Читать книгу Verbode liefde - Malene Breytenbach - Страница 3

1

Оглавление

“Van al die skrywers by hierdie Boekefees wil ek die graagste gaan luister na Iain MacLean,” sê Marian Sinclair vir haar vriend Emile en haar niggie Morag terwyl hulle toustaan vir kaartjies. “Hy skryf oor fassinerende goed soos skeepswrakke en reise na ver, eksotiese plekke.”

“En jy is mos van altyd af begeester deur skeepswrakke,” sê Morag. “Maar ek moet sê, dit fassineer my ook nogal.”

“Ag, dis gewoonlik baie moeite vir min rendement,” spot Emile. “Mense soek hulle dood, teen astronomiese koste, na skepe wat iewers aan ’n kus vergaan het. Daar was kastig fabelagtige skatte aan boord, dan vind hulle net ’n paar verrotte planke en ’n bietjie gebreekte porselein.”

Marian vervies haar, maar besluit om sy negatiwiteit te ignoreer. Emile deel nie hierdie belangstelling van haar nie. Hy vertel haar gedurig dat hy halsoorkop op haar verlief geraak het, maar hulle deel so min belangstellings dat sy wonder of sy dit ooit sal regkry om sy liefde te beantwoord.

Ten spyte daarvan dat hy nogal aantreklik is en baie eienskappe het wat hom vir ander vroue gesog sou maak, weet sy nie of hy die regte een vir haar is nie. As prokureur by een van die grootste regsfirmas in Kaapstad doen hy goed, en hy is intelligent, soms selfs ’n bietjie humoristies. Hy laat net nie haar hart enigsins vinniger klop nie. Tog is hy deel van haar lewe, en sy het nie die hart om hom summier af te sê nie.

“Wel, skeepswrakke fassineer my eindeloos,” sê sy. “Ek moes ’n mariene argeoloog geword het, nou is ek ’n joernalis. Maar ek gaan nog iets oor daardie Iain MacLean skryf. Hy is ’n avonturier, en hy skryf oor sy wedervaringe. Ek dink dis fantasties – ek wens ek kon dit doen. Ek het iewers gelees dat hy ’n broer het wat ’n boek geskryf het oor die Jakobiete se stryd in Skotland, toe die Highlanders onder Bonnie Prince Charlie, wat die Skotse troon wou terugkry van die Engelse, by Culloden verslaan is.”

“Baie interessant,” merk Emile lakoniek op, maar sy weet sommer hy bedoel dit nie. Historiese vetes, veral in die verre Skotland, interesseer hom nie in die minste nie. Maar sy is van Skotse afkoms en stel daarom intens belang.

Hy kyk skepties rond na die skare in die Konferensiesentrum. “Hier is vandag so ’n magdom culture vultures dat jy dankbaar kan wees as ons plek kry vir MacLean se lesing.”

“Dis wonderlik hoe suksesvol die Skotse skrywers is – Ian McEwan, JK Rowling, Alexander McCall Smith, Iain MacLean,” sê Morag. “Omtrent almal woon in Edinburg, wat op sigself ’n fassinerende stad is.”

Emile grinnik. “Dit moet iets in die water van Edinburg wees wat hulle breine so stimuleer. Of anders is dit die whisky.”

“Ek onthou nou dat Iain MacLean se broer se naam Roderick is,” sê Marian. “Maar ek het nog niks gelees wat hy geskryf het nie.”

“Is hy nie dalk ook hier iewers nie?” vra Morag.

“Nee, ek het op die program gekyk, daar is geen Roderick MacLean wat ’n aanbieding kom doen nie. Iain MacLean het laas jaar by die Somerskool aan die Universiteit van Kaapstad lesings gegee, maar ek kon nie na hom gaan luister nie. Ek was so teleurgesteld.”

Hulle is nou voor, by die toonbank. Marian bespreek vir verskeie praatjies, en toe kom sy by Iain MacLean s’n.

“Drie kaartjies vir Iain MacLean se lesing om twaalfuur, asseblief.”

Die vrou frons. “Dis ongelukkig vol, want hy is gesog. Hier is geen kaartjies oor nie.”

Marian sug moedeloos. “Ag nee. Dis nou geweldig teleurstellend.”

