Читать книгу Maggie: My lewe in die kamp - Maggie Jooste - Страница 8

Оглавление

’n Gelukkige gesin in ’n groot, mooi huis


My vroegste herinnering is van ons huis op Heidelberg in die Transvaal. Dit was aan die hoofstraat langs mnr Carl Schultz se winkel. Hy en sy gesin het voor ons in die huis gewoon. Die voordeur se sleutelgat was so groot dat ek daardeur kon loer om te sien wat buite aangaan. Ek onthou dié dag het drie swart seuntjies1 van sowat agt jaar oud in die straat voor ons huis baljaar. Hul gesigte het vir my baie snaaks gelyk – elk­een het ’n mombakkies opgehad en ons was vreeslik bang vir hulle.

Links van die agterdeur was ’n kamer waar ’n soort masjien gestaan het waarmee limonade gemaak is. As die botteltjies onder die kraan gehou is het ’n ronde, groen albastertjie uit die nek van die bottel tot voor in die bek opgestoot en dan was die bottel toe.

Toe ek dit jare daarna vir my ma vertel, was sy verbaas want ek kon toe nog nie twee jaar oud gewees het nie – ek is 2 jaar en 4 dae ouer as my broer James en hy was destyds nog nie gebore nie.

Ons het daarna in ’n nuwe, groot wit huis gewoon, regoor dié van mnr Jimmy Russell. James is daar gebore. Ek onthou baie goed dat ek hier, sover ek weet, die enigste keer ’n goeie pak slae by my pa gekry het.

Dit was een môre net voor ontbyt. Ek sien nog die groot tafel netjies gedek met al die stoele daaronder ingestoot. Die oggendson het by die venster ingeskyn en daar, in die middel van alles, was ’n groot glas-suikerpot met ’n lang dun steel op ’n ronde voetstuk. Op die deksel was ’n ronde handvatseltjie.

Ai, ek was baie lus vir die heerlike wit suiker. Ek het ’n stoel uitgetrek, opgeklouter, op my knieë op die tafel gaan staan en soveel suiker gevat as wat my klein, vet handjie kon beetkry. Daarmee draf ek toe by die agterdeur uit tot by ’n dammetjie water waar ’n skoppelmaai aan ’n wilgertak gehang het. Ek het op my maag op die sitplek gelê en die suiker van my hand afgelek. Meteens het iemand my aan my lang bos krulhare beetgekry en agteruit getrek tot by die ontbyttafel. Dit was my ouboet Neelsie wat aangesê is om my te kom haal. Pa het my oor sy knie getrek en met sy kaalhand ’n goeie pak slae gegee.

*

’n Paar jaar daarna, op 24 Maart 1893, is my jongste sussie, Johanna, op nege maande oorlede. Ek onthou nog hoe haar lykie in ’n mooi, wit rokkie in die sitkamer gelê het. Ds Van Warmelo het ons besoek en ek het vir hom koffie in my klein teekoppietjie geskink. Ek was baie ontsteld toe hy die koppie met piering en al in sy mond gesteek het.

Met ds Van Warmelo se dood is sy lyk gebalsem en ons kinders het ook gaan kyk, maar al wat ek kon sien was die sole van sy twee voete.

Ek is op ses vir die eerste keer skool toe. Al wat ek daarvan onthou, is dat my broer Gert my linkerhand vasgehou het. Ons het langs die muur van ou mnr Pistorius se huis geloop en ek was baie trots op my mooi rokkie van geel-goud fluweel met ’n lang ry wit knopies voor.

Ek onthou ook die eerste Nederduitsch Hervormde of Nederduitse Gereformeerde kerk op Heidelberg. Waar ons kerk nou staan, was die ou kerk net regs. Die preekstoel het aan albei kante ’n lang ry trappies gehad en met ’n basaar het ons kleintjies een kant op, deur die preekstoel en anderkant af baljaar.

