Читать книгу Dokter sonder grense - Malene Breytenbach - Страница 5
~ 2 ~
ОглавлениеClare ry met haar Suzuki na die lughawe, waar Spies haar sal kry. Hy het beduie presies waarheen sy moet gaan, waar sy vliegtuigloods is en waar sy haar motor in veilige bewaring by sy eie voertuie kan laat.
Sy is eintlik vroeg, maar sy veronderstel hy doen alles met militêre presisie en hou by vertrektye. Al bagasie wat sy het, is een rugsak. Sy dra ’n kakiehemp en -broek, fotograafbaadjie en stewige toerygstewels, al is dit warm. Haar hare is in ’n poniestert en sy dra geen grimering nie. Die mans moet sien sy is ernstig oor die saak. Sy gaan nie probeer glamorous of verleidelik wees nie.
Spies het gewaarsku dat sy nie onnodige of waardevolle bagasie moet bring nie, maar haar kosbare klein Nikon-kamera is veilig in haar binnesak. Verder het sy haar geld, dokumente en paspoort in ’n sak aan haar lyf. Sy het ook haar medikasie geneem en ekstra ingepak. Sy is so paraat soos kan kom.
Flying Spear Air Service se loods is taamlik ver van Kaapstad-lughawe se nasionale en internasionale aankomssale, amper teen die oop veld, asof hy verborge wil wees. Sy ry stadig nader totdat sy die vliegtuig sien staan en mans wat om dit werk. Dit lyk na ’n ou weermagvliegtuig, maar daar is ’n grynsende mond op die voorkant geskilder en Flying Spear op die kant, onderstreep met ’n spies. ’n Man in ’n kakieoorpak waai vir haar en sy herken Spies se fris figuur. Hy beduie waarheen sy moet ry en waar sy moet stilhou, en stap dan met lang treë nader.
Hy lyk vir haar vars en vrolik, asof hy na ’n avontuur uitsien, maar sy het ’n beklemming wat sy probeer wegwens. Nou en dan pomp die adrenalien van uitsien na risiko egter weer. Haar ma, wat swaar van haar afskeid geneem het, is gewoond aan haar waaghalsigheid en die werk wat sy in Afrika doen, maar Clare het nog nie ’n plek besoek wat so gevaarlik soos Sierra Leone is nie.
“Moenie jý ook iets gaan staan en oorkom nie, my liewe kind,” was haar ma se laaste woorde voordat Clare gery het.
“Ek is bly jy is darem een vroumens wat jou tyd ken,” spot Spies toe hy haar rugsak en motorsleutels neem. “Ons gee die sleutels vir my sekretaresse.”
Clare sien ’n lang meisie in ’n kortbroek en moulose T-hemp wat vir hulle staan en wag. ’n Sexy blondine sal Spies se smaak wees, dink sy geamuseer. Spies stel die blondine voor as Cindy-Lee van der Merwe en toe Clare haar hand skud, let sy op dat die meisie geveins vriendelik is. Dit lyk of sy beslis nie daarvan hou dat Spies saam met Clare gaan nie.
“Ons is gelaai en wag net vir jou,” sê Spies. “Kom ek stel jou voor aan my loods, Boegoe Hanekom. Ek is co-pilot.”
Boegoe is duidelik ook ’n taai oud-Spesmagtemakker, baie blas, met ’n litteken oor een wang. Hy is korter as Spies, maar net so fris gebou. Sy swart oë dwaal oor Clare van kop tot tone, asof hy haar beoordeel en punte gee.
“Is jy seker dis sý wat wil gaan?” vra hy bars vir Spies. “Ek het nie ’n fashion model verwag nie.”
Clare vernou haar oë en gluur hom aan. “Het Spies jou nie oor my CV ingelig nie? Ek is al ses jaar lank ’n buitelandse korrespondent en ek was al dikwels waar gevaar is. Dis my werk. Ek vind julle chauvinisme regtig laakbaar.”
Boegoe lyk verbaas oor die aggressie en Spies waai sy hande paaiend. “Sorry, ou girlie, ons is maar so. Jy lyk nie asof jy ’n pantservoertuig se wiel kan omruil nie. Maar Boegoe bedoel dit nie sleg nie. Hy’s altyd nice teenoor vroumense.”
