As ek nou in my woonstel was, het ek nog heerlik gelê en slaap.”

Bibberend kyk Simoné op haar horlosie toe Joan dit sê terwyl hulle hul koffie staan en drink waar hulle by die vulstasie stilgehou het om brandstof in te gooi.

“Wel, dis Saterdag en ek sou definitief ook eers laat opgestaan het, vernaam wanneer dit so koud is.” Simoné hou die stomende koffiehouer tussen haar hande en kyk deur die wasem na Wim Beukes, wat omdraai na haar.

“Ek kon dink dat jy ook ’n laatslaper is. Julle stadsmense mis die mooiste gedeelte van die dag en dis vroegoggend. Die sonsopkoms. Die natuur is dan op sy mooiste.”

Sy vergaap haar aan die man voor haar se nou lewendige ligblou oë. Hy het die mooiste oë aan hom, dink sy, en natuurlik daardie sexy glimlag van hom. Hy geniet dit om so in die natuur te wees, besef sy.

“Vir jou inligting: ek staan elke oggend halfses op. Dis net Saterdagoggende dat ek laat slaap.”

“Hm-hm. Wanneer laas het jy die sonsopkoms gesien? Voëls hoor sing? In die veld gaan stap? Na die stilte van die natuur geluister?”

“En ek dog ék vra baie vrae! Ek kan nie onthou nie, maar –”

“Dis presies waarvan ek praat, meisiekind. Jy moet ’n slag na die natuur om jou kyk. Julle is te vasgevang in julle selfgemaakte blink stadslewe. In julle eensame mensgemaakte koue.”

“Ons moet ’n bestaan ook maak.”

“Seker ook waar, nè?”

Hy stap weg en laat ’n gefrustreerde Simoné agter.

Charl sluit by hulle aan van waar hy ’n entjie weg gestaan en na Simoné en Wim se gesprek geluister het.

Sy stem is duidelik sarkasties toe hy sê: “Ek het jou gesê Beukes hou nie van vroumense nie. Die man het seker nie ’n ordentlike werk nie, dis waarom hy ander rondkarwei. Hy het oorgretig my aanbod aanvaar toe ek hom die voorstel gemaak het. Seker ook maar platsak gewees.”

Joan kyk Wim agterna, draai dan terug na Taljaard voor haar. “Nou wat van sy woonstel in daardie spogbuurt?”

“Dis reg. Hy moet geld hê om daar te kan woon, en ook om so ’n duur voertuig te kan bekostig,” sluit Simoné by haar aan. Hulle is onbewus van Wim wat die groepie stil nader.

Spottend kyk Taljaard na haar. “Daardie Discovery is beslis nie syne nie, nog minder daardie woonstel. Dalk het hy dit by ’n vriend geleen. Ek wed jou hy besit nie eens ’n motor nie. Kyk hoe verbleik is daardie denim van hom. Hy het beslis ook nie goeie smaak wat klere betref nie. Vir my lyk hy of hy liewer tussen die bosse hoort.”

Simoné vererg haar vir hom. “Elke mens se smaak verskil, en hy hou seker daarvan om so aan te trek. Ek is seker –”

Wim se ysige stem val haar in die rede en laat hulle vinnig omswaai na hom. Verskrik kyk sy op in sy streng gesig. Sy het hom glad nie hoor naderkom nie.

“Vir jou inligting, Taljaard: dis mý woonstel en mý motor, en ek verkies om liewer tussen die bosse te wees as in die beskawing tussen mense wat dink hulle is beskaafd. Ek sal dit ook waardeer as julle my nie in my afwesigheid bespreek nie.”

Sy ysblou oë draai na Simoné en ’n rilling hardloop teen haar ruggraat af. Haar hart ruk in haar keel. Sy oë verander en nou lag sy spottende blou blik haar beslis uit. Sy voel soos ’n gek. Waarom het sy toegelaat dat Charl Taljaard haar uitlok?

