Читать книгу Maggie: My lewe in die kamp - Maggie Jooste - Страница 10
Hoofstuk 1
ОглавлениеDie oorlog op ons voorstoep
Hierdie is nie ’n geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog nie. Daar is al so baie daaroor geskryf en ek was destyds te jonk om die erns van alles te besef. Ná 62 jaar kan ek ook nie alles so agtermekaar vertel nie – dus skryf ek maar soos ek onthou.
Met die uitbreek van die oorlog op 11 Oktober 1899 is alle burgers seker opgekommandeer. Heidelberg was aan die spoorlyn na Natal, so ons kommando het daarheen vertrek om die vyand te keer. Almal het gedink dat die oorlog baie gou verby sou wees en niemand kon droom dat dit tot Mei 1902 sou duur nie.
Ek kan net vaagweg onthou dat van die Boere af en toe huis toe gekom het. Cornelis het toe in Pretoria by president Kruger as telegrafis gewerk. Gert was nog minderjarig maar het ook op kommando gegaan. Hy het op 6 Februarie 1900 vrywillig aangesluit.
Hy en baie van Heidelberg se jong kêrels was onder genl Piet Cronjé se bevel. Toe Cronjé enkele weke later op 27 Februarie 1900 aan die Engelse oorgee, het ons nie geweet of Gert saam met die sowat 4 0005 vegtende Boere gevange geneem is nie. Dit was vir ons arme ma ’n vreeslike tyd – Pa was elke uur in gevaar, Cornelis besig met groot verantwoordelike oorlogswerk en Gert, haar troetelkind, gevange geneem. Sy kon nie vasstel of hy gewond is en dalk al dood is nie, want geen nuus het deurgekom nie. En boonop het sy in dié tyd haar elfde kind verwag. Die baba, ’n dogtertjie, is op 6 Maart gebore. Pa het verlof gekry om huis toe te kom en was by toe sy Gertina Hendrieka gedoop is. Hulle het haar na Gert genoem omdat ons toe nog nie geweet het of hy lewend uit die geveg gekom het nie. Later het daar ’n telegram op Heidelberg aangekom: “We are prisoners of war.” Daarby was ’n lys name met onder andere dié van Gert Jooste. So het ons gehoor dat hy nog lewe.
Hulle is later na die eiland St Helena6 gestuur en daar aangehou. Hy was nou wel ver weg, maar vir die res van die oorlogjare het dit met hom beter gegaan as met ons en ons ouers. Op St Helena het hulle in tente gebly en was ten minste beskut, gekleed en gevoed (hoe skraal ook al) en kon boonop onderwys ontvang.
Gert het eers op 14 September 1902, maande ná die vredesluiting in Mei 1902, in Durban geland en na die Howick-kamp gekom waar ons aangehou is. Wat ’n vreugde was dit om almal weer bymekaar te wees. Net Pa was toe nog op die eiland Bermuda7 waarheen hy as krygsgevangene gestuur is. Ons is nie toegelaat om na Heidelberg terug te keer voordat Pa nie ook wou glo dat ons die stryd verloor het nie.8 Hy het op 1 Oktober op Heidelberg aangekom en ons kon eers op 26 Oktober van Howick na Heidelberg terugkeer.
*
Die vyand het al dieper in die Oranje-Vrystaat en ook van Natal se kant ingedring. Toe breek daardie vreeslike dag van 23 Junie 1900 vir ons aan.
Ons was die vorige nege maande alleen in ons huis en het geen inkomste gehad nie. Daar was ook niemand wat Ma kon bystaan nie. Sy was alleen met ons ses – ek, wat toe 14 jaar was, James, Robert, Dolly, Hettie en Gerrie. Ons was sonder skool en sonder ’n bediende en moes elkeen maar ons bes doen om Ma te help.
Hewige gevegte het intussen in Natal en die Vrystaat gewoed. Ons het gedurig tyding gekry van ons dorp se burgers wat gewond is of gesneuwel het.
Cornelis was nog saam met president Kruger as sy telegrafis tot net voordat die vyand na Heidelberg deurgebreek het. Toe Pretoria ingeneem is, is hy saam met die president tot op Machadodorp [in die hedendaagse Mpumalanga]. Voordat president Kruger die land verlaat het, is ’n groot som geld aan Cornelis – en miskien ook ander offisiere – gegee wat hy aan ons vegtende offisiere moes gaan uitbetaal.
As telegrafis moes Cornelis tydens die oorlog ’n heliograaf9 beman. Soos ’n spioen moes hy alleen oral ’n hoogte soek van waar hy die vyand kon dophou. Dan moes hy aan die kommando’s sein waarheen hulle moet beweeg. In daardie jare van swaarkry in die veld kon ons net in gedagte saam met hulle wees want ons het nooit ’n woord van mekaar gehoor nie.
