Читать книгу Geheim van die Erongoberge - Magdaleen Viviers - Страница 4

1

Оглавление

Met nougetrekte oë bestudeer Wim Beukes die effens gesette man voor hom. Daar is net iets aan die man waarvan hy nie hou nie. Hy luister nie veel na wat Charl Taljaard kwytraak nie, sy oë bly vasgenael op die lang oorkrabbertjies wat aan sy ore rondswaai.

Onvergenoeg kyk Charl Taljaard na die man voor hom. Sy stem is effens ongeduldig toe hy vra: “Stel jy belang in my aanbod, meneer Beukes? Een van my vriende het jou aanbeveel, dis waarom ek hier is.”

Beukes antwoord hom nie, en Taljaard frons vererg. Het die man nie gehoor wat hy gesê het nie? Waaraan het Beukes gedink terwyl hy hom so sit en bestudeer het?

“Soos ek reeds gesê het,” vervolg hy, “my plan is om na die Erongoberge te gaan. Dis in Namibië, as jy miskien nie weet waar dit is nie.”

Die sarkasme is duidelik hoorbaar in sy stem en Wim vererg hom, maar hy laat niks blyk nie.

“Ek weet waar dit is, meneer Taljaard. Waarom juis daarheen? Enige spesifieke rede? Ek moet darem weet waarby ek my inlaat. Ek aanvaar ook net kontant.”

Hy noem ’n bedrag wat Charl laat sluk. Beukes is glad nie redelik met sy prys nie, maar hy móét net by daardie berge uitkom. Eers by Tony waar hy nog in die hospitaal lê, en dan sal hy na daardie berge gaan. Beukes hoef ook nie te weet van Tony nie.

“Goed,” stem hy in. “Verder is die redes persoonlik. Al wat ek verlang, is dat jy my daarheen moet neem. Jy is mos ’n gids of iets, nie waar nie?”

“Ek is geen gíds of iets nie, Taljaard. Ek is ’n grootwildjagter en safarileier,” antwoord Wim Beukes duidelik geïrriteerd, sy stem kortaf. “Is dit net jy wat gaan, of is daar nog ander persone?”

Charl Taljaard sug innerlik. Vir ’n oomblik het hy gedink Beukes se woede gaan die oorhand oor hom kry. Daardie snaakse ligblou oë van hom kyk koud en dwarsdeur ’n mens.

“Daar is twee meisies en ’n man wat ons sal vergesel,” antwoord hy.

“Wanneer wil julle vertrek?”

“So gou moontlik. Dis dringend. Ek weet die Erongoberge is in Namibië, maar waar dit is, weet ek nie. My vriend het gesê dat jy die plek ken.”

“Wie is hierdie vriend van jou? Ken ek hom? Is julle paspoorte in orde? Onthou, ek wil nie by die doeane voorgekeer word weens foutiewe paspoorte nie. Dan draai ek net daar om. Ek val ook baie vroeg in die pad en wil nie nog met vroumense sukkel nie. Sal Vrydagoggend tweeuur julle pas?”

Met ’n sagte snork staan Taljaard op en stap na die deur. “Ja, dit sal, en nee, my vriend ken jou nie. Hy het net van jou gehoor, daarom het hy jou aanbeveel. Sy naam is Tony Brown. Hy’s ’n ingenieur wat ’n ruk lank in Angola gewerk het. Moenie bekommerd wees nie, Beukes, die meisies sal betyds wees.”

“Is dit jou vrou en jou vriend wat jou vergesel?” vra Wim Beukes weer.

’n Oomblik aarsel Taljaard by die deur. “Nee, weens omstandighede kan my vriend ons nie vergesel nie. En dis net ’n vriendin. Die ander mense is die oorlede vlieënier se suster en haar verloofde.”

“Ons sien mekaar dan Vrydagoggend tweeuur hier onder voor die woonstelgebou. Ek sal net ’n halfuur wag. Indien julle nie betyds opdaag nie, kanselleer ek die ekspedisie.”

Taljaard loop uit sonder om te antwoord.

Met nougetrekte oë staar die dertigjarige Wim Beukes die man agterna. Hy hou nie van hom nie. Taljaard se swart oë laat Wim aan ’n slang s’n dink. Koud en slu. Sy swart hare is glad agteroor gekam en in ’n poniestert in sy nek vasgevang. Oorkrabbers pronk aan albei ore.

