Читать книгу Verbode liefde - Malene Breytenbach - Страница 4

2

Оглавление

“Alles is so pragtig hier,” sê Morag toe hulle met die veerboot van die Skotse vasteland na die hawe van Tobermory op Mull vaar. “Ons moes lankal hierheen gekom het. Hoekom het ons nie?”

Marian glimlag en geniet die seebries wat deur haar kastaiingbruin krulle waai. “Oor ons uitgestel en uitgestel het terwyl ons gestudeer het en daarna professionele vroue wou word. En oor ons eers genoeg geld moes verdien om vir onsself te betaal omdat ons nie bakhand na ons ouers wou gaan nie.”

“Arme Emile. Hy wou so graag saamkom. Hy sal jou mis. Waarom wou jy hom nie saamnooi nie?”

Marian haal haar skouers ergerlik op. “Ek wil hom nie verder aanmoedig nie. Hy wil net verloof raak en ek is nog nie reg daarvoor nie. Miskien sal ek nooit reg wees daarvoor nie. Ek wil weer vry wees, sonder ’n klewerige aanhangsel.”

Morag lag vrolik. “Klewerige aanhangsel klink darem baie sleg! Die arme man is dolverlief op jou, seker oor jy so mooi is – en moeilik om vas te pen. Dit maak mans mos mal as ’n vrou hard to get speel.”

“Ek spéél nie hard to get nie. Ek is werklik besig om vir hom te vlug. Vergeet nou eers van Emile en kyk na die verruklike uitsig. Daar lê ons voorvaderlike tuiste droommooi voor ons.”

Die jong man wat vir ’n groep Kanadese toeriste as gids optree, begin naby hulle hard praat met ’n swaar Skotse aksent. Marian draai haar kop en luister na hom.

“Die eiland Mull se kuslyn is vierhonderd en tagtig kilometer lank,” vertel hy. “Dis ’n bergagtige gebied en die hoogste piek is Ben More, wat negehonderd ses en sestig meter hoog is. Mull is ’n natuurliefhebber se droom. Dis nou wel Oktober en somer verander in herfs, maar u sal nog betreklike goeie weer hê. Hier is baie wild en voëls, en in ons waters is daar dolfyne, walvisse, haaie en robbe.

“Mull se kroonjuweel is die dorp Tobermory, in Gaelies ‘Tobar Mhoire’, wat St Mary’s Well beteken, waarheen ons nou op pad is. Dit sit in ’n amfiteater van heuwels en word die mooiste hawe in westelike Skotland genoem. Dis ook een van die veiligste hawens in die Hebride. Tobermory is geleë op die Aros-skiereiland en is die grootste dorp op Mull. In 1788 is die dorp deur die British Fisheries Society gebou, as ’n beplande nedersetting, en die enigste whiskydistilleerdery op die eiland is daar. Soos julle weet, is whisky moedersmelk vir ons Skotte.”

Die mense lag gedienstig. Marian geniet sy geesdriftige verteltrant, al ken sy die meeste van die feite.

“Tobermory se bevolking was eens oor die tien duisend mense, maar weens die Clearances en die aartappelhongersnood wat Skotland en Ierland getref het, het die meeste mense geëmigreer – totdat daar nou meer skape as mense op Mull is. ’n Fabelagtige skip van die Spaanse Armada, die San Juan de Sicilia, is in die baai van Tobermory opgeblaas en het daar gesink. Dit lê nou nog daar op die seebodem, versteek onder sand.

“Heelwat rolprente is al op Mull geskiet, danksy die skoonheid van ons omgewing. Tobermory se helder geverfde geboue en bote in die hawe vorm ’n pragtige prentjie. Ons het ook verskeie kastele waar rolprente verfilm is. Ek noem ’n paar van die rolprente: Red Isle, Entrapment, Highlander, Eye of the Needle, Kidnapped, I Know Where I’m Going en When Eight Bells Toll. In die omgewing is ook tonele geskiet vir die Harry Potter-films.