Emile leun oor haar skouer. “Kan ons nie op die vloer sit nie?” vra hy. “My vriendin sal nooit hierdie teleurstelling kan verwerk nie. Ek is in vir ’n rowwe dag.”

Die vrou lag. “Nee, ons laat dit nie toe nie. Maar ek sê julle wat: hy is om tweeuur by een van die stalletjies – Penguin Books s’n – waar hy sy boeke sal teken. Julle kan soontoe gaan.”

“Ons sal maar moet, dankie,” sê Marian. “Ons sal hom gaan voorlê. Ek gaan in elk geval nog van sy boeke koop.”

Hulle kyk in die stalletjies rond en na boeke en woon een lesing van ’n Afrikaanse skrywer by. Nadat hulle worsbroodjies geëet het, gaan hulle na Penguin Books se stalletjie. Iain MacLean se boeke is uitgestal en Marian bekyk hulle.

“Hierdie een gaan oor die wrakke van die Spaanse Armada om die Skotse kuste,” sê sy en tel die boek op. “Ek gaan dit koop.”

Sy kyk na die skrywer se foto op die stofomslag van die boek. Die man het ’n besonder sterk gesig. Nie konvensioneel mooi nie, maar aantreklik en manlik. Daar is ’n kort biografie en sy lees dit:

Iain MacLean is afkomstig van die eiland Mull in die Binne-Hebride van Skotland, waar sy familie die kasteel van Glenbogan besit. Sy ouer broer, ook ’n skrywer, is sir Roderick MacLean, die laird van Glenbogan. Iain het aan die Universiteit van Edinburg gestudeer. Tans woon hy drie maande uit elke jaar in dié stad, en ’n deel van die jaar in die familie se kasteel op Mull, waar hy skeepswrakke aan die kus bestudeer. Hy noem homself ’n gewoontereisiger wat altyd nuwe indrukke en avonture soek wat materiaal vir sy boeke kan wees. Hy stel veral belang in mariene argeologie. ’n Ander belangstelling is motorsport, en hy het reeds twee keer die Tour of Mull gewen.

Marian se hele lyf het verstyf. “Liewe hemel, hy is al die tyd een van dáárdie MacLeans, Morag!” roep sy afkeurend uit. “Roderick MacLean, sy broer wat die romanskrywer is, is sowaar die laird van Glenbogan.”

“Slaan my dood,” sê Morag geskok. “Dis mos vreeslik!”

“En nou?” vra Emile. “Ek dag dan julle is bewonderaars van Iain MacLean. Wat is so snaaks aan dié MacLeans?”

“Dis hulle – daardie einste MacLeans – wat ons familie en baie ander mense uit hulle tuistes op die MacLean-landgoed verdryf het om plek te maak vir weiding vir skape. Dis die Clearances genoem, en dit was een van die wreedste ontheemdings denkbaar.”

Daar is meteens ’n lawaai van opgewonde stemme en sy kyk om.

“Dis seker die beroemde man daardie, as die mense so om hom koek en kloek,” sê Emile en beduie na die bondel mense wat aangekom het. “Kom ons staan nader. Kan julle oor die koppe sien?”

Marian moet op haar tone staan om te probeer sien. Nou lyk Iain MacLean heeltemal anders as wat sy haar voorgestel het. Hy is groter en frisser as wat sy verwag het, en sy skat hom in sy middel-dertigs. Hy is aangetrek in grys-en-swart Skotse tweed en lyk besonder gedistingeerd. By hom is ’n mooi vrou. Sou dit sy agent wees? wonder Marian.

“Wel,” sê Emile. “Hy lyk … uitsonderlik.”

“Ek dink hy is ongelooflik aantreklik,” merk Morag op, haar gesig die ene verwondering.

Marian staar die skrywer aan. Sy behoort hom te verfoei oor die swaarkry en diaspora wat aristokratiese families soos syne duisende mense aangedoen het, maar sy kan nie help om hom te bewonder nie.

Hulle wag totdat die skare mense wat boeke laat teken, begin uitdun. Dit voel eindeloos. Marian is erg gespanne.

“Moet ek vir julle ’n pad deur die laaste fans baan?” vra Emile. “Volg my.”

Hy kry dit reg en toe Marian weer sien, staan sy voor die skrywer en kyk sy op in sy blou oë. Die man het ’n pen in sy hand.