“You could have fooled me,” mompel Clare. Maar sy forseer ’n glimlag en tot haar verbasing grinnik Boegoe ook, asof hy haar respekteer vir haar astrantheid.
“Watse vliegtuig is dit dié?” vra sy.
“Ons noem dit ’n Caravan,” sê Boegoe. “Dis ’n enkelprop en kan tien passasiers en ’n bietjie cargo vervoer. Dis meesal bedoel vir safarigroepe vervoer, maar niemand gaan safari nou in Sierra Leone nie.”
“Word jy maklik lugsiek?” vra Spies.
Clare skud haar kop. “Het nog nooit. Solank Boegoe nie loop the loop nie, behoort ek oukei te wees.”
Boegoe grinnik weer breed vir haar.
Spies het alles gereël, paspoorte inkluis, en dit vir haar só maklik gemaak dat sy nie weet hoe sy sonder hom sou klaargekom het nie. Hy is egter ’n ou hand, wat nog smokkel ook. Sy wil haar nie daaroor bekommer nie, want sy het ’n missie waarop sy moet konsentreer, en dit is om Nick en Louis te vind. Alle ander dinge is bysaak.
Nadat alles afgehandel is en klaring vir vertrek verkry is, klim sy in die vliegtuig. Sy gaan sit reg agter Boegoe en Spies en maak haar veiligheidsgordel vas. Hulle is die enigste passasiers. Binne is dit nie luuks nie, maar gemaklik genoeg. Dis vir seker nie eersteklas nie.
Die vliegtuig ry na die aanloopbaan en met ’n vreeslike gedreun styg dit op, draai ’n slag oor Tafelberg en mik na die noorde. Die bal is nou aan die rol en vir omdraai is daar nie meer kans nie, dink Clare, half verlig, half benoud.
“Jy gaan NGO-ouens soek wat die militêre nie gewoonlik goedgesind is nie,” praat Spies hard met Clare oor sy skouer om bo die dreuning gehoor te word. “As ons patrollies deur die dorpies gedoen het, of by die klinieke aangedoen het, het die MSF-ouens ons nie verwelkom nie. Hulle werk mos kastig uit idealisme, en hulle vertrou nie gewapende mense nie, selfs nie die VN-vredesmagte nie. Toegegee, mens kan die vredesmagte ook nie altyd vertrou nie. Almal stroom na daardie klinieke met hulle siektes, peste en oorlogbeserings en word met ope arms verwelkom, maar as ons militêre ouens daar aankom, word ons weggejaag.”
“Daar is niks kastigs omtrent die MSF se idealisme en opoffering nie,” praat sy hard terug. “Daardie mense gee alles prys om hulle medemens te dien, en hulle word maar swak betaal. Hulle is nie daar vir die diamante en plundery nie. Ek kan verstaan dat daar tussen die MSF en troepe wrywing kan wees, want die troepe wond en beseer en die dokters moet die mense heelmaak. Die Hippokratiese Eed sê dat jy selfs jou vyande, alle mense van alle oortuigings, moet help.”
Sy bly ’n rukkie stil voor sy vervolg: “Jy is nie bereid om my te help net oor jou hart vir my en Nick bloei nie, Spies, en jy vra my ook nie ’n plaas se geld nie. Daar is vir jou gewin in die ding, wat niks met my te doene het nie.”
Hy grinnik oor sy skouer. “Kom ons sê ek werk aan my pensioen, my mansion, my seiljag, my Ferrari en my harem. Wat ek alles doen, hoef jy nie te weet nie. Dit sal veiliger wees as jy nie uitvra nie. Ek sal jou help, maar jy moenie nuuskierig raak nie. Oukei?”
Ek gee jou ’n heerlike geleentheid om jou smokkelbedrywighede voort te sit, dink sy. “Oukei, ek sal nie my neus insteek waar dit gebyt kan word nie.”
Clare skrik wakker toe Spies haar skouer skud en vir haar ’n kospakkie en Coke aangee.