“Kastele soos Duart en Moy is reeds in die Middeleeue gebou. Die vernaamste clans was MacLean, MacLaine, MacKinnon, MacQuarrie en MacDonald. Die clan chiefs het kastele gebou, maar in daardie dae het die gewone mense in klein huisies genoem sjielings gewoon. Hulle was meesal huurboere of pagters.

“Duart Castle naby Craignure dateer uit die dertiende eeu en is waarskynlik vir die MacDougalls gebou. In die laat veertiende eeu het dit die setel van die Clan MacLean geword. Tydens die sestiende en sewentiende eeu was die MacLeans een van die belangrikste clans in die Westelike Eilande. Die familie is egter in die sewentiende eeu hier weg, want hulle was koningsgesindes wat die Stuarts na die Skotse troon wou terugbring en hulle is gevolglik verdryf. Die Britse regering het die kasteel ’n tyd lank oorgeneem. Daarna was dit ’n ruïne, maar in 1911 is dit gekoop en gerestoureer deur sir Fitzroy Donald MacLean en het dit weer die setel van die clan-hoof geword. Die rolprent Entrapment met Sean Connery (wie se ma terloops ’n MacLean was) en Catherine Zeta Jones is gedeeltelik daar verfilm.

“ ’n Tweede kasteel op Mull se ooskus is Torosay, die tuiste van die Guthries. Dis eerder ’n negentiende-eeuse herehuis as ’n ware kasteel. Glengorm-kasteel is in die bos noord van Tobermory en is in 1860 gebou vir James Forsyth. Hy was die laird van die Dervaig Clearances – een van dié wat honderde mense uit hulle tuistes verdryf het en hulle huise afgebrand het.

“Verder noord lê nog ’n MacLean-vesting, naamlik Glenbogan-kasteel, wat oor die Atlantiese Oseaan uitkyk. Van daar af sien mens die eilande Rhum, Uist en Canna. Dié kasteel is in die vroeë agtienhonderds gebou vir sir Roderick MacLean en sy Engelse vrou, die dogter van die Duke of Moreland. Aan dié kant van die eiland is baie lochs, heuwels en woude en die natuurskoon is pragtig. Die MacLeans woon steeds in die kasteel en dis oop vir die publiek. Die huidige laird is ook ’n sir Roderick MacLean, soos die oorspronklike laird wat die kasteel of herehuis laat bou het. Benewens ’n landheer is sir Roderick ook ’n skrywer van historiese romans, en sy broer is die bekende avonturier en reisverhaalskrywer Iain MacLean. Die rolprente wat by Glenbogan verfilm is, is Red Isle en The Spanish Ship, sowel as ’n aantal dokumentêre rolprente oor die clans en die geskiedenis van die Clearances.”

Morag, wat ook aandagtig gestaan en luister het, stamp aan Marian. “Ek kan nie wag om Glenbogan te sien nie. Dit klink absoluut fassinerend.”

Marian knik, haar blik op die kleurryke hawe wat hulle nader, maar sy sien Iain MacLean se sterk gesig voor haar geestesoog. Hy moet tans hier wees, want hy neem seker weer aan die Tour of Mull deel. En miskien soek hy nog in hierdie herfs na die Spaanse galjoen die San Felipe de Valencia.

Die seebries is byna snerpend koud en Marian wikkel haar blou sybokhaarserp stywer om haar nek. Sy het denims, ’n wolgevoerde parka en stewels aan, want sy het verwag om koud te kry. Die koue laat haar wange gloei en sy bibber effens. Die see lyk baie diep, en ysig, maar ’n flou sonnetjie helder alles op. Die lug is tintelend vars soos sjampanje en meeue krys bokant hulle.

Hulle het gereël om in Tobermory te oornag en hoop om ’n motor te huur waarmee hulle na Glenbogan- kasteel kan gaan. Daar het hulle ’n selfsorg-kothuis vir twee weke gehuur.

Die veerboot bereik die kaai en almal gaan aan wal. Marian en Morag het net groot rugsakke by hulle en is van die eerstes wat van die boot afstap.

“Hier staan ons nou waar ons voorouers gestaan het voordat ons oupagrootjie en sy mense weggejaag is van hulle geboorteland,” sê Morag dramaties. “Dis ’n historiese oomblik.”