Wim gril liggies. Hy het niks teen ’n man wat oorkrabbers dra nie. Inteendeel, ’n paar van sy vriende dra dit ook. Maar dié man s’n hang lank teen sy ore af en diamante flits met elke beweging wat hy met sy kop maak. Met ’n stekelrige gevoel van irritasie wonder Wim of dit regte diamante is. Taljaard se arrogansie en sarkasme steek hom ook dwars in die krop.

Ingedagte druk Wim die deur van sy woonstel toe. Tony Brown? Nee, die naam klink nie bekend nie. Hy kyk met ’n frons terug na die toe deur toe hy gaan sit. Waarom voel hy so onrustig oor hierdie ekspedisie? Gewoonlik waarsku sy sesde sintuig hom teen gevaar, en hy ignoreer nooit daardie gevoel nie. Dit het al meermale sy lewe gered. Sy oë trek nou saam. Dis hierdie Taljaard wat hom onrustig maak, besef hy.

Wim se gedagtes dwaal weg. Hy vergesel gereeld jagters op hul ekspedisies. Partymaal bly hy maande van die huis weg op een so ’n jagekspedisie. Hy onderneem ook gewone safari’s waar hy mense vergesel, soos die een wat hy so pas aanvaar het. Dis te sê indien die geld reg is.

Andersins is hy op sy beesplaas in die Limpopovallei. Of op sy wildplaas in die Laeveld. Wanneer hy van so ’n ekspedisie af terugkeer, gebruik hy sy woonstel in die stad om sy besigheid eers af te handel, voordat hy na een van sy plase vertrek. Hy het net gister teruggekeer vanuit die noorde van Afrika, waar hy vir twee maande ’n safari gelei het.

Moeg strek hy sy lang bene voor hom uit. Maandagoggend sou hy na sy beesplaas vertrek het, waar sy pa na sy plaas omsien. Sy ouers woon op Hoedspruit. Sodra die wanderlust Wim beetpak, kom bly hulle op sy beesplaas. Dan sien sy pa om na alles. Hy weet dat sy pa dit geniet om met die beeste te werk, al stry hy daarteen.

Wim vou sy hande agter sy kop saam en grinnik skeef terwyl sy blik deur die vertrek dwaal. Hy’s ’n geswore oujongkêrel en ’n veldmens. Die stad sal hom doodwurg, dink hy. Selfs as hy te lank hier in sy woonstel in Johannesburg bly, voel dit later vir hom of die mure hom wil versmoor. As Charl Taljaard nie vanoggend sy woonstel binnegestap het nie, sou hy na sy plaas vertrek het sodra sy besigheid afgehandel was.

Peinsend sit die groot man met sy blonde kop agteroor teen die stoelleuning. Ingedagte voel hy aan sy krullerige hare wat lank in sy nek en by sy ore omkrul. Hy het nog nie kans gekry om dit te laat sny nie. Met ’n skewe glimlag druk hy sy lang vingers deur sy bos hare, sy ligblou oë gerig op die televisie. Sy gedagtes keer terug na die man wat ’n rukkie gelede sy woonstel verlaat het.

Met sy ondervinding deur die jare het Wim geleer om mense vinnig en deeglik op te som, en hy is selde verkeerd. Die voorgevoel wat hy nou het, het hom in die verlede geleer om dit nie te ignoreer nie. Dis waarom hy die gevoel van onrus nie van hom kan afskud nie. Charl Taljaard voer iets in die mou, hy is nie openlik met hom nie. Die selfversekerde houding van die man staan hom ook nie aan nie, en daardie oorringe!

Hy hou net eenvoudig nie van Taljaard nie, besluit Wim.

Simoné van der Walt druk Charl Taljaard se voordeurklokkie en wag ongeduldig. Haar oë rus op Tertius Hougaardt wat haar vergesel. Sy glimlag effens toe die deur oopswaai en die man haar gulhartig binnenooi.

Sy kan nie help om op te merk dat Taljaard weer vir Tertius ignoreer soos die vorige keer toe hulle hom besoek het nie. Sy weet Tertius is net ter wille van haar gemoedsrus hier. Vandat hy Taljaard ’n paar dae gelede ontmoet het, lyk dit of hy lus voel om hom ’n opstopper te gee. Terwyl Charl Taljaard haar dus met groot sjarme na die rusbank lei en langs haar plaasneem, ignoreer hy Tertius openlik.