“Ons is ’n halfuur van Freetown-Lungi-lughawe af. Dis die Royal Air Force- en siviele lughawe. Ek het landingsregte, en ons bly altyd in ’n hotel aan Lungi se kant. Om in Freetown te kom, neem mens ’n boot oor die rivier. Dis nou nag en gevaarlik. Iets kan altyd uit die donker in jou rigting vlieg.”
Clare eet en drink vinnig en maak haar reg vir die landing. Sy kyk by die venster uit en sien net donkerte, maar gou bespeur sy ’n lig of twee wat flikker. Spanning laai in haar op. Wat as iemand na die vliegtuig skiet? Mens kan enigiets in Sierra Leone te wagte wees. Maar as sy eers haar voete op die aarde het, weet sy dat dit net afstand is wat haar van Louis en Nick skei. Sy wil nie eens daaraan dink dat hulle dood of in lewensgevaar kan wees nie. Nee, dis net kommunikasie wat onmoontlik geraak het, oortuig sy haarself.
Haar hart sit in haar keel toe die vliegtuig uiteindelik op die aanloopbaan neerstamp.
“Ons is terug in die hel,” spot Spies. “Maak julle klaar vir die hitte.”
Dis inderdaad so warm soos die hel toe Clare uitklim, want die temperatuur is veel warmer as wat sy nog ooit beleef het, en die humiditeit is geweldig hoog. Skynbaar koel dit nie hier in die nag af nie. Sy snak eintlik na asem. Reuke van vrot tot diesel oorweldig haar.
Willoos laat sy toe dat Spies haar deur alles kry: doeane, die vyandige of ondersoekende meesal swart gesigte en mense in uniform. Die teenwoordigheid van Britse soldate laat haar effens minder bedreig voel, hoewel hulle haar bekyk asof sy van Mars af kom. Die hitte tap haar energie en haar klere klou aan haar lyf. Sy smag na ’n yskoue Coke.
“Daar’s ons manne,” sê Spies, wat haar aan die boarm beethet en haar na die uitgang stuur.
Twee grinnikende fris mans wag vir hulle in die afgeremde ontvangsarea van die lughawegebou, die een wit en die ander een swart.
“Manne, hier is Clare Rutland,” stel Spies haar voor. “Dis nou Jakes Williams, my ou makker van Spesmagte en EO, en Obed Stevens, die Krio van wie ek jou vertel het.”
Sy skud hulle groot, growwe hande en kyk op in gesigte blink van sweet. Maar hulle is vriendelik, slaan Spies op die rug, lag en verwelkom hulle. Vir Clare is hulle onmiskenbaar militêre tipes, al is hulle in civvies. Sy hou net nie van die betekenisvolle blikke wat hulle wissel nie, asof hulle dink daar is iets tussen haar en Spies wat hom genoop het om haar saam te bring.
“Gaan dinge al gemakliker hier?” wil Spies weet.
“So-so, maar is enigiets hier ooit enige tyd gemaklik?” spot Jakes. “Kom ons kry julle hier uit en by die hotel.”
Clare is steeds moeg ten spyte van haar lang slaap op die vliegtuig. Sy kan nie veel sien van die omgewing nie, al besef sy dis tropies, met digte plantegroei en vreemde reuke, en dat daar palmbome is. Die mans neem hulle na ’n voertuig wat lyk soos ’n gepantserde Land Rover.
Spies laat haar voor langs Jakes sit en hy en Obed klim agter in. Meteens besef sy dat sy nie die mans kan verstaan nie, want hulle praat ’n vreemde dialek. Seker die Krio waarvan Spies haar vertel het. Hulle wil natuurlik nie hê sy moet alles verstaan wat hulle vir mekaar te sê het nie.
Daar is min verkeer in die strate. Die hotel is langs die water en dit lyk ook afgerem. Dit was dalk eens luuks, maar duidelik het dit agteruitgegaan. Dis vol militêre personeel. In die portaal sien sy ’n paar vroue wat lyk soos vroue van die nag. Hulle dra te veel grimering en is te sexy en helderkleurig geklee. Hulle kyk haar nuuskierig maar vyandig aan.