“Ja, dit is,” stem Marian saam. Sy kyk met genot na die kleurryke geboue wat rooi, blou en groen geverf is.

Terwyl almal wag vir hulle bagasie en kwetterend rondkyk, kom ’n groot Bentley stadig oor die kaai aangery, sodat mense moet padgee.

“Kyk net daar,” merk Morag op. “So ’n motor word seker deur ’n chauffeur bestuur, en agterin sit ’n laird en lady. Wie sou hulle hier kom soek?”

Die man wat voor uit die motor klim, is nie ’n chauffeur nie. Hy is groot en breedgeskouer en dra ’n tweedbaadjie en ’n kilt. Sy bene is gespierd. Sy trotse kop het donker hare en sy gesig is hoekig. Marian weet sommer hy het blou oë. Sy staan vasgenael.

“Daardie man dra die MacLean-tartan,” prewel sy.

“Liewe hemel, dis geen chauffeur daardie nie!” hoor sy Morag uitroep. “Dis ons vriend die skrywer – die verruklike Iain MacLean. ’n Mens sien sommer hy is verhewe bo die gewone sterflinge.”

Hy stap byna tot by hulle, kyk een keer in hulle rigting en dan weer weg. Daar was geen herkenning in sy oë nie en Marian voel asof sy kan krimp van verleentheid. Hy het dwarsdeur hulle gekyk en hulle nie eens gegroet nie. Hy het hulle skoon vergeet.

Maar waarom sou Iain MacLean tog vir haar of Morag onthou? besef sy. Hulle is niemand in sy oë nie. Hy het ook geweier om haar destyds te woord te staan vir die koerant.

Ergerlikheid en vernedering stu in haar op, en sy voel haar wange vlam. Dis seker hoe die MacLeans na hulle pagters gekyk het – asof hulle te nietig was om raak te sien. ’n Blote oorlas waarvan hulle ontslae moes raak, en wat maklik was om met diere te vervang. Sy dink sy weet nou hoe daardie arme Sinclairs van lank gelede moes gevoel het: wurms onder die hak van verdrukking.

“Hy sien ons nie eens raak nie,” sis sy. “Hy kon ons net sowel nooit ontmoet het nie.”

“Nou ja, hy is die beroemde avonturier en skrywer, en hy sien seker duisende bewonderaars. Waarom sal hy óns juis onthou? Ek voel genegeer, maar aan die ander kant vind ek dit moeilik om so ’n beeld van ’n man summier te haat.”

Morag draai om en kyk hom agterna. “Is hy nie absoluut die toonbeeld van ’n Hoogland-laird nie?”

Iain MacLean loop met lang treë na die veerboot en Marian sien met verbasing dat ’n verpleegster ’n mooi, blonde vrou in ’n rolstoel by die loopplank afstoot. Sy het natuurlik in een van die kajuite gereis.

Hy wag hulle in en praat met hulle, terwyl ’n portier agterna kom met die bagasie. Iain MacLean loop geselsend langs die rolstoel en Marian hoor hulle praat, maar besef ná ’n rukkie sy verstaan niks. Hulle praat Gaelies.

Meteens val daar ’n handsak van die vrou se skoot af en beland langs Marian. Sy buk, tel dit op en gee dit aan die vrou terug.

“Ag, dankie,” sê die vrou op Engels, en gee haar ’n hooghartige glimlag, asof dit haar reg is dat mense vir haar goed optel.

Marian glimlag terug, maar toe verskuif haar blik na Iain MacLean, wat gaan staan het en haar aanstaar. Hy knik, maar glimlag nie. Vandag lyk sy oë grys en kil, nie so helderblou soos in Kaapstad nie. Weer toon hy geen herkenning nie en sy voel nietig, en geminag. Hy kyk egter ’n oomblik te lank na haar, asof hy probeer onthou waar hy dié meisie met die deurmekaar gewaaide hare al voorheen gesien het.