Simoné kyk op na Tertius en sien dat hy hom bloedig vererg. Vinnig staan sy op en haak haar arm deur syne.

“Meneer Taljaard, het jy toe met Wim Beukes in aanraking gekom?” vra sy stroopsoet.

Charl skink vir hulle elkeen ’n drankie voordat hy haar antwoord. Hy kyk na haar toe hy hare oorhandig en laat Tertius s’n ongeskik op die kroegtoonbank agter, waarop Tertius nie eens aanstaltes maak om dit te neem nie.

“Ja, ek was by Beukes. Ek hou nie van die man nie, maar nou ja, ’n mens kan seker nie te kieskeurig wees nie. Beukes is onbeskof, en ek het onder die indruk gekom dat hy nie juis ooghare vir vroumense het nie. ’n Mens kan sommer sien dat die vent sy tyd meer tussen die bosse deurbring as in die beskawing.”

Ek dink jy is net so onbeskof, dink Tertius terwyl hy die ander man aangluur. En te oordeel hoe jy na Simoné kyk, dink ek dat jy geen vroumens sal uitlos nie.

Simoné hou nie van die manier waarop Taljaard na haar kyk nie. Sy kyk skerper na hom. “Wat bedoel jy? Het hy ingestem om ons te vergesel?” Sy sit haar drankie waaraan sy nog nie geproe het nie, op die tafeltjie neer.

“Ja, hy sal ons na die Erongoberge neem.” Charl grinnik. “Net wat ek sê: dis baie duidelik dat hy niks van vroumense hou nie. Hy het geskimp dat hy nie as ons vertrek vir julle gaan wag nie.”

Hy skryf haastig ’n nota en hou dit uit na Simoné. “Dis sy adres. Hy wil Vrydagoggend tweeuur vertrek. En hy dreig dat as ons nie betyds daar is nie, sal hy die hele ding kanselleer.”

Simoné trek haar mond vasberade saam. Sy hoop nie Beukes is dieselfde tipe mens as Taljaard nie. Hy moenie dink hy kan haar enigsins hiet en gebied nie. Sy frons. Op die oomblik is hulle verleë oor hom. Sy voel hoe Tertius se arm om haar middel gaan en kyk op na hom.

“Dis seker nie so erg nie,” sê hy. “Wag eers totdat jy hom self ontmoet het. Dan kan jy aan hom die teendeel bewys.”

Sy kyk terug na Charl en sien die gloed in sy oë. Haar maag trek op ’n knop. Die mansmens moenie met haar sukkel nie, hy gee haar reeds koue rillings. Sy sal hom sowaar …

Betyds keer sy haar gedagtes. Taljaard betaal vir die ekspedisie, en sy sal hom tot tyd en wyl moet verdra. Sy móét net agter die waarheid van die ongeluk kom. Sy weet nie hoekom nie, maar sy voel net dat sy na die ongelukstoneel moet gaan.

Soet glimlag sy dus vir Charl voordat sy haar arms om Tertius slaan en hom ’n drukkie gee terwyl sy opkyk in sy oë. “Kom, my liefste, ons moet gaan.”

Sy kyk terug na Taljaard. “Ons het net kom hoor of Wim Beukes bereid is om ons te neem. ’n Goeie nagrus, meneer Tal-”

Charl val haar in die rede toe hy sy hand na haar uithou. “Noem my Charl. Ons gaan dae lank in mekaar se geselskap wees, dan kan ons nie so formeel optree nie, of hoe?”

Daar huiwer beslis ’n belofte in sy woorde wat koue rillings langs haar ruggraat afstuur. Meesterlik onderdruk Simoné haar gevoelens en glimlag vir hom. Sy ignoreer sy uitgestrekte hand en druk haar regterhand in Tertius se grote, wat dit dadelik toevou. Haastig stap hulle uit.

In die hysbak glip haar asem hoorbaar uit. Sy gluur Tertius aan toe hy lag, glimlag dan skeef na hom. Sy slaan hom liggies met die vuis op sy arm. “Jy moenie lag nie, jy is veronderstel om my te beskerm, man. Danige verloofde wat jy is.”