My ouers en die Russell-gesin was groot vriende. Toe James gebore is, is mev Russell oorlede met die geboorte van haar dogtertjie. Ma het toe albei kleintjies aan haar laat drink. Van toe af is ek Maggie genoem pleks van Margaretha. Dit was mnr Russell se oudste dogter se naam. James, wie se doopnaam Jacobus was, is van toe af Jimmie genoem, mnr Russell se noemnaam.

Ek is in 1886 gebore, James in 1888, Robert in 1890, Johanna in 1892, Helena (Dolly) in 1894 en Henrietta (Hettie) in 1895.

Met Hettie se geboorte het ons in ’n huis langs die Suikerbosrand-rivier gewoon. Dié ou huis se naam was Nap. Ek onthou die groot tuin met sy baie vrugte en speelplek, veral op die walle van die rivier. Daar was lang wilgertakke waaraan ons oor die water geswaai het. Ons het dit geniet om kwepers van ou oom Thomas Smit se heining te steel. Dié het ons op die groot, plat rivierklippe geskuur en die sap van ons vingers afgelek.

Omstreeks 1896 het my pa ’n eiendom van ’n mnr Foord gekoop. Die deftige sitkamermeubels is destyds uit Duits­land ingevoer.

Ons kinders het soggens teen dagbreek opgestaan, ons kussingslope afgetrek en tot by die kloof in die berge gestap. Daar het ons die bobbejane weggejaag en dan die wilde stamvrugte gepluk en geëet. Die res het ons in die slope saamgeneem.

In mnr Schultz se winkel het ’n mnr Rawlinson gewerk en hy het my elke jaar ’n pragtige pop gegee. Toe ek al groter was, was sy laaste present ’n volledige naaldwerkmandjie.

My eerste herinnering van Paul Kruger, ons staatspresident, is waar hy op ’n ossewa sit wat teen die muur voor die landdroskantoor gestaan het. Agter hom op die wa het die artilleriste gestaan, baie deftig aangetrek. Ek kan nie onthou wat die geleentheid was nie, maar ek moet toe met ’n kort leertjie opklim om ’n toesprakie vir Oom Paul voor te lees. Hy het my daarna op sy knie getel en ’n soentjie gegee. Martie Human het vir hom ’n ruiker aangesteek. Ek moes agteruit van die wa afklim en was nog nie onder nie toe pluk my broer Neelsie my van die leer af en sê: “Maak gou, al die mense kan jou broek sien!” Wat ’n antiklimaks vir my glorie-oomblik.

*

Heelwat het teen einde 1896 gebeur. Daar was ’n groot Sondagskool-konferensie op Heidelberg. Ons het nog ’n portret van al die predikante en onderwysers wat voor die kerk op die trap geneem is. Ma staan langs ds Louw se vrou. Ek het dié Sondag ’n toespraak namens die Sondagskool-kinders gelees en moes op ’n kissie op die preekstoel staan. Ons het daarna ’n baie groot piekniek in die kloof gehad; die kinders moes agter Cornelis, wat die vlag gedra het, aanstap en sing. Ons het nog ’n portret wat dié dag geneem is. Ds Louw staan eenkant met ’n groot klok; bo, in die middel, staan Cornelis met die vlag met 1896 duidelik daarop te sien; langs hom staan Pa, met Dolly op sy arm, by Ma. Ons ander kinders – Gert, ek, James en Robert – is duidelik herkenbaar.

In daardie tyd het ons ook maande lank aan ’n konsert geoefen. Ons drie oudstes, Cornelis, Gert en ek, wat toe tien jaar oud was, het aan baie items deelgeneem. Die vernaamste was ’n opvoering, Die Ysjonkvrou, alles met musiekbegelei­ding en sang – natuurlik in Hoognederlands. In die hoofrolle was ds Louw se seun Adriaan as prins Oskar en ek as sy verloofde, prinses Irma. Ons het gesing van ’n yskoningin, die Ysjonkvrou, wat in die sneeuberge woon en my prins gevang het. (My maat Elsie Cronjé het die rol van die Ys­jonk­vrou gespeel.) Die prins met sy jaggeselskap (Cornelis en Gert was ook onder die jagters) het in die sneeuberge gaan jag.