Die groepie beweeg aan en Marian kyk hoe hy die vrou uit die rolstoel tel en haar in die passasiersitplek van die Bentley neersit. Die verpleegster klim agter in. Daarna help hy die portier om die bagasie in die kattebak te laai en betaal hom. Hy klim in die motor, skakel dit aan en trek stadig weg.

“Haai, hy het darem gelyk asof hy wonder waar hy jou al voorheen gesien het,” sê Morag wrang. “Is hy nie die aantreklikste man wat jy nog ooit gesien het nie? Maar vandag lyk hy nie juis vrolik en opgeruimd nie, eerder somber. Ek wonder wat is sy verbintenis met daardie verlamde vrou.”

“Ek glo nie hy het my onthou nie. Hy het maar net na my gekyk oor ek die vrou se sak opgetel het,” antwoord Marian.

Sy wil dit amper nie aan haarself erken nie, maar sy is eintlik geaffronteer en seergemaak dat hy hulle so totaal vergeet het. Een voordeel daarvan is dat hulle sy kasteel soos onbekendes sal kan besoek. Hulle verwyte oor die Clearances het hom seker nie gepla nie. Hy was hoflik in Kaapstad, voor al die mense en sy agent, omdat hy dit nie ter harte geneem het nie.

“Ja, dis die laird van Glenbogan wat julle gesien het,” hoor sy die toergids sê, asof Iain MacLean ’n besonderse besienswaardigheid van die eiland is.

“Kom ons gaan na ons hotel,” stel Marian voor. “Dis koud hier op die kaai.”

Hulle groet die ander mense en die toergids, en stap aan na waar die Mishnish Hotel op die seefront van die besige hawetjie is.

“Hierdie plek bestaan glo al ’n eeu lank,” merk Marian op. “Dis baie oulik. Ek skat dis die vernaamste drinkplek vir die plaaslike manne.”

Hulle deel ’n kamer en maak hulle tuis, maar Iain MacLean bly in Marian se gedagtes. Sy praat egter nie weer van hom nie, en luister na Morag se opgewonde gekwetter oor hoe lekker hulle gaan vakansie hou.

Daardie aand, nadat hulle gebad en skoon aangetrek het, gaan eet hulle by die OneUp-restourant in die hotel.

“Eers sop van die dag vir my, want dis koud,” sê Morag. “Dan iets bekostigbaars soos haggis, neeps en tatties.”

“Ek verkies die biefstuk-en-bier-pastei,” sê Marian. “Ek was nog nooit besonder lief vir haggis nie. Die blaardeeg van Skotse pasteie is altyd lekker.”

“Wag, ek dink ek moet die haggis los en liewer die salm neem. Met slaai en bruinbrood. Dis duurder, maar ons leef net een keer.”

Naby hulle knetter ’n vuur in ’n herd en hulle bestel Franse wyn. Die plek is besig, veral in die kroeggedeelte, en dis taamlik lawaaierig.

“Hierdie vakansie word vir my al lekkerder,” sug Morag en teug behaaglik aan haar wyn.

Vroeg die volgende dag is hulle van die eerste mense wat ontbyt gaan nuttig. Hulle eet die volle Skotse ontbyt – eiers, sampioene, tamatie, spek en wors – voordat hulle Tobermory gaan verken.

“Ons moet na die toeriste-inligtingskantoor gaan om uit te vind wat ons alles op en om Mull kan besigtig en waar ons wiele kan huur,” sê Marian toe hulle die hotel verlaat. “Ek hoop die plek is al oop.”

’n Vriendelike gryshaarvrou in haar tartan geklee is besig om die kantoor oop te sluit toe hulle daar aankom.

“Goeiemore, ek sien julle is gretig om ons eiland te besigtig,” terg sy. “Ek is Geraldine Fraser. Kom gerus in.”

“My van is ook Fraser en my naam is Morag,” vertel Morag haar. “My niggie hier is Marian Sinclair en ons voorouers kom almal van Glenbogan af. Ons wil dit die graagste van alles gaan sien.”

Die vrou kyk belangstellend na hulle. “Julle voorouers is nie dalk van die mense wat weg is tydens die Clearances nie?”