Spies laat haar trappe klim na die derde vloer. “Hier waag ek dit nie in ’n hyser nie. Iemand kan jou vaskeer en probeer keel afsny, of anders kan die krag blaas en dan sit jy. Dis maar dodgy in dié digs, maar dis waar ek altyd bly as ek hier is. Mens moet jou vastrapplekke hê.”
Die hotelkamer was ook eens luuks, maar nou is dit basies en nogal toiingrig, sien Clare. Die badkamer lyk asof die loodgieterswerk twyfelagtig is, maar daar is ’n toilet, ’n wasbak met gevlekte oppervlak en ’n stort sonder gordyne of afskorting. Sy smag na ’n stort.
Daar is ’n sitkamer met ’n bank, stoele, tafel en ’n yskas in die hoek, en ’n slaapkamer met ’n dubbelbed sonder beddegoed – net ’n kaal, gevlekte matras waarop daar ’n opgerolde slaapsak is. Aan die plafonne in al die vertrekke is waaiers wat stadig en onwillig draai en geen verskil aan die hitte maak nie.
“Is jy honger?” vra Spies nadat hy haar rugsak in die slaapkamer neergesit het.
“Nee, dankie, net dors.”
Hy gee vir haar ’n Coke uit die yskas, wat sy vinnig opdrink.
“Jy kan die kamer kry en ek sal op die sitkamerbank slaap,” bied hy vroom aan. “Jy kan maar stort en gaan slaap. Ek en die manne het baie om oor te praat, en ons gaan vannag ’n bottel whisky seermaak.”
Die stort is vir Clare wonderlik, al raas die pype gevaarlik en lyk die water alles behalwe helderskoon. Sy is skaars droog, toe kry sy weer warm. Was hier maar lugreëling! Sy spoel haar vuil klere uit en hang dit oor die handdoekreling. Spies en sy vriende sal maar net gewoond moet raak aan vrouegoed sien. Hulle is seker gewoond daaraan, want sy twyfel nie dat hulle oral vroue najaag nie. Hierdie mure kan seker stomende stories vertel.
In ’n skoon T-hemp en kortbroek lê sy bo-op die bed op die oopgerolde slaapsak en probeer om te vergeet van die hitte. Iewers zoem ’n muskiet en ’n paar vlieë vlieg waansinnig heen en weer. Sy skrik toe die slaapkamerdeur oopgaan en Spies inkom, met ’n glas met geel vloeistof in een hand en ’n Coke in die ander hand.
“Dop,” kondig hy aan. “Slaap jy soos ’n baba tot môre, dan sal jy die krag hê om hierdie helgat te face.”
“Dankie.” Sy neem die glas en sien dat hy vir haar ’n dubbel gegooi het. “Sjoe! Ek drink nie regtig so baie nie, hoor.”
Hy staan en bekyk haar met sy vuiste op sy heupe. Sy gooi die glas tot bo vol Coke en neem ’n sluk.
Hy grinnik en loop uit. “Sien jou môre. Lekker slaap,” sê hy oor sy skouer.
Clare drink die helfte en voel haar kop draai. Sy sit die glas op die bedkassie neer, drink die res van die Coke, skakel die flou lig af en raak dadelik aan die slaap.
Sy word die volgende oggend vroeg wakker met ’n hoofpyn. Dis steeds so warm en sy lê steeds bo-op die slaapsak. Op die bedkassie staan die whisky wat sy gelos het en ’n dooie vlieg dryf daarin. Van ver af hoor sy voertuie, een keer ’n sirene, en een keer iets soos ’n gil wat haar bloed laat vries.
Waar is Spies?
Sy staan op, haal pynpille uit haar sak, neem die glas whisky en gaan gooi dit uit in die wasbak. Haar kop klop. Sy is nie seker of die water veilig is om te drink nie en gaan uit om vir Spies te vra.
Hy lê soos ’n dooie op die bank en slaap. In sy vorige dag se klere en met ’n baardskaduwee op sy gesig. Om hom is vuil glase en ’n leë bottel whisky lê op sy sy.
Terwyl sy vir hom staan en kyk, gaan sy oë oop. Bloedbelope oë.
“Wat kyk jy?” vra hy. “Is ek vir jou mooi?”