Op 23 Junie 1900 het ons die kanonne naby die dorp gehoor. Toe sien ons hoe die Kakies soos ’n vaal stroom in die straat voor ons huis verbyloop na landdros FDJ Wepener se huis. Hy het hom by ’n groot aantal burgers geskaar wat verkies het om eerder hul land te verraai en hul wapens aan die vyand af te gee.
Daardie dag het die vroue en kinders wat agtergebly het se onbeskryflike smart en angs van langer as twee jaar begin. Dit het gevoel of die mans en groot seuns na wie hulle moes gaan vir hulp en beskerming, vir altyd weg was. Daar was vreeslike gerugte van vroue en meisies wat aangerand is en van wreedheid teenoor hulle. Ons het dit eers later, nadat ons self weggevoer is en van honderde ma’s en dogters se ondervindinge gehoor het, verstaan en geglo.
Ek was onbewus van wat aangaan omdat die ouer mense destyds nie voor ’n kind van my ouderdom oor so iets gepraat het nie. Ek kon ook nie verstaan nie waarom ek altyd ’n kappie moes dra wat my gesiggie heeltemal toemaak. Ook nie hoekom ek al daardie maande nooit op ons voorstoep mag gekom het nie.
Ek onthou so baie, maar oor wat die daaropvolgende ses maande tot Desember 1900 met ons gebeur het, kan ek nie alles in besonderhede vertel nie. Van die eerste dag van Heidelberg se besetting het die vroue wie se mans op kommando was, kennis gekry dat hulle en hul kinders nie uit hul erwe mag kom nie.
Daar was dag en nag ’n gewapende wag voor ons deur. Ons mag ook nie ná donker kerse opgesteek het nie. Sodra daar ’n liggie brand, is daar op die huis geskiet. So het hulle een nag byna my ouma, Pa se ma, raak geskiet.
My arme ma moes alleen omsien na ons ses jong kinders van wie Gerrie maar ’n paar maande oud was. Ses maande lank kon ons geen kos koop nie. Baie mense glo dit nie en wil weet waarvan ons dan geleef het. Ja, waarvan hét ons geleef?
Die nag voordat ons burgers die dorp verlaat het, het Ma en tannie Nonnie Human die hele nag in ons groot buite-oond brood en beskuit gebak en vleis en kos gaargemaak om vir hul dierbares te gee. Gevolglik was byna alles opgebruik. Baie vroue was nes ons, dorpsmense en het nie soos plaasvroue nog ’n sak meel of mieliemeel, of goed soos pampoene, hoenders, eiers en melk in die huis gehad nie.
Ek besef nou eers wat ’n vreeslike ontnugtering dit vir my ma moes gewees het om te hoor sy mag nie uit haar huis gaan nie, selfs nie eens winkel toe om kos te koop nie. En te hoor dat ons kinders ook nie mag gaan nie – en dat alle kosvoorraad in die winkels in elk geval deur die Engelse gekonfiskeer is.
Waar hulle hoenders en diere soos koeie en varke by huise gesien het, het hulle dit gevat. Ons het ’n mooi hanslammetjie gehad wat hulle met ’n bajonet doodgesteek het.
Ons het baie Engelssprekende vriende gehad wat graag sou wou help maar hulle het dit nie durf waag nie. Ek is seker die liewe Hemelse Vader het vir ons arme ma gesorg. Ons tuin het aan ’n klein spruitjie gegrens waar daar ’n digte populierbos was. Daar het Ma ons koei vasgemaak, so ons het darem melk gehad – maar ek kan nie onthou vir hoe lank nie. Sy is seker later weggeneem. ’n Paar henne het ook in die bos geboer en ons het seker af en toe ’n eier gehad.
Ek kan onthou dat James en Robbie met seuntjies gespeel het wat in die straat toegelaat is. Hulle het ’n bal heen en weer oor ons muur geskop. Soms het die Kakie-wag ook saamgespeel. Toe kry Ma die plan kry om ’n briefie met geld by ons waterpomp te sit. Die seuntjies in die straat skop dan die bal tot by die pomp en kom drink water. Een vat dan die briefie met geld en kom die volgende dag terug met iets in die boeksak op sy rug en sit ’n pakkie daar neer. Dit was eintlik baie selde maar tog het dit Ma baie gehelp. Dit was winter en alles was kaal en droog in die Transvaal, so daar was ongelukkig niks in ons tuin nie.
Ek onthou eendag wat ons vreeslik honger was. Ma het bo van die spens se rak ’n bakkie droë semels en ’n klompie ou, uitgedroogde vetkaiings afgehaal. Daarmee het sy vir ons ’n eetmaal gemaak.
Intussen was daar gedurig kennisgewings wat die vroue gedreig het om hul mans te oorreed om hul wapens neer te lê. Uiteindelik was daar ’n lang dreigement waarin die vroue aangesê is om ’n sekere dokument te teken waarin hulle kla oor hoe swaar hulle kry en hul mans smeek om huis toe te kom. As hulle dit nie teken nie, gaan al die vroue as gevangenes weggestuur word, is gedreig. Sover ek weet het geen enkele vrou dit geteken nie.
