Читать книгу Verbode liefde - Malene Breytenbach - Страница 5

3

Оглавление

Marian en Morag vind die klein geel Morris Minor waar mevrou Fraser beduie het.

“Oulik, maar oud, baie oud,” merk Morag wrang op. “Eintlik bejaard.”

“Ek hoop dis regtig padwaardig,” mompel Marian, want sy sien roeskolle. Die voertuigie lyk beslis asof hy beter dae geken het.

“Ons kan nie ’n gegewe perd in die bek ruk nie,” sê Morag. “Ons kry dit mos verniet, en ons moet dankbaar wees.”

“In die bek kýk, niggie, en ons ís dankbaar. Ek het die sleutels, dus sal ek bestuur.”

Binne is die motor duidelik baie oud en die sitplekke is verslete, maar toe Marian die enjin aanskakel, vat dit gelukkig dadelik. Sy ry terug na die hotel en parkeer voor die ingang. Hulle gaan betaal hulle verblyf en kry hulle rugsakke, wat hulle op die agtersitplek inlaai, want die kattebak is te klein.

“Ek doop jou Katonkeltjie,” sê Morag toe sy inklim. “Iets soos jy het te veel persoonlikheid om anoniem te bly.”

Hulle ry by die dorp uit en neem eerste die pad na die noorde.

“Daardie klomp MacLeans klink maar na ’n vreemde lot, met duistere verledes,” merk Morag op. “Dit maak hulle natuurlik net meer fassinerend.”

“Inderdaad. Dit lyk asof hulle al baie tragedies beleef het. Dalk is dit hulle straf, tot in die derde of vierde geslag, vir die sonde van die Clearances.”

“Ag, ek wil nie nou aan lelike dinge dink nie. Is dié plek nie absoluut stunning nie? Die berge, heuwels, lochs en kus. Al die voëls. Die wilde glens, die heide, die varings. Dis so waterryk ook.”

Marian kyk vlugtig by die venster uit. “Die skoonheid van die omgewing moes dit vir die mense wat hier weggejaag is ’n dubbele verlies gemaak het. Verloor jou tuiste en verloor die skoonheid van dié landskap. O, die son verdwyn agter ’n wolk. Dit word sommer dadelik grou. Ek hoop die reën bly weg, want die pad is nie van die beste nie.”

Marian maneuvreer die dreunende klein motortjie oor die smal eenbaanpad en dink dat dit moeilik sal wees as ’n toerbus nou uit die teenoorgestelde rigting sou aankom. Daar is net plek vir een motor op dié pad.

By ’n hoë waterval, Eas Fors, een van die plekke wat mevrou Fraser aangedui het, hou hulle stil en kyk rond. Die wolke pak egter saam en dis koud. Hier is die bome krom en windverwaai.

Vervolgens ry hulle na die dorpie Dervaig. Mevrou Fraser het ’n mini-Stonehenge daar naby gemerk.

“By Dervaig was die ergste Clearances,” merk Marian op. “Dit spook seker hier.”

Hulle soek die afdraaipad na die klipstapels en kry dit naderhand, maar ry deur ’n denne- en sparrebos wat baie nat is, sodat die motortjie vreeslik spring en slinger.

“Daar voor staan dit, in die ooptetjie,” roep Morag en wys met haar vinger.

Hulle ry tot naby. Sy lees in die brosjure. “Dié goed is veronderstel om drie duisend vyf honderd jaar oud te wees en hier is maar net twee regop klippe. Dis nie naastenby my idee van ’n Stonehenge nie.”

Hulle klim weer uit en loop rond, maar dit begin saggies reën en hulle klim terug in die motor.

“Ag nee, ek hoop die weer gaan ons nie in die steek laat nie,” kla Morag. “Dis so mooi hier, maar dit kan so miserabel raak as dit onweer is. Die plek sal die ene modder en mis wees.”

Hoe verder hulle ry, hoe harder reën dit. Marian klou aan die stuurwiel vas om die motor in die pad te hou. Die ruitveërs is nie baie doeltreffend nie en die deur aan Morag se kant lek, sodat sy haar voete vies uit die pad moet hou.

“Ek moet probeer voet in die hoek sit dat ons die kasteel gou bereik,” sê Marian. “Ons moet maar anderdag as die weer verbeter het na die Glengorm-kasteel gaan kyk. Ek het nie volle vertroue in dié karretjie nie. Hy laat ons dalk in die steek.”