Clare vervies haar. “Ek wil eintlik net weet of dit veilig is om die kraanwater te drink. Dit lyk vir my verdag.”
“Nee, jy gaan cholera of loopmaag kry. Kyk in die verskoning vir ’n yskas daar in die hoek en haal gebottelde water uit. Ons sorg gewoonlik vir onsself. My manne het die nodige gebring.”
Sy gaan na die lendelam yskas en maak dit oop. Dis darem koud binne en vol water, Coke en pakkies kos soos dié wat op die vliegtuig was. Sy neem water en drink die pyntablette, en besef dat haar maag grom.
“Is jy babelaas vanmôre?” hoor sy en draai om.
Spies sit regop en gaap.
“Nee, dis seker net die lugdruk wat my pla. Ek het nie gisteraand al jou whisky gedrink nie. Ek sou eerder dink jý is babelaas.”
“Not ’n dêm. Ek kan my drank vat, ou sussie. Ek gaan stort, dan eet ons, en dan vertel ek jou wat ons gaan doen om jou boetie op te spoor. My manne het reeds navrae gedoen.”
“Weet hulle waar hy is?” vra sy opgewonde.
“Nee, maar hulle weet waar die dokters is. Daar is ’n helse klomp klinieke en vlugtelingkampe, en die MSF is ook in Freetown by die kampe en by die Connaught-hospitaal. As Nick nie iewers heen ontvoer is nie, sal ons hom wel opspoor.”
Hy staan op, rek, gaap weer. Uit sy rugsak haal hy ’n handdoek en seep en loop na die badkamer. Sy hoor hom fluit in die stort en water spat. Die pype dreun soos donderweer. Sy hoop net hy hou hom welvoeglik en maak haar nie verleë nie.
Vinnig trek sy haar dag se kakieklere aan en borsel haar hare. Die deur gaan oop en hy staan daar met ’n handdoek om sy onderlyf, sy lyf gespierd en harig. Sy kyk nie direk na hom nie.
“In die vervolg klop jy voordat jy sommer inbars,” sis sy. “Sê nou ek was nog nie aangetrek nie?”
“Oeps, skuus. Sal nie weer nie. Ek het ook klere gewas en die hele badkamer drup. Ek vra jou net om my kans te gee om ook aan te trek, tensy jy nie omgee om my in my geboortepakkie te sien nie.”
“Spies, gedra jou! Gaan trek aan, en maak gou. Ek is honger.”
Spottend klik hy met sy tong. “Kwaai tannie, nè? Ek het gedink jy kan ’n geitjie wees. Maar toemaar, ek is in two ticks klaar, dan kan ons eet en dan is jy in ’n beter luim.”
Hy verdwyn weer en sy kners op haar tande. Gaan hy haar heeltyd spot en terg? Solank hy hom net gedra en nie met haar probeer kanse waag nie.
Sy wag vyf minute voordat sy uitgaan. Hy is geklee in ’n lang kakiebroek en ’n kakiehemp wat nog nie vasgemaak is nie, en hy is besig om sokkies en stewels aan te trek. Sy kan nie help om vlugtig na sy gespierde borskas te kyk nie, maar toe ignoreer sy hom en loop verby na die yskas.
“Is daar enige moontlikheid van koffie?” vra sy.
“Ja, kyk in daardie sak langs die yskas. Daar is ’n beker en dompelaar en ’n bottel koffie. Daar is suiker ook, maar ons sal sonder melk moet regkom. Daar is ook blikborde, bekers en lepels. Alles is in een houer. O, en daar is beskuit. Kos en drank is hier meesal ’n probleem, maar Obed kry dit gewoonlik reg om goed op die swartmark te kry. As mens geld het, kan jy enige plek goed kry. Omkoop werk oral met omtrent almal in Afrika.”
Hy het sy veters vasgemaak en kom nader, sy hemp steeds oop. Clare ruik seep en deodorant en voel ongemaklik. Die man is eenvoudig intimiderend manlik, en hy weet dit. En hy is vir seker nie die man vir haar nie.
Al wat hy egter doen, is om haar te help om die goed uit te haal en die dompelaar by ’n muurprop in te prop. Hy gaan kry water uit die badkamer en sit die dompelaar in.