Sy blik flits oor haar. “Aan wie moet ek die boodskap skryf?”

Die Skotse Engels in ’n baritonstem klink vir Marian soos ’n lied. Soos haar oupa gepraat het. Vir ’n oomblik is sy verlore, maar dan ruk sy haar reg. Haar woorde glip uit voordat sy nog dink wat sy doen.

“My naam is Marian Sinclair, en my familie kom van Mull af, van Glenbogan. Jou familie het hulle daar weggejaag tydens die Clearances. Hulle moes emigreer sodat julle hulle met Cheviot-skape kon vervang.”

Sy oë rek en hy kyk haar ondersoekend aan. “Is dít so? Dan is ek jammer dat my familie so wreed was. Maar ek hoop regtig jy hou nie my negentiende-eeuse voorsate se sondes teen mý nie, mejuffrou Sinclair?”

“Ons Sinclairs sal dit tot in alle ewigheid teen julle MacLeans hou. Was dit nie vir die Clearances nie, was ons familie seker nou nog op Mull.”

“Was jy al ooit self op Mull?” vra hy en lig sy swaar wenkbroue.

“Nee, maar ek is van plan om binnekort soontoe te gaan.”

Hulle staar mekaar aan. Uiteindelik verbreek Emile taktvol die gespanne impasse.

“Ons wou eintlik na jou lesing oor skeepswrakke gaan luister, en my vriendin het jou boek daaroor gekoop. Toe lees sy daarin dat jy een van die MacLeans van Mull is.”

“Wil jy nog hê ek moet dit teken?” vra Iain MacLean met ’n skalkse glimlag. “Of is jy nou te kwaad vir my omdat ek ’n Glenbogan MacLean is?”

Marian voel dat sy vuurrooi bloos, maar sy ruk haar kop op en kyk hom vas in die oë. “Ja, teken dit, asseblief. Ek het jou nie bloot kom konfronteer nie. Jy is darem ’n bekende skrywer ook.”

Hy neem die boek en skryf voorin: Aan me. Sinclair, met apologie en ootmoed, Iain MacLean. Hy gee nie dadelik die boek terug nie, maar kyk Marian takserend aan.

“My familie, die Frasers, is ook deur jou familie van Mull af weggejaag,” sê Morag parmantig.

Hy draai na haar. “Om te dink dat ek na Suid-Afrika gekom het, so ver van Skotland, en hier vyande gevind het.”

“Ons is nie regtig vyande nie,” protesteer Morag blosend.

Die vrou by die skrywer lyk haastig en geïrriteerd. “Iain, hier is al weer ’n lang tou mense. Miskien kan jy later weer met dié dames en meneer gesels, as julle ’n probleem uit die verlede moet uitstryk.”

“My agent het gepraat, en haar woord is wet,” skerts hy. “Moenie weggaan nie. Ek praat met julle nadat ek al die boeke geteken het.” Hy draai weg na die volgende persoon.

Hulle gaan staan eenkant en wag. Marian hou die skrywer dop. Hy lyk beleefd en glimlag baie, gesels met mense, maar kyk nooit in haar rigting nie.

Watter indrukwekkende figuur is hy nie … Hoe sal hy lyk in ’n kilt? Die toonbeeld van ’n Highland laird? Hoe lyk die broer? Soos hy?

“Hy wil darem met ons – of liewer, met julle – praat,” merk Emile op. “Hy kon ons eenvoudig geïgnoreer het, of vir julle die koue skouer gegee het. Julle twee het hom sommer kaalkop aangeval!”

Marian antwoord nie. Emile klink afkeurend, asof hy dink sy was onbeskof. Wat sy seker was. Maar daardie aanval het sy namens haar familie gedoen. Die arm mense wat deur die selfvoldane, selfsugtige, ryk aristokrate gedwing is om hulle vaderland te verlaat en ’n heenkome ver oor die see te vind.

“Jy verstaan nie ons agtergrond nie, nè?” kap Morag hom minagtend. Sy kyk na Marian. “Dit was swaar vir ons mense om weggejaag te word, maar ons, hierdie geslag, is beslis beter daaraan toe as wat ons sou wees as ons mense daar gebly het. My pa het altyd gesê die oues gaan dood en die jonges eet brood.”

