Читать книгу Maggie: My lewe in die kamp - Maggie Jooste - Страница 11

Hoofstuk 2

Оглавление

Ons word weggevoer in veetrokke


Die gesinne van die vegtende burgers het ná ses maande baie swaar gekry en die meeste se huisraad en geriewe is alles weggeneem. Niemand is toegelaat om iets te verdien nie. Hulle kon nie by hul vriende uitkom nie en het nie geweet hoe dit met die mans op kommando gaan nie. Nie my ma of een van die ander vroue het ooit vir die Engelse kos, klere of medisyne gevra nie. Hulle het baie gely maar wou nie afhanklik wees nie. Maar toe die Engelse ’n verskoning wou hê om die vroue gevange te neem, het hulle voorgegee dat ons “refugees” is en dat hulle op dié manier beter vir ons kon sorg. Ons het altyd baie duidelik ons adres aangegee as Vroue-krygsgevangenes11.

Ons beurt om weggevoer te word het op 5 Desember 1900 aangebreek toe twee Engelse offisiere by ons huis instap en vir Ma sê dat sy met haar ses kinders die volgende oggend op die spoorwegstasie moet wees om weggestuur te word. Waarheen en vir hoe lank? Ons het nie geweet nie! Alles moet net so in die huis gelaat word en ons mag net ons klere en ’n klein mandjie met kos neem. Wat ’n vreeslike gedagte was dit nie om alles wat ons besit net so vir die vyand agter te laat! Die onsekerheid oor wat voorgelê het was ondraaglik. Die arme hulpelose vroue, bejaarde en siek mense en kinders kon nooit droom watter smart en ellende op hulle wag nie.

Ma wou weet wat van Gert se goed gaan word aangesien hy deur hulle as krygsgevangene gehou word. Hulle het haar verseker dat al Gert se goed bewaar sou word. Dus het ons die laaste nag nog van die beste meubels en beddegoed in een kamer bymekaargesit vir hom!

Wat ’n verkwisting van ons laaste kosbare ure daar. Ma het ons bietjie kontant verdeel en om haar lyf en om my lyf vasgemaak. Sy het seker ook ’n bietjie kontant los by haar ge­hou. Ons het vir oulaas lekker gebad en wat daar was geëet. Onder die kos wat ons bymekaar kon kry, was ons laaste hoenderhen wat geslag en gaargemaak is en ’n blikkie gemaalde koffie met ’n afgebreekte koperlepel daarin (die steel kon nie in die blikkie gaan nie). Ek het nou nog die ou lepel.

Dit was ver van ons huis tot by die stasie. Ma het ’n vere­bedjie en komberse baie styf inmekaar gedraai en sy sou dit dra, terwyl James ’n bondel klere moes dra. Daarmee moes ons sewe stuks klaarkom. Ek het ons sussie gevat met haar doeke, bottel en goed. Net toe ons wou begin stap, sien ons mnr Russell met sy groot perdekar aankom. Ons twee gesinne het ’n ou vriendskap gedeel en hy het ons uit die goedheid van sy hart kom help en stasie toe geneem. Ons ses kinders sou nooit die ent stasie toe kon stap met die goed wat ons moes dra nie. Ma was so dankbaar. Sy het gou nog ’n paar goedjies bymekaar geskraap, waaronder ’n medisyne­kissie, ’n groot, swart ketel om water in te kook, ’n kamerpotjie, ’n klein Beatrice-oliestofie en ’n blaker. Die stofie, ketel en blaker is duidelik te sien op ’n portret wat ’n maand later in Pietermaritzburg se kamp geneem is. Dit was ons enigste kombuisgoed.

Op die stasie was dit ’n treurige skouspel. Minstens 300 ma’s met hul kinders het verslae daar gestaan en huil en kerm, elkeen met ’n bondeltjie klere en ander goedjies. Almal wou net weet waarheen ons gaan en waar ons kos gaan kry? En wanneer ons weer sou terugkom? Allerlei gerugte het die rondte gedoen. Party het gesê hulle vat ons net tot naby die Boerekommando’s en gaan ons dan in die veld aflaai. Ander weer dat ons by die swart mense se statte afgelaai gaan word. So was daar klomp stories.

Ná ’n lang wag het daar uiteindelik ’n trein ingestoom, een met geen passasierswaens nie. Dit was ’n goederetrein met trokke waarin kort tevore beeste en skape vervoer is. Almal is aangesê om in die naaste trok in te klim. Die meeste trokke was bo oop, maar die een waar ons ingejaag is, was ’n toe trok – alles natuurlik van yster, ook die dak. Weerskante was ’n deur.

Maggie: My lewe in die kamp

Подняться наверх