“Asseblief, Katonkeltjie, moenie vir ons ou tweetjies in die steek laat nie,” bid Morag met haar hande bymekaar.

Marian lag, maar op daardie oomblik kom ’n rooi voertuig van voor af oor die bult en jaag op hulle af. Morag gil, en Marian probeer die motor uit die pad kry, maar dit gly.

“Padvark!” roep sy, en sien net hoe die rooi motor wegraak in die truspieël, asof hy nie eens gesien het dat hy hulle skoon van die pad af gery het nie.

Hulle het net ’n ent verder aangesukkel toe die Morris se enjin meteens vrek. Oor en oor probeer Marian dit aan die gang kry, maar dit huil net, en naderhand is dit stil.

“Liewe hemel, hier sit ons, en Donald se gegewe perd wil nie verder nie,” sê sy moedeloos.

Morag se oë is groot. “Moet ek probeer stoot?”

“Nee, dis koud en nat. Ek wil nie hê jy moet longontsteking kry nie. Ons is mense uit Afrika, onthou. Nie gewoond aan dié klimaat nie. Ons moet maar wag totdat iemand verbykom en ons hopelik help.”

“Ag ja, nou dink ek aan daardie lekker sop van gisteraand. Die enigste eetplek voor Glenbogan is die Calgary Hotel, maar daarvan kan ons vergeet.”

Sy hou ’n vinger in die lug. “Wag, ek het mos gedoen wat my pa my aangeraai het om te doen: hou altyd ’n heupflessie vol whisky by jou vir noodgevalle.” Sy lag en vroetel in haar sak, haal die silwer flessie te voorskyn en bied vir Marian aan.

“Dis bietjie vroeg in die dag vir suip, maar dit sal ons verwarm,” sê Marian. “Ek kry klaar vreeslik koud. Ons wou mos in die herfs kom, en nie in die somer toe ons nog die ceilidhs en die Hooglandspele kon gaan kyk het nie. Ek wil lankal sien hoe een van dié fris Hooglanders toss the caber.”

Sy neem ’n groot sluk en die weldadige hitte sprei deur haar. Morag neem die flessie en sluk ook.

“Moedersmelk, lewensredder – die naasbeste ding aan ’n St Bernard-hond met ’n kraffie brandewyn om sy nek wat jou in die sneeu kom red. Haai! Daar’s nog ’n voertuig.”

Sy gee vir Marian die flessie, spring uit en waai met albei arms. Die groot grys Land-Rover ry stadig verby, maar toe hou dit stil, ry agteruit en parkeer langs die pad.

Marian trek haar kappie oor haar kop en klim ook uit. Die bestuurder van die ander voertuig het uitgeklim en kom nader. Dis ’n baie groot man in ’n parka, met stewels aan sy voete. Hy het ook sy kappie oor sy kop.

“Hallo!” roep sy. “Dankie dat jy stilgehou het. Ons motor het gaan staan.”

Hy kom tot by haar en haar hele lyf word lam toe sy die gesig onder die kappie herken, die blougrys oë wat haar deurborend aankyk.

“Ek sien so. Nie juis ’n betroubare motor vir Mull se paaie nie. Waar kom vreemdelinge aan so ’n motor?” Sy stem is diep, en nie te vriendelik nie.

“Donald Fraser, die toergids, het dit vir ons geleen,” ruk sy haar op. “Ek is Marian Sinclair en hierdie is my niggie, Morag Fraser. Ons het –”

“MacLean,” sê hy bruusk. “Ek dag hierdie geel Morris lyk bekend. So dis Donald s’n. Hy moes van beter geweet het … die ding is stokoud. Ek sal julle moet sleep. By Glenbogan-kasteel, waar ek woon, het ons ’n motorwerktuigkundige.”

Die reën stroom oor hulle en Marian moet die water uit haar oë vee. Haar krulle vorm slierte op haar voorkop en sy is seker haar neus is rooi van die koue. Hy herken nie eens ons name nie, dink sy gebelg. En hy het nogal gesê hulle moet op Mull kom kuier!

“Dis natuurlik ’n fout om whisky te drink en dan op dié kronkelpaaie te probeer bestuur,” raas hy. “Vakansiegangers!”