“Toemaar, ek kan sien dat jy jouself kan verdedig. Ek sal jou darem uit die moeilikheid kry indien jy in groter gevaar verkeer. Jy moenie alles vir soetkoek opeet wat daardie man jou vertel nie. Dalk is Beukes nie te onaardig nie. Miskien het Taljaard nog daardie stertjie oor sy renons in vroue bygelas. Ons hou weer nie van Taljaard nie, maar ons duld hom omdat hy vir die ekspedisie betaal. Ek wonder waarom hy so gretig is om te gaan. Hy lyk nie vir my na die soort wat lief is vir die berge nie. Eerder ’n man vir die stadsliggies met daardie oorringe van hom. Hy laat my behoorlik gril.”

Simoné giggel. “Ja, daardie oorringe van hom is iets om te aanskou. Ek wonder of hy dit tussen die bosse ook gaan dra. Was dit nie vir Joan Vorster wat saam in my afdeling werk nie, sou ons nie van hom geweet het nie. Ek weet nie of jy haar ken nie, sy is een van meneer De Villiers se sekretaresses. Sy het gespog dat haar kêrel na die Erongoberge toe gaan. Ek kon my ore nie glo toe sy sê dis om na die vliegtuigwrak te gaan soek nie. Ek het Joan omgepraat om saam met Taljaard te gaan en ons dan te nooi om hulle te vergesel. Aangesien ek voel ek moet dringend daarheen gaan, het ek my kans waargeneem.”

Sy bly ’n oomblik ingedagte stil, vervolg dan: “Jy weet self dat my pa my nie wil help nie, want hy keur dit nie goed dat ek gaan nie. Hoe het hy dit nou weer uitgedruk? ‘Laat Hein met rus. Jy gaan net jou tyd daar by die vliegtuigwrak mors, en miskien self iets oorkom. Hulle het ons uitdruklik laat weet dat daar net een oorlewende was, en dit was nie Hein nie.’ ”

Haar stem word dringend. “Ek móét net gaan, Tertius. Ek móét gaan uitvind waarom my broer se vliegtuig geval het. Hy was ’n goeie vlieënier. Nee, daar het iets gebeur. Ek voel dit net aan. Dis jammer dat my pa my nie wil ondersteun nie. Ek weet dat hy my broer mis, maar hy verstaan nie hoe ék voel nie.”

Tertius druk haar vertroostend teen hom vas. “Dis waarom ek saam met jou gaan, Aspatat, om jou te beskerm. Vandat ek Taljaard ontmoet het, voel ek aan dat daar iets nie pluis is by daardie man nie. My hande jeuk behoorlik om hom by te kom. Ek sal jou ook nooit alleen saam met hom laat gaan nie.”

Vroeg Vrydagoggend rek Simoné haar lui uit voordat sy regop kom in haar bed en lank gaap. Sy kan net sowel opstaan. Sy is gelyktydig onrustig en opgewonde, en sy is ook te bang sy verslaap. Wim Beukes het reeds gedreig hy gaan nie vir hulle wag nie.

Sy wonder hoe dié Beukes-ou lyk. Watter soort man is hy dat hy gedurig sy tyd in die bosse deurbring – soos Charl Taljaard dit uitgedruk het – eerder as om in die beskawing te wil wees? Sy hoop nie hy is ’n takhaar nie.

Sy gooi die duvet van haar af. Dit sal nie help sy lê hier en tob daaroor nie, sy sal hom wel netnou ontmoet. Haar sak is reeds gepak en met net haar slaapklere aan, gaan maak sy vir haar koffie.

Die drie en twintigjarige Simoné rek haar weer lui uit terwyl sy vir haarself in die lang spieël in haar kamer kyk. Haar slanke liggaam loer verleidelik deur die dun materiaal van haar kort nagrokkie. Haar deurmekaar rooibruin hare hang wanordelik oor haar gesig en skouers. Om haar vol mond huiwer ’n glimlaggie toe sy aan Tertius dink en haar bruin oë versag. Hy is dierbaar en darem ’n regte ou staatmaker.

Dit herinner haar weer dat sy betyds moet wees wanneer hy hier opdaag, en haastig trek sy aan. Maak dan eers weer seker of haar dokumente byderhand is. Toe die deurklokkie lui, stap sy met ’n glimlaggie daarheen en maak oop. Sy sien hoe Tertius se oë goedkeurend dwaal oor die swart langbroek en die kortmoutruitjie wat sy aanhet.

“A, die nooi is reg. Ek het my gereedgemaak om die deur af te breek. Jou met koue water uit jou bed te sleep en jou dan eiehandig aan te trek. Nou bederf jy my vooruitsig om dit te kan doen.”