“Ja, hulle was,” sê Marian. “Natuurlik wil ons die hele eiland ook sien, en Iona, en die ander eilande. Ons het ver gekom. Van Suid-Afrika af.”

“Nou toe nou! Julle is só welkom. Miskien is ons nog familie, Morag Fraser. Kom ons kyk wat ek kan doen om julle verblyf so lekker as moontlik te maak.”

“Ons wil weet wat is alles besienswaardig, en ons wil graag ’n voertuig huur,” sê Marian.

Mevrou Fraser skud haar kop. “Aan die tweede versoek kan ek nie maklik voldoen nie, maar aan die eerste wel. Julle sien, slegs die inwoners van Mull mag hier voertuie ry. Die ander, die besoekers, gebruik veerbote en busse. My seun Donald is ’n toergids wat –”

“O, ons het gister vir Donald saam met ’n toergroep ontmoet, op die veerboot wat oorgekom het na Tobermory,” lig Morag haar in.

Mevrou Fraser glimlag. “Ja, hy’s heeljaar so besig met die toeriste. Ons het nogal ’n toeloop, veral in die somer.”

Sy bly ’n oomblik stil en toe glimlag sy nog breër. “Wag, ek het pas ’n idee gekry. Dalk kan ons vir julle Donald se Morris Minor leen. Dis oud en klein, maar dis heeltemal padwaardig. Hy kan dit tog nie op die oomblik gebruik nie, want hy werk. Hy is die volgende week heeltyd saam met die toergroep uit Kanada.”

Marian en Morag kyk ingenome na mekaar en weer na haar. “Dit sal wonderlik wees, maar ons sal huur betaal en dit nie bloot leen nie,” dring Marian aan.

“Nou goed, ek bel Donald gou op sy selfoon, dan vra ek hom.”

Mevrou Fraser gaan na ’n telefoon en skakel. Hulle kan nie verstaan wat sy sê nie, want sy praat Gaelies. Sy kom terug met ’n glimlag.

“Hy sê julle kan dit met plesier leen. Julle hoef dit nie te huur nie; julle kan net weer die brandstoftenk vol maak as dit leeg word. Hy weet wie die twee mooi meisies is en hy vertrou julle.” Sy lag. “Hy het maar ’n oog vir ’n mooi nooi. Die brandstoftenk is nog vol, sê hy. Gelukkig is die motor naby, want ons woon net hier agter.”

Sy haal sleutels uit ’n laai en gee dit vir Marian. “Goed, dis dan gereël. Laat ek eers vir julle vertel wat julle hier op ons eiland kan doen. Hier is ’n kaart. Kom ek merk vir julle die plekke en gee vir julle brosjures.”

Met ’n rooi pen maak sy ’n paar kruisies by plekke op die kaart. “As julle in skeepswrakke belangstel, ons het heelwat om ons kus. In die Mull Museum hier in die hoofstraat kan julle na ’n uitstalling kyk.”

“Ons weet van die San Juan de Sicilia, want Donald het gister daarvan gepraat,” sê Marian. “Ons het afgeluister as hy met sy toergroep praat, want hy het so interessant vertel. Ek het daardie boek van Iain MacLean oor die skeepswrakke gelees. Is hy dalk tans besig om na die San Felipe de Valencia te soek?”

Mevrou Fraser knik haar kop. “Ja, Iain MacLean het ’n boot, en hulle is glo besig om in die see naby die Glenbogan-kasteel te soek voordat die herfs- en winterstorms begin. Ek glo nie hulle het dié seisoen al iets gekry nie. Daar is mense wat sê die skip bestaan nie regtig nie, behalwe in Iain MacLean se verbeelding. Hy moet al ’n aardige bedrag bestee het om dit te soek. Maar nou ja, die MacLeans kan dit seker bekostig. Gaan kyk gerus na die museum. As julle in skeepswrakke belangstel, sal julle dit baie interessant vind.