“Ons kook die peste weg,” sê hy. “Ons kan nie al ons drinkwater opkook nie.”
Stadig maak hy sy hemp vas, druk dit by sy broek in en kyk hoe sy die koffie in die bekers afmeet en hulle op die lae tafel neersit.
“Suiker?” vra sy.
“Twee, dankie. Ons kan bly wees as die water kook. Die krag is maar shaky hier, soos ek jou reeds vertel het.”
Hy gaan na die venster, trek die gordyne oop en maak ’n venster oop. Die son kom fel in, en ook ’n reuk van verrotting. Clare gaan staan langs hom en kyk uit. Die uitsig oor die Sierra Leone-baai na Freetown is mooi, maar oral buite is verval. Die mense wat sy sien, lyk arm en versukkeld. Skuite, roeibote en militêre bote is langs en op die water.
“Dit lyk nou nie eintlik na die Franse Riviera nie,” merk sy op. “Maar dink net watter moontlikhede sou dit hê as hulle nie alewig oorlog gemaak het nie. Die ontsettende hitte en humiditeit is natuurlik ook ’n probleem. Ek sal daaraan gewoond moet raak.”
“Ja, dis ’n gevaarlike plek dié. Die mense gaan soos vlieë dood van malaria en ander tropiese siektes, dan vermoor hulle mekaar ook nog op groot skaal. Daar is te veel soldate, skelms en skollies in Freetown. Jy gaan nêrens heen sonder my nie, jy kyk nie direk na enigeen nie, en jy steek daardie mooi groen oë van jou agter ’n donkerbril weg. Ek is wel jou lyfwag, maar ek gaan nie sommer baklei as ek dit kan vermy nie.”
“Ons moet asseblief so gou moontlik na Freetown gaan,” dring sy aan. Hy staan te naby aan haar en sy beweeg weg.
“Ons kan vanoggend oorgaan daarheen en met MSF se ouens gaan praat,” sê hy. “Ons water kook. Dis ’n wonderwerk dat die krag werk.”
Clare maak die koffie en Spies haal kospakkies uit die yskas. Dis broodjies met koue vleis en tamatie. Hy eet hongerig en baie, maar Clare kan net twee broodjies en een koppie van die sterk swart koffie inkry. Hy drink twee koppies koffie kort na mekaar.
“Jy beter eet en genoeg vloeistof inkry, want mens sweet erg hier en ek wil nie hê jy moet ontwater nie,” betig hy haar streng. “Hier is nie sommer sidewalk cafés waar jy iets kan gaan drink nie. Jy drink ook niks wat nie verseël of toegeskroef was nie.”
Clare eet nog ’n broodjie en drink nog ’n koppie koffie onder sy streng toesig.
“Waarmee mag ek tande borsel?” vra sy.
“Gebruik die afgekoelde kookwater. Ek wil nie hê jy moet nog die maagloop ook kry nie. Toiletpapier is skaars hier.”
Sy kan nie help om te lag vir die komiese manier waarop hy dit sê nie, en hy grinnik.
“Kom, kom,” jaag hy haar aan nadat albei tande geborsel het. “Obed en Jakes kry ons by die water. Hulle het ’n boot waarmee hulle ons sal oorneem na Freetown.”
Hy trek ’n flak jacket aan en sy sien dat die sakke vol goed is. Aan sy gordel is ’n mes in ’n skede. Sy sit alles wat sy nodig het in die sakke van haar fotograafbaadjie. Spies sluit hulle sakke in die badkamer toe, sluit die buitedeur en steek die sleutels in sy binnesak.
“Hier steel die mense natuurlik vreeslik,” sê hy. “Eintlik moet mens alles vasspyker.”
Toe hulle by die trappe afstap en uitgaan, kry Clare weer die indruk van vyandige, agterdogtige oë wat hulle bekyk. Nou, in die helder daglig, kan sy sien hoe vuil en verniel alles is, hoe versukkeld, aggressief of skelm die mense lyk. Nêrens sien sy ’n vriendelike gesig nie, en dit laat haar innerlik sidder.