Simoné lag hom uit. “Toe, ons moet gaan. Netnou is daardie Beukes-vent ’n regte brombeer wanneer ons ’n paar minute laat daar aankom.”

“Ek het reeds vroeër gekom, bang dat ons laat sal wees. Met julle vroumense weet ’n man darem nou nie so mooi –”

“Tertius Hougaardt! Moenie so vroeg met my sukkel nie. My senuwees is klaar op hol.”

Hy sit sy arm om haar skouers. “Jy moenie jou so opwerk nie. Ek wil nie met ’n senuwrak opgeskeep sit nie. Geniet hierdie rit na die vreemde land. Miskien ry ons deur groot stede voordat ons by die berge kom. Dalk vertoef ons by ’n inkopiesentrum of iets.”

“Stede? Inkopiesentrums? Moenie dat ek lag nie. Ek het gehoor daar is nie sulke goed in Namibië nie, net klein ou dorpies. Miskien nog gehuggies.”

“Hoe weet jy? En by wie hoor jy dit? Jy was nog nie in Namibië nie, en geen land het net gehuggies nie.”

Sy skud haar kop ontkennend. “Nee, ek was nie, maar ’n mens kan –”

“Nee, jy kan nie. Wag eers totdat jy self daar is, dan kan jy oordeel. Kom, ons moet gaan.”

Toe hulle ’n rukkie later na die betrokke adres ry, merk hy op: “Hmm, hy moet beslis geld hê as hy in hierdie buurt woon.”

“Is jy seker dis die regte adres?” vra Simoné senuagtig. Sy werk haar behoorlik op.

Tertius wys na ’n man wat duidelik ongeduldig met sy hande in sy broeksakke op die sypaadjie staan. “Ja, en ek wed jou dis ons man daardie en hy wag beslis al op ons. Lyk my ons oorring-vriend het nog nie opgedaag nie.”

Sy hoor nie wat hy sê nie. Haar blik rus op die man op die sypaadjie. Hy lyk beslis nie soos ’n takhaar nie. Wat sy verwag het, weet sy self nie. Hy is groot gebou, met ’n paar breë skouers.

“Hy moenie sê ons is laat nie, dan –”

“Hokaai, jong. Dis te vroeg om te baklei. Gee hom eers ’n regverdige kans. Jy ken hom nie. Onthou, ek het nie kans gekry om ’n paar selfverdedigingslesse te neem nie.”

Sy glimlag vir Tertius se verspottigheid terwyl haar oë nog steeds op die vreemde man rus, wat dadelik naderstaan toe Tertius stadiger ry.

Hy nader hulle met besliste treë toe hulle stilhou. Simoné kyk hoe hy sy hand na Tertius uitsteek en hom voorstel. Sy stem is diep.

“Ek dink jy moet jul bagasie in my voertuig en waentjie oorlaai en jou motor terugneem,” sê Wim Beukes. “Dit kan nie hier staan totdat ons terugkom nie, dan is hy beslis weg.”

Stadig klim Simoné uit, baie bewus van sy sterk persoonlikheid, sy gespierde lyf en ligte hare.

“Dis Simoné van der Walt, my verloofde, en dis meneer Wim Beukes, Simoné,” stel Tertius hulle aan mekaar voor.

“Ek is net Beukes, of Wim. Jy kan self kies. Ek is bly julle is betyds.”

“Môre, menéér Beukes,” sê Simoné nadruklik. “Ek is altyd betyds en –”

Tertius val haar vinnig in die rede. “Hier kom die ander.”

Simoné voel ongemaklik onder Wim se speurende blik. Sy trek haar skouers parmantig agteroor en lig haar ken uitdagend. Toe ’n glimlaggie stadig om sy sensuele mond krul en ’n glinstering in sy ligblou oë kruip, vervies sy haar hewig. Maar voordat sy aan iets kan dink om te sê, knik hy sy kop effens vir haar. Dan draai hy na die ander persone wat by hulle aansluit.

Simoné hoor skaars toe Joan Vorster aan Wim en Tertius voorgestel word. Haar blik rus op Wim Beukes. Die man is heeltemal anders as wat sy hom in haar gedagtes voorgestel het. Sy sal definitief in haar spoor moet trap, want sy houding vertel haar dat hy geen nonsens van haar of enigiemand anders sal duld nie.