Hemel, hy ruik natuurlik die whisky op my asem, dink Marian vervaard, maar sy lig haar ken en kyk hom uitdagend aan. “Ons het elkeen slegs een sluk whisky gedrink nadat ons gaan staan het en begin koudkry het. Ek het beslis nie onder die invloed bestuur nie.”

Hy kry ’n spottende glimlag om sy mond. “As jy so sê.”

Sy wil weer protesteer en voel dat haar gesig warm word van ergernis, maar hy beveel haar bruusk om terug te klim in die motor.

Dan kyk hy na Morag. “Jy ook, juffrou. Terug in die motor voordat julle koue vang. Ek sal julle haak en sleep.”

Marian klim weer in en Morag doen dit ook gedwee.

“Hy dink ons is gedrink, want hy het die whisky geruik,” sê Marian, wat brand van verontwaardiging.

“Oeps! Maar hy help ons darem. Om te dink dat Iain MacLean nou juis die een moet wees wat op ons afkom. Dis die noodlot wat hom na ons gestuur het.”

Marian skrik toe haar deur skielik oopgeruk word. Iain MacLean se kop verskyn en hy frons kwaai.

“Ek dink julle moet liewer julle goed vat en in my voertuig klim. Ek sal julle huis toe neem en my ghillie stuur om die Morris te kom haal. Ek vertrou nie ’n gedrinkte vrou agter die stuurwiel van ’n motor wat ek sleep nie. Jy sal dit nie kan beheer nie.”

“Ek is nie dronk nie!” roep Marian ergerlik uit.

“Nee, ek sien dit, maar whisky maak tog ’n mens se reflekse stadiger en die pad is smal. Daar sal ander voertuie verbykom. Toe, kom. Dit reën al harder en dis koud.”

Hulle het geen keuse nie, en gehoorsaam sy bevele.

“Klim jy voorin,” sê Marian terwyl hy hulle rugsakke agter in die Land-Rover laai. “Ek sit nie langs dié buffel nie.”

Sy skuif op die sitplek agter hom in en toe hy inklim en sy kappie afstoot, merk sy sy nat hare en sterk gesig. Hy gee haar een minagtende kyk in die truspieël en skakel die enjin aan.

“Moenie bekommerd wees nie, hier steel mense nie sommer voertuie nie,” verseker hy hulle.

Hulle ry eers in stilte, toe vra Morag: “Hoe ver is dit na Glenbogan?”

Hy kyk na haar. “So agt kilometer.”

“Ry ons verby Glengorm?”

“Ja. Is dit waarheen julle op pad is?”

“Nee, ons het ’n kothuis bespreek by Glenbogan.”

Hy kyk weer na haar en toe in die truspieël na Marian. “O, julle is van óns gaste. Dan is dit seker ’n bestiering dat ek julle gevind het. Dis jammer die weer speel nie saam nie, maar hierdie is ’n pragtige deel van Skotland. Ons kyk uit oor die Noord-Atlantiese Oseaan en dis asemrowend as die son sak. Ons is op die Ardnamurchan-skiereiland en van ons af kan julle die ander eilande Uist, Rum en Canna sien.”

“Boer julle nog steeds met skape?” vra Marian die gelaaide vraag met geveinsde belangstelling.

Hy byt aan die aas sonder om te blik of te bloos. “Ja, ons landgoed is ongeveer vyfhonderd akker groot en ons het tans agthonderd teelooie en vyftig teelramme. Dis goeie skaapwêreld dié. Swartkopskape en Hebridiese skape. Ons het ook sewentig teelkoeie. Hoogland-beeste, die soort met lang hare wat die toeriste so fassineer, en elke jaar kry ons ongeveer ’n honderd en vyftig nuwe kalwers. Ons gaan verkoop ons vee twee keer per jaar in Oban. Verder het ons akkommodasie vir toeriste en stel ons die kasteel oop vir besoekers. Dis in die vroeë negentiende eeu gebou en is baie mooi, al moet ek self so sê. Ons het natuurlik ’n baie interessante geskiedenis.”

“Soos die Clearances?” vra Marian.