Sy bly baie naby aan Spies, vir wie mense met teensinnige respek aankyk. Hy is groter en frisser as die meeste ander mense en hy loop met ’n woeste frons op sy gesig wat te kenne gee dat niemand met hom moet skoorsoek nie.
Die kort ent na die water is geensins aangenaam nie. Spies se twee vriende wag vir hulle by ’n ou boot waarvan die verf afdop, maar wat ’n buiteboordmotor het. Die hitte omgeef Clare soos ’n onwelriekende kombers en sy voel heeltyd omring deur vyandigheid. As iemand haar nou in die rug skiet, sal sy nie verbaas wees nie. Sy is ook die enigste wit vrou en mense staar na haar.
“Môre,” groet die twee mans en sy sien dat hulle haar opnuut opsom, maar sy groet vriendelik terug.
“Wat het van Boegoe geword?” vra sy vir Spies nadat hy haar ingehelp het en Obed die enjin brullend aan die gang gekry het.
“Weg. Hy’s weer oor twee of so weke terug. Teen daardie tyd het ons hopelik iets uitgevind oor Nick. Ons gaan nie maande lank hier kuier nie.”
Clare kyk hom geskok aan. Hy het nie vir haar ’n spertyd gegee nie. Hoe dink hy gaan hulle alles binne so ’n kort tydjie gedoen kry? Sy sal die saak nog met hom moet opneem, maar nou is skynbaar nie die tyd vir redekawel nie.
Die mans kyk behoedsaam om hulle rond. Clare besef nou alte duidelik dat sy in ’n oorloggeteisterde land is. Sy is seker die klimaat maak mense kortgebonde. Die ander bote op die water het soldate in, of is oorlaai met te veel plaaslike mense en hulle bagasie.
“Hierdie land het soveel minerale rykdom, maar kyk hoe lyk dit,” sê sy vir Jakes langs haar.
Hy knik. “Ja, dis die armste land in die wêreld, met ’n paar gulsige ouens wat hulleself verryk. Jy het nog nie gesien hoe erg dit regtig kan wees nie, maar jy sal.”
“Die samelewing het gedisintegreer en brutaliteit het oorgeneem,” vertel Spies haar. “As gevolg van die ewige konflik het Sierra Leone die laagste lewensverwagting in die wêreld – hoogstens ses en twintig.”
“Liewe hemel, dis darem baie laag,” prewel sy geskok.
“Wapens is maklik om in Afrika te bekom,” gaan hy voort. “Veral as ’n land sogenaamde bloeddiamante het wat daarvoor kan betaal, en dit het Sierra Leone in oorvloed. Die verskillende faksies in die land wat die bevolking terroriseer, maak egter op groot skaal van ’n landbou-implement gebruik – die machete of kapbyl. Ek moet jou waarsku dat jy baie mense, kinders inkluis, gaan sien met afgekapte ledemate.”
Clare kyk hom met afgryse aan, al weet sy daarvan. Om met die werklikheid gekonfronteer te word, gaan egter baie ontstellend wees, en sy vrees dit.
Die drie mans by haar lyk almal soos huursoldate, dink sy. Hulle het die soort waaksaamheid en tawwe houding van mans wat weet hoe om hulleself te verdedig. Dis al deel van hulle persoonlikhede. Sy haal haar kamera uit haar binnesak te voorskyn.
“Sit weg daardie ding!” bulder Spies so skielik dat sy wip van die skrik. “Wil jy hê iemand moet ons skiet of in hegtenis neem?”
Sy druk die kamera terug in haar sak, maar neem haar rebels voor dat sy wel gaan foto’s neem, want sy moet vir die wêreld wys hoe dit hier lyk. Stokstyf van spanning kyk sy hoe die oewer naderkom, hoe baie mense daar is en hoe sleg die omgewing vertoon. Die geboue in die stad is soos geboue in ander Afrika-stede: die meeste is in die koloniale tyd gebou en lyk bouvallig.
Die boot meer by ’n kaai vas. Jakes bly sit terwyl Clare en die ander twee mans uitklim.
“Ek pas die boot op, anders steel iemand dit,” sê Jakes toe sy vraend na hom kyk. “Moenie te groot skrik nie.”
Clare se maagsenuwees trek op ’n knop.