“In Tobermory sal julle alles kry wat julle nodig het. Ons het ’n apteek, viswinkel, wassery, supermark, slagter, bakker en poskantoor. As julle wil visvang, is daar plekke wat visvanggereedskap verkoop. Julle moet net permitte kry. Ons het ’n bank, OTM, kuns- en kunsvlytwinkels, en natuurlik goeie pubs en restourante. Ongelukkig is die ceilidhs of konserte van die somer verby, maar daar is bootritte oral en mense kan gholf ook speel. Binnekort vind die Tour of Mull, ons beroemde motortydren, plaas. Terloops, Iain MacLean het dit al meer as een keer gewen, en ek vermoed hy neem vanjaar weer deel.”

Marian spits haar ore. “Donald het dit genoem. Dit lyk my Iain MacLean is ’n regte aksieman.”

“O ja, hy is, maar hy hoef nie die landgoed te bestuur nie en het dus baie tyd vir rondry. Sy broer en Andrew MacTavish, hulle steward, bestuur die landgoed en die boerdery, en Andrew MacNab bestuur die hotel. Waar was ek? O ja, ons het ook ’n heerlike koffiewinkel in Tobermory, met die beste skons en brosbrood denkbaar.”

“Ons wil eintlik so gou moontlik by ons kothuis by die Glenbogan-kasteel uitkom,” sê Marian. “Ons kan weer later terugkom en ander toere kom bespreek. Ons wil Iona ook besoek.”

“Goed, julle sal hierdie pad neem. Dis nie ver nie, maar die paaie hier op Mull is smal en kronkelrig, ry dus maar versigtig.” Haar pen wys vir hulle die roete. “Ek hoop julle sal dit baie geniet. Ongelukkig is die weervoorspelling nie te gunstig nie, maar doen soveel soos julle kan so gou soos julle kan. Dis nogal laat in die jaar.”

“Ons kon ongelukkig nie vroeër kom nie, want Morag is ’n kleuterskoolonderwyseres en sy moes wag dat iemand haar plek inneem vir die laaste maand van die skooljaar. Ek kon ook nie vroeër afkry nie,” verduidelik Marian. “Ek is ’n verslaggewer en ons koerant het ’n personeeltekort. Daarom kan ek ook nie lank vakansie hou nie.”

“Dis jammer dat julle nie die Hooglandspele in Julie kon bywoon nie. Maar daar is darem baie ander dinge om te doen. Terloops, daardie MacLeans is albei besonder goeie doedelsakspelers, al is hulle lairds. Dis die MacLeans se trots.”

“Ons weet eintlik niks van hulle af nie, behalwe dat albei skrywers is. Ons het Iain vlugtig in Suid-Afrika ontmoet, by ’n boekefees,” sê Marian.

Mevrou Fraser se gesig kry ’n vertroulike, byna skelm uitdrukking.

“Dis nou vir jou ’n interessante spul mense, dié MacLeans. Die ongeluk het hulle ook al bloots gery. Hulle oupa was ’n kolonel in die Argyll and Sutherland Highlanders en hy is sleg gewond in die Tweede Wêreldoorlog. Hy het eintlik ’n halwe man teruggekeer. Gelukkig het hy al ’n seun gehad, Roderick senior. Dié was nou vir jou ’n harde man. Die MacLean-mans was nog altyd almal besonder aantreklik, en sjarmant op die oppervlak, maar hard en ongenaakbaar. Die kolonel se arme vrou het glo by die trappe afgeval in een van die torings van die kasteel en haar nek gebreek. Mense het geskinder dat dit nie ’n ongeluk was nie. Hy is kort daarna self dood.”

“Hemel, dis vreeslik,” sê Marian geskok.

“Skinder die mense baie hier?” vra Morag.

“Almal wil altyd alles van ander weet. Ons is maar ’n klein bevolking, en die doen en late van die hoëlui interesseer almal. Daardie Iain MacLean is ook so roekeloos, ek hoop nie hy kom iets oor nie. Roderick moet alles aan die gang hou, maar Iain is die playboy. Ag, maar ek praat nou gans te veel. Kom ek gaan wys waar julle die motor kan kry. Ek verwag my kollega enige oomblik, maar ek wil nie die kantoor te lank onbeman laat nie.”

Verbode liefde

Подняться наверх