“Ons is seker beter daaraan toe, maar mens vergeet tog nie sulke onreg nie,” sê Marian.

Naderhand beur die skrywer deur die mense na hulle toe. Sy agent volg, maar sy lyk glad nie gediend daarmee dat hy soveel tyd aan hulle afstaan nie.

“Miskien moet julle julleself weer voorstel,” sê hy. “Julle weet ek is Iain MacLean, en hierdie is Sylvia Daly, my agent.”

“Ek is Marian Sinclair, en hierdie is my niggie Morag Fraser en my vriend Emile Rossouw.”

“Aangename kennis,” sê Emile. Hy skud hande met die skrywer en sy agent en Marian voel verplig om dit ook te doen. Iain MacLean se hand is groot en warm en vou hare heeltemal toe.

Morag lyk vir Marian heeltemal verbluf toe Iain MacLean haar hand skud.

“Ek vra weer eens om verskoning vir my familie se aandeel in die Clearances van die negentiende eeu.” Hy glimlag so mooi vir Marian dat sy amper skaam kry dat sy hom so aangeval het.

“Miskien moet julle op Glenbogan kom kuier,” gaan hy voort. “Dan sal ons probeer vergoed vir die ellendes van die verlede. Ek het hierna ’n toer met baie lesings, en dan is dit winter. Kom in die lente of somer. In die herfs word dit al baie koud – ons kry dan stormwinde uit die Noordpool.”

Marian is nou ook oorbluf. “Ek … wel … ons wou nog altyd graag Mull besoek het, maar miskien moet ons so iets eers behoorlik beplan.”

“Kom dan volgende jaar. Ek is die grootste deel van die jaar in Edinburg, as ek nie op reis is nie. Ek bring hoogstens ses maande per jaar op Mull deur. Ons kry in elk geval altyd toeriste by die kasteel, maar ek vermy hulle. Ons het ook al films daar laat skiet, want die ou kasteel is duur om te onderhou en dit bring groot inkomste in. Het julle Red Isle gesien? Dis deels op Glenbogan geskiet en is gebaseer op my broer Roderick se historiese roman oor Bonnie Prince Charlie en die Hooglanders se opstand teen die Engelse kroon.”

“Ek weet van die film,” sê Marian, “maar ek het dit nie gesien nie.”

“Sal julle ons asseblief nou verskoon?” vra Sylvia Daly, wat haastig lyk. “Ons het ander afsprake en Iain is vol bespreek.”

“Natuurlik,” sê Emile. “Totsiens, mejuffrou Daly, meneer MacLean.”

Tot Marian se verbasing neem Iain MacLean haar hand in albei syne. “Kom na Mull, dalk sal dit helend wees. Raak ontslae van jou vooroordele. Totsiens.”

“Totsiens,” prewel sy.

Hy neem Morag se hande ook en kyk diep in haar oë. “Kom sit die tragedies van die verlede agter jou, mejuffrou Fraser.”

Marian kom agter dat ’n klomp mense hulle aanstaar. Hulle het die hele petalje aanskou en is natuurlik nuuskierig oor die aandag wat Marian-hulle gekry het.

Sy kyk Iain MacLean ingedagte agterna. Sy donker kop steek bo die ander mense uit, en toe is hy weg.

Sy staan daar met die vreemdste gevoel dat sy nou verplig is om so gou as moontlik na Mull te gaan. Iain MacLean was nie eens kwaad nie. Hy het haar en Morag se aanval so menslik gehanteer, so simpatiek. Tog lyk hy allermins na ’n swakkeling wat hom sommer sal laat slegsê.

“Kom af van jou wolk, Marian, die man het verkas,” hoor sy Emile bitsig sê, en sy besef hy is jaloers.

“Ek is terug op die aarde,” reageer sy koel. “Kom ons gaan drink iets.”

Iain MacLean glimlag wrang toe hy van hulle af wegstap. Sowat van aggressie het hy lanklaas beleef. Die meisie is nog besonder mooi daarby met haar kastaiingbruin hare en oë grys soos die Noordsee. Die grys oë het geblits – koue blitse, as so iets moontlik is. Die man is seker haar spesiale vriend. Sy lyftaal het gespreek van beskerming en besitlikheid.