Hy frons vir haar in die spieël. “Ja, ’n ongelukkige geskiedenis ook. Ons voorsaat, sir Roderick MacLean, was ’n harde man, dit moet ek erken. Hy wou ryk word uit vee – en hy het. Hy het ’n ou fort laat omskep in die kasteel wat vandag daar staan. Hy het darem nie bloot die mense weggejaag nie, maar het moeite gedoen om vir hulle ander werk te kry en het hulle passaat betaal as hulle oorsee wou gaan.”

“Hoe swaar moes dit nie vir hulle gewees het nie,” sê Marian.

“Moenie ons weldoener nou verwyt oor jare gelede se Clearances nie,” berispe Morag haar skielik. “Dis nie hý wat dit gepleeg het nie.”

Marian bly stil. Nee, maar hy en sy familie het daarby gebaat, dink sy. Morag is egter reg. Dis onbeskof van haar om hom aan te val terwyl hy hulle help.

“Ons het nie so erg aangegaan soos James Forsyth van Glengorm nie,” hoor sy hom sê. “Hy het sy pagters se huise afgebrand en is glo vervloek, sodat hy verongeluk het voordat sy kasteel voltooi is. Dit is tans, ná ’n aantal ander eienaars, in die hande van die Nelsons. Hulle woon steeds daar en hulle sweer dat hy nie in die kasteel spook nie.”

Die man is amper humoristies daaroor, dink Marian minagtend. Van ontheemding weet hy en sy mense niks.

Hulle ry verby die uitdraaipad na Glengorm en oral sien Marian skape en beeste. Daar is heinings van gepakte klippe en ’n deinende landskap vol heide en gras. Die reën vorm egter ’n vaal gordyn sodat sy nie te ver kan sien nie. Sy kyk na die loch waar hulle verbyry en weet sommer dié swart water is Loch Bogan waarvan haar oupa haar vertel het, ’n plek waar die mense graag visgevang het.

Sy trek haar asem skerp in toe sy die grys kasteel uit die mistigheid en reën sien opdoem waar dit op ’n hoogte bo die see staan. Dis groot, met torings en borswerings soos die kastele van die Middeleeue. Dit lyk soos ’n prentjie in een van die feëverhaalboeke uit haar kleintyd. Daar naby doem kothuise en buitegeboue uit die mistigheid en reën op.

Die Land-Rover ry verby die ander geboue tot by die kasteel en gaan by ’n hek in, na ’n geplaveide binneplein, en hou onder ’n afdak voor ’n groot ingang stil.

“Hier is ons,” kondig MacLean aan. “In die portaal sal julle julle kothuis se sleutels kry. Ek sal julle soontoe neem en daarna sorg dat julle skedonk, oftewel Donald s’n, by my werktuigkundige uitkom. Miskien moet julle eers hier by ons restourant in die een vleuel eet, want dis lankal etenstyd en julle lyk vir my bedremmeld.”

“Baie, baie dankie,” sê Morag plegtig. “Jy was iewers heen op pad en het omgedraai om ons hierheen te bring.”

Weer sien Marian dat Morag dié man met veel meer ontsag aankyk as ander mans met wie sy te doene kry.

“Ja, baie dankie,” sê Marian ook. “Jy hét ons ’n groot guns bewys.”

Hulle volg MacLean by die reuseportaal in en Marian kyk verwonderd rond. Sy sien swaar geraamde skilderye, pragtige kabinette, gemonteerde takbokhorings aan die mure, stewige en versierde houttrappe. Die algehele indruk is dat dit oud, ryk en romanties is.

Mense loop verby en sy hoor stemme in aangrensende vertrekke. Daar is ’n ontvangstoonbank met ’n vriendelike man in tartan daaragter, ’n besoekersboek, brosjures, posvakkies en sleutels. In dié opsig is dit soos enige ander hotel, wat vir haar die ambience van ’n kasteel so reg uit ’n roman van sir Walter Scott ietwat bederf.

Die man praat onderdanig en respekvol Gaelies met hulle gasheer, terwyl Marian en Morag toekyk.

“Meneer James MacNab is ons hotelbestuurder en butler,” stel MacLean hom op Engels voor. “Sy broer is ons steward. Hierdie dames is mejuffroue Sinclair en Fraser en hulle het ’n kothuis bespreek. Kry asseblief vir hulle die sleutels, James. Hulle motor het gaan staan en ek sal dit laat haal, maar ek gaan hulle eers vir ete neem in die Monarch of the Glen. Miskien wil julle dames eers die kleedkamer daar agter gaan besoek?”