Haastig verdedig sy haarself: “Ek het nie van jou geskinder nie. Buitendien stel ek nie belang –”

“Daarvan is ek nie so seker nie. Ek wil ry, met of sonder julle,” beveel hy.

Met ’n uittartende laggie laat hy haar weer gefrustreerd agter toe hy wegstap. Sy gluur hom agterna en trippel effens van frustrasie.

Oee, die mansmens maak my so kwaad! storm haar gedagtes. Hy het die vermoë om my soos ’n bakvissie te laat voel wat niks tussen die ore het nie! Verbeel jou, ek in hom belangstel!

Magteloos bal sy haar vuiste. Sy kyk om na Tertius toe dié haar aan die elmboog neem en haar na die Discovery stuur.

“Wim wag net vir jou. Almal is al in die motor en jy staan en droom. Hy dreig om vir jou weg te ry.”

“Man, ek droom glad nie! Dis daardie mansmens wat my so kwaad maak. Hy beweer dat ek van hom skinder. En hy moet dit net wáág om vir my weg te ry!”

“Het jy nie van hom geskinder nie?”

“Tertius, jy’s party dae net so moedswillig. Waar was jy toe hy my beledig het?”

Hy antwoord haar nie, help haar net laggend die voertuig in.

Simoné vermy die lang man se blik in die truspieëltjie. Sy kan aanvoel dat hy na haar kyk. Sy is ook seker dat hy haar weer stilletjies uitlag, en dit maak haar nog meer omgekrap. Sy dwing haar blik na buite.

Dis egter of ’n mag buite haarself haar dwing om terug te kyk na die truspieëltjie. Sy ontmoet Wim se ligte oë en sien die openlike spot daarin lê. Sy gluur hom ’n oomblik aan voordat sy ongemaklik wegkyk, en sy verwens hom stil in haar gedagtes. Magteloos besef sy dat daar net iets aan hom is wat haar lok.

Nee, nie lok nie … Sy byt haar onderlip vas en frons. Dis iets anders. Daar straal ’n magnetisme uit hom wat haar onweerstaanbaar nader aan hom trek. ’n Krag waarvoor sy magteloos staan. Ag, sy weet ook nie. Hy maak haar so deurmekaar. Al wat sy weet, is dat sy in hierdie volgende paar dae uit sy pad moet bly. Vir haar eie gemoedsrus se onthalwe.

Sy kyk nuuskierig rond toe hulle die dorp Keetmanshoop nader. Dan kyk sy op haar horlosie. Dis halfagt.

Sy uiter die ander se gedagtes hardop: “Ek hoop nie jy dink ons moet êrens in hierdie klein plekkie ’n ordentlike ontbyt nuttig nie?”

Wim kyk na haar in die truspieëltjie en lig sy een wenkbrou vraend. “En waarom nie? Wat is verkeerd met ’n bord stywe mieliepap en melk? Dis koningskos. Buitendien, wanneer jy deur die dorp ry, sal jy agterkom dat die plek nie so klein is as wat hy lyk nie.”

Sy ignoreer sy vraag. “Vir my lyk dit of hier niks aangaan nie.”

“As julle nie hier ontbyt wil nuttig nie, kan ons deurry na Mariental. Sal ons deurry?”

“Ons ry deur,” kom dit bevelend van Charl. “Ons mors genoeg tyd deur so baie stil te hou,” brom hy onderlangs.

Wim kyk fronsend na die man langs hom, maar hy lewer nie kommentaar nie. Hy kyk na agter. “Is dit ook wat julle besluit?”

’n Stilte begroet hom.

Toe Wim stadiger ry, praat Tertius namens die twee meisies: “Nou goed, ons ry maar deur.”

Wim versnel en hulle sien hoe hy langs die dorp verbyry.

Teen die tyd dat hulle op Mariental aankom, is hulle honger. Wim hou voor die Wimpy stil en met stram ledemate klim hulle uit.

Geheim van die Erongoberge

Подняться наверх