Die lewendige rooikop is oulik, maar nie so mooi soos die ander een nie. Om te dink dat hy nou hier in Suid-Afrika mense moet teëkom wat die MacLeans se familieskandes ophaal en hom daaroor verwyt. Die sondes van die vaders rus vir hulle op die skouers van die nageslag.

Hy skud sy skouers ergerlik. Dit het selfbeheersing gekos om hulle nie voor al daardie starende mense kort te vat nie.

“Vertel my meer van dié Clearances waarvan julle twee Iain MacLean beskuldig het,” vra Emile toe hulle met stomende koppies cappuccino by ’n restourantjie sit. Hy laat sy derde pakkie suiker deur die skuim sak en proe behaaglik aan die koffie.

“Dis iets wat altyd ’n emosionele saak sal bly vir die mense van die eilande en die Hooglande,” sê Marian. “Ons mense het geboer op Glenbogan en daar was ’n groot gemeenskap. Toe ontdek die landlords dat Cheviot-skape goed aard op die eilande en dat daar groot geld te maak was. Die destydse laird was getroud met ’n Engelse gravin, en hulle sê sý het hom beïnvloed om sy ongewenste huurboere of pagters en masse uit te dryf. Die arme mense het langs die kus gaan woon en probeer lewe van visvang en die maak van wier-as vir glasblasery. Of hulle het per skip na Glasgow gegaan, waar hulle in die slums beland het, of anders is hulle oorsee na Amerika, Kanada, Australië en selfs Suid-Afrika. My oupa het my vertel dat daar slegs ruïnes oorgebly het in die Bogan Glen. Die landhere het skape en Hooglandse langhaarbeeste begin aanhou, en daaruit ryker geword as wat die pagters hulle gemaak het.”

“Wel, dit help nie om nou nog daaroor te mor nie. Dis soos sommige mense wat vandag nog die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog ophaal en die Britte daaroor verwyt. Die geskiedenis marsjeer voort – ’n mens moet vorentoe kyk.”

Marian kyk takserend na Emile oor die rand van haar koppie. Hy kan soms so gevoelloos voorkom. Haar ouers is nie gaande oor hom nie, want hulle dink hy pas nie by haar nie.

Hy kan hulle Skotse trots tog so ignoreer, en hy weier om Marian na enige van die Kaledoniese dae of danse te vergesel. Dat mans kilts dra, is vir hom snaaks, en hy kan doedelsakmusiek nie veel nie. Hy negeer haar Skotsheid, haar andersheid, en tog verklaar hy gereeld sy liefde aan haar. Miskien sal hy haar probeer vervreem van haar mense en hulle gewoontes sodra hy haar aan hom verbind het. Nee, sy sal so iets nooit toelaat nie.

“Hulle sê twee derdes van die eilanders moes Mull verlaat,” vertel sy. “Daar is nou net ’n leë landskap waar baie mense eens gewoon het. Ek wil graag gaan kyk hoe dit daar lyk. Ek het grootgeword met verhale van Mull – die kastele, die lairds en die clans van die Hooglande.”

“Ons kan soontoe gaan op ons wittebrood,” skimp hy.

“Wittebrood? Jy droom, Emile Rossouw. Daar sal nie so iets in die afsienbare tyd wees nie.”

Hy lyk soos gewoonlik afgehaal as sy sy verwagtinge kortknip.

“O, wil jy eerder soontoe gaan agter daardie skrywer aan?” vra hy sarkasties. “Die man wat jou aggressiewe aantygings so netjies gehanteer het?”

“Emile, moenie verspot wees nie. Ek wou al lankal gaan, en ek is beslis nie agter hom aan nie. Hy is ’n MacLean van Glenbogan, en as sodanig bly hy my vyand. Wat dink jy sal my ouers sê as ek met so ’n man moet deurmekaar raak? My pa sal mos ’n oorval kry, en my oupa draai in sy graf om. My oupagrootjie was ’n baba toe sy gesin daar weggejaag is, maar hy het sy kinders alles vertel van die ellendes wat die inwoners van Glenbogan moes verduur. Daar is mondelinge oorlewering van ons geskiedenis gedoen, van geslag tot geslag. My oupa het dit weer vir my vertel.”