Hulle gaan soontoe en Marian is geskok om te sien hoe sy lyk. Sy haal ’n borsel uit haar sak en maak haar hare netjies, maar dis klam en krul woes. Sy was haar hande en probeer haar klere ook netjies maak. Buite is dit koud, maar binne is dit verwarm en sy kan haar parka uittrek. Haar trui kleef aan haar en sy trek dit los van haar lyf af.

“Sjoe, hierdie is omtrent ’n romantiese plek,” sug Morag, wat ’n bietjie lipstiffie aanwend. “Ek is so bly ons het hierheen gekom.”

“Wel, dis duur ook. Daardie Monarch of the Glen klink vir my na ’n vyfster-restourant.”

“Ag, hou op stres, en kom ons geniet dit. Ek dink die engele het daardie MacLean na ons gestuur, die mooie man. Al is hy een van die sogenaamd ongenaakbare, harde MacLeans, was hy vandag goed vir ons.”

“Hy dink ons is twee suiplappe. Twee simpele, onverantwoordelike toeriste.”

“Ja, maar nou gaan ons vir hom ons ware kleure wys.”

Hulle stap uit en sien hom staan en wag met vuiste op die heupe, asof hy homself moet dwing om geduldig te wees. Hy het sy baadjie uitgetrek en het ’n grys trui aan wat sy oë gryser laat vertoon. Sy hare lyk gekam.

Sowaar, hy ís indrukwekkend, moet Marian weer eens aan haarself erken. Haar hart begin snaakse dinge doen en sy vergeet amper dat sy hom moet verfoei. Of is sy nou kinderagtig om haarself te probeer oortuig dat sy twee eeue ná die Clearances die MacLean-nasate steeds moet verfoei? Nee, jy is eintlik meer gebelg oor hy jou nie herken het nie, kla haar gewete haar aan.

“Julle lyk minder bedremmeld as vaneffe,” spot hy. “Kom, ek jaag julle warm sop en haggis in.”

Hulle volg hom na ’n gedekte tafel. Die restourant is beslis opulent, maar ook huislik, dink Marian. Onmiskenbaar Skots. Die meubels is van swaar hout, en groot skilderye van takbokke en jagters hang teen die mure. Bokant die vuurherd is ’n reuseskildery van ’n bok met baie groot horings.

“Daardie is die Monarch of the Glen,” mymer Marian nadat hulle gaan sit het.

MacLean kyk stip na haar. “Ja, dis hy – die legendariese takbok van Mull. Niemand mag hom geskiet het nie, maar eendag is hy tog deur my oupa geskiet. Sy horings hang sedertdien in ons voorportaal en ons eer hom as een van die mooiste dinge in die Skepping.”

Marian kry die vreemde gewaarwording dat dié man haar van haar ewewig beroof as hy na haar kyk en met haar praat.

Twee kelners sak dadelik op hulle toe.

“Dis ’n verrassing, sir,” sê die een. “Ons sien u nie gewoonlik in die middag nie.”

“Nee, ek het gaste langs die pad opgelaai. Bring vir ons spyskaarte, asseblief, en whisky van die eiland vir al drie.”

Marian vang weer sy oog, en sien dat hy spottend glimlag. Dalk beskou hy hulle as ’n las wat opgeduik het in sy besige dag, maar omdat hulle Glenbogan-gaste is, wend hy ’n poging aan om hulle te laat tuis voel.

“Dit lyk nie vir my asof jy my herken nie,” sê sy toe die kelners weg is.

“Ja, ek herken jou. Jy is die meisie wat my … wat die handsak op die kaai opgetel het.”

“Ja, ek is. Maar voorheen, in Suid-Afrika, in Kaapstad, het ons by die Boekefees ontmoet.”

Hy kyk fronsend na haar. “Ek was nog nooit in Suid-Afrika nie. Ek sou jou onthou het.”

Marian is verstom. “Maar … jy is tog Iain MacLean, die skrywer, is jy nie?”

Hy kyk haar eers onbegrypend aan, toe glimlag hy. “Nee, jy het my jonger broer ontmoet. Ons lyk baie eners. Ek is Roderick MacLean.”

Verbode liefde

Подняться наверх