Intussen het die Kakies in die huise gekom en feitlik al die meubels opgelaai. Hulle het bitter min vir die vroue en kinders agtergelaat. Hulle het ook gedurig na wapens en geld kom soek. Die meubels is op die markplein afgelaai, daar waar Heidelberg se groot stadsaal vandag staan. Daar kon swart mense en die verraaiers – of, soos ons hulle genoem het, die handsuppers10 – kom vat wat hulle wou hê. Dit wat oorgebly het, is aan die brand gesteek.
Ons huis was besonder goed gemeubileer en later het ons eers verneem dat een of ander Engelse offisier dit uitgehou het om self daar te kom woon. Daardeur is Ma daardie smart gespaar want hulle het toe niks van ons geneem nie. Op die ou einde het dit ons niks gebaat nie, want toe ons ná twee jaar huis toe gekom het, was daar nie ’n strooitjie in die huis nie. Die mense wat intussen daar gewoon het, het alles gruwelik verniel, tot die deure en vensters, en dit was vreeslik vuil.
Die dorpsbewoners wat die eed van getrouheid aan die Engelse geteken het, is toegelaat om met rantsoenkaarte kos te koop. Ook ’n paar weduwees wie se mans gesneuwel het. So kon Elsie Human, weduwee van John Spruyt, kos koop en sy het nou en dan vir Ma ’n blikkie kondensmelk gekry. Elke druppel daarvan is vir klein Gerrie gehou.
Ma het gelukkig heelwat kontant gehad – destyds goue ponde – en sy moes dit gedurig op een of ander plek wegsteek. So onthou ek goed hoe ek haar ’n paar keer gehelp het om snags in die pikdonker êrens ’n gat te maak waar ons die bondeltjies kon wegsteek – in die ou hoenderhok of in die hoek van ’n buitekamer. Net ek het daarvan geweet. Later het Ma ’n gordel van linne gemaak wat styf om my middel kon vaskom en het ’n deel van die geld daarin gesit. As sy weggeneem sou word, moes ek daarmee vir die kleintjies sorg.
Nie ver van ons nie het ’n mnr Ahrbeck gewoon. Sy vrou was lankal dood en hy en sy vyf dogters was baie Brits-gesind. Van die dogters het dikwels tot by ons tuinhek geloop en gevra om ons baba te sien. So het dit gekom dat ek die kinderwaentjie tot by die hek stoot en hulle dit dan ’n entjie op en af in die straat stoot. Die Kakie-wagte het ook al begin laks word en het hulle nie juis aan die waentjie gesteur nie.
Ma het toe ’n plan bedink om allerhande van ons kleinighede in die waentjie te pak met die baba bo-op. Later het sy die baba selfs nie eens meer in die waentjie gesit nie, net die songordyntjies goed toegetrek. Die dogters het dit tot by hul huis gestoot waar hulle die goed dan oral opgehang of uitgestal het asof dit hulle s’n is. Meer as twee jaar later het hulle dit toe alles weer aan Ma terugbesorg. Ons het dit baie waardeer want die paar goedjies is al wat ons van ’n hele huis vol huisraad teruggekry het.
Onder die goed was portrette wat vandag nog in ’n goeie toestand is en in Cornelis se huis hang. Daar was twee vergrote portrette van Pa en Ma (ingekleur), asook die portrette van 1896 se Sondagskool-konferensie en groot piekniek in die kloof en ander gesinsportrette. Ek dink ook dokumente van my pa. Ek weet by wie ons mooi porselein en ander ornamente en blompotte beland het, maar dit het ons nooit teruggekry nie, dus noem ek nie hul name nie.
Toe Elsie se man, John, gesneuwel het, is sy toegelaat om na sy begrafnis te gaan. Hy was ’n broer van genl Cornelius Spruyt. Sy is toegelaat om ’n man vir beskerming saam te neem en my twaalfjarige broer, James, het saamgegaan. Hulle moes ook ’n petisie van die vroue saamneem waarin gevra is dat die burgers hul wapens moet kom neerlê, maar nie een het dit gedoen nie.
Elke keer met die aankoms van nuwe gevangenes kon ons weer iets van die buitewêreld hoor. Baie mense het dan gehoor hoe dit met hul dierbares gaan wat agtergebly het. Ma het nou en dan ’n brief van Gert op St Helena ontvang, maar geen woord van Pa of Cornelis gehoor nie.
Ná die oorlog het ons gehoor dat ons Heidelberg-kommando in dieselfde tydperk ’n trein laat ontspoor het. Hulle het onder meer ook die possakke gebuit en daarin was verskeie briewe en ook ’n portret van vriendinne en bekendes. So het hulle begin verneem waar hulle familie was.