Stadig dwaal haar blik oor hom. Hy’s gevaarlik aantreklik met daardie uitsonderlike ligblou oë van hom. Sy denim span styf oor daardie stewige agterstewe en gespierde bene van hom. Hy is so naby haar dat sy nie die spiere onder sy T-hemp kan miskyk nie.

Kry die man dan nie koud nie? wonder sy en vou haar baadjie stywer om haar. Die luggie is koel so vroeg in die oggend. Aan sy sterk nek en die manier waarop hy daardie aristokratiese blonde krulkop van hom hou, dink sy dat hy baie befoeterd kan wees. Sy wonder of hy getroud is.

Onverwags draai hy om en betrap haar blik op hom. Dadelik merk sy hoe sy een wenkbrou geamuseerd opwip. Ongemaklik draai sy weg. ’n Verleë blos kleur haar wange en sy is bly hy kan dit nie sien nie. Hoe kon sy die mansmens so staan en bestudeer het?

Vererg, meer vir haarself as vir hom, haal sy haar bagasie uit. Sy kyk op toe iemand haar aan die arm neem. Beslis maak sy haar arm uit Charl Taljaard se hand los en kyk hom vies aan.

Charl draai sy sjarmekraantjies vroeg oop. “Goeiemôre, meisie. Het jy lekker geslaap? Jy lyk pragtig so vroeg in die oggend. Ek dink –”

“Verskoon my, maar ek dink Wim Beukes gaan nie vir ons wag indien ons nou staan en klets nie.”

Sy draai om en stap na waar sy sien hoe Wim met gevoude arms teen sy voertuig aanleun en ongeduldig vir hulle wag. Daardie blou oë is beurtelings op hulle gerig. Waaraan dink hy? Die simpel mansmens sal nie eens aanbied om my te help nie, dink sy omgekrap.

Hy lig die valdeur op van die waentjie wat agteraan sy Discovery gehaak is. Dan eers neem hy die bagasie by haar. “Hmm, hopeloos te veel as jy my vra,” lewer hy ongevraag kommentaar.

“Luister, meneer … e … Dinges, ek het nie jou kommentaar gevra nie, en ek –”

“Ek wonder nou met wie sy praat, Tertius,” vra hy aan Tertius wat by hulle aansluit. “Sien jy miskien ’n meneer Dinges hier rond, of praat sy nou met daardie oorring-vent? So terloops, ek merk hy dra nog sy lang oorringe. Ek wonder of hy dit gaan afhaal.”

Tertius lag en slaan sy arm om haar skouers.

Wim draai na Simoné, sy blou oë koud. “My naam is Wim. Ek hou beslis nie daarvan dat jy my meneer Dinges noem nie, verstaan ons mekaar?”

Simoné trek haar asem hoorbaar in. So ’n … Sy gluur hom aan. Dadelik en beslis draai Tertius haar aan haar skouers weg en stuur haar na sy motor voordat sy Wim kan antwoord.

“Jy het daarvoor gesoek, want ek weet jy het hom moedswillig so genoem. Ek dink jy ry saam met my sodat ek my motor by my woonstel kan laat, terwyl hulle ons volg.”

“Miskien is dit die beste. Ek weet nie hoe ek dit gaan uithou nie. Hy’s ’n onuitstaanbare, arrogante mansmens. Ek sal nie verantwoordelik wees vir my dade en –”

“Jou woorde nie, nè? Jy ken die man nog nie eens vyf minute nie. Hoe kan jy hom arrogant noem? Toe, in is jy.”

Hy draai na Wim, wat geduldig in die Discovery wag. “Ons sien julle by my woonstel. Taljaard gaan seker ook sy motor terugneem?”

Wim knik en wys sy duim na bo.

Toe Tertius en Simoné ’n ruk later in die Discovery klim, sit Charl Taljaard reeds vol selfvertroue voor. Met ’n skouerophaling klim Tertius agter saam met Simoné by Joan in.

Toe Simoné voor haar in die pad kyk, ontmoet haar blik die ligbloues in die truspieëltjie. Meesterlik hou hy haar oë gevange en sy is onmagtig om weg te kyk. Eers toe Tertius met haar praat, kan sy eindelik haar blik wegskeur. Verward probeer sy haar gedagtes terugbring toe sy sien hoe vreemd Tertius na haar kyk.

Geheim van die Erongoberge

Подняться наверх