My rok was van rooi ferweel met ’n lang sleep wat met wit satyn uitgevoer was. Twee hofknapies het die sleep gedra. My onderwyseres, mej Maria van Niekerk, het my hare hoog op my kop gekam vir my kroon. Sy is later met Gawie Cillié van Stellenbosch getroud.

Ek en my gevolg van hofdames het aan die voet van die sneeuberge gekniel en gesing: “Ijsjonkvrou, kom, o, verhoor ons angstig smeken. Daal met uw volk in ons midden heden neer. Heb onverbiddelijke voor ditmaal erbarming, geef aan het volk zijn koning weer.” Ek kan die wysie nog goed onthou.

Sy verskyn toe tussen die sneeuwit rotse met haar lang, ligte hare en al haar volgelinge in wit. Die prins en jagters was almal geboei en toe sy hulle “loslaat”, het ons twee mekaar ontmoet!

Die laaste bedryf het in die paleis afgespeel met die prins en prinses se troue en kroning. James was ’n hofknapie en het my goue kroon op ’n silwer kussing ingedra. Die volk sing toe:

“Heil koningspaar tans in den egt getreden, geluk verzelle uw schreden, nog menig volgend jaar.”

Mej Van Niekerk het later van my sleep se materiaal vir haar ’n bloese gemaak.

Vir dieselfde konsert het ek ’n lang resitasie geleer. Dit was “Elisa’s Vlucht” uit die kinderboek De negerhut van Oom Tom.2 Terwyl ek geresiteer het, is die geskiedenis van die slawe in tablo’s vertoon.

*

Ons was ’n baie gelukkige gesin in ons groot, mooi huis. Ma het destyds ’n wit meisie in die huis gehad om haar te help. Ek kan veral die sitkamermeubels en die groot, sagte mat onthou. Die lang, roomkleurige kantgordyne voor die hoë vensters het tot op die vloer gehang en was aan die kante opgetrek met ’n gordel met lang tossels. Op die serfyn, ’n soort orrel, het mooi porseleinornamente gestaan, ook op ’n ronde tafel. Die ornamente was met egte goud versier.

Pa het ’n groot wamakersbesigheid gehad. Dit was die tyd­perk van koetse, landauers3, spiders4, karre en plaas­gereed­skap wat alles herstel moes word. Al die wiele moes van yster­bande voorsien word en die talle perde se pote moes beslaan word. Pa het dus ’n goeie inkomste gehad en hy kon ruim voorsien in alles wat ons groot huisgesin nodig gehad het.

Ma het ’n lieflike, sagte geaardheid gehad. Sy het veral baie vir haar kerk gedoen en was vir ons kinders ’n onver­geetlike voorbeeld van Godsvrug, deug en opofferende liefde. Sy het 12 kinders gehad maar het steeds al die vroue­vereniginge se bidure gelei. Sy was baie gesond en het ywerig met basaars gehelp, bidure gelei en Sondagskool gehou. Later het ek gehoor dat sy 21 jaar lank ’n Sondagskool-onderwyseres was.

Sy was besonder knap met naaldwerk en het al ons klere self gemaak, selfs die mans se pakke. Ons drie dogters wat in die huis grootgeword het, het by haar leer kook, bak en huis­werk doen, ook om ons eie naaldwerk te doen. Vandag nog, op 76-jarige leeftyd, doen ek steeds baie naaldwerk. Nou is ek al een van die sewe dogters wat nog leef. Van die vyf broers leef nog net Cornelis, James, en Eddie met die skrywe hiervan.

So het ons in geluk en vrede geleef tot daardie onvergeetlike September van 1899.

Maggie: My lewe in die kamp

Подняться наверх