“Dink jy die MacLeans sal jou sommer verwelkom as jy daar aankom? Die skrywer het jou net gepaai. Ek twyfel of hy regtig wil hê mense soos julle moet kom kuier.”

Sy vererg haar. “Kyk, Emile, ek het gesê ek gaan nie daardie man opsoek nie. Ek gaan nie Mull toe om sy onthalwe nie.”

“Kom ek en jy gaan volgende jaar soontoe, Marian,” sê Morag dromerig. “Glenbogan-kasteel is heel in die noorde, nie ver van Tobermory af nie – dis die hoofdorp van Mull. Jy kan dit nie juis ’n hoofstad noem nie, want dis te klein. Ons kan daar rondreis; ek wil buitendien die Hebride sien. Ons ouers sal ons aanmoedig om te gaan. Ek wil ook graag die eiland Iona sien, waar Sint Patrick gewerk het en waar daar ’n beroemde klooster was voordat die Vikings dit vernietig het. Dis een van die heiligste plekke op hierdie aarde. Dit lê aan die weskus van Mull en veerbote neem toeriste soontoe.”

Emile plaas sy hand oor Marian s’n. “Kan ek saamkom, al is dit nie ons wittebrood nie?” Sy stem is speels smekend, maar sy vermoed hy wil seker maak dat sy Iain MacLean van Glenbogan nie weer sien nie.

“Nee, ek en Morag gaan om ons Skotse wortels te gaan opsoek. Ek gaan in elk geval nie op iets wat na ’n wittebroodsreis lyk sonder dat ek getroud is nie, baie dankie.”

Sy sien hoe hy sy lippe opmekaar pers, en ’n diep frons kom sit tussen sy wenkbroue. Hy kan so knaend raak dat sy soms ferm moet optree.

Die volgende dag probeer Marian ’n onderhoud met Iain MacLean gereël kry vir ’n koerantstorie, maar sy loop haar teen ’n muur vas. Sy agent verseker haar dat hy beslis geen tyd aan haar kan afstaan nie.

Marian wonder of dit werklik so is en of hy bloot nie weer die meisie wat hom verwyt het, wil sien nie. Wie is sy, per slot van rekening? ’n Verslaggewertjie by ’n Suid-Afrikaanse koerant, wat hom aangeval het oor ongeregtighede wat sy voorgeslagte gepleeg het. Dit terwyl hy ’n bekende skrywer is, en ’n aristokraat daarby. Iemand wat gewoond is aan respek en bewondering, eerder as verwyte en onbeskoftheid – veral van iemand van ’n nederige afkoms soos sy. Hy dink seker met minagting aan haar en Morag.

Sy lees ander joernaliste se boekresensies oor hom, en sien ’n paar dae later dat hy vertrek het na Amerika. Met intense belangstelling lees sy sy boek oor skeepswrakke en kom agter dat hy besig is om een van die skepe van die Spaanse Armada te soek, die galjoen die San Felipe de Valencia. Soos die San Juan de Sicilia het dit aan die kus van Mull gesink.

Nadat die Spaanse Armada verslaan is, het twee skepe noord gevaar, lees sy. Die San Juan de Sicilia het in September 1588 in die baai van Tobermory ingevaar om voorrade in te neem en herstelwerk te ondergaan. Maar sy het ontplof, sodat driehonderd en vyftig bemanningslede dood is. Daar word geglo dat sy met ’n fortuin aan goue dukate gesink het. Vele onsuksesvolle pogings is aangewend om haar te vind. Die San Felipe de Valencia, wat net so ’n ryk skip was, het vermoedelik tydens ’n storm aan die kus naby die kasteel van Glenbogan in onstuimige water beland en weens die gevaarlike strome daar gesink. Volgens oorlewering het ’n aantal voorwerpe uitgespoel, waaronder deel van ’n mas en ’n klompie munte, maar die wrak van hierdie galjoen is nog nie geïdentifiseer nie. Die skrywer het al ’n grootskaalse soektog na dié ontwykende skip op tou gesit.

Marian is gefassineer. Mull trek haar. Die MacLeans, wie se naam vir haar familie ’n vloekwoord is, trek haar soos ’n mot na ’n vlam aangetrek word.

Verbode liefde